Nongqai Blog South African Police - so few, owed so much, yet so under-appreciated

ABSTRACT: South African Police a case of so few owed so much yet scorned; an analysis of how tiny the South African Police force in reality was by international standards, also given the vast territory they had to cover and their onerous new work-load regarding counter-insurgency and public order policing during the latter part of the Apartheid era. 

FOCUS KEYWORD: South African Police a case of so few owed so much yet scorned.

KEYWORDS: South African Police; South Africa transition; PW Botha; Truth and Reconciliation Commission South Africa.

AUTHOR: Dr Willem Steenkamp (son of former SAP-SB CO, Maj Gen Frans Steenkamp)

DIE S.A. POLISIE: MERKWAARDIGE, ONGEWAARDEERDE GIDEONSBENDE

Op 5 April 2024 het die NONGQAI BLOG ‘n artikel gedra wat baseer was op ‘n analise wat die ondersoekende joernalis John Fullerton in Oktober 1979 geskryf het. Dit het gegaan oor die “quiet coup d’état” (stille staatsgreep) wat deur sekere Weermag-generaals geloods is om die destydse Eerste Minister, adv. John Vorster, en sy regterhand, generaal “Lang Hendrik” van den Bergh, te onttroon.  Om wat hulle gesien het as die invloed van die Polisie te breek, en hulle man – die destydse Verdedigingsminister,  PW Botha – aan bewind te plaas.

U kan Fullerton se insiggewende artikel lees deur HIER TE KLIEK.

Dit sou maklik wees om nou,  met die voordeel van terug-kyk, emosioneel en veroordelend oor hierdie episode in ons nasionale veiligheidsgeskiedenis te skryf. Om mense se motiewe te bevraagteken. Die man te speel, in stede van die bal…

Dit wil ek nie doen nie. Ek glo dat so ‘n verpersoonliking afbreuk sal doen aan die baie sterk saak wat die geskiedenis self maak. Hoe die “telbord van die geskiedenis” onomstootlik bewys hoe die ommekeer in keuse van nasionale strategie wat uit daardie bewindsverandering voortgevloei het, bepalend bygedra het om ons te bring waar ons vandag is.

Vir doeleindes van hierdie artikel, aanvaar ek dus (argumentshalwe) dat elkeen wat destyds betrokke was by die “stille staatsgreep”, wel met volle integriteit gehandel het. Ooreenkomstig wat hulle eerlik op daardie moment gemeen het in die beste belang van die land en volk was.

Wat egter nie beteken dat hulle in feite reg was nie…

Wat klinies-objektief ontleed moet word – nie vir vingers wys nie, maar om te verstaan en leer – is: wat het daardie staatsgreep in werklikheid tot gevolg gehad?

In my eie bydrae tot NONGQAI se reeks “Die Manne Praat” (waarin diegene wat daar was, vertel wat hulle waargeneem het) fokus ek op die breë politieke gevolge van die strategie-verandering. Soos ek dit nou by terug-skoue takseer, as intelligensie-analis en later ambassadeur.

In hierdie artikel egter, sal die fokus veral wees op die impak op die S.A. Polisie.

‘n Enorme impak, wat die Polisie in ‘n kritieke tydvak tweede viool laat speel het, betreffende mannekrag en middele. Veroorsaak deur daardie ingrypende strategie-verandering deur PW Botha en die groep generaals na aan hom. Met as gevolg – as sneeubal-effek – die impak van die versuim om die Polisie genoegsaam te prioritiseer, op die handhawing van binnelandse stabiliteit.

Plus dan ook die gepaardgaande psigologiese swaai na “kragdadigheid” (as newe-effek van die “totale aanslag” doktrine) en die gevolge wat dit gehad het in die propaganda-oorlog.

En uit dit alles dan weer, die impak op die uiteindelike verloop van die politieke magstryd in die land.

Om die uiteindelike skikkingsonderhandelinge te laat verloop het soos wat die rekord toon, en ons daardeur te gebring het waar ons vandag is…

John Morgan Nongqai Blog Ad

CLICK ON THE AD IMAGE FOR MORE DETAIL

STRY OOR STRATEGIE: “SKIET” OF “SKIK”?

Een van die manne  wat meegewerk het aan die  nuwe NONGQAI-reeks getiteld “Die Manne Praat”, is brigadier Hennie Heymans (wat ‘n Polisie-verteenwoordiger op die Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad was, gedurende die onstuimige tagtigs). Beide brigadier Heymans en ekself wys in ons bydraes tot daardie reeks uit dat die werklike debat wat in veiligheidsgeledere gevoer was, nie gegaan het oor “verlig” of “verkramp” wees nie.

Die werklike meningsverskil oor strategie kan opgesom word met “skiet” of “skik”. Premier Vorster, gesteun deur generaal Van den Bergh van eers die S.A.P. en toe die Buro vir Staatsveiligheid, Drs Hilgard Muller en Brand Fourie van Buitelandse Sake, Drs Connie Mulder en Eschel Rhoodie van die Departement van Inligting, en senior lede van die Veiligheidstak van die S.A. Polisie soos my eie vader, Frans Steenkamp, was van mening dat by voorkeur planmatig gemik moet word na tydig skik (soos advokaat Vorster gesê het: “the alternative would be too ghastly to contemplate).

