Header image briewe uit Israel

BRIEWE UIT ISRAEL

ABSTRACT: Extracts from letters received by Nongqai‘s sub-editor for intelligence, from a former South African now long settled in Israel, about the Hamas terror assault launched from Gaza in October 2023 and Israel’s resultant  counter-insurgency operations.

KEYWORDS: Israel; Hamas; Hizbollah, Gaza, Terror; Counter-insurgency; October 2023 incursion

Briewe uit Israel, soos deur Nongqai ontvang. Die briewe uit Israel is deur Henning van Aswegen, Subredakteur Intelligensie van Nongqai, vir publikasie verwerk. Sy e-pos is: subintel@nongqai.org

*Omdat een van sy drie dogters ‘n soldaat in die IDF (Israel Defence Force) is, maak Nongqai nie die naam van die skrywer bekend nie. Die skrywer is ‘n voormalige Suid-Afrikaner, wat met sy gesin in ‘n oorlogsone naby aan Israel se noordelike grens met Libanon woon.

“Die lafhartige aanval van die Hamas-terroristegroep op kibbutse net Oos van die Gazastrook, was vir ons en die meerderheid Israeli’s ‘n groot skok. Ons was eenvoudig nie voorbereid op so ‘n aanval nie; die Netanyahu-regering, die intelligensiedienste en die IDF ook nie.

Die moorde van Hamas op die burgerlike bevolkings op die kibbutse was wreedaardig en bloedstollend: jong Joodse meisies is soos diere gejag en wreedaardig verkrag, handgranate is deur huise se vensters gegooi, skoolkinders is eenvoudig met AK47’s afgemaai, ook troeteldiere. Radikale Islamiste haat honde, en elke hond wat hulle tydens die aanval teegekom het, is eerste doodgeskiet.

Hamas het meer as 200 vrouens en kinders as gryselaars geneem; dit is afgryslik. Hierdie gryserlaarsdrame is natuurlik nou elke dag die hoofnuus in al die koerante en TV stasies in Israel en die meeste Westerse lande. Mense hier vergelyk dit met die Holocaust, waar Jode soos diere gejag en ontvoer word – die hele Hamas-aanval het ‘n groot en baie negatiewe sielkundige effek op die Israeli’s se gemoedstoestand.

Ek woon al baie jare in Israel, en op ‘n vreemde manier raak mens gewoond aan die sirenes van die ‘Irondome’ (Ysterkombers) wat gereeld loei. Aan die begin het ons afgesit na ons veilige “bunkers” toe, maar later het ek nie meer omgegee nie, want 99% van Hamaz en Hezbollah se missiele word binne sekondes na lansering, afgeskiet. Hamas lanseer hierdie missiele in die dag, want dit is moeiliker om te sien. Die goed het nie elektroniese begeleidingsisteme nie; hulle land op enige plek en die doel is meer intimidasie as wat hulle regtig skade aan Israel se infrastruktuur aanrig.

Henning, jou vraag oor hoe dit vir my en my gesin voel om hier in ‘n oorlogsone te woon, te werk en veral hoe my dogters dit hanteer. Omdat ons naby aan die Libanese grens is, is ek bly dat Hezbollah besluit het om nie direk met die IDF slaags te raak nie. Israel veg hard teen Hamas in Gaza, en ‘n tweede Noordelike front hier sou dinge net moeiliker gemaak het. Dit is die eerste slim besluit wat Hezbollah in ‘n lang tyd geneem het, hoewel hier nog nou en dan ‘n rigtinglose missiel oor ons koppe vlieg. Die goed land meesal skadeloos op een of ander plaas.

Dit is senutergend vir ons om te wonder of die oorlog verder gaan uitbrei, of nie. Daar is missiele op Israel afgevuur van Yemen se kant af, maar die goed is onbeheerd en onvoorspelbaar en ek dink hulle skiet meer Jordaniërs met die goed raak as Jode.

Hier waar ons is, is ek bekommerd oor Libanon en Sirië se betrokkenheid by die konflik. Israel het onlangs met die hulp van die Amerikaners twee lughawens in Sirië vernietig, ook ‘n Hezbollah militêre opleidingsentrum in Libanon. Die IDF het ook al die Siriërs se militêre kommunikasietorings al lang die grens hier Noord van ons, in die lug opgeblaas. Iran finansier Hamas en Hezbollah, en baie van ons vriende hier sien Iran as die werklike groot vyand van Israel.

Ons word gereeld hier deur die plaaslike owerheid op “alert” geplaas, en ons backpacks staan maar die hele tyd hier in die gang gereed as ons na die bunkers toe moet vlug. Wanneer dinge ernstig raak, ontruim ons hier en dan moet ons na die bunkers toe in Tel Aviv.

Jy was al in Israel en ek weet jy begryp dit, maar baie mense besef nie dat die Jode nêrens anders het om heen te gaan nie. Ons is betrokke hier, en ons sal voortveg – die gees en motivering van die Jode om te oorleef is geweldig groot. Almal hier help mekaar. Jy het gevra vir fotos, maar ons mag dit nie stuur nie, want elke foto kan Hamas en Iran help om nuwe teikens hier in Israel te identifiseer.”