Border patrol feature

1991: GRENSPATROLLIE - ORANJERIVIER (RICHTERSVELD)

ABSTRACTA 3-day South African Police border patrol from south the Orange River from Alexander Bay, through the Richtersveld to Vioolsdrif in the east.
KEYWORDS : Alexander Bay, Fanie Bouwer, Flet-Gert Booysen, Dries Du Toit, Namaqualand, Springbok, Goofy De Klerk, Kleintjie Höll, Koeboes, Flip Fourie, Orange River, Paarl, Port Nolloth, Richtersveld, Riot Squad, Steinkopf, Vioolsdrif
AuthorBrig Fanie Bouwer

Kort nadat ek as Distrikskommandant in Namakwaland (Springbok) aangeland het, vertel die Distrikspeuroffisier, Kleintjie Höll (toevallig my bloedneef – ons moeders was susters), vir my van die Richtersveld.

Hy reken toe ons moet eendag ‘n amptelike grenspatrollie doen vir 3 dae daar onderkant die Oranjerivier van Alexanderbaai, deur die Richtersveld tot by Vioolsdrif in die oostekant. Hierdie idee, veral op staatskoste, het my nogal aangestaan.

Ek moes natuurlik eers by die provinsiale kommissaris, gen.-majoor Flip Fourie, verbykom. Ek bel hom daar in Kaapstad en vertel hom dat ek so 3 dae afwesig van kantoor sal wees a.g.v. die grenspatrollie. Hy reken toe “Hmm ‘n grenspatrollie, sê jy?”. Ek beaam, en hy sê “Jy verwag seker nie ek moet nee sê nie?”. Ek beaam toe maar weer. En so kry ek die groenlig.

Toe begin die dink en die reëlings daarvan. Mens kon seker sê dit was ‘n tipe van ‘n halfamptelike werkstoer sien, as jy verstaan wat ek meen.

My distrik het nie eintlik ordentlike 4 X 4 bakkies gehad nie. Maar ‘n boer maak ‘n plan.

Ek bel toe ‘n majoor van die onluste-eenheid in die Paarl, wie se naam en van ek nou om die dood nié kan onthou nie, en ek vertel hom toe van die beoogde, maar ‘belangrike’ 3-daagse grenspatrollie wat uitgevoer moet word. Ek verneem toe of hy nie kan kom help met so drie 4 X 4 bakkies nie, en dan sommer saamkom? Hy hou sommer dadelik van die idee en sê hy sal my die volgende dag terugbel, wat hy toe doen en verneem ook na die vertrekdatum.

Ek vra hom toe sommer of hy nie vir oud-brigadier Fletgert Booysen (afgetree al), ons vorige Bolandse Afdelingskommissaris, sal saambring nie?

Nadat ek die vertrekdatum bepaal het, bel ek vir brigadier Booysen en vertel hom hiervan. Ek sê vir hom dat ek nooi hom ook op voorwaarde dat daar waar ons vir 2 nagte gaan uitspan, hy vir ons net die roosterkoeke moet saamslaan en dan gaarmaak op die rooster. Hy stem in en ek kan agterkom dat hy vuur en vlam is vir die trip.

Die volgende middag bring my distriksklerk, Goofy De Klerk, vir my ‘n handgeskrewe lys van goedere wat aangekoop moes word en wat per faks ontvang is.

Dit is toe sowaar deur brigadier Booysen gestuur. Die lang lys het toe volledig uiteengesit wat alles aangekoop moes word, soos vleis, wors, sout, hout, ander kos en benodigdhede vir die veld. Hy was ‘n ekspert van oornag in die veld uit sy Suidwes-dae, maar dit het my ook net weer getref oor watter soort van perfeksionis hy inderdaad was. Hy het ons seker ook nie heeltemal vertrou met dié soort van dinge nie.