Volgens hulle siening, moes die primêre fokus dus wees strategies daarop wees om die akker ten beste voor te berei vir skikkingsonderhandelinge (wat, soos die geskiedenis sou bewys, ten regte as onvermybaar gesien is).  Alliansies bou en die konstitusionele debat probeer vorm gee. Die sosio-ekonomiese terrein verbeter. In die besef dat dit ten aller-eerste ‘n politieke stryd is,  en nie ‘n militêre een nie. Met propaganda wat ‘n deurslaggewende rol sal speel.

Van hierdie strategiese benadering, het die Vorster-groep prakties bewys gegee met die daadwerklike voorbereidings wat oor ‘n aantal jare heen onder Vorster in volle swang was vir skik in SWA/Namibië, op ‘n planmatige, deeglik-voorbereide wyse.

Suksesvol skikkingsonderhandelinge bedryf, sou afhang van sewe dinge:

  • Deeglik voorbereid ingaan in die onderhandelinge, met ‘n duidelike plan;
  • Nie geïsoleerd staan nie, maar met alliansie-vennote;
  • Met ‘n sterkmansbeeld;
  • Die binnelandse situasie stabiel;
  • Die landsekonomie sterk;
  • ‘n Kapasiteit om die propaganda-oorlog te voer, met ook ‘n effektiewe teen-propaganda vermoë; en
  • Die regte tydsberekening, om nog Suid-Afrika se strategiese belang vir die Weste as hefboom te kon gebruik teen die ANC/SWAPO wat met die USSR geassosieerd was.

Meneer PW Botha en die generaals wat hy om hom vergaar het (die groep rondom generaal Magnus Malan nie al die generaals het dieselfde uitkyk gedeel nie) was daarenteen oortuig daarvan dat skik op “appeasement” (paaiende weggee) neerkom. Volgens hulle insig, was ‘n militêre kragmeting onvermydelik. Want, in hulle oë was dit ‘n stryd oor wie se land Suid-Afrika werklik is. ‘n Stryd oor die bodem – en só ‘n tipe konflik, het hulle geglo, word net finaal met die wapen beslis. Sodat die staat en hele gemeenskap gekoördineerd alles in werking moes stel om, as absolute nasionale prioriteit, vir daardie militêre stryd voor te berei, ten einde dit te wen (en te bly wen, en aanhou bly wen, weer en weer en weer – tot in die verre verskiet in?).

Daarom het hulle die doktrine van “totale aanslag” voorgestaan, wat met ‘n “totale nasionale strategie” en met alle middele gemobiliseer, teengestaan moes word. Wat noodwendig die maksimale uitbou van die Weermag sou vereis, met die nasionale begroting en mannekrag ten aller-eerste daarop toegespits.

Die geskiedenis leer ons dat, vir meer as ‘n dekade,  meneer PW Botha en sy groep generaals daardie strategie toegepas het. Die verdedigingsbegroting het astronomies die hoogte in geskiet, sodat dit prakties al die ander departemente aan die agterspeen laat suig het. Insluitend en by uitstek die polisie. In die polisiemag is offisiere bevorder wat bereid was om in te val by hierdie doktrine – hierdie “group think” waarteen geen teenspraak geduld is nie. ‘n Uitkyk van: ons is in ‘n oorlog, ons veg vuur met vuur”. Kragdadig…

Die geskiedenis het konkreet bewys dat hierdie strategie totaal gefaal het. Dat,  toe puntjie by paaltjie gekom het, die Weermag self – sy eie lugmag en logistieke dienste uitgewys het dat ons in die laat-tagtigs nie fisies in staat was om ‘n konvensionele oorlogsplan soos die beoogde “Operasie Hilti” teen die Kubane noord van Ruacana-waterskema in Angola ten uitvoer te bring nie.  Wat skik en onttrek uit SWA/Namibië as enigste realistiese opsie gelaat het.

Hierdie realiteite behandel ek in detail in Deel 3 van my bydrae tot die reeks “Die Manne Praat” (wat eersdaags geplaas sal word). Dis genoeg om hier te sê dat, toe skikkingsonderhandelinge in Suid-Afrika self aan die begin van die negentigs duidelik nie meer een dag langer uitgestel kon word nie, omdat die regering se posisie daagliks aan die versleg was (presies wat Vorster-hulle korrek voorsien het):

  • toe was die destyds regering nie gereed met ‘n behoorlike plan reeds in die hand nie (wat PW Botha het enige gedagte aan gesprek onderdruk en gestraf gehad);
  • was die skikking-akker hoegenaamd nie voorberei nie;
  • het die regeringsparty geïsoleerd gestaan, sonder politieke geallieerdes;
  • het ons eens sterk ekonomie reeds erg gekreun;
  • was die geleentheidsvenster wat onder Vorster-hulle bestaan het om te onderhandel terwyl die Weste ons nog as noodsaaklik gesien het in hulle stryd teen die USSR, toe reeds toegeklap;
  • het ons psigologies, ons sterkmansbeeld verloor gehad in 1975 se Operasie Savannah en die 1989 onttrekking uit SWA/Namibië;
  • was die land binnelands vir ‘n dekade reeds in vlamme; en
  • het ons die propaganda-stryd reeds geheel verloor gehad.

Wat die telbord van die geskiedenis onteenseglik wys, is dat prakties niks van die duur wapentuig ontwerp vir konvensionele militêre oorlogvoering, of die kernwapens en inter-kontinentale ballistiese missiel-programme waarop soveel biljoene spandeer is gedurende daardie “verlore dekade”, enige waarde of nut gehad het in die werklik-saakmakende strydperk (die “townships”) nie.

