Briewe uit Israel

Briewe uit Israel : Hamas en die gyselaarsdrama : Deel 3

Abstract
The international community has sympathised with Gaza rather than with the Jewish victims and warriors of Hamas, and that schools have reopened and warning sirens are getting less and less. The Secretary-General of the UN Antonio Gurreres is criticized for saying nothing of the October 7, 2023 attack and the victims, but only issuing press releases about Gaza. The UN also does not want to engage in the negotiations to free the Jewish victims, as they know that the victims will tell terrible stories of Hamas’ killings and rape to the world. The circle of friends in the small town and farming community speak with contempt of the United Nations and the Red Cross.
 Keywords
Israel, Hamas, United Nations, Red Cross, hostages
Author: Henning van Aswegen

Dit is asof daar ‘n dodelike stilte oor Israel neergesak het. In die Noorde waar ons naby Libanon woon, keer mense al hoe meer na hul daaglikse roetine terug, en dit is asof Hamas se lafaardige aanval op die kibbutse langs die Gazastrook nou slegs ‘n herinnering is. Omdat, so lyk dit van hier af, die internasionale stategemeenskap liewers simpatie met Gaza betoon as met die Joodse slagoffers en gryselaars van Hamas.

Skole het heropen en die waarskuwings-sirenes word al hoe minder. Ons as gesin hoef ook nie meer af te jaag na Tel Aviv toe om in die bomskuilings te gaan wegkruip nie. Ons lewens het op ‘n vreemde manier na ‘n soort normaal teruggekeer en ons dink elke dag minder aan die konflik wat om ons plaasvind.

Soos wat ons in Suid-Afrika gesien het, het die wêreld stategemeenskap en die Verenigde Nasies maar ‘n baie kort geheue. Hulle vergeet gou van die 130 gryselaars wat steeds deur Hamas in haglike omstandighede in Gaza se ondergrondse tonnels aangehou word, maar skreeu ten hemele dat almal vir die Palestyne kos en water moet aanry.

Die Sekretaris-generaal van die VN Antonio Gurreres, word daagliks hier in die Israeli-media gekritiseer, omdat hy niks van die aanval op 7 Oktober 2023 en die gryselaars sê nie, maar net persverklarings oor Gaza uitreik. Dit is wat hy en die VN nie sê nie, wat die Jode hier so kwaad maak. Die VN speel ook geen rol in die konflikbeslegting nie, en doen niks in die onderhandelingsproses om die gryselaars te bevry nie. Soos wat ek in Suid-Afrika gesien het, bly die VN maar ‘n nuttelose organisasie.

Die Rooi Kruis se onderrok hang ook uit; hulle help vir Hamas en die mense wat in Gaza woon, maar help glad nie die Joodse slagoffers van die Hamas-aanval op 7 Oktober nie. In die Israeliese media word die Rooi Kruis en die Verenigde Nasies met dieselfde agterdogtigheid en afkeur bejeën. Die VN wil ook nie betrokke raak by die onderhandelinge om die Joodse gryselaars te bevry nie, want hulle weet dat die gryselaars gaan verskriklike stories van Hamas se moorde en verkragting aan die hele wêreld vertel. Die vriendekring waarin ons hier in ons klein dorpie en boerderygemeenskap beweeg, praat met minagting van die Verenigde Nasies en die Rooi Kruis.

Daar is die afgelope paar dae weer sprake van gryselaars wat bevry gaan word, maar ek is nie baie hoopvol dat al 130 van die oorblywende gryselaars lewendig uit die Hamastonnels bevry gaan word nie. Ek verwag dat hierdie hele konflik tussen Hamas en Israel nog lank gaan voortduur: jare en nie maande nie.