Rennes-le-Chateau article NONGQAI cover photo

ABSTRACT: How did a rural French priest in tiny Rennes-le-Chateau amass the equivalent of €25 million, 150 years ago, to lavishly decorate his tiny church and hugely expand the church domain, such as by building a new rectory complete with medieval walls and towers?

KEY WORDS: Rennes-le-Chateau; Fr Bérenger Saunière

Het u Dan Brown se “The DaVinci Code” gelees, of die fliek van dieselfde naam gekyk?  Het u dalk toe gewonder oor die misterie wat die Suid-Franse dorpie Rennes-le-Chateau steeds omhul?  Hoe ‘n jong priester, Vader Bérenger Saunière, dit uit die bloute reggekry het om 150 jaar gelede, toe sy plaasskool-grootte kerkie net 91 lidmate gehad het, meer as R500 miljoen se verfraaiings en bouprojekte (dit, net maar die koste waarvoor daar fakture bestaan) in harde KONTANT te kon betaal het?

Het hy koningin Blanche de Castille se legendariese skat gevind – en is daar steeds daarvan iewers versteek? Of het hy die Vatikaan afgepers met bron-dokumente wat hy sou gevind het en wat die hele fundering van die geloof kon onder verdenking plaas? (soos wat andere weer vermoed sou gebeur het). Of is die kerk se amptelike weergawe (dat hy ongemagtig preke verkoop het) enigsins realisties moontlik waar?

‘n Speurverhaal steeds sonder oplossing, wat maak dat 120,000 toeriste jaarliks die gebaande weë verlaat om hierdie gehuggie bo-op ‘n heuwelkruin aan die voet van die Pireneë te gaan besoek…

Die begin van die sage - die ou (hol) preekstoel/kateder, waarin 'n geheimsinnige dokument gevind is.

Die toring wat Saunière se studeerkamer huisves, as een hoek van die kasteel-styl ringmuur

Na die geheimsinnige dokument in die ou preekstoel gevind is, het die miljoene skielik begin vloei vir verfraaiing.

Op 1 Junie 1885 arriveer François-Bérenger Saunière (11 April 1852 – 22 Januarie 1917) as gemeente-priester in die gehuggie Rennes-le-Chateau, nadat sy “ongedissiplineerdheid” vir hom sy onderrig-pos in die stad Narbonne gekos het. Synde die spreekwoordelike “problematiese priester”, word Saunière binne maande, gedurende Oktober 1885, geskors vanweë se vurige anti-Republikeinse preke gedurende die verkiesings van daardie maand…

Die eiesinnige heethoof moes egter ‘n goeie indruk op sy gemeentelede gemaak het, want hulle wou hom terug hê. Dus, in Augustus 1886 is hy weer terug in die tuig in Rennes-le-Chateau, en vuur en vlam om die gehawende kerkie daar te restoureer. Met een van sy eerste projekte, om die mankoliekige kateder vanwaar hy moes preek, reg te kry.

Die ambagsman wat daarmee getaak was, kom toe gou agter dat die sentrale pilaar van die kateder in werklikheid hol was. Binne-in vind hy (self maar ongeletterd) ‘n rol stok-ou dokumente. Wat hy toe dadelik na die priester toe vat. En nooit is dit weer gesien nie…

Wat egter wel aanstons gesien is in daardie verarmde dorpie, is geld – baie geld. In kontant. Wat hulle priester oor die volgende klompie jaar kwistig begin spandeer het. Aan die verfraaiing van sy kerkie, met duur kunswerke wat in elke hoek en nis van wat eintlik maar ‘n piepklein kapelletjie is, maak pas is. En bouwerk – groot konstruksie oor die kerk-terrein heen. Alles van hoë argitektoniese kwaliteit en met ‘n nostalgie vir ‘n Middel-eeuse kasteel-styl muur en torings om sy groot nuwe tuin. Plus, ‘n dubbelverdieping-pastorie om daarmee saam te gaan. Niks vir sy eie sak nie, want al die verfraaiings en verbeteringe behoort natuurlik aan die kerk, nie aan homself nie. En die dorpenaars is bly, want hulle kry só werk, teen goeie loon…

Hier is ‘n paar fotos van die kwaliteit-kunswerke wat Saunière vir sy kerkie aangekoop het.