Niks van daardie Weermag-wapentuig was geskik vir daardie stedelike arena en vir die aller-noodsaaklike bewaring van binnelandse stabiliteit nie, en nog minder het dit enigiets kon bydra in die propaganda-stryd – inteendeel…

DIE IMPAK OP DIE POLISIEMAG VAN OORDADIGE PRIORITISERING VAN DIE WEERMAG

Enigeen wat Fullerton se artikel oor die “stille staatsgreep” lees, en enigeen wat oplettend deel was van welke komponent ook al van die veiligheidsmagte gedurende die midde- en laat-sewentigs, sal weet hoe fel die inter-departementele stryd binne die veiligheids- en intelligensie-gemeenskap was.

Dis vanuit Weermag-geledere gefluister dat die Polisie moet terug na net knuppels dra… Dat die Intelligensiediens en die Veiligheidstak se intelligensie-aktiwiteite onder die sambreel van die Afdeling Militêre Inligting “koördineer” moes word (uiteindelik is hierdie vermag deur die Weermag-domineerde Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel, met sy Tak Nasionale Vertolking en die GBS’e dwarsdeur die land, waar almal aangetree is om in gelid te marsjeer, ooreenkomstig die heersende “group think”; wee die polisieman wat sy mond sou oopmaak).

Dit is die groot navorsing-waarde van ‘n reeks soos NONGQAI se “Die Manne Praat” waar senior persone nou hulle werklike opinies kan deel – dinge na vore bring, wat hulle destyds onder die bewind van meneer PW Botha nie kon sê nie. Soos die belangrike bydrae tot daardie reeks deur brigadier Fanie Bouwer, ‘n ervare en deskundige senior bevelvoerder destyds van openbare orde-polisiëring, wat geskryf het hoe ongemaklik senior polisie-offisiere soos hy was met die hele NVBS/GBS-stelsel en dié se benadering, wat net nooit “reg gevoel het nie”.

Geld, en dus die begroting, is en bly maar wat bepaal hoe mannekrag en middele toegedeel word. Die toewysing van die leeue-aandeel van die begroting aan die Weermag, het beteken dat die drasties-veranderde binnelandse situasie na 1976, geensins na behore aangespreek is in die Polisie-begroting nie. Ondanks die voor-die-hand liggende werklikheid dat die Polisie, as dun blou lyn, die primêre instansie was en sou  bly om binnelandse stabiliteit te moet verseker.

Ek weet maar te goed hoe my eie vader moes spook om uiteindelik vir die Polisiemag ‘n eie helikopter te kon kry (PW Botha se aanvanklike reaksie was dat “oor sy dooie liggaam” enige ander instansie as die Lugmag ‘n lug-vleuel sou kry).

POLISIE-MANNEKRAG:

Benewens die toerusting wat die Polisie vir hulle taak nodig gehad het en waarvoor daar nie fondse was nie (omdat prakties alles na die Weermag gegaan het), moet mens ook kyk na die krities-belangrike mannekrag-situasie.

Soos in die merendeel van die ander Britse kolonies, is daar voor verstedeliking en die ver-politisering van die nie-blanke massas in die de-kolonisering era van Uhuru, nie ‘n getal-ryke polisiemag in Suid-Afrika aangehou nie.

Enersyds was dit nie nodig nie, omrede die omstandighede in Suid-Afrika destyds gemaak het dat hoogs talentvolle en toegewyde Afrikaners wat nie die finansiële middele gehad het om universiteit  toe te kon gaan nie,  by die Mag aangesluit gehad het. Die Suid-Afrikaanse Polisie was dus gelukkig om oor ‘n aansienlik hoër kaliber van mannekrag te beskik as in meeste ander lande, wat per polisieman dan ook meer vermag het as die internasionale norm. Volgens die VN is die gemiddelde aantal polisiemanne per duisend van die bevolking, drie dienders; in Argentinië byvoorbeeld is dit 7.98/1000; in Frankryk 4.22; Italië 4.56; Griekeland 5.07; Nederland 2.95; en die Nuwe Suid-Afrika 3.5).

So, in die “Apartheid Polisie-staat”, wat was die aantal polisiemanne waaroor die S.A.P. beskik het, per duisend van die bevolking? Dis maklik om te bewys dat Suid-Afrika in feite ‘n “polisie-staat” was, sonder polisie…

Nongqai Blog donations button PayPal

Donations managed for us by our publishers, Grupo Excellentia

As ons 1970 as basis neem was die verhouding van aantal  polisiemanne per duidend van die bevolking, slegs maar 1.379/1000 (toe daar nie insurgensie of interne stabiliteit-probleme was nie, en die hoof-uitdaging vir die Veiligheidstak – danksy die suksesse onder generaal Van den Bergh – was om ‘n handjievol individuele aktiviste onder oog te hou). Die enigste ander lande op aarde met enigsins naastenby sulke lae syfers wat ek kon opspoor, is Haiti en Lesotho, en dan Finland (elk waarvan hoegenaamd nie met Suid-Afrika te vergelyk is nie).

Bo-en-behalwe die RSA+SWA se toe reeds substansiële bevolking, moet ook onthou word hoe enorm uitgestrek die stuk aarde was wat in daardie jare deur die S.A.P. polisieer moes word – toe was dit saam die 13e grootste grondgebied op aarde, groter as al die volgende Europese lande se grondgebied saam: Spanje + Portugal + Frankryk + Italië + België + Nederland + Duitsland + Luxemburg + Switserland + die Tsjeggiese Republiek!

