Nongqai Series the development  of Intelligence Science in South Africa No 7 cover image

ABSTRACT: Nongqai Series the development of Intelligence Science in South Africa No 7 forms part of a review of the founding and development of professional intelligence entities in South Africa’s national security history. It is written by Henning van Aswegen, formerly attached to the National Intelligence Academy and known for his acclaimed in-depth books on the subject. In this episode, he explains the start of the armed struggle by the liberation movements,  the  ANC  and PAC, against the white government during the early 1960s.

KEYWORDS: South Africa Intelligence; Bureau for State Security; South African Police Security Branch; CIA; Nelson Mandela; Albert Luthuli; Joe Slovo; ANC; PAC; Poqo; South African Communist Party.

AUTHOR: Henning van Aswegen

DIE ONTWIKKELING VAN ‘N EIE SUID-AFRIKAANSE INTELLIGENSIEKUNDE (#7)

Intelligensiekunde se Latynse stamwoord is ’Intellegere’ – ons vermoë om te verstaan.

Die Lont van Burgeroorlog

In November 1961 het die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) gewapende verset as sy primêre metode van teenstand en verset teen die regering aanvaar met die stigting van sy gewapende vleuel, Umkhonto we Sizwe (MK).

Nelson Mandela was aanvoerder van MK se opperbevel, die National High Command wat tydens ’n hoogs geheime ANC-NUK vergadering in Durban die aanbeveling oor ’n gewapende stryd gedoen het. Die president van die ANC, hoofman Albert Luthuli, was by hierdie vergadering teenwoordig en hy het tot die gewapende stryd ingestem. “The ANC’s military wing, Umkhonto-we-Sizwe (the Spear of the Nation), is controlled by the political leadership of the organisation, and armed struggle is combined with other forms of mass organisation, both legal and semi-legal.”

Die aand ná die ANC NUK-vergadering hou die South African Indian Congress (SAIC), Coloured People’s Congress (CPC), South African Congress of Democrats (COD) en South African Congress of Trade Unions (COSATU) ’n opvolgvergadering in Durban en endosseer die ANC Nasionale Uitvoerende Komitee se besluit om tot gewapende stryd oor te gaan. “The Congresses authorised me (Nelson Mandela) to go ahead and form a new military organisation, separate from the ANC.” Daarmee word Mandela MK se eerste hoof van staf, tot en met sy arrestasie in Natal in 1962. Met hierdie besluit aanvaar en ondersteun die ANC/SAKP die beginsel van geweld en gewapende revolusie as politieke instrument, ’n standpunt wat hy tot vandag toe handhaaf en nog nooit herroep het nie.

Die ANC/SAKP se beginselbesluit gee natuurlik aan enigiemand die reg op geweld en gewapende revolusie teen hom te gebruik, al is die ANC/SAKP tans die regerende party in Suid-Afrika.

Umkhonto we Sizwe het sy sabotasiedade op Geloftedag, 16 Desember 1961 ingelui deur verskeie geboue in Johannesburg en Durban met plofstof te beskadig. In die eerste agtien maande van sy bestaan pleeg Umkhonto we Sizwe, onder leiding van Mandela en sy strateeg en tweede hoof van staf, Joe Slovo, meer as 200 sabotasie- en terreurdade teenoor lede van die publiek, staatsgeboue en infrastruktuur soos treinspore en kragstasies.

In Januarie 1962 verlaat Nelson Mandela Suid-Afrika in die geheim om in Afrika-lande steun te werf vir die ANC en MK se plan om die regering met geweld omver te werp. Mandela besoek Egipte, Ethiopië, Algerië, Marokko, Guinee, Liberië, Ghana en Tanzanië, waar hy reëlings tref vir die opleiding van MK-rekrute in tegnieke van guerrilla-oorlogvoering.

In Ethiopië woon hy ’n konferensie van die Pan-African Freedom Movement of East and Central Africa by, waar hy kontak maak met lede van Frelimo van Mosambiek en Zimbabwe African Peoples’ Union (ZAPU) van Rhodesië (Zimbabwe). Hier ontvang Mandela ook persoonlike militêre opleiding in voorbereiding vir die gewelddadige gewapende stryd deur Umkhonto we Sizwe in Suid-Afrika.

Mandela vlieg hierna na Londen, waar hy die SAKP-lede Yusuf Dadoo en Vella Pillay ontmoet en aan hulle verslag doen oor sy Afrika-reis. Op 24 Julie 1962 keer Mandela terug na Suid-Afrika en die Lilliesleaf-kleinhoewe, waar hy aan die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee verslag doen oor sy buitelandse reis. Mandela deel die NUK mee dat die meeste Afrikalande wat hy besoek het, ingestem het om militêre opleiding aan Umkhonto we Sizwe-rekrute te gee. Mandela reis hierna na die klein Natalse dorpie Groutville om die leier van die ANC, hoofman Albert Luthuli, op hoogte te bring van sy buitelandse besoek.

Groutville is in 1844 deur die American Board of Commissioners for Foreign Missions as sendingstasie gestig. Naby Groutville is daar ’n rotslys waarop die Zulu-koning Shaka geklim het om die opleiding van sy impi’s, wat sy kraal kwaDukuza moes beskerm, dop te hou. Van Groutville ry Mandela en Cecil Williams, ’n dramaturg en teaterbestuurder, maar ook een van die aanvoerders van Umkhonto we Sizwe, na Durban en hou ’n vergadering in ’n woonstel met verskeie bekende SAKP-, ANC- en MK-lede, onder andere Ronnie Kasrils en Curnick Ndlovu. Mandela deel die groepie mee: “[Our initial acts of sabotage were the opening shots in a war that would grow into a guerrilla struggle, should the government fail to respond to our demands.”

Op pad terug na Rivonia word Mandela en Cecil Williams tot hul groot verbasing naby Midmar in Natal deur die polisie in hegtenis geneem. Mandela word hierna aangekla van aanmoediging tot staking en geweldpleging en tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir sy betrokkenheid by die bedrywighede van die verbode ANC/SAKP.

Cecil Williams is aanvanklik deur die SAKP as verraaier verdink, maar die werklike verraaier was ’n Durbanse Indiër-SAKP-lid, wat terselfdertyd ’n agent vir die CIA se kantoor in Suid-Afrika was. Hierdie kommunis het die vorige aand in Durban ’n vergadering tussen Mandela en die leier van die ANC, hoofman Albert Luthuli, bygewoon en die inligting oor Mandela se roeteplan vanaf Natal terug na Rivonia, aan sy Amerikaanse hanteerder, Millard Shirley, voorsien. Shirley was op daardie stadium hoof van die CIA se koverte operasionele seksie in die Amerikaanse Ambassade in Pretoria, en het hierdie inligting aan die Suid-Afrikaanse Veiligheidspolisie oorhandig.

Volgens die spioen Gerard Ludi, ’n goeie vriend van Shirley, is dit geen geheim dat daar goeie skakelverhoudinge tussen die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse intelligensiedienste was en is nie.

Die feit dat Mandela deur een van sy mede-kommuniste uitverkoop is, het jarelank geheim gebly, totdat The Atlanta Constitution koerant in Georgia, Verenigde State, agt en twintig jaar later ’n berig geplaas het, waarin die hoof van die CIA se kantoor (“station”) in die Amerikaanse Ambassade in Pretoria, Paul Eckel, erken het dat die CIA en sy SAKP-agent in Durban, vir Mandela aan die Suid-Afrikaners uitverkoop het.

In dié berig sê Eckel: “We turned Mandela over to the South African Security Police. We gave them every detail, what he would be wearing, the time of day, just where he would be. They picked him up. It was one of our greatest coups. It is no secret that intelligence agencies world-wide cooperate.” Millard Shirley het in 1973 afgetree, maar in Suider Afrika aangebly en is in 1986 in ’n motorongeluk in Swaziland gedood. 

POQO

Net soos die ANC funksioneer die PAC en sy gewapende vleuel, Poqo (wat “suiwer” beteken, dus suiwer swart nasionalisme), vanaf April 1960 ondergronds en word daarmee ’n intelligensieteiken in die bedreigingsanalise teen die staat.

Die Pan Africanist Congress (PAC) is op 4 April 1959 gestig toe ’n militante groep, onder leiding van P.K. Leballo, weggebreek het van die ANC-SAKP. “Poqo was ingestel op sabotasie en terrorisme en wou deur moord en doodslag ’n skrikbewind voer wat hom in staat sou stel om teen 1963 die bewind in Suid-Afrika oor te neem.” Op die PAC se eerste nasionale kongres in Oos-Londen op 4, 5 en 6 April 1959 word Robert Sobukwe as die eerste nasionale president en leier van dié groep verkies. Sobukwe en Potlako K. Leballo het die PAC en Poqo in 1961–62 gebou om in Wes-Kaapland en Langa net so sterk soos die ANC/SAKP te wees.

Sowel Sobukwe as Leballo word deur die SAP gevange geneem en weer vrygelaat, waarna Leballo na Maseru uitwyk om die Poqo se bedrywighede om die bevryding van ”Azania” daar voort te sit. “In Maart 1963 sê Potlako Leballo tydens ’n nuuskonferensie in Maseru dat Poqo en die PAC een en dieselfde ding is en dat hierdie organisasie gereed is om die Suid-Afrikaanse regering ’n uitklophou toe te dien.”

Op 12 Mei 1962 promulgeer die Nasionale Party-regering die Sabotasiewet (Wet 76 van 1962 en daarna die Algemene Regswysigingswet 37 van 1963), wat daarop ingestel was om die veiligheid van die staat te verseker deur direk teen die National Committee for Liberation (NCL) en Umkhonto we Sizwe (MK) op te tree. Die rede hiervoor was die NCL en Umkhonto we Sizwe se verklaarde doktrine van direkte aanvalle op staatsgeboue en strategiese nywerhede, om ’n massa-opstand teen die staat te organiseer, om militêre- en sabotasie-opleiding aan “vryheidsvegters” van die People’s Liberation Army’ te verskaf en omvattende guerrilla-oorlogvoering teen Suid-Afrika se burgerlike bevolking te bedryf.

Deur toepassing van die  Sabotasiewet het die staat ondermynende organisasies verbied en mense wat ’n bedreiging vir staatsveiligheid inhou, in “huisarres” geplaas. Een van hierdie persone was Patrick Duncan, die seun van die voormalige goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika van 1937–1943, Sir Patrick Duncan. Patrick Duncan junior was die enigste ingeskrewe blanke lid van die PAC.

Ingevolge die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme, is kommuniste verbied om sekere vergaderings by te woon en met ander kommuniste te assosieer.

Die taakopdrag van die regering aan die Veiligheidstak was duidelik: die bedreigingsanaliese in Suid-Afrika het merkbaar verander en die veiligheidsituasie het beduidend versleg. ANC/SAKP-sabotasiegroepe het in Port Elizabeth, Durban, Kaapstad en Johannesburg aktief begin raak met die doel om sabotasie, guerrilla-oorlogvoering, terrorisme en rewolusie te pleeg. Die Veiligheidspolisie het terrorisme gedefinieer as intimidering van die burgerlike bevolking deur beplande dade van geweld ter bevordering van politieke oogmerke.

Sedert 6 November 1962, met die stigting van die Spesiale Komitee teen Apartheid en ekonomiese sanksies, is Suid-Afrika in ’n inligtingsoorlog met die VN betrokke. Die VN finansier ook deur middel van sy Ontwikkelingsprogram (UNDP) die vryheidsbewegings van Suider-Afrika, met insluiting van die ANC, PAC, SWAPO in Suidwes-Afrika (Namibië) en die Patriotiese Front (PF) in Rhodesië (Zimbabwe).

Sedert 1965 neem die VN se finansiële hulpverlening aan hierdie groepe kumulatief toe. Die komitee sukkel egter van die begin af met sy definisies en begripsomskrywings van woorde soos ”terrorisme”, ”bevrydingsorganisasie” en ”vryheidsvegters”. Aan die een kant verklaar die VN in sy Handves vir Menseregte dat hy wil optree teen “internasionale terrorisme,” aan die ander kant ondersteun hy deur sy komitees en suborgane organisasies soos die ANC, PAC, die MPLA, SWAPO en selfs die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PLO).

Die VN handel in die geval van Suid-Afrika nie volgens objektiewe standaarde en die internasionale reg nie, maar hang sy beginsels in ’n politieke knyptang waaruit hy vandag nog sukkel om te ontsnap. 

In 1963 neem die regering van dr. Verwoerd vir die eerste keer besluite en stappe om ’n formele inligtingsgemeenskap tot stand te bring. Die inligtingsgemeenskap het ontstaan uit ’n behoefte aan veiligheidsinligting en daaruit het inligtingseksies in elke staatsdepartement tot stand gekom. Die koördinasie en sinvolle vertolking van inligting het egter steeds ontbreek, met die gevolg dat inligting wat die besluitnemers in die regering bereik het, departementele in plaas van nasionale veiligheidsinligting was. Verwoerd het geweet dat die SAP ’n wetstoepassingsorganisasie was wat geregtelike stappe teen wetsoortreders neem, maar dat ’n koördinerende komitee nodig was om nasionale veiligheidsinligting te verwerk.

* In DIE BURO: Genl. Lang Hendrik van den Bergh en die Buro vir Staatsveiligheid, wat deur Imprimatur Uitgewers gepubliseer word, is daar ware Suid-Afrikaanse spioenasieverhale wat die waarde van agente en spioene illustreer, en ook die enorme skade wat hulle somtyds aanrig, onder die soeklig plaas. Die enigste werklike meetinstrument van die sukses van ’n spioenasiediens is die mate waarop hy of sy die geskiedenis beïnvloed het, of nie. Die Buro vir Staatsveiligheid het ’n invloed op die Suid-Afrikaanse geskiedenis gehad en verdien om onthou te word. Indien enige van ons lesers oor relevante inligting oor die ontwikkeling van spioenasie in Suid-Afrika beskik, word u hartlik uitgenooi om enige inligting en foto’s aan henningvanaswegen55@gmail.com., te stuur.

* Die artikelreeks Intelegere bevat 982 bronverwysings en voetnotas, wat op aanvraag van die skrywer bekom kan word.

* Word in die volgende NONGQAI vervolg.

* Voorafbestellings vir DIE BURO kan by Imprimatur Uitgewers geplaas word.