Nongqai Magazine special series men speak cover Brig Fanie Bouwer

ABSTRACT: Personal experiences, anecdotes, insights and comments from the pen of Brig (Ret) Fanie Bouwer, who served in the uniformed component of the erstwhile South African Police during the turbulent years of internal political strife prior to and during the country’s transition from Apartheid to a non-racial democracy, as well as in the years of adaptation following there-after. He particularly addresses the question of coercive versus innovative police action.

KEYWORDS: South African Police; Apartheid; transition to democracy; Nelson Mandela, coercive versus innovative policing; National Security Management System; Public Order policing

AUTHOR: Brig S.J. (Fanie) Bouwer, SA Police – Ret.

VERDUIDELIKENDE NOTA VAN REDAKSIE:

Brig Fanie Bouwer se toestemming is gevra om sy aanvanklike herinneringe en insigte, soos wat hy dit in 2003 neergepen het vir sy familie, saam te mag publiseer met die korter opdatering wat hy hierdie jaar vir ons geskryf het. Vir Nongqai lê die historiese waarde van dit só doen (as dele 1 & 2 van hierdie spesiale artikel) daarin dat dit baie goed weerspieël hoe mens se insigte oor tyd verander, veral as die omstandighede oor daardie periode wesentlik verander het – soos wat die Nuwe SA van presidente Ramaphosa en Zuma bepaald anders beleef word as dié destyds van presidente Mandela en Mbeki.

VAN APARTHEID TOT DEMOKRASIE

ERVARINGE, ANEKDOTES, INDRUKKE & KOMMENTAAR

DEEL 1 (geskryf in 2003)

Ek het ‘n goeie idee waaroor ek wil skryf. Wat ek nie weet nie, is wie dit uiteindelik moet lees. Of behoort te lees. En indien ek sou weet, waarom sou ek wou hê hulle moet dit lees? Dit sal egter nie vir openbare kennisname wees nie.

Waarom sal enigiemand dit interessant vind? Ek sal dié vraag later vir myself moet uitmaak.

Dalk pen ek dit net vir myself neer. So sonder dat ander dit te siene kry. Dalk bêre ek dit vir die kleinkinders. Wie weet?

Ek wil sommer net oor so ‘n paar dinge (grepe) uit my verlede skryf. Daar van my kinderjare af op die plaas; as skoolkind en as polisieman, wat baie jare later die oorgang na die nuwe demokratiese bestel beleef en ervaar het.

Met ander woorde, ook so iets uit die binnekring van die apartheidstaat en spesifiek die Polisie.

Hierdie storie gaan dus nie soseer net oor my self gaan nie, maar sal ook ‘n vertelling (narratief) en kommentaar wees van dinge oor en vanuit die apartheidsera, tot so 9 jaar ná die aanvang van die sogenaamde demokratiese bestel in 1994 – alhoewel ekself uiteraard heelwat hierin sal figureer.

Ek wil ook enkele insidente noem; my politieke emansipasie beskryf; ‘n paar anekdotes oorvertel en ook kortliks kommentaar lewer oor sekere dinge en sommer die politiek ook. Met die voordeel van so ‘n bietjie agterna-kennis natuurlik. Maar niks meer nie.

Party dinge mag dalk omstrede klink, ander weer nie.  Partykeer objektief dalk, ander kere dalk so ‘n bietjie subjektief. Dit is maar hoe ek voel en sake sien.  Ander dinge sal net koue, harde feite wees. As ek dalk iewers op iemand se tone trap, moet jy weet dit is aspris.

Ek beoog om geen onnodige, fynere detail te gee nie. Dit sal nou waaragtig vervelig wees. Dit sal nie naastenby ‘n outobiografie wees nie. Nee, o hene, dit word gedoen deur ouens soos Jan Smuts, Nelson Mandela, FW De Klerk, Winston Churchill, Christa Vorster en daardie soort snare. Met ander woorde, daardie ouens wat ‘n buitengewoon interessante lewensgeskiedenis het.

Onthou: Ek was maar net ‘n plaasseun, wat later maar net nog ‘n polisieman geword het.

Ek het geen besondere Damaskus-ervarings in my lewe gehad nie, maar so geleidelik meer ingelig geraak en my eie opinies oor alles en nog wat begin vorm.

Dit was ‘n tyd in my kinderlewe waarin ek sekere dinge as vanselfsprekend aanvaar het; maar later tot nuwe, verbasende ontdekkings gekom het en dit partykeer kopskuddend in herinnering roep.

En ook waar ek later as’t ware meegesleur word deur die veranderinge en onsekerhede wat onkeerbaar op politieke en staatkundige terrein in die land plaasgevind het.

Het jy al gewonder of die swaard dalk magtiger is as die pen? Of is die pen inderdaad magtiger as die swaard? Dit sal twee interessante onderwerpe wees vir ‘n debatsvereniging. Maar, besluit self. Ek sê egter: pasop vir die pen! Ek het respek vir hom. Dit kan soms giftig wees!

Nou ja, hier gaat ons…

KINDERJARE: Ek is gebore kort nadat die Nasionale Party aan bewind gekom het. Om presies te wees: 13 Oktober 1949 op Maclear. Gedoop Stefanus Jesaja Bouwer, my oupa se volle name aan ma se kant. Dit was mos die gebruik daardie tyd. Partykeer is kinders ook name gegee van mense van wie die pa’s en ma’s gedink het die kind kan dalk ryk erf. Oupa was ongelukkig nie te wel-af nie!

Ek het my eerste treë gegee op die plaas Mnyolo Heights in die Ugie omgewing in die distrik van Maclear in die Noord-Oos Kaap reg teen die grens van die Transkei, die derde oudste van sewe kinders – 4 broers en 3 susters.

Ek, en Christa Vorster, my klasmaat en matriekafskeid partner, het ons verjaarsdag altyd op die 14de Oktober gevier tot en met matriek. Toe ek by die Polisie wil aansluit en my geboortesertifikaat moet bekom, toe staan dit in die geboorteregister op Maclear dat ek eintlik op die 13 de Oktober gebore is, en is my geboortesertifikaat toe met laasgenoemde datum uitgereik. Maar, wat is ‘n dag nou tussen vriende?

Maar dit was nie al nie! Ek het tot einde matriek ook bekend gestaan as Stephanus Jesaja Bouwer (met ‘n ‘ph” in die eerste naam), terwyl daar in die geboorteregister Stefanus Jesaja Bouwer gestaan het. Sedertdien gebruik ek laasgenoemde saam met die nuwe geboortedatum.

 Jy kan maar sê ek is toe met ‘n nuwe splinternuwe identiteit die wye, grootmens wêreld in!

Ek dink met heelwat nostalgie terug aan die plaaslewe van destyds. Ek dink aan die landerye, die veld en die “black wattle” bome. En natuurlik die vee op die plaas: die beeste, skape, perde, donkies, varke en die hoenders. En ek en my Gecado-27 windbuks wat my oneindig plesier verskaf het. Daar was geen sorge nie.

Dit was die dae van vuurhoutjies, paraffienlampe en kerse; slop-emmers en pispotte (die ‘uil’); plaas-telefoonlyne, en toe ‘hoekstene gelê’ is (deesdae ‘n ‘gedenkplaat’) tydens die amptelike opening van nuwe staatsgeboue. Ook die dae van die liedjies “Beautiful, Beautiful Brown Eyes”, “Rock around the Clock” en “Ou Ryperd”. Dit was ook die tye van die long-drops (kleinhuisie, of daardie oulike benaming: ‘gemakshuisie’!) en stukke van Die Landstem koerant (en ‘n bietjie drukkers-ink!) as afvee papier! Die bekende skryfster en digteres, Antjie Krog, het jare gelede as volg oor hierdie goeters gedig:

 Fok,
ek hoop en kan vanaand
agter ‘n bos gaan kak!
Ek is gatvol vir die vuilerige kakhuis
Waarin ek soos ‘n rugbystut
in ‘n skrum
moet beur
die arme Miss Veljeur…

Ons het ons skool loopbane begin op ‘n plaasskool met 10 leerlinge op die plaas Glen Thompson van oom Alec Schutte so ongeveer 4 kilometer van ons huis onder die wakende oog van ou tannie Frieda Pelser. Ná standerd 2 is ons na die Hoërskool op Ugie. En in die koshuis gebly. Ons het gelukkig naweke terug gegaan plaas toe.

Terloops, Ugie het die grootste weeshuis; of kinderoord soos dit later genoem is (die MTR Smit Inrigting), in die land gehad. Die weeshuis was gestig deur Ds MTR Smit ná die uitbreek van een of ander griep-epidemie (Die “Groot Griep” of “Spaanse Griep”, wat geleerdes deesdae dink dalk inderdaad hoendergriep kon gewees het) vroeg in die 20ste eeu (1918) nadat talle ouers daarvan gesterf het. 2.6 Miljoen mense het dit onder lede gehad in Suid-Afrika en sowat 300 000 mense het  in SA daarvan gesterf. Hierdie griep het destyds net so vinnig en onverklaarbaar verdwyn as wat dit toegeslaan het.

Die bekende Ds Solly Osrovech – ‘n Joodse weeskind – was as kind ook ‘n inwoner van die weeshuis op Ugie gewees. En in sy latere jare het hy ook as NG Kerk predikant die hoof van hierdie inrigting geword. Hy het toe nog skrumskakel vir die dorp se rugbyspan gespeel. Toe ek baie jare later op Robertson gestasioneer was (1977-1981), was hy een van die predikante van die NG Kerk daar.

Ek en my broer Theo, wat so 2 jaar ouer as ek was, het ‘n fees van ‘n lewe op die plaas gehad. Dit was regtig ‘n vry lewe en ons kon onsself ten volle uitleef.

Ons kennisse was natuurlik die jong swart seuns op die plaas en van ongeveer dieselfde ouderdom as ons. Dáárom was dit doodnatuurlik dat ons almal vlot Xhosa gepraat het. En nogal met ‘n perfekte Xhosa aksent daarby.

So tussen hakies: die Xhosa taal het nie altyd woorde vir alles nie. Hulle leen as’t ware baie uit Afrikaans en Engels en gebruik tot vandag baie leenwoorde (amper gelykluidend), soos istoelo vir ‘n stoel: ikamile vir ‘n kamer ensovoorts.

In elk geval, ons was maar ‘n regte boerefamilie. Politiek was nie veel van ‘n onderwerp in die huis nie. Ek kan so vaagweg onthou dat my pa eendag gesê het dat ‘n sekere Dr Verwoerd as Eerste Minister verkies is. Ek het nie van Dr Verwoerd geweet nie en het dit vir my natuurlik niks beteken of saak gemaak nie.

Ons het ook daar op die plase nie veel koerant gelees nie. Ek kan wel onthou dat my pa saans die sewe-uur nuus op die radio geluister het. Maar ek het hoegenaamd geen belangstelling daarin gehad nie.

Van aktuele sake van die dag, het ek as jong kind dus niks van geweet nie.  En van die politiek van die tyd, nog minder. Om die waarheid te sê, ek het nie geweet wat politiek beteken nie. Ons was ‘n geslag kinders wat sonder TV groot geword het en was nie so ingelig soos vandag se jong klomp nie. Seker hoekom ek die afgelope jare nie minder as 2 koerante per dag lees nie, 1 engelse een en 1 Afrikaanse een.

Selfs ons vorige Staatspresident, Nelson Mandela, se lewenslange tronkstraf in 1964 het ek net iets eendag daarvan so vlugtig oor die radio gehoor. En ook Dr Percy Yutar se toespraak tydens die aanvang van die verhoor.

Ek het al hierdie mense nie geken nie en het dit derhalwe geen indruk op my gemaak nie. En nog minder waarvoor hulle gestaan het en wat hulle gemotiveer het om dit te doen waarvan hulle beskuldig was.

Ons swartetjies op die plaas het natuurlik glad nie skool toe gegaan nie. Ons het dit nooit bevraagteken nie. Ons het maar aanvaar dat dit so bestem was. Dit was vir my ‘n doodnatuurlike situasie.

Ons het gedink dat ons die swart mense ken. Ek het dan immers saam met hulle groot geword en hulle taal vlot gepraat. En gesien hoe hulle leef, dans en eet. Dalk wou ons maar net nie.

Ek het ook hulle gebruike en tradisies geken. Ek het byvoorbeeld ook hulle musiekinstrumente soos die “umHrube” (die “r” word soos ‘n “g” uitgespreek) en die “isitolotolo” bespeel. Die Engelssprekendes verwys na die  “umHrube” as die “traditional Xhosa bow

Vir die oningeligte sal die “umHrube” soos ‘n kleinerige pyl en boog lyk. Die “sitolotolo” was so ‘n klein metaal instrument wat jy in jou een hand vasgehou en teen jou tande gedruk het. Jy het dan met jou duim van jou ander hand die klein reghoekige staalsnaar getokkel.

Ek kan nog enkele Xhosa-liedjies sing wat ek as jong kind aangeleer het. Ek het in my latere lewe so af en toe in die geselskap van swartes, wanneer ‘n gemoedelike situasie hom daaraan ontleen het, tot hulle groot vermaak een of twee van die liedjies gesing.

Ek het selfs die Abakhweta inisiasie (besnydenis) seremonies bygewoon, met ander woorde wanneer hulle “bos toe gaan”. Dit word gedoen enige tyd bo die ouderdom van 16 jaar.

Ek het byvoorbeeld bygestaan en gesien hoe die “snydokter” (“Ingcibi”) tydens ‘n besnydenis met een vinnige beweging die voorhuid verwyder en dan, wat ons genoem het, geneesbol, blitsvinnig om die wond draai. Nooit het ek gehoor dat enige van die ouens se wond ontsteek het nie. Dit gebeur deesdae baie. Ek wonder hoe die ouens intussen die kluts kwyt geraak het?

Wanneer die ouer swart seuns op die plaas geïnisieer is, en hulle in die gras makhweta hutte (“Iboma-labakhweta”), wat spesiaal vir dié doel opgerig word, gewoon het vir die voorgeskrewe tydperk, het ons daar gaan inloer. Geen vrouens is daar toegelaat nie. Die voorhuid is binne die makweta grashout begrawe.

Wanneer die tydperk van ‘n paar weke verby was, is die gras hutte afgebrand en moes hulle na die rivier gaan om die wit klei verf af te was. Ek het dit alles gade geslaan. Hulle het dan kakie klere gekry en was dan as jong volwasse mans in die gemeenskap aanvaar. Dit is vir hulle so belangrik as ons 21-ste verjaarsdagvieringe.

 In weerwil van die apartheidsbeleid wat gegeld het, was die verhoudinge tussen die wit- en swart mense van daardie wêreld, destyds baie goed.

 Die Xhosas van die Oos-Kaap is ‘n Nguni groep, en is ‘n vroeëre mengsel van groeperinge soos die Mpondo; Thembu; Hlibi; Mfengu; Bomvana, Mpondomise, Xesibe, met ook ‘n mengsel van die destydse Khoi groepe. Geskiedskrywers beweer dat die kliek-klanke soos “Xhosa” byvoorbeeld inderdaad ‘n Khoi woord is, wat eers “Kosa” in die Xhosas se aanvanklike uitspraak was. En so ook ander. Is daardie Xhosas wat so gelerig van kleur is, nie dalk die gevolg van ondertrouery met die Khoi nie?

Ek kan onthou dat my pa nooit toegelaat het dat ons met die volwasse swart mense op die plaas ongeskik raak, beledig of te ná kom nie. Hy het hulle ook met respek behandel. Ek het die gevoel gehad dat ons swart plaasmense baie lojaal teenoor ons was.

My pa het ook goeie verhoudinge met die mense van die Transkei gehad. Hy het, onder andere, ook met vee gespekuleer en het die Transkeiers baie op die plaas gekom om vee by hom te koop.

Die woord “rassisme” het nie in ons woordeskat bestaan nie. Nee, ons het nie geweet wat dit beteken nie. Maar sommer so saam met die stelsel geleef.

 Maar ek het glad nie geweet hoe die swart mense se leiers oor die situasie in Suid-Afrika voel nie. As ek so terug dink, het die regering van destyds dinge so bestuur dat ons van ander se opinies en siening van sake weerhou was. Hulle het dit besonder goed gedoen. As gevolg daarvan het ons min of niks van die denke aan die ander kant geweet nie. Om dié rede word die geskiedenisboeke nou oorgeskryf.

Figuurlik gesproke het ‘n mens maar seker in ‘n kokon groot geword. Selfs in my vroeë hoërskooljare was ek onder die indruk dat alle swartes, soos op die plaas, ongeletterd is.

POLISIE-AANSLUITING: Ek sluit toe in die laat sestig jare by die S.A. Polisiemag aan met my eerste standplaas Umtata in die Transkei. Daar het ek toe ‘n taamlike kultuurskok, as ek dit so mag noem, gehad.

Die swart sersant Radebe op wie se skof ek ingedeel was, het die wonderlikste Engels gepraat en geskryf. En hy het nogal ‘n pragtige, vloeiende handskrif daarby gehad. Ek skryf tot vandag toe nog vrek lelik.

Sersant Radebe het my geleer hoe om die Voorvalle Boek en ander verwante registers in die aanklagkantoor op te skryf en ook hoe om verklarings af te neem. Dit was vir nogal ironies dat dit nou juis ‘n swart man moes wees wat my as jong, wit rekruut touwys moes maak.

Hy was nogal besonder trots op sy werk. Dit was gebruik dat die stasiebevelvoerder elke oggend al die registers nasien. Sersant Radebe het my dit op die hart gelê dat ons op sy skof nie mag foute maak nie. Hy het glad nie daarvan gehou dat die stasiebevelvoerder hom die volgende dag op sekere foute vir regstelling wys nie.

Ek was nogal bly oor hierdie houding van sersant Radebe en het hy die dieselfde trots by my aangevuur. Ons het later as ‘n span saamgestaan om ons werk só te verrig dat dit vir die stasiebevelvoerder nie sommer maklik was om ons uit te vang nie.

Ek het hierdie trots gedurende my hele polisie loopbaan behou. Daarvoor is ek sersant Radebe heelwat verskuldig.

‘n Verdere ontdekking het my natuurlik ook op Umtata gemaak. Ek ontmoet toe swart prokureurs, advokate, dokters, onderwysers en ander hoogs geletterde mense. Vir die eerste keer het ek tot die besef gekom dat ek werklik in ‘n kokon groot geword het en dat ander swart mense inderdaad ook iewers universiteite bygewoon het.

Van hulle het “the Kings’ English” gepraat. My Engels was maar op daardie stadium maar taamlik power, want op Ugie was dit maar ‘n redelike ‘vreemde taal’ gewees.

Op Ugie en elders was kroeë net vir mans bedoel, m.a.w. geen vrouens is volgens wet daar toegelaat nie. En daar was so half neergesien op daardie ouens wat dit besoek het. Dit was nou nie eintlik heeltemal sosiaal aanvaarbaar in die gemeenskap gewees nie. Die mense het nie die woord “kroeg” gebruik nie, maar sommer van die ‘bar’ gepraat.

‘n Ou op ‘n ander dorp het eendag vir my gesê dat hy baie van sy bottelstoor hou, want dit was die enigste besigheid in sy dorp wat hom jaarliks verniet ‘n almanak gegee het. Op die almanak was die bottelstoor se naam in groot, vet letters geskryf – met die telefoonnommer daarby …  “in case of emergency!”, sê hy! Wil jy nou meer!

TRANSKEI: Ek kom toe in die Transkei agter dat die situasie daar heeltemal anders is. Die wette het vrouens in die kroeë toegelaat. Hier was dus geen vooropgesette idees of sondige denke oor ‘n kroeg nie. Daar het inderdaad ‘n tipe van klub-atmosfeer in dié kroeë geheers. En die meeste Engelssprekende inwoners van die dorpies, mans en vroue, hoog en laag, het dit besoek asof dit die mees normale ding op aarde is om te doen. Dit was eintlik die sosiale bymekaarkomplek van die dorp.

Hoe kan mense se denke of sieninge oor iets in verskillende gemeenskappe partykeer so verskil, het ek myself baie keer self afgevra?

En jare later het die res van Suid-Afrika gevolg. Was die Transkei se liberale denke (of eerder miskien doodgewone kômmin sense) die res van Suid-Afrika destyds vooruit gewees?

Daardie vroeëre jare mag swart mense ook nie sterk drank (brandewyn, whisky ens.) buite die Transkei aangekoop het nie. Hierdie beleid destyds was die gevolg van die redenasie dat hulle weens hulle lae beskawingspeil, onbehoorlik, onsosiaal en onaanvaarbaar sal optree as hulle dit inkry. Die standpunt van die regering was dat hulle geweet het wat goed vir hulle was en wat nie.

Ek dink daar was voorsiening in die wet vir individue om vir ‘n permit aansoek te doen om sterk drank in net sekere omstandighede aan te koop.

In die Transkei was misdadigers almal aangekla onder die relevante artikel van die sogenaamde “Penal Code” – Wet nr. 24 van 1886. (Dié wet was seker maar ‘n koloniale oorblyfsel) Waar jy byvoorbeeld iemand in die Republiek – soos ons daarna verwys het – aankla, sal jy iemand onder die gemenereg direk van byvoorbeeld Moord, Huisbraak of wat ook al aankla sonder verwysing na ‘n artikel of wet.

Maar, ek het in die begin nie geweet van die gemenereg nie. Eers totdat ek in die polisiekollege kom en ek agterkom dat die dosente glad nie van die “Penal Code” praat of daarna verwys nie, het ek tot die besef gekom dat daar iewers ‘n probleem is. Nadat ek navraag gedoen het, is ek toe eers van die ware toedrag van sake ingelig. So leer ‘n mens. Ons in die Transkei het partykeer verwys na “die Republiek” se wette as ons gepraat het van die wette buite die Transkei.

EERSTE ARRES: My eerste arrestasie as polisieman was nou glad nie ‘n saak wat Sherlock Holmes se speurverhale sou gehaal het nie, maar ek wil dit hier noem omdat die oortreder in hierdie geval as’t ware sommer in die leeu se bek ingeloop het.

Ek het nog net enkele dae na my aansluiting by die polisiestasie gewerk toe ek een stil Saterdag middag op die polisiestasie se stoep staan. Ek sien toe die motor wat links van my redelike stadig in die polisiestasie se rigting beweeg. Skielik begin dat oor die middellyn beweeg na die verkeerde kant van die pad en kom so 15 meter verby my tot stilstand met sy voorkant aan die verkeerde kant van die pad in die rigting van die aankomende verkeer.

Die bestuurder klim toe uit en ek sien dat hy al waggelend op die sypaadjie rondstaan. Ek besef dat hy lekker gekoring is. Hy het ook natuurlik nie besef dat hy voor die polisiestasie stil gehou het nie.

Ek arresteer hom toe daar en dan en neem hom na die aanklagtekantoor waar sersant Radebe my help om my eerste saak, te wete dronkbestuur, deur al die passe te sit.

QUMBU:  Op die dorpie Qumbu in Transkei waar ek vir die eerste keer as ‘n volwaardige konstabel gedien het, was die enigste mediese dokter op die dorp ‘n swart man gewees, ene Dr Tsamzhashe. Hy was sommer ook gedien as plaaslike Distriksgeneesheer.

Ons jong polisiemanne het een nag tot in die vroeë oggendure gekuier, maar is toe vroeg-oggend wakker gemaak omdat een van ons swart kollegas met ‘n mes dood gesteek is. Ek en my ander kollegas het as gevolg van die vorige nag se gekuier, fisies te nie wel gevoel nie.

Nadat die lykskouing uitgevoer en die liggaam verwyder is, vertel ek toe vir Dr Tsamzhashe só, en verneem by hom of hy nie dalk iets – pille of so – vir ons kan gee om ons toestand te verlig nie. Ek sal sy woorde nooit vergeet nie. So ewe droog sê hy: “I’m sorry gentlemen, yours is not a medical problem, it’s simply a social problem” en gee so ‘n droë laggie. Ons het nie gedink die ou bogger is snaaks nie.

Ons is maar toe taamlik bek-af van sy spreekkamers weg.

STAATSAANKLAER: Ek het vir ‘n paar jaar in die vroeë sewentigs oor die hele Transkei opgetree as Staatsaanklaer in die plaaslike Magistraatshowe. So het ek die meeste advokate en prokureurs, wit en swart, ontmoet.

In daardie tyd is die eerste swart magistrate (hulle was nie “Landdroste” genoem nie) aangestel in die aanloop tot die Transkei se onafhanklikheid in 1976. Die volgende is ‘n staaltjie waar een van die magistrate in die Hof op Qamata ‘n ou skuldig bevind wat ‘n skaap gesteel het.

Die Aanklaer handig toe ‘n dokument in wat aandui dat die beskuldigde geen vorige veroordelings het nie. Die magistraat neem dit, kyk daarna en spreek toe in sy uitspraak die beskuldigde so ewe sedig en ernstig aan met die volgende woorde: “Accused, for the ‘rest’ of your life you had a clean record, and now you must steal this sheep”.

Ons ouens daar in die Hof kon nie help om so onderlangs te giggel nie, want “sy edelagbare” het toe so ‘n bietjie deurmekaar geraak tussen die toekoms, die hede en die verlede.

 Wat my getref het, was hoe goed en bekwaam die swart ouens in die algemeen in die Hof kon optree. Ek het baie keer in die stilte gewonder of swart mense ‘n aangebore aanleg vir hierdie tipe (praat) werk gehad het. Hierdie vraag het later in my lewe weer by my opgekom toe ek sien hoe bekkig sekere van hulle politici is. Aangebôre praat talent?

Of was dit omdat dit hulle kultuur van om buite onder die spreekwoordelike groot boom vergadering (“bunga”) te hou, waar ‘n besondere probleem in die gemeenskap deur die gryskoppe na ure se debat behoorlik deurtrap is om konsensus daaroor te probeer verkry? Vandag hoor jy nog hulle praat van die sogenaamde “collective decisions

Gedurende 1972 is ek genomineer om ‘n aanklaers kursus saam met die Justisie aanklaers by die Departement van Justisie se opleidingsentrum in Pretoria te deurloop. Ons het die teoretiese gedeelte daarvan in Pretoria gedoen. Ek was onder die groep wat in die tweede maand die praktiese gedeelte in die Johannesburgse Landdroshowe moes doen.

 Tydens daardie eerste gedeelte in Pretoria het advokaat Percy Yutar – die Aanklaer van Nelson Mandela-hulle se saak in 1963 – ons eendag kom toespreek. Ek dink hy was daardie tyd die Prokureur-Generaal van die Vrystaat gewees. Ek kan nie onthou waaroor sy lesing of toespraak gegaan het nie. Wat ek egter onthou, is die feit dat ‘n paar vingers van sy een hand afgesit is. Hy het dan daar so staan en praat terwyl die ander hand die een met die vermiste vingers bedek.

Hierdie selfde Yutar was eendag in ‘n gehoor toe iemand ‘n toespraak oor een of ander onderwerp gehou het. Na die tyd, was daar geleentheid vir vrae. Percy Yutar staan toe op en vra ‘n vraag, en die spreker erken hom onmiddellik sê toe nee, hy antwoord nie vrae van Yutar nie, want Yutar – soos in die Mandela-saak – is soos ‘n bullterrier wat jou aan nie nek gryp, heeltyd skud en nooit  los nie. Of hierdie storie waar is, weet ek nie, maar dit word vir die waarheid oorvertel.  Dalk is dit ‘n mite, of ‘n urban legend soos hulle partykeer sê. Maar feit is, is dat hierdie Joodjie destyds die top aanklaer in die land was.

TIMOL GEREGTELIKE DOODSONDERSOEK: Terwyl ons die praktiese gedeelte in Johannesburg gedoen het, was die Timol geregtelike doodsondersoek in ‘n ander hofsaal aan die gang gewees. Timol was die aangehoudene wat ‘n paar verdiepings vêr uit die John Vorster polisiestasie geval het terwyl hy deur die Veiligheidspolisie ondervra is. Het hulle destyds beweer dat hy op ‘n koekie seep gegly en dwarsdeur die venster geval het? Sak Sarel! Altesaam 7 mense – almal politieke aktiviste – het gesterf op die 10de verdieping van daardie groot polisiestasie terwyl hulle in aanhouding van die Veiligheidspolisie was.

Ek het eendag daar by die Hof gaan inloer. Een van die advokate vir die Timol-gesin was ene QI Maisels – ‘n knaende kruisondervraer, wat die polisiemanne dae lank kon ondervra. Die gebeure in daardie Hof het my só gefassineer dat ek dit bykans elke dag bygewoon het.

Ons ouens op die aanklaerskursus, was vier per Hof ingedeel. As daar byvoorbeeld sestien sake was vir die dag, het ons kursusgangers elkeen vier sake gekry om aan te kla.

Ek het dan soggens vroeg Hof toe gegaan en vinnig deur die polisiedossiere wat op die hofrol geplaas is nagegaan, en vier uitgekies wat ek gedink het die gouste afgehandel sal kan word. Omdat ek alreeds praktiese ervaring van aanklaers werk gehad het, en alhoewel ek nog maar ‘n snotkop was, het ek dan by die ander verneem of ek 9-uur met my sake kon begin. Die ander onervare ouens was dan te bly en het gewoonlik ingestem.

Sodra ek klaar was, het ek dan weggesluip na die Timol-ondersoek om na die verrigtinge te luister. En gefassineerd daar na die getuienis; die advokate se argumente en die kruisondervragings geluister.

Vir my as jong polisieman was dit ‘n interessante en leersame ervaring gewees. Dit was ook interessant om die koerante se menings en kommentaar oor hierdie spesifieke ondersoek te volg.

IDUTYWA: My jare as polisieman in die Transkei (1968 tot 1975) was besonder stil jare, in die sin dat daar geen politieke aktivisme, onrus ensovoorts aan die gang was nie. Wat my nog steeds bybly, is die goeie verhoudinge wat daar onderling tussen swart- en witmense was. Selfs my vrou wat daar vanuit die Kaap as ‘n jong onderwyseres in die Transkei begin het, het dit opgemerk.

Terwyl ek in Idutywa in die Transkei gestasioneer was, het ek ‘n paar keer by die winkel van President Mbeki se ma, Enpainette, aangedoen. Nooit het ek kon dink dat hierdie vrou se seun eendag die president van die land sal word nie. Ek het nie eers geweet dat sy ene Govan Mbeki se vrou was nie. Om die waarheid te sê, het ek op daardie stadium nie eers geweet wie Govan Mbeki is nie.

Net so min het ek geweet dat oud-president Mandela op Qunu groot geword het. Ek het baie daar verby gery tussen Umtata en Idutywa. Qunu was in ons (Umtata) polisiewyk gewees.

Ek is na Idutywa verplaas vanaf Qumbu nadat ek tot die rang van sersant bevorder is. Die distrikskommandant het destyds op Qumbu vir my gesê dat hy my daarheen wil verplaas as staatsaanklaer omdat hy die huidige aanklaer, sersant Pat Graham, wil aanstel as die stasiebevelvoerder.

Ek het gevoel ek is nog te jonk en onervare om as staatsaanklaer op te tree, maar die Distrikskommandant verseker my toe dat Graham my “mooi sal leer”. Graham was al ‘n man van diep in sy vyftigs.

Ek onthou nog die eerste hofdag op Idutywa. Graham, ‘n Engelssprekende wie ons as “Oom Pat” aangespreek het, kom daardie oggend vroeg in my kantoor ingestap en plak ‘n klompie polisie saakdossiere op my tafel neer en sê: “Go up to the Court and see what you can do, my boy”. Soveel so vir die opleiding wat hy my sou gee! Maar, hy tog later baie gehelp met die opstel van ingewikkelde klagstate – veral daardie ten opsigte van bedrog.

Ek het darem op daardie stadium al so ‘n redelike idee gehad van aanklaerswerk. Ek het daardie dag maar al swetende deur die sake geworstel. Daar was wel hier en daar stadiums dat ek nie geweet het of èk veronderstel was om iets te sê en òf die magistraat iets moes sê nie, maar ons het tog so hier en daar ‘n ou skuldig bevind.

Ek het mettertyd sommer baie van aanklaerswerk gehou. En ook om daagliks (brein) kragte te meet teen die prokureurs. Toe ek ‘n praktiese aanklaerskursus in die Johannesburgse howe gedoen het, het die ouens spottenderwys na ons verwys as die “mededaders tot vryheidsontneming”.

Ons het daardie tyd het ‘n fluitjie in ons uniform se regter bosak gedra, wat gehang het aan ‘n skouerbandjie. Die Orders het gesê dat as jy in die moeilikheid is, moet jy 3 maal daarop blaas om die ander polisiemanne se aandag te trek. Ek het dié fluitjie sommer die “Kom-Help-my-fluitjie” genoem.

Oubaas Pat Graham was effens doof gewees. Hy sit eendag in sy kantoor en die ander in die aanklagkantoor. Ek besluit om so ‘n paar keer 3 keer op die fluitjie te blaas terwyl ek in die agterplaas van die polisiestasie gestaan het. Ek wou die ouens se reaksie toets. Maar niemand kom kyk wat aangaan nie. En ek blaas al harder!

En daar kom oubaas Graham uit – die effense dowe een van die lot nogal! – terwyl ek agter ‘n polisievoertuig wegkruip. En ek hoor hom so ewe vieserig sê: “What the hell is making such a noise!” Ek bly toe stil en hy gaan weer terug na sy kantoor. Ek daardie aand my fluitjie afgesny en dit nooit weer gedra nie. Terloops, in my hele polisie loopbaan, het ek nooit enige polisieman ooit daardie fluitjie hoor blaas nie.

Oubaas Pat Graham het my eendag 2 lewenslesse geleer, naamlik dat (1) ek nie moet probeer om te oulik (“smart”) te wees nie en (2) dat as ek kommunikeer, ek seker moet maak dat die ander party dit wel sal verstaan.

