SAP King's Rest

SAP King's Rest

ABSTRACT:  Brigadier Hennie Heymans recalls the time that he was stationed at King’s Rest and shares anecdotes of that time.
 KEYWORDS: SAP King’s Rest, Durban, Soldiers Way, Bunny chow, Perks pies, Wentworth, Durban Borough Police, Natal Police, Rossburg
Author: Brig Hennie Heymans

SAP King’s Rest

(Geagte leser: Kan ek met u vergunning asseblief van ‘n “paai” in plaas van ‘n “pie” praat?)

 In Durban en in Pietermaritzburg was daar paai-karre gehad waar mens, as dit nag was, kos kon koop en koffie drink. (In die ou dae het motorhawens en kafees om 22:00 gesluit).  Die paai-kar in Durban was naby die spoorwegstasie in Soldiers Way. Jy kon ‘n hot-dog, hamburger, ‘n Perks-paai en ek dink ‘n Bunny Chow daar koop met koffie en koeldrank.

 Later het Springbok Radio met “Deurnag Deuntjies” gekom. In die aanklagkantoor (AK) het ons ook na LM se deurnagdiens met Robin Alexander geluister. Ek het ook een aand op versoek van die jong AK-sersant, wat nie lekker Engels kon praat nie, ‘n telefoniese versoek na LM Radio om ‘n boodskap van goeie wense aan al die SAP-lede aan diens, te rig.

 In Durban het ons jongmanne van die Kalahari en elders gekry wat  nie lekker Engels kon praat nie. So antwoord ‘n mannetjie in die AK, in Engels, op ‘n vraag: “No da Sargant, is out, wif da wah!”’ Ses maande later is hy vlot in Engels want meeste van die werk in die AK was in Engels. Voor ons die ‘Alfa, Bravo tot by Zulu’ spraakprosedures gehad het sê ‘n man oor die lug: “C” vir Sydenham.

 Ek het ook met die Rooitaal ‘n paar toetse gedop, die stasiebevelvoerder het maar lelik geskryf: “OB and registers perused”. Ek vra eendag, want ek was bekommerd oor moontlike foute wat ek kon begaan het, of die stasiebevelvoerder al die registers ge-‘pursue’ het. Almal in die aanklagtekantoor lag en sê: “Nee dis ‘peruse’”.

 Ja, toe ek af siek is met pampoentjies toe skryf die sersant in my sakboek: “This detail is off sick”. Nooit geweet ek is ‘n ‘detail’ nie, maar dit was Durban se polisie-Engels.

King's Rest Date Stamp

King's Rest Date Stamp

Ons ouens van King’s Rest in Durban-Suid het maar altyd in nag ‘n “wettige rede” gesoek om King’s Rest se wyk te verlaat en by die paai-kar ‘n draai te gooi. Was ‘n interessante plek die paai-kar. Al die ou boemelaars, dronkies en ouens wat laat gekuier het, het iets daar geëet. Ook die “dames van die nag”, straat-Evangeliste, matrose en die taxi-bestuurders het ook daar verposing gevind.

Perks Pies in Durban circa 1950’s.

In Durban het ons ook Clover-melkery besoek en geteken vir twee pinte melk en ook by die bakkery het ons vir een brood geteken. My kollega op Wentworth het eenmaal ons brood en melk “gesteel” deur daarvoor in my plek te teken. Maar ek het hom teruggekry.

Ons paais in Durban was deur ‘n bekende firma met die naam van Perks gebak. As mens in Berea-weg af gery het, rigting stad, het mens hul gebou Perks House gesien. Dit was nou lekker paais!

Hier is ‘n foto van die paai-kar Pie cart outside the old railway station

Later het ek uitgevind mens kon ook na-nag of baie vroeg “pie, chips & gravey” en lekker spoorwegkoffie by groot stasies se restaurante koop.  Niemand het koffie soos die SAS se Verversingsafdeling gemaak nie!

‘n Interessante ou dingetjie oor SAP Kings Rest was: ‘n Mens moes die wyk verlaat en deur die stad na SAP Punt se wyk gaan – die patrolliewa naby die Noord-pier laat en die veerboot haal na Wests. Jy het selfs die distrik verlaat, van distrik 75 (Durban-Suid) na distrik 46 (Durban-Sentraal) – mens het deur Clairwood, Rossburg, Umbilo, Durban-Sentraal en Punt se wyke gery.  Daar was geen pad na Wests – net ‘n spoorlyn. Daar was ‘n hotel wat op privaatgrond was – die res was die spoorwegpolisie se wyk. Dan was daar ‘n waterpyp wat van suid na noord geloop het aan die oostekant van die kaai en spoorlyne. Dit was aan die voet van die groen bult bekend as die Bluff. Die grond was bekend as Admiraliteitsgrond. Ek het ‘n moordtoneel op die Admiraliteitsgrond bygewoon – na baie stryery tussen ons speurders en die SA Spoorwegpolisie oor presies in wie se wyk die dame vermoor is, het ons speurders toegegee en die moordsaak ondersoek.