Die landsgrense alleen wat bewaak moes word, was 6, 434km lank – 2.5 keer die afstand tussen Londen en Moskou. Die kuslyn het gesamentlik 4, 912 kilometer beslaan…

Teen 1975 het die aantal S.A.P.-lede per duisend van die bevolking nog verder gedaal gehad, na net 1.241/1000. Onder Vorster en Van den Bergh was die binnelandse situasie stabiel, die ekonomie het geblom, en misdaad was prakties onbekend. Toe kom Operasie Savannah wat Blank Suid-Afrika se sielkundige ballonnetjie van “on-uitdaagbare sterkman” in die oë van die nie-Blanke bevolking geprik het, gevolg deur die uitbreek van die Junie-1976 studente-onluste…

Desondanks, na meneer PW Botha in 1978 oorgeneem het, het die proporsie van polisie teenoor grootte van die bevolking nog verder gedaal,  as gevolg van die prioritisering van die Weermag – na net 1.126/1000 in 1980.

Dit, ondanks die dramaties-veranderde binnelandse veiligheidsituasie rondom die handhawing van interne stabiliteit, en die wesentlike nuwe teen-insurgensie uitdaging.

Soos ons weet het die situasie binnelands na 1980 snel bly versleg, met die populêre opstand onder die swart, bruin en Indiër-bevolkings teen die 1983 driekamer-grondwet (wat sonder konsultasie van bo afgedwing is – teen die uitdruklike waarskuwing van die Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad in, dat dit presies so ‘n situasie van algemene opstand in die stedelike gebiede verder sal aanvuur).

Die ontsaglik vergrote mannekrag-behoefte met betrekking tot die handhawing van binnelandse stabiliteit het ook gepaard gegaan met ‘n baie wesentlike ander nuwe behoefte, naamlik teen-insurgensie. Twee duidelik-onderskeibare, eiesoortige addisionele funksies wat die Polisiemag sou moes verrig.

Ondanks hierdie enorm-vergrote werklas (met geheel nuwe, uiters belangrike komponente soos teen-insurgensie en binnelandse stabiliteit wat bygekom het) het die Polisiemag se proporsie tot die bevolking in 1985 slegs maar teruggekeer gehad na ongeveer wat dit in 1970 was, naamlik 1.404/1000.

Om ‘n vergelykende voorbeeld te gee, met betrekking tot mannekrag enkel toegewy aan die handhawing van binnelandse orde – Frankryk het dieselfde grootte van bevolking as Suid-Afrika. Dit beskik oor twee gespesialiseerde openbare orde-magte, synde die Nasionale Polisie se CRS (sterkte – 13,000), en die Gendarmerie Mobile (12,000). Die Nasionale Polisie bedien in hoofsaak die stedelike metropole, en die Gendarmerie is die polisie in die platteland – beide val egter onder die bevel en beheer van die Franse ministerie vir die interieur, wat belas is met wet en orde. Saam, dus 25,000 man net vir onlus-beheer, in ‘n ontwikkelde land, wat ‘n kwart van die RSA + SWA/N se oppervlak beslaan (met nog 125,000 Franse polisiebeamptes wat betrek kan word om bystand te verleen met openbare orde, soos en wanneer benodig).

Die hele S.A. Polisiemag het in 1985 uit net maar 48,921 lede van alle rasse bestaan!

Die Weermag is weliswaar van tyd-tot-tyd in die “townships” ontplooi, maar sonder werklike effek – inteendeel, dit is vandag duidelik dat hierdie militarisering van die situasie daar, net die polarisasie vererger het.

My vader het aan die einde van Augustus 1984 op 55 vroeg afgetree, omdat hy homself nie verder kon of wou versoen met die PW Botha-benadering nie. As gevolg van hoe die situasie in die land egter versleg het, het hy hom geroepe gevoel om as konsultant terug te keer in 1986, om sy deel te probeer bydra. In daardie hoedanigheid het hy in Februarie 1987 ‘n belangrike memorandum voorgelê, waarin hy onomwonde die uitdagings aangespreek het. Onder andere dan die gebiedende noodsaak daarvan om die polisie se getalsterkte uit te bou.

Gegewe die opsigtelike verswakking van die veiligheidsituasie, is hierdie mannekrag-behoefte wel toe ten laaste ingesien. Wat toe daaruit voortgevloei het, was inderdaad meer polisiemanne. Ongelukkig egter (hoofsaaklik as gevolg van steeds die ras-doktrines van die tyd), nie in geïntegreerde eenhede soos die bewese suksesvolle 32-bataljon en Koevoet nie, maar wel as die sogenaamde “kits-konstabels”. Soos soveel dinge van daardie era, dus weer “too  little, too late” en, as gevolg van ideologie, ‘n maklik-onderskeibare aparte propaganda-teiken gemaak…  

MERKWAARDIGE PRESTASIES VAN DIE KLEIN “GIDEONSBENDE”

Desondanks die doelbewuste afskeep wat begroting betref, het hierdie klein Gideonsbende van toegewyde polisie-lede merkwaardige sukses behaal in die kern-belangrike take wat aan hulle opgedra is.

Nongqai Blog Blue Crane Funerals ad

Iedereen weet dat die algemene misdaad-situasie toe nog onmeetbaar beter onder beheer was (ondanks al die ander belangrike take wat toe ook dringend aandag geverg het) as vandag.

