Henning van Aswegen
Abstrak: Geheime Organisasies, Verwoerd-regering, Afrikaner Broederbond (AB), Suid-Afrikaanse geskiedenis, geskiedskrywing, nasionale veiligheid, staatsveiligheid, Henning van Aswegen, Nongqai diepte-artikelreekse, Bothakommissie van Ondersoek, ondermynende bedrywighede
Sluimerende spanning tussen Suid-Afrika se pro-Britse Smuts-regering en ‘n snelgroeiende Afrikaner Nasionalisme word in Desember 1944 tot die spits gedryf, toe Smuts aankondig dat lede van die Afrikaner Broederbond nie ook lede van die Suid-Afrikaanse Weermag mag wees nie. Smuts se Unie-regering het bloot ‘n dekreet uitgevaardig wat amptenare in diens van die Staat verbied om lede van die Bond te wees, of aan sy verrigtinge deel te neem. Smuts se eensydige dekreet sou vir baie jare daarna ‘n geskilpunt in die Suid-Afrikaanse politiek wees, en heelwat onigheid tussen Engels- en Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners veroorsaak.
Eerste Minister Hendrik Verwoerd swig kort na Republiekwording in 1961 onder toenemende politieke druk, en stel op 28 Julie 1964 ‘n Kommissie van Ondersoek na Geheime Organisasies aan, met Regter D.H. Botha aan as enigste lid. Die Kommissie van Ondersoek se verslag, wat op 12 Desember 1964 in Bloemfontein gepubliseer is (Registrasienommer R.P. 20/1964-1965), bevat insgelyks ‘n paar interessante en betekenisvolle bevindinge. Onder andere (onder die hofie ‘Agtergrond’), dat die Afrikaner Broederbond (AB) die oorlewing van Afrikaners en die Afrikaanse taal as hoofdoelwit stel. Die AB het duidelik ‘n kleintjie doodgehad aan die oorheersing van die aardbol en die bevordering van Engels as die belangrikste taal in Suid-Afrika.
Waarom dan is die AB uigesonder as ‘n sondaar en selfs na verwysing as ‘n bedreiging vir staatsveiligheid?
Die AB is op die 5de Junie 1918 formeel deur veertein jong mans aan die Witwatersrand tot stand gebrind. Hulle en van hulle volksgenote was die slagoffers van ‘n aantal openbare aanvalle deur mense wat daarop uit was om Afrikaners aan te val. Hulle het ernstig geglo dat daar ‘n beweging aan die ontwikkel was wat daarop gemik was om die ganse Afrikaner volk te vernietig, ‘n volk wat eens die skeppers en regeerders van twee onafhanklike Republieke was, maar nou die slaansakke van Union Jack-swaaiende jingo’s geword het.
Bondige agtergrondgeskiedenis van die Afrikaner Broederbond
Na ‘n bittere magstryd van drie jaar, het Suid-Afrika se twee Boererepublieke hul vryheid in 1902 verloor. Op staatkundige, sowel as ekonomiese gebied was die Afrikanervolk verpletter en sy getalsterkte ernstig uitgedun. Onder die publiek was daar ‘n gemoed van moedeloosheid en vertwyfeling oor die voortbestaan van ‘n Afrikaanse volk en sy eie kultuur. Met die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910 en die verskansing van die Afrikaner se taal- en kultuurregte, het nuwe hoop stilletjies opgevlam. Twee jaar later in 1912, het daar ‘n skeuring gekom wat die Afrikaanssprekende Afrikaner op politieke gebied in ‘n volslae minderheid gelaat het – verdeeldheid en onsekerheid het gevolg. In 1914 breek die Eerste Wêreldoorlog uit en omdat Suid-Afrika ‘n Engelse kolonie was, word beide die Afrikaanse en Engelse bevolkingsgroepe by die groot Europese konflik betrek. ‘n Rebellie en kleinskaalse burgeroorlog breek uit, omdat Afrikaanssprekendes nie die Britse volksmoord van die Tweede Angloboereoorlog vergeet het nie. Hulle wou om die dood nie aan die kant van imperialistiese Brittanje in nog ‘n oorlog betrokke wou raak nie. Aan die einde van die 1914-rebellie bevind ‘n groot aantal Afrikaners hulle in die gevangenis, en die gehate Britte kraai koning. Die gevoel onder Afrikaners was dat sy identiteit, kultuur en menseregte misken en deur die Britte geminag word.
Dit was onder hierdie moeilike omstandighede dat die groepie van veertien Afrikaners ten midde van die konflik mekaar kon vind om ‘n organisasie te stig wat die belange van die Afrikaner in die hart en op die mou sou dra. Eers is min vordering gemaak, en die Afrikaner Broederbond het eers in 1920 ‘n eie grondwet gekry. Vanaf 1922 het die AB beduidend gegroei en uitgebrei, met afdelings en takke in bykans elke stad en dorp.
Hulle AB se doelwitte:
- Die eenheid van Afrikaners,
- Die ontwikkeling van Afrikaners,
- Die versterking van hulle liefde vir hulle taal, hulle geskiedenis en hulle tradisies,
- Die ontwikkeling van hulle kuns en kultuur.
- Die opbou van Afrikaners se ekonomiese krag en,
- Boweal, die vertroue op die Christelike beginsels ingevolge waarvan die Bond gestig is.
Dit is geen geheim nie dat die Afrikaners wat die AB gestig het, iets soos die Vrymesselaars in gedagte gehad het. Pas na die stigting in 1918, midde-in die Eerste Wereldoorlog, besluit die AB om ‘n geheime organisasie te wees omdat die Engelse teen sy lede, veral die wat staatsamptenare was, diskrimineer. Die AB publiseer hul manifes openlikk in Die Volkstem, waarin hulle die bestaan van die vereniging bekend maak, en ook sy identiteit en die name van sy ampsdraers. Hulle het verklaar dat hulle deure wyd oop was en belangstellendes uitgenooi om aansoek vir lidmaatskap te doen.
Die grondwet het die volgende verklaring bevat:
“Al die voortreflike volke het Institusies of Loges wat soek om die volksiel te bewaar, en ons hoop om die Broederbond te maak tot die geheime saambindende krag wat die sandkorrels van ons volk onafskeidbaar aan mekaar sal heg. Ons loge moet ‘n groot liggaam word waar al die kragte wat na samewerking verlang, sal ingespan en gebruik word, sodat die meeste vrugte vir ons volk sal afgewerp word met die minste verspilling van kragte”.
Dit is vanselfsprekend dat ‘n geheime organisasie nie sy deure vir almal kan oopmaak nie, want dan sou dit nie meer ‘n geheime organisasie wees nie. Dit moet dus ‘n stelsel hê waarvolgens nuwe lede gewerf word. Die AB het op grondvlak bestaan uit ‘n aantal lede wat in dieselfde omgewing gewoon het en wat gegroepeer was in wat “afdelings” genoem is. Tydens elke maandlikse vergadering van die afdeling is lede die geleentheid gegee om nuwe lede vir die vereniging voor te stel. Die name en ‘n bondige beskrywing van hierdie persone is dan opgeneem in wat ‘n keurlys genoem is. Hierdie lys van genomineerde nuwe lede is dan elke maand aan elke afdeling gesirkuleer en as daar beswaar gemaak is teen so ‘n persoon se lidmaatskap by enige van die honderde afdelings in die land is hy eenvoudig nie uitgenooi om aan te sluit nie.
Ek het die boek, Die Afrikaner-Broederbond – Eerste 50 Jaar”, wat deur die AB self gepubliseer is, gaan lees om ‘n effens dieper insig oor die AB te kry, en om te probeer vasstel waarom daar vandag nog ‘n skeutjie agterdog en dikwels ondeurdagte kritiek op die skouers van hierdie kultuurorganisasie rus. Ek wou ook probeer vasstel of die AB nie maar bloot ‘n dinkskrum was nie. ‘n Kopie van hierdie boek is by die Erfenisstigting in Pretoria beskikbaar.
Intussen het die Kommissie van Ondersoek sy ondersoek na die bedrywighede van die AB afgehandel, en sy bevinding met die Eerste Minister Dr. H.F. Verwoerd gedeel. Regter Botha skryf onomwonde dat dit die opdrag van die Kommissie was om te bepaal of die Afrikaner Broederbond by “enige vorm van verraad, of geknoei of ‘n strewe tot eiematige oorheersing, skuldig is. Of skuldig is aan onregmatige beïnvloeding van, of ondermynende bedrywighede teenoor die volk of die Staat of enige van sy organe, soos die Sentrale Regering, die Provinsiale Owerhede, of die Regpleging.”
In sy Kommissieverslag skryf Regter Botha (P 10), dat hy “geen aanduiding van sodanige pogings” kon vind nie. “Die Bond is geen uitvoerende liggaam nie. Hy inisieër slegs deur studie en beraadslaging idees en gedagtes in belang van Suid-Afrika. My gevolgtrekking is derhalwe dat die Afrikaner Broederbond hom nie aan enige optrede in die Kommissie se opdrag genoem, skuldig maak nie.”
Slotsom
Die Kommissie van Ondersoek na Geheime Organisasies is verskriklik interessante leesstof, en in die Biblioteek van die Regskamers van die Appelhof in Bloemhof beskikbaar.