Die rede vir bostaande advies het as gevolg van die volgende insident gebeur. In die Suid-Afrikaanse reg is daar ‘n regsbeginsel wat sê “Die reg hou hom nie met beuselagtighede op nie”. ‘n Staatsaanklaer sal byvoorbeeld nie iemand vervolg wat ‘n appel uit ‘n boord weens pure hongerte gesteel het nie. Ek sien toe eendag in ‘n regshandboek dat ‘n mens dit as volg in Latyn sê: “Di minimus non curat lex”. Latynse begrippe word natuurlik baie in die reg; wette en in die howe gebruik.

Ek dink toe dit klink sommer baie geleerd. En toe ek eendag ‘n soortgelyke tipe saak as Staatsaanklaer terugtrek, skryf ek toe na die woord “Withdrawn” so ewe “Di minimus non curat lex” in hakies op die polisiedossier! Oubaas Graham sien dit toe later en sê vir my, “Young man, I don’t know if this is your ugly writing or greek, but what the hell is written here?”

Ek verduidelik hom toe so ewe selfvoldaan. Oubaas Graham was nie beïndruk nie. Hy sê toe vir my: “My boy, never try to be too smart and, when you communicate, make sure that the other party knows exactly what you are trying to say – otherwise it is a useless exercise”.

Ek het dié stukkie raad later, waar nodig, altyd probeer toepas. Maar, aan die ander kant: ek kon ook mos nie help as die ou bogger onkundig was ná hyself vir 28 jaar ‘n Staatsaanklaer was nie!!

Latyn het oor die jare op die tonge van mense gesterf en later net bly voortbestaan op papier.

DAILY DISPATCH: In daardie tydsgewrig was die enigste dagkoerant wat in die Transkei beskikbaar, die Daily Dispatch (uit Oos-Londen). Afhangende van watter kant van die politieke spektrum hulle gestaan het, het baie ouens na dié koerant verwys as die “Daily Disgrace”. Die baie bekende wyle Donald Woods was die redakteur van hierdie koerant in daardie tyd. Hy was ‘n oud-Transkeier. En ‘n groot vriend van wyle Steve Biko, die swart bewussyn-aktivis.

Ek het veral Woods se hoofartikels met aandag gelees, want dit was die eerste keer in my lewe dat ek werklik politieke opinies van die “ander kant” van die politieke spektrum te wete gekom het. En Woods het dit met besondere energie en ywer gedoen. Ek het op daardie stadium gedink hy is sommer laf, want hier om my in die Transkei het dit nie gelyk of enigiemand veel kla oor die politieke bestel nie.

Een van Woods se hoofartikels daar in die vroeë sewentigs wat ek nooit sal vergeet nie, was in ‘n unieke trant geskryf in sy poging om die Nasionale Party by te kom. Dit het min of meer as volg gelui:

 “If the Nationalist Party goes ………….
I will rejoice
My family will rejoice
My friends will rejoice
Most South Africans will rejoice
Swaziland will rejoice
Lesotho will rejoice
Africa will rejoice
England will rejoice
America will rejoice
Europe will rejoice
Asia will rejoice
Australia will rejoice
Nieu Zealand will rejoice
Robben Island will rejoice
Yes …  the whole bloody world will rejoice!”

 Ja, hulle kon toe eers 23 jare later in 1994 juig.

Dit was met my lesery van die Daily Dispatch dat ek ten volle bewus geraak het oor die destydse gedwonge verskuiwings van mense uit plekke soos Sophiatown, Distrik 6 en ander plekke.

As jy mooi daaroor dink, en jouself maar net vir ‘n wyle in daardie mense se posisie probeer plaas, kan jy nie anders as om te besef dat dit nogal wreed en onmenslik was nie.

 Dit neem dan terselfdertyd my gedagtes dadelik na iets anders. Het die aanhef van die Grondwet van die land daardie tyd nie min of meer as volg gelui nie?:

 “Uit nederige erkentlikheid teenoor die Almagtige God …”.

 In die lig hiervan, hoe het die outoriteite dit dan oor hulle (christelike) harte gekry deur in daardie tye só onmenslik op te tree? Ek vind dit nogal onverstaanbaar.

 Die Afrikaners van destyds het ‘n heilige respek vir hulle politieke leiers gehad. Partykeer verafgod. Dit was ‘n groot fout. ‘n Politukus – het ek uiteindelik in my lewe agter gekom – is ‘n dier wat jy heeltyd moet bevraagteken. Hulle uitsprake moet altyd as’t ware heeltyd met ‘n goeie dosis sinisme beoordeel word.

VEILIGHEIDSPOLISIE: Ek was as jong polisieman uiteraard bewus van een van die ander afdelings van die SA Polisiemag, soos die Veiligheidspolisie. Ek het nie veel van hulle werksaamhede geweet nie. Ek het ook nie daarin belang gestel nie. Hulle was ook nie mense wat ons van hulle aktiwiteite en doen en late vertel het nie. Die woorde “Streng Geheim” en “Uiters Vertroulik” was deel van hulle alledaagse woordeskat en werkswyse.

Ons gewone uniformlede en speurders het ons maar besig gehou met gewone misdaad en ander gewone dienste aan die algemene publiek.

Die Veiligheidspolisie was deel van die SA Polisiemag. Maar as ek so terug dink, was hulle vir alle praktiese doeleindes eintlik ‘n afsonderlike entiteit. Waar ons byvoorbeeld verwys het na Pretoria Hoofkantoor, het hulle na hulle hoofkantoor verwys as “Veiligheid Hoofkantoor”.

Daar was dus twee hoofkantore. Ons sin, en hulle sin. Die een hand het derhalwe nie geweet wat die ander hand doen nie. Ons het maar net die “payroll” gedeel.

Ons gewone lede is later en selfs in die nuwe Suid-Afrika na 1994 onder dieselfde kam geskeer, in die sin dat daar na “julle dade” in die apartheidstyd verwys is, terwyl daar eintlik bedoel is die aktiwiteite van die Veiligheidspolisie. Die tragiese daarvan is dat ons, dit is nou die gewone uniformlede en speurders, in die meeste gevalle nie eers kennis daarvan gedra het nie.

In die laat tagtigs was bykans al die streekkommissarisse in Suid-Afrika, behalwe by een of twee streke, voor hulle aanstellings in daardie poste, veiligheidspolisiemanne gewees. So was die laaste nasionale kommissaris van die SA Polisiemag ook voorheen die hoof van die Veiligheidspolisie gewees. Dit was beslis hulle era gewees. Die kitaar geslaan, met ander woorde. En seker nog almal lede van die Broederbond ook!

Ek het onthou nog die eerste keer dat ek teeninsurgensie opleiding op die plaas Maleoskop in die Wes-Transvaal naby Groblersdal moes ontvang.

‘n Brigadier van die Veiligheidspolisie – ek kan nie meer sy van onthou nie – het ons oor die ANC,  PAC en andere, asook terrorisme, kom toespreek. Dit was baie jare gelede, maar wat ek van die man onthou is dat hy beslis in hart en siel ‘n geswore vyand van die terroriste was. Soos dit ‘n goeie veiligheidspolisie-offisier en patriot van daardie tyd betaam het.

Jare later het die sogenaamde “terroriste” lede van ons regering geword!

Daardie brigadier het homself só opgewen en in vervoering geraak tydens sy aanbieding, dat die skuim letterlik by sy mondhoeke uitgekom en rond gespat het. Hy het geglo in die saak. En ons jong manne het alles opgeslurp wat daardie dag kwyt geraak het.

En ons het daarna sommer lus gehad om die “terroriste” oral op ons landsgrense aan te vat en op te foeter.

Ek het heelwat sulke sessies as jong polisieman in my tyd ervaar. Ek onthou nog hoe die een senior veiligheids-offisier vertel het dat hoe die kommuniste eers Mosambiek, dan Zimbabwe, en Angola gaan “oorneem” sodat hulle ‘n “rooi belt”, soos hy dit gestel het, noord van Suid-Afrika gaan “span” en dan van daar hulle aktiwiteite teen Suid-Afrika kon loods.

Ek moet partykeer lag as ek hieraan dink. Waar het hulle aan al hierdie mites gekom? En toe eet ons jong laaities dit nog alles vir soetkoek op!

Hierdie ouens het ‘n goeie job gedoen. Ons was in daardie jare só geïndoktrineer (met SA se eie propaganda`),dat daar by ons geen twyfel was dat die kommuniste en die terroriste, in al hulle boosheid, hierdie land wil oorneem met al die slegte gevolge denkbaar vir ons almal nie.

Die gevolg was dat die meeste van ons sonder voorbehoud bereid was om vir volk en vaderland teen hierdie bose magte te veg. Vir ons was daar nie ‘n ander keuse nie. Ons het nie van beter geweet nie. Ons het net die een kant van die spektrum gehoor. Daarvoor het die regering van destyds gesorg.

 Ek is vies dat ek nie al die objektiewe, ware inligting en feite gehad het en dat ek my eie opinie oor alles kon vorm nie. Ja, kennis is mag, sê die spreekwoord – en naïwiteit onderdrukkend. Daarom sal niemand vandag ‘n storie vir my opdis nie. Die ware, werklike feite is vandag vir my belangrik. Ek het ‘n siniese persoon geword, met ander woorde ek glo nie maklik nie en ek soek die ware feite.

BROEDERBOND EN “SUPER-AFRIKANERS: En wat meer is: as jong man ná skool hoor ek toe ook van die Broederbond – die sogenaamde “super-Afrikaners”. Hulle was die Afrikaners wat destyds, figuurlik gesproke, die kitaar in die land geslaan het. Wie in al die hoë en beste posisies oral oor aangestel is en voorkeur op verskeie gebiede gekry het. Baantjies vir boeties.

Die oorgrote meerderheid van die land se Afrikaners het nie aan hierdie organisasie behoort nie. Die meeste mense wat ek om my geken het, ook nie. Was ons dus minderwaardig? Nie goed genoeg in hierdie “Super-Afrikaners” se oë nie? En meeste dominees het ook aan die broederbond behoort – gaan lees maar daardie boek van Stanley Uys genaamd “The Super Afrikaners”.

Watter soort mense was hierdie broederbonders, wat hulle mede taal- en kultuurgenote as minderwaardig beskou het? En dus selfs teen hulle eie soort gediskrimineer het! En waarheen het hulle uiteindelik ons uiteindelik heen gelei?

Partykeer voel hierdie boetie ook sommer baie die bliksem in.

Dáárom dat ek vandag nie maklik (sekere) ouer afrikaners èn politiek-besmette dominees – die politieke hoëpriesters van die ‘waarheid’ – se opinies oor hulle soort politieke denke wil hoor nie – veral laasgenoemde wat taamlike calvinistiese skuldgevoelens by Afrikaners gekweek het. Voorbeelde: jy mag nie dans nie; dit is sonde om ‘n dop te maak; jy kan nie op Sondae visvang nie, ensovoorts, en so aan.

Was dit nie juis hierdie soort stellings (wat jy nie van die Engelse kerke se predikante gehoor het nie) wat ‘n orrelis eendag beweeg om vir haar dominie te vra: “Presies wát is sonde nou eintlik?” En dié kom toe met ‘n kategismiese rympie vol liturgiese woorde wat gin sin uitmaak nie. En sy haak af en sê vir hom: “Dominie, jy’s mos geleerd genoeg om te weet jy praat nou die grootste bondel stront op aarde …  of hoe?”

Al wat sy wou hê was dat die dominie die “sonde”-probleem vir haar moes uitsorteer. Soos, let wel, wanneer dit Godswil is, én wanneer dit net mensewil, soos deur hulle uitgedink, is. Daar is ‘n verskil. Eenvoudige sake soos wat kerkgangers dit wil hê. Praktiese goed wat mense agter hulle lessenaars en kospotte en stuurwiele kan toepas.

En, sê sy toe verder: “Maar van Sondag tot Sondag tot wyksbiduur tot Pinkster word ons ingedril oor ons sondige natuur en verwerplikheid.

Predikante moet hulle preke verstaanbaar maak. Nie net clichés wat in melodramatiese sirkels voorgedra word nie. Sodat almal – ek tot jong skoolkind – dit ook kan begryp. Dan sal die kerk nie leegloop nie. En ons nie gedurig holrug moet koes voor die sweep van God wat van die kansel af agter ons hakskene geklap word nie”.

Nou na ander dinge. Ek dink aan die skrywer en joernalis, Max Du Preez (wat nou op Napier woon) – ek dink ek en hy is min of meer so ewe oud – wat ook uit ‘n konserwatiewe Afrikaner huis kom, maar vroeg in sy volwasse lewe die establishment tydens die vorige bedeling tromp-op oor hulle doen en lates getakel het.

Alhoewel ek nie destyds met hom saam gestem het nie, is ek tog beïndruk met die feit dat hy heelwat vroeër in sy lewe die ongeregtighede besef het. En moes hy taamlik guts gehad het om die ouens so energiek aan te vat. Ek het daardie tyd ‘n hele paar keer sy tydskrif, die Vrye Weekblad, gelees.

As ek aan Max Du Preez dink, dink ‘n ou ook sommer dadelik aan generaal Lothar Neethling, die destydse hoof van die polisie se forensiese-wetenskap laboratorium. Die twee was mos in ‘n siviele geding teen mekaar betrokke nadat Du Preez ‘n paar dinge van hom in sy koerant bekend gemaak het. Dit het destyds opslae gemaak. Daar was geen liefde vir mekaar nie. Seker nog steeds nie.

Maar ek wil eintlik ‘n komiese insident oor generaal Neethling vertel. Ek dink dit was so teen 1987 toe hy ons in die Polisiekollege tydens ‘n bestuurskursus oor een of ander onderwerp kom toespreek het.

So deur die loop van die lesing sien Neethling dat een van die offisiere vas aan die slaap is en hy sê kliphard: “Jy wat daar slaap, staan op!”. Neethling se aanbieding moes seker maar vervelig gewees het.

Ongelukkig, egter, staan ‘n ander offisier, wat ‘n paar meter verder weg gesit het en óók geslaap het, toe op. Neethling was seker onder die indruk gewees dat die ou wat opgestaan het, besig is om met hom die gek skeer. En daar ‘verloor’ hy dit toe. Hy storm op die arme man af met ‘n gesig rooi van woede. Hy, as wetenskaplike, trap die arme siel uit, op ‘n wyse wat ‘n sersant-majoor in die army jaloers sou maak.

Al wat deur my gedagtes gegaan het to ek na sy uitbarsting luister, was dat hierdie wetenskaplike in die paar jare wat hy by die polisie betrokke is, die militêre kultuur behoorlik omarm en aanvaar het. En heeltemal onnodig. Terloops: Getuienis by die WVK in die negentigs het mos aangedui dat hierdie generaal destyds gif vervaardig het om aktiviste uit aksie te stel én om hulle dood te maak.

KOMMUNISME EN DIE ANC: Maar, om weer terug te keer na die kommunisme. Ek moet darem ook sê dat Rusland sy neus ook oral – ook hier in Afrika – ingesteek het, en dat kommunisme inderdaad, soos elders ter wêreld, wel groot ellende veroorsaak het. Ek kan daarom tog verstaan waarom kommunisme in hierdie land met sulke groot agterdog bejeën en met alle mag beveg was.

In die jare sestig was die ANC in elk geval taamlik oorheers deur lede van die SA Kommunistiese Party, wat ‘n Leninistiese eenparty-diktatuur nagestreef het. Omdat die SAKP se ledelyste geheim gehou is, het nie-kommuniste in die ANC selde geweet hoe groot die party se greep op die beweging was. Op ‘n stadium was 23 of 24 lede uit die 30 NUK (Nasionale Uitvoerende Komitee) lede, kommuniste gewees.

Wat natuurlik ook nie gehelp het nie, was dat die ANC ook baie nou bande met Rusland aangeknoop het. Dit is algemeen bekend dat van hulle sogenaamde kaders nie net daar opgelei is nie, maar dat Rusland ook militêre opleiding aan hulle elders in Afrika verskaf het. En hulle van advies en wapens voorsien het.

Die ANC het sy eensydige klem op militêre aksies met ‘n meer gesofistikeerde benadering vervang met ‘n beleid waar politieke mobilisering belangriker as militêre aanslae voorgestaan is nadat ‘n ANC- en SAKP-afvaardiging Viëtnam in 1978 besoek het. Hulle was daar daaroor deur die legendariese generaal Nguyen Gaip toegespreek.

Hierdie samewerking tussen die ANC met kommuniste het dinge destyds natuurlik erg vertroebel en ‘n baie groot vraagteken op die ANC se eintlike doelwitte geplaas. Soos byvoorbeeld dat hulle maar net lakeie vir Rusland se aspirasies kon wees. Met ander woorde, ‘n middel tot ‘n ander doel.

Sonder om die onregte van die vorige regering enigsins goed te probeer praat, moet ‘n mens dus in die lig van dit wat ek so pas hierbo genoem het, tot ‘n mate begrip hê vir die houding wat die NP-regering daardie tyd daaromtrent gehad het. En ook die vroeëre geskiedenis van die afrikaner, met ander woorde – om die cliché te gebruik – waar hulle vandaan kom, moet in aanmerking geneem word.

President Mbeki het in hierdie verband egter baie vêr terug gegaan. Hy het byvoorbeeld terwyl hy nog ‘n uitgewekene was, ‘n toespraak in 1978 tydens ‘n seminaar in Ottawa, Kanada na die historiese ongeregtighede in Suid-Afrika verwys. Op hierdie stadium was hy ook ‘n lid van die Kommuniste Party (nou nogal ‘n groot kapitalis!) en het hy taamlik uit die werke van Marx aangehaal.

Die aktiviste het destyds taamlik inspirasie geput uit Marx en ander kommuniste denkers/skrywers se werke.

Tydens dié toespraak het hy verwys na die sogenaamde klasse en bourgeois (middelstand) gemeenskappe, wat vanaf 1652 in Suid-Afrika ontstaan het ná die aankoms van die werknemers van die Hollandse Oos-Indiese Kompanje. Hy het ook verwys na die beleid van slawerny en die vestiging van kapitalisme daardie tyd, ‘n paar honderd jaar gelede.

Dan betrek hy calvinisme by die hele potpourri. Hy het beweer dat dit deur die “boere”, soos hy dit gestel het, van Holland hierheen gebring is en dat die calvinistiese Franse Hugenote later by hulle aangesluit het.

So tussen hakies: Die term “boere” word nog af en toe gebruik. Dit word gebruik wanneer hulle verwys na daar die deel van die bevolking wat nie swart is nie. Baie mense kry al die gevoel dat hierdie woord deesdae in ‘n afbrekende, bykans rassistiese sin gebruik word. En niemand anders as president Mbeki self gebruik toe nou die dag hierdie woord in ‘n toespraak. Hulle sal regtig moet besin oor die verdere gebruik van hierdie woord in  sekere konteks.

In elk geval, om voort te gaan op Mbeki se toespraak in Ottawa: Hy sê toe verder dat die boere hierdie teologie se inhoud omskep het in ‘n spesie van Lutheranisme. En van calvinisme, beweer hy toe verder, het die boere die doktrine van uitverkorenheid aangeneem en dit verdraai (“perverted” het hy dit genoem) het. En dat dit alles uiteindelik in die kapitalistiese en ekonomiese bestel omskep is om te verstaan dat: “Die verkose van God, is dáárdie wat wit is”.

Wel, dit was Mbeki se mening so 24 jaar gelede. Ek weet net nie of sy destydse argument die toets van die teologie sal deurstaan nie. Of hy nóg so dink, weet ek nie.

Ek volstaan met wat ek so pas hierbo gesê het. Natuurlik is dit nie die alpha en die omega van die hele debat nie. Dit is maar net so ‘n paar terloopse opmerkings. Dit is eintlik iets waaroor ‘n mens meer breedvoerig kan debatteer en selfs ‘n volledige boek daaroor skryf.

Ons het ook nie op daardie stadium geweet wat se soort mens meneer Mandela was en sou wees nie. Hy was vir almal maar ‘n “terroris” wat in die tronk gesit het. Ja, die een se “terroris”, is die ander een se “freedom fighter”. Dieselfde geld vir die ander leiers. Persepsies en stereotipering was dus aan die orde van die dag.

In retrospek, kry ek partykeer die gevoel dat die verskille in Suid-Afrika wel heelwat vroeër tot ‘n punt van onderhandeling en oplossing kon gekom het. Maar sekere dinge – saam met die erge persepsies van mekaar – het oor die dekades in die pad van die politieke en staatkundige evolusie-proses gekom, en was dit maar seker net eenvoudig bestem dat demokrasie eers in die vroeë negentigs van die vorige eeu tot stand sou kom.

Dat dit eerder later as vroeër gebeur het, was, na my mening, eerder ‘n goeie ding.

Ek wonder partykeer nog steeds wat die verloop van die geskiedenis hier sou gewees as dit nie was vir iemand soos president Gorbachev van Rusland was wat kommunisme op sy kop gedraai en wat mettertyd tot die val van die kommunisme, oftewel die val van die Berlynse muur, tot gevolg gehad het nie? Vandag word Gorbachev met meer agting in die weste bejeën as in Rusland. President Ronald Reagan van die VSA en die destyds Pous het natuurlik ook baie bygedra tot die val van die kommunisme in Rusland en elders.

Was dit nie maar hierdie gebeure wat oud-president FW De Klerk en sy kabinet uiteindelik finaal beweeg het om stappe te neem om die vryheidsbewegings te ontban en die proses van onderhandelinge en demokratisering aan die gang te sit nie? Word hy nie ook vandag met meer agting bejeën in die buiteland nie? Ironies. Eintlik eienaardig.

Ek lees nou die dag heel toevallig dat president Mbeki voor hierdie aankondiging die leier was van ‘n afvaardiging wat vanaf 1989 geheime samesprekinge met De Klerk en sy kabinet gehad het. Dit was nogal nuus vir my. Die volgende is ‘n uittreksel wat onder Mbeki se “Career Details” voorkom:

Led the ANC delegation which held secret talks with the South African government from 1989 and which led to agreements about the unbanning of the ANC and the release of political prisoners

Ek kan nie onthou dat De Klerk-hulle die Suid-Afrikaanse publiek destyds ooit van hierdie voor-af geheime gesprekke vertel het nie. Nie dat dit meer saak maak nie.

STASIEBEVELVOERDER OP ROBERTSON: Vroeg in 1977, in my eerste paar maande as stasiebevelvoerder op Robertson as ‘n jong luitenant, besluit ek dat die klein ou, verwaarloosde polisiestasie op die dorp net nie meer goed genoeg is nie.

Ek besluit toe sommer in my voortvarendheid – want ek was nog jonk (in my middel twintigs) – om daar en dan die plaaslike LV vir Worcester, wyle meneer Piet Palm, daaroor gaan spreek. En ek doen dit toe. Palm het toevallig op Robertson gewoon. Hy het my rustig na my pleidooi geluister en gesê dat hy sal kyk wat hy kan doen.

Dit was nie baie lank nie toe ek ‘n boodskap ontvang dat ek moet regstaan vir ‘n besoek deur Palm en die Kommissaris van Polisie, generaal Gert Prinsloo, in verband met die polisiestasie op die dorp. Ek skrik toe so half en wonder of ek nie dalk in die moeilikheid is by die kommissaris oor my direkte vertoë aan die LV vir ‘n nuwe polisiestasie nie?

Daardie dae was voorgeskrewe riglyne, kanale en staande orders (die “polisie-bybel”) as’t ware “wet”, en het persoonlike inisiatief en effense ompaaie maar partykeer ernstige fronse op die hiërargie se voorkoppe veroorsaak. Soos die Engelse sê: “It was frowned upon”. Nee, jy kon eintlik in die moeilikheid beland het.

En, ai, watter ongemaklike kultuur het nie destyds geheers nie! En waar almal amper is ‘n soort van vrees gelewe het: die stasiebevelvoerder was skrikkerig vir die Distrikskommandant; Die Distrikskommandant was skrikkerig vir die Afdelingskommissaris; die Afdelingskommissaris was skrikkerig vir Hoofkantoor ensovoorts.

In die nuwe bedeling is byvoorbeeld meer status aan die Stasiekommissaris verleen en word almal se waardigheid  en menseregte gerespekteer.

But, be that as it may, op die afgespreekte dag kom die LV en die kommissaris toe daar aan. My vrou het lekker eetgoed gemaak en ons het die twee here getrakteer.

Hulle het toe die polisiestasie bekyk en die kommissaris het so half aangedui dat die ou gebou, wat die Staat van ‘n plaaslike besigheidsman gehuur het, nie te waffers is nie. Maar andersins nie veel gesê nie. Hy het ook nie vir baie entoesiasties voorgekom nie. Die kommissaris, met sy spierwit gryskop, was maar ‘n stillerige ou kêrel en was nie baie spraaksaam nie. Hulle is later toe daar weg.

Ek het toe gedink dat daar seker maar niks van sal kom nie. Hoe verkeerd was ek nie! Wat presies agter die skerms gebeur het, weet ek nie, maar seker so vyf maande later het hulle aan die nuwe polisiestasie, daar waar jy Robertson van Worcester se kant inkom, begin bou.

Op 13 Oktober 1978, op my verjaarsdag, het ons die mooi, nuwe polisiestasie op Robertson amptelik ingewy. Mý verjaarsdag present – mý monument  –  dink ek partykeer so in die stilligheid.

Ons hogere gaste by die amptelike opening van die polisiestasie was die destydse minister van Polisie, Jimmy Kruger, en die kommissaris van Polisie, generaal Mike Geldenhuys. Dit was so ‘n jaar na Kruger se berugte “it leaves me cold”-uitspraak ná Steve Biko se dood in (veiligheids) polisie-aanhouding.

Ek noem hierdie gebeurtenis om eintlik by ‘n komiese insident uit te kom waar ons ná die formele opening by die polisiestasie met al die droë en oninteressante toesprake, ‘n ete by die plaaslike stadsaal gehad het.

Voor die ete het al die aanwesiges daar rondgestaan met ‘n dop in die hand. Baie toegewyde en geswôre plaaslike nasionaliste van daar die tyd wou toe uit die aard van die saak met Kruger gesels. ‘n Minister se teenwoordigheid op ‘n plattelandse dorp was nie ‘n alledaagse gebeurtenis nie.

Op ‘n stadium soek Geldenhuys vir Kruger. En op ‘n stadium raak hy sommer baie bekommerd en sê kliphard aan my: “Jong, gaan soek die minister”. Van die mense begin toe skater van die lag, want daar staan die minister toe redelik naby hom tussen ander gaste. Die probleem was egter dat Kruger so ‘n kortgat kêrel was dat jy hom nie kon sien wanneer hy tussen die ander wat om hom saamdrom, staan nie!

Ek en Ben Van Rensburg – die Stadsklerk op Robertson – was eendag in gesprek gewees en ons het gesels oor die begrippe “verlig” en “verkramp”, wat in daardie dae algemeen gebruik was om mense polities te etiketteer . Dit was natuurlik op die tydstip toe die NP op sy sterkste was en daar hoegenaamd geen sprake was van transformasie, hervorming, verandering, een-mens-een-stem en al daardie soort van dinge nie. Die NP was stewig in beheer en dinge was sommer honkie dôrrie vir hulle.

Ek kan nie meer onthou watter sieninge presies as “verlig” of watter as “verkramp” geklassifiseer was nie. As ek so na baie jare terug dink, kan ek “verkramp” nog verstaan, maar ek het geen idee meer wat die “verligte” ouens daardie jare gepropageer het of wat hulle denke was nie. Ek vermoed ekself was so effe (ja, effe dalk) verlig gewees. Of so dink ek altans. Ek was maar ook ‘n produk van daardie tyd gewees. In elk geval, dit was interessante, selfs belaglike, tye gewees.

Sekere denke van daardie jare was in graniet geskryf. Vandag sal ‘n mens ander menings oor sekere dinge koester. Ek dink dit is normaal en logies. Ons is mos menslike wesens – nie masjiene nie.

Onthou: So ‘n paar honderd jaar gelede is ouens wat verkondig het dat die aarde rond is, doodgemaak of vervolg. Daar was ook gedebatteer oor die vraag of slawerny ‘n instelling van God is, of die vrou ‘n siel het; of sy mag hoed dra kerk toe en of sy mag langbroek aantrek, ensovoorts, en so aan.

Sulke insigte sal vandag slegs ‘n meewarige glimlag ontlok. Vandag is ons besig met ‘n debat of homoseksualiteit en wat daarmee saamgaan, ‘n sonde is al dan nie. Ek lees elke dag hoe die hoë kerklui daarmee worstel – elkeen my sy eie mening. Selfs of vroue in kerk-ampte toegelaat moet word. ensovoorts. Ek wonder wat die siening hieroor oor ‘n 100 jaar gaan wees?

Die geskiedenis is nou maar ‘n snaakse ding. En golwe kom en gaan. Wat vandag na ‘n onweerlegbare waarheid lyk, word môre soos ‘n verganklike kasteel weggespoel.

Ek dink dit was in 1977 terwyl ek op Robertson was dat die NG Kerk die nuwe Psalm- en Gesangeboek in gebruik geneem het.  Waar ons voorheen in die kerk heerlik aan die ou psalms en gesange saam gesing het, en baie daarvan sommer uit ons koppe geken het, het dit sommer van die staanspoor af geneuk met die nuwe wysies.

Jare later nog, selfs toe ek later weer terug was op Stellenbosch, het hulle nog met die hulp van sangonderwyseresse probeer om ons die nuwe wysies aan te leer. Ek het die gevoel dat dit tot vandag nog steeds nie klopdisselboom gaan nie.

Ek was destyds nogal baie teleurgesteld dat ons die ou psalms en gesange totsiens moes toewuif. Afrikaans  – teenoor die meeste ander tale – is maar ‘n relatiewe jong taal en het dit dus so oor die dekades heen al hoe meer modern – as ek dit so kan stel – geword. En as gevolg daarvan het die taalfoendies toe die nuwe psalm- en gesangeboek tot stand laat kom om as’t ware by te hou met die vernuwing. Maar, iets het net vir my in die proses verlore geraak.

VERDERE STUDIES: Op Robertson (1979) skryf ek in vir die B-Iurus-graad. In my eerste jaar doen ek die 2 amptelike tale, asook ‘n spesiale Regs-Latynse taalkursus. Unisa (Universiteit van Suid-Afrika)  het my eerste Engelse taak as volg verwoord:

Write a report on the feasibility of establishing an after-care centre at a big city primary school”.

 Jy moes destyds ‘n aantal take met 50%-plus slaag om eksamentoelating te kry. Ek dog toe, nee, hierdie takie is sommer maklik. En ek – met die hulp van my jong, engelssprekende onderwyseres-vrou met haar “King’s English” – sal dit sommer in ‘n japtrap doen – het ek gedink.

Vir dae aaneen skryf ek toe vir die vale aan hierdie taak. En met ‘n paar handboeke oor “report writing” langs my op my skryftafel soos hulle gesê het jy moet doen.

So ‘n paar keer gee ek dit vir my vrou sodat sy na die grammar, spelling, verbs, adjectives en die vader weet wat nog, moet kyk. En sy help tog te ywerig. Wederhelf – dis nou ek –  moet mos verder ‘geleerd’ raak!

Toe ons later dink ons het ‘n ‘meesterstuk’ van ‘n “report” opgestel, pos ek die stuk vir Unisa. Ek kry dit toe later terug. ‘n Skamele 43% is vir die taak toegeken. Skande!

As ek nog nooit bek-af was nie, was ek dit daardie dag. My hart het in my skoene gesak. My vrou se ego het natuurlik so ‘n effense knou gekry in die proses! – en sy hou nou nog eerder net vir die Engelse Sub A-tjies skool!

Ek het die volgende take weens werksverpligtinge en ander faktore taamlik vinnig alleen afgejaag en gepos – en geslaag! Ek het daarna amper die gevoel gekry dat jy nie te veel tyd en energie op ‘n taak moes spandeer nie.

Ek het nou nie juis ‘n taal-foendie geword met my bestudering van die amptelike tale op universiteitsvlak nie, maar dit het my darem beter insigte daarvan gegee, en het dit my ook so effens meer bedrewe gemaak met die geskrewe en gesproke woord as wat ek voorheen in staat was. Maar ek moet bieg, Engels soos die volgende – wat ek nou die dag in ‘n koerant raak lees – nog effe bo my vuurmaakplek is:

The pencil clattered to the table, but Mrs Le Roux caught and clutched it with remarkable address, her face under its unrefulgent wig retaining an air of expectant but serene exaltation despite the indignities visited upon its extremities

Net so kan ek nie ‘n sekere professor in staatsfilosofie op Stellenbosch se Afrikaans verstaan nie toe hy jare gelede, onder andere, die volgende geskryf het in sy poging om kritiese denke te stimuleer rondom die aartskonserwatiewe apartheidsdenke van destyds:

“Intellektuele eerlikheid vereis van my dat ek nie sal terugskrik van die eis van redelikheid nie, en dit impliseer dat alle uitsprake getoets moet word deur die logiese konsekwensies van ’n uitspraak te trek, deur die maatstaf van nie-kontradiksie toe te pas, deur ‘n gedurige toetsing aan die feite wat ter beskikking is, deur die gee van geldige redes vir afwykende interpretasies van erkende feite. Geldige redes veronderstel uitsprake wat waar of vals gemaak kan word, en dit is hierdie uitsprake wat verifieerbaar of weerlegbaar is wat ‘n sentrale rol in die oop gesprek speel. Sodra een van die deelnemers op mistieke aanvoelings terugval, word die oop gesprek vertroebel”.

Bla, bla, bla, bla… het hy voort gegaan. Ag, nee wat, ou prof!

G’n wonder dat die Nasionale Party se leiers van toeka nie na hom geluister het nie. Hulle het seker nie verstaan wat die geleerde professor probeer sê het nie? Ek ook nie.

Het sulke skrywery nie destyds vir George Orwell beweeg om eenkeer in ‘n ander verband die volgende te sê wat alle akademici ter harte behoort te neem nie?:

 “You have to be an intellectual to believe such nonsense. No ordinary man could be such a fool.”

