Sedert sy totstandkoming het die Suid-Afrikaanse Polisie, wat onlosmaaklik deel van die gemeenskap is, dikwels vasgevang geraak in politieke tweespalt. Deur die geskiedenis heen het die Polisie egter nog altyd wet en orde gehandhaaf, al het elke lid sy eie politieke oortuiginge gehad, wat soms met die beleid van die regering van die dag gebots het. Die Polisie het nog nooit sy regering in die steek gelaat of in die rug gesteek nie. Dit is jammer dat die ANC-regering nie dié feit in ag geneem het toe hy duisende ervare, kundige en lojale lede in die pad gesteek het nie.

Ek was by geleentheid teenwoordig toe genl. Stoffel Buys, voormalige speurhoof en oudlid van die veiligheidstak, en adjt.off. Claude Sterley, toe albei digby 90 jaar, oor die goeie ou dae gesels het. In sy fleur was genl. Buys ʼn kranige, fors geboude speurder en adjt.off. Sterley ʼn hoofkonstabel en instrukteur in liggaamsoefeninge by die Suid-Afrikaanse Polisiekollege. Laasgenoemde was ʼn legende in die Polisie en op ’n tyd die swaargewigbokskampioen van Suid-Afrika. Hy het verskeie kere teen die swaargewigbokskampioen Robey Leibbrandt te staan gekom; hulle het om die beurt gewen en verloor. Hoofkonst, (rang het later na adjt.off verander) Sterley was tydens my kollegedae ons boksafrigter. Hy het dit altyd beklemtoon dat elke bokser moet leer om sy teëstander op te som en dan op sy swak punte moet konsentreer. Hy het Leibbrandt as ʼn moeilike teëstander bestempel, een wat moordend geveg en geen genade betoon het nie.

As jong speurder was genl. Buys in die vroeë veertigerjare betrokke by die saak teen Robey Leibbrandt, wat van hoogverraad verdink is. Leibbrandt het Suid-Afrika in 1936 by die Olimpiese Spele in Berlyn as bokser verteenwoordig. Hy is in Berlyn deur die Nazi’s gewerf om vir hulle te werk. In 1938 keer hy na Berlyn terug en volg ’n gimnastiekkursus by die Reich Akademie. Hy word daarna deur die Duitse weermag in diens geneem en as sweeftuigvlieër en valskermspringer opgelei. In 1939 het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek en die regering van genl. Jan Smuts het besluit om Engeland te steun en tot die oorlog toe te tree. Leibbrandt het die Nazi’s gesoebat om hom toe te laat om na Suid-Afrika terug te keer om teen die Smuts-regering te veg. Die Nazi’s het egter gemeen die tyd is nog nie ryp nie. Leibbrandt is eers in 1941 deur Adolf Hitler self toegelaat om na Suid-Afrika terug te keer. Hitler het beveel dat hy toegerus moet word om genl. Smuts te elimineer. Leibbrandt het met ʼn Franse skip, die Kyloe, wat as ‘n Duitse Abwher skip gebruik is, na Suid-Afrika gereis en met ʼn rubberboot by ʼn verlate strand naby Lambertsbaai in Namakwaland aan wal gegaan. Hy het daarna met die hulp van mense wat teen Smuts gekant was, na Kaapstad gereis, waar hy met genl. Hans van Rensburg, leier van die Ossebrandwag, kennis gemaak het. Genl. Van Rensburg en Leibbrandt kon nie ooreenkom oor hoe die Smuts-regering beveg moet word nie. Leibbrandt het besluit om sy eie weerstandsbeweging op die been te bring. Hy het op  ʼn plaas in die Soutpansberg gaan skuil waar hy begin het om lede vir die Stormjaers, soos hy die beweging genoem het, te werf. Die Stormjaers het verskeie sabotasiedade gepleeg en springstofmagasyne beroof om die nodige springstowwe te kry. Leibbrandt het telkens daarin geslaag om die polisie te ontwyk. Met verloop van tyd en die hulp van informante het hulle uiteindelik daarin geslaag om op Leibbrandt se spoor te kom.

ʼn Lasbrief is verkry en sy inhegtenisneming noukeurig beplan. Almal het geweet dat as hy hom verset, hy groot amok kon maak. Daar is besluit om adjt.off. Sterley, toe ʼn jong konstabel, tydens die inhegtenisneming te gebruik. Op 24 Desember 1941 het genl. Buys en konst. Sterley blitsig op Leibbrandt toegesak. Genl. Buys het sy een arm gegryp en agter sy rug gedraai en Leibbrandt is oorweldig en aangehou.

Leibbrandt is weens hoogverraad aangekla. ‘n Voorlopige ondersoek is op 11 Maart 1942 in die magistraatshof te Pretoria gehou. Die verhoor het op 16 November 1942 in die Hooggeregshof in Pretoria begin. Tydens die verhoor het genl. Buys teen Leibbrandt getuig. Leibbrandt het meteens uit die beskuldigdebank na hom gestap en hom ʼn geweldige vuishou teen die bors gegee met die woorde: “Dit is omdat jy my arm so verdomp seergemaak het!” Die regter was uiters ontsteld en wou weet of genl. Buys ʼn klagte van aanranding teen Leibbrandt gaan maak. Genl. Buys het geantwoord: “Nee, u Edele, ek hét sy arm baie seergemaak.”

Die regter het Leibbrandt ernstig vermaan en gewaarsku dat indien hy hom weer aan sulke gedrag skuldig maak, hy hom summier weens minagting van die hof sal vonnis. Leibbrandt is aan hoogverraad skuldig bevind en ter dood veroordeel. Hy het teen die vonnis geappelleer en dit is op 11 Maart 1943 deur die Hooggeregshof in Pretoria na lewenslange gevangenisstraf verander. Nadat die Nasionale Party in 1948 aan die bewind gekom het, het die Regering Leibbrandt begenadig en hy is vrygelaat. Hy is in 1966 oorlede.