Die nuwe altaar

Kyk net die verhewe preekstoel, links

Rennes-le-Chateau val onder die biskopdom van Carcassonne, en die biskop daar is verheug oor die verbeteringe, wat hy toe ook persoonlik kom in-wy. Sonder om te veel te vra oor waar al die geld vandaan kom.

Maar toe, soos dit maar gaan in die Katolieke Kerk, word daardie vriendelike biskop verplaas, na ‘n meer senior pos. En sy opvolger is nie so gemoedelik nie…

Nou mense bly mos maar mense – nuuskierig, skinder, altyd aan’t wonder oor ander se sake. En die misterie wat daar in Rennes-le-Chateau aan’t afspeel is, begin toe kort-voor-lank vir die opvolgende biskop van Carcassonne lyk na moeilikgeit wat aan die kom is. Waarby die kerk dalk ingesleep kan word.

Wat as Saunière se misterieuse geld byvoorbeeld van kriminele oorsprong sou wees?

Plan moes duidelik gemaak word, en Saunière word gedaag om te kom verduidelik. Wat hy toe weier om te doen. Die biskop gaan egter voort met sy ondersoek, en bevind uiteindelik dat die geld wat so mildelik deur Saunière rondgestrooi word, deur hom sonder magtiging “verdien” is deur preke te verkoop teen een frank stuk. Ongeag dat die fakture alleen wys dat minstens 25,000 van daardie era se Franse Franke reeds spandeer was. Dus, dat Saunière 25,000 preke moes “onder die tafel” verkoop het, en dit sonder dat enigeen klaarblyklik ooit kom kla het dat hy verneuk is en nie die preek waarvoor hy betaal het, ontvang het nie.

Maar natuurlik, dis ‘n goeie verduideliking uit die hoek daarvan dat dit die kerk uit die moeilikheid sou hou…

Landskap rondom Rennes-le-Chateau

Voorkamer van die nuwe pastorie, met foto van Saunière links

Model van die kerk-terrein in die plaaslike museum - nuwe pastorie ("Villa Bethania") regs, die Magadala-toring (studeerkamer) links, die tuin en regs agter die Orangerie-toring

Saunière kon, ter wille van die Kerk se beeld, nie “ongestraf” gelaat word nie. Hy word toe eers verplaas (waaraan hy weier om gevolg te gee) en toe “geskors”, sonder salaris – maar hy bly rustig aan in Rennes, waar die dorpenaars hom bly waardeer. (Sy priester-salaris was duidelik niksbeduidend, gemeet teen die miljoene waartoe hy toegang gehad het – in vandag se geld, minstens R500 miljoen!).

Toe hy in 1917 sterf, sorg sy jarelange huishoudster, Marie Dénarnaud, dat hy ‘n duur grafsteen kry, waar hy in ‘n ere-plek op die kerk-gronde ter  ruste gelê is. Waarvoor sy kontant betaal. En vir die dorpenaars sê: moenie worrie nie – daar’s nog baie, waar hierdie vandaan gekom het. Volgens haar, glo genoeg om die hele dorp vir honderd jaar gelukkig te hou. Met die geheime bêreplek, wat sy beloof sy sal verklap voor sy sterf.

Ongelukkig, toe sy jare daarna sterf in 1953, is dit eensklaps – neergevel deur ‘n skielike beroerte. Sonder dat sy ‘n woord kon uitkry…

(Vervolg na fotos)

Die kerkie van Rennes-le-Chateau, met die hoof-ingang links

Saunière se graf op die kerk-terrein, kontant betaal deur sy huishoudster

Saunière se aweregse natuur blyk ook uit sy keuse van hierdie sataniese stut-pilaar vir die doopbak (tans beskerm deur 'n glas-kas)

Die "Orangerie" toring op die ander hoek van die muur (plek vir kweek van vrugtebome)

Ondertussen het dinge weer rustiger geraak in Rennes-le-Chateau, en die storie van priester Saunière en sy miljoene het vervaag. Sodat dinge maar weer broekskeur begin gaan het met die dorpie se ekonomie. Veral as jy daar, op daardie moeilik-bestygbare koppie in die middel van nêrens, ‘n restaurant sou probeer bedryf.

