*Omdat gesinslede betrokke is, maak Nongqai nie die naam van die skrywers bekend nie. Die skrywers is voormalige Suid-Afrikaners, wat met hul gesinne in ‘n oorlogzone naby aan die grens van Libanon en Israel woon. ‘Briewe uit Israel’ is deur Henning van Aswegen, Subredakteur Intelligensie, vir Nongqai verwerk.

Israelies is meer verdeeld as wat hulle verenig is

Hamas se lafhartige 7 Oktober terroriste-aanval op kibbutse langs die Gazastrook het die Joodse bevolking onderverdeel; en daar is baie min eenstemmigheid hier oor wat om volgende te doen.
Almal hier in Israel stem saam dat Hamas vir eens en vir altyd vernietig moet word, omdat dit ‘n terroriste-organisasie is en nie ‘n politieke party nie. Hamas het net een doel voor oë, en dit is om die Jode dood te maak – dit het hulle op 7 Oktober 2023 met hul veradderlike aanval op burgerlikes in die kibbutse reggekry.
Die verdeeldheid onder die Jode is oor hoe om die gryselaarsdrama te hanteer. Die Netanyahu-regering, so lyk dit, heg meer waarde aan die vernietiging van Hamas en die oorlog wat nou in die Noorde van Gaza en in Suid-Libanon afspeel, as die ontsetting van die gryselaars self. Dit is hartseer om elke dag die nuusdekking van die gryselaarsdrama op televisie dop te hou, en hoe die gesinne, vriende en familielede ly. Baie rabbi’s hier dring aan dat die gryselaars die prioriteit moet wees, nie die oorlog nie. Hulle is elke dag op die nuusmedia en kritiseer die regering onophoudelik, en intensief. Van die Jode is daarteen gekant dat die gryselaars drupsgewys vrygelaat word, en dring aan op almal se vrylating, of niemand se vrylating nie. Dit is moeilik vir Netanyahu – hy kan nie wen nie, maak nie saak watter besluit sy regering neem nie.
Daar is ‘n vreemde teenstrydigheid hier – almal stem saam dat Hamas vernietig moet word, maar party wil eers die gryselaars bevry. Die regering sit tussen twee vure, en altwee brand diep in die bewyssyn van die Joodse volk in. Die 7 Oktober-aanval gaan nog lank in Israel ‘n besprekingspunt bly; en die argumente en debatte hieroor gaan nie ophou nie. Die Israelies is maar soos ons Suid-Afrikaners, hulle baklei en stry oor alles en veral oor die Palystynse vraagstuk. Maar hierdie terroriste-aanval en die moord op die kibbuts-inwoners is baie ernstiger as net gewone politieke argumente; dit het tot tweespalt onder die Joodse bevolking gelei.

Mense buite Israel vergeet maklik dat hierdie land ‘n demokrasie is, die enigste demokrasie in die Midde Ooste. Alles is op TV en in die media – elke dag. Daaruit is dit duidelik dat Israel deur ‘n baie moeilike tyd gaan, en dat die gewone bevolking hier erg getraumatiseerd is.
Van die Joodse gryselaars is hierdie week vrygelaat, ook Indonesiërs en burgers van ander lande. Hamas hou nog egter die hef in die hand, omdat die meeste gryselaars in aanhouding bly en in ondergrondse tonnels in Gaza aangehou word. Dit is vir ons hier duidelik dat hierdie konflik en oorlog met Hamas, nog lank nie verby is nie.
*