DIPLOMATIEKE INSIDENT MET TRANSKEI: Gedurende November 1981 het die destydse Ciskeise tuisland sy sogenaamde onafhanklikheid gekry en sou die amptelike vieringe in King Williams Town en Bisho plaasvind. Op daardie stadium was die (politieke) verhoudinge tussen Transkei en Ciskei om een of ander rede taamlik suur gewees. Daar was toe inligting dat daar vanaf die naburige Transkei onwettige aksies geloods sou word om die vieringe in die Ciskei te ondermyn.

Die Suid-Afrikaanse regering het dit toe goed gedink om polisiemanne van oral uit die Republiek daarheen te stuur om te help om wet en orde tydens die onafhankklikheidsvieringe te handhaaf. Ek was in bevel van die groep polisiemanne uit die Boland. Ons het almal bymekaar gekom en kamp opgeslaan buite Stutterheim.

Ek en ‘n groep van my lede het eendag ‘n padblokkade, wat ons gedink het op Ciskeise grondgebied was, naby die Transkeise grens gaan opstel.  Wat ons egter nie geweet het nie, was dat daardie spesifieke plek of gebied tydens die konsolidasie van grond vir die tuislande so ‘n paar jaar voor dit, aan die Transkei oorgedra was. Met ander woorde, ons was dus vir alle praktiese doeleindes op Transkeise grondgebied. Maar ons is salig onbewus daarvan.

Soos die duiwel dit toe wil hê, stop daar ‘n konvooi motors by ons padblokkade van die Transkeise se kant af. Dit was toe niemand minder nie as die destydse Staatspresident van die Transkei, wyle Hoofman Kaizer Matanzima.

Matanzima en van sy gevolg klim toe uit en vra na die bevelvoerder en hy word na my verwys waar ek langs die pad op ‘n Land Rover se masjienkap sit. Ek herken hom toe dadelik, klim af en groet hom. Maar ek kom toe dadelik agter dat die ou kêrel in geen goeie bui is nie. Hy vra vir my, onder andere, wat ons daar maak? Ek vertel hom toe dat ons is met die pad blokkades besig om voorkomend op te tree sodat die Ciskei se onafhanklikheidsvieringe vreedsaam kan verloop en so aan.

Hy sê toe vir my: “But what are you doing in my country?”. Ek wys hom toe ewe na die rivier daar naby en sê dit is mos die grens en dat ons mos op die oomblik op Ciskeise grondgebied is. En ewe moerig verduidelik hy my toe wat die posisie is en dat ons moet pad vat. Ek besef toe dat indien dit waar is wat hy sê, hierdie mos nou ‘n “internasionale” diplomatieke insident van die eerste water gaan wees.

Ek is toe onmiddellik op die polisie-radio na ons hoof basis, vertel hulle wat pas gebeur het en versoek hulle om vas te stel wat die ware posisie is en of ek en my lede van ons ligging moet vertrek? Kort daarna bevestig hulle Matanzima se bewering en gee hulle opdrag dat ons met bekwame spoed na ons hoof basis moet terugkeer.

Matanzima het intussen via Buitelandse Sake deur die diplomatieke kanale die aangeleentheid met die SA regering opgeneem en sy woede oor die situasie uitgespreek. Die kat was as’t ware in die hoenderhok losgelaat! Ek – inteendeel al die senior offisiere daar saam met my – moes dringend beëdigde verklarings indien om ons optrede te verduidelik.

Ek is intussen na Stellenbosch verplaas ná my bevordering na die rang van Kaptein. Hier moes ek later nog steeds weer verdere skriftelike vrae oor die insident beantwoord. Die hele petalje het egter later ‘n stille dood gesterf. Ja, en daar is dié onafhanklike land, en vorige tuisland, Transkei, nou weer deel van die nuwe Suid-Afrika.

KENNISMAKING MET KAAPSE WYN-KULTUUR: Ek, wat in die Noord-Oos Kaap groot geword het, het nie wyn geken nie. Die enigste wyn wat ons geproe het, was die Monis soetwyn wat ons tydens Nagmaal gebruik het. Wyn was net nie ‘n ‘in ding’ in daardie deel van die wêreld nie. Dit gebeur toe dan so dat ek later te lande kom in van die bekendste wynmaak-areas in Suid-Afrika, naamlik Stellenbosch en Robertson.

Wat hier gaan volg, sal nou nie vir ‘n Wes-Kapenaar van enige belang of vreemd wees nie, maar ek wil tog iets daaroor sê.

So met die tyd na my aankoms hier, sien ek dat wyn taamlik algemeen gebruik word. En hoor ek hoe hierdie produk van die druif geromantiseer en in die wonderlikste Afrikaanse terme beskryf word. En sien ek hoe die kenners … en leke … die wyn in die glas rondswaai, dit bekyk en beloer en eers daaraan ruik (hulle “neus dit”, sal hulle partykeer sê) en dan so ‘n mondvol neem en in die mond rond spoel om, as finale aksie, die smaak te beoordeel. En ek het ook gehoor hoe die onderskeie wynmakers medaljes, hier en oorsee, wen.

Ek kon aanvanklik nooit rooiwyn oor my lippe kry nie. Gedink dit proe aaklig, met so ‘n frankerige smaak. “Dit gee aan ‘n ou se tande so ‘n stomp gevoel”, het iemand eendag gesê.

Ek onthou hoe ‘n vorige Amerikaanse president, Ronald Reagan, eendag opgemerk het toe sy opponent vir die kiesers gesê dat hy elke oggend ‘n koue stort geniet. Reagan se reaksie daarop was: “As iemand oor so-iets lieg, waaroor sal hy nie nog lieg nie?”. Ek het dit ook van die liefhebbers van rooiwyn begin gesê.

Ek het tog later jare begin om rooiwyn so af en toe te drink – veral toe ek oor die uitstekende gesondheidswaarde daarvan begin lees het. Dit werk as ‘n soort van anti-oksidant sê die kenners, wat onsuiwerhede uit die liggaam verwyder. En daar bly die gesegde “An apple a day keeps the doctor away ……” toe in die slag by party mense hier in die Kaap. Hier is dit nou: “A glass of red wine a day, keeps the doctor away” vir sekeres. Nou toe nou.

Wat witwyn betref: Ek het al sogenaamde goeie, duur wyne geproe en dit glad nie aangenaam gevind nie. Ek persoonlik gaan so te werk: Ek proe ‘n wyn en as dit lekker smaak, hou ék  daarvan en dink ek dit is ‘n goeie wyn. As dit nie vir my lekker smaak nie, is dit ‘n slegte of swak wyn. So eenvoudig soos dit. Wat die eksperte sien, ruik en proe, en wat die bottel wyn kos, maak nie op my indruk nie.

Hier word gepraat van droë; semi-soet; soet en gefortifiseerde wyne. Droë wyn is vir my niks anders as suur wyn nie. Ek hou nogal so af en toe van ‘n opregte soetetjie – hanepootjie of so – in die winter. Tjeers!

Swart mense, het ek gedink, is nie eintlik wyndrinkers nie. Maar ek onthou goed in die Transkei in die vroeë sewentigs, dat hulle daar besonder lief was vir ‘n wit wyn met die naam Paarl Perlé. Hulle dit  impalampala genoem – ‘n regte bakleiwyn. Ek weet nie of dit nog beskikbaar is nie, want ek jare laas daarvan hier in die Kaap gehoor.

EN OOK MET WATER-LEIBEURTE: Toe ek gedurende Mei 1975 vir die eerste by Stellenbosch rapporteer vir diens, stap ek daar in die geskiedkundige Dorpstraat en sien die stroom water wat hier op die rand van die pad in ‘n sloot afloop. Ek dink toe dat daar iewers ‘n waterpyp moes gebars het. Toe ek laatmiddag weer daar verby stap, loop die water steeds. Ek sê toe vir myself: “Wat ‘n vermorsing van water, kan hulle dan nie die pyp regmaak nie?”. Toe hoor ek later dat dit die sogenaamde leiwater is en dat die mense ‘n leibeurt kry. Dit was iets nuuts vir my. Selfs nooit voorheen daarvan gehoor nie.

Toe ek op Robertson begin Januarie 1977 aankom, toe het ek so wraggies ook een keer ‘n week ‘n 1-uur leiwater beurt by die huis waarin ons gewoon het. So ek kon my groentetuintjie daar sommer 1 keer per week lekker natlei.

Dan is daar dinge soos waterfiskale – dit is nou ouens wat my kyk dat ouens hulle waterleibeurt op ‘n spesifieke tyd afsny. Party boere daar in die Boland kroek partykeer en sit ‘n klip onder die plaat as hy die water afsny – die water gaan dus deur na die volgende ou toe, maar hy kry dan ook sommer terselfdertyd nog steeds water.  Water is in Suid-Afrika word beheer deur die sogenaamde Waterwet. Ek het nog nie ‘n wet gesien wat dikker en meer omvangryk as juis hierdie Waterwet is nie.

NUWE MINISTER, NUWE KOMMISSARIS: So ‘n jaar later na die inwyding van die nuwe Robertson polisiestasie, sien ek twee sulke groot swart motors buite my kantoor stilhou. Die een het so ‘n klein vlaggie vooraan gehad. Ek kyk toe wie dit sou wees en sien dat dit nuwe minister van Polisie, meneer Louis Le Grange en kommissaris Mike Geldenhuys is. Le Grange was vergesel deur sy vrou, terwyl Geldenhuys deur die nuwe dame in sy lewe vergesel was. Ek gaan uit en nooi hulle in.

Ek was sommer dadelik beïndruk met hierdie lang minister en sy vrou. Uiters vriendelik en geselserig gewees. Geldenhuys, aan die anderkant, het maar met sy stroewe gesig daar rond gestaan. En heeltyd hand om die lyf van die nuwe vrou aan sý sy. Duidelik verlief, so op sy ou dag. Watter rede het hy dan gehad om so befoeterd en onvriendelik te lyk, het ek gewonder? Of moes ‘n generaal van destyds maar só wees?

Le Grange sê toe dat hy die polisiestasie se geboue en gronde wil bekyk. Al moet ek dit nou self sê, my polisiestasie was besonder netjies en die grasperke en struike pragtig. Op ‘n stadium toe hulle rondloop en kyk sê hy aan sy vrou: “Ma, dit is nou regtig die netjiesste polisiestasie wat ek en jy nog sovêr by was”. En voel toe so half in my skik oor sy opmerking.

En skielik haak Geldenhuys af, “Ja, maar kyk na hierdie stuk papier wat hier rondlê”. Kan jy nou meer! Dit is toe ‘n stuk blink sellofaanpapier – die tipe wat om sigaretdosies aangebring word. Hoekom moes die wind dit nou spesifiek daardie dag op my gronde waai, dink ek by myself. En aan die anderkant is ek ook so half die donner in vir die generaal wat so ‘n spoil sport is.

OOR PUIK RESERVISTE EN GEVANGENISDIENS: Op dieselfde Robertson het ek te doene gekry met een van die mees entoesiastiese en bekwaamste – indien die beste nie – polisiereserviste, naamlik ene Johan (Lampies) Lambrechts. Ek het altyd verstom gestaan oor sy ywer en vermoëns. Die ure wat hy vir die Polisie gewerk het, moes seer sekerlik destyds ‘n Suid-Afrikaanse rekord gewees het, alhoewel ons nooit probeer vasstel het nie.

En wanneer die nood gedruk het, het ons altyd geweet dat ons op sy nommer kon druk. Rêrig ‘n staatmaker van die eerste water gewees. En sy kennis van algemene polisiewerk was van so ‘n aard dat hy in sy tyd tientalle jong polisiemanne oor die jare tou wys gemaak het.

Reservis Lampies het ‘n oog van die spreekwoordelike valk gehad. Ek het ‘n hele paar keer met hom patrolliewerk gedoen. Dan sê hy skielik vir my “Stop!”. Dan het hy byvoorbeeld iemand agter ‘n boom of heining sien wegkruip. Ek kon nooit verstaan hoekom ek dan so “stiksienig” was en nie dieselfde waarnemingsvermoë as hy kon ten toon stel nie.

Hy het byvoorbeeld ook die vermoë gehad om wanneer ons ‘n verdagte ondervra, fyn op te let of die persoon lieg al dan nie. Hy sal dan sommer vir die verdagte sê: “Maar hoekom klop daardie slagaar aan jou nek dan so vinnig?” Of: “Kyk hoe bewe daardie broek van hom” ensovoorts. Gewoonlik was die uiteinde dat die verdagte inderdaad wel skuldig was na hy al hierdie dinge waargeneem het. En kón hy, wanneer dit nodig was, nie ‘n lekker klap met sy groot hande en piesang vingers uitdeel nie!

Ook op dieselfde dorp het ons vriende geraak met ‘n lid van die Gevangenisdienspersoneel, naamlik die kalm en bedaarde kêrel en ‘cool cat’ , Brian Carstens, en sy vrou, Vasthi, met haar hartlike, spontane lag en aristokratiese “looks”.

As ek aan hierdie tweetjies dink, gaan my gedagtes altyd terug na die Gevangenisdiens (Nou: Korrektiewe Dienste) – soos ek dit destyds geken het. Dit was voorheen een van die bes-bestuurde departemente in Suid-Afrika. Ek onthou altyd die personeel met hulle netjiese uniforms; die netheid en orde in die gevangenisse. In die nuwe Suid-Afrika is dit net die teenoorgestelde. Wat het by dié instelling verkeerd geloop? Wanbestuur en korrupsie is aan die orde van die dag! Tragies.

DAARDIE KWAAI KOMMISSARIS OPEN MACASSAR POLISIESTASIE, MET MY SPIETS: Dieselfde Geldenhuys waarna ek hierbo verwys, moes eendag ‘n toespraak hou by die amptelike opening van die Macassar polisiestasie net buitekant Somerset-Wes.

Ek het destyds die konsep toespraak geskryf nadat ek navorsing gedoen het oor die geskiedenis van Macassar, waarna dit na Hoofkantoor gestuur is waar dit dan vir hom opge-polish sou word.

 In elk geval, die aankondiger kondig toe aan dat Geldenhuys ‘n toespraak gaan lewer. Hy gaan staan toe by die podium voor die mikrofoon en begin toe met sy toespraak. Ek sit aandagtig en luister, want ek wil hoor in watter mate hulle die konsep toespraak verander het.

Hy het al so paar bladsye afgelees toe daar skielik so ‘n sterk dwarrelwindjie opkom en dit waai ‘n paar van die blaaie uit sy hand uit. Hy buk toe af en tel dit sommer self op. Dit blyk toe dat hy die blaaie nie vinnig genoeg in dieselfde volgorde kon kry nie.

Maar hy begin verder lees asof niks in die wêreld gebeur het nie. Toe hy weer na die volgende bladsy oorslaan en ‘n stukkie lees, besef hy blykbaar dat hy daardie spesifieke bladsy alreeds gelees het, maar hy laat hom nie afsit nie. Hy huiwer net so ‘n oomblik en sê ewe hardop … “en soos ek gesê het …” en begin toe weer om dieselfde bladsy oor te lees.

Dit is nou kophou vir jou. En ons offisiere kon nie waag om vir hierdie kwaai generaal te lag nie.

AFRIKANER-SKEURING STEEK ORALS KOP UIT: Dit was gedurende 1982 op Maleoskop buite Groblersdal waar ek ‘n teeninsurgensie kursus deurloop het, pas nadat die KP van Dr Andries Treurnicht gestig is. Soos dit die gebruik was, het ons elk oggend op die parade ‘n beurt gekry om uit die Bybel te lees en te bid. Een oggend in mý gebed, bid ek toe ook sommer, onder andere, vir die regering van die dag ook – vir wysheid en so aan, jy sien!

Sekere van my kollegas – dit is nou ondersteuners van die KP – was toe rêrig nie met my beïndruk gewees nie. En sê toe direk vir my so – sonder om enige doekies om te draai. Ek sal die een ou se woorde egter nooit vergeet nie. Hy sê: “Hoe kan jy vir PW Botha bid, man – die man het dan net ‘n 10-punt plan”.

As ek so terug dink, was daar inderdaad een of ander politieke 10-punt plan wat meneer Botha destyds verkondig het.

Those were the days, hoor ek my vriend sê.

Dit was ook in hierdie tyd dat die Afrikaanse Protestante Kerk (APK) gestig is toe Andries Treurnicht-hulle die Konserwatiewe Party (KP) gestig het – hulle, wat toe ‘n onoorkomelike ‘probleem’ met die NP en die NG Kerk ontwikkel het. Tot vandag toe – met die beste wil in die wêreld – kan ek nog steeds nie hierdie kerk (APK) se stigting uit ‘n godsdienstige en kerklike oogpunt begryp nie. Alweer die predikante! Dit het net nie vir my sin gemaak nie. Om ‘n ander politieke party te stig, ja, maar om ‘n ander kerk ook te gaan stig …? Ek is te dom om dit te verstaan.

IN OWAMBOLAND, EN EK TOB OOR SUIDER-AFRIKA SE TOEKOMS: Nog voordat Suid-Wes Afrika (Namibië) onafhanklik geraak het, het ons so op ‘n snikhete dag in Ovamboland met ‘n Caspir voertuig deur die bosse geploeter. Ek was ‘n jong offisier en het teeninsurgensie diens gedoen. SWAPO was ons vyand in hierdie terroriste-oorlog.

Dit was nie ‘n besige dag nie en was op pad terug na ons basis net suid van Angola in Ovamboland. Terwyl ons deur die bos aansukkel, het ek met myself gesit en gefilosofeer oor wat ek besig was om te doen, die politieke situasie dáár en in Suider-Afrika in die algemeen.

Ek het myself ook die vraag afgevra of, wanneer ek eendag terug kyk na my ‘diens’ hier as polisieman – deels gedwonge kwasi-soldaat – ek dit die moeite werd sou ag? Nóú weet ek dit was nie. En dit nadat ek, ons almal, in sulke lewensgevaarlike situasies ingestuur is.

Wat ek dus hier probeer sê, is dit: ons was sommer ernstig wanaangewend én misbruik! Maar net nog ‘n pion in die politieke magspel van die tyd gewees. Ek is nog steeds half vies daaroor.

Terloops, watter siviele polisiemag in die wêreld was, soos die SA Polisie van destyds, ook so goed opgelei in (bos)oorlogvoering of teeninsurgensie? My kollega op Stellenbosch, Blackie Swart, het altyd na grensdienste verwys as “soldaatjie-soldaatjie” speel. Ons het by die SAP aangesluit om polisiewerk te doen – nie om oorlog te maak nie.

Ek was op hierdie stadium van my lewe natuurlik baie meer bewus van wat in Suid-Afrika en elders aangaan. Ek was al vir jare lank ‘n ywerige koerantleser, met ‘n groot belangstelling in die aktuele sake van die dag. En spesifiek die politiek. Tot vandag toe.

Ek het gedink aan Mosambiek wat ook na ‘n oorlog onafhanklik gekry het. Ek het gedink aan Zimbabwe wat 2 jaar vantevore onafhanklikheid gekry het, ‘n land waar die SA Polisie ook in ‘n oorlog teen terroriste moes veg. En toe gaan sny Eerste Minister BJ Vorster in elk geval premier Ian Smith se water en ligte later af. So what was the use then?

Vorster het mos subtiele, periodieke sanksies teen Rhodesië toegepas om die Eerste Minister daar, Ian Smith, te dwing om met die leiers van die swart politieke bewegings te praat. Maar hy wou self nie hier met hulle praat nie!

En ek het gewonder wat Suid-Wes Afrika se posisie in die nabye toekoms sal wees. En indien hierdie land ook onafhanklikheid kry, wat was dan die doel van my teenwoordigheid hier? Sou ek dit dan sien as ‘n mors van tyd? En so aan. Sien!?

So ‘n paar minute later daardie dag besluit ek toe ek wil die Caspir verder bestuur basis toe. Ek het tot op daardie stadium nog nooit hierdie tipe voertuie bestuur nie. Ek het sommer net daardie dag lus gehad.

Langs my aan die passasierskant het ‘n sogenaamde “buddy” gesit. Dit was ‘n plaaslike inwoner (Ovambo) wat as ‘n spesiale konstabel opgelei is om saam met ons in die oorlog te baklei. Hulle was veral uitstekende spoorsnyers.  Hulle het ook saam met ons in die basis gebly.

In elk geval, op ‘n stadium is ek besig om in die diep spore wat die Caspir voor ons in die sand trap te ry. Sonder om aan die stuurwiel vas te hou, het my Caspir eenvoudig in die voorste een in die diep sandspore gevolg.

Ek het dit gedoen om die “buddy” langs my te vermaak, want ek kon so uit die hoek van oog sien hoe hy in verwondering na my kyk, want hy sien hoe ek bestuur sonder om die stuurwiel vas te hou. Dalk het hy gedink die kaptein is ‘n taamlike “cool” ou. Maar nie vir lank nie …

Die volgende oomblik, egter, is daar ‘n oorverdowende slag. Ons het toe ‘n dubbele kaasmyn – so het ons later vasgestel – met ons regter voorwiel afgetrap. Die slag van die ontploffing was so hewig dat ons Caspir enkele treë verder op die dak te lande gekom het.

‘n Eienaardigheid van hierdie voorval, was die feit dat die landmyn nie afgegaan het toe die voorste voertuig daaroor gery het nie. Ons beskermings engel was ook saam met ons gewees, in die sin dat van die polisiemanne wat bo-op die dak (‘n slegte gewoonte, waarvan ek my self ook partykeer skuldig gemaak het) van my Caspir gesit het, nie onder die voertuig te lande gekom het toe dit omgeslaan het nie. Hulle was enkele meters verder op die grond, weg van die voertuig, geslinger.

‘n Hele paar ouens was ernstig beseer en moes ek helikopters vanaf Oshakati laat invlieg om hulle van die toneel te kom haal vir mediese behandeling.

Ons probleme vir daardie dag het toe ook nie sommer daar geëindig nie. Daardie aand kry een adjudant-offisier ‘n niersteen aanval. En ek verbeel my toe dat hy besig om dood te gaan. Of so het dit vir ons voorgekom.

Weer eens moes ek in die nag ‘n helikopter laat kom om hom ook na die hospitaal op Oshakati te verwyder. Die helikopter loodse was gewoonlik nie beïndruk nie, omdat hulle gevrees het dat sulke nagwerk hulle maklike teikens vir ‘n RPG-vuurpyl aanval of iets dergeliks sou maak.

Dit was tydens hierdie toer in Ovamboland waar ek die ouens van Koevoet – destyds beroemd; deesdae berug – die eerste keer ontmoet het. En gesien het hoe hulle opereer. Kyk, hulle was vir hulself  ‘vername’ ouens gewees en met die nodige “attitude” daarby – ‘n macho-houding dus. En as ‘n lid van hierdie eenheid moes jy ‘n baard gegroei het om die “image” heeltemal reg te kry. Hoe tawwer jy opgetree het, hoe hoër was jou aansien. En jou oë moes vuur spoeg. En ‘n bars kon kyk! … à la Jan F Cilliers.

Baie jong polisiemanne wou bitter graag deel van hierdie eenheid gewees het. Ek weer, het glad nie so ‘n behoefte gehad nie.

Ek wou nie wees wat ek nie is nie.

Maar, dit gesê, daar was niemand wat by hulle kers kon vashou wat betref die opsporing en uitwissing van terroriste nie. Hulle was wat betref die taak wat hulle veronderstel was om te verrig, uiters effektief. No two ways about it. Die weermag se ouens wat ook daar in die terroriste oorlog betrokke was, kon net dieselfde suksesse wys nie. Nie naastenby nie.

En jou suksesse was gemeet aan syfers, met ander woorde die aantal “kills” (soos dit genoem was) wat jy op jou kerfstok gehad het. Ek dink dit was daardie jare maar ‘n bitter pil gewees vir die weermag om te sluk.

Terwyl ek eendag in die basis op Ongha in Ovamboland was, kry ek inligting dat daar twee Swapo terroriste in ‘n kraal noord van ons naby die Angolese grens skuil. Die beriggewer se inligting was duidelik dat die een ‘n voetbesering opgedoen het en dat die tweede een ‘n sogenaamde “medic” is wat saam met hom agter gebly het. Laasgenoemde moes die beseerde een se voet gesond dokter totdat hy behoorlik kan loop sodat hulle later die grens na Angola kan oorsteek.

Ek kry toe my lede bymekaar en vertrek met ‘n aantal caspirs na die betrokke kraal waar ons dit van verskillende rigtings nader en as’t ware omsingel. Ons vra toe al die mense – PB’s (plaaslike bevolking) het ons hulle genoem – daar teenwoordig om uit te kom. Ek hou toe mooi dop en sien, ja wragtie, daar is een wat effens kruppel loop.

Ons kry toe beseerde in die hande en begin hom eenkant ondervra. Hy het op een of ander manier ‘n wond aan die onderkant van sy voet opgedoen. Hy het privaat drag aangehad om natuurlik so ‘saam te smelt’ met die plaaslike bevolking om aandag te vermy. Maar die terroris wil ons geen inligting gee of enigiets erken nie. Ek wou graag sy ‘maatjie’ ook gehad het. Ons het ook uit ondervinding geweet dat hulle in sulke situasies hulle uniforms en wapens gewoonlik wegsteek.

Een van die polisiemanne stel toe voor dat ons ‘n gat in daardie wêreld se diep, los sand moet grawe en dan die ou so kop en skouers eerste, daarin vir ‘n kort rukkie moet begrawe. Dan haal ons hom weer uit en op dié manier sal hy gou soos ‘n kanarie begin sing.

Ek het nie gedink dat dit ‘n wonderlike idee is om die ou so lewend te begrawe nie, maar het tog gedink dat die gat gegrawe moet word en dat ons hom dan sal skrik maak deur hom net met begrawing te dreig. Die gat – so 2 voet diep – was pas klaar gegrawe en toe ons na sy rigting wys, raak dit een te veel vir hom en daar blaker hy alles uit. Eerste wys hy die “medic” uit wat daar so ewe onskuldig tussen die mense probeer staan. En toe ons hom ook het, gaan wys hulle sommer die plek in ‘n bos daar naby uit waar hulle uniforms en gewere begrawe het.

Twee interessante dinge wil ek noem: In die “medic” se mediese sak vind ek, onder andere, ‘n polisie-lepel, nogal SAP gemerk ook. Hulle het elkeen ook ‘n AK-47 geweer daar onder die grond weggesteek gehad en beide was sommer lekker geroes. Ek het altwee AK 47’s met patrone gelaai om te sien of hulle in daardie geroeste toestand nog kan skiet. En sowaar, dit funksioneer nog so goed soos nuwes. Ek was beïndruk daarmee, want ons eie gewere – die R1’s – moes ons gedurig skoonhou en olie, want met die geringste stof of vuilheid, sal dit stoor (of vashaak), wat jou in die moeilikheid in ‘n gevaarsituasie kan bring. Gin wonder die AK-47 is wêreldwyd so gewild nie.

Ons het hierdie twee Swapo terroriste by Koevoet in Oshakati gaan aflaai waar hulle verder ondervra sou word. Wat uiteindelik toe met hulle gebeur het, weet ek tot vandag toe nie.

Tydens hierdie toer in Ovamboland het die polisie se kapelane ons van tyd tot tyd besoek om na ons geestelike behoeftes om te sien. So kom daar eendag ‘n jong, nuut aangestelde kapelaan – ene Kaptein (Ds) Kruger – op my basis aan.

Die ou, ervare kapelane het aangeleer om maar effens doof te wees vir die taal wat die polisiemanne op die grense gebruik het. Vloekwoorde het maar kort-kort voorgekom, so sonder dat hulle dit besef, selfs al praat hulle met die dominie. Rof en onbeskof gewees daar.

Vir kaptein (Ds) Kruger was dit aanvanklik baie moeilik gewees en wou hy elke keer vir die skuldige polisieman ‘n prekie daaroor afsteek. Meesal sonder enige positiewe resultate. Of vir net ‘n rukkie.

Ons het ‘n swart Ovambo weeskind – gedoop ‘Krappies’ deur die polisiemanne – in die basis gehad. So ongeveer 9-10 jaar oud. Die SWAPO terroriste het sy ouers en familie uitgewis. Hy het soggens my tent uitgevee en my boots ge-polish. En al ons versuikerde vrugtelekkers geëet wat ons vrouens tog so graag en gereeld vir ons bos toe gestuur het. Ons kon net nie meer ons lippe daaraan sit nie – Krappies kon nog.

Die jong polisiemanne het probeer om vir Krappies Afrikaanse woorde aan te leer. As jy hom byvoorbeeld gevra het: Wat is ‘n terroris?, het die jong polisiemanne hom geleer om as volg te antwoord: “n Terroris is k@k”.

So sê ‘n moedswillige konstabel toe vir Ds Kruger dat Krappies so ‘n bietjie Afrikaans kan praat en stel toe sommer daar en dan voor dat Kruger hom moet vra wat ‘n terroris is. En Kruger doen dit toe so ewe entoesiasties. En daar antwoord Krappies toe soos hy geleer is! Ag, ek sien nou nog die teleurstelling – of was dit skok? – op Kruger se gesig!

Ekself het ook so ‘n bietjie gatvol vir Ds Kruger se geneul geraak. Hy sou die aand by ons oorslaap. Ek het, as basis bevelvoerder, ‘n groot tent gehad waarin ‘n ekstra bed vir ‘n besoekende gas gestaan het. Kruger sou op dié bed slaap.

Ek het daardie dag toevallig my troepe weer die gewone in-oefeninge laat doen, sodat elke lid seker sou wees wat om te doen as ons basis dalk in die nag deur terroriste aangeval sou word. Ons het gepraat van “as die terroriste die basis rêv”.

Party lede moes na die sogenaamde “shangers” wat op strategiese plekke in die basis opgerig was, hardloop; party na die mortier stellings; party na sekere strategiese plekke op die hoë sand mure wat die basis omring het; party na die radio kamer ensovoorts.

Kruger moes na die radio kamer hardloop en daar in die bunker daaronder skuiling soek.

Ek wou vir Kruger so ‘n bietjie skrik maak. Ek reël toe dat wanneer ek en hy ons tent se ligte afsit, ‘n paar lede so 15 minute daarna ‘n aantal handgranate aan die buitekant van die sand muur, maar naby ons tent, moet laat ontplof.

En so gebeur dit toe. Oorverdowend gaan die handgranate daar in die doodse nagstilte in die Ovamboland bos af. Ek skree toe vir Kruger: “Dominie, hulle rêv ons!!!”.

Kruger ken toe mos die drills, en weet dat hy met spoed na die radio kamer se bunker moet hardloop. En in sy oorhaastigheid en geskokte toestand, hak sy voet net buite die tent aan een van die tentpenne vas en slaan soos ‘n os op die grond neer!

Ek kan nou nog sweer dat hy daardie aand in sy toestand van skok en vrees, wel ‘n paar (aangeleerde?!) vloekwoorde ge-uiter het!

Toe ons hom die volgende dag na die naburige basis neem vir sy besoek daar, was hy die ene senuwees en heeltyd op sy hoede. Sonde.

Ek en Kruger was jare later (1993) weer saam op ‘n senior Bestuursontwikkelingskursus in Graaff-Reinet. Hy was toe ‘n kapelaan in Oudtshoorn. Ek vertel hom toe die ware verhaal tydens sy besoek op my basis destyds. En lekker gelag daaroor en net vir my gesê: “Jou klein rakker!”.

Hy was toe al ‘n gesoute kapelaan en het nie omgegee om ‘n bier of twee saam met ons te geniet nie. Inteendeel, hy kon lekker saamkuier. Hy het gewoonlik na ‘n bier as ‘n ‘vloeibare verversingkie’ verwys.  Hy het ‘n goeie sangstem gehad en talle kere vir ons op die kursus gesing.

SOWETO, 16 JUNIE 1976: Ons was weer besig met ‘n teeninsurgensie kursus – die sogenaamde boskursus – op die plaas Maleoskop naby Groblersdal toe die onluste op 16 Junie 1976 in Soweto uitbreek. Dit was die volgende oggend vroeg dat ons op ‘n parade byeengeroep en meegedeel word dat ons dadelik na Soweto gaan vertrek om te help om die opstand daar te onderdruk.

Ek was ‘n jong adjudant-offisier, en op daardie stadium van my loopbaan was ek nog nooit in ‘n onluste-situasie betrokke gewees nie. Ek het ook nie opleiding vir so-iets ontvang nie. Ek het in my stilligheid gewonder wat presies daar aangaan; hoe dit lyk en wat ons gaan doen, met ander woorde, hoe gaan ons dit “onderdruk”?

Ons was opgelei om terroriste te beveg – nie om onlusmakers te onderdruk nie.

Ons is toe binne ‘n uur of wat daar weg in Land Rovers, Spoke (Die “spook” was ‘n tipe mynbestande voertuig) en oop Bedford trokke. Daar was nog nie Caspirs nie.

Toe ons so teen laatmiddag Johannesburg op die hoofweë nader in ‘n ellelange konvooi, het die motoriste vir ons gewaai en party het die V-teken met die vingers aan ons gewys. Ek wonder nou nog wat hulle daarmee bedoel het?

Ons het teen skemer in Soweto aangekom en by ‘n sekere polisiestasie, wat se naam ek nie meer kan onthou nie, aangekom. Dinge was maar taamlik chaoties. Dit het vir my voorgekom asof die hele Soweto aan die brand was. Die hele plek was onder rook. Geboue en motors het oral gebrand.

Wat ek spesifiek kan onthou, was dat ‘n klomp van die inwoners vir dae lank sterk onder die invloed van drank was. Dit was die gevolg talle drankwinkels wat beroof en afgebrand is. “Gratis” drank was dus vir baie beskikbaar wat wou hê. En sekeres van hulle het die geleentheid duidelik optimaal benut.

Ons is opdrag gegee om die strate te patrolleer en die situasie maar te hanteer soos ons dit teëkom. Die ondervinding was vir my soos iets uit ‘n nare fliek. Talle persone was dood gemaak en het oral rond gelê.

Behalwe die wat in skermutselings deur die veiligheidsmagte geskiet is, het van die inwoners mekaar ook om onverklaarbare redes dood gemaak. Daar was ook seker maar baie “old scores ge-settle”.

