Voorwoord

 

Welcome | Welkom

Welcome to this edition which is in transition, working its way from pdf to a Blog! By next year we hope to be in blog-format

Hartlik welkom by hierdie oorgangsuitgawe. Ons besig om na ‘n blog oor te skakel.

Ironie 1: HBH

Ek sit en dink oor ironie! Ek vergelyk gister met vandag; veral as ek so nuus luister – die hedendaagse nuus laat my al te veel aan die ou daaglikse misdaadopgawe dink!

Gedurende 1990-1991 word my distrik geïnspekteer. Dis wilde dae van onluste en onrus. Manne en vroue werk onder groot druk en is lojaal aan die Mag deur baie vrywillige ure oortyd te werk. Ná die onluste moet die gewone werk aandag kry. Rompslomp moet gedoen word.

Vergaderings MOET gehou word – ek praat nou van teeklubs, menasies, ontspanning en sportklubs – die boeke moet reg wees en al dié klas van dinge. Weduwee- en weesfonds danse moet gereël word. Sommige offisiere hoër op in die hiërargie plaas ‘n hoë premie op die aspekte. Soms is daar nie kworums nie, manne is ontplooi, ook op ander sentra met afgedeelde diens besig.

Ons het misdaad voorkom en bestry. Die speurders was puik en die resultate het vanself gespreek. Almal doen ‘n reuse taak: Ons vir jou Suid-Afrika! Die kommissaris kon trots wees op die manne en vroue!

Ek luister so na die nuus – R500-miljoen is spandeer sonder dat ‘n steek werk verrig is!

Een van die inspekterende offisiere het destyds bevind dat lede van die Mag nie die stempel op die voorgeskrewe plek plaas op vorm J70 (Erkenning van Skuld-vorm) nie! Bid jou aan, hy het tyd daarvoor terwyl Suid-Afrika letterlik brand! Ek het as lid in die aanklagtekantoor ook honderde kwitansies uitgereik. Omdat mense staan en wag, het ek nie die stempel netjies op die voorgeskrewe plek gestempel nie – nee, ek het die drie afskrifte vinnig gestempel ten einde flink diens te lewer.

Ironie: In die ou dae moes jy die stempel op die voorgeskrewe ruimte plaas maar vandag kan jy maar R500-miljoen wan aanwend!

Ek wonder vandag waar hulle die stempels plaas?

Ironie 2: Jan de Klerk

In my daaglikse skakeling tussen kliënte en staatsdepartemente moet gesertifiseerde afdrukke aan laasgenoemde verskaf word.

Die kliënte laat gewoonlik hul dokumente by die naaste polisiestasie sertifiseer. Wanneer die sertifiseringstempel onduidelik is weens ouderdom of dof is weens ‘n ink tekort, word die dokument sonder versuim deur die staatsdepartement afgewys, met ‘n nota dat die stempel onleesbaar is. Ironie: een staatsdepartement laat die belastingbetaler weet dat ‘n ander staatsdepartement se werk onder standaard is.

Onlangs besluit ek om die probleem by die oorsaak aan te spreek. Ek skakel die stasiekommissaris direk – gelukkig het ek sy persoonlike nommer byderhand. “Middag brigadier,” sê ek, “kan u asseblief ‘n polisievoertuig hier na my kantoor toe stuur?”

“Wat is fout meneer?”

“Brigadier, ek sit hier met ‘n dokument wat deur u polisiestasie gesertifiseer is, maar die stempels is só onduidelik, mens kan niks uitmaak nie. Stuur die voertuig hier na my toe, dan skenk ek vir julle ‘n botteltjie ink. Ek het ‘n botteltjie hier in my laai – en dis verniet.”

Verleë laggie. “Nee meneer, dis regtig nie nodig nie, hier is oorgenoeg ink op die stasie, die mense gebruik dit net nie.”

“Is u seker brigadier? Ek gee regtig nie om nie en niemand sal weet nie”

“Nee, regtig meneer, ek sal hul dadelik aanspreek en die saak regstel”

Twee ure later kom die verontregte kliënte terug met netjiese, leesbare stempels op hul dokumente.

Dis nou ses weke later en ek merk op die jongste dokumente dat die ink weer besig is om droog te word … Dis seker weer tyd dat ek die brigadier herinner om sy personeel te herinner dat die stempels ink moet kry.

Kan dit regtig wees dat brigadiers deesdae betaal word om te sorg dat die stempels se ink hervul moet word? Ironie: Waar is die tye toe offisiere nog bekommerd was dat stempels op die regte plekke aangebring moet word?