Ek het ook vir kaptein Dries Du Toit (hy moet seker diep in die tagtigs wees al) van die veiligheidstak genooi. Hy was al vir dekades in Namakwaland en sou as ons toergids dien. Mens karring nie in daardie wêreld sommer rond sonder dat iemand saam is wat die roetes ken nie. Hy kon toe ook seker ná die toer aan sy hoofde rapporteer dat dié noordelike grens van SA nog sonder veiligheidsprobleme is.

Toe die manne van die Paarl aankom op die gegewe dag, het ons vertrek, eers rigting Vioolsdrif en toe links gedraai by Steinkopf in die rigting van Port Nolloth (die Port). Duskant hierdie dorp het ons regs afgedraai in ‘n noordelike rigting na ‘n plek in die gopse met so ‘n oorhang krans waar ons gestop en oornag het. Die eerste braai met roosterkoeke (brigadier Booysen was in sy element) en so aan, was hier voorberei. En polisiekoffie en coke ook. Of wat ook al saam geneem was.

Richtersveld 1
Richtersveld 2

Na ‘n goeie slaap in oopte, is ons vroeg op en beur verder noord. Ons wou eers by Alexanderbaai (waar die enigste diamant-staatsmyn in die land is) aandoen, wat ek vir die eerste keer in my lewe sou sien.

Vanaf Alexanderbaai het ons toe in ‘n oostelike rigting gery na die baie bekende Nama-dorp, Koeboes, waar ons dié dorp en sy dinge besigtig het en ook met daardie wonderlike Nama-mense van dié dorp gesels het.

Vanaf Koeboes het ons al langs die Oranjerivier beweeg – partykeer het die pad jou effens weg van die rivier gevat en weer met kere terug.

Ons wou so min of meer halfpad na die baie warm Vioolsdrif ry. Op hierdie roete het ons aangedoen by die pont wat oorgang op die rivier na Namibië gee. Verder aan het ons by ‘n private diamantmyn aangedoen, waar die eienaar ons te woord gestaan en vir ons diamante gewys het.

By ons bestemde plek later aangekom, was dit weer sulke tyd. Kampbedjies regkry, vuurmaak, braai, eet en slimstories vertel. (Brigadier Booysen, wat ‘n natuurlike storieverteller van formaat is, het ons vermaak met sy Suidwes- en Kalaharistories) En dan slaap.

Richtersveld 3
Richtersveld 4

Die derde dag het ons gemik vir Vioolsdrif. Op party plekke is die pad oukei; ander weer sal ‘n bobbejaan sukkel om met ‘n kierie te loop. Vanaf Vioolsdrif het ons uiteindelik die teerpad gevat terug na Springbok.

Ek wil net noem: Vir die minder waagmoediges is daar heelwat beter paaie waar jy kan ry om die Richterveld op ‘n meer gemaklike manier te kan besigtig.

Wat eienaardig is van die Richtersveld, is dat soos jy aan beweeg, verander die omgewing radikaal, soveel so dat jy die gevoel kry jy is kort-kort op ‘n ander plek – partykeer breë, plat plato’s en dan weer donkeragtige bergagtigheid. Let óp die foto’s.

Terloops: ons het die grens veilig bevind, met geen oorgrense misdaadbekommernisse nie. Soos verwag.

Onder plaas ek ‘n baie dowwe foto (zoom in daarop) van ons klompie met die drie 4 X 4 polisiebakkies. Die res is maar net enkele foto’s van die Richtersveld en sy verskeie unieke dele in dié eenkantland.

Polisiebakkies

Ek het so 20 jaar later weer ‘n private toer na die Richtersveld meegemaak. Ons het ‘n Amerikaanse 4 x 4 Hummer en ‘n 4X 4 Toyota Hi-Lux gebruik. Ons het een van daardie karavane saam gesleep wat spesiaal ontwerp is vir ruwe terrein. Die Toyota bakkie het op uiters moeilike tweespoorpaaie en in die diep sand baie beter as die Hummer sy ding gedoen.