Article header Nongqai series AP Stemmet

ABSTRACT: Series of interviews with Mr AP Stemmet former Justice Official and representative on the Secretariat of the State Security Council during the 1980’s (Part 1).

 KEYWORDS: State Security Council; AP Stemmet

 Sarie van Niekerk

AP STEMMET: Die man van vele talente, wat net nie einde het nie

AGTERGROND:

Toe brig. Hennie Heymans (afgetree), redakteur van die Nongqai-tydskrif, my die dag vra om vir mnr. AP Stemmet te bel en ‘n baie lang onderhoud met hom oor sy lewe en sy veelsydige loop, het ek eerlik waar nie geweet wie AP Stemmet is nie. Brig. Heymans het my vinnig bietjie vertel wie hy is en ek het besluit hier kan iets interessants uitkom. Hennie se opdrag was: “Trek sy lewe uit hom uit, ons wil alles van hom af weet”.

Nongqai Photo AP Stemmet 1980s

Mnr AP Stemmet gedurende die 1980s by die Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad

Ek stuur toe vir AP Stemmet die volgende WhatsApp-boodskap:

“Goeiemiddag mnr. Stemmet (sjoe maar dit klink vreeslik formeel). My naam is Sarie van Niekerk, ek is lid van die bestuurskomitee van Nongqai (elektroniese tydskrif vir die Magte). Ek is ook redakteur van die NONGQAI VIR VROUE. Ek is ook ‘n oud-polisiedame en ‘n afgetrede joernalis. Ek wil asseblief graag met jou gesels, ek wil ‘n baie lekker storie oor jou skryf vir NONGQAI. Kan jy asseblief net laat weet wat sal ‘n goeie tyd wees Maandagoggend om jou te bel, dan kan ons bietjie gesels as jy nie omgee nie.

Komplimente van Hennie Heymans.

Groete,

Sarie”.

Die afspraak is dus gemaak vir 11 September en in die naweek het ek so bietjie op die internet rondgeswerf om bietjie meer van hierdie man, wat lankal reeds veronderstel is, om as afgetrede te ontspan, maar nog by vele dinge betrokke is, uit te vind. Ek kom toe ondermeer agter dat hy graag sy mening oor dinge wat verkeerd loop in die land, in veral Beeld se briewe kolom uitspreek. A-ha, so reg in my kraal, darem al een punt om mee te begin.

Hy stuur toe die volgende WhatsApp-boodskap vir my:

“10 vm. Maandag breedweg watter onderwerpe wil jy dek?

Regspleging? Aanklaer, landdros, wetsopsteller, parlementêre-beampte. Onder­sekretaris van justisie.

Landsveiligheid, SVR

Bestuurder raad van balju’s

Moeilikheidmaker- staatsdienspensioenfonds

Soldaat: Oorlog in Angola, pantserbevelvoerder op die grens

Laat weet asb.

Groete

A P Stemmet.”           .

Vreeslik opgewonde laat weet ek terug:

“Jou hele lewe! As dit te lank word kan ons dit oor twee uitgawes plaas. Met groot klem op die SSVR, aanklaer, landdros, oorlog in Angola. Soos ek sê, jou hele lewe asseblief”.

Nog ‘n WhatsApp-boodskap gaan uit na hom toe: “Maandag net na 10:00 sal uitstekend wees want dan het ons ‘n periode wat daar nie beurtkrag sal wees nie.

Groete

Sarie”.

Toe breek Maandagoggend aan en dit is net een van daardie oggende wat alles nie volgens plan verloop nie. Eskom is toe die eerste een wat ‘n stokkie voor my beplande afspraak steek met hul beurtkrag. In my huishouding het dinge skeef geloop en daar vergeet ek werklikwaar van ons afspraak!

Maandagoggend om 10:52 ontvang ek die volgende WhatsApp-boodskap van hom af:

“Sarie,

Wat het van jou geword? Ek het 12m ‘n ander afspraak.