Ons was ‘n klomp kinders pas uit die kollege. Ons het gou groot geword en groot manne se werk gedoen!

Daar was net drie senior manne op die stasie:
No 22054T AO Willie Marais ( Sy magnommer is 20 voor genl Johan Coetzee)
No 30320P Sers van der Westhuizen (2i/b)
No 32xxx Konst JD Uys
Verder was daar twee blankes op ‘n aflossing – meestal jong manne met een of twee jaar diens,
Daar was darem so vier swart lede per aflossing vir aanklagtekantoor, wabemanning, rondtediens en wagdiens
Twee blanke en twee swart speurders – die DSO was kapt SJJ “Basie” Smit – Hy was toe al ‘n yster.
Daar was Ondersoek- en Navrae-personeel
Hofordonnans
Bandietwag
Spesiale Matrone
Ons ongevalle was: Grensdiens, verlof en ongevalle aan diens.

Ons het goeie swart lede gehad wat ons baie geleer het oor die wyk en hoe om booswigte aan te keer. Hulle het die wyk geken. Jy moes hulle vertroue gewen het voor hulle inligting met jou gedeel het.

Soggens neem ek die prisoniers na Durban- en Wentworth-hof en gaan haal dan die bandiete by Durban-tronk – “agter” die Durban-spoorwegstasie. Konst Nyawo – ‘n groot Zulu man (hy het my altyd aan Dingaan laat dink) – met assegaai en drie of vier bandiete, Dan ry ons Bluff toe. Soms vra die bandietwag ek moet by “Bluff Butchery” stil hou want hy wil “Boys Meat” koop om te braai. Dan gee ek hom 25cent dan koop hy ook vir my “Boys Meat”.

Hy en die bandiete het altyd so tussen 10:00 en 11:00 hul maaltyd onder die groot bome gehou.

So 10:00 – 11:00 se kant as ek kom tee drink – dan gee hy vir my die “braaivleis” – dis dan op bruin papier, met growwe sout oor gestrooi en op die Zulu-manier gebraai: So in die vlamme geskroei en “medium to rare” – in skywe gesny met sy Okapi-mes!!! Best braaivleis wat ek ooit geëet het!

Elke dag 12:00 het die SB in die VB geskryf: “Camp Inspection: Camp inspection was performed by No 22054T WO W Marias, station and camp clean.” So was dit! So was ons. Vrydae is die patrolliewa gewas en dan versien by Wentworth SAP Motorhawe.

Ek het gou geleer moet nooit jou jas, flits of maatband in die patrolliewa laat nie – dit raak weg!

Dit was wonderlike dae – ons het regte polisiewerk gedoen eers later het die grensdiens en onluste gekom. Gewone polisiewerk op stasies is gaandeweg verwaarloos met ander eise wat deur hoofkantoor gestel het. Ons was maar min mense is die polisie in daardie dae – sowat 30 000 met die helfte blank. Gaande weg het die Mag uitgebrei – MAAR te stadig om aan al die eise van die tyd te voldoen! Ons moes duisende polisiemanne op die grond gehad het en ons moes meer toerusting en uitrusting gehad het. Ons SAP-begroting het ongeveer 15% van die SAW se begroting beloop en ons moes die grense en die onluste en insurgensie dek.

Wests & Point
Mens gaan met veerboot na Wests en terug na Punt
Windsor Castle - Tussen Wests en Punt

Windsor Castle - Tussen Wests en Punt

Een nag kry ek weer ‘n klagte by Wests – ons laat die patrolliewa by Island View en die Waterpolisie gaan laai ons by Wests af. Daar was ook baie vissers. Dit was waar hulle die walvisse getrok het na Union Whaling se walvisstasie aan die anderkant van die Bluff. Snaaks genoeg daar was ‘n pad af na die walvisstasie. Daar was baie bloed en baie klein en groot vissies en haaie.

Ek arresteer toe ‘n Indiërman vir diefstal van ‘n visstok en ek en my bemanning en die prisonier wag vir die Waterpolisie. Al wat kom is hulle, hulle kom haal ons nie.

