Luit Barry Taylor – destyds KOD Sunnyside

Abstract

Lieut Barry Taylor now living in Thailand shares some of his experiences as a detective attached to the Sunnyside police station. The homes of the State President and the Prime Minister fell in the Sunnyside precinct. Sometimes he dealt with the State President’s or the Prime Minister’s officials.

In 1971 was ek op Sunnyside gestasioneer en het alle  selfmoorde-,  Crimen Injuria-, Strafbare manslag-sake  en ‘n paar verkragtings ondersoek. Nou die meeste strafbare manslag sake was maar mense wie oor die pad gehardloop het en deur motors getref is.

Een nag net so na middernag lui die telefoon in die woonstel waar ek en my oorlede vrou in Sunnyside gewoon het  en die outjie sê vir my hy is van Radio-beheer en ek moet uitgaan na ‘n strafbare manslag in Kerk-straat reg voor die administrateur se woning.

Ek sê toe vir hom die prosedure is dat as daar ‘n strafbare manslag is, tel ek die dossier die volgende oggend by die polisiestasie, wat Arcadia sou wees, op.

Die ou sê vir my “nee” ek moet gaan die DK is op die toneel en ook die diensoffisier. Ek gaan toe na die toneel en toe ek daar kom is dit net polisiekarre waar jy kyk.

Ek vra toe nog so ewe sarkasties aan die een polisieman wat gaan aan? En hy sê toe ‘n swarte is doodgery deur ‘n dronk witman. Net toe kom die SAKB daar aan en begin in die middel van die nag foto’s neem en planne opstel wat nog nooit voorheen gebeur het, wat ek van weet nie.

Ek stap na die DK en vra hom wat gaan aan en hy se toe vir my ‘n dronk ou het van Silverton gekom en die swarte doodgery maar nie sommige enige swarte nie maar John Vorster se kok wat al van 1938 by Libertas kook.

Die ou wat hom doodgery het is toe al van die toneel af na die lykshuis om sy bloed te laat trek voor die twee ure om was. Die swarte lê toe in die pad net waar hy geval het en ek gaan kyk toe. Hy was redelik gesellig gewees (dik) en die kar was ook goed beskadig.

Die DK se toe die laaitie moet toegesluit word en hulle wou sommer die sleutel weggooi en ek laat dit toe maar gaan en sê toe nie veel verder nie.

Die volgende oggend net na ek op kantoor gekom het sê maj Basson vir my ek moet maar na Libertas gaan en oom Van der Westhuizen, die  bestuurder of wat hy ookal genoem is, gaan spreek.

Nou ek en oom Wessie was al vriende van ander sake en ek ry toe agterom na die kombuis en kry hom daar. Hy vra toe wat gebeur het en ek sê vir hom en hy is in die huis in en gaan sê vir mnr Vorster. Die en sy vrou kom na n ruk na die kombuis en ek vertel hulle die storie  wat ek sover weet en dat die ou toegesluit is.

Mnr Vorster sê toe die ou moet maar borg kry en sê toe waar is die lyk? En ek sê hom by die lykshuis. Hy vra toe wat kos ‘n begrafnis? Ek sê  ek het geen idee maar sal gaan uitvind, dit hang van die familie af, vanwaar die begrafnis sal wees.

Ek gaan sien toe vir Perske Willemse, die kaptein by die lykshuis, en sê vir hom van mnr Vorster se navraag. Hy sê hy sal my bel en se wat se die familie

Die volgende dag  of ‘n dag later ek kan nie meer mooi onthou, bel hy en sê die familie wil die begrafnis in Sekhukhuneland hou en dit sal R200 kos alles ingesluit. Hy het ‘n begrafnis­ondernemer wie die dinge sal reël vir R200.

Ek ry toe na oom Wessie en sê toe vir hom en so ‘n paar dae later gee hy my ‘n tjek van mnr Vorster uit sy eie rekening virR200 uitgemaak aan die begrafnisondernemer.

Die arme laaitie het ek nog dieselfde dag voor borg gereël en hy was ‘n ketelmaker wat nogal in Polwin Hof-woonstelle in Bosman-straat gewoon het. ‘n Heel nice ou, maar wit-geskrik oor die persoon wat hy doodgery het, hy het van ‘n “party” gekom in Silverton.

Hy het maar ’n opgeskorte vonnis gekry soos al die ander van daardie jare. My kommentaar oor die DK van daai jare sal ek maar vir myself hou. Hy was Kol du Plessis en ons het hom Nasser genoem na die president van Egipte. Hy het baie soos hy gelyk.

Oor die bye daai is ‘n ander storie

Libertas het mos op ‘n heuwel gestaan en jy kon as jy Noord kyk, tot in die verte  sien. Nou so ‘n ent van die agterdeur was daar ‘n hoë wal gewees, seker so tien of vyftien voet hoog. Die was van klip gebou en onder die wal was daar nog so ‘n bietjie tuin. Nou soos bye maar is trek ‘n swerm bye in die wal in, een gat in, en maak daar nes.

John Vorster hoor toe van die bye en sê toe hulle moet  die bye los en dan na ‘n paar maande die heuning gaan uithaal, maar nie die bye steur nie. Hiervan weet ek niks op die stadium nie. Een oggend bel oom Wessie my en sê ek moet hom kom sien en ek is weer agterom en sit en praat in die kombuis met hom.

Hy vertel my toe dat hy ‘n byevanger gekry het wat die nes se heuning sou uithaal en die bye nie hinder nie en toe die ou met ‘n leer opklim na die nes, is al die bye dood – een of ander ou het karbadust op die bye gegooi en alles was  “in sy moer in”.

Nou die nes was amper  bykombaar van bo af as jy oor die kant hang. Maak toe maar ‘n saak van opsetlike saakbeskadiging oop en  begin die polisie wat daar werk ondervra. Maar nou soos julle wel weet: ‘n Poliesman is altyd onskuldig en sal nooit iets verkeerd doen nie.

Die nes was al ‘n hele ruk dood dit was duidelik dit was nie onlangs gedoen nie. Al die polisie wat daar gewerk het, het niks geweet nie en nie eers van die nes geweet nie – soos hulle onskuld uitgestraal het. Maar nou moet julle onthou dan werk hulle by Libertas en dan by die SP se woning. Almal het my ook ewe plegtig belowe hulle sal probeer uitvind wie dit gedoen het en ek wag nou nog op n antwoord of inligting.

Oom Wessie het my gesê mnr Vorster het maar net gesmile oor die onskuld van die polisie. Dit was regtig ‘n smart klomp polisie wat daar gewerk het. Hulle het tot ‘n Luit gehad, hy was van Pretoria-Noord afdeling en ‘n moerse nice ou – donners stout, wat pres Swart se biltong van die stoep gesteel het en toe pres Swart hom daaroor uitvra weet hy niks tot pres Swart vir hom gesê het, ek tel die biltonge jy kan nie vir my lieg en met ‘n smile weggeloop het. Hulle het in die aand biltong afgehaal en geëet

Daar is nog die storie oor  dr Verwoerd se varkoor  blomme in Sept 1965

Barry

Prachin Buri

Thailand