Bazley Halt murder article header image

ABSTRACT: BAZLEY RAILWAY HALT NEAR DURBAN ON THE SOUTH COAST LINE, SOUTH AFRICA, WAS THE SCENE OF A DASTARDLY MUDER CAMOUFLAGED AS A RAIL ACCIDENT, WITH THE BODY OF THE VICTIM HAVING BEEN PLACED ON THE LINE, TO BE MUTILATED BY THE NEXT TRAIN. THIS DID NOT FOOL RAILWAYS POLICE DETECTIVE SERGEANT MARTINS BOTHA, THOUGH.

KEYWORDS: SA Railways Police, murder at Bazley Halt.

Net voor sonop, op ‘n dag in die middel van Januarie 1984, het die stasiemeester van Scottburgh my gebel by die huis en ingelig dat ‘n persoon op Bazley-halte, net Suid van Scottburgh deur ‘n trein doodgery is. Ek was toe die seksie-speurder-sersant, gestasioneer op Port Shepstone. My seksiegebied was vanaf Port Shepstone, 75 kilometer noord tot by Scottburgh, 80 kilometers in die binneland in tot by Harding,  en 140 kilometers suid,  in die Transkei tot by Magusheni. As ek ‘n persoon arresteer moes hy by die naaste hof verhoor word. Die howe in my gebied was Scottburgh, Hibberdene, Port Shepstone, Margate, Izingolweni, Harding en Umzinto.

Det Sgt Martins P Botha Bazley Halt murder investigating officer

Skrywer en destydse ondersoekbeampte, toe speurder-sersant Martins P Botha

Ek het Willie Engelbrecht (wat toevallig by my gekuier het) wakker gemaak om saam met my te gaan. Ons het die draagbaar en die vangwa by die polisiekantoor op Port Shepstone geneem en na Bazley-halte gery.

Met aankoms daar het dit saggies gereën. Ons het na die plek geloop en iets gesien wat tussen die treinspore rond lê. Met die eerste kyk na die lyk was dit uiters onooglik. Die liggaamsdele het by een punt begin en stuk-stuk vir omtrent 12 meter aaneen tussen die treinspore gelê. Ons het begin om deel-vir-deel op die draagbaar te sit. Van die ingewande en mens-vleis was te klein om bymekaar te kry en moes daar gelaat word.

Ons het die toneel  begin ondersoek om ‘n plan op te stel en aantekeninge te maak. Ek het  langs die trein-spoor op die grond, waar  hy (oorledene) aangery was,  (“aanry” beteken die punt van kontak in spoorwegterme)  drie bloedkolle gesien so groot soos ‘n R5.00 stuk.

Ek het aangeneem dit was plekke waar rondloper  honde van die vleis laat val het. Dit het al baie gebeur dat rondloper honde op ‘n toneel kom en van die liggaamsdele wegdra om te eet.  Ons twee het toe die swartman se lyk deurgevat na Scottburgh-staatslykshuis, en die stukke op ‘n staal-laai begin uitpak soos ‘n “Puzzle” sodat dit darem na ‘n mens lyk. Na ‘n ruk het ons dit darem reg gekry, ‘n “tag” aan die staal-laai vasgemaak, omdat die liggaamsdele se tone nie meer n voet gemaak het nie.

SUSPISIE VORM:

Onderweg terug na Port Shepstone het ek vir Willie gesê dat iets nie lekker is met die toneel nie. Iets daar is nie pluis nie.

Ek het vir Willie afgelaai by die huis en terug gegaan werk toe. Ek het Speurder Mkize opgelaai en terug gery na Scottburgh. By die lykshuis het die staatsdokter vir my gesê dat hy nie die oorsaak van dood kan bepaal nie, omdat die hele liggaam so in stukke is en so ook die ingewande. Hy het beweer dat die trein die moontlike oorsaak van dood is. 

Op pad terug na Port Shepstone het ek skielik vir Mkize gesê: “You know what Mkize, we are sitting here with a murder.” Ek het omgedraai en terug gery na Bazley-halte. Daar aangekom, het ons twee die toneel weer deeglik ondersoek. Ek het opgemerk dat die drie klein bloedkolle op die grond wat intussen deur die reën weg gespoel is, in lyn is met aanry-punt – oets wat my die oggend verdag voorgekom het. Ek het ook opgemerk dat daar ook ‘n ongehoorde hoeveelheid bloed tussen die spoorlyne lê wat nog nie deur die reën weg gespoel is nie. 