As teen-insurgente was die S.A.P.  eenhede soos Koevoet ook ongeëwenaard. ‘n Goeie voorbeeld daarvan is hoe vinnig hulle man-alleen, sonder Weermag-bystand, die SWAPO-PLAN magte se inval in SWA/Namibië op 1 April 1989, totaal hokgeslaan het. Daar is aan die hand van die vermoë wat Koevoet daardie vroeg-April van1989 met uiterste durf en deursetting demonstreer het, empiriese bewys dat – selfs al was die Weermag nooit in SWA/Namibië ontplooi nie, en is Angola nooit deur die SAW in oorgrens-operasies binnegeval nie – die Polisie alleen wel deurentyd die insurgensie daar sou kon beheer het. Dit, met bes moontlik ‘n beter politieke uitkoms (indien Vorster-hulle se planne vir ‘n skikking daar, tydig deurgevoer is). 

Die eerste noodtoestand wat meneer PW Botha afgekondig het, het hy regtens onder beheer van die Weermag geplaas. Dit het nie al te goed uitgewerk nie. Die tweede (breër) noodtoestand wat hy toe noodwendig moes afkondig, het hy toe wel korrek onder beheer van die Polisie geplaas, met merkbaar beter gevolg – alhoewel die Polisie steeds nie vir die nodige mannekrag en middele prioritiseer is nie. En alhoewel noodtoestande as sulks, uiteraard nie die werklike politieke kern van die probleem (naamlik ‘n onderhandelde toedeling van gelyke regte vir alle Suid-Afrikaners), kon of sou oplos nie. Soos Vorster korrek voorsien het, sou net ‘n skikking dit kon doen.

Dit was uiteindelik generaal Hendrik van den Bergh se skepping, die Nasionale Intelligensiediens, wat daardie fundamentele waarheid by die politieke leierskap sou tuisbring…

Die feit dat die S.A.P. genoegsame beheer kon hou oor die binnelandse veiligheidsituasie gedurende die “people’s war” in swart geledere (veral tussen 1990 – 1994) en ook regse blanke elemente in toom kon hou sodat die skikkingsonderhandelinge en oordrag van gesag deurgevoer kon word, spreek boekdele vir hulle professionalisme en toewyding – ondanks hulle skamele getalle en die uiters moeilike werksomstandighede.

Die intense propaganda van die era het die media-fokus baie sterk op bepaalde metropolitaanse gebiede laat val, waar omstandighede polities oor-verhit was. Tog is dit insiggewend om te kyk na die hele land en bevolking van daardie tyd, om dan te besef hoe suksesvol die Polisie desondanks was. Die Internasionale Rooikruis het na die 1994-oorgang juis so ‘n studie na die aard en omvang van Suid-Afrika se interne konflik onderneem.

Hier is die kern van hulle bevindinge, soos saamgevat in NONGQAI se eBoek oor die SAP-VT: The International Committee of the Red Cross (ICRC) undertook a detailed investigation, after the conflict. This important study, titled: Country Report South Africa (1999), provides significant data that helps one to better understand the nature of the conflict and its (rather limited) scope. The ICRC assembled representative focus groups of members of the public, from which reliable extrapolations could be made, reflective of the public at large.

“This ICRC study shows that only 34% of the black population had actually even taken one or other side in the conflict between the white government and the liberation movements. Furthermore, only 3% of blacks had regarded themselves as having been actively involved as actual “combatants” in what had been portrayed by the ANC as having been a popular “people’s war”. Only 33% of blacks reported living near to an area where conflict had actually occurred (with even that level only being reached during the latter, black-on-black phase of the struggle for political power)…

“The findings of the ICRC correlate well with other surveys done at the time, which for example indicated that nearly four in ten blacks in 1992 said that they placed their trust in then-president FW de Klerk.”

Ondanks die feit dat die Polisie nie beman en toegerus is soos wat internasionale norme as minimum-noodsaaklik aangedui het nie, het die “Gideonsbende” dus wel – onder die moeilikste van operasionele omstandighede en te midde van ‘n ongenaakbare propaganda-veldtog – vir die politici ‘n genoegsaam-stabiele omgewing geskep. Hoe daardie geleentheid benut is, is dus vir die rekening van die politici, nie die Polisie nie.

“As” is verbrande hout, sê die spreekwoord. Dit help natuurlik nie om te bespiegel oor wat kon gewees het, as die polisie wel tydig voorsien is van die mannekrag en middele wat hulle as eerste linie van verdediging na behore moes gekry het nie. Of as die De Klerk-regering tydig voorsien was van ‘n behoorlik-voorbereide akker vir die voer van die onderhandelinge wat so dringend-onvermybaar geword het nie, en self ook daarvoor beter toegerus was. Of – meer ideaal nog – as dit die Vorster-span was wat in hulle era al (toe die omstandighede die gunstigste was, met die sterkste kaarte in toe hulle hand) kon planmatig die onderhandelinge onderneem het ooreenkomstig die model wat hulle toe reeds in SWA/Namibia beproef het…

Al wat nou by terug-skoue kategories gesê kan word, is dat die “stille staatsgrepers” se idee om voor te berei vir “skiet” eerder as vir “skik” en toe die Weermag begroting-gewys so totaal uit balans uit te prioritiseer het, ‘n enorme strategiese mistasting was.

Ter versagting, moet egter uitgewys word dat die mode om elke uitdaging tot ‘n “oorlog” te wil verklaar en dan met die militêr te wil “oplos”,  nie van Suid-Afrikaanse oorsprong is nie. Dit kom van die VSA (waar generaal Magnus Malan opleiding ontvang het). “War on Terror”, War on Drugs”. Die fiasko in Afghanistan. Voor dit, Vietnam. Daarna, Irak.

