Louis Lubbe

’N KORT GESKIEDENIS VAN SUIDWES-AFRIKA

“Oorlog is nooit ’n eensydige saak nie.” – Dwight D Eisenhower (1890 – 1969)

Tussen die Oranjerivier in die suide en die Kunenerivier in die noorde lê daar ’n stuk wêreld, so buitengewoon en so anders, dat min reisigers wat dit besoek onaangeraak bly deur sy natuurlike skoonheid, uitgestrektheid en mense. Dit word vandag Namibië genoem. Voor onafhanklikheid in 1990 het dit bekend gestaan as Suidwes-Afrika (1915 – 1990) en voor dít, as Duits-Suidwes-Afrika (1884 – 1915) – ’n rustige fasade vandag … maar dit was nie altyd so nie.

Pre-koloniale tydperk

Die ironie is dat hierdie landstreek vir honderde jare deur die “buitewêreld” geïgnoreer is, behalwe deur die swart groepe wat vanuit Sentraal-Afrika en elders uit Afrika daarheen gemigreer het.

Die San (ook bekend as die Boesmans) was egter lank voor al die ander daar, maar het hulle – vanweë hul nomadiese tradisie – nie op een spesifieke plek gevestig nie. Hulle word allerweë as die oorspronklike bewoners van dié land beskou.

Die eerste swart groepe uit Sentraal- Afrika, was die Ovambo’s en die Kavango’s. Daar word gespekuleer dat hulle van die slawehandel wou ontsnap. Skynbaar het hulle as een groep gemigreer – eers suidwaarts en toe weswaarts tot by die Okavangorivier. Hier het die Kavango’s hulself gevestig, maar die Ovambo’s het verder wes getrek om hulle in Ovamboland te vestig. Die vasstelling, asook latere verskuiwing van die internasionale grens tussen Angola en Namibië, het egter veroorsaak dat van die Ovambo-stamme in twee verdeel is en hulle gevolglik aan weerskante van die grens bevind het.

’n Ander groep, die Damaras, kom waarskynlik uit die Groot Mere-gebied in Sentraal- en Oos-Afrika en toon ooreenstemming met Negers van die westelike Soedan en het hulle in die bergagtige dele rondom die Erongo – en Otaviberge gaan vestig.

Die Capriviane is egter verwant aan groepe in Zambië en Botswana wat oorgevloei het na Caprivi (ofskoon een bron van mening is dat daar nie sekerheid oor hul herkoms is nie).

Die Nama is deel van die Khoi en vorm die grootste deel van hierdie groep. Hulle kom waarskynlik uit die noorde van Botswana en maak saam met die Khoi- groep deel uit van die oudste inwoners van Suidwes- Afrika. Die Nama het oorspronklik gedurende die 1800’s in die verre suide van Namibië in die omgewing van die Oranjerivier gewoon, asook oorkant die rivier in die noorde van Suid-Afrika.

Die Rehoboth-basters het meer onlangs in Suidwes-Afrika opgedaag – en wel vanuit die Kaap. Aanvanklik het hulle eers Noord-Kaap toe uitgewyk om konfrontasie met die Britte oor grondeienaarskap te vermy, en daarna nóg verder noord getrek vir dieselfde rede. In November1869 het hulle die Oranjerivier onder leierskap van Hermanus van Wyk oorgesteek. In 1870 het die Nama-leier, Hendrik Witbooi, toestemming verleen om hulle te vestig in die gebied wat nou as Rehoboth bekend staan.

Die Herero’s, bekend om hul voorliefde vir veeboerdery, het waarskynlik sowat 350 jaar gelede uit die Mere-gebied van Oos-Afrika gemigreer en hulle aanvanklik in die gebied teen die Kunenerivier gevestig – wat tot en met Namibië se onafhanklikwording as Kaokoland bekend gestaan het. Omtrent 150 jaar gelede het ’n groot deel van hulle suidwaarts getrek en die Himba- en Tjimba- groepe agtergelaat.

Beide die Herero’s en Namas was veeboere, en in hul wedywering vir meer weiveld en water vir hul diere het die twee groepe die wapen teen mekaar opgeneem. Oor ’n tydperk van meer as dertig jaar was hierdie twee groepe feitlik heeltyd in oorlog met mekaar gewikkel. ’n Nuwe groep, die Oorlams, wat in die vroeë 1800’s onder leierskap van Jonker Afrikaner noordwaarts uit die Kaapkolonie getrek het, het in 1830 kragte met die Namas saamgesnoer en die Herero’s uit die Nama-gebied gedryf. Met perde en gewere was hulle een te veel vir die Herero’s en het uiteindelik die beste weivelde vir hulself gekies. In 1840 stig Jonker Afrikaner Ai-Gams (vandag bekend as Windhoek) waar hy hom ook gevestig het en vanwaar hy gereeld strooptogte op die Herero’s se vee uitgevoer het. Op Kersdag 1842 teken Jonker Afrikaner egter ’n vredesooreenkoms met die Herero’s, maar hy verbreek die ooreenkoms vier jaar later en val die Herero’s weer aan. Teen 1857 rapporteer sendelinge dat die Herero’s ’n verslane nasie is. Slegs ’n handjievol is oor en boonop in klein groepies verspreid.