As ‘n mens van die 1976 Soweto-onluste praat, dink ‘n mens outomaties aan groepe skoolkinders wat betoog teen die geforseerde aanbieding in Afrikaans (ek het nog steeds twyfel daaroor, aangesien dit maar net dalk as ‘n rookskerm gebruik kon gewees het) in hulle skole. Maar ek het geen skoolkinders sien betoog nie. Dit was seker die dag voor ons daar aangekom het. Toe ons daar aankom, het misdadige en ander elemente alreeds die situasie oorgeneem en hulle eie ding(e) begin doen.

In die hele tyd wat ek daar was – so ongeveer 3 weke – het ek nooit die naam Hector Pieterson gehoor nie. Volgens die media later was hy die eerste persoon wat in Soweto deur die veiligheidsmagte op 16 Junie 1976 dood geskiet is.

Dit was ook ons taak om die lyke op te laai en na die polisiestasies te neem vir identifisering en lykskouïngs. Dit was nie ‘n aangename ervaring nie. Ek het ook in die geharwar gesien hoe lyke deur privaat mense opgetel en in motors weggery word. Ek het baie keer daarna gewonder wat van daardie lyke geword het en of daar ooit lykskouïngs daarop uitgevoer is.

Ons kos- en slaapgeriewe was van die swakste denkbaar. Ons het ook “rat packs” (kospakkies)  ontvang. Van die inwoners van Johannesburg het ook partykeer vir ons kos ingestuur. Die Polisie was beslis nie gerat gewees om iets op hierdie skaal te hanteer nie. Die logistiek was eenvoudig pateties.

Ons was ontsettend besig gewees. Dag en nag. Ek het ‘n spieël na meer as ‘n week of wat vir die eerste keer gesien. Toe het ek al sommer ‘n redelike stoppelbaard gehad. Ek het in die tyd ook vir die eerste keer die Baragwanath-hospitaal gesien toe ons beseerdes daarheen geneem het.

Ek het baie nagedink oor die Soweto-onluste van 1976. En die uiteindelike gevolg ten opsigte van lewensverlies. Want dit was baie. Etlike honderde. Ek weet, want ek was daar vanaf die tweede dag.

Ons het rug teen rug agterop daardie oop Bedford trokke se (middel) sitplekke gesit. Nooit was daar een keer ‘n skoot na ons gevuur nie. Ek aanvaar dat daar nie veel onwettige vuurwapens daardie tyd in Soweto was nie. Was daar wel gewees, sou daar seker maar heelwat polisie-sterftes ook gewees het. Ons sou “sitting ducks” op daardie oop Bedford trokke gewees het.

Maar dit is veral oor daardie eerste dag waaroor ek baie nagedink het. Dit was die dag toe die skoolkinders in die strate gemarsjeer en betoog het. En ek wonder ook nog steeds of hulle inderdaad alleen verantwoordelik was vir die beplanning en uitvoering van die opstande? Of was dit so beplan dat dit die persepsie moes skep?

Ek kan amper nie glo dat skoolkinders op hulle eie die politieke bewussyn – veral daardie jare – gehad het om die Afrikaanse-kwessie onder die loep te neem, te bespreek en daarna tot openbare optogte te besluit en dit inderdaad uit te voer nie.

Ek was maar daardie jare ‘n “foot soldier” en het nie ‘n oorhoofse veiligheidsbeeld van die situasie in Soweto gehad nie. Nog minder het ek insae tot enige intelligensie verslae (as daar was) gehad.

Maar, in weerwil van dit alles: Kom ons dink onsself nou in die scenario in toe die eerste groep polisiemanne op die toneel aankom en die skoolkinders konfronteer. Kom ons plaas ons nou self in die posisie van ‘n duiwelsadvokaat. Kom ons vrae dan ‘n paar vrae.

Wie was die bevelvoerder? Watter soort mens was hy? Hoe het hy die situasie opgesom? Wat se gevaar het die vyand (sic), of liewer; die skoolkinders, daar gestel? Watter alternatiewe het hy oorweeg om die situasie te hanteer? Het hy ‘n harde benadering oorweeg? Het hy enigsins ‘n sagter benadering oorweeg? Wat het hy gedoen om die situasie, sê maar deur onderhandelinge, te ontlont? Indien nie, hoekom nie?

Kom ons vat die situasie ‘n stap verder. Het hy opgetree? Op watter tipe optrede het hy besluit? Het hy genoeg mannekrag gehad? Het hy op minimum of maksimum geweld besluit? Wat het hom laat besluit om uiteindelik op te tree? Het hy en sy manne miskien oorreageer? Watter middele vir doeleindes van minimum geweld, soos byvoorbeeld traanrook, rubberkoeëls, skokgranate, knuppels, sambokke, skilde, waterkanonne ensovoorts, het hy tot sy beskikking gehad om die situasie waarmee hy gekonfronteer was, te gebruik?

[Terloops, op daardie stadium in Suid-Afrika was daar nog nie opgeleide onlus-eenhede of ‘n Afdeling Binnelandse Stabiliteit (ABS), soos dit later genoem is nie]

Hoekom is Hector Pietersen – en andere – byvoorbeeld dood geskiet? En hoekom is die (ongewapende) kinders maar nie op daardie dag laat voortgaan om hulle punt – deur te marsjeer en te betoog – te maak nie? Wat se skade kon dit tog doen?

Hoekom was dit daardie jare so ‘n onverskoonbare ‘sonde’ in die Staat se oë as mense betoog het – en wat ten alle koste teen gegaan moes word?

En nog verder: Wat was die reaksie van die kinders toe daar teen hulle opgetree word? Wat was die algemene publiek in Soweto se reaksie as gevolg van die polisie se optrede teen die skoolkinders? Het die polisie die massiewe gevolge voorsien, met ander woorde, dit wat ons die volgende dag en dae later daar kom vind en beleef het? Was dit eenvoudige die resultaat van dom, ondeurdagte optrede van die polisie se kant op daardie dag?

Ek sal bly wonder – wonder of ‘n meer taktiese, intelligenter benadering van onderhandeling of minimum geweld teenoor die skoolkinders, nie die gevolglike doellose, grootskaalse geweld en lewensverlies oral in Soweto sou verhoed het nie? Ek vra maar net. Ons sal seker nooit weet nie.

En ek wonder wat die Cilliers-kommissie op hierdie punt bevind het?

Die vraag kan tereg gevra word of die Polisie gedink het dat hulle optrede teen die kinders daardie eerste dag enige kort- of langtermyn voordele vir Suid-Afrika sou ingehou het. Of enige iets anders sou verhoed het?

Het die Polisie se verkeerde optrede daardie dag weens ondeurdagte optrede helde gemaak van die skoolkinders van Soweto?

Die Cape Argus koerant het ‘n paar dae gelede ‘n groot foto geplaas waar ‘n senior polisie-offisier op 16 Junie 1976 in gesprek is met groep skoolkinders in Soweto. Ek het weer aandagtig en met belangstelling na daardie foto gekyk. En opgelet na die kinders se “body language”. Hulle lyk kalm – eintlik vriendelik – en daar is geen aggressie te bespeur nie. En geen stok op klip in die hand nie. ‘n Mens kan net wonder waaroor die gesprek gegaan het? En wat onmiddellik daarna gebeur het? En was hierdie groep ‘n gevaar vir die Staat?

Die ANC het op ‘n stadium laat blyk dat die Soweto-opstande hulle onkant gevang het, met ander woorde dat dit ‘n skielike, maar spontane reaksie deur die skoolkinders was.

Ek lees egter nou die dag dat Dr Mtsoko Pheko, president van die PAC, beweer dat sy party verantwoordelik was vir dié opstande. Hy sê dat 18 PAC leiers die enigste was wat aangekla en tronk toe gestuur isdaarvoor.

As bewys van die PAC se “vername rol” in hierdie verband, wys hy op die woorde van regter David Curlewis toe dié gesê dat die PAC-leier Zephniah Mothopeng doelbewus opgetree het om anargie en rewolusie te bewerkstellig; dat hy die onluste beplan en voorspel het, wat toe uiteindelik op 16 Junie plaasgevind het, sowel as in Kagiso die volgende dag. Of dít ook waar is, weet ek ook nie.

Na Soweto was daar weer gedurende 1980 en vanaf 1984 taamlik onrus in Suid-Afrika gewees.

 STEVE BIKO EN SWART BEWUSSYN: Volgens getuienis het die swart bewussynsleier, Steve Biko, se denke en geskrifte ‘n besliste en oorheersende invloed op die jeug leiers van Soweto destyds gehad. Hy is die enkele persoon wat ‘n beslissende rol gespeel het om hulle denke sodanig te beïnvloed, te wete dat dit nie nodig is om onderdanig aan die witman te wees nie; dat hulle minderwaardigheidsgevoel teenoor witmense moet afskud: dat hulle moet trots te wees op hulle eie swartheid en dat hulle – die swartes – enige onderdrukking en diskriminasie moet teenstaan omdat hulle as menslike wesens op geen wyse ongelyk aan die witmense is nie. “Black is beautiful” was sy oproep aan sy mense.  Biko – ‘n bewese intellektueel – kan tereg beskou word as die persoon wat die psige en denke van die swartes op so ‘n wyse beïnvloed het wat, meer as enigiemand anders, uiteindelik tot die radikale veranderinge in hierdie land tot gevolg gehad het.

EUGENE DE KOCK: Ek is ‘n maand of wat na die Soweto onluste na die SA Polisiekollege in Pretoria om ‘n offisiers kursus by te woon. Ek het tydens hierdie kursus vir kolonel Eugene De Kock, die vorige bevelvoerder van Vlakplaas, die eerste keer ontmoet het. Op daardie stadium was ek nog nie bewus van sy agtergrond nie.

Die volgende keer wat ek hom weer ontmoet het, was tydens ‘n bestuurskursus in dieselfde kollege gedurende 1987. Hy het reg agter my in die klas gesit. Hy was die stil soort en nie juis ‘n spraaksame ou nie.

Daarna sou ons weer saam ‘n bestuursontwikkelingskursus in Graaff-Reinet gedurende November 1993 bywoon. Alhoewel daar ‘n sitplek vir hom gereserveer was, het hy nie opgedaag nie. Daar was toe gerugte dat hy ‘n uittreepakket aangebied is.

De Kock is nou in die tronk. Ek wonder hoe voel die ouens – sy base – wat hom opgelei, instruksies en ‘n vrye hand gegee het, daaroor? Nog al die tyd doodstil. Ek voel partykeer jammer vir hierdie kollega van my. Ander kere weer nie.

Maar hoe sê hulle?: Die “voetsoldate” sal maar altyd die prys betaal, terwyl die generaals maar nog steeds die sjampanje sal drink.

Ek het al baie gelees oor die sielkunde agter ‘n persoon met ‘n aangebôre neiging tot geweld (En hierdeur beweer ek nie dat De Kock só ‘n persoon was nie, want ek weet nie). En wat dan gebeur as sodanige gewelddadige mens betrokke raak, sê by iets soos die destydse Veiligheidspolisie; Koevoet; Vlakplaas; die BSB en soortgelyke eenhede?

En hoe hulle dan verder by hierdie eenhede spesifiek vir gewelddadige optredes opgelei en geslyp word. Is dit in diesulkes se kraal, met ander woorde, het sodanige eenhede ‘n soort van natuurlike aantrekkingskrag vir persone met sulke (gewelddadige) sielkundige afwykings? Sal ‘n persoon dus gedy in die werksomgewing wat sulke eenhede vir hom skep en voorsê – soos tydens die vorige era? Ek dink so. Inteendeel: Ek het dit by sekeres waar geneem.

BEITBRUG GRENSDIENS: Gedurende die einde van 1979 en begin 1980 het ek grensdiens verrig met ons hoof basis op Beitbrug. Ons het die hele noordelike grens gedek vanaf All Days in die weste tot by Pafurie aan die oostekant in die Kruger Wildtuin.

In hierdie tyd het ons ook nóú saam met die SA Weermag gewerk. En ook weekliks saam met hulle offisiere die sogenaamde VEIKOM (Veiligheidskomitee) vergaderings bygewoon. Die weermag het op daardie stadium aan die suidekant van Rhodesië (soos Zimbabwe tóé genoem was) ‘n teenwoordigheid gehad.

Ek moes een aand net sinies lag toe ek PW Botha pertinent oor die televisie hoor ontken dat die Weermag enigsins in Rhodesië ‘n teenwoordig het. Ek het gedink dit maar is hoe dinge gedoen word.

Op daardie stadium was die aanloop tot die eerste verkiesings na die sogenaamde Lanchester beraad, waarin al die swart vryheidsbewegings ook kon deelneem, in volle swang gewees.

Miskien was dit maar net wensdenkery, maar die algemene gevoel was dat Biskop Abel Mozurewa se party die verkiesing daar sou wen. ‘n Mozurewa-regering sou die Suid-Afrikaanse regering natuurlik baie meer goedgesind wees.

Ek onthou die nog hoe groot almal se verbasing – of was dit skok? – was toe Robert Mugabe se party die verkiesing taamlik loshande daar wen.

Ons basis was by die Beitbrug. Ek het kort na die verkiesingsuitslag ‘n paar keer saans naby die brug gaan staan en gesien hoe die SA Weermag se gevegsvoertuie vanaf Zimbabwe oor die brug na Suid-Afrika terugkeer. Wanneer dit dag geword het, was dit weer stil. Wanneer nag aanbreek, was dit maar weer so. En dan het ek maar weer aan PW Botha se ontkenning oor die televisie gedink.

OSHOEK GRENSDIENS: Gedurende 1984 het ek weer grensdienste verrig aan die Oos-Transvaalse grens met Swaziland, met ons basis by Oshoek.

Op ‘n stadium het ek inligting verkry dat 3 sogenaamde ANC terroriste vanuit Swaziland die land sou binnesypel en ‘n sekere roete sou volg naby Piet Retief.

Nadat ek verdere ondersoek gedoen en seker gemaak het dat ek oor al die beskikbare inligting beskik, het ek een aand ‘n padblokkade opgerig en hulle ingewag. Ek het ook die registrasienommer van hulle voertuig gehad. My impimpi (beriggewer, klikbek of verraaier?) het goeie werk gedoen.

Ek wonder of hierdie ou – dit is nou my impimpi – nie dalk vandag ‘n hoë pos iewers in die staatsdiens beklee nie? Wat sou sy beweegrede van destyds gewees het?

So ongeveer middernag laat weet ‘n groep van my manne wat verder af langs die pad stelling ingeneem het, my per radio dat die motor pas verby hulle stelling beweeg het in die rigting van ons padblokkade. My lede het die motor gestop. Die insittendes het gesien dat daar outomatiese gewere van alle kante vanuit Caspirs op hulle gerig was. Hulle het nie ‘n kans gehad nie.

Ek het na die motor gestap met die wete dat die insittendes uit desperaatheid met AK-47 gewere op my kon vuur. Nogtans het ek nader gestap. Daar was 3 insittendes in die motor – twee mans en ‘n vrou.

Hulle het geen weerstand gebied nie. Ek kon sien dat hulle uiters geskok was en het seker besef het dat hulle tyd verby is en dat hulle vir alle doeleindes vas is.

Ons het etlike vuurwapens en ammunisie by hulle gekry. Ons het hulle so tentatief ondervra, maar hulle wou geen verdere inligting verstrek nie. Ons moes hulle na Middelburg vervoer om aan die Veiligheidspolisie te oorhandig te word vir verdere ondersoek.

Ek en my bestuurder het in een motor gery met een manlike gevangene en die vroulike gevangene op die agterste sitplek. Beide was geboei.

Op pad na Middelburg (TVL) het ek op ‘n ordentlike manier gesprekke met hulle probeer aanknoop, maar hulle het duidelik nie lus gehad vir my geselskap nie. Nie veel meer as ‘n “ja”; ‘n “nee” of ‘n “ek weet nie” uit hulle gekry nie. Ek het aanvaar dat hulle tydens hulle opleiding opdrag gekry het om in só ‘n situasie niks, of so min as moontlik, te sê.

Ek het op ‘n stadium biltong en droë wors aan hulle aangebied. Hulle het daarvan geëet, maar ek het opgemerk dat die vrou glad nie aan haar stuk biltong geëet het nie. Ek het gewonder of sy weet wat dit nou eintlik is.

Ons het hulle met sonsopkoms by die Veiligheidspolisie afgelaai nadat ons hulle vooraf van die arrestasies verwittig het.

Wat my getref het by ons aankoms by die Veiligheidspolisie se kantore, was dat hulle aanvanklik redelik vriendelik was met die gevangenes.

Hulle het egter kort daarna vir hulle gevra om ‘n kort afstand voor ‘n muur te gaan staan, vooroor te buig en dan slegs met hulle voorkoppe aan die muur te raak, terwyl hulle hande agter hul rûens vasgeboei was. Dit is ‘n ongemaklike posisie wat taamlik pyn aan die voorkop veroorsaak. So het hulle ernstige ondervraging seker begin en is ons daar weg.

So ‘n paar dae later ontmoet ek op Oshoek ‘n kolonel van die Veiligheidspolisie en ‘n paar van sy manne. Hulle was ouens wat kort-kort oor die grens na Swaziland gegaan het om sekere operasies daar te gaan uitvoer.

Ek het hierdie kolonel al ‘n paar kere vantevore by Oshoek ontmoet. Hy was een van windgatste en arrogantste polisie-offisiere wat ek in my tyd ontmoet het. Ook gevloek soos ‘n matroos. Hy was ‘n kêrel wat baie ingenome was met homself. Dinge het sommer baie goed gegaan vir hulle.

Ons gesels toe sommer so in die algemeen oor die arrestasies wat ek en my lede ‘n paar dae gedoen het en waarvan ek hierbo verwys het. Hy sê toe aan my ons mos hulle sommer geskiet het en dan vir hom laat weet het. Hy sou dan verder “alles gereël het”. U kan u eie gevolgtrekkings maak. Sou seker maar nie tyd op ‘n hofsaak laat vermors het nie.

Jare later – so teen 1996/97 – het ek oor die televisie gesien hoe hy, toe reeds ‘n brigadier, en sy kollegas al swetende voor die Waarheids- en Versoeningskommissie oor hulle dade van die verlede bieg. Van held na skurk. Ek het hom eintlik jammer gekry en maar net besef dat die wiel ook vir hulle gedraai en die tyd hulle ingehaal het. Hy was ook maar ‘n slagoffer van sy tyd gewees.

Baie maande later is ek versoek om teen die 3 gearresteerdes wat ons naby Piet Retief in ‘n padblokkade gearresteer het, in die Bloemfonteinse Streekhof te gaan getuig. Hulle was aangehou in ‘n tronk buite Bloemfontein, waar neef, Eben Le Roux, gestasioneer was.

‘n Interessante toneeltjie het hom toe daar naby die Hof afgespeel.

Skielik kom die vroulike gevangene en ‘n paar veiligheidspolisiemanne om ‘n hoek na die Hof aangestap en sy sien my van die teenoorgestelde rigting aangestap kom. Dit was asof ek ‘n ou bekende vriend was wat sy lanklaas gesien het, want sy roep toe so ewe opgewonde uit: “Hallo Mr Bouwer, how are you? Oh, it is so nice to see you again”. Was sy nie geboei nie, het sy my sekerlik omhels ook.

Ek het haar opgewondenheid om my weer te sien, nogal heel ironies gevind. Ek het daarna baie keer gewonder hoekom dit so was? Veral in die lig van die feit dat ek die ou was wat eintlik deels verantwoordelik was vir haar arrestasie en opsluiting. Of was dit omdat ek hulle daardie nag op ‘n beskaafde manier behandel het?

Ek wens ek kon nou in die nuwe Suid-Afrika daar drie persone weer ontmoet om oor daardie wedersydse ervaring van ons te kan gesels.

Terloops, generaal-majoor Herman Stadler was ook tydens hulle verhoor as getuie geroep. Dit was die gebruik destyds, aangesien hy oral in die land by sulke verhore “ekspert getuienis” oor die ANC, as terroriste organisasie, gelewer het.

Maar as ek so terug dink, het die ANC eers vanaf 1984 werklik die sogenaamde “struggle” binne Suid-Afrika ernstig begin aanpak en die skroewe begin aandraai. Ek dink die aansporing was die feit dat die nuwe 1983-grondwet (onder leiding van oud-minister Chris Heunis), wat die driekamer-parlement tot gevolg gehad het, ‘n kort tyd vantevore in werking gekom het. Dit het die swart mense uitgesluit.

GBS EN DIE SEKUROKRATE: In 1985 is die Gesamentlike Bestuurstelsel (GBS) – wat aanvanklik eintlik deur die SA Weermag gepropageer is – van stapel gestuur. Die polisie is ook ten volle hierby betrek. Ek dink hierdie teen-revolusionêre strategie was gebaseer op die teorieë van een of ander militêre kundige van die VSA.

Dit was die tyd van die “rooi gevaar” en die “totale aanslag”. Onthou u nog?

Strukture om die stelsel te bedryf is oral tot op die laagste vlak denkbaar ingestel. So ook komitees vir elke denkbare onderwerp onder die son. Alle staatsdepartemente is daarby betrek, sodat die aktiwiteite behoorlik interdepartementeel gekoördineer kon word. Heel bo aan hierdie struktuur, was die sogenaamde Staatsveiligheidsraad. Ek dink die President was hier self die voorsitter.

Die gedagte was dat die aanslag soos wat Suid-Afrika beleef het, 80% op politiese en maatskaplike vlakke – “for their hearts and minds” – benader en opgelos moes word, terwyl, volgens die beginsels daarvan, die optrede van die veiligheidsmagte die ander 20% moes dek.

Hierdie teen-revolusionêre strategie het goed en reg op papier … en op die oor … geklink.

Die SA Weermag was in sy element met hierdie GBS-stelsel. Ek het ook die gevoel gekry dat hulle van toe af al hoe meer hulle gesag begin afdwing het en al hoe meer ‘n leidende en primêre rol begin speel het in die aanslag teen Suid-Afrika.

U moet ook onthou dat meneer PW Botha, voor sy presidentskap, destydse die minister van verdediging was. Daar was dus ‘n soort van, sê maar ‘n noue verbintenis, tussen hom en die weermag. Ook het generaal Magnus Malan, sy vorige hoof van die weermag, gevorder tot minister van verdediging. Sien?!

‘n Tydperk waarin die  “sekurokrate” ‘n vername rol in regeringsake sou speel, het in alles erns begin. En ook besig gehou het met politieke inmenging. Dit was ‘n irrasionele tydperk, om die minste te sê.

Die term “securocrats” het, sovêr ek kan onthou, vir die eerste keer in die Engelse pers verskyn. Ek weet nie wie die woord uitgedink het nie, maar ek dink dat daardie persoon het aan die “burocrats” (lede van die staatsdiens) gedink het toe hy/sy aan die “security forces” se rol in siviele regering begin dink het tydens die GBS-stelsel – vandaar die Afrikaanse term “sekurokrate”.

Daar was ‘n besondere geloof onder die elemente van die regering en die veiligheidsmagte (die Polisie en die Weermag) dat hierdie stelsel net die ding vir Suid-Afrika was en dat die situasie kort voor lank ‘omgedraai’ sal kan word.

Dit het egter nooit gebeur nie. Inteendeel, dit het vererger. Ons het die frustrasie beleef.

In die middel en laat 1980’s was die land aan die brand en die apartheids regime beslis aan die wankel.

Ons, as veiligheidsmagte, is eendag in die omgewing van 1985/86-deur sekere veiligheidskenners op Stellenbosch toegespreek oor die heersende veiligheidsituasie in die land.

Hulle kon die situasie nie slegter vir ons skilder nie. Een spreker het onder ander aangedui dat die maksimum beskikbare veiligheidsmagte reeds in Suid-Afrika ontplooi was om die situasie die hoof te bied. Hy het ook aangedui dat dit vir ons bykans onmoontlik sal raak om die situasie te hanteer sou dinge verder eskaleer.

Die ouens het hulle nie eintlik geglo nie. Hulle het ‘n onwrikbare geloof in ons vermoëns gehad. By ‘n paar van ons, was daar tog geringe twyfel.

Die GBS-stelsel het nie veel sukses gebring nie, want net die jaar daarna, 1986, was die Staatspresident van die tyd – die groot krokodil – meneer PW Botha, verplig om ‘n noodtoestand in Suid-Afrika uit te roep.

Wat het dít dan vir ons gesê? Was die GBS-stelsels ‘n naïewe of desperate poging om te red wat te redde was? You be the judge

Ek dink ons het daardie dae vergeet – of die feit eintlik willens en wetens probeer geïgnoreer – dat die ANC se buitelandse leiers terselfdertyd wêreldwyd ook koorsagtig aan die werk was om die regerings van ander lande, groot multi-nasionale finansiële maatskappye, sport-organisasies ensovoorts van oral-oor om die wêreld te oortuig en oor te haal om Suid-Afrika op politieke-, ekonomiese-, kulturele- en sportgebied te isoleer en sanksies toe te pas. En binnelands het hulle ook dinge laat kook (onluste en geweld) – die ander, en baie belangrike been van hulle strategie.

Het die GBS-stelsel ‘n kans gehad? Nee, want dit wat kort daarna gebeur het gewys dat dit die onrus geensins kon stuit nie.

STELLENBOSCH, EN PUIK KOLLEGAS: Van Stellenbosch gepraat. ‘n Interessante plek, waar jy mense met ‘n ongelooflike intellek en talent ontmoet het. Ek het die voorreg gehad om twee keer daar gestasioneer te wees.

En dan is daar sommer ook aan ‘n ander paar kollegas met wie ek daar goed saam gewerk het en aan wie ek nou nog met agting terug dink. Soos AA Verster, die charismatiese raakvat Distrikskommandant; Ted Breytenbach, die lang, netjiese speurder met die filmstêr looks; wyle Kallie Van Heerden, die kwaai en bekwame inspekteur en Allan Duminiet, die “walking encyclopaedia”, wat nie sy gelyke gehad wat betref kennis van polisie-administrasie en beleid nie.

Terwyl ek op Stellenbosch was, het ek onder ander werwing gedoen. Ek gaan hou toe vir die eerste keer ‘n inspeksie by die Macassar polisiestasie in 1982. So in die loop van die inspeksie kom ek agter dat die vroulike klerk daar, die bekkige kleurling vroulike klerk, Dot Adonis, amper net soveel weet soos die stasiebevelvoerder self – indien nie meer nie! Sovêr ek kan onthou, het sy alreeds ‘n sekretariële kursus deurloop gehad.

Op ‘n stadium vra ek haar so uit die bloute of sy nie as ‘n gewone lid van die polisie wil aansluit nie. Sy sê toe: “Ek kan nie kaptein, want ek is te kort”. Ek sê toe vir haar dat indien sy werklik sou belangstel, sy haar aansoekdokumente aan my by die Stellenbosch Disitrikshoofkwartier moet stuur. Wat sy toe ook doen.

Ek stuur toe die dokumente later aan Hoofkantoor, Pretoria en motiveer toe sterk aan dat haar lengte gekondoneer moet word. En sowaar, daar keur hulle haar aansoek goed.

Ons het haar polisiekollege toe gestuur. En was nie heeltemal verbaas toe sy as die top student daardie jaar aangewys word nie. Ek ken ‘n goeie applikant as ek hom/haar sien. Talle van my kandidate het later uitgestyg in die polisie.

Sy het egter verder begin studeer en kort voor lank het sy die rang van luitenant bereik. En toe ek weer my oë uitvee, word sy aangestel as stasiebevelvoerder van dieselfde Macassar polisiestasie waar ek haar aanvanklik vir die eerste keer ontmoet het. En dit was nie al nie. Sy is intussen tot die rang van Direkteur bevorder.

Wat ‘n verhaal is hierdie een van Dot Adonis! – ‘n persoon wie se lewenspaadjie dalk totaal anders kon verloop het, het ek haar nie toevallig op daardie dag (“fateful day”) heel per toeval gevra of sy nie ‘n polisievrou wil word nie. Sy is een van die min offisiere in die SAPD vandag wat polisiewerk (in die algemeen), administrasie en bestuur per se  beter as die meeste ken, aangesien sy die volle paadjie – van heel onder – geloop het.

Hoe verskil laterale aanstellings – d.w.s. politieke aanstellings buite polisie geledere wat in senior bestuursposisies in die SAPD die laaste jare gedoen is – met die offisiere wat die harde en dikwels moeisame pad van konstabel tot senior offisier geloop het? Kom ek lys so ‘n paar dinge: Die Lateraal

 

  • het nog nooit na ‘n stel feit oor ‘n aanklagkantoor toonbank geluister; dit ontleed en ‘n besluit gemaak oor watter misdaad(e) daardie stel feite uitmaak nie;
  • ken nie die definisies van die verskillende misdade nie;
  • ken nie die psige van ‘n misdadiger nie;
  • ken nie die intriges en oorsake van misdaad in ‘n spesifieke gemeenskap nie;
  • het nog nooit ‘n getuie ondervra nie;
  • het nog nooit ‘n verdagte ondervra nie;
  • het nog nooit ‘n behoorlike verklaring afgeneem nie;
  • het nog nooit ‘n kriminele saak ondersoek en vir ‘n verhoor voorberei nie;
  • ken die bewysreg reëls nie;
  • het nog nooit in ‘n Hof getuienis afgelê nie;
  • het nog nooit ‘n polisiestasie of eenheid bestuur nie;
  • was nog nooit in ‘n gevaarsituasie met misdadigers nie;
  • het nog nooit ‘n skriftelike beplannings dokument vir bv. ‘n misdaadoperasie opgestel nie;
  • het nog nooit in bevel gestaan van ‘n misdaadvoorkomingsoperasie nie; en
  • weet nie hoe ‘n stink polisiesel in die oggend ruik nie …

‘n Professor in  entomologie (sal ‘n mens dit in gewone taal ‘n Insektekundige noem?)  aan  die  US  het  op ‘n stadium in die vroeë tagtigs aan die hoof van die polisiereserviste op die dorp gestaan. Ek het altyd gewonder hoekom ‘n ou van sy status en aansien vir so baie jare betrokke sou raak by so-iets?

Ek moes eendag by die Universiteit ‘n toespraak vir ‘n studente-organisasie gaan hou oor een of ander onderwerp. Ek en hierdie professor gesels toe daaroor, en ek wonder of ek hulle enigsins sal beïndruk met dit wat ek beoog het om hulle mee te deel.

Die professor herinner my toe dat hy ‘n hooggeleerde is wat insekte betref en dat hy my alles kan vertel oor die werking van ‘n spinnekop se agterbeen. Maar, sê hy verder, indien hy na iemand anders luister wat iets te sê het oor ‘n vreemde onderwerp, luister hy graag, weens die eenvoudige feit dat hy min of niks daarvan weet nie.

Hy sê toe dat dit ook die geval sal wees met my gehoor. Vir my gehoor sal dit iets nuuts wees en sal ek dáárom ‘n ontvanklike gehoor hê. Ek het toe beter gevoel. En dit was toe ook so.

WOODSTOCK STASIEBEVELVOERDER – MY KANTOOR LOOP DEUR ONDER ‘n KLEEFMYN: Gedurende 1988 was ek stasiebevelvoerder te Woodstock langs Kaapstad. My kantoor se venster het uitgekyk op ‘n dwars straatjie tussen die hoofweg (Victoriastraat) en die sogenaamde “Cavendish Square” verder ondertoe.

Ek kom een middag laat van Stellenbosch af na die begrafnis van ‘n kollega (wyle kolonel Chris Fourie) daar. Ek het skaars geland toe ‘n paar polisiemanne uitasem by my huis aankom en my vertel dat my kantoor ‘n rukkie vantevore deur ‘n bom opgeblaas is.

Ek kon nie glo dat so-iets met my kon gebeur nie. Ek het ook geen rede gesien waarom hulle my kantoor spesifiek sou aanval nie. Ek het eers gedink dit is ‘n sieklike grap, maar besef toe later dat dit blyk die waarheid te wees.

Etlike bomme – die sogenaamde limpetmyne – het in daardie tyd alreeds by etlike staatskantoor in die Kaapse Skiereiland afgegaan.

Ons haas ons toe Woodstock toe. Daar aangekom, vind ons dat die kleef (limpet)myn net buite die deur wat na die dwarsstraat lei, geplaas was. Die skade was taamlik erg. My kantoor was in chaos. Stoele, tafels, kaste en dies meer, asook die plafon was aan flarde geruk.

Die geweld van die ontploffing was só kragtig dat dit bykans al die vensters van ‘n drie verdieping gebou oorkant die straat aan stukke geruk het.

Ek ry toe later daardie aand huis toe nadat alles opgeruim is. Ek sit toe en weer en wonder of my kantoor spesifiek uitgekies was; of was ék die teiken en of dit maar sommer lukraak gedoen is?

Ek het ook gewonder wat die gevolge sou wees as ek nie daardie middag ‘n begrafnis te Stellenbosch bygewoon het nie. Die limpetmyn moes immers in die loop van die dag daar buite my kantoordeur geplaas gewees het. Dit het net kort na 4-uur die middag ontplof. Ek sou darem nie só wou doodgaan nie. Dit sou eerder beter gewees het as ek al vegtende gesterf het.

Ek is eintlik spyt ek het ná die nuwe bedeling begin het, nie by die ANC-ouens probeer uitvind het waarom die bom spesifiek daar geplant was nie. En of hulle miskien spesifiek iets teen my gehad het?

UMKHONTO WESIZWE: Dit laat my nou dink aan die soldate of kaders van Umkhonto weSizwe van die ANC – die sogenaamde “Spies van die Nasie”. In hulle geledere word met groot trots na hierdie organisasie verwys. En as jy kan sê dat jy ‘n kader of soldaat van Umkhonto weSizwe was, dan is jou “struggle credentials” sommer puik. En ‘n goeie pos in die staatsdiens was sommer ook ‘n gegewe.

Ons weet almal dat hulle oor ‘n tydperk bomme op verskeie plekke laat afgaan het. Met die gepaardgaande skade en menseverlies natuurlik.