Sonder om klaarblyklik die noodwendige gevolge te verstaan wanneer ‘n regering kies om groepe (soos die Taliban) wat geweld gebruik vir politieke oogmerke nie te behandel as die kriminele wat hulle is nie, maar in effek te verklaar tot krygs-opponente (dus “soldate” vir hulle saak) deur die situasie as ‘n “oorlog” te tipeer wat militêr opgelos moet word.  Hulle is misdadigers wat deur ‘n polisiemag hokgeslaan moet word.

Deur die militêr onder basuin-geskal in te stuur onder die titel van oorlog, word daardie geweldenaars verhef tot die statuur van waardige opponente. Vegtend vir hulle mense of saak. Veral ook dan as die weermag wat ingaan (soos die Amerikaners in die Midde-Ooste, of ons eie Weermag destyds in Owamboland) boonop bestaan uit troepe en eenhede wat sigbaar nie inheems is aan die streek nie, en dan deur die opponent as invallers of okkupeerders voorgehou kan word.

In ‘n konflik van daardie aard is die sielkundige, die politieke, altyd van opper-belang. Die Amerikaners het genoeg bewys dat mens die veldslae kan wen, maar dan tog die politieke “oorlog” loshande kan verloor.

Dus, moenie die ander kant verhef (deurdat jy jou militêr instuur), tot die statuur van soldate wat veg vir “hulle mense”, teen ‘n vreemde besetter nie. Die militêre vuis (in terme van swaar wapentuig) is in meeste gevalle glad nie eens nodig nie – wat benodig word, is die tipiese polisie-kundigheid van met ondersoek-vaardigheid die insurgent of aktivis te kan identifiseer waar dié tussen die plaaslike gemeenskap probeer skuil en tipies hulle intimideer of terroriseer met geweld as hulle propaganda-werktuig.  

Bekamping van hierdie vorm van politieke misdaad  is ‘n taak wat ten beste verrig kan word met klein, mobiele, ratse POLISIE-eenhede onder leiding van offisiere met ervaring van misdaad-ondersoek, en – baie belangrik – in hoofsaak saamgestel uit die plaaslike bevolking self. Met dus ‘n “ligte voetspoor” en handelende te midde van en in oorleg met die plaaslike gemeenskap, nie “teen” hulle nie. Altyd oor die boeg daarvan dat die veiligheidsmag – as synde polisie, wat misdaad bekamp – optree om daardie bevolking te beskerm teen die kriminele gebruik van geweld deur ‘n onverteenwoordigende minderheid van radikale aktiviste. Iets wat meeste mense verstaan en verwelkom.

‘n Benadering wat ook die “kollaterale skade” wat prakties altyd geassosieer is met die gebruik van konvensionele militêre wapentuig, beperk.

Wat verklaar hoekom ‘n etnies-gemengde eenheid soos Koevoet, gelei deur ervare polisiemanne en bestaande 90% uit lede gewerf vanuit die plaaslike bevolking, so besonder suksesvol was.

Dat die militêr-gefokusde strategie van die PW Botha-era nie gelei het tot ‘n nasionale ramp nie, is in groot mate te danke aan die durf, toewyding en kundigheid van Suid-Afrika se klein Gideonsbende van beroeps-polisiemanne van daardie era…

WATTER DANK KRY DIE GIDEONSBENDE VIR HULLE SLEUTELROL IN DIE OORGANG?

Een van die jammerste gevolge van die “verlore dekade” onder meneer PW Botha van bedenklike strategie-keuses en inter-departementele manipulasies, is dat die polisiemag van ouds vandag prakties alleen moet pa staan vir al die sondes, vermeend en werklik, van Apartheid. Hoe het dit gekom?

Deel van die skuld lê by die manier waarop die polisie se ware etos van dien en beskerm, probeer omvorm is na een van aangemoedigde “kragdadigheid”, van ons sal “vuur met vuur” beveg, van “ons is in ‘n oorlog”, alles sielkundig as deel van die Totale Aanslag-doktrine.

Ook deur persone in bevel te geplaas het wat (al mag hulle goeie mense gewees het, goeie Broederbonders) bereid was om ja en amen te sê op wat Dr Niël Barnard tereg genoem het die “koorsdrome” van meneer PW Botha se sekurokrate. Bevelvoerders wat kennelik nie die werklike aard van die stryd na behore verstaan het nie. Daar was andere ook, miskien slimmer  (of dalk slinkser?) wat bereid was om ja en amen te sê, ter wille van hulle eie vordering.

DIE EFFEK VAN “TOTALE AANSLAG” BREINSPOELING OP STYL VAN POLISIE-OPTREDE

As mens na die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) se statistiek kyk, dan val dit jou op hoe die insidente van wetlik-ongeoorloofde optrede waarvoor polisie-lede om amnestie gevra het, vanaf veral 1985 die hoogte ingeskiet het. Hier is ‘n tabel van in watter jare sulke insidente (waarvoor toe later by die WVK om amnestie aansoek gedoen is) voorgekom het:

1960-1969 = 0

1970-1979 = 29

1980-1984 = 86

1985-1989 = 274

My vader (wat soos gesê op 31 Augustus 1984 op 55-jarige ouderdom vroeë pensioen geneem het omrede hy nie met meneer PW Botha se benadering eens was nie), het geglo dat die stryd met die kop gevoer moes word, vanaf die morele hoë grond. Altyd binne die raamwerk van die wet, en ter wille van die wet. En met begrip vir die werklike aard daarvan – as synde polities, nie militêr nie. Met die “armed struggle” in wese “gewapende propaganda” – dus, ‘n doelbewuste slagyster gestel vir die veiligheidsmagte, waaromheen intelligent getrap moet word.

