Brig HB Heymans

Abstract

HBH describes one of the delightful and true old characters and a strict disciplinarian, Col TJ Bryne. He was OC of the authoritarian SAP Depot where new Recruits were transferred into fully fledged policemen. The author met him in Durban during the 1960’s and read some of his notes and reports. Col Bryne was the Chairman of the Board of Inquiry into the massacre of policemen at Charlestown. Keywords: Quarter Guard, SA Police Depot, Col IP de Villiers, Major LG Snyman, Lt-Col TJ Byrne, Vaughan Redding, Norah K Redding, Charlestown In ‘n mens se lewe, veral as polisieman, is mens so bevoorreg om vermaarde, edel, en tog nie so edele, karakters van vergange se dae te ontmoet. Partykeer is mens gelukkig om hulle te leer ken en met hulle gespek te voer. Later kan mens hul dokumente en rapporte kan lees. Partykeer sien ons sulke mense net van ver – op die podium by die parade, of in ‘n nuusfilm. Of mens lees in die koerant van hul wandade. Kol Byrne was ‘n egte Britse kolonel “van die ou-skool”. Hy was geen Lieplapper – hy was ‘n ware heer en offisier – kwaai met ‘n fier houding en te midde van alles: Die glinstering in die oog – die humor was daar! Dit wat ons almal in die kollege leer ken het! Onthou: “Kyk hoe vuil is hierdie plek!” – terwyl dit eintlik steriel skoon is! Jare gelede het ek ‘n skandeerder gekoop en stadig maar seker deur honderde Nongqai’s gewerk en talle foto’s van mense wat ek geken het – of mense wat bekendheid verwerf het, se foto en agtergrond af geskandeer. Ook van bekende geboue in die magte. Ek het leggers (folders) op mense (en plekke) “oop gemaak” en die foto en agtergrondverslag daarin gebêre. So het ek ‘n omvattende fototeek oor offisiere, politici, bekendes, geboue, voertuie, vaartuie, vliegtuie en polisieperde, -kamele, -muile, -donkies en -osse oopgemaak. Ja, ek het foto’s van polisiemanne wat op osse ry. Hoe meer inligting jy bymekaar maak, hoe helderder is die prentjie wat mens van die geskiedenis kan skep. Gedurende middel-1960’s het ek het ‘n vriend in Durban gehad met die naam van Vaughan Redding. Hy is ongelukkig sowat 20 jaar gelede oorlede. Hy was ‘n apteker. Ons het duiwe en tropiese vissies geteel. Eendag vra hy of ek sy Oupa ken? Sy Oupa was “Burne The Bastard” of te wel die befaamde lt-kol TJ Byrne. Sy Oupa was toe al omtrent 30-jaar met pensioen – my Vader en Oom Claude Sterley het die Oubaas “geken” van die depot en van polisiepraatjies. Hy het nogal ‘n reputasie gehad soos mens uit die polisiekollege se ou jaarblaaie aflei. Eendag gaan ek deur ‘n bitter ou Nongqai (1917) en skandeer toe die volgende prentjie van Vaughan se Moeder, Norah, wat op sit op ‘n perd sit. Vaughan het langs die Roomse-sendingstasie en klooster in Sormany-weg te Brightonstrand gewoon en sy ouers het langs hom, in ‘n aparte huis, gewoon. Eendag het sy Oupa kom kuier. Ek was aan diens te SAP King’s Rest en het op my patrollie ‘n hoflikheidsbesoek aan die Redding’s gebring waar ek toe kol. Byrne die eerste keer ontmoet het. Ek was in volle uniform en het die Oubaas gegroet met ‘n flinke saluut. Hy het tevrede geglimlag en my gegroet en hy vra toe: “What do the men call me?” Ek sê toe maar skamerig: “Byrne the Bastard!” Hy lag en sê: “That’s right my boy!” Die ou manne het my vertel, dat wanneer hulle hom moes spreek, het hulle hul spore se kettinkies afgehaal. Sodra hulle die gebou getree het, het hulle die spore se kettings weer aangesit – hy het die manne verpes as daai kettinkie vol grond en “vuil” was. Hier is ‘n paar van my geskandeerde foto’s oor kol Byrne:

1917 – Die kolonel se dogter Norah K Byrne (later mev Redding)

1929

1929 Die kolonel (voor 2de van links) en kommissaris, kol IP de Villiers met lede van die “Musical Ride”

1931: Die majoor as BO van die SAP Depot inspekteer die erewag

Die kwartwag is ‘n klein afdeling van troepe wat as ‘n seremoniële wag gebruik kan word. Hul word by die ingang van ‘n militêre eenheid ontplooi om respek te toon soos benodig. ‘n Kwartwag moet bestaan uit een onderoffisier en ses of agt lede van laer range wat in twee rye saamgestel is. Dit is tegnies ‘n minuskule erewag[1]. Die ou SAP-depot was op lees van die SA Constabulary geskoei. Streng militêr gewees!

As BO van die SAP-depot 1929 tot 1933

1933: Aftrede

1963: SAP 50-jaar: Die kolonel was daar

Die einste majoor Snyman – later genl-maj – was in die kollege toe ek daar was. Maj Snyman was net so streng. Hy het my met sy voorvinger onderste bo geklap omdat my vuurwapen ‘vuil’ was!! Die manne was nie regtig kwaai nie – mens moes net hul sin vir humor verstaan het. Soos ek ouer geword het, het ek verkies om onder kwaai mense te werk. Ek het deur my ou vriend, hoofkonstabel Claude Sterley, die swaer van genl Louis Snyman, laasgenoemde se albums geleen en al die foto’s daarin afgetas. Destyds, toe die kolonel oorlede is, was ek luitenant in Durban en het sy uniforms, dokumente, sertifikate, sakboekies aan afdelingshoofkantoor besorg om na die SAP-museum te versend. Jare later het ek uitgevind dat al die items gesteel is en nooit by die museum uitgekom het nie. T/Sers “Fish” Visser was nog ‘n goeie vriend van my en hy was by die SAP-museum werksaam. Hy was bewus dat ek die kolonel se pet het. Nadat hy my arm gedraai het, het ek die pet vir die museum geskenk en ‘n mooi briefie in ruil ontvang.
  1. https://en.wikipedia.org/wiki/Quarter_guard afgelaai op 10 Oktober 2023 – HBH.