Terug op Port Shepstone het ek aan my twee speurders, Mkhize en Dlamini,  my vermoede verduidelik en hulle terug gestuur na Bazley-halte.  My vermoede was dat die oorledene langs die treinspoor aangerand was en daarna op die spoorlyn geplaas is, juis sodat ‘n trein hom kon aanry. Hulle was my regterhand en beste speurders en ek sou niemand anders in my span as daardie twee speurders wou gehad het nie.

Ek het voorlopig die saak geregistreer in die Algemene Sake Register (ASR). Daai selfde middag het die twee speurders terug gekom met twee Swartmans as verdagtes. Ons drie speurders het hulle toe apart ondervra. Hulle het erken dat hulle die oorledene ken, maar ontken dat hulle hom aangerand of doodgemaak het. Mkize en Dlamini het die twee verdagtes terug geneem na Bazley toe om verder ondersoek te doen. Teen die tyd dat ek huis toe gegaan het, was die twee nog nie terug nie. Ek was nie bekommerd nie, want hulle was gewoond om lang skofte te werk. Dit was nou twee werklik uitstekende bloedhonde onder my beheer en ons drie het ‘n besondere spangees gehad.

DEURBRAAK:

Die volgende oggend toe ek by die werk kom, het die twee speurders ge-smile en gesê dat my vermoede reg was. Boonop het hulle ook ‘n Swartvrou opgespoor wat die hele tyd teenwoordig was met die aanranding, tot en met die moord. 

Ek en Dlamini het toe na Bazley-halte gery waar ons die Swartvrou by haar werk gekry het en die moord uiteengesit het. Toe begin sy ons vertel van die  gruwelike moord: Na 5 uur die middag het vier Swartmans en dieselfde Swartvrou (getuie) by hul drinkplek bymekaar gekom sowat ‘n kilometer weg vanaf Bazley-halte. Hulle het lekker gesels en gedrink totdat die Swartman (oorledene) by hulle aangesluit het. Omtrent 8 uur die aand het van die vier Swartmans gesien dat die oorledene geld by hom het en hetbtoe voorgestel  dat hulle moes dobbel – vir geld. 

Die oorledene het ingestem en hulle het begin dobbel.  Almal het lekker gelag en gesels terwyl een na die ander gewen of verloor het. Vir ‘n paar uur het dit so aangegaan totdat die oorledene teen 11 uur (drie ure nadat hy daar aangekom het) aangekondig het hy gaan loop.

Omdat die oorledene die meeste geld gewen het, was die ander nie daarmee tevrede nie en het die oorledene forseer om verder te speel. Die oorledene het toe ingestem, maar na ‘n halfuur opgestaan en geloop.

Map of the Bazley Halt Murder location

Bazley-halte aangedui met die rooi pyl

OM 11.30 DIE AAND HET DIE VIER SWARTMANS SE PLANNE AL IN PLEK GEVAL GEHAD – AANVANKLIK, OM NET HUL GELD BY DIE OORLEDENE TERUG TE KRY. HULLE HET TOE NOG NIE PLANNE GEHAD OM HOM TE VERMOOR NIE.

Die vier Swartmans het onder mekaar begin praat en het uitgewerk dat hulle saam net oor die R29.00 verloor het. Hoe meer hulle onder mekaar gepraat het, hoe meer het hulle opgewerk begin raak. Die vier Swartmans het toe gesamentlik besluit om die geld te gaan terug vat by die oorledene. Die vier Swartmans het elkeen ‘n stok of ‘n kierie gevat en die oorledene gevolg. Hulle het hom gou ingehaal en gevra dat hy hul geld terug gee. Die oorledene het geweier en begin wegloop, maar hy is voorgekeer en omring deur die vier Swartmans. Hulle al vyf  het ‘n hewige en harde gesprek begin voer.

Die swartvrou het die bakleiery gehoor en na hulle geloop. Voordat sy daar kon kom het die vier Swartmans die oorledene een na die ander begin klap. Toe sy by hulle aansluit het sy gevra dat hulle moet ophou, maar die vier Swartmans het haar stilgemaak. Toe die oorledene sien dat hulle met die vrou argumenteer het hy begin weg hardloop. Die vier Swartmans het hom vinnig ingehaal en met die stokke en kieries begin slaan. Op een stadium het een Swartman ‘n mes uitgehaal en die oorledene ‘n paar oppervlakkige steekwonde toegedien. Hoe meer die Swartvrou hulle probeer keer het, hoe meer het hulle die oorledene geslaan.

Telkens as die oorledene probeer weghardloop het hulle  vier hom weer ingehaal en begin slaan. So het dit aangegaan,  uur na uur en as hy inmekaar sak op die teerpad, het hulle hom ‘n blaaskans gegee.

Die oorledene was later die ene bloed en kon skaars loop. Die oorledene het gesmeek en gesmeek dat hulle moet ophou maar hulle wou nie. Die Swartvrou het hulle telkemale probeer keer dat hulle voortgaan, maar die vier Swartmans het haar vermy. Die Swartvrou het later histeries begin skree toe sy sien dat die oorledene basies nie meer kan opstaan of loop nie.

Teen hierdie tyd was dit al ‘n paar uur na middernag asook straat op en  straat af tussen die huise en omtrent 200 meter van Bazley-halte.

Uiteindelik het die vier Swartmans opgehou toe die vrou histeries begin skree en die oorledene amper bewegingsloos op die pad lê. Die vier Swartmans het onder mekaar begin gesels en besluit om die geld by die oorledene te vat en te loop. Hulle het die geld uit die bebloede broek van hulle slagoffer geneem en elk van die vier Swartmans het so die geld wat hulle elkeen verloor gehad het, terug gekry.  Die oorledene se eie geld het hulle ook onder mekaar verdeel.

Terwyl die vier Swartmans en Swartvrou terug gestap na waar hulle gedobbel het, het die besef tot hulle deurgedring van wat hulle gedoen het…

VAN ROOF NA MOORD:

Vir ‘n lang tyd het die vier Swartmans onder mekaar geargumenteer oor wat om te doen. As die polisie op die beseerde Swartman sou afkom, sal hy mos vir hulle kan uitwys as die wat hom aangerand en boonop beroof het. Een van die swartmans, Nyazo Ngwenya, het toe die idee gekry om die beseerde Swartman op die treinspoor te gaan los waar die trein hom kan dood ry. Hulle sal dan nie uitgeken kan word nie. Die ander drie Swartmans asook die Swartvrou was gekant teen  Nyazo Ngwenya idee, maar hy het hulle oortuig om dit te doen.

Die groep het terug geloop en die beseerde Swartman gekry waar hy regop sit. Hy was hewig geskok toe die groep weer by hom opdaag.  Hy het gevra wat hulle nou wou hê.

Nyazo Ngwenya, wat die idee gekry het om hom op die spoorlyn te gaan sit, het die Swartman ingelig dat hy doodgemaak moet word om hulle nie uit te ken of aan te kla.

Die beseerde Swartman het histeries gesmeek om sy lewe te spaar en die vier Swartmans probeer oortuig dat hy hulle nie sal uitwys of aankla nie. Terwyl die Swartman hulle aanhou smeek het, het die 4 Swartmans onder mekaar begin gesels om te besluit wat nou gedoen moet word. Die Swartvrou het ook by hulle gepleit dat hulle dit nie moet doen nie, omdat die Swartman hulle nie sal uitwys of aankla nie. Sy het ook na die beseerde Swartman gewys en gesê dat hulle mos kan sien hoe hy smeek en smeek om sy lewe.

Nyazo Ngwenya het gesê dat hy nie ‘n kans gaan vat om aangekla te word vir aanranding en roof nie. Die groep het weer onder mekaar geargumenteer, maar Nyazo Ngwenya  het hulle oortuig dat dit al uitweg is.

Vir die 200 meter na Bazley-halte het die beseerde Swartman aanhoudend gesmeek en gesmeek en gesmeek, maar die vier Swartmans het hom na die treinhalte aangedryf met hul stokke en kieries, soos wat jy diere aanjaag na ‘n slagpale. Die Swartvrou het die vier Swartmans  deurentyd probeer terughou maar sy kon nie want hulle het haar uit die pad gestamp.

Net langs die treinspoor het die erg beseerde Swartman omgedraai om weer te pleit, maar hy is op die treinspoor geslinger. Terwyl hy daar gelê het, het die vier Swartmans hom geslaan totdat hy bewusteloos geraak het. Die groep het langs die treinspoor gaan staan om te wag dat die Swartman dood gaan. As  die Swartman begin beweeg het die vier Swartmans hom weer begin slaan totdat hy weer bewusteloos was. Weer het die groep langs die spoor gestaan en gewag dat hy moet dood gaan.

Na ‘n baie lang ruk het die erg beseerde Swartman steeds nie doodgaan nie, alhoewel hy bewusteloos was.

Nyazo Ngwenya, wie se idee dit was om die slagoffer op die spoor te sit, het toe aan een van die Swartmans gesê om sy (Nyazo) se panga te gaan haal by Nyazo se eie blyplek. Die Swartman het ‘n baie lang tyd gevat om Nyazo Ngwena se persoonlike panga te gaan haal, maar het dit uiteindelik wel aan Ngwenya kom oorhandig. Terwyl daardie mede-dader weg was, het die erg beseerde slagoffer kort-kort bygekom, maar is dan weer bewusteloos geslaan.

Met die panga in die hand het Nyazo Ngwenya oor die erg beseerde Swartman gestaan en met een kap na die ander, aangehou totdat hy gesien het dat die beseerde Swartman heeltemal dood is. Die vier Swartmans het die liggaam van die oorledene so gedraai dat die trein die liggaam op sy ergste kan skade aanrig.

Net voor ligdag het ‘n goederetrein die liggaam wel aangery en die grootskaalse skade aangerig waarvoor die vier Swart mans gehoop het.

Met die verklaring in my besit, het ek en Dlamini een na die ander beskuldigdes by hul werksplek gearresteer. Vir my was dit ‘n wonderlike gevoel van tevredenheid dat ons span van drie binne een dag die oorledene se moordenaars gearresteer het en dat hulle nie daarmee weg gekom het nie. Ons het ook beslag gelê op die bebloede panga van Nyazo Ngwenya, twee bebloede stokke en twee bebloede kieries, asook ‘n bebloede mes.

Terug op kantoor het ek die dossier opgestel en vir sersant Donald Graham, die posbevelvoerder gevra om die ASR saak oor te dra na die Register van Ondersoek van Misdaad teenoor ROM 26/1/84.

DIE HOFSAAK:

Vanaf 31 Oktober 1984, na ‘n paar aanvanklike hof-uitstellings, het die verhoor in die hooggeregshof in Scottburgh begin. ‘n Regter het voorgesit, met twee van assessore. Omdat die vier beskuldigdes nie self regskoste kon bekostig nie, is aan elkeen ‘n advokaat toegestaan. Ek het eerste getuig, waarna al vier advokate, die een na die ander, my probeer uitoorlê het, maar my getuienis was bankvas. Hulle het beweer dat die oorledene op die spoor geloop het voordat hy aangery was. My volgende getuie, nommer 2, was die treindrywer wat  die vier advokate se verweer weerlê het en getuig het dat die oorledene dwars oor die spoor gelê het.

Terwyl die treindrywer besig was om te getuig het ek met die distriksgeneesheer en die Swart vroue-getuie buite die hofsaal  gesels. Die geneesheer wat die lykskouing uitgevoer het, het my lank aangekyk en uiteindelik my gevra: “… How did you know this case is a murder, because the body was so mutilated that even I could not determine the cause of death. It is unbelievable that you suspected it was a murder.”

My laaste getuie was die Swartvrou. Die vier advokate het hul bes probeer om haar as ‘n onbetroubare getuie te brandmerk, maar sy het nie van haar storie afgewyk nie. Die staatsaanklaer was ook  uiters bekwaam tydens die hofsaak en het met afsluiting gevra dat al vier beskuldigdes skuldig bevind word aan moord en dat Nyazo Ngwenya as die meesterbrein gesien word. Die vier advokate het gevra vir versagtende omstandighede.

Die regter en sy twee assessore het verdaag  en na ‘n lang ruk teruggekom in die Hof.

Die regter het die uitspraak gelewer – al vier beskuldigdes is skuldig bevind aan moord. Hy het gesê dat die vier beskuldigdes die volgende dag gevonnis sou word.

Op 1 November 1984 het die regter vir Nyazo Ngwenya ter dood veroordeel. Nyazo Ngwenya se ander drie medepligtiges is elk tussen 8 tot 20 jaar tronkstraf opgelê.

Op 17 Julie 1985 is Nyazo Ngwenya tereggestel, aan die galg in Pretoria.

Bazley Halt murder SAP69

SAP 69 met die hoof-beskuldigde se doodstraf aangeteken

OMTRENT DIE SKRYWER:

Ek was eers ‘n treindrywer-assistent totdat die Army my opgeroep het. Hulle het my ‘n keuse gegee: “Army of Polisie”. Aangesien ek toe reeds vir die Spoorweg gewerk het, het ek ‘n interne oorplasing gekry na die Spoorwegpolisie in Mei 1972.

Ek heg sentimentele waarde aan my verlede en sit nog met dokumentasie sedert 1958 en gooi nie sommer dokumentasie weg nie.

Ek het ‘n klompie jare gelede ‘n boek begin skryf oor my polisie-loopbaan, daarom het ek baie inligting bymekaar gemaak vir my kinders.

Baie dankie dat julle (NONGQAI) ons foto’s en geskiedenis bewaar vir ons nageslag.