APS”

Ek het onmiddellik gebel en baie mooi om verskoning gemaak. Hy sê toe vir my sy vrou, Petro, wat aan kanker ly, is dieselfde oggend in die hospitaal opgeneem en hy wil hospitaal toe gaan. Maar ons spreek toe af dat ek hom net na 12:00 sal bel.

Dit is hier, by hierdie punt waar daar toe agt ure se telefoongesprekke, uitgesprei oor twee weke, begin het. Ek het intussen vir my ‘n lang lys vrae uitgewerk en hy het behoorlik aan die anderkant, in sy huis in Durbanville, Kaapstad, met boeke en boeke vol herinneringe reg gesit met die antwoorde. Die eerste gesprek het letterlik drie ure geduur. Wat ‘n verskriklike klomp inligting het hy nie vir my gegee nie!

Met elke antwoord het ek besef hierdie man, wat reeds 86 jaar oud is, het nog ‘n brein so skerp soos ‘n Chinese “tjopper”.

Nog voor die einde van die eerste onderhoud, het hy reeds vir my vertel “nadat by die Raad van Balju’s afgetree het, het hy en vriend begin om dinge op te tel dat dinge by die Staatsdienspensioenfonds (GEPF) nie baie goed gaan nie”. Hulle het toe ook sommer dadelik begin om inligting bymekaar te maak hieroor.

Voor ons groet na die eerste onderhoud, moes ek eenvoudig vir hom vra waar die naam Adamus vandaan kom. “Dit is ‘n familienaam. My voorouers het in 1700 na Suid-Afrika gekom van Nederland af, of dalk een van die omliggende lande, soos België”. In Latyn sê hy beteken die word Adamus eer. Nou hoe pas Paulus (sy tweede naam) by die Latynse Adamus? Paulus beteken loof. So eintlik sê hy beteken sy naam dus “eer en loof”.

Ons het toe reeds ooreengekom dat daar nog beslis meer onderhoude gaan volg. Hy belowe ook om sommer voor die volgende onderhoud vir my klomp inligting per e-pos te stuur. Hy het nie grappe gemaak toe hy gesê het: “Ek sal vir jou klomp goed aanstuur waarna jy ook kan kyk en gebruik,” nie. Dit is presies wat hy sedertdien doen.

Hy het sy loopbaan begin as klerk van die hof op Montagu vir ‘n paar maande maar word toe Port Nolloth toe verplaas. Na ‘n jaar hier pak hy weer op en word verplaas na Springbok. Hieroor sê hy met sy kenmerkende warm lag “hier het ek my gate uit geniet tussen die Namakwalanders – opregte Afrikaans wat hulle gepraat het. Nog baie Namas!.

Die jare het aangestap en hy het ook later as justisie parlementêre beampte in die parlement beland. Hier het hy ondermeer behoorlik vir die destydse eerste  minister, PW Botha, gewys hoe dinge gedoen behoort te word, hy het die latere staatspresident FW de Klerk se nooienstoespraak in die parlement geskryf en sommer uit die staanspoor swaarde gekruis met die latere minister van polisie, Adriaan Vlok.

Mr and Mrs AP Stemmet at a military ball of Regiment Orange River, of which he was the honorary colonel

Ere-kolonel en Mev AP Stemmet by 'n bal van die Regiment Oranjerivier

Hy vertel met groot erns: “Ek was ‘n slegte staatsamptenaar want ek het ‘red tape’ gehaat!”

O wag ‘n bietjie hierdie een gaan julle vreeslik geniet. Hy het in Angola saam met krokodille in ‘n swemgat geswem!!

Hierdie is maar net so ietsie oor Adamus Paulus Stemmet. Daar is nog so baie dinge wat julle oor die volgende paar maande te lese sal kry in die Nongqai!  Hou die tydskrif dop, hierdie is eenvoudig ‘n storie wat niemand kan mis nie!

WORD VERVOLG