Maar as jy – synde nou die nuut-aangekome restaurant-eienaar te wees – ‘n slim man is, met ‘n doktorsgraad, plus ‘n vrugbare verbeelding en boonop nog skryf-talent ook (speurverhale: “Die Inbreker, Dood” 1943), dan maak jy ‘n plan om mense na jou dorp en dus jou restaurant, aan te lok. Baie mense.

Want, soos ons reeds gesê het, mense is mos nou maar eenmaal nuuskierig gebore. Dus, wat beter as om daardie nuuskierigheid te prikkel met ‘n goeie storie. Van misterie en ‘n versteekte skat.

En dis hier waar ons tweede hoof-akteur die verhoog betree, rondom 1955, kort nadat hy Rennes-le-Chateau toe getrek en die restaurant bekom het.

Sy naam: Noël Corbu (27 April 1912 – 20 Mei 1968).

In Januarie 1956 begin die plaaslike streekskoerant ‘n reeks onderhoude met die nuwe bistro-baas Corbu te dra, waarin hy kleur-ryk vertel dat Saunière die legendariese skat van die Middel-eeuse Franse koningin Blanche de Castille sou ontdek het (sy het volgens oorlewering so ‘n skat vergaar om as losprys te dien vir ‘n Christen-vors wat gedurende die Kruisvaarte in Egipte aangehou is). Corbu se stories vang toe die oog van ‘n bekende Franse skrywer, Robert Charroux, en die twee begin saamwerk.

In 1962, verander Corbu skielik heeltemal sy storie – niks meer verwysing na Blanche de Castille nie; nee, nou het die skat sy oorsprong in rare dokumente wat Saunière sou gevind het en wat glo die hele geloofsfondasie van die kerk onder verdenking sou bring. Die oorsprong van die “Priory of Sion” bedrogspul (wat later bewys is gebaseer te gewees het op vals dokumente wat doelbewus geskep is om dié mite te bevorder – met die  waarheid wat op die lappe gekom het toe die vervalser self gebieg het, na die samesweerders ‘n uitval gehad het!).

Hierdie sappige storie het egter toe reeds vlerke gekry gehad, en dis dít wat as basis gedien het vir onder andere Dan Brown se boek (en nog heelwat meer soortgelykes). En – voila! – die toeriste begin stroom na Rennes-le-Chateau. In massa. Tot vandag toe. Om dit tans een van die welvarendste toeriste-bestemmings in Frankryk te maak. Dit alles, danksy die nalatenskap van Saunière se kwistige, duur bouwerke. En, natuurlik, Corbu en kie se latere slim-stories soos daaromheen gespin…

So, wat sê ons gesoute speurders? Het Saunière die geld wat hy onbetwisbaar gehad het, verdien met preke onder die tafel verkoop? (Dit lyk nie matematies moontlik nie!). Was dit ‘n versteekte skat wat hy ontdek het? Of het hy die Vatikaan afgepers? (Hy is op sy sterfbed deur die kerk weer in ere herstel). En – het daar iets van sy skat oorgebly, wat steeds iewers daar rond versteek is?

Skryf vir ons met die blog se “comment” funksie wat u dink…

NOTA: NONGQAI se mede-redakteur, dr Willem Steenkamp, is vir baie jare al geïnteresseerd in die rol wat Maria Magdalena beweerdelik gespeel het in die Christus-verhaal. Die kerkie in Rennes-le-Chateau is toegewy aan Maria Magdalena, en die “Magdala Toring” wat Saunière se studeerkamer gehuisves het, is na haar vernoem.

In die Suide van Frankryk glo baie mense dat Maria Magdalena in der waarheid Jesus se eggenote was en dat sy na die kruisiging per boot na die Franse Mediterreense kus gebring is – swanger. Volgens hierdie oorlewerings loop dié bloedlyn deur heelparty ou Europese vorste-huise (die goue draad in Dan Brown se boek, en ook vele ander, soos Baigent en Leigh se The Holy Blood and the Holy Grail).