Wests - So 'n klas lokomotief het ons opgelaai

Wests - So 'n klas lokomotief het ons opgelaai

‘n Stoomenjin (Klas H) wat rangeer hou by ons stil. Die stoker en ek ken toe mekaar – hy het die skool in Std 7 verlaat en is toe al ‘n “ou” man. Die stoker is lus vir gesels. Ons gesels en toe vra ek ‘n “lift” tot by Island View waar die patrolliewa geparkeer was en waar die Waterpolisie ons oorspronklik opgelaai het. Die drywer stem in. Ek in blou uniform, die bemanning in kakie vergesel die prisonier met bewysstuk (visstok) op die voetplaat. Ons is vyf op die voetplaat. Die polisiewerk was nooit eentonig nie en daar gaat ons!

“Oom, kan die enjin spin?”

Die drywer kyk na my en lag. Hy hou toe stil en wys my hoe spin ‘n stoomenjin.

Na ‘n lekker trippie op die voetplaat laai hulle ons af by die patrolliewa.

Walvisse - Wests

Walvisse - Wests

Walvisse - Wests

Walvisse - Wests

Walvisse - Wests

Walvisse - Wests

Walvisse is in die Indiese Oseaan met harpoene geskiet en dan nadat hul dood is, na Durban-hawe gesleep. Hulle is dan na die hawe gebring by Wests en dan op land gebring deur hulle uit die hawe te sleep tot op plat spoorwegtrokke waarna die kort trein na die walvisstasie langs die Indiese Oseaan gesleep. Hier is die walvisse afgelaai en binne oomblikke opgesny. Ons Swart kollegas en die Durban Honde-eenheid het altyd hier walvisvleis gekry.

Ons lede het die vleis in skywe gesny – eers gekook en dan gebraai. Ek het daarvan geëet – dis pragtige rooi vleis. Dit het ‘n rowwe tekstuur en ruik sterk na vis!

Walvisse 1924
Walvisse 1924
Walvisse 1924
Walvisse 1924
Walvisse 1924

Walvisse is in die Indiese Oseaan met harpoene geskiet en dan nadat hul dood is, na Durban-hawe gesleep. Hulle is dan na die hawe gebring by Wests en dan op land gebring deur hulle uit die hawe te sleep tot op plat spoorwegtrokke waarna die kort trein na die walvisstasie langs die Indiese Oseaan gesleep. Hier is die walvisse afgelaai en binne oomblikke opgesny. Ons Swart kollegas en die Durban Honde-eenheid het altyd hier walvisvleis gekry.

Ons lede het die vleis in skywe gesny – eers gekook en dan gebraai. Ek het daarvan geëet – dis pragtige rooi vleis. Dit het ‘n rowwe tekstuur en ruik sterk na vis!

Kingsley en King’s Rest

Eendag hou daar ‘n boukontrakteur en vragmotors met klip, sand en stene by King’s Rest polisiestasie stil Die stasiebevelvoerder het met die mense gepraat en hulle wys hom ons het glo aansoek gedoen vir ‘n getuie wagplek. Hy wis van niks. Die goed word afgelaai en na ‘n paar dae het ons ‘n pragtige getuie wagplek – iets soos bushalte.

Die getuie wagplek sou ek later uitvind was vir Kingsley (naby Bloedrivier) bestem. By Kingsley het hulle ‘n reuse stasie gebou wat eintlik vir King’s Rest bestem was. King’s Rest is aan die SA Vlootpolisie oorhandig en die stasie het na Brighton Beach verskuif.

Jare later – in die 1990’s – het ek met brig SJP du Toit gereël dat King’s Rest weer in die SAP se hande sou val. Dit is toe deur een of ander polisie-eenheid benut.

Slot

Die stasie se adres was Station-laan 45  en ons moes elke oggend afstap na King’s Rest Halt om die possak by die trein se kondukteur te kry. Saans moes ons weer die possak op die trein besorg.

Eendag het ek na die SAP-argief gegaan en die geskiedkundige stasie lêers van Wentworth, King’s Rest en Rossburg getrek en gelees. Baie van die stasies in Durban was deur die ou Natal Police beman en in die stad was die stasies deur die Gemeentelike Polisie van Durban beman.

Gedurende 1913/14 het King’s Rest in die hande van die Unie Verdedigingsmag gekom en die SA Berede Skutters was daar gestasioneer. Toe kom die SAP en neem weer oor….

Daar was interessante goed in die lêers… maar ons geskiedenis kwyn en verdwyn as ons dit nie gaan boekstaaf nie!

My dae as “klassieke” polisieman op die Bluff was die lekkerste dae van my lewe. Later het ek baie interessante werk verrig maar die “klassieke’ polisiëring bly maar die beste en die lekkerste!

Servamus et Servimus

Wests
Walvisse - Wests

Foto’s – tensy elders vermeld kom alle foto’s van Facebook