Jonker Afrikaner trek verder noord waar hy ook die Ovambo’s aanval. Ná Jonker Afrikaner se dood in 1861 word hy deur sy seun, Christian Afrikaner, opgevolg. Oplaas het die Duitse regering die twee strydende groepe in verskeie reservate gevestig.

Tot en met die 1860’s was blanke belangstelling in Suidwes-Afrika redelik gering en hoofsaaklik beperk tot ekspedisies, jagtogte, verkenningstogte en die stigting van enkele sendingposte. Moontlik was dit die onherbergsaamheid van die streek wat die besoekers afgeskrik het.

In 1786 het die Britse HMS Nautilus onder aanvoering van kaptein Thomas Thompson die kus van Suidwes-Afrika verken as ’n moontlike ligging vir ’n strafkolonie vir Britse gevangenes, maar hy het die woestyn as té onherbergsaam geag. Hulle het besluit dat Australië ’n beter opsie sou wees.

In 1805 begin die London Missionary Society sendingwerk doen en in 1811 stig hulle Bethanie in die suide van Suidwes-Afrika, waar hulle ook ’n kerkie oprig. Eers gedurende 1842 volg die Rynse Sendinggenootskap in hul voetspore en stig ’n sendingstasie in Windhoek.

Walvisbaai word in 1878 deur Brittanje geannekseer in ’n poging om Duitse belangstelling in die gebied voor te spring.

’n Duitser, by name Heinrich Vogelsang, land in 1883 by Angra Pequena (Lüderitz) en koop die kusgebied by die Nama-hoofman, Joseph Fredericks, vir 10 000 ryksmark en 260 gewere. Op 7 Augustus 1884 verklaar kanselier Otto von Bismarck die gebied rondom Lüderitzbucht ’n Duitse Protektoraat en beswaarlik ’n maand later word die strook teen die kusgebied van die Oranjerivier tot by Kaap Fria ook by die Protektoraat ingelyf (behalwe Walvisbaai wat alreeds deur Brittanje geannekseer is). So ontstaan Duitswes-Afrika (ook as Duits-Suidwes-Afrika bekend en hierna sodanig genoem) as ’n kolonie van Duitsland.

… En toe begin die “Scramble for Africa”. Vir die daaropvolgende 30 jaar wapper die imperiale vlag oor Duits-Suidwes-Afrika. Ofskoon die hele Duits-Suidwes-Afrika onder Duitse beheer was (behalwe Walvisbaai natuurlik), is die gebiede teen die Angola- grens, te wete Kaokoland, Ovamboland en Kavango, indirek deur stamhoofde beheer.

Gedurende Mei 1886 word Heinrich Ernst Goering aangestel as kommissaris en bring sy administratiewe kantoor by Otjimbingwe op die been. ’n Duitse gewapende beskermingsmag – die Schutztruppe – bestaande uit vrywilligers, word gewerf om in Imperiale Duitsland se kolonies diens te doen. ’n Mag van sowat 1 500 man word in Duits-Suidwes-Afrika ontplooi en in 12 berede kompanies verdeel. Die soldate het grotendeels uit Duitsers bestaan.

Die jare ná die ontstaan van die Duitse protektoraat word gekenmerk deur onrus en konflik tussen die Duitsers en die plaaslike bevolking. Die Duitsers het reservate gestig, wat die tradisionele grondgebied van die onderskeie bevolkingsgroepe verklein het.

In 1888 word die eerste groep Schutztruppe, bestaande uit 2 offisiere, 5 onderoffisiere en 20 swart manskappe, na Otjimbingwe gestuur om die basis te beskerm. In ’n poging om die inheemse bevolking effektief onder Duitse beheer te plaas, was dit noodsaaklik om beskermingsooreenkomste met die inheemse volk aan te gaan. Die Nama-leier, Hendrik Witbooi, was egter nie daarvoor te vinde nie.

Gedurende 1890 word die Caprivi Zipfel by Duits-Suidwes-Afrika gevoeg. Dit volg na ’n ooreenkoms met Brittanje waarvolgens Duitsland die strook (zipfel) ontvang – in ruil vir die eiland Zanzibar wat op daardie stadium deur die Duitsers vir hulleself opgeëis is. Hendrik Witbooi is een van die prominente en onverskrokke Nama-figure; vanweë sy onwrikbare teëstand jeens hul teenwoordigheid in die gebied ’n doring in die vlees van die Duitsers. Witbooi is in1830 in Pella in die Noord-Kaap gebore en het sy pa, Moses, as leier van die Khowese-groep van die Nama opgevolg. Onder Witbooi se leierskap trek hulle noord, oor die Oranjerivier, waar hy begin om die ander Nama-groeperings onder sy leierskap saam te snoer en die Duitsