Abstract: The true story of the top-secret cooperation between the USSR and sanctioned South Africa, from 1989, in the re-design of SOVIET MIG-29 jet engines for the upgrade of SAAF Mirage fighter jets

 

MISSIE: MIRAGE-F1 MET MIG-29 ENJIN – MOSKOU, 1989/90

Die ware verhaal van MIG-enjins inbou in die SALM se Mirage-VEGTERS

 

 1e AFLEWERING: Die opskrif in Salvo-tydskrif se uitgawe No 3 van 1994 sê dit alles – “Beer-krag” vir die Suid-Afrikaanse Lugmag se Mirage-F1s en Cheetahs!

Die bekende lugvaart-kenner, Helmoed-Römer Heitman, se 1994-artikel (hieronder) het die lugvaart-industrie om die wêreld heen skielik laat regop sit…

Maar hoe het dit regtig gebeur? Was dit waar? Baie min mense het hiervan geweet…

Noudat dit alles vêr agter die skouer lê en ons daaroor kan praat, sal ek in hierdie reeks artikels vir NONGQAI, dele van hierdie storie vertel. 

In 1977 het ek as lugvaart-ingenieur by Atlas Vliegtuig Korporasie begin werk. In die jare wat gevolg het, het ek aan verskeie projekte gewerk, in Suid-Afrika asook in die buiteland.

Die meeste van ons werk was Uiters Geheim en partykeer klandestien. Daar was groot avonture en soms gevaar, maar daar was een projek wat seker altyd die hoogtepunt van my loopbaan vir die Suid-Afrikaanse Lugmag sal wees. Tegnies die mees uitdagende en persoonlik die een wat my lojaliteit en persoonlike oortuigings sou toets.

Hierdie reeks sal feite-gebaseerde uittreksels in-sluit uit my onlangse boek, n Poskaart uit Moskou” (NB: die boek self, as sg. “faction”, is ‘n mengsel van feite en fiksie).

© Kobus de Villiers

A picture containing text, building, sign Description automatically generated

 

DEEL 1: AGTER DIE YSTERGORDYN

My braai-vuurtjie knetter gesellig. Die koue glas witwyn sweet koel druppels teen die kante af en my ete vir een is op die stoeptafeltjie uitgepak. My blou swembad se watervalletjie vou die Transvaalse vroegaand-geluide toe.

Sondag-middag se vergadering by die generaal se huis draai nog in my gedagtes. Ek het grootgeword met die konsep dat Rusland en veral die Sowjetunie en die gepaardgaande kommunisme, totaal onaanvaarbaar is vir ons Afrikaners. Die meeste van die wapens en die mense wat op ons skiet in die Grensoorlog is van Russiese afkoms, of word gedryf deur Russiese doktrine.

Ons was gereeld gewaarsku teen die Rooi Gevaar en alles wat daarmee geassosieer word; die bedreiging van internasionale kommunisme vir godsdiens, ekonomiese en politieke vryheid op die Suider-Afrikaanse subkontinent.

Nou wil die Firma hê dat ek na Moskou reis en gaan vasstel of ons ʼn hoë-tegnologie vliegtuigenjinprojek saam met die einste mense kan aanpak! Die Mig-29 vegvliegtuig met sy Klimov RD-33 enjins is op die oomblik een van die mees gevorderde vegvliegtuie in die wêreld. Dit is al wat ons in die Weste daarvan weet.

Ek sou natuurlik verkies om aan ʼn Amerikaanse eweknie te werk, maar met ons vreemde politiek sal dit seker nie in my leeftyd gebeur nie. Hierdie is ʼn geleentheid om ons vermoëns te meet aan dié van die allerbeste in die bedryf. Wat weet dié ouens alles wat ek kan leer?

Ek wonder wat my pa sou sê.

Ek weet wat my plaas-oupa sou doen. Ek dink aan die besemstok en tamatiekassie-vliegtuigie wat ek en hy in sy motorhuis gemaak het toe ek ses jaar oud was.

Nou moet ek besluit.

My vorige besoek, amper ʼn jaar gelede, was nie juis suksevol nie. Dié keer is daar egter die versekering dat die reëlings goed sal werk.

Hierdie gaan my Rubicon wees, maar eintlik in die teenoorgestelde rigting! Ek gaan na die nes van die aartsvyand, die definisie van boosheid, alles waarteen ons gewaarsku was. Waarteen ons geveg het op die grens.

Daardie oggend by Projeksekerheid se finale voorlegging het die hoof, Jan van Greunen, dit duidelik gestel. Dit is definitief ʼn stap in die onbekende. Ons het geen infrastruktuur in Rusland nie, so ek kan nie staatmaak op enige hulp daar nie. Ons gaan geen direkte lyn van kommunikasie hê nie. Om die waarheid te sê, hy het subtiel genoem dat ek selfs daar kan ‘verdwyn’ en niemand sal van beter weet nie!

Die kinders is by hulle ma en daar is genoeg voorsiening vir hulle in my testament. My pa leef nie meer nie en my broer sal goed na my ma kan kyk. Met my werk het ek oor die jare myself noodwendig onttrek van familie en vriende.

Die werklikheid is dat niemand my eintlik regtig sal mis nie.

-o0o-

Dit sneeu nog steeds en gelukkig hou die huurmotor reg voor Heathrow Terminaal 3 se deure stil. Die bestuurder help my met my tas en knik tevrede as ek vir hom sê om die kleingeld te hou.

Die vertreksaal is ruim en lekker warm. Ek kan my swaar ou jas oor my arm drapeer. Ek maak seker dat my Oosblok-klere en my oefeningboek met gekodeerde notas in my handbagasie is.

Die eerste stap is om my tas met my Westerse klere by die lughawe se stoorkamer in te gee.

Die datum bo-aan die gedrukte strokie wat die klerk oor die toonbank skuif, is skaars leesbaar. Dit kan heel moontlik ʼn baie belangrike datum in my lewe wees; 26 November 1990.

Ek het oor die jare vele vreemde plekke besoek en aan heel ongewone projekte gewerk. Gebeure en ervaringe wat ek met niemand kan deel nie. Dit is nie meer vreemd nie, dit was tog nog altyd deel van my werk, my lewenswyse.

Hierdie avontuur gaan egter seker een van die hoogtepunte van my loopbaan en die vreemdste van my lewenslesse wees! Jan van Greunen by Projeksekerheid se stem is helder in my geheue. Ons moet nou eers, om sy woorde te gebruik, die ‘rookskerm’ om my vertrek na Rusland uitvoer.

-o0o-

Ons groot swart motor stop by ’n verkeerslig en ek verkyk my aan die gewoel en geskarrel van so baie mense wat tussen die koue, mistige wasemwolke deurvleg. Dit word nou vinnig donker; In Moskou se vroegmiddag word die staalgrys lug harder en die flou lig sukkel om landmerke te identifiseer.

Die straatligte, die wat nog werk, kom aan en mense skarrel in die dik sneeu vanaf die Metro-treinstasie of bus na hulle bestemming. Hulle waggel soos spoke tussen die stoomwolke op die sypaadjie deur. Die koue se vingers vat ook vas as die lig verdwyn. Gelukkig werk die motor se verhitting heel goed.

Baie mense staan nog tou terwyl dit fyn sneeu, rantsoenkaartjie vir melk en brood in die hand. Daar is geen advertensies op enige gebou nie, en die winkels het net hier en daar flou geel ligte in die meestal leë vensters.

Na ‘n koue en rustelose nag in die Гостиница, uitgespreek as gostinitsa, wat blykbaar naastenby vertaal kan word as gastehuis of hotel, is my ‘lyfwagte’ met die groot swart motor voor die deur.

Ons ry in Tverskaya-Yamskaya af, verby die Belorussky-treinstasie en stop voor ʼn hoë gebou met Stalin se standbeeld op ʼn granietblok.

Die trappe is breed en skoongevee en daar is geen sneeu op die sypaadjie nie. Mense in ushanka-hoede en warm jasse wat snyerstyl pas, stap flink nader en maak die motor se deure vir ons oop.

Die ingangsportaal van die Aviatsionnogo Nauchno-Issledovatel’skiy Tsentr is minstens twee verdiepings hoog en daar is beelde en portrette van Stalin, Lenin en verskeie Sowjetunie leiers wat ek kan herken aan die SAUK se nuusberigte van die Rooi Gevaar.

Die vertrek is ietwat te warm.

“Zdravstvuyte, ya Sergey Stepanovskiy,” terwyl hy sy hand uitsteek. ʼn Man wat seker met die tyd te veel van die vetterige Russiese etes genuttig het. Waterige bruin oë en ʼn olierige kuif wat oor sy ongesonde bleek voorkop hang. Ferm handdruk.

“Hallo, ek is Sergey Stepanovskiy,” vertaal die tingerige klein meisie met fyn, rooierige blonde hare.

Haar Engels het ʼn effens Amerikaanse aksent.

“Ek is Alonya. Ek sal die vertaling doen. Laat my asseblief weet as jy iets nie verstaan nie.”

Groot blou oë en ʼn klein sproetneusie, moontlik Rusland se weergawe van Twiggy. Haar hand is koel en klein.

Sy kyk oor haar skouer na die fris ou voordat sy voortgaan.

“Meneer Sergey Stepanovskiy was die hoofontwerpingenieur op die Mikoyan-29 vliegtuig. Ons is geëerd om hom hier te hê!”

Ek word ook voorgestel aan Stanimir Turgenev en Jaroslav Petrov. Beide is glo kenners wat gewerk het op die installeringsontwerp van die Klimov RD-33 enjins in die Mig-29 vliegtuig.

“Khorosho, davayte nachnem!” Meneer Stepanovskiy rol ʼn tekening op die tafel oop en begin praat.

Alonya hou haar hand in die lug en hy wag half ongeduldig.

“Meneer Stepanovskiy sê: ‘Goed. Laat ons begin!’”

Hierdie gaan ʼn lang dag word…

Die volgende drie dae volg dieselfde patroon. Die enigste verskil is dat ek elke dag meer leer en ook begin glo dat die projek baie uitdagend sou wees, riskant, maar wel haalbaar. Ons werk vir twee weke aan voorstelle en planne om een van Klimov se groot enjins in ʼn Mirage F1 en Cheetah D2 in te bou. My eerste keuse, die Mig-31 se Soloviev D-30F6 enjin, was hopeloos te groot, maar die RD-33 wat in die Mig-29 is, kon amper pas.

Op die laaste dag maak ons saam ʼn opsomming van ons idees en aanbevelings. Almal is optimisties en ek kan aanvoel dat die Russe oorspronklik onder die indruk was dat ons mense in die Republiek nie die vermoë het om saam met hulle te werk nie, maar nou daarna uitsien om so iets saam aan te pak.

Meneer Stepanovskiy kom terug in die vertrek en steek sy hand uit.

“Poka my ne vstretimsya snova!” Alonya leun vorentoe. “Meneer Stepanovskiy sê dat hy daarna uitsien om jou weer te ontmoet!”

Ek probeer my bes om hom te laat verstaan dat ek sy insette en goeie kennis waardeer en dat ek ook daarna uitsien om verder saam met hulle te werk. Hy klop my speels op die skouer en lyk baie tevrede.

Alonya verduidelik dat Stanimir môreoggend saam met my sal vertrek na Leningrad waar ons die ingenieurs van die Klimov-enjinfabriek gaan ontmoet.

-o0o-

Veilig terug in Suid-Afrika en ek doen ʼn tegniese voorlegging aan die besluitnemers. Die ander drie lede van die span wat die haalbaarheid van die projek moes ondersoek, deel hulle bevindinge oor finansies en politieke risiko’s.

Na ‘n paar weke kom die antwoord; die projek is ‘n hoë risiko, maar as dit slaag gaan dit baie voordele inhou vir Suid-Afrika se lugvaart-industrie en die Lugmag.

My eerste taak is om ʼn klein span tegniese spesialiste saam te stel. Ons word onderwerp aan ʼn baie rigiede proses van Sekerheidsklarings. Verder beplan ons watter tegniese inligting, tekeninge en toerusting ons by die werkplek in Rusland gaan benodig.

ʼn Logistieke span word saamgestel en hulle begin met al die reëlings om, vanuit Suid-Afrika, ons tegniese span in Rusland te ondersteun.

Dek-stories word saamgestel en ingeoefen. Kontak-besonderhede by ‘n adres en telefoonnommer in Pretoria word verskaf aan die span se families, wat oudergewoonte nie mag weet waar ons gaan werk nie.

Word vervolg.

FOTOS: Klimov RD-33 enjin van ‘n MIG-29, soos dié hieronder (krediet – Wikimedia Commons)

A fighter jet flying in the sky Description automatically generated with medium confidence

Buiteblad, SALVO 3/1994 – Die eerste keer dat die projek offisieel in ‘n tydskrif beskryf word,

met hierdie mooi foto van die vlieënde “Super” Mirage F1 op die buiteblad.

Hier staan ek voor die Гостиница, uitgespreek as gostinitsa, wat beteken: hotel of gastehuis. Moskou, Desember 1990. Plaasjapie met vellies in die -34C buitelug! Die blyplek was baie primitief. Daar was geen toerisme destyds nie.

Russiese ma, ouma en kleindogter op pad om te gaan tou-staan by die koswinkel

My kamer in die gostinitsa. Daar was mos geen werklike ‘toeriste’ uit Westerse lande destyds nie, so die staatshotelle was soos ‘n gastehuis vir besoekers uit ander Oosblok lande.

Alles het muf geruik, die bed het ‘n harde klapperhaar matras gehad en die verhitting het nie goed gewerk nie. Daar was ook ‘n loergaatjie met ‘n kamera in die muur.

My tas het vir 3 dae by die lughawe ‘vertoef’. Toe ons KGB wagte dit uiteindelik ‘gevind’ het, was my jeans en Reebok hardloopskoene weg.

A picture containing indoor, floor, room, window Description automatically generated

A room with a table and chairs Description automatically generated with low confidence

Die tafel, in die hoek van ons gostinitsa se eetkamer, was waar van die eerste sketse en berekeninge van die projek gedoen was. Die kos was nie juis iets om oor huis toe te skryf nie.

A picture containing outdoor, sky, water, city Description automatically generated

Ek kon die kragstasie van my kamer af sien. Die oorblywende stoom wat by die kragopwekker turbines uitkom, word gebruik om die omliggende geboue te verhit. Ongelukkig was die pype geroes en daar was baie lekplekke, so ons gebou was maar goed koud.

Ons ‘lyfwagte’ onderhandel met ‘n huurmotor om ons na die stad te neem vir besoek aan ‘n paar besienswaardighede.

Oorspronklike Russiese tegniese span tydens hulle aankoms by ons gesamentlike werkplek.