As en indien dit wel outentieke bron-dokumente sou gewees het wat in die hol kateder-pilaar gevind is, en indien dit wel van ‘n aard was wat hierdie legende kon bewys, dan sou dit uiteraard vir kerke in ‘n teologiese mynveld ingelei het en vir Saunière potensieel in ‘n magsposisie geplaas het. Die geloofwaardigheid van Corbu se stories daaromheen het egter gesneuwel na die vervalsings onderliggend tot die sogenaamde “Priory of Sion” dokumente op die lappe gekom het.

Dr Willem Steenkamp, NONGQAI se mede-redakteur en bedryfsbestuurder

Dit laat onvermydelik die vermoede dat Corbu se oogmerk was om Rennes-le-Chateau en Saunière se skat van steeds onverklaarde oorsprong, op die een of ander wyse aan hierdie legendes gekoppel te kry, om die publieke belangstelling in die dorp te verhoog (wat hy toe beslis reggekry het!). Want al weet ons nou dat die “Priory of Sion” gekonkel als valse verdigsel was, is en bly dit ‘n onverklaarde geheimenis waar die geld vandaan gekom het wat vir Saunière in staat gestel het om te bou en te doen, dít wat enigeen met sy eie oë in en om die kerkie in Rennes-le-Chateau kan sien.

Enkele maande gelede het Willem tydens ‘n besoek aan familie in die streek, geleentheid gehad om Rennes-le-Chateau eerstehands te gaan verken en toe vir ons hierdie ooggetuie-artikel te skryf. Die fotos hierin is sy eie.   

Gevra oor wat sy eie mening is oor wat by Rennes-le-Chateau gebeur het, sê Willem dat die storie van die afpers van die Kerk met opspraakwekkende onthullings, vir hom ‘n verdigsel is wat gemik was op net nog groter nuuskierigheid aanblaas.

Die storie dat Saunière soveel miljoene kon verdien het met ongemagtig van sy preke verkoop, meen Willem is wiskundig en realisties-gesproke onmoontlik – net ‘n rookskerm om die Kerk te beskerm.

Die een onbetwisbare feit bly egter dat Saunière op daardie ‘n brand-arm plekkie wél sy hande op al daardie miljoene gelê het. Niemand het dit vir hom gegee nie, hy het dit nie loop steel nie, so die enigste logiese antwoord is dat hy wel op ‘n skat afgekom het. Wat nie onmoontlik is nie, gegewe die uiters turbulente geskiedenis van daardie streek, bewoon deur ‘n nasie (die moderne Katalane) wat vir eeue vasgevang was tussen die fynmaal-mag van die Spanjaarde in die Suide en die Franse in die Noorde. Met een oorlog na die ander – daar’s seker min streke op aarde wat so dig besaai is met kastele en forte.  

En dan nog die godsdiens-twiste tussen die plaaslike sogenaamde Kataarse sekte en Rome, wat gedurende die Middel-eeue uitgeloop het op ‘n volwaardige, amptelike Vatikaan-verklaarde kruistog teen en genadelose uitwissing van die Katare. So, daar was bepaald rede genoeg, by meer as genoeg geleenthede, vir mense daar om hulle skatte weg te gesteek het – en dan nie te oorleef het om dit weer self te gaan opgrawe nie.

Maar, sê Willem, wie se skat dit was, hoe groot dit in totaal was, en of daar enigiets daarvan nog êrens versteek lê, weet nugter. Daardie geheime skyn graf-toe te gegaan het saam met Saunière en uiteindelik sy vertroueling-huishoudster (daar was terloops geen intieme verhouding tussen hulle nie – sy was getroud,  met ‘n eie gesin). Jaar na jaar word daar steeds opgraaf-projekte geloods, soos wat skattejagters meen hulle het die geheim ontrafel.  Tot dusver, altyd sonder sukses.

Die werklike skat, vandag, is die geld wat toeriste daar kom spandeer…