Sonder om ‘n issue daarvan te probeer maak, laat dit my nou kom by die vraag wat my al lank tiekel: Maar watter gevegte het hulle teen die veiligheidsmagte self geveg en gewen? Ek bedoel nou waar hulle man teenoor man teenoor die veiligheidsmagte te staan gekom het. Hoekom word daar so min of glad nie daaroor gepraat of geskryf nie? Of was hulle bloot nie in staat gewees om die veiligheidsmagte direk te konfronteer nie? Of gaan hulle suksesse net oor die bomme wat hulle geplant het? Lafaards dus.

Was die KGB hoof in sy latere boek “A view from Moscow” dalk reg toe hy gesê dat hierdie entiteit die mees onsuksesvolste organisasie was wat ooit deur die Sowjet-Unie ondersteun was?

Dit was juis toe ek as stasiebevelvoerder by Woodstock gedien het dat sekere politieke aktiviste wat in 1988/89 deur die Veiligheidspolisie aangehou was, na die Groote Schuur hospitaal – wat in Woodstock se stasiewyk is – vir behandeling moes geneem word sou dit nodig wees.

My polisiestasie moes die hospitaalwagte voorsien. Die polisiemanne het hierdie taak gehaat. Een so ‘n persoon wat daar opgeneem is nadat hy op ‘n eetstaking gegaan het tydens sy aanhouding, was Willie Hofmeyer – tans hoof van die Batebeslagleggings-Eenheid.

Terwyl hy daar in sy hospitaalbed gelê het, het daar opdragte van Hoofkantoor gekom dat diesulkes aan die hospitaalbed vasgeboei moes word. Hierdie opdrag was, terloops, uitgereik kort na die ontsnapping van ‘n paar ander bekende aktiviste elders in die land.

Ek was toevallig by die Groote Schuur hospitaal met ‘n gewone amptelike besoek aan die hospitaalwagte soos dit die gebruik was om te doen. Ek het toe vir die hospitaalwag daar boeie laat voorsien en was ek teenwoordig toe dit om Hofmeyer se enkel geplaas was.

Die polisieman wat dit gedoen het, het hom om verskoning gevra daaroor, maar Hofmeyer was alreeds in ‘n taamlike swak liggaamlike toestand en glo ek nie dat hy dit eers gehoor het nie. Ek onthou baie goed dat die dokter wat daar teenwoordig was, glad nie met die toedrag van sake beïndruk was nie.

Dit was ook so teen ongeveer 1988/89 toe Johnnie De Lange, tans ANC LP, eendag by my kantoor op Woodstock aankom. Hy het gekla oor ‘n baksteen of twee wat teen of deur sy huis se vensters in Observatory gegooi is. Hy het lede van die Veiligheidspolisie daarvan verdink. Ek het ook so vermoed.

De Lange het ook daardie tyd in die bekende optog in Kaapstad se middestad deelgeneem waarin die polisie die optoggangers met ‘n waterkanon bespuit het. Die water was met een of ander pers stof gemeng. Die optoggangers kon daarna vir dae nie die pers van hulle lywe en hare afwas nie.

Die polisie het ook op ‘n stadium goed sambok onder hulle ingelê. Ek luister toevallig daardie middag na ‘n groepie polisiemanne wat betrokke was by die sambok slanery. Een van hulle het vir De Lange geken.

Hy vertel hoe hy De Lange so ‘n paar keer oor die skouers gepiets het, soveel so dat die sambok sy baadjie letterlik oop gekloof het. Hy vertel toe voorts dat De Lange se brille in die proses op die grond geval het en hoe hy, wat polisieman is, dit toe maar vir De Lange stukkend trap net voor hy dit wou optel. Praat nou van aspris wees!

In die twee jaar wat ek op Woodstock was, het ek vir die eerste keer in my loopbaan met oortredings van die Groepsgebiedewet te doen gekry. Die klagtes het gewoonlik vanuit die woonbuurt University Estate gekom.

Ek het regtig nie ‘n flenter oor hierdie oortredings omgegee nie, maar ons moes dit nogtans ondersoek. Woodstock polisiewyk was in elk geval maar ‘n taamlike gemengde gebied. ‘n Kosmopolitiese deurmekaarspul.

Daar was nooit arrestasies uitgevoer nie. Nadat die ondersoek voltooi is, het ons die dossiere na Distrikskommandant se kantoor gestuur vir nasiening, vanwaar dit na die Prokureur-Generaal se kantoor gestuur is vir ‘n beslissing.

Om een of ander rede was daar nooit vervolgings ingestel nie. En juis om híérdie rede het die polisiemanne dit verpes om hierdie sake te ondersoek – want dit was eenvoudig ‘n mors van tyd.

‘n Klerk by die polisie se Distrikshoofkantoor in Kaapstad vertel my toe eendag dat ‘n kolonel daar elk van daardie dossiere persoonlik nagesien het alvorens dit na die Prokureur-Generaal verwys is. Dié taak was nooit aan enige van die stafoffisiere toevertrou nie.

Hy moes regtig tyd op sy hande gehad het. Of ‘n intense belangstelling gehad in sulke “misdade”! Kan jy nou meer.

Ek het later verneem dat die kolonel, ‘n stoere ondersteuner van die HNP is en dat hy ‘n buitengewone konserwatiewe politieke uitkyk gehad het. Na sy aftrede het ek gelees dat hy besonder aktief is met die HNP se politiek bedrywighede in die gebied waar hy gaan aftree het. Hy was ook ‘n ou wat Adolf Hitler se Mein Kampf met aandag deurgelees het en ‘n besondere bewondering vir die skrywer daarvan gehad het.

KAAPSE MALEIERS: Op Woodstock het ek vir die eerste keer in my lewe met die Kaapse Maleiers te doene gekry. Daar word sommer partykeer na hulle verwys as Moslems, wat eintlik verkeerd is, want dít verwys na hulle as aanhangers van hulle geloof – die Islam. Ordentlike mense en baie beginsel- en familievas. En besonder godsdienstig.

Die Moslems se heilige boek is die Koran. En hulle tipe Jesus-figuur (as ek dit so kan noem) is die heilige profeet Mohammed wat blykbaar eers 600 jaar ná Christus op aarde was en die Islam geloof toe van stapel gestuur het.  Hy is in die jaar 632 oorlede. ‘n Moslem dominie word ’n Imam genoem.

So sê ‘n Moslem by Woodstock eendag vir my dat hulle baie heilig is oor en respek het vir die Koran. Hy gee toe vir my die voorbeeld van hoe die christene partykeer in howe met hulle hand op die Bybel ingesweer word om net daarna sommer lekker in sy/haar getuienis te lieg. Hy sê toe dat ‘n Moslem nooit so-iets (om te lieg) met die Koran sal waag nie. Hy sê toe ook verder dat as hulle met iemand argumenteer oor iets, en jy dink die ander ou skiet so ‘n bietjie spek, bring jy net die Koran nader om sy hand op te sit. As die ou gelieg het, sal hy dit dan sommer dadelik erken nog voordat hy dit doen. Of dit werklik so is, weet ek nie.

Die Maleiers het baie winkeltjies en kafees op Woodstock. Die ouens het daarna verwys as die babbie-shops. Die Maleier vrouens is bekend vir hulle koesisters (oliebol en klapper) (LW: sonder die 2de “k”) en daardie heerlike 3-hoekige samoesas. Terloops, die boere se koeksister (met die “k”) word as volg beskryf: “koeksister of boerekaiings — twee tot 3 stukke deeg inmekaar gevleg en in stroop gedoop”.

OOR AFRIKAANS SE MALEIER-OORSPRONG: Daar word ook beweer dat die Maleiers van destyds die eerste mense was wat Afrikaans in Suid-Afrika begin praat het – en nie die afrikaners soos algemeen aanvaar word nie. ‘n Fonetiese vertaling van die Moslem se heilige Koran in Afrikaans, maar in die Arabiese alfabet, is die eerste voorbeeld van geskrewe Afrikaans in Suid-Afrika. Die Bo-Kaap daar teen die bult van Kaapstad, is die bekendste Maleier woongebied in Suid-Afrika. Baie mense glo vandag nog dat die Bo-Kaap die ontstaanplek van Afrikaans is.

Hier in die Kaap word ‘n sekere tipe loslit Afrikaans deur ‘n seksie van die bevolking gepraat, wat rojaal ge-mix word met Engelse woorde tussen-in. Met ander woorde, hulle gooi so ‘n ingilse kinkel in hulle taalkabel in, bv.: “Nei, ma’ die Kaapse taal is ‘n heavy taal om te gooi, newwermaaind die fact dat ‘n ou ook nice songs met dit kan tune”. En hierdie soort manier van praat, gee natuurlik die opstêrs taal puriste partykeer so ‘n bietjie sooibrand. Ek weer, is ‘n groot fan daarvan – sonder jokes!.

Pieter Snyders, die bruin skrywer, het op ‘n stadium ook gesê: “Ek praat nie Englikaans (sinne met engelse woorde tussen-in nie), ek praat Kaaps”.

Ja, ek  luister partykeer geamuseerd en in verwondering wanneer die ware ‘Kypie’ hierdie loslit-ge-mixte Afrikaans ‘gooi’. Dit is die resultaat van ‘n dekade-oue Kaapse manier van die woord doen. Jy kry dit nêrens anders in die land nie. So ‘n ruk terug toe ek voor ‘n verkiesing weer in die Kaap na ‘n ekskursie elders op die lughawe land, hoor ek een van hierdie ouens so eg Kaaps sê: “Ons wag al soe lank vi’ huise. Nou kom ons check ma’ of ons dan nie die  electric ka’ kry nie, en as ons dit nie kry nie, ka’ hulle ma’ vergiet – da’ vote ons ‘ie”.  Jong, toe weet ek: ek is definitief in die Kaap en voel sommer tuis.

Na die verkiesing vra ek vir die koerantverkoper hier naby my huis of hy gestem het. Hy sê toe: “Nei, ek kon nie nouriedag vote nie, want ek het ‘n maagvirus ge-het”. Die gebruik van die woord “het” aan die einde van ‘n sin in plaas van “had”, kom algemeen voor.

Ek sit eendag voor by ‘n vergadering in die Kaap waarby ‘n taamlik senior kleurling verkeersbeampte teenwoordig is. Ek kan nie meer presies onthou wat ons bespreek het nie, maar op ‘n stadium het ek gesê: “‘n Boer maak ‘n plan”. En so uit die bloute haak hierdie kêrel af met sy growwe stem en sê: “Meneer die voorsitter, ja, ‘n boer maak ‘n plan, maar ‘n hotnot hét ‘n plan”. Daar was aanvanklik ‘n doodse stilte, maar die ouens het toe later lekker gelag daaroor. Maar ek dink as ‘n wit ou dit sou gesê het, het iemand sekerlik “rassisme” geskree. Daar was egter waardering dat hy die ding toe sommer so op sy naam noem sonder om te blik of te bloos. Hy het dus nie chip op sy skouers gehad nie.

En wat van die kleurling hier in die Kaapse Vlakte, wat ‘n ondersteuner van die DA (Demokratiese Alliansie) was, wat sommer so lekker kon sing oor sy politieke party: “Dis jou kombers en my matras … en DA lê die ding …!

Ek het heelwat rond beweeg in SA. En net so word Afrikaans in verskeie ander streke in SA ook op sy eie manier en aksente gepraat. Dink maar net aan die Boland, Namakwaland en die Wes-Kus en ander plekke. En moet ook nie daardie aaklige rondemondjie Pretoriaanse Afrikaans vergeet nie. Pô en mô – vir pa en ma, en so aan. En wat van ‘strôndhuis’ vir strandhuis daar by die see? Klink regtig nie gesond op mý oor nie. Maar, o gaats, amper vergeet ek: hulle wil mos Pretoria se naam eersdaags na ‘Tshwane’ verander. Dan sal dit seker ‘rondemondjie Tshwanetoriaaanse Afrikaans’ moet heet!

So van Afrikaans gepraat: dit is in die apartheidsjare (verkeerdelik dink ek) beskryf as die taal van die verdrukker. Volgens sekere geskiedkundiges is daar in die 18de eeu onder Hollandse koloniale bewind  meesal Hollands (die kaaskoppe) gepraat, aangesien hulle die ander tale van die settelaars uit ander lande onderdruk het. Toe het die slawe en Khoisan, wat by die Hollandssprekende settelaars in die kombuis of op die plase buite Kaapstad gewerk het, ‘n makliker, eenvoudiger tipe Hollands begin praat waarby Maleier en Khoi woorde bygevoeg is. Dit het toe so geleidelik ontwikkel in ‘n nuwe taal, wat later Afrikaans genoem is. Dit het dan later na ‘n paar geslagte die taal van die settelaars of boere geword. Meer as die helfte van die mense wat vandag Afrikaans as huistaal het, is nie wit nie.

Breyten Breytenbach was toe al die tyd reg: Afrikaans was in wese ‘n bastertaal! Hier vanaf die laaste kwart van die 19de eeu – en later ook – is pogings aangewend om Afrikaans (die taal) sterk in verband te bring met die Afrikaner (die nasie), aanvanklik in die Kaap met die taalstryd van SJ du Toit en Pannevis.

In die era van apartheid was daar ‘n amper noodlottige koppeling tussen Afrikaans-wees en blank-wees as grondslag vir die bevoorregting van die Afrikaners. Die eiening – of opeising – van Afrikaans het natuurlik skeef gesny. Swart en bruin sprekers van Afrikaans is aanvanklik geleidelik, en later koelbloedig, uitgesluit uit die Afrikaner-identiteit wat vanaf die 19de eeu gebou is, en kon nooit volwaardig deel in sy voordele nie.

FW DE KLERK SKAF DIE GBS AF: Gedurende Januarie – Februarie 1990 het ek ‘n GBS-vergadering te Tzaneen bygewoon. Net voor die vergadering ‘n aanvang sou neem, het ‘n kolonel van die weermag daar ingekom en uitasem aan ons vertel dat president FW De Klerk besluit het om die GBS-stelsel se rol drasties te beperk of af te skaf.

Dit het geblyk asof die massiewe inmenging deur die sekurokrate in die domein van siviele regering tot ‘n einde gaan kom.

Dit het my voorgekom asof hierdie weermag kolonel absoluut geskok was en nie kon glo wat hy gehoor het nie. Dit het my nie gepla nie. Maar hy het seker besef dat hulle voortaan minder belangrike persone sal wees.

Dit was bekend dat oud-president De Klerk nie op sy gemak was net die rol wat die sekurokrate in die dag tot dag regeringsake gespeel het nie. Hy wou weer toesien dat politici volledig in beheer van politieke aangeleenthede moes wees.

Vroeg in 1990 was daar gedurig geweld tussen die Burgemeester van Ou Kruispad, Johnson Ngxobongwana, en sy politieke opponent, ene Jeffry Nongwe.  Eersgenoemde was die NP se man, terwyl laasgenoemde as’t ware in opposisie was. Beide was maar jou tipiese “war lords”, wat vir baie mense se dood verantwoordelik was.

Ek het eendag ‘n vergadering by Nxolo-skool by Ou Kruispad gaan bywoon om na klagtes van veral die ondersteuners van Ngxobongwana aan te hoor in verband met bewerings van geweld teen hulle deur die Nongwe ondersteuners en ook veral deur die polisie se spesiale konstabels.

Wat interessant was van hierdie vergadering, was die feit dat ek die verrigtinge in Xhosa gevoer het. Ek het gesien dat daar enkele koerant-verslaggewers teenwoordig was. Groot was my verbasing die volgende oggend toe ek sien dat die Cape Times ‘n volledige verslag oor die vergadering in dié koerant geplaas het.

Ek en die skrywer daarvan, Chris Bateman, het mekaar kort daarna ontmoet en toe vasgestel dat hy ook Xhosa magtig is. Ons het daarna, as ons mekaar weer raakloop, sommer vir die snaaksigheid Xhosa met mekaar gepraat.

SPESIALE KONSTABELS: So gepraat van die spesiale konstabels: Die polisie se besluit om hierdie mense te werf en aan te stel, was van meet af in omstredenheid gedompel. Was hulle indiensname ‘n teken van desperaatheid? Hulle was na 6-weke opleiding by Koeberg met ‘n haelgeweer uitgereik en in die townships ontplooi as teenvoeter vir die politieke geweld.

Hulle is met blou oorpakke uitgereik en was hulle sodoende gou onder die township mense bekend as die “blue flies”. En hulle was beslis nie gewild by die plaaslike inwoners nie. En hulle het dit ook geweet.

Die keuring van hierdie mense was regtig ‘n riller gewees. Daar was ‘n tipe aansoekvorm ontwerp wat die applikant in staat moes wees om te voltooi. As iemand tot so standerd 1 of 2 op skool gevorder het, was só ‘n persoon in staat gewees om die vorm te voltooi. Hy is dan, as hy ook ‘n mediese toets slaag, sonder meer in diens geneem.

Alhoewel daar van ons was wat ernstige bedenkinge gehad het oor die toelating van hierdie spesiale konstabels in ons geledere, was daar uiteraard diegene in Pretoria wat dit as wonderlike idee moes gesien het om geweld in die townships te bekamp. Dit was na my mening maar net nog een van die desperate besluite wat die NP-regering in daardie turbulente tye geneem het.

Ek en ‘n oud-generaal van die destydse Veiligheidspolisie het juis onlangs in die briewekolomme van Die Burger mekaar daaroor aangevat. Sonder om nou windgat te klink: Ek dink hy het die debat toe loshande met my verloor. En ook dalk omdat my pen dalk magtiger as sy swaard van destyds was. Jy kan immers ook nie die onverdedigbare verdedig nie. Niemand staan tog so sterk as hy wat oor die feite beskik nie.

Die SA Polisiediens sit vandag nog met heelwat van hierdie half-geletterde mense wat na 1994 noodwendig in terme van die nuwe beleid oor menseregte en die arbeidswetgewing in die strukture van die nuwe SA Polisiediens opgeneem moes word.

Omdat die spesiale konstabels nie gehalte mense was nie, en boonop met lae skool kwalifikasies, het hulle dissipline ook maar te vêr tekort geskiet.

Hulle het partykeer wild en wakker in die townships geskiet. Hulle regskennis in sovêrre wanneer hulle mag skiet en wanneer nie, was om verstaanbare redes maar beroerd. Hulle oordeel het hulle meesal ook in die steek gelaat.

Party van hulle het by sjebiens en elders die haelgewere verloor. Hier en daar het van hulle dit sommer verkoop ook. En baie kere het van hulle haelgewere sommer net afgegaan weens die roekelose hantering daarvan.

MANDELA VRYGELAAT: Ek het in Bellville gewoon toe Mandela op 11 Februarie 1990 uit die tronk ontslaan is. Dinge sou daarna vinnig en radikaal verander. En daar was maar heeltyd daardie gevoel van onsekerheid wat in ‘n mens se gemoed geheers het. Oor wat in Suid-Afrika gaan gebeur. En ook oor ‘n mens se eie toekoms.

DISTRIKSKOMMISSARIS OP SPRINGBOK: Terwyl ek op Springbok as Distrikskommissaris gestasioneer was (1991), sou Eugene Terreblanche van die AWB belangstellendes en aanhangers in die plaaslike dorpsaal toespreek. Ek moet sommer dadelik hier sê dat Terreblanche my nooit beïndruk het nie en dat ek hom ook glad nie as die redder van die ‘boerevolk’, soos hy graag bekend wou wees, gesien nie. Sluit dit die dorpsjapies uit?

Maar, ek en ‘n paar vrinde het nogtans vir die vermaaklikheidswaarde daarvan besluit om na sy toespraak te gaan luister. Hy was mos vroeër ‘n amateur akteur, wat sy vernuf ook op die politieke verhoog ten toon gestel het.

Al die toehoorders het hom kort-kort ‘n staande ovasie gegee. Om nie aandag op my te vestig deur te bly sit tydens die ovasies nie, moes ek ook toe noodwendig kort-kort maar saam met die juigendes opspring! Op en af! Op en af! Was regtig vir my ‘n ongemaklike situasie gewees. Eintlik dêm snaaks gewees!

Terreblanche het ook tydens daardie toespraak maar weer sy oratoriese vermoëns met sy bariton stem ten toon gestel en sy oorbekende politieke sentimente en dreigemente herhaal.

Maar ek moet erken hy was ‘n indrukwekkende spreker, wie se sentimente seker deur die meeste mense daardie aand gedeel is. Of, altans, dit was die gevoel wat ek gekry het ná die vergadering toe ek na die kommentaar van die aanwesiges geluister het.

En kyk waar sit Terreblanche vandag. Eintlik ‘n Rara Avis, hierdie self aangestelde boere pièce de résistance.

Op Springbok in die Namakwaland het ek vir die eerste keer van daardie mense se soort kos, naamlik die skilpadjies (lewer en netvet) en pofadders (derm en maalvleis) gebraai. En het ek my partykeer ook verluister aan hoe die egte Namakwalander praat, met ‘n aksent so eie aan daardie deel van die land – veral daardie klomp op die vêrafgeleë plase.

Laasgenoemdes het so eenmaal ‘n jaar by die skou op die dorpsvelde ook hulle eie stalletjies bedryf waar hulle eie dinge gedoen het. En dat ek so van stalletjie na stalletjie nader gestaan – nie net om te kyk wat se goed hulle bak en brou nie, maar om veral te luister na hulle besonder interessante uitsprake en woordgebruik.

Van hierdie mense het maar min in die stede gekom. Een was al in sy dertigs toe hy eendag saam met vriende vir die eerste keer hier na die Kaap kom. Toe hulle net so op spitstyd op die driedubbele rybane van die N1 hier in die stad begin inry en hy die duisende karre sien, kyk hy die spulletjie so uit en sê op sy Namakwalandse manier: “Liewe vadertjie, lyk my hier in die Kaap is niemand by hulle-se huise nie!”

Namakwaland is diamant- en koperwêreld. En diamantsmokkelary is aan die orde van die dag. Baie ouens het daar goed ryk geword met die smokkelary. En heelwat van hulle tronk toe ook. Spesiale Goud- en Diamanttak-eenhede van die Polisie was op Springbok, Port Nolloth en Alexanderbaai gesetel.

‘n Kêrel daar het eendag vir my gesê dat die Here die goed in die grond gesit het en dat dit nie net daar is vir die Oppenheimers nie. Van hulle beskou diamantsmokkelary nie as ‘n misdaad of sonde nie. En die ou sê toe dat as jy gevang word, moet die mense jou net later weer in die Kerk sien, dan is jy weer soort van weer olraait en vergewe.

Terwyl op Springbok, kry ek ‘n boodskap dat my swaer, Augie Wink (my jonger suster, Steffie, se man), by sy plaaswinkel te Ryno, Elliot dood geskiet is – ‘n onsinnige en onnodige daad, wat my suster en haar kinders erg getraumatiseer het en hulle lewens en toekomsplanne liederlik omvêr gewerp het.

Toe ons by die plaas aankom, het ek daar die geleentheid gehad om met die Roof- en Moord speurders, wat die saak kom ondersoek het, te praat. Dit blyk toe dat my swaer ‘n slagoffer was van APLA se moord-aksies op grensboere op die Transkeise grens. Net ‘n week of 2 voor dit was Peter Lake in die Maclear distrik op soortgelyke wyse vermoor. Die moordenaars van my swaer was kort daarna in hegtenis geneem – een selfs dae daarna in Khayelitsha hier in die Kaap.

Van die familielede was erg omgekrap en ontstoke oor hierdie sinnelose daad. Ek het heeltemal begrip vir hulle emosies gehad en ek self is, tot vandag toe nog, baie kwaad oor hierdie onnodige moord op ons geliefde swaer.

Van hulle het uitgevaar teen die swartes in die algemeen – veral omdat Augie baie goeie verhoudinge met die swart mense in die omgewing gehad het en hy heelwat goeie dinge vir hulle gedoen het. Dit het vir hulle as’t ware as ‘n liederlike klap in die gesig voorgekom. Ek het heeltemal begrip gehad vir hierdie siening. Ek, as polisie-offisier – meer as ander – het egter geweet dat Augie die slagoffer was van die politieke geweld – veral APLA – wat in daardie moeilike en onstuimige tye in die land so hoogty gevier het.

Terwyl ek die bedankings tydens die begrafnisdiens in die Kerk op Barkley-Oos gedoen het, het ek daar van voor gesien dat daar tientalle swart mense op die galery van die Kerk sit. Hulle het dus moeite gedoen om al die pad van Elliot na die begrafnisdiens te kom. Dit was toe vir my duidelik dat sy moord niks met die plaaslike swart mense te doen gehad het nie, maar dat dit inderdaad ‘n lafhartige, politieke moord in opdrag van APLA – die PAC se militêre arm – was. Daar was destyds talle sulke gevalle elders in die land ook gewees.

IN BEVEL VAN BINNELANSE STABILITEIT, WES-KAAP: So kort nadat die ANC-leier, wyle Chris Hani, in 1993 vermoor is, is ek versoek om bevel van die Wes-Kaapse Afdeling: Binnelandse Stabiliteit (ABS) – ‘n Afdeling van digby die duisend in getal – oor te neem. Ek was nie beïndruk gewees met hierdie skuif nie. Ek was op daardie tydstip in Namakwaland.

Terloops: Chris Hani se moord het so ampertjies ‘n burgeroorlog ontketen. Die swartes landswyd was woedend. Dit was so erg dat FW De Klerk – toe nog President – vir Nelson Mandela moes vra om die mense oor die TV te kalmeer. En met sy gesag en statuur het hy dit toe ook inderdaad reg gekry. Dit was so hittete. Van daardie dag af het Mandela meer gesag afgedwing en polities sterker gestaan as De Klerk. Hy was inderdaad toe al gesien as die eintlike hoofleier van Suid-Afrika.

Dinge in die Kaapse townships was op daardie stadium, om dit sag te stel, ook maar baie woelig gewees. Ernstige politieke geweld was aan die orde van die dag, terwyl die taxi-groeperinge mekaar ook laat les opsê het. Tientalle mense het daagliks weens al die gewelddadigheid gesterf. As ek so terug dink, voel dit half onwerklik.

Ek dink die feit dat ek vlot kon Xhosa praat, het miskien ook ‘n groot rol gespeel toe my aanstelling oorweeg is. Ek het partykeer gedink dat dit dalk my “biggest claim to fame” kan wees.

In daardie pos het ek besluit dat, om elke keer geweld met geweld teen te probeer gaan, nie altyd die enigste oplossing is nie. Ek het ‘n intelligenter benadering deur die ABS-polisiemanne bepleit. En ek was besonder gedetermineerd om dit in die praktyk beslag te laat kry. Ek wou ‘n einde maak aan die onnodige skop, skiet en donner mentaliteit wat geen resultate gelewer het nie.

Dit het nie heeltemal byval by die ABS-polisiemanne gevind nie. Verder meer is ek as ‘n buitestander in hierdie afdeling aangestel. Ek kon dit aanvoel dat van hulle gedink het dat ek nie kultuur en benadering van Binnelandse Stabiliteit ken of verstaan nie. Hoe kan ek dan vir hulle iets leer? Dit is nogal ‘n moeilike situasie. Maar ek het besluit om maar daarmee deur te druk.

Interessant was dat sekere koerante en leiers na die afdeling Binnelandse Stabiliteit verwys het as die “Instability Unit”. Dit was nogal veelseggend.

Ek het intussen ook met die Sentrum vir Konflikhantering van die Universiteit van Kaapstad kontak gemaak. Ook ander Nie-Regerings Organisasies (NRO’s) – die sogenaamde NGO’s – wat hulle self toegespits het op die bestuur van konflik in die gemeenskappe. Hierdie mense was later vir ons van onskatbare waarde.

So het ek hierdie kundiges gebruik om die strydende groepe bymekaar te kry in ‘n poging om die geskille tussen hulle deur middel van onderhandelinge te probeer oplos en sodoende geweld te vermy – geweld waarby die Polisie dan ook uiteindelik betrek sou word. Politieke groeperinge het mekaar destyds goed bygekom. En dan sommer partykeer ook faksies binne ‘n groep. As ek so terug dink, was dit ‘n ‘mal’ tydperk in ons geskiedenis.

Wanneer daar besonder moeilike gevalle van geweld of dreigemente daartoe, voorgekom het, het ons in sulke gevalle maar altyd probeer om die strydende partye om die tafel te kry.

Lede van my Afdeling het partykeer nie eers geweet waarmee ons agter die skerms besig was nie.

Wanneer die leiers-elemente van die groepe egter om die onderhandelingstafels aangesit het, het ek geweet dat die fokus nou op onderhandelinge sal wees en dat gedagtes van geweld vir ‘n wyle op die agtergrond geplaas sal word. Die gemoedere was dan vir ‘n tyd gekalmeer.

Hierdie strategie het nogal telkens baie vrugte afgewerp. Dit was dan onnodig vir die polisie om betrokke te raak. Dít was immers die doel.

Dit het uiteraard ook kommunikasie tussen die Polisie en die gemeenskappe in die townships bewerkstellig en die vyandskap wat daar was, tot ‘n mate getemper. Ons het mekaar leer ken. Die mense in die townships het ook geweet dat hulle op hoër vlak met die Polisie kon skakel omdat hulle iemand daar persoonlik ken en wat húlle taal kan praat.

Ek het ook goeie verhoudinge met die leiers-elemente van die ultra-groot taxi groeperinge, soos CATA en CODETA, in die Kaapse vlakte opgebou. Dit het dermate so ontwikkel dat wanneer geweld tussen hulle gedreig het, ek eenvoudig die leiers telefonies geskakel het en na ‘n vergadering by die Polisiehoofkantoor in Kaapstad ontbied het. Hulle het sonder uitsondering gehoor gegee.

Die feit dat ek Xhosa vaardig was, het natuurlik baie gehelp. En natuurlik het ek ook my kennisse by die NRO’s en die Sentrum vir Konflikhantering ook betrek. Hulle het gewoonlik sonder uitsondering vir hierdie vergaderings opgedaag om te kom help. So het ons moeilike situasies, wat die potensiaal gehad het om in ernstige geweld te ontaard, betyds te ontlont.

Die Sentrum vir Konflikhantering van die Universiteit Kaapstad was aanvanklik verbaas toe ek, as polisie-offisier, en nogal as hoof van die (amper berugte) Afdeling Binnelandse Stabiliteit, hulle met my planne en idees genader het. Maar hulle was sommer dadelik entoesiasties. Ek dink die Wes-Kaap was die ander provinsies vêr voor gewees met ons benadering en hantering van konflik en die voorkoming van politieke en ander geweld.

TYE VAN VERANDERING: Ek het by tye dinge baie opwindend gevind. En nuwe dinge probeer.  Anders probeer doen. Met ander woorde, om so ‘n bietjie weg te breek van die geykte metodes en bestaande dogmas.

Afdeling Binnelandse Stabiliteit was, anders as die gewone uniformlede, geklee in die groen/geel kamoefleerdrag. Ek het partykeer die gevoel gekry dat dit vir die mense in die townships dieselfde is soos om ‘n rooi doek voor ‘n kwaai bul rond te swaai. Daar was ‘n geweldige persepsie by hulle omtrent hierdie afdeling van die Polisie.

Ek het toe besluit dat ek gaan wegdoen met die kamoefleer uniform en dat hulle voortaan in die blou velddrag gekleed sal gaan.

Toe hulle die eerste keer hierdie uniforms in April 1994 aantrek, het ek een dag vergesel van die plaaslike pers, ‘n toer met ‘n aantal seksies van ABS deur Ou Kruispad en omliggende woongebiede geneem. Ek was baie verbaas oor die inwoners se welwillendheid teenoor ons. Die res van die land het daarna ook oorgeslaan na die blou velddrag.

Die Cape Times het die volgende dag ‘n groot kleurfoto – geneem deur fotograaf Andrew Brown – waar ek in my blou velddrag en ‘n klomp jong swart seuns verskyn, geplaas. Dit het gewys waar hulle my “leer” hoe om ‘n buiteband met twee stokke te stoot. Ek het hierdie speletjie in elk geval as kind op die plaas baie beoefen en dit was niks nuuts vir my nie. Die onderskrif van hierdie foto het as volg gelui:

“CHANGE OF COLOUR, CHANGE OF HEART …. Children at Vietnam squatter camp, in Khayelitsha, explain to Western Cape internal stability division chief Colonel Fanie Bouwer how to master their game with a tyre. Colonel Bouwer, who is fluent in Xhosa, is determined to improve relations between his division and the community”.

Hierdie foto het ‘n besondere indruk op die Cape Times se lesers gemaak, want talle van hulle het na ons kantore in gebel en in ekstase positiewe kommentaar daaroor gelewer.

Voor 1994 was begrippe soos transformasie, verandering en aanpassing, vreemde konsepte vir die polisiemanne gewees. Dinge was só, en word só gedoen, en basta, was die algemene gevoel onder sekere van my kollegas. Die kultuur was oor baie jare stewig gevestig. Dit was moeilik om die polisiemanne te laat verstaan dat dinge nou anders benader moes word. Dit was as’t ware ‘n dik muur om deur te breek.

Ek het partykeer die gevoel gekry – selfs onder senior offisiere – dat in weerwil van ‘n verandering van regering wat letterlik maande op hande was, dinge in die Polisie maar net soos in die verlede op die gewone manier en met die gewone benadering kon aangaan. Hulle was kwalik bewus dat sekere dinge net nie meer geduld sou word nie.

Party het jou sommer duidelik laat verstaan dat hulle nie by die “ANC gaan gatkruip” nie. Ek het party keer begrip vir hierdie houding gehad. Ander dae weer nie, want dit het eintlik niks daarmee te doen gehad nie.

Dit het inderdaad glad nie oor politiek gegaan nie – ons was immers maar ook net staatsamptenare, wat vir die eerste keer met ‘n verandering van regering te doen gaan kry – teen wil en dank. Dit was asof partye ouens nie die realiteite van dit wat aan die gebeur was, eenvoudig nie kon aanvaar of wou begryp nie, maw ‘n sielkundige ontkenning van die werklikheid.

