TROU TOT DIE DOOD TOE: DIE OORGANG-ONDERHANDELINGE

Genl JV van der Merwe

ABSTRACT

Trou tot die Dood toe” (Loyal unto death) is an autobiography by General Johan Velde van der Merwe – the last commissioner of the former South African Police. It gives his point of view on the negotiations and constitutional change in South Africa from a police perspective. The metamorphic transition from the SAP Security Branch to SAPS Crime Intelligence is described from the Commissioner’s personal point of view, as a conservative Afrikaner.

Search terms:  SA Police; SAP Security Branch; FW de Klerk; Genl JV van der Merwe; South African democratic transition.

Terwyl die onderhandelinge aan die gang was en mnr. De Klerk met groot oortuiging verklaar het dat ʼn nuwe en beter Suid-Afrika op almal wag, het ek geweet dat daar in Afrika nog nooit werklik plek vir eertydse vyande was nie. Lede van die veiligheidstak wat oor die jare die ANC/SAKP-alliansie in hul gewelddadige stryd gestuit het, sou uiteindelik die prys moet betaal vir die beskerming van die Regering en die gemeenskap.

Hoewel die Weermag en die Nasionale Intelligensiediens ook by die stryd betrokke was, het hulle gesigloos gebly. Lede van die veiligheidstak het die ondersoeke gedoen, inhegtenisnemings en ondervragings gedoen en daarna in die hof teen die beskuldigdes getuig. Die geheime beplanning wat agter die skerms gedoen is, het verborge gebly.

Die Weermag het die Polisie dikwels tydens onluste in die swart woonbuurte bygestaan, maar die Polisie was steeds aan die voorpunt en moes in die hof rekenskap gee van elke optrede. Só het die Polisie, maar veral die veiligheidstak, simbool geword van onderdrukking, en is al die verbittering jeens apartheid op hulle uitgestort.

In ʼn poging om die lede van die veiligheidstak teen die wraak van die ANC te beskerm, het ek by mnr. Adriaan Vlok aanbeveel dat die veiligheidstak en die speurtak moet saamsmelt. Mnr. Vlok het ingestem en ons het ʼn afdeling Misdaadbestryding en -ondersoek op die been gebring. Dit het bestaan uit die Misdaadondersoekdiens (MOD), die Misdaadinligtingsdiens (MID), die Kriminele Rekordsentrum (KRS) en die Forensiese Wetenskaplaboratorium (FWL).

Mnr. Vlok het die nuwe afdeling op 28 Februarie 1991 bekend gestel.

Agterna het dit geblyk dat ons poging futiel was. Die meeste lede van die veiligheidstak is as melaats behandel en ná 1994 gedwing om die Polisie te verlaat.

DIE ANC/SAKP-alliansie het tydens die staatkundige onderhandelinge alles moontlik gedoen om die veiligheidsmagte, veral die Polisie, verdag te maak. Ons was deur die jare in ʼn verbete stryd met hulle gewikkel en het hul pogings om die Regering met geweld omver te werp, met groot welslae afgeweer. Talle faktore het ook die konflik beïnvloed. Tradisionele geskille tussen die IVP en die ANC wat oor dekades gestrek het en vetes wat reeds in die vorige eeu ontstaan het, het telkens bloedige botsings veroorsaak.

Om ʼn doeltreffende inligtingsnetwerk op die been te bring, moes die veiligheidstak noodwendig van verskeie geheime projekte gebruik maak. Ons het min bondgenote gehad, want ondersteuners van die ANC/SAKP-alliansie het enige samewerking tussen die Polisie en die plaaslike bevolking met geweldpleging en intimidasie verongeluk.

Die Congress of South African Trade Unions (Cosatu), wat die ANC/SAKP-alliansie gesteun het, het ’n groot invloed in arbeidsgeledere uitgeoefen en ʼn daadwerklike rol gespeel om die alliansie se belange te bevorder. Cosatu het verskeie stakings en wegbly-aksies georganiseer, wat groot ontwrigting veroorsaak en tot miljoene rande se skade gelei het. In ʼn poging om Cosatu se invloed teen te werk, het die veiligheidstak begin om Uwusa, die vakunie van Inkatha, finansieel te steun en uit te bou.

Nadat mnr. De Klerk opdrag gegee dat alle geheime projekte met ʼn politieke doel beëindig moet word, was ons genoodsaak om ons bande met Uwusa te knip. Die veiligheidstak kon egter nie sy finansiële steun aan Uwusa summier onttrek nie omdat daar ooreenkomste was wat ons kontraktueel verbind het. Daarbenewens sou dit moreel verkeerd gewees het om lede van Uwusa, wat bereid was om ons in die stryd teen die ANC/SAKP-alliansie by te staan, sonder meer in die steek te laat. Ons het die leiers van Uwusa in kennis gestel dat ons ons finansiële steun gaan onttrek en hulle kans gegee om ander reëlings te tref om hulle finansiële verpligtinge na te kom.

Voor ons egter ons verbintenis met Uwusa kon beëindig, het die inligting uitgelek en sensasionele berigte het in Julie 1991 in die media verskyn. Die ANC/SAKP-alliansie het die voorval met mag en mening uitgebuit en mnr. Mandela het geëis dat ministers Adriaan Vlok en Magnus Malan afgedank moet word. Mnr. Mandela het die Polisie en Weermag heftig aangeval en daarop aangedring dat die Misdaadinligtingsdiens van die Polisie ontbind word.

Mnr. De Klerk was hewig ontsteld, maar het deurgaans hoflik en beheers opgetree. Ons het die omstandighede aan hom verduidelik en hoewel hy glad nie gelukkig was met die verloop van sake nie, het hy die saak baie professioneel gehanteer. Hy het egter geswig onder die druk van die ANC/SAKP-alliansie en besluit om die twee ministers wat voortdurend in die spervuur was, na ander portefeuljes te verskuif. Mnr. De Klerk het in Julie 1991 bekend gemaak dat mnr. Vlok as Minister van Korrektiewe Dienste en genl. Malan as Minister van Waterwese en Bosbou aangestel word.

Dit was vir my duidelik dat mnr. De Klerk in ʼn hewige stryd gewikkel was. As advokaat het die basiese regsbeginsels aan die hand waarvan enige beskuldiging beoordeel moet word, hom gedwing om hom by die feite te bepaal. Die beswaddering van die veiligheidsmagte, waaraan mnr. Mandela ʼn groot aandeel gehad het, het egter sy tol begin eis.

’n Gebrek aan blootstelling en onkunde oor die eise wat aan die inligtingsgemeenskap gestel is om in ʼn land soos Suid-Afrika ʼn doeltreffende inligtingsnetwerk op die been te bring en te bedryf, het mnr. De Klerk se oordeelsvermoë sterk beïnvloed. Dit was moeilik vir hom om te verstaan dat die inligtingsgemeenskap tydens ʼn koverte projek met die grootste integriteit en lojaliteit teenoor al die betrokkenes moet optree. Versuim om dit te doen, tas nie net etiese en morele waardes aan nie, maar kelder die geloofwaardigheid van die inligtingsgemeenskap en toekomstige projekte.