Frans Steenkamp was die laaste van die “ou garde” in ‘n posisie soos hoof van die Veiligheidstak. Na my wete was hy ook onder die laastes van die depressie-kinders wat senior polisie-offisiere geword het terwyl hulle geglo het daarin om nie lid te wees van enige geheime organisasie soos die Broederbond nie.  Wat die gevaar van “group think” besef het en bereid was “to speak truth to power” (die destydse polisie-minister, Louis la Grange, het by ‘n afskeidsgeselligheid vir hom met smaak aan die gehoor vertel dat hierdie die enigste generaal is wat ooit vir hom in ‘n vergadering gesê het: “Minister, nou praat jy sommer k@k”.

Hy was trots Afrikaner, maar nie ‘n “Super Afrikaner” nie (soos Vorster minagtend na daardie groep verwys het wat gemeen het hulle weet beter – en is beter – as die res van ons).

Dit is opmerklik hoedat die getal insidente van wetlik-ongeoorloofde optredes waarvoor veral veiligheidstak-lede om amnestie aansoek gedoen het, toegeneem het vanaf die bewindsaanvaarding van meneer PW Botha (toe die kragdadige “ons is in ‘n oorlog” sindroom begin inskop het).

Veral dan, hoe dit vanaf 1985 die hoogte in geskiet het, onder nuwe leiding, soos wat die Armageddon-denke van bo af toegelaat is om die ou etos van wetmatigheid te verdring. “Oorlog is oorlog, en alles is geregverdig” het onder vele die benadering geword.  Die “ware vegters” wou uitstaan met hulle “kragdadigheid”… Wat toe soveel politieke skade, ook aan die beeld van die Polisie en die Veiligheidstak in die besonder, sou veroorsaak…

Dit sê ek, wel wetende onder welke enorme sielkundige druk en stres daardie Gideonsbende van gans te min polisiemanne gedurende daardie beproewende jare moes werk – ‘n sielkundige lyding wat ook aangeteken moet word as een van die nagevolge van daardie verkeerde strategiese prioritisering, wat basies die menslik-onmoontlike van die Gideonsbende verwag het…

Mens besef ook die rol gespeel deur die breinspoeling rondom “totale aanslag”, wat uiteraard by baie lede inslag gevind gehad het…

VRAE RONDOM DIE MANIER WAAROP DIE WVK DEUR DIE POLISIE BENADER IS...

Waarskynlik die ergste skade aan die beeld van die Veiligheidstak het gespruit uit die getuienis wat uit die monde van lede self voor die WVK gelewer is, ten aanskoue van die media se kameras. Vandag kan mens maar net vrae vra, oor hoekom dit so is dat die Polisie die enigste instansie was wat so rondborstig gaan bieg het – selfs aangeprys deur die WVK vir dié volmondige samewerking, maar teen watter prys? Met watter wins – indien enige?

Anders as die aanvoerders van ander komponente van die veiligheidsmagte (wat met hulle ondergeskiktes ‘n mafia-tipe pakt van stilte gesluit het), was daar ‘n groep van sekere voormalige polisie-generaals wat dit goed geag het om die lede in die range doelbewus te gaan voorlig en oortuig het om aansoek te doen vir amnestie en om dus voor die kommissie te gaan getuig.

Ek het self gesien hoe hewig hierdie kampanje om die lede só te oortuig, my vader ontstel het. Hy het ten sterkste daarteen gewaarsku, en volstrek geweier om hom by daardie generaals te skaar. Hy het self geweier om aansoek te doen om amnestie, ten eerste omdat sy standpunt was dat hy niks gedoen het wat hy nie volledig kan regverdig binne die wet nie, en tweedens omdat hy voorsien het wat die kumulatiewe effek van soveel angstige ontboesemings gaan wees op die beeld van die Tak en die Polisie – veral as die ander instansies bloot net wegbly en die Polisie dan alleen daar gelaat word om in die kollig te wriemel.

Frans Steenkamp was die enigste voormalige hoof van die Veiligheidstak wat nooit gedaag is om voor die WVK te verskyn nie.

Dit is nie gepas om beskuldigings te maak, of motiewe toe te dig nie. Dit is egter wel gepas om die feite onder oë te neem, die gevolge te erken, en vrae te identifiseer vir verdere ondersoek deur historici.

Feit nommer een, is dat minder as een uit elke agt uit die 7,112 aansoeke om amnestie, wel toegestaan is. Hoeveel van die range-lede het dus wel werklik gebaat by hulle gepoogde samewerking? Of het dit alles net gedien om andere se situasie te vergemaklik?

Tweedens, is dit kennelik só dat die Polisie al die ander “verdagtes” van die hoek af gekry het, deurdat diegene (van links) wat bloed gesoek het, dit wel in ruim genoeg maat gegee is. Dis nou minstens vir daardie moment – vandag is dit natuurlik polities dienstig om weer te begin krap…

Met die Polisie wat die beskuldigdebank self gaan loop volstaan het, kon politici en die ander dienste soos die Weermag se groot geeste stilweg in die agtergrond in verdwyn – daar was mos nou ‘n (self-aangebode) sondebok om almal se skuld te dra…

Derdens, met dat die gewone range prakties al die kommissie se tyd en die media se aandag in beslag geneem het met hulle detail-ontboesemings, is die fokus verdun en weggeskuif van wat andersins verwag sou kon word – naamlik, dat op die generaals gekonsentreer sou gewees het. Verseker sou die fokus (soos in Neurenberg) op die topstruktuur gewees het, as die range nie kom aantree het om die podium vir die meeste van die tyd te beset nie… Is die gewone range dalk aangepor met die doel om die stelsel te oorstroom?

