SPIKKELTJIE – ‘n Gedig

Lt-kol MJJ van RENSBURG, SALM

Spikkeltjie. Diamantjie reine pêrel,

kosbare saad uit die Hemel.

Vandag is jy ‘n goue korreltjie

More so groot soos ‘n mossie.

Jy deel die Hemel met jou Moeder

en word jy veilig gekoester.

Jy groei in jou Moeder se weivelde van liefde

so mooi en skoon in sagte gebede.

Spikkeltjie jy is gekies deur Jesus

en gebêre in jou mamma se paradys.

Suikerbekkies in pers blomme kelkies.

Bye in goue heuning bekertjies,

hemelruim met familie van sterretjies,

‘n dosyn in mamma se oë.

Ja! Skoenlappers dans oor die rooi rosies.

Jy is ‘n maanskyn spikkeltjie,

jy is ‘n sonskyn spikkeltjie.

Jy is al die kleure van edelgesteentes.

Jy is ‘n afdruksel van jou mamma.

In jou mamma begin al jou drome,

ver oor die horison se some.

Daar begin al jou laggies

en sing die Engele saggies.

Spikkeltjie! So naby aan mamma se hart.

Jou hartjie is ‘n koor met haar hart.

Jou mamma is ‘n edel prinses

en jy is n koninklike prinses.

Spikkeltjie. Jou tyding lui al die klokkies.

Die Skepper juig ook in Sy Wese.

Hy blaas brose winde oor jou lewe ,

Hy kroon jou met silwer dou druppels.

Liefde seën jou sewe maal sewe.

Spikkeltjie, jou naam is in God se register

en die Engele besing jou heerlikheid.

Ja ! Daar kom ‘n tyd

dat jy die kleine dogtertjie word

die mooiste meisiekind in prag en skoonheid.

Leen my net ‘n bietjie van jou volmaaktheid

Waar ver winde met mekaar skinder

en die berge vir mekaar fluister

sal die rooi skemer koper aand

na die stap van jou voetjies luister.

MJJ van RENSBURG 27/8/ 2023