As ek dus so terugdink was veranderingsbestuur aanvanklik nie hoog op die agenda van die SA Polisie nie. Miskien was sekere generaals eerder gefokus om te keer vir hulle eie wiekets. Who knows?

Daar was egter ‘n geleentheid in die Paarl se polisie opleidingskollege waar ‘n taamlike jong André Pruis – toe ‘n brigadier en tans 2de in bevel (Nasionaal) van die SAPD – ons offisiere blykbaar in opdrag uit Pretoria kom toespreek het.

Ek onthou nog dat hy dit op ‘n briljante wyse gedoen het. Hy het daardie dag nie veel doekies omgedraai nie. Ek dink dit moes een van die beste toesprake van sy lewe gewees het.

Nogtans het dit ‘n onderlangse gemor onder sekere van die aanwesiges tot gevolg gehad. By hulle was daar maar net nie aanvaarding van dit wat blyk onafwendbaar op pad was nie.

Metteryd het dinge egter tog in die regte rigting begin beweeg. Die polisie het toe die Afdeling  “Gemeenskapsverhoudinge” binne die strukture van die polisie tot stand gebring. En toe juis onder die nasionale bevel van die bekwame kommissaris André Pruis. Die konsep of beleid van gemeenskapspolisiëring was ook terselfdertyd van stapel gestuur.

GEMEENSKAPSPOLISIËRING: In die Wes-Kaap is baie goeie werk gedoen om die konsep van gemeenskapspolisiëring in die praktyk beslag te laat kry. Gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) is ook by elke polisiestasie gestig. En is ook gepoog om verhoudinge per se tussen die polisie en die gemeenskap oral op ‘n beter voet te plaas.

Maar nog steeds was daar ouens in die polisie wat Gemeenskapspolisiëring en gemeenskaps- verhoudinge nie wou aanhang of daarby wou inkoop nie. Of selfs nie eers die moeite gedoen het om dit te probeer verstaan nie. Die meeste het maar die houding ingeneem dat dit iets was waarmee die afdeling Gemeenskapsverhoudinge hulself besig gehou het.

Tog was daar stadig maar seker pogings om die polisie ‘n meer siviele beeld te gee in die plek van die bestaande reg-en-ordestruktuur, sodat dit nie as ‘n werktuig van die regering beskou moet word om sy doelwitte op die mense af te dwing nie

Gemeenskapspolisiëring is ‘n konsep wat alreeds in Engeland getoets en van krag was. Die aanvanklike beleidmakers of propageerders van Gemeenskapspolisiëring was destyds onder die indruk dat dié beleid èn die instelling van GPF’s as’t ware die towerstaf sou wees wat verhoudinge tussen die polisie en die gemeenskap in ‘n japtrap sou verbeter.

En ook dat GPF’s, as openbare forums, met die deelname van die publiek, die onmiddellike gevolg sou hê dat die polisie en die gemeenskap só hartlik sou saamwerk dat dit misdaad voortaan vinnig ‘n nekslag toegedien sou word.

Maar wat betref die impak wat gemeenskapspolisiëring en die GPF’s op misdaad self sou gehad het, was daar, selfs tot nou toe, maar ‘n wrede ontnugtering. Misdaad het sedertdien eenvoudig jaar na jaar onverpoosd tot ongekende vlakke voortgewoed. Tot vandag toe.

Daar was dele in die land waar die verhoudinge tussen die polisie en die gemeenskap maar altyd goed was. In daardie areas waar dit voorheen maar beroerd was, het die verhoudinge later wel merkbare verbetering teweeg gebring. En gaan dit vandag oral betreklik goed.

Ek moet hier  die  rol wat The Cape Argus en die Cape Times in daardie tyd gespeel het, noem. Hulle het bewus geraak van die feit dat ek sekere dinge en gesindhede en persepsies wat gegeld het, wou verander. Wanneer ek dit nodig geag het om oor ‘n positiewe gebeurtenis te laat verslag doen, het hulle gewoonlik hulle samewerking gegee.

‘n Vroulike verslaggewer van die Cape Times het my selfs uit eie beweging genader en gesê dat indien ek enigsins blootstelling oor een of ander verdienstelike geval of aangeleentheid sou wou hê, ek nie moes huiwer om hulle te nader nie. Ek het hierdie gesindheid destyds baie gewaardeer.

Vroeg in 1993 was daar ook oral die sogenaamde Vredeskomitees deur die destydse regering in die lewe geroep is. Ek het volledig daarby ingeskakel.

Dan was daar ook die sogenaamde “TEC Sub-Councils” vir elke staatsdepartement. So was daar byvoorbeeld die “TEC Sub-council on Law and Order”. Ek kan nie eers meer die Afrikaanse benamings onthou nie. Ek weet ook nie meer wat die bevoegdhede en gesag van die rade was nie. En ook nie hoe dié statutêre instellings die bevoegdhede van die betrokke kabinetsministers geraak het nie.

Maar dié instellings was ingestel om toe te sien dat in die tydperk voor die 1994-verkiesing ‘n bietjie openlikheid en deursigtigheid moet wees en dat die opponerende kante mekaar nie te veel verneuk nie.

Professor Wilfried Schärf, ‘n knap kriminoloog en regsgeleerde verbonde aan die Instituut van Kriminologie aan die Universiteit van Kaapstad het destyds nóú betrokke geraak by hierdie instellings. Hy het in die algemeen goeie werk gedoen en ek, as polisie-offisier, was altyd besonder geïnteresseerd om na mense buite my eie milieu se opinies en sienings te luister.

Schärf was ook, onder andere, ‘n aktiewe propageerder van gemeenskapspolisiëring. Ek dink dit was onder sy leiding wat die konsep as ‘n proeflopie destyds by die Manenberg polisiestasie van stapel gestuur is.

Wat my destyds getref het van professor Schärf en ander persone uit die geledere van die NRO’s, was dat alhoewel hulle hoogs intelligente mense was, hulle oordeel en siening van sake vanuit hulle akademiese perspektiewe en agtergrond, menige keer deur verkeerde persepsies beïnvloed was – veral wat betref hulle siening van die polisie en die intriges wat by misdaad en politieke geweld voorgekom het. Hulle eie politieke sentimente het natuurlik ook ‘n invloed op hulle denke gehad.

In een van sy memorandums in 1994 het sy suspisie en agterdog jeens die polisie juis na vore gekom. Ek haal ‘n enkele paragraaf daarvan aan:

“Suspicion about alternative police agendas is minimised by the greater transparency and participation of civilian structures..”

Was dit dalk as gevolg van die Veiligheidspolisie se dade dat hy ons, die gewone polisiemanne, sommer ook onder dieselfde kam geskeer het? “Being tarred with same brush”, soos hulle sê.

By the way, watter gewone polisieman in Suid-Afrika, uniform of speurder, het of moes voor die WVK gebieg? Of was beskuldig van ernstige menseregtevergrype? Nie enige waarvan ek kennis dra nie.

27 APRIL 1994 VERKIESING: Die 27ste  April  1994  het  gouer  nader gekom as wat ons besef het. So moes ons toe beplan vir die veilige verloop van die ‘moeder van alle verkiesings’. Dit was ‘n besonder gespanne, maar terselfdertyd ‘n opwindende tydperk.

Verkiesingsmonitors, wat ook polisiemanne ingesluit het, het van talle lande oor die hele wêreld in Suid-Afrika aangekom om die verkiesing te monitor.

En ek dink baie van hulle was maar hier net om toe sien dat die plaaslike polisiemanne nie droogmaak of “alternatiewe agendas” volg nie. Die persepsies wat hulle oor ons gehad het, was maar nie van die beste nie. Of was dit weer ’n geval waar ons saam met die Veiligheidspolisie beoordeel was? Of was die wanpersepsies deur plaaslike mense aan hulle oorgedra?

Ek het dit onsmaaklik en irriterend gevind dat ek partykeer wantrou word. Hoe moes ek dit verdedig? Maar, nou ja, hulle kon ook seker nie sien wat in my en andere se koppe aangaan nie. Hierdie lot was ons maar seker beskore. Ek het maar net besluit om hulle eenvoudig te ignoreer en aan te gaan met my taak.

Hierdie monitors het by ons kantore geboer. Ek het dit veral interessant gevind om hulle menings oor ons en hulle eie metodes en beleid te hoor. En ook hoe hulle byvoorbeeld misdaad en skarebeheer in hulle lande toepas. Van hulle kon nie die toestande glo waarin die plaaslike polisiemanne moes werk nie.

Baie van hulle was maar ook taamlik naïef. In hulle meer beskaafde omgewings was dinge net anders en baie makliker. Van hulle sou nie lank kon uithou in die toestande waarin ons manne hier plaaslik gewerk het nie.

Hulle speurders sou byvoorbeeld sê dat hy heelwat ervaring van moordsake het. Hy sal aan jou verduidelik dat hy byvoorbeeld al drie moordsake in sy loopbaan ondersoek het. As jy hom vertel dat in Khayelitsha (waar ek ook stasiebevelvoerder was) daar byvoorbeeld 30 moorde ‘n maand gepleeg word, het hulle gou tot die besef gekom dat hulle eintlik nie met gesag kan saam gesels nie.

Ons het lank en deeglik beplan om toe te sien dat die 1994 verkiesing uit ‘n veiligheidsoogpunt glad verloop. Ons het ook die monitors, NRO’s en sekere verteenwoordigers van politieke partye by die beplanningsvergaderings toegelaat. Ons wou ons openheid en deursigtigheid wys.

Openheid en deursigtigheid? Hierdie twee woorde het daardie tyd “buzz-words” geword. Nou, 10 jaar later, word hierdie twee woorde nogal vermy. Ek wonder hoekom? Of is dit nou ‘n geval van “It’s OK, I’m now in charge”.

Die ANC se lede belas met veiligheids-aangeleenthede het my ‘n dag voor die 1994-verkiesing gekontak en verneem of hulle my nie daardie nag by my kantoor in die Wes-Kaapse Hoofkantoor kon ontmoet nie. Hulle wou hulle eie veiligheidsplan vir die verkiesing aan ons voorlê sodat dit met die van die Polisie kon sinchroniseer en sodat die een kant kon weet wat die ander kant doen.

Ek was verbaas gewees oor hierdie skuif van hulle, aangesien hulle op daardie tydstip maar nog steeds, en na my mening heeltemal onnodig, vreeslik skepties oor ons bona fides was.

In elk geval, hulle daag toe daar op onder leiding van ene Lerumo Kalako, Jeremy Veary en ‘n paar ander en lê toe hulle beoogde aktiwiteite vir die volgende dag bloot. Ons het dié aand mekaar so effens groot-oog aangestaar. En so ‘n paar feite gedeel. Ek dink dit was ‘n goeie ding gewees.

Kalako het later toe die eerste provinsiale Minister  van Sport- en Kultuursake (‘n swak ene, moet ek sê!) in die Wes-Kaap geword, terwyl Veary by die SA Polisiediens aangesluit het as ‘n intelligensie-offisier met die rang van kolonel (later Direkteur).

Veary was voorheen ook op Robben-Eiland aangehou gewees, maar het homself as ‘n besonder knap en deeglike persoon bewys en goed ingeskakel by ons. Hy is ‘n buitengewone intelligente mens en ons het vir ‘n paar jaar nóú saam gewerk. Hy was werklik een van beste aanwinste uit ANC geledere vir die Polisie gewees.

Ek sal  die   aanbreek  van   27  April  1994  nie  maklik vergeet nie. Lede van die Vredeskomitees, monitors, oorsese polisie-offisiere, lede van NRO’s en andere het ook in die operasionele kamer van ABS by ons polisiehoofkantoor in Kaapstad gesit en luister na die situasieverslae (SITRAPS) wat kort-kort van oral in die Wes-Kaap oor die telefone, radios en faksmasjiene ingekom het.

‘n Duidelike gevoel van opgewondenheid het by almal geheers. Party van hierdie ouens het skootrekenaars by hulle gehad en energiek en vervaard sekere inligting oor die verloop van die dag se gebeure daarop ingetik.

Ek het op ‘n stadium die operasionele kamer vir ‘n wyle verlaat en ‘n paar vinnige draaie in die townships gaan ry en hier en daar met enkele kiesers gepraat. Die mense het oral oor geduldig in baie lang toue gestaan vir ‘n geleentheid om hulle kruisies vir die eerste maal in hulle lewens te trek. En oral elders sien jy vir baas, miesies, kombuismeid, tuinjong, baba-oppaster, geletterdes, ongeletterdes, kapitaliste, kommuniste, die bourgeois (middelstand), die ploteriaat (werkers) –  swart, wit, bruin en geel – in lang, kronkelende toue en al geselsende, hulle beurt afwag om daardie geskiedkundige kruise te maak.

Waar daar nog die vorige dag onderlinge spanninge was, het ek die gevoel gekry dat daar ‘n algemene kalmte oor alles en almal gekom het. Die sielkundige impak wat die aanbreek van hierdie geskiedkundige dag op die mense gehad het, was eenvoudig ongelooflik.

Dit was skielik asof die onmiddellike verlede heeltemal vergeet is en almal mekaar vergewe het. Die impak wat dit op almal gehad het, was besonder interessant om te aanskou en te ervaar. Die lang rye kiesers wat rustig daar hulle beurt afgewag het terwyl hulle vriendelik met mekaar gesels het, was miskien inderdaad ‘n wonderwerk wat voor jou oë afgespeel het.

Die vergewensgesindheid van die swart mense in hierdie land, bly vir my een van die mees onverklaarbare menslike verskynsels van ons tyd. Veral in Kaapland en Natal, waar baie wit mense die spesifieke swart tale kan praat en die verhoudinge redelik goed is. Ek het baie gewonder wat my eie gevoel sou wees as ek in hulle skoene was.

In my omswerwinge in die land, en wat ek daar ervaar, gesien en gehoor het, is dit egter my persepsie dat dit nie die geval is in die Vrystaat en Transvaal nie. Miskien is die plaasmoorde in dié provinsies ‘n bevestiging daarvan. Ek is egter nie seker nie en sal dit nie as ‘n voldonge feit wil voorhou nie.

Hoe verkeerd was baie mense oor wat die uiteindelike reaksie van die mense sou wees nie! Ek onthou nog hoe baie mense blikkies kos, beskuit, ammunisie en wat ook al voor die tyd begin opgaar het? Wat het hulle gedink en wat het hulle verwag? Was dit as gevolg van ‘n skuldige gewete? Ek wonder wie sal vandag erken dat hulle dit ook gedoen het?

President Mandela se versoeningsgebare en vergewensgesindheid ná sy verkiesing as staatspresident, het die wit mense se vrese vinnig besweer. Onthou u nog hoe hy die vorige wit presidente se vroue na Tuynhuys vir tee genooi het? En hoe hy ook na mevrou Betsie Verwoerd in Orania gevlieg het om tee (en koeksisters) saam met haar te gaan geniet? Dit is dáárom dat hy wêreldwyd so hoog geag word. Ook deur die meerderheid van wit mense in hierdie land.

En, glo my, daar was van sy eie mense wat maar gemor het oor sy ingeslane weg. Hulle het gedink hy te onnodig vriendelik met die witmense. ‘n Mugabe-tipe karakter – met haat in sy hart teenoor wit mense – kon daar die tyd chaos in Suid-Afrika veroorsaak het.

‘n Kommentator het nou die dag gesê dat as Mandela eendag te sterwe kom, dit die eerste keer sal wees dat wit én swart in hierdie land saam sal treur en dat sy afsterwe dáárom verdere versoening in hierdie land teweeg kan bring. Ek het daaroor nagedink. Ek glo dit kan dalk so wees.

PRESIDENT MANDELA SE KAAPSTAD-TOESPRAAK: Kort na die verkiesing, vroeg in Mei 1994, sou die nuwe president van Suid-Afrika in die Parlement verkies moet word. Verkies word? Dit was natuurlike ‘n uitgemaakte saak dat dit Nelson Rolihlahla Mandela sou wees.

Hy sou onmiddellik na sy verkiesing in die Parlement as nuwe staatspresident, vanaf die stoep op die tweede vloer van die ou Stadsaal ‘n skare toespreek wat op die Kaapse Parade sou vergader.

Ons het so 120,000 mense op die parade vir hierdie geskiedkundige geleentheid verwag. Veiligheidsmaatreëls en skarebeheer sou hier toegepas moes word en daar moes ook spesifiek toegesien word dat die Staatspresident nie dalk deur een of ander waansinnige dalk daar op die ou stadsaal se stoep geskiet word nie.

Ek het in my besit ‘n pragtige en groot kleurfoto van die Kaapse Parade waar die duisende mense na die president se toespraak staan en luister. Dit blyk asof dit van die stoep waar die president gestaan het, geneem is. Ek kan nie meer onthou wie dit aan my gegee het nie.

Ek het die veilgheidsbeplanning gedoen met ‘n afgetrede Engelse polisie-offisier, oud-superintendent David Jackson, as my adviseur, wat jare lange ondervinding van skarebeheer en Engeland en Hong Kong (toe dit nog onder Engelse beheer was) opgedoen het.

Op hierdie offisier se voorstel het ons byvoorbeeld, wat ons genoem het, ‘n “Forward Commanding Post” by die ou stadsaal regoor die parade ingerig. Die bevelvoerder by hierdie pos het direkte uitsig oor die Parade gehad en kon hy vir my in die hoof operasionele kamer voortdurend situasieverslae oor die radio stuur of direk aan die bevelvoerders op die grond opdragte uitreik. Dit het die bevel-en-beheer situasie aansienlik vergemaklik.

Ek het toe ook die Vredeskomitee en die ANC gevra of om by die beplanningsvergaderings aan te sluit. Ek het beoog om ‘n paar honderd van die ANC se sogenaamde “Marshalls” te betrek op die Kaapse Parade om ons te help om beheer oor die skares te behou. Hulle sogenaamde “Marshalling Commissioner” Mabinda Ndoylo het toe saam met ons die beplanning gedoen. Retief Olivier, die Streekdirekteur van die Vredeskomitee, is ook hierby betrek.

Dit was nogal ook iets geskiedkundig, omdat dit die eerste keer in die geskiedenis sou wees dat die Polisie in die gees van gemeenskapspolisiëring lede van die gemeenskap – en op so ‘n groot skaal daarby – by ‘n polisie-operasie sou betrek. Die koerante het ook heelwat dekking daaraan verleen.

Lede  van   die  pers   het  op  ‘n   dag  of  wat  voor  die verkiesing met my oor die beplanning van die geleentheid op die Kaapse Parade kom spreek. En ook om navraag te doen oor die feit dat ons lede van die gemeenskap saam met die veiligheidsmagte gaan gebruik. Hulle het dit besonder nuuswaardig gevind. Ek was, onder ander, as volg aangehaal:

“Fanie Bouwer described the operation as an historic one – the first time the police and the community had planned security measures for such a big event jointly”

Die een koerant het toe ook as volg verslag gedoen:

Asked whether he would advise anyone to avoid the city centre on Monday, Bouwer replied: “I would rather invite them to join us for this historic occasion”.

Die beheer van die skares op die parade daardie dag het klopdisselboom verloop. En die “Marshalls” het hulle kant ywerig gebring. Ek het ook gesien dat hulle daar op die parade sommer hier en daar letterlik gat geskop het om orde te handhaaf, iets wat die gewone polisiemanne natuurlik nie sou kon waag het nie.

Die Kaapse Stadsraad het hulle in ‘n brief daarna as volg daaroor uitgelaat:

“The manner in which you and your senior officers made this exercise a joint operation with ANC Marshalls, the peace monitors and observers was in our mind a milestone for Cape Town.

The attitude of the people on the Grand Parade towards the “boys in blue” was a most pleasant revelation. You can be really proud of your officers and men for the manner in which they planned and implemented the crowd control and security measures for the VIP’s.

The event, in our view, created a great deal of goodwill. It is good to know that Cape Town has what it takes to organise major events, even at short notice”

Professor Schärf, in sy hoedanigheid as voorsitter van die subkomitee op gemeenskapspolisiëring van die Wes-Kaapse Vredeskomitee, asook voorsitter van die “Joint Forum on Policing”, het in ‘n memorandum as volg daaroor geskryf:

The police gained a lot of support and credibility through the process and will hopefully not treat the event as a one-off.

What deserves special mention, is that the acceptance speech security arrangements were a first for policing in South Africa in that monitoring and marshalling structures were involved from the outset in the planning, and not only brought on board once plans had been unilaterally determined.

This no doubt added to the success of the management of such a large group of people.

Fanie Bouwer deserves special acclaim for the brave step in the direction of community policing”.

Die nuutverkose staatspresident Nelson Mandela was tydens sy toespraak vergesel van Aartsbiskop Desmond Tutu. Laasgenoemde was in ‘n joviale bui en op sy eksentrieke beste. Ek het Tutu vir die eerste keer in lewende lywe persoonlik ontmoet tydens die eerste verhoor van die Waarheids- en Versoeningskommissie in Kaapstad.

Ek het op daardie stadium reeds die operasionele kamer met my handradio verlaat en na die geskiedkundige Kaapse Parade daar naby gestap.

Ek wou ooggetuie wees van hierdie geskiedkundige oomblik …

Ek het die toneel daar op die ou stadsaal se stoep van die Parade gade geslaan. Dit was op hierdie dag toe Biskop Desmond Tutu, toe hy die nuwe president aan die skares voorgestel het, die uitroep – of was dit ‘n visie? – van ‘n “rainbow nation” vir die eerste keer geuiter het.

Ek het nou die dag weer na ‘n video in my besit gekyk wat van daardie dag op die Kaapse Parade geneem is. Biskop Tutu het skreeuend die volgende woorde ‘n paar keer herhaal: “WE ARE THE RAINBOW PEOPLE OF GOD – WE ARE FREE …. WE ARE FREE!!”. Interessante karakter, hierdie ou Biskop!

Die gees op die Kaapse parade was baie goed. Jy het die opgewondenheid op die mense se gesigte gesien. Die atmosfeer was elektries. Waar ons in die verlede maar taamlik probleme gehad het en taamlik moes bontstaan met sulke groot byeenkomste en vyandskap van die swart mense ervaar het, het hierdie een in ‘n betreklik vriendelike gees plaasgevind. Ons het verbasend goeie samewerking van die groot skare gekry.

Daar was egter min wit mense. Ek het baie gewonder oor wat die redes daarvoor was. ‘n Mens kan seker verskeie opnoem. Maar tog dink ek dat ek die sielkunde daaragter verstaan het.

Daardie dag het ek finaal besef: ‘n Nuwe era in Suid-Afrika – die sogenaamde demokratiese bestel (waaroor baie mense nie sal saamstem nie) – het finaal en onherroeplik aangebreek.

‘n Eienaardige en onwerklike gevoel gewees …

Die Afrikaners het in hierdie tyd maar taamlik aan bomskok gely. Ons was voorheen baas van die plaas, maar het skielik verward geraak en nie herwaarts of derwaarts geweet nie. Afrikaners (nie almal nie – en ek blameer eintlik die aartskonserwatiewe NP-regering van destyds onder leiding van die Broederbond – én die dominees wat hulle heilige plig versuim het en wat hulle nie betig het nie) het die volgende paar jaar of wat begin besef dat hulle – ook dié wat dit ontken – in die verlede lelike dinge gedoen het en op groot skaal droog gemaak het – en laat ons nie onsself bluf met die argument van goeie bedoelinge nie. Die bedoelinge was net by ‘n minderheid goed. Bowendien, die Bybel sê ‘n boom word aan sy vrugte geken – en vandag besef ons al hoe meer dat die vrugte van die apartheids boom maar taamlik suur was.

Ek het kort na die oorname deur die ANC in die nuwe bedeling, ‘n interessante ding begin opmerk. Hier verwys ek na die houding van swart en bruin mense – selfs binne die geledere van die polisie. En dit was dat sekere bruin individue jou kort-kort wil laat verstaan het dat die bordjies, polities gesproke, nou verhang is – partykeer subtiel; ander kere ietwat minder subtiel – en dat jou menings net nie meer belangrik kan wees nie. Met ander woorde, dat hulle (swart mense) nou in charge is.

Al het jy beter menings of idees gehad, is dit sommer maklik afgemaak as idees van die ou orde òf dat jy nie wil “transformeer” in die nuwe demokratiese bestel nie. Ek het hierdie houding deurentyd verwerp en ywerig teengestaan. Ons was mos nie in die Polisie met politiek besig nie. Maar hulle was die klein jakkalsies. Ek het dit nogal min of selde by swart mense ondervind.

Ek het altyd gewonder wat die rede vir hierdie (onverklaarbare) houding – in die polisie spesifiek ook – was? Veral gesien in die lig van die feit dat ons almal, wit, bruin en swart, net kort vantevore sáám in die ou SA Polisiemag was èn nogal sáám die vorige apartheidsregering gedien het! So, waarom hierdie houding skielik van húlle kant af? Hulle argument het geen logika gehad nie. Toe ek hulle geheue so ‘n bietjie daaroor verfris, het hulle vinnig stiller geraak daaroor.

In die nuwe, demokratiese bedeling is ons skielik gekonfronteer met die feit dat daar nou ‘n provinsiale LUR vir Polisie (nou die LUR vir Gemeenskapsveiligheid) is aan wie ons verantwoordbaar sou wees en wie op sy beurt toesig oor die provinsie se polisie gehad het.

Plaaslik het ons nooit voorheen op plaaslike en provinsiale vlak met ministers te doene gekry nie. Ons was maar ‘n baie geslote organisasie gewees. Selfs met die pers het ons nie veel oop kaarte gespeel nie. Verder het ons ook nou skielik met vakbonde te doene gekry.

Outokratiese besluite – soos in die verlede, ten regte of ten onregte – is nou skielik met mening aangevat en bevraagteken. Jy moes skielik jou besluite goed oorweeg en jou voetwerk moes sommer baie beter wees.

Die nuwe kultuur en veranderinge wat begin posvat het, het sommer baie van ‘n ou geverg. Baie dinge was egter baie beter as in die ou bedeling. Sekere ou outokrate sou in die nuwe bedeling hulle rieme sommer vinnig styf geloop het.

INDRUKKE OOR ENKELE POLITIEKE LEIERS: Die eerste politikus wat in hierdie pos aangestel is, was Patrick Mckenzie van die Nasionale Party. Dinge aan die begin maar voel-voel geskied. Beide kante het maar nie presies geweet hoe hierdie verhouding nou presies in die praktyk moes werk nie. Die Grondwet was nie baie duidelik daaroor nie en het geblyk ook nie veel magte aan die LUR te gee nie.

Ek het Mckenzie ‘n baie aangename mens gevind. Hy is ‘n charismatiese en joviale persoon, wat die besondere vermoë gehad om enige persoon, hoog of laag op die ranglys, elke keer met eweveel vriendelikheid in sy kantoor te ontvang. Elke keer as jy daar by sy kantoor in Waalstraat ingestap het, het ‘n mens altyd die gevoel gekry dat jy ‘n ou vriend is wat hy jare laas gesien het.

Dit verskil so van ander selfbehepte, arrogante mense in hoë posisies wat stik in hulle “eie belangrikheid”. En dan was van hulle eintlik maar onnosel ook! En het ek nie menige van hulle oor die jare mee te doene gekry nie.

Ek stik nou nog aan my jenewer elke keer as ek net daaraan dink …

Nadat die nasionale kabinetsminister, Abe Williams, destyds van bedrog beskuldig is, is Mckenzie in sy plek aangewys as nasionale minister. Ek kan nie meer die spesifieke portefeulje onthou nie. Sovêr ek weet het Mckenzie sowat ‘n maand of wat in die ministerspos gedien toe FW De Klerk die Nasionale Party uit die Regering van Nasionale Eenheid onttrek het. Agterna gesien, ‘n dom besluit van De Klerk gewees. Ek dink hy het dit later besef ook.

Ek onthou nog hoe ek in 1994 vir die eerste keer vir Minister Sidney Mufamadi, Minister van Veiligheid en Sekuriteit, in sy kantoor in die ou Hendrik Verwoerdgebou in Kaapstad moes gaan sien het oor iets. Mufamadi was ook ‘n jintelman-tipe ou en het ons altyd vriendelik en beskaaf in sy kantoor ontvang. Vir die eerste maal moes ek aan ‘n swartman verslag doen wat in ‘n gesagsposisie bo my is. Dit het ietwat eienaardig gevoel.

Ek het vir Pieter Marais – vorige Wes-Kaapse Premier – in daardie breë gang by die LUR’e se kantore in Waalstraat vir die eerste keer ontmoet waar hy pas uit sy kantoor gestap het.

Ek het altyd na dié breë gang verwys as die “Corridor of Power”.

Ewenwel, ek was nog ‘n kolonel gewees. Marais kom toe reg voor my tot stilstand, groet my en kyk na die twee 2 stêrre en kasteel op elkeen van my skouers, steek sy hand uit en sê op sy kenmerkende uitbundige manier: “Jislaaik, met hierdie goed op jou skouers, moet jy seker ‘n generaal wees!” En ons wissel toe ‘n paar vriendelike woorde met mekaar.

Ek het ‘n paar keer ‘n punt daarvan gemaak om in die Provinsiale Parlement op die galery na die debatte rondom die polisie of misdaad te gaan luister. Dit was juis die einste Marais wat my veral beïndruk het. Hy kon sy saak goed stel en kon die ANC nogal goed gas gee. ‘n Ander politikus wat my daar as debatteerder beïndruk het, was Hennie Bester van die DP.

Ek sal maar swyg oor die een wat ek as die domste (NP) geïdentifiseer het. Was heeltemal verstom oor hoe hy kon gekom het waar hy was. En nog steeds is. Die amptenare laat party van hulle ook maar goed lyk.

Daar was eendag ‘n spesiale debat in die Provinsiale Parlement oor die taxi geweld in die townships. Van die leiers-elemente van die taxigroeperinge was ook daar op die galery saam met my. Ek kan nie onthou of ek of iemand anders hulle genooi het nie.

Soos dit maar partykeer gaan in sulke parlementêre debatte, klim die lede partykeer maar woes onder mekaar in. En tree sekere lede in ‘n mate maar taamlik belaglik op.

Ek hoor toe hoe een CATA-leier hier langs my onderlangs aan die ou langs hom in Xhosa sê: “Hahi, pa phambene”. Direk vertaal, beteken dit: “Nee wat, hulle is mal”. Ek het dit besonder amusant gevind. Ek het net gewonder wat daardie LPP’s van hierdie taxi-leier se opmerking oor die “belangrike debat” sou gedink het?

My eie gevoel daarna, was dat die betrokke debat daardie dag maar min bygedra het om die taxi konflik enigsins aan te spreek. Politici het maar meer bek as plan gewoonlik.

Mckenzie is opgevolg deur Gerald Morkel. Uit die aard van my pos by Polisie Hoofkantoor in Kaapstad, moes ek ook baie met hom skakel en by sy kantoor aandoen.

Morkel was ‘n waardige man en ‘n volkome jintelman. En jy kon hom altyd deur ‘n ring trek.

Ek het altyd die indruk gekry dat hy inherent ‘n eerlike mens is. Hy het nie vir my as ‘n gladde en geharde politikus voorgekom nie. Nogtans het hy, soos ons almal weet, vêr gekom in die politiek. Ek het later besef dat jy hom nie moes onderskat nie – hy was polities “streetwise”.

As hy byvoorbeeld ‘n afvaardiging van waar ook al uit die Wes-Kaap oor misdaad of oor een of ander polisie-aangeleentheid te woord moes staan, het sy private sekretaris my gewoonlik vooraf ingelig om so ‘n bietjie agtergrond inligting oor die onderwerp in te samel en die relevante feite in die hande te probeer kry.

Ek het dan só gemaak en Morkel het dan so ‘n half-uur of wat voor die aanvang van die vergadering ontmoet en hom dan oor die feite ingelig. Tydens die eerste van ‘n reeks van sulke vergaderings het hy aan my gesê om die eerste stoel naaste aan hom by die kop van die konferensietafel in te neem. Hy sou die afvaardiging dan verwelkom, die leiers-element spreekbeurte gee, waarna hyself dan die woord sou voer.

Hy sê toe aan my dat as dinge goed verloop, ek nie enige inset hoef te lewer nie, maar indien daar iets voorkom wat ek dalk beter as hy van polisie kant kon beantwoord, hy onder die tafel teen my voet sal skop, wat dan ‘n aanduiding sal wees dat ek maar verder die woord omtrent die spesifieke punt kon voer.

Op hierdie manier het ons heelwat groepe afgevaardigdes gelukkig huis toe gestuur.

Toe Morkel nog minister van Gemeenskapsveiligheid was, vertel hy my eendag dat hy in sy hele lewe bykans met alles waarby hy betrokke geraak het, die top posisie bereik het. Byvoorbeeld as hy betrokke geraak het met krieket, het hy mettertyd die kaptein geword òf die voorsitter van die klub. En so aan.

Min het ons op daardie tydstip gedink dat hy kort voor lank die Wes-Kaapse Premier sou word. En toe later die Kaapstadse Burgemeester. Persoonlik dink ek dit is jammer dat hy uiteindelik sy hoë politieke posisies onder ‘n wolk moes verlaat. Maar dit is maar hoe dit partykeer in die ongenaakbare wêreld van die politiek gaan.

Ons is eendag gevra om ‘n voorlegging aan die provinsiale kabinet oor een of ander aangeleentheid te doen. Ons was ongeveer vyf offisiere daarby betrokke. En ons is almal saam na die kabinetsvergadering.

Toe ons by die vertrek instap, sit Premier Hernus Kriel by die kop van die tafel en al die kabinetslede weerskante daarvan. Ons het net ingestap en, sonder om ons welkom te heet, haak Kriel af en sê: “Het júlle nie wérk om te dóén nie?” So asof hy wou klem lê op elke woord.

Behalwe die sarkasme in Kriel se stem, staan ons almal daar half uit die veld geslaan oor sy vraag, want ons is dan immers daar om ‘n aanbieding te doen en die minste wat ons verwag, is om darem verwelkom te word.

Wat ‘n konsternasie op die stasie was dit nie! Ek wonder toe nog so in die stilligheid of die minister van Polisie (Morkel) nie dalk vergeet het om Kriel vooraf daarvan in te lig nie?

Om ‘n lang storie kort te maak: Kriel se beswaar was toe dat dit nie nodig was dat vyf van ons na die aanbieding hoef te gekom het nie.

Maar is ons is toe so die donner in, dat ons sommer almal wil loop. Uiteindelik, na so ‘n kort, intense fluisterende onderhandeling sessie tussen ons, dink ek was dit toe net ek en Jeremy Veary wat agter gebly het om die aanbieding te doen.

Ek het ook gesien dat Morkel, wat net langs Kriel gesit het, met sy hand op sy (eie) bors, vir Kriel so ‘n paar driftige woorde toevoeg. Ek kon ongelukkig nie hoor wat hy presies vir hom gesê het nie.

Wat egter rêrig op ons indruk gemaak het, was dat Morkel die volgende dag aan elkeen van die vyf polisie-offisiere ‘n brief per hand laat aflewer het waarin hy ons om verskoning vra oor die gebeure in die kabinetskamer die vorige dag.

TAXIES EN BENDES: Ek het ook op ‘n stadium op die sogenaamde “Taxi Violence Task Team” gedien, ten opsigte waarvan Morkel en Leonard Ramatlhakana, die huidige minister van Gemeenskapsveiligheid, die mede-voorsitters was.

Ramatlhakana was ‘n nederige en stillerige tipe mens, wat sy taak gewoonlik sonder veel bohaai aangepak het. Jy mag hom miskien as gevolg daarvan onderskat het, maar hy het ‘n redelike skerp intellek. Ek het ook eers heelwat later uitgevind dat hy nogal ‘n goeie Afrikaans kan praat.

Dinge het skaars tot ruste gekom na die 1994-verkiesing, toe die bendegeweld in die Kaapse vlakte op ‘n stadium weer ons ernstige aandag begin verg het. Veral in die Manenberg omgewing. Daar is seker so ‘n stuk of 40 bendes in die Kaapse Vlakte, met gesamentlik oor die 100 000 lede. En hulle het interessant name soos: die Hard Livings, die Americans, die Jesters; die Nice-Time Kids, ensovoorts.

Ons het toe besluit om ‘n groot groep lede daar te ontplooi om die situasie te stabiliseer. Die aksie wat ons geloods het, het taamlik nuusdekking in die koerante gekry. Ek het heimlik geweet ons aksies sal nie ‘n oplossing vir die probleem van bendes as sulks meebring nie, maar ons moes darem ten minste wys dat ons “iets” doen.

Die Cape Argus het op ‘n stadium na die operasie verwys as ‘n “damp squib”. Ek het in my binneste nie veel daarmee gestry nie.

Ons het by die Manenberg polisiestasie ‘n spesiale operasionele kamer laat inrig, van waar ons die omgewing intens laat patrolleer en op bende-aktiwiteite gekonsentreer het. Ek het ook heelwat van my afdeling (ABS) se lede vir dié doel beskikbaar gestel.

Dit is hier waar ek die berugte tweeling Rashaad en Rasheed Staggie ontmoet het. Rashaad was die onbetwiste leier van die Hard Living bendes. Ek het later Rasheed in 1996 by Soutrivier in die straat dood sien lê pas nadat hy deur lede van PAGAD geskiet en daarna aan die brand gesteek is. Dit was groot nuus oor die TV. Hy is die een wat eendag in ‘n dokumentêre program oor bendes gesê het; “Whose nose?” in plaas van “Who knows?”

Ek het op ‘n stadium elke dag na Manenberg gegaan en as’t ware met die polisiemanne vir ‘n ruk op die grond saam gewerk om vas te stel wat werklik aangaan en om die kultuur, as ek dit só kan stel, van bendegeweld van naderby te aanskou en te ervaar.

Die bendeleiers maak groot geld. Dit is ‘n bewese feit. Die ekonomie van die onderwêreld het ‘n omset van miljoene rand per jaar. En dié aantrekkingskrag sal maar altyd daar wees.

Ons, in die wit woongebiede in die Kaap, lees maar net hieroor of sien iets van bendes op TV, maar het inderdaad nie ‘n baie goeie idee oor wat werklik daar in die Kaapse vlakte aangaan of wat die mense as gevolg daarvan moet deurmaak nie.

En hoeveel mense en kinders het nie al oor die jare gesterf het in die bendegevegte nie? Nie net gevegte tussen mekaar nie – die wreedste moorde en verkragtings denkbaar word deur hierdie mense gepleeg.

Ek dink die meeste moorde vind plaas wanneer die bendes mekaar takel wanneer hulle sien dat ‘n opponerende groep in “hulle gebied” verdowingsmiddels probeer verkoop. Dit is gewoonlik tydens hierdie oor en weer skietery waar onskuldige omstanders ook raak geskiet word. En dan is daar sommer baie ander redes wat ook ‘n skietery tot gevolg het.

Ek het al gewonder wat hier in ons wit woongebiede sal gebeur as daar sê byvoorbeeld 2, 3 of 4 kinders dood geskiet word. Die hel sal seker los wees. En sal daar uitroepe vir massiewe polisie-optrede wees en sal die koerante letterlik dae aaneen daaroor rapporteer. En sal alle pogings aangewend word om toe te sien dat dit nooit weer gebeur nie.

Tog, in die Kaapse vlakte, is dit al vir dekades lank amper ‘n daaglikse belewenis. Raar.

Ek noem bendes en bendegeweld ‘n “kultuur”, want dit is maar seker wat dit is. Of is dit ‘n verskynsel? Oor dekades heen probeer die staat, die polisie, NRO’s, die Kerke en gemeenskapsleiers om “iets” aan die hierdie probleem te doen, maar sonder enige noemenswaardige sukses. Veral op die langtermyn.

Daar word baie van die polisie verwag in hierdie verband. Die argument is: Vang hulle en stuur hulle tronk toe. Maar dit is nie so maklik nie. Dit is ‘n diepgewortelde sosio-maatskaplike probleem.

Die polisie kan nie net daar invaar en links en regs arresteer nie. Hulle moet minstens ‘n misdaad teen iemand kan bewys. Jy kan ook nie soos met terroriste “arrest or shoot on sight” nie. Dit is ook nie ‘n misdaad omdat jy toevallig of vrywillig ‘n bendelid is nie.

Dit is bekend dat baie sake in die howe skipbreuk lei as gevolg van die feit dat party ooggetuies wat verklarings aan die polisie afgelê het, eenvoudig op ‘n stadium voor die verhoor deur bendelede dood geskiet word. En omdat die mense bewus is hiervan, kom van die ooggetuies dus nie na vore nie. Hierdie hele spiraal van geweld veroorsaak ‘n gevoel van hulpeloosheid in die gemeenskap.

Dan dink ‘n mens aan die gedwonge verskuiwings van mense na die Kaapse vlakte tydens die implementering van die groepsgebiede wette. Dan is daar die armoede wat heers; die swak behuising en die werkloosheid en gepaardgaande armoede wat tot vandag toe nog ‘n ontsettende probleem is.

Gin wonder dat die Kaapse digter Adma Small die volgende in sy gedig gesê het nie:

“die Here het gaskommel

en die dice het verkeerd geval vi’ ons

daai’s maar al ….”

Dit is hierdie maatskaplike en ekonomiese faktore wat die bende kultuur net eenvoudig van geslag tot geslag laat gedy.

‘n Mens sien die blokke woonstelle wat ook destyds deur die vorige regering gebou is om die mense tydens die verskuiwings te huisves. Hierdie woonstelle – die mense verwys daarna as die “flêtse” – is broeiplekke vir bendes en misdaad.

Daar is gewoonlik te veel mense per vierkante meter opeen gehoop. En sonder ‘n behoorlike infrastruktuur soos parke, sportvelde en dies meer. Die omstandighede is eenvoudig haglik. Om hierdie rede sien jy so baie kinders in die strate. Dit is vir hulle aangenamer in die straat as binne die huis of woonstel self.

Ek is van mening dat hierdie ou woonstelblokke stelselmatig afgebreek en met behoorlike huise vervang moet word.

Dit is raar, maar waar – eintlik tragies – as jy byvoorbeeld sien hoe sekere plaaslike inwoners die Staggie broers as helde aanhang en bewonder. Dieselfde geld vir ander leiers van die tientalle bende groeperinge wat elders in die Kaap bedrywig is.

Hierdie bendeleiers betaal byvoorbeeld die mense se huurgeld; voorsien hier en daar kontant aan die mense om kos aan te koop of verleen finansiële hulp in geval van nood.

Ons het selfs op die TV gesien hoe lede van die plaaslike gemeenskap ten behoewe van die bendeleiers by die Howe vir hulle betoog. Vir wat? En dit terwyl die bendeleiers vir ernstige misdade verantwoording moet doen. Dit was onlangs weer die geval toe die bekende Ernie “Lastig” Solomons in die Hof verskyn het.

My persoonlike mening is dat hierdie mense finansieel afhanklik is van die betrokke bendeleier. Dáárom is hy hulle held. Tragies.

Die teenpool is natuurlik dat hierdie mense die bendes in hulle bedrywighede moet help. Hoe? Deur verdowingsmiddels vir hulle te verkoop, hetsy self of hulle kinders. Of om dit by hulle huise weg te steek. Of om hulle van die teenwoordigheid van die polisie te waarsku. Vuurwapens word ook partykeer deur die vroue op hulle persoon vir die bendelede gehou omdat die polisie hulle nie sommer sal visenteer nie. Ensovoorts.

Op hierdie manier word die mense in die in die hele kultuur vasgevang en kan hulle nie daaruit ontsnap nie. Dit kan ook hulle dood kos as hulle dalk probeer.

Die jong kinders sien dat die bendelede vinnige karre ry; genoeg geld het; goed aantrek; duur ringe dra en seker dáárom gewild is by die meisies ook. Dit is net doodnatuurlik dat ‘n kind wat in haglike ekonomiese omstandige leef, aangetrek sal word deur hierdie lewenswyse van die bendelede en mettertyd daarby sal wil inval, meesal vrywillig, maar baie keer ook gedwonge as gevolg van sy persoonlike omstandighede.

Tog is duisende kinders wat vanuit hulle moeilike omstandighede uitstyg en voorbeeldige volwassenes word. ‘n Mens kan net hulle ouers bewonder; dat hulle in weerwil van die omstandighede waarin hulle die kinders moes grootmaak, tog goed daarin geslaag het om die kinders heeltyd teen die gevare en omgewings-invloede te beskerm en ‘n goeie opvoeding te gee.

Wat is die oplossing vir hierdie probleem? Daaroor het ek al baie gewonder en nagedink. Werkloosheid en armoede is natuurlik dié grootste oorsaak.

Maar daar moet tog seker ander maniere ook wees om hierdie bendekultuur te beveg. Word daar genoeg gedoen? Is daar al behoorlik daaroor besin? Om miskien op ‘n gekoördineerde wyse deur alle betrokkenes, d.w.s. die Staat, die Kerke en die gemeenskap, spesifiek daaraan aandag te gee. Hoekom is dit byvoorbeeld nie ‘n vreeslike issue tydens verkiesingsveldtogte nie?

Ek het al gehoor hoe die regering en ander politieke partye sê dat hulle sal werk skep. Dit is eintlik maar meesal bog en word dit veral tydens verkiesingsveldtogte verkondig. ‘n Mens kan miskien in ‘n baie beperkte mate sê, ja, soos byvoorbeeld groot openbare werke, maar die eintlike werkskeppers is die entrepreneurs en ander besigheidsmense – die sogenaamde “captains of industry”.

Ek het al gehoor dat daar gesê word dat hierdie mense eintlik die helde in die samelewing is – hulle wat werk skep en kos op die mense se tafels sit.

Die regering behoort eerder te sê dat hulle alles in hulle vermoë sal doen om ‘n omgewing daar te stel waarin meer werksgeleenthede deur sodanige besigheidsmense geskep kan word. En ook aansporingsmaatreëls aanbied om juis dít op groot skaal te kan doen. En die arbeidswette verslap – in die mate wat dit die besigheidsmense strem.

Ongelukkig het die werkloosheidsyfer in weerwil van die beloftes van werk deur die politici, die afgelope dekade teen die verwagting in taamlik gestyg. Die vooruitsigte wat betref werksgeleenthede in die nabye toekoms, lyk ook nie te waffers nie. En sal bendes en bende-aktiwiteite seker maar nog vir die onvoorsienbare toekoms voortduur. Wat ‘n vooruitsig.

ONSMAAKLIKE ONTMOETING MET DIE NRVP: Nou iets anders. Ons het eendag ook ‘n taamlike onsmaaklike ervaring in die Nasionale Raad van Provinsies gehad. Dié instelling het ons gevra om verslag te doen oor PAGAD en nog iets anders. En skielik moes ons alles in Engels begin doen. En as jy nie kon nie, moes jy wegbly. Selfs in ons skriftelike verslae moes ons dit ook in die Rooitaal doen.

Terloops, ek wonder of enigiemand sal agterkom as iemand die deure van hierdie instelling (die NRVP) vir ‘n paar maande moet sluit? Ek sien regtig nie veel nut in sy werksaamhede nie. Niks anders as ‘n duplikasie en napratery van die kaders in die gewone parlement nie.

Ongeveer 7 senior offisiere van die polisie se provinsiale hoofkantoor is toe na die ou Volksraad om die aanbiedings te doen. Sommer van meet af so teen ongeveer 10:00 takel sekere van die parlementslede daar aanwesig ons oor die feit dat ons groep nie die demografie van die land verteenwoordig nie. Uit die sewe van ons, was 5 wit en 2 bruin. Dit was ‘n vreeslike “issue” vir sekeres van hulle.

Die skeiding van die demografie van die bevolking wou hulle hê! Rekenkundige skeiding seker –  of die nuwe getalle-apartheid, wat nou in SA vir hulle ‘n dogma geword het!

Dit was ‘n lang en ietwat ongemaklike sessie gewees, want ons het eers so teen 4-uur die middag verdaag. En heeltyd wat ons daar was, kon van hulle nie hulle vyandig teenoor ons wegsteek nie.

Ons stap toe terug na ons kantore wat nie vêr daarvan is nie. Toe ons daar aankom, stel ek voor dat, aangesien ons so ‘n slegte dag daar in die NRVP gehad het, die beste wat ons nou kan doen is om maar ‘n bier te gaan drink in die offisiersklub.

Wat my egter getref het van my kollegas, was dat behalwe dat van hulle sommer net behoorlik vies was, hulle ook so half getraumatiseer was deur die ervaring daar in die NRVP. Dit het my getref dat elkeen toe ‘n verskoning aanbied oor hoekom hulle nou dadelik moes huis toe gaan.

Terug na die NRVP: Die kos wat die NRVP tydens middagete laat voorsit het, was van die beste. Daar is nie afgeskeep nie. En ek het verneem dat dit maar altyd die geval is. Terwyl ek eet en die kos op die tafels aanskou, dink ek dat dit deesdae sommer lekker gaan met die ouens op die “gravy train”.

IN DIE OU VOLKSRAAD: In die ou Volksraad waar bogenoemde byeenkoms plaasgevind het, het ek tydens middagete op wyle Dr Verwoerd se sitplek gaan sit en so terug gedink aan die dag in 1966 by die koshuis, toe ek in standerd 9 was, en van sy dood by mevrou Williamson (onderwyseres) verneem het. En my probeer voorstel wat daardie dag alles op hierdie presiese plek gebeur het.

En dan hoor ek weer my oudste seun, wat Dr Verwoerd se stem grappende gewys perfek kan naboots nadat hy Dr Verwoerd eendag oor die TV in een of ander dokumentêre program van dekades gelede, die volgende oor apartheid hoor sê  het:

“Our policy is derived from the Afrikaans word: Apartheid.  Apartheid is not about the oppression of the non-white peoples of South Africa. It is merely a policy of good neighbourliness”.

Die laaste sin word dan op so ‘n sagte, menslike toon uitgespreek – net soos Dr Verwoerd dit gedoen het.

Maar, die neighbours het nie saam gestem nie – hulle wou niks van hierdie tweedehandse “buurskap” weet nie.

Ek dink ek het die meeste van Dr Verwoerd se toesprake wat beskikbaar is, gelees. En ook hier en daar dele van enkele toesprake oor televisie gehoor. Wat my van hom getref het, was dat hy nooit as aggressief voorgekom het nie en ook nie (openlike) haat of minagting teenoor swart mense geopenbaar het nie.

Sonder om hom enigsins te probeer verdedig, het ek die gevoel gekry dat hy werklik innerlik geglo het dat die apartheidsbeleid reg, moreel verdedigbaar en in almal in Suid-Afrika se belang is. Voeg ook natuurlik by dat die NG Kerk destyds verkondig het dat die apartheidsbeleid in ooreenstemming was met die Bybel se voorskrifte.

KERK, STAAT EN APARTHEID: Wie kon stry met die NG Kerk en die dominees van destyds? En in Advokaat John Vorster se tyd as Eerste Minister, was sy broer, Koot, die Moderator van die NG Kerk sinode gewees. Terloops, ek wens ek kon weet wat broer Koot alles vir broer John destyds gesê en geadviseer het. Wat ‘n kombinasie!

Die Kerk en die Staat was daardie jare soos ‘n siamese tweeling – amper aan die heupe verbind. Party het gesê die NG Kerk was “die Nasionale Party in aanbidding”.

Maar, soos met almal, is die geskiedenis al reeds geruime tyd besig om ‘n oordeel oor Dr Verwoerd en sy beleid van destyds te vel. Min mense sal hom vandag in die openbaar probeer verdedig. Of selfs sy beleid sal probeer insien in konteks van die tyd waarin hy Eerste Minister was.

Ek het nou die dag gelees dat iemand wat ná aan Dr Verwoerd was gesê het dat Dr Verwoerd kort voor sy moord aan hom aangedui het dat hy ‘n baie belangrike beleidsaankondiging in die parlement wou doen. ‘n Mens kan nou net wonder wat dit sou gewees het? Sou hy dalk aan sy beleidsrigtings wou verander? Ons sal nooit weet nie.

En die NG Kerk bieg toe ook sommer tydens die aanbreek van die nuwe bedeling dat hulle al die tyd toe verkeerd was oor apartheid! En aangedui dat hulle die spesifieke dele van die Bybel verkeerd geïnterpreteer het. Eina! Kan jy dan nou skielik so polities korrek wil wees!

En die NG Kerk lede dwarsoor die land het dit moeilik aanvaar, want hoe kan die uitleg en interpretasie van die Bybel dan nou skielik sommer so anders wees? Die geloofwaardigheid van beide kerk en predikante het ‘n gevoelige knou gekry. Watter ander bybel uitlegfoute is dan nie nog gemaak nie en wil die kerk nou polities korrek wees, is gevra? Dit was eintlik vir die lidmate ‘n traumatiese gebeurtenis gewees.

Alhoewel mense vandag om een of ander rede apartheid met Dr Verwoerd wil vereenselwig, is dit nie hy wat dit as beleid ingestel het nie. Dit was inderdaad Dr DF Malan – ja, ‘n predikant van beroep – toe dié Eerste Minister was en amptelik die beleid van apartheid bekend gestel het. Dr Verwoerd het dit later net op baie terreine in die praktyk meer gestalte laat kry.

Apartheid is in elk geval nie iets wat deur Afrikaners uitgedink was nie. Dit was baie, baie jare gelede deur Engelse kolonialiste in hierdie land toegepas, selfs in wetgewing – sonder dat hulle ‘n naam daaraan gegee het.

Die woord “Afrikaner” het amper soos die woord “apartheid” ‘n slegte ná smakie by sekere seksies van die Suid-Afrikaanse gemeenskap gekry. Dit is na my mening ‘n totale verkeerde persepsie.

Dat hulle egter in die verlede deur die establishment, die Broederbond en ander leiers-elemente – en moet nie die dominees vergeet nie! – mislei was, is egter ‘n gegewe. Ek wonder tot vandag toe nog hoe ‘n dominie ‘n volbloed politikus kan word? Dit rym net nie! “It makes a mockery of the rules of logic”, sou die Engelsman sê.

Die volgende is ‘n ernstige stelling van my kant, maar ek glo onwrikbaar in die waarheid daarvan:

Daar kan tereg gesê word dat die NG Kerk en sy predikante verreweg die grootste skuld moet dra vir die apartheidsbeleid en die se gepaardgaande slegte gevolge. Hulle het niks gedoen om die leiers én die morele aspek daarvan aan te spreek nie, Inteendeel, hulle het die apartheid leiers aktief in hulle kwaad versterk en ondersteun.

‘n Mens dink eintlik met stomme verbasing terug oor ondersteuning van die apartheidsbeleid deur die (NG) Kerk, en die vlek wat dit op die kerk se identiteit gelaat het. Ons wat uit daardie era kom, weet dat daar ‘n beduidende groep jong predikante was wat aan die onderste onderkant van die magshiërarige moes werk en met hoë frustrasie gesien het hoe die magtige outokrate in die kerk met die politieke maghebbers uit die apartheidsera konkel en heul. Die groot magsgreep is mettertyd deur jong predikante ondermyn en omgekeer.

PRESIDENT PW BOTHA: En nou iets oor PW Botha: Ek het nooit van sy styl gehou nie. Té aggressief, befoeterd en eiewys met daardie waarskuwende regter voorvinger van hom al dreigende in die lug. Sulke dinge lok mos net negatiewe reaksie van ander uit.  En hy het dit gekry ook.

Maar met al sy foute, was hy ‘n taamlike politieke hervormer gewees waarvoor hy nie altyd erkenning gekry het nie. In sy tyd is die Groepsgebiedewette; die Ontugwet; die Wet op Gemengde huwelike; die Instromingsbeheerwette en ‘n paar ander afgeskaf. En die drie-kamer parlement is in sy tyd gevestig. Hy het byvoorbeeld ook reeds in sy tyd voelers na Mandela in die tronk uitgesteek terwyl De Klerk, toe nog net ‘n Minister, dit nie eers geweet het nie.

Botha het egter nooit vir al hierdie dinge die nodige erkenning gekry nie. Daar word gesê dat hy  nooit die Rubicon kon oorsteek nie. Die druk teen hom het net al groter geword. Dalk het hy gevoel “as jy die pinkie gee, wil die ander party sommer ook die hele hand hê”. Ek dink dit het hom kwaad en bitter gemaak. Toe seker só die bynaam die “groot krokodil” gekry het.

Ek wonder wat die verloop van politieke ontwikkelinge sou gewees het as hy nie op ‘n sekere tydstip van ons geskiedenis deur De Klerk vervang was nie? Ons kan maar net raai. Of sou dit, om John Vorster se veelgeroemde woorde aan te haal … “too ghastly to contemplate” gewees het?

In elk geval, toe PW Botha later siek raak (ligte beroerte) en sy kabinet hom vra om te bedank, is sy politieke loopbaan op ‘n bitter lae noot beëindig, en is hy toe, polities gesproke, die wildernis in. Ek dÍt het hom uiteindelik nog verder verbitterd gelaat – tot vandag toe, daar waar hy in die Wildernis (ironies) in die Suid-Kaap bly.

HOE LIBERALES GESIEN WORD: Dit laat my dan ook dink aan daardie liberale wit ouens – veral in politieke en regeringskringe – wat partykeer daardie kraaglose etniese, Afrika-hemde dra. Na my mening doen hulle dit om te probeer sê: “Kyk, ek is aan julle kant” of “Kyk, ek vereenselwig my met julle”.

En dan groet hulle mekaar met daardie driegreep-handdruk (ek noem dit partykeer die drie-dimensiële groet – hand, duim, hand) van ‘n township-tsotsi. En dan omhels hulle in ‘n omsluitende, gespierde omhelsing van kameraadskap en sê hoogs tevrede vir mekaar: “Fokken fantasties, kameraad!”.

Ek kan maar net sê, foeitog! Nog meer: die ouens aan die ander kant respekteer jou nie eintlik daarvoor nie – hulle lag in die stilligheid vir jou. Hulle respekteer eerder die eerlikheid en direktheid van die persoon met integriteit wat presies sê wat hy voel, bedoel en dink. Met ander woorde: ‘n tipe van boere-eerlikheid!

MY “KEYNOTE ADDRESS” (WAAROMTRENT EK NIE GEWAARSKU IS NIE): Was u al in u lewe in ‘n uiters ongemaklike posisie geplaas weens òf swak kommunikasie òf een of ander misverstand? Ek wil graag van hierdie een vertel.

Ek was op ‘n stadium as Brigadier die voorsitter van die Provinsiale Koördineringskomitee, wat weekliks by die Kasteel in Kaapstad vergader het en waarby die Polisie, die SANW en ander vername rolspelers betrek was. Alle aspekte van die veiligheidsituasie, misdaad, intelligensie ens. in die Wes-Kaap is by hierdie vergaderings ter tafel gelê en is aksies en strategieë hiervolgens beplan en gekoördineer.

In hierdie hoedanigheid word ek eendag deur die SANW na hulle offisiersbarakke in Wynberg genooi vir ‘n vroeë-aand funksie. ‘n Aantal lede van die plaaslike pers is na die geleentheid genooi. Daar sou ‘n vingerete vir ons wees en sou hulle daarna op ‘n toer met militêre voertuie deur die townships geneem word.

Na die vingerete word ons almal toe gevra om na ‘n saal daar langsaan te gaan. ‘n Majoor van die SANW heet almal toe welkom en sê, onder andere, dat die hoof van die Wes-Kaapse Weermag, generaal-majoor Chris Van Zyl, die byeenkoms sal toespreek en “that Director Bouwer from die S.A. Police Service will follow with the keynote address”. Dit sou toe gaan oor die misdaadsituasie, bendes en PAGAD.

Ek skrik my toe half boeglam, want niemand het op enige stadium aan my aangedui dat ek ‘n sogenaamde “keynote speech” sou moes maak nie. En uiteraard is ek glad nie voorbereid nie.

Ek begin toe naarstigtelik soek na ‘n pen en papier in my sakke om ‘n paar notas te maak – maar daar is niks! Ek slaan my oë ook op na die berge, maar ek sien net vier wit mure raak.

En ek dink weer aan die gesegde: Nood leer Bid. En toe sit ek daar en maak desperaat notas vir my korttermyn geheue en die adrenalien pomp ook vir ‘n vale. En nou moet ek nog in Engels ook dink van alle dinge! Vader behoede my, sê ek vir myself so in die stilligheid!

Maar, ek maak toe ‘n speech daardie nag, soveel so dat ek my self so effe verbaas het en niemand (blykbaar) agter gekom het in watter dilemma ek verkeer het nie. Ek wonder of daar nie ‘n ou was wat gedink het ek is dalk oulik omdat ek sommer so sonder notas gepraat het nie?! Nee, ek was nie oulik nie, ek was op ge-stres en selfs die donner in!

PAGAD MAAK STEM DIK OOR DWELMS EN BENDES: Ek was al reeds ‘n direkteur (brigadier) en Provinsiale Hoof: Misdaadvoorkoming, toe PAGAD – meesal Moslems – in 1996 hulle stemme begin dik maak het oor die bendes en verdowingsmiddels op die Kaapse vlaktes.

Ek besluit eendag (1996) om kontak maak met hulle twee mees prominente leiers van PAGAD (People Against Gangsterism and Drugs), naamlik Sedrieg Edries en Faroek Jaffer. Hulle was reeds besig om hulle stemme dik te maak oor verdowingsmiddels en bendes op die Kaapse vlakte. Ek het so ‘n gevoel gehad dat groot moeilikheid aan die kom is. Hulle twee het toe een middag na my kantoor gekom en het ons ‘n lang gesprek gehad oor hulle klagtes en doelwitte in hierdie verband.

Hulle het my ook genooi om een aand een van hulle vergaderings iewers op die Kaapse vlakte by te woon, wat ek toe ook gedoen het.

Ek het Edries en Jaffer as gematigde mense ervaar, maar ek kon tydens die vergadering duidelik waarneem dat daar ander individue op die vergadering is wat sommer erg radikaal is en sake in hulle eie hande wil neem. Daardie aand het ek besef daar nog heelwat probleme vorentoe gaan wees. En ek was nie verkeerd nie. Inteendeel, dit het my verwagtinge oortref.

Dit was duidelik dat Edries en Jaffer se gematigde leiding nie deur sekere elemente, meesal Moslems, binne PAGAD aanvaarbaar gevind is nie. Gedink hulle is nie radikaal genoeg nie.

Jaffer het daarna heelwat by my kantoor gekom. Ook nadat hy as leier uitgewerk is. Hy het geroepe gevoel, maar het nie die ondersteuning van ander PAGAD-leiers gehad nie. Hy het tydens een so ‘n besoek aangedui dat daar ‘n aanslag op sy lewe kan kom, maar dat hy nie bang is nie.

Nie lank daarna nie is Edries se huis met ‘n tuisgemaakte bom opgeblaas, terwyl Jaffer nie vêr van sy huis by ‘n straatkruising deur onbekende persone in sy motor dood geskiet is. Die Engelse spreekwoord “if you live by the sword, you will die by the sword” het deur my gedagtes geflits toe ek van sy dood hoor.

Jaffer, ‘n kabinetmaker van beroep, was ‘n goeie mens en het dit nie verdien nie. Persoonlik glo ek nie dat hy vir enige mens se dood verantwoordelik was nie.

Ek en nog ‘n offisier het eendag opdrag ontvang om iewers in die stad ‘n vergadering met die leiers elemente van PAGAD by te woon. Advokaat Percy Sonn van krieket- en Scorpionfaam het die Prokureur-Generaal se kantoor verteenwoordig. ‘n Persoon van die Sentrum van Konflikhantering van die UK sou as voorsitter optree.

Ek dink die vergadering was deur PAGAD aangevra. Dit het gegaan oor moontlike samewerking met die polisie.

Terwyl die lede van PAGAD so aan die ander kant van die tafel sit, is ek so tussen-in besig om ‘n intelligensieverslag wat ek in my besit het deur te blaai. Ek lees toe in dié verslag hoe die vername en baie bekende leier van PAGAD – en hy sit toe regoor my – en sy trawante in etlike moordaanvalle die vorige naweek betrokke was.

En ek dog toe: Die bleddie cheek, om nóú nogal met óns te wil vergader!

Ek dui toe aan dat ek nie verder aan die vergaderings sal deelneem nie, omdat dit geen nut het nie. My standpunt was dat jy nie met moordenaars om ‘n tafel onderhandel nie. Nie terwyl jy sekere inligting oor sekere van die individue spesifiek beskik nie. Jy ondersoek die misdade wat hulle gepleeg het en neem hulle hof toe. Punt.

Dit was toe die einde daarvan. Daardie spesifieke PAGAD leier en sy trawante is toe mettertyd vir baie jare tronk toe gestuur. Dit het letterlik jare geneem voordat PAGAD se geweld finaal deur die veiligheidsmagte tot ‘n einde gebring is.

In daardie tyd het die geweld in die Wes-Kaap gewone misdaadvoorkoming- en ondersoek ernstig belemmer.

Later was daar ook skielik geweld uit ‘n ander oord toe onbekende persone op die busse van die Golden Arrow busdiens geskiet. Dit het die mannekrag van die polisie getap, maar dit is ook later tot ‘n einde gebring.

Dit, alles inaggenome, het die polisie in die Kaap intussen in staat gestel om al hulle energie, veral in die Kaapse Metropool, op gewone misdaad te vestig.

PRESIDENT MANDELA WIL BINNE 3 UUR ’n VERSLAG HÊ: ‘n Mens raak partykeer betrokke in baie ongemaklike situasies. Ek wil vertel van ‘n geval toe President Mandela se kantoor eendag – so teen 1996 – vir ons ‘n faks om 10-uur die oggend stuur en ‘n verslag van die Wes-Kaapse polisie wil hê vir die president persoonlik nie later as 1-uur die middag nie. Met ander woorde ons het toe 3 ure tyd. En die verslag mag nie laat wees nie! Ek dink dit het oor PAGAD gegaan.

Ons moet toe van ons polisiestasies in die Suid-Kaap, Karoo, Boland, Wes-Kus en hier in Kaapstad self ‘n klomp inligting verkry sodat ons die verslag kan opstel. Maar ons tyd is so min dat ons nie, soos gewoonweg, vir almal fakse kan stuur en die inligting aanvra, dit rustig deurlees wanneer jy almal s’n ontvang het, en dan daaruit ‘n enkele verslag opstel en aan die president stuur nie. Dit was ‘n krisis van die ander wêreld!

Ons moet die verslag in Engels doen boonop! Ek was een van die min senior offisiere wat ‘n rekenaar op my tafel gehad het. Ek het redelike Engels geskryf en gepraat. (In die land van die blindes is Een-Oog koning). Ons besluit toe dat ons so 5 offisiere sal aanstel om sommer telefonies die inligting vir ons te verkry, notas te maak en dan by my te kom sit en die inligting mondelings vir my gee.

En so begin ek toe vir ‘n vale tik aan die verslag op my rekenaar. Kort-kort moet ek vir een van die offisiere sê gaan bel weer, ek benodig nog die en daai inligting. En so gaan dit heeltyd. Al vyf van hulle is in en uit, en in en uit, my kantoor. En 1-uur kom al nader!

So ‘n paar minute voor 1-uur – en met ‘n verslag van so 15 getikte bladsye – begin ek dit druk (“print”). Daar was toe nog net 30 sekondes oor voor 1-uur toe ons die laaste van die 15de bladsy deur die faksmasjien kry. Het julle al van bloedsweet gehoor? Vra vir my. Ek dink dit is wat ek daardie dag oor 3 ure se tyd gedoen het!

MY MENING OOR DIE POLITIEK (soos gesien in 2003): En nou so ‘n bietjie politiek, ja.

Sal ek vir in ‘n verkiesing vir die ANC stem? Ek sal dit nie kan doen nie, want daar is ‘n paar dinge wat my werklik teleurstel. En ek probeer diplomaties en objektief wees as ek dit so sê.

As ek egter objektief na van hulle beleidsrigtings oor die afgelope dekade kyk, moet ek egter toegee dat die ANC-regering heelwat goeie dinge gedoen het. En in die algemeen is dinge net meer vreedsaam en so aan. En die ekonomie ook glad nie vrot nie. ‘n Mens kan darem ook nie net blindelings kritiseer nie. Maar iets sê my dat hulle vinnig na die tendens van korrupsie sal moet kyk, anders gaan dit vorentoe groot probleme veroorsaak.

Ek dink President Mbeki doen taamlik goed. En handhaaf homself goed op die wêreld verhoë. (Wie kan hom oor 5 jaar vervang? My kandidate is Cyril Ramaphosa of Tito Mboweni. Trevor Manuel? – ek glo nie dat hy ‘n billike kans sal kry nie, want ek dink nie die Xhosa nostra sal dit toelaat nie).

Daar was baie jare gelede intense debat binne die ANC gewees oor die posisie van die sogenaamde nie-afrikane in leiers posisies in hierdie organisasie. My gevoel is dat alhoewel hulle dit vandag nie hardop sal sê nie, ‘n nie-afrikaan nie maklik as hoofleier van hierdie organisasie sal word nie.

Miskien moet die grondwet gewysig word sodat Mbeki vir ‘n derde termyn kan aanbly. Dit sal natuurlik ‘n hengse bohaai tot gevolg hê, maar ek sê: “Better the devil you know …”.

Daar is van die ministers wat duidelik knap is en goeie werk doen. Ander is weer power. Hopelik op die pad vorentoe sal bekwame mense aangestel word en nie, soos wat dit die geval is met sekere individue, op grond van hulle sogenaamde “struggle credentials” nie.

President Mbeki is ‘n besonder skerp intellektueel, wat nie daarvan hou om teengestaan te word nie. Hierdie feit is al algemeen bekend. Ek dink die groot rede waarom hy nie van Tony Leon (DA) hou nie, is omdat hierdie Joodjie die enigste ou in opposisiegeledere is wat hom as gelyke op bykans enige onderwerp kan aanvat en op dieselfde hoë vlak kan debatteer.

Verder dink ek dat Mbeki die nuwe Jannie Smuts van Suid-Afrika is, in die sin dat hy ook te veel belangstel in buitelandse sake. Ek kan ook nie aan die gevoel ontkom dat hy stadig maar seker besig is om homself voor te berei vir ‘n rol in die Verenigde Nasies na verstryking van sy ampstermyn nie.

Die daarstelling van die Skerpioene, die Batebeslagleggings-Eenheid ensovoorts was een van die beter dinge wat die ANC-regering gedoen het. Ek dink hierdie instellings het die meeste mense se verwagtinge oortref. Goed gestruktureerd, met bekwame mense wat daarna oorsee professionele opleiding ontvang het. Hulle suksesse kan nie weg geredeneer word nie. Die S.A. Polisiediens se speurdiens steek deesdae sleg af teen hulle.

Ek dink die grootste ironie van die Skerpioene, is dat sy angel toe heelwat mense binne regerings geledere bygekom het. Ek dink die meeste van hulle was dit nie te wagte nie. Vandag is daar nog mense binne die regering en die staatsdiens wat in vrees lewe vir die Skerpioene. Hulle weet hoekom. Dit is goed so.

VUURWAPEN-BEHEER: ‘n Wet wat deur die regering deur die parlement geloods het en wat na my mening stink, is die Wet op die Beheer van Vuurwapens. Ek het geen twyfel in my gemoed dat hierdie wet teen die wit mense gemik is nie. Dit wil die wit mense boelie en wil dit soveel van hulle as moontlik ontwapen.

Die wet is so geskryf dat wapen eienaars honderde rande moet betaal vir bevoegdheids- en vaardigheidsertifikate. Dit het mense so gefrustreer en vies gemaak dat baie van hulle sommer  van hulle wapens ontslae geraak het deur dit by die polisiestasies in te handig. En daardie wat vir nuwe lisensies aansoek doen, se aansoeke word vir die belaglikste redes afgekeur. Hierdie wet het reeds ook die multimiljoenrand-wapen- en jagbedryf al bykans uitgewis.

Ter agtergrond: Ek dink die regering het groot geskrik vir die dom en naïewe Boeremag outjies wat so ‘n jaar of  twee gelede ‘n bommetjie of wat daar in Soweto laat ontplof het en ook met so ‘n belaglike plannetjie voor die dag gekom het om al die swartes uit Suid-Afrika te jaag. Hierdie paar javels se poging(s) was so amateuragtig en swak bedink, dat hulle sommer gou agter die tralies beland het. Hulle verhoor is nog hangende. Dit was toe sommer ook die einde van die sogenaamde Boeremag organisasie.

Die ANC-regering het as gevolg van die Boeremag se manewales bang geraak vir ‘n revolusie van sekere (gewapende) wit groeperinge. Hulle het skielike bang geraak vir die ‘boere’. Hulle vrese wás en ís sommer bog.

Maar so het hierdie wet toe sy beslag gekry. Die witman moes dus (op ‘n subtiele manier) deur middel van wetgewing ontwapen word, alhoewel hulle dit nooit openlik sal erken nie. Watter ander logiese rede(s) kan daar wees? Ons sal maar moet sien hoe hierdie aangeleentheid in die volgende paar jare gaan uitkristalliseer. Hier kom dalk nog ‘n groot smêsj.

NUWE RAS-BEHEPTHEID: Iets wat my intussen geweldig pla, is die feit dat die regering tog ook maar met “ras” behep geraak het. Regstellende aksie het meer geword as wat dit veronderstel was om te beteken in terme van die Grondwet. Ek kry die gevoel – veral as jy na aanstellings binne die staatsdiens; semi-staatsinstellings en ander entiteite kyk – dat dit sommer net in blatante diskriminasie teen wit mense ontaard het.

Hulle was gou om te sê dat die topstrukture die demografie van die bevolking moet weerspieël – die ‘getalle apartheid’ waarna ek hierbo verwys het – maar nou sien ek by party instellings selfs geen wit gesigte meer nie. En wanneer ek die woord “transformasie” hoor of dit iewers lees – veral in die konteks wat dit geskryf of gesê word – is die enigste afleiding wat ek daaruit kan maak dat dit beteken: vervanging van wit met swart.

Regstellende aksie en nepotisme? Ek voel veral jammer vir ons jong, wit geslag – die sogenaamde Reënboognasie-geslag. Tot wanneer eendag moet die (politieke) ‘sondes’ van húl vaders (én oupas én oupagrootjies) nog aan hulle besoek word?

En kyk net hoe gaan dit by veral sekere munisipaliteite. Party is bankrot en by ander gaan dit sommer haglik. Van die raadslede en amptenare wil net kyk waar hulle kan inpalm! En kyk wat word hulle betaal!

KORRUPSIE: En, liewe vader, die korrupsie! En dit is nie net ‘n persepsie nie. Dit is inderdaad ‘n gegewe. En dit op al drie vlakke van regering!

Lyk my dit gaan nie meer om dienslewering nie, maar eiebelang, d.w.s. mag, posisie en geld. Vroeër jare het die Burgemeester byvoorbeeld maar ‘n klein toelagie gekry en die raadslede niks – dit was slegs ‘n eer om op die Raad te dien. En hulle is gekies uit die gemeenskap se belastingbetalers. Hulle kan ook maar leer uit ou President Paul Kruger se wysheid toe hy gesê het: “Neem uit die verlede wat goed is en bou die toekoms daarop”. Die hele situasie is nou verpolitiseer. Hoe het dit dan gebeur dat sekere munisipale bestuurders meer as die president verdien?

En dan die groot uitgawes vir etes vir die raadslede. Van wanneer af vreet ‘n mens nou skielik by die werk op jou werkgewer se rekening? Kan hulle maar soos ander hulle toebroodjies van die huis af saambring nie? Is dit nie die rede waarom daar partykeer nie geld oorbly om behoorlike dienste te lewer nie?

Dit is dus gin wonder nie dat elke Jan rap en sy maat, hetsy hy/sy ‘n belastingbetaler is al dan nie, en met of sonder kennis van plaaslike bestuur òf sonder kundigheid/vaardigheid van enige ander aard, deesdae met onbeskaamde ywer probeer om ‘n raadslid te word – net om ‘n salaris te verdien! Dit is soos hiënas wat ‘n karkas in die bosse van Afrika bestorm.

‘n Ander groot probleem was dat toe die nuwe Suid-Afrika aanbreek, die ANC hulle beste talent in top politieke posisies in Nasionale en Provinsiale regering, asook in senior posisies in die staatsdepartemente en semi-regeringsorganisasies, geplaas het. Wat oorgebly het was niks werd nie – daar was geen kundiges/gekwalifiseerdes/geletterdes meer oor nie. Uit hierdie (oorblywende) geledere – wat maar papierdun was en nog steeds is – het hulle dan maar aangewend om op die laagste vlak van regering – Munisipaliteite – te dien as raadslede en amptenare.

Belastingbetalers se geld – of die Staat se geld, was met die grootste versigtigheid en respek gehanteer. Ek wil nou al die gevoel kry dat ‘n kultuur besig is om te ontwikkel dat dit geld is wat daar is vir sekeres om – om dit sag te stel – hulle hande op te lê vir eie gebruik. Entitlement noem die engelse dit. Hierdie neiging of kultuur sal vinnig in die kiem gesmoor moet word.

Raadslede sal aan ‘n minimum kwalifikasie moet voldoen. Wat se insette kan party van hulle tans op ‘n raadsvergadering lewer? Boggerol! Hoe het dit dan gebeur dat dinge in die nuwe munisipaliteite so ‘n uiters onbevredigende situasie (broek op die enkels as’t ware) beland het? Die regering sal hier vinnig moet ingryp en behoorlike beheer – veral rondom finansiële bestuur – begin toepas, anders sien ek swarigheid vorentoe.

En dan hoor ek hulle wil hê dat plase ook onder die munisipaliteite se beheer geplaas moet word. Hulle kan dan nie eers ordentlike dienste op die dorpe lewer nie, nou vir wat wil hulle met die plase ook karring? Of wil hulle net weer probeer om nog ‘n belastingbasis by te kry? Vir hoër salarisse en voordele vir hulself dalk? Dit sal niks anders wees as maar net nog ‘n geld insamelings veldtog ten koste van die boere nie. Was daardie bekende liedjie “Bobbejaan Klim die Berg”, wat gesê het dat die bobbejane die berg klim … om die boere te ver-erg, nie ‘n protes liedjie van ouds gewees nie?

Dit gee my nie veel plesier om hierdie dinge te sê nie. Ek wou gehad het dat die nuwe Suid-Afrika suksesvol moet wees. Vir ons almal se onthalwe. Ons wil mos nie hier ook soos die mense van sekere Afrika state noord van ons lewe nie.

Hoop beskaam nie, sê ons. Ander sê weer ‘hoop’ is een van die gevaarlikste dinge wat daar is, want jy weet nooit wanneer om dit te laat vaar nie.

AFRIKANERS LEIERLOOS: Waar is die afrikaner leiers – van statuur –  vandag? Wat het van hierdie spesie geword? Daar is byna geen geloofwaardige een wat ek nou skielik kan noem nie. ‘n Interessante toedrag van sake. Eintlik vreemd.

In weerwil van dit alles wat ek so pas gesê het, weet ek daar is nog mense wat swaar daaraan sluk – maar ek dink oud-president FW De Klerk is tog reg as hy sê dat Suid-Afrika andersins nou ‘n beter plek is om in te woon. Baie mense sê egter vandag nog dat De Klerk ons ‘uitverkoop’ het. Maar hy is nie alleen verantwoordelik nie. Ek sal meer daaroor hier onder uitbrei.

Miskien het hierdie mense wat De Klerk só beskuldig ook maar destyds elke dag in ‘n kokon geleef terwyl die veiligheidsmagte destyds daagliks die ernstige geweld oral oor moes afweer. Of hulle het ook vergeet van die al erger bytende sanksies teen Suid-Afrika. En vergeet dat PW Botha-hulle op ‘n stadium ‘n skuldstilstand moes verklaar omdat ons nie meer ons buitelandse lenings kon terug betaal nie. En ook dat daar op ‘n stadium ‘n noodtoestand verklaar moes word!

Wat sou dié mense gedoen het as ‘n werklike, landwye burgeroorlog uitgebreek het en die land dalk later in as gelaat is? Watter kant het al ‘n burgeroorlog gewen?

As jy die De Klerk-kritikusse vra wat die alternatief vir De Klerk-hulle se besluite kon gewees het, kan hulle jou nie eintlik ‘n sinvolle antwoord gee nie.

Wat ‘n mens ook moet onthou, is dat De Klerk nie alleen en uit die bloute daardie dag ‘n aankondiging oor die ontbanning van die ANC en andere in die Parlement gedoen het nie. Daar was geen Damaskus-ervaring aan sy kant nie. Nee, dinge was daar in die tagtigs oor ‘n tydperk indringend in die Broederbond en deur top akademici en intellektuele bespreek. So ook in die Nasionale Partye se koukusse; in die kabinet en so aan, totdat hulle almal – of die meerderheid dan – konsensus gekry het oor watter rigting uiteindelik in SA ingeslaan moes word. En so het De Klerk dan toe die historiese 2 Februarie-aankondiging in die Parlement gemaak, wat ‘n paar jare later tot ‘n ANC-regering in ‘n demokratiese bedeling gelei het.

Dit is egter ironies dat dit juis De Klerk (en ‘n paar ander) was wat in hierdie aanvanklike debatte die bittereinders was en aanvanklik erg weerstand gebied het. Die bal het later in die proses as’t ware in sy hande beland en moes hy noodwendig teen wil en dank daarmee hardloop. Daar was geen keer meer nie. En daar kry hy later nogal die Nobelprys vir Vrede (saam met Mandela) op die koop toe! Ek wonder hy nie partykeer effens verleë oor dié prys voel nie?

Die beëindiging van apartheid in 1994 het intussen ook taamlik vinnig ‘n einde gebring aan die houvas van die Broederbond en die kerke op die gees en denke van die Afrikaner.

Maar tog kry ons nog daardie wit mense by wie dit ‘n begeerte is om die nuwe elite in die nuwe Suid-Afrika soveel moontlik ter wille te wees – hulle let noukeurig op die regering se egte of vermeende wense en probeer dan daarvolgens optree. Hulle selfrespek is dus op ‘n laagtepunt. Die spreekwoord sê: “Wie homself nie respekteer nie, kan ook nie respek van ander verwag nie”. Jy kan hoflik wees, maar tog ferm. Witmense moet uit die spiraal van selfbejammering uitkom, hulle self respekteer, sodat ander met respek na jou kan luister.

Andersins, egter, het die oorgrote meerderheid van die huidige Afrikaanse samelewing oor die laaste paar jare begin om alle mites, geskiedenis en tradisie van die vorige bedeling af te lê en aan individue die vryheid van keuse toe te laat om te wees wie hulle wil waar hulle wil.

Vir die eerste keer in dekades kon Afrikaners weer met vrymoedigheid ‘n slag vir hulself begin dink.

Ik heb gezegd, sou die Hollander gesê het.

Maar ek sê: Fluit-fluit, my storie is uit.

 0o0o0o0o0

DEEL 2: OPDATERING (geskryf in 2024)

INLEIDING: Die rede vir my inleiding wat nou hier gaan volg, sal aan die einde hiervan meer duidelik blyk.

Ek het myself partykeer ‘n ‘apartheidskind’ genoem, bedoelende dat ek in 1949 gebore is en niks anders geken het tot en met 1994 nie. 

Tereg kan daar inderdaad gesê word dat ons, eerstens, die voetspore of denke van ons ouers gevolg het. Ná skool en in die SAP is die denke van dié organisasie, wat die Nasionale Party (NP) in alle opsigte ondersteun het, verder aan ons oogedra. Ons was dus ‘slagoffers van ons tyd’.

Ek sien hier ook op my rekenaar dat ek juis daarom in 2003 al ‘n tipe storie geskryf het met die opskrif “VAN APARTHEID TOT DEMOKRASIE (Ervarings, Anekdotes, Indrukke en Kommentaar”)

Ek het op ‘n plaas aan die Transkeise grens naby Ugie (Maclear distrik) grootgeword.

Op die plaas het die jong, swart outjies allerhande soorte dinge saam met my gedoen. Gevolglik kan ek vlot isiXhosa praat. Ons plaasskool was so 2 kilometer van die huis af. Die swart outjies het nie skool bygewoon nie. Ek was onder die indruk dat dit oral so was.

POLISIE-ERVARINGS: In 1968 sluit ek by die polisie aan in Umtata en het meesal die swart bevolking daar gedien op verskillende stasies tot 1975.

Die Transkeise swartmense was daardie tyd vredeliewend. En omdat talle van ons ook vlot isiXhosa gepraat het, was dit iets wat ons verhoudinge met hulle ‘n verdere hupstoot gegee het.

Uit die aard van ons werksaamhede, hetsy klagtes bywoon of hulle sake ondersoek, moes ons baiekeer diep in die lokasies inry (in die gopse in, soos my pa altyd gesê het). Nooit ooit het ek/ons onveilig gevoel nie. Inteendeel, die ontvangs was altyd vriendelik en met wedersydse respek. 

Tot baie laat in my polisielooobaan as gevolg van hierdie agtergrond, kon ek nog steeds in die stedelike swart areas met uiterse gemak met hulle deel. Ek dink nou aan die taxioorloë in die Kaapse Skiereiland toe ek hoof van Afdeling Binnelandse Stabiliteit (ABS) was en ook as stasiebevelvoerder te Khayelitsha. Min het begrip gehad vir my eiesoortige situasie. Ek was egter deurentyd dankbaar daarvoor. Dit was uniek.

VROEËRE RASSE-VERHOUNDINGS (TRANSKEI): Tot op daardie tydstip as jong polisieman was daar geen politieke geweld nie. Nooit-ooit het ons enige haat teenoor mekaar ervaar nie. Ons het inderdaad vreeslik goed oor die weg gekom. Ek het ook hieroor gedink dat dit oral so in SA was. Ek het nie rekening gehou met die politieke organisasies en hulle leiers se verpolitisering van hulle mense se denke nie.

Ek was polities erg naïef. Seker omdat ons in ons ouerhuis selde politiek gepraat het, nog minder oor rassekwessies, wat dit was vir beide kante nie vir ons ‘n kwessie nie.

Ek noem hierdie dinge, omdat ek later stadig maar seker van die minder aangename kant van die rassekwessies van SA elders te wete gekom het. En dít sou my, eintlik almal van ons, teen wil en dank in ons polisieloopbane daarby betrokke maak. Of direk of indirek raak.

Jou eie sienings oor rasseverhoudinge was later in stille konflik met mede-kollegas, iets wat ek (probeer) verstaan het vanweë ons onderskeie lewenservarings. Ek het ook wel besef dat bv. ANC/MK-aktiwiteite verhoudings ook negatief beïnvloed het of selfs verhard het. Daar was min wat mens daaraan kon doen in ‘n al slegterwordende situasie in die land. 

VOLK EN MAGHEBBERS: Ek het gou in my loopbaan agter gekom dat my mense – my klein volk – se vyand duidelik gedefinieerd was. Met ‘vyand’ bedoel ek die  kommuniste; of die sg. ‘rooi gevaar’; die vryheidsbewegings (ANC, PAC ens..); die MK’s wat met die ANC verbind was, en dan sommer net swartmense wie se politieke strewes deur hierdie organisasies verteenwoordig was.

Dit was dus kommunisme, ateïsme, liberale denkers en almal en alles wat die Christelik-nasionale aard van die bestel wou vernietig. En met elke ras ook op sý plek.

Die Afrikaners het toe politieke beheer gehad en het dienooreenkomstig sy invloed gebruik om alle uitdagings die hoof te bied en teenstribbeling is nie geduld nie.

Hoe was dit teengestaan? Die SAP se veiligheidstak het politieke aktiviste gearresteer en baie aangekla en die onluseenhede het alle politieke opstootjies summier onderdruk.

MY EIE HOUDING EN GESINDHEID: Hier was die ding: ek het  toe die staat se teenoptredes honderd persent ondersteun. Ek het dit as reg geag, want om teen die staat op te staan, was teen die wet en die goeie orde, het ek ook gereken. En ja, daar wás ook groepsdruk, maar het geglo ek is aan die regte kant. Ek, soos ander, wou deel van die ‘oplossing wees; nie die ‘probleem’ nie.

SHARPEVILLE – ‘n TRAGIESE INSIDENT: Voor ek verder skryf, wil ek net vir ‘n oomblik teruggaan in die gekiedenis en verwys na die Sharpeville-insident van 21 Maart 1960 toe ek in standerd 3 was. 

Volgens berigte destyds het 69 mense tydens die skietery gesterf. Die algemene narratief in die media tot vandag toe is dat die mense deur die polisie sonder rede geskiet was terwyl terwyl hulle bloot vreedsaam betoog het. Die Daily Maverick het hierdie insident so ‘n paar weke gelede herbesoek en beweer nou, onder andere, ook dat veel meer persone doodgeskiet was.

Ek het die Sharpeville-insident taamlik goed nagevors en ook die getuienis van 2 polisiemanne gelees, waarvan een nog in die Weskus bly. Tot vandag toe is ek bo enige twyfel seker en oortuig dat hierdie ‘n ongelukkige, tragiese insident (skietery) was gegewe die feite en uitgesluit die liberale media en ander se propaganda.

Hoe dit ook al sy; hierdie insident het ongelukkig geweldig skade veroorsaak, veral in SA wat rasseverhoudinge betref. Ook so in die buiteland. As kind toé, was ek egter salig onbewus van die skadelike gevolge. 

ROMEINE 13: As jong sersant op Idutywa besoek die polisiekapelaan ons eendag en lees en gee ons ‘n kort prekie uit Romeine 13 waar daar staan dat elke mens hom moet onderwerp teenoor die owerhede. Ek het dit al voorheen gelees, maar nou dat die kapelaan ons weer daarvan probeer oortuig het, het ek dit goed en reg gevind. Dit staan mos dan in die Bybel. Enigiemand wat dus teen die regering in opstand sou kom, sou sulke gedrag mos teen die skrif wees. So het ek gereken. Dié prekie het beslis ‘n invloed op my denke gehad – ons doen die ‘regte dinge’ en die beswaarde bevolking moet in hulle spore trap.

Behalwe dat die Veiligheidstak daarna tot in 1975 met die ANC se aktiviste en dié party se MK’s doenig was, was dié tydperk redelik vreedsaam andersins.

SOWETO-1976: Toe breek Soweto-1976 aan. Ek was daar vir ongeveer 3 weke nadat ek net ‘n dag ná die aanvanklike skietery op die die skoolkinders in optog, daar aangekom het.

Daar was – nog steeds – debatte oor die noodsaaklikheid om op die jonger kinders te geskiet het. Daar word jy dan dadelik herinner en uitgewys op ‘n mediese dokter en nog 1 of 2 mense wat die vorige dag vermoor is en 2 of 3 ander insidente. Dit was nié ‘n oortuigende argument nie.

Na my mening kon hierdie insidente nié as ‘n kousale, regmatige rede (verskoning) gebruik word om skerp ammunisie op die skoolkinders te gebruik nie. Dit was die aansteek van die lont wat die spreekwoordelike bom daarna laat ontplof het. 

As ek in bevel was, sou ek dit nie toegelaat het nie. Hoekom was hulle maar nie toegelaat om onder begeleiding na hulle eindpunt – die ander skool – te stap en dit te monitor nie?  Dit is wat ek sou gedoen het. Of bloot dan net traanrook of miskien donshael om sterftes te voorkom. Terloops, ons Onluseenhede was ook nog nie in plek nie.

Die gevolge was enorm, want uiteindelik is 170+ mense dood. Net vroeër die jaar het SA ook televisie gekry. Die verhaal is plaaslik en oorsee gebeeldsend. Hoe het die operasionele bevelvoerders dan gedink en wat was hulle insigte, kan mens vra?

Ek is bewus daarvan dat uit ANC en ander geledere daar gesê is dat Soweto-76 dié gebeurtenis was wat die einde van wit beheer in SA versnel het. Dít was weer die onbedoelde gevolg.

Elke soortgelyke insident wat in die buiteland weerklank gevind het, het wit beheer se einde stelselmatig verhaas. Die buitelandse TV-spanne was seker maar subjektief, maar die beelde wat hulle na buite gestuur het, het hulle verfilm wat voor hulle was. Hïerdie vreemde en nuwe soort van verslaggewing (TV) was uiters skadelik vir SA en moes daar intelligente insig daaroor gewees het. 

STEVE BIKO: Na bewering het die intellektueel, Steve Biko, ‘n beduidende invloed op die denke van die jeugleiers van Soweto destyds gehad, te wete dat dit nie nodig is om onderdanig aan die witman te wees nie; dat hulle minderwaardigheidsgevoel teenoor witmense moet afskud: dat hulle moet trots te wees op hulle eie swartheid en dat hulle – die swartes – enige onderdrukking en diskriminasie moet teenstaan.

Hy het ook artikels geskryf en ander uitsprake van min of meer dieselfde aard of trant gemaak. Sovêr ek weet was hy dus maar net ‘n ou wat sy Afrikanisme en swart bewussyn verkondig het.

Wat was mý denke toé daaroor? Ongelukkig het ek as ‘n jong polisieman van in die middel-20’s nie ‘n teenstrydige opinie gehad nie. Maar later het ek tog wel in my eie gevorderde politieke bewussyn, besef dat Biko se uitsprake vanuit sy perspektief as ‘n swartman, geensins verwerp kon word nie. Stel jouself vir een oomblik in sy situasie van daardie tyd.

Toe die volgende jaar, 1977, gryp die veiligheidstak hom. Ek weet van geen wet wat hy oortree het nie. Sonder om in al die bekende detail in te gaan, is hy in aanhouding aan sy beserings oorlede. En die polisieminister, Jimmy Kruger, wat daarna die gewraakte uitspraak “His death leaves me cold” gemaak het, plaas toe nog as’t ware sout op die wonde. 

Biko se aanhouding en dood het wêreldwyd opslae gemaak – nóg ‘n insident wat rasseverhoudinge in SA ‘n verdere, dog ernstige knou toegedien het. En, let wel,  uiteindelik was dit buitelandse druk en sankies wat die nasionale party-regering en SA op sy knieë gedwing het.

DIE GBS-STELSEL: In 1985 is die Gesamentlike Bestuurstelsel (GBS) as strategie van stapel gestuur nadat die UDF vroeër in Mitchell’s Plain gestig is omdat swartmense uit die nuwe driekamer-parlement uitgesluit was. Daardie tyd het die ANC ook reeds kwaai geweld aangestook. Rasseverhoudinge in SA was daardie tyd op sy slegste nog.

Die regering se strategie was deur middel van die GBS ‘for their hearts and minds’, om ‘n ongelukkige bevolking aan kant te bring. Hierdie teenrevolusionêre strategie het op papier en op die oor goed en reg geklink.

Ek was vir ‘n tyd voorsitter van die GBS op Stellenbosch. In kort was die idee op plaaslike vlak (let wel) dat die GBS dinge moes identifiseer wat die nie-wit bevolking tot ongelukkigheid gestem het en dit dan probeer regstel. Ek persoonlik was desytds geendins oortuig nie.

Dit kon wees ‘n tekort aan skoolgeboue; ‘n tekort aan behuising; ‘n gebrek aan ‘n behoorlike pad na die lokasie; gebrek aan sportfasiliteite en dies meer en so aan. Waar daar plaaslik nie iets aan ‘n knelpunt gedoen kon word nie, is dit per notule na hoër gesag in die GBS-strukture verwys vir verdere aandag.

Ek het  gedink dat ‘n polisie-offisier as voorsitter om dié dinge te beredder, nie logies was nie; dit was so asof dit teen die reëls van logika was.

Plaaslik was van die kwessies wat die nie- blanke bevolking gegrief het (soos bo uitgewys), wel reggestel of opgelos. Die oorwoë mening egter was dat hierdie stelsel of manier van doen, nié rerig as ‘n strategie die gewenste politieke uitkoms gaan lewer nie. En, soos gewoonlik, het of kon niemand sy nek uitsteek en dié gevoel na hoër gesag artikuleer nie. Ons was die getroue en gedissiplineerde staatsamptensre mos.

Hierdie was kernprobleem destyds: nié die plaaslike bevolking se relatiewe klein griewe nie (dit was ‘n politieke armdruksituasie wat nie sterk genoeg was nie,), maar die eintlike politieke druk deur die ANC en andere, ingesluit buitelandse druk, wat dié oiorweldigende faktor teen die afskaffing van apartheid was. Dalk het ons regering dit ook in gedagte gehad, maar wou nie hierdie feit – op dasrdie stadium – erken nie.

DIE STRATEGIE MISLUK: Die GBS-stelsel het tor nie veel sukses gebring nie. Dit was toe nie die towerstaffie – die quick fix -oplosding nie. Die politieke magte wat deur die ANC en die UDM losgelaat was, was te oorweldigend.

Sowat ‘n jaar na hierdie donker prentjie geskilder is, in 1986, was die staatspresident van die dag – die groot krokodil – mnr. P.W. Botha, verplig om ‘n noodtoestand in sekere dele van Suid-Afrika af te kondig.

Wat het dít vir ons gesê? Was die GBS-stelsel ‘n naïewe of desperate poging om te red wat te redde was? You be the judge …

KHYAELITSHA: Behalwe Transkei het ek ook weer ‘n swart gemeenskap gedien toe ek stasiebelvoerder van Khayelitsha was in die middel tagtigs. Altyd op dié plekke en elders het ek my optrede sodanig gerig dat dit nie op rassevooroordeel gebaseer was nie. My kleintyd-jare op die plaas het seker ‘n invloed op my optrede gehad, vandaar dit in my inleiding. Die feit dat ek isiXhosa magtig was, het soos ‘n veldbrand versprei. Baie klaers wou my aanvanklik persoonlik sien, wat ‘n dilemma geskep het. Ek moes die lede op aanklagkantoor toe maan om net in die uiters dringende gevalle ‘n klaer na my kantoor verwys. Ek was baie gelukkig hier, maar is toe onverwags as hoof van die Munisipale polisie aangestel met my kantoor in die provinsiale hoofkantoor in Kaapstad

DIE GREGORY ROCKMAN-GEVAL: In die laat tagtigs was daar die geval van luitenant Gregory Rockman wie sy mede-kollegas in die SAP op TV gekritiseer het omdat hulle die kleurlingkinders op die Kaapse Vlakte geskiet het. Hy is toe dissiplinêr aangekla (wat ‘n fout was); kort daarna bedank hy en word medestigter van POPCRU en later ook ANC-LP. Die optrede teen hom het rasseverhoudinge in die Kaap baie nadelig geraak. 

Ons het partykeer dinge ‘reg gedoen’, maar gefaal om eerder maar ‘die regte dinge’ te doen in sekere situasies, wat ‘n beter uitkoms sou gee.

BUITELANDSE DRUK: Alhoewel hierdie negatiewe insidente – waarby talle van die Veiligheidstak sin nie eers bygevoeg is nie  – het dit destyds oneindig baie bygedra tot slegte rasseverhoudingein SA. Ek wil dit hier weer beklemtoon: dit was veral die effek op die buiteland waarmee baie hulle totaal misreken het. Dit was immers buitelandse druk, sanksies en dies meer, wat uiteindelik die wit regering aan die einde van die tagtigerjare tot politieke oorgawe gedwing het.

SAP-VT: Ten opsigte van die veiligheidstak, is dit nodig dat kortliks ook my mening gee.

Meeste van die oortreders wat in hulle visier gekom het, het liederlike misdade teen die staat én die bugerlike bevolking gepleeg en nie gehuiwer het om groot skade en lewensverlies te veroorsaak nie. ‘n Entiteit soos die veiligheidstak was dus broodnodig en ‘n noodsaaklikheid om, soos wat enige ander regering ook sou doen, die oortreders pro– en reaktief in hulle spore te stuit. Daar was geen ander keuse nie. Hulle het ‘n leeue-aandeel gehad om totale anargie te voorkom en dat oorgawe ‘deur die roer’ nie ‘n opsie was nie.

AFSLUITING: Polisie-optrede in die laaste 3 dekades voor 1994 moes met kere in uiters moeilike en in buitengewone omstandighede uitgevoer word. Kom ons sê dit maar vir mekaar: die opstokers en geweldenaars was uiters gewelddadig, uitdagend, mense wie aan geen reëls of wette gehoorsaam het nie. Oordrewe propaganda het beide die veilgheidstak en onluseenhede se se take egter bemoeilik.

‘n Intense politieke oorlog was teen ons gevoer en buitelandse steun was met groot sukses gemobiliseer. Laasgenoemde was een van die vername faktore wat uiteindelik tot die ontbanning van die ANC en ander partye op 2 Februarie 1990 aanleiding gegee het.

Ek dink nou ook aan Boipatong in die vroeë negentigs waar 45 persone gesterf het. Die ANC het hierdie gebeurtenis ten volle uitgebuit en groot druk op FW De Klerk se regering geplaas, sonder om al die feite in ag te neem.

Die SAPD het egter self ook in Augustus 2012 sleg afgekom toe hulle 34 mynwerkers in Marikana doodgeskiet het.

My kritiek hierbo van die ou SAP is deel van die geskiedenis. Dit het ten doel om uit te wys dat sekere gewelddadige polisie-optrede in plaas van om eerder situasies innoverend te benader, buitengewone slegte gevolge kan hê – vir die land; die regering van die dag en rssseverhoudinge. Die praktyk het dit toe bewys.

‘n Laaste gedagte: ek dink nie ons wette van toendertyd onbillik was nie. Dit was ook nie ‘n geval van waar ons gedink het ons polisiemanne tree op  vanuit ‘n morele hoë grond nie en die oortreders breek die wet nie. Die wet(te) moes toegepas word, maar my uitgangspunt hieromtrent was dat gewelddadige polisie-optrede baiekeer onnodig was en dat situasies tog eerder innoverend benader kon word. Dit sou (onnodige) lewensverlies voorkom het (soos bv. die Soweto-76-gebeurtenis)  en, tweedens, sou dit onnodige skietgoed teen die regering van die dag voorkom het.