Uiteindelik is niemand wat van bo bevele uitgereik of die “totale” strategie bepaal het – nie politieke leiers, nie die  militêre topstruktuur, nie die polisie se eie latere leierskap wat die toon gedurende die laaste jare van die “totale aanslag” bepaal het – aanspreeklik gehou nie.

Wat het die Suid-Afrikaanse bevolking in die algemeen gedink van die WVK-ervaring? Hier is ‘n aanhaling uit ons NONGQAI eBoek oor die SAP-VT: “The SA Press Association reported in January 1998 that: “Almost two thirds of urban South Africans believe the Truth and Reconciliation Commission hearings into gross human rights abuses during the apartheid era has worsened race relations, according to a survey conducted on behalf of Business Day newspaper. The survey, conducted by AC-Nielsen.MRA (Market Research Africa), was conducted among 2500 people from all income and race groups.”

Die hele destydse Polisiemag egter, en veral die Veiligheidstak, is waarskynlik vir ewig en altyd kontamineer deur die magdom eie getuienis net maar op hulle oortredings gefokus, sonder enige balans rondom die goeie wat daardie merkwaardige Gideonsbende ook vermag het.

Soos om te verhoed het dat Suid-Afrika deur rewolusie in ‘n marxistiese “volksrepubliek” omskep is…

Tog sou mens vandag Churchil se gevleuelde  woorde na die “Battle of Britain” kan parafraseer met: “the South African Police a case of so few owed so much yet scorned.”

Die ergste nalatenskap van die “verlore dekade”  is die gevolge wat dit gehad het vir die uiteindelike skikkingsonderhandelinge. Te laat is dit aangepak, met die beste geleentheid toe reeds lank verspeel. Die Afrikaner-politici geïsoleerd. Die staat sigbaar verswak, met die akker nie tydig voorberei nie. Sonder om meer werklike troefkaarte in die hand te hê.

Vandag is John Vorster prakties uit ons geskiedenis uitgeskryf. Soos enige mens, enige leier, het hy sy swakhede gehad – immer versoenend, vergewend, altyd akkommoderend, ter wille van Afrikaner-eenheid bewaar. Waarvoor hy beloon is met ‘n dolk in die rug…

Dat hy egter besef het hoe strategiese belangrik sy Gideonsbende van polisiemanne was met wie hy altyd so sterk persoonlik identifiseer het vanaf sy jare as Minister van Polisie, is onbetwisbaar. So ook, die noodsaak om as eerste nasionale prioriteit,  binnelandse stabiliteit verseker te hê, ook as voorvereiste vir sinvol te kan onderhandel (eerder as om jou geld en geloofwaardigheid op buitelandse militêre avonture te blaas). Dat hy die aard van die uitdaging waarvoor sy land en mense gestaan het, vroeg al verstaan het, is dus duidelik.

Die telbord van die geskiedenis wys onomwonde: Oor “skik” of “skiet” was Vorster reg, en PW Botha en sy groepie generaals was tragies verkeerd. Botha se uiteindelike bankrotskap aan strategiese denke het uiteindelik waarskynlik die beste geblyk uit sy stelling teenoor sy intelligensie-hoof, dr Niël Barnard, soos gemaak in die middel-tagtigs in sy kantoor in Tuynhuis – dat dit vir hom wat Botha is, lyk asof ons enigste oorblywende opsie is om dan maar “hardegat onder te gaan”.

Ongelukkig is dit nou ten ene male só: “as” is en bly verbrande hout… Om nou te wil tob oor wat kon gebeur het – asof mens nou terugwerkend iets aan die  verlede sou kon verander – is totaal sinneloos.

Maar dit baat tog om die lesse uit die verlede te leer, vir die toekoms. Dat nasionale belange die beste gedien word deur ‘n oop, realistiese kop, en nie deur “kragdadige” koorsdrome, deur onrealistiese wensdenkery nie.

Beleid moet gelei word deur moraliteit, met die oog op intelligent veg vanaf en vir die behoud van die hoë grond. Om nie net die veldslae te wen nie,  maar veel-al die politieke stryd.

MEV TIENIE VORSTER SE WAARDERING TEENOOR DIE POLISIE

Ter afsluiting: hieronder is ‘n dankie-sê briefie wat mev Tienie Vorster aan my pa gestuur het as SAP-VT bevelvoerder, na oud-president John Vorster se afsterwe (my pa het namens die Tak se lede met haar simpatie betuig gehad):

Nongqai Blog Tienie Vorster dankie-brief

In die reeks “Die Manne Praat”, in my bydrae se komende Deel Drie, word verder uitgebrei oor hoe ons deur eie doen en late in die tagtigs beland het waar ons vandag is. Dele een en twee is reeds op die blog beskikbaar, met hierdie skakels:

https://nongqai.org/nongqai-series-the-men-speak-dr-willem-steenkamp/

https://nongqai.org/nongqai-series-the-men-speak-dr-willem-steenkamp-part-2/

Deel Drie sal eersdaags geplaas word.

U mag ook belang stel in die eBoek wat brigadier Heymans en ek saamgestel het oor die Veiligheidstak. U kan dit aflaai met HIERDIE SKAKEL, of dit volg op die NONGQAI BLOG waar dit tans as reeks per hoofstuk geplaas word.

 

Nongqai Blog cruiser ad eDELE

KLIEK OP ADVERTENSIE vir meer inligting