NONGQAI ENTRUSTS ITS ARCHIVE TO AKADEMIA blog post header image

ABSTRACT: Nongqai eMagazine and Akademia are cooperating in the preservation and indexing of Nongqai’s archive of back issues dating from 2010. At a function on the Akademia campus on 26 March 2024, entrusting the Nongqai collection to Akademia was celebrated. This article covers that event, with links to video recordings of the main presentations delivered.

 KEYWORDS: Nongqai archive, Akademia

NONGQAI SE ARGIEF TOEVERTROU AAN AKADEMIA

Tydens ‘n geselligheid wat op 26 Maart 2024 in die ouditorium op Akademia se kampus in Centurion gehou is, is Nongqai se argief toevertrou aan die Akademia Biblioteek vir veilige bewaring en katalogisering. Sodat dit toeganklik sal bly vir die nageslag en vir navorsers.

Die geleentheid is onder andere bygewoon deur Akademia se rektor, prof Danie Goosen. Die departmentshoof vir Sosiale Wetenskappe, Me Alida Kok, het as seremoniemeester opgetree.

Nongqai entrusts its archive to Akademia Goosen Kok

Prof Danie Goosen, rektor van Akademia en me Alida Kok, seremoniemeester van die skenking-funksie, 26 Maart 2024.

Van Nongqai-kant was teenwoordig ons hoofredakteur en stigter, brig Hennie Heymans, sowel as die aangewese nuwe voorsitter van die Nongqai Trust, genl (dr) Johan Burger.

Ander hooggeplaastes wat hulle ondersteuning kom toon het was mnr Johan Mostert (laaste hoof van die Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad) en genl Herklaas Meyer (lanksdienende lid van die Raad van Trustees onder wie die Port Edward vakansie-oord tans ressorteer).

Nongqai entrusts its archive to Akademia Heymans Coertzer

Twee sleutel-figure: Nongqai se hoofredakteur, brig Hennie Heymans en Akademia se bibliotekaris, me Lianda Coetzer.

Nongqai entrusts its archive to Akademia Burger Mostert Meyer

vlnr: Genl (dr) Johan Burger, mnr Johan Mostert en genl Herklaas Meyer

VOORDRAGTE PER VIDEO

Van die voordragte is per video aangebied, van oorsee af, en is op die ouditorium se groot skerm vertoon. Ons dr Willem Steenkamp het in sy video-voordrag die oorsprong, geskiedenis en aard van Nongqai bekend gestel.

Nongqai entrusts its archive to Akademia video shown on big screen

Dr Steenkamp se praatjie oor die geskiedenis van Nongqai is met baie beeldmateriaal toegelig, wat u interessant mag vind.

Dr Heinrich Matthee, ereleerstoel in Veiligheidstudies by Akademia, het in sy praatjie die belang  van die Nongqai-argief as kultuurhistoriese skat en navorsingsbron behandel.

U kan self na hierdie video’s kyk, met die skakels hieronder (kliek net op die  betrokke beeld).

Nongqai blog Dr Steenkamp presentation 26March24 cover

Kliek op die beeld hierbo om dr Steenkamp se video-praatjie te sien.

Nongqai entrusts its archive to Akademia Matthee

Kliek op die beeld hierbo om dr Matthee se video te sien.

U sal aan die einde van elk sien dat die twee video’s versorg is deur Excellentia – dit is deel van dr Steenkamp se maatskappy, ge-inkorporeer in Guatemala. Die maatskappy ondersteun Nongqai deur middel van Excellentia se digitale media afdeling (wat hierdie nongqai.org web-blad en blog, plus die Nongqai YouTube-kanaal besit) en wat hierdie platforms gratis tot ons beskikking stel en onderhou.

ARGIEF SELF OOK KNAP UITGEBOU OP DIE NONGQAI WEBBLAD

Benewens die werk waarmee Akademia se biblioteek nou ‘n aanvang maak, het Nongqai self ook nou die volledige argief behoorlik gestruktureerd op ons webblad installeer.

Hierdie uiters belangrike taak is met groot kundigheid en baie sweet verrig deur Jan de Klerk. 

Ons ag dit so belangrik,  dat ‘n opvolg blog-pos net oor die argief beoog word.

Dit sal verduidelik hoe die argief wat ons op die blog dra, tans struktureer is (u kan per volume en nommer enige vorige uitgawe besigtig).  Daardie spesiale blog-pos spesifiek toegewy aan ons argief, sal  ge-anker word deur Jan de Klerk se puik verduidelikende video,  wat ook tydens die Akademia-funksie op 26 Maart vertoon is.

Hou dus gerus dop daarvoor – u sal dit verseker interessant en insiggewend vind.

BEDANKINGSWOORD DEUR BRIG HEYMANS

Die geselligheid is afgesluit met ‘n bedankingswoord deur ons hoofredakteur en stigter, brig Hennie Heymans. Hier is ‘n samevatting van wat hy gesê het:

Ek is ontsettend verlig dat meer as ‘n dekade se  Nongqai’s, plus “Die Generaal” en ander verwante tydskrifte nou as Nongqai-versameling ‘n veilige tuiste by Akademia gevind het, waar dit ook  van nut vir navorsers kan wees.

Nongqai entrusts its archive to Akademia Heymans concludes

Brig Hennie Heymans het afgesluit met 'n bedankingswoord aan Akademia.

Verder is ek besonder bly dat sekere unieke fotoversaamelings – veral die SAP Indiër-lede en die voormalige SA Spoorwegpolisie – as kultuurhistoriese skatte vir die nageslag behoue gaan bly.

Dat die rektor, prof Danie Goosen, die departementshoof vir Sosiale Wetenskappe Me Alida Kok en ander hooggeplaasde akademici asook mnr Johan Mostert, generaals Burger en Meyer en Akademia se bibliotekaris, Me Lianda Coetzer  teenwoordig was, was vir my ‘n riem onder die hart. Die seremoniemeester, die voordragte op die groot skerm vertoon; alles was net puik!  

 Ek het diep onder die besef gekom dat so vele mense vrywillig by hierdie projek betrokke was en dat dit vir ons almal die kroon gespan het op soveel jare se “lekker” werk! Ons doel is bereik, maar dis nie die einde nie. Deur die jare het verskeie hooggeplaasde offisiere, gewone lede en amptenare my bygestaan en verdra as ek “stories en foto’s” gesoek het. Wyle genl Johan van der Merwe het my  in hierdie projek gesteun wat met wankelende skrede begin het. (Ek was ‘n uitvoerende polisiebeampte met bietjie akademiese kennis en geen joernalistieke agtergrond nie MAAR ek het werklik belang gestel in ons nasionale veiligheidsgeskiedenis.) 

Die polisie – om ‘n voorbeeld te noem – se eie geskiedenis is baie nou verweef met die land se geskiedenis. Nasionale Intelligensie het uitvoering gegee aan die cliche: “Kennis is Mag” en het agter die skerms “dinge” laat gebeur. Die UVM/SAW het ons land se integriteit gehandhaaf en die veiligheidsmagte en die intelligensie-gemeenskap het deur die dekades heen geoffer wat gevra was – hulle het hul kant gebring! Die verskillende Nongqai’s bevestig hierdie punt.

Baie dankie vir ‘n pragtige aand wat baie stylvol aangebied was. Ons almal by Nongqai bedank Akademia en sy vêr-siende personeel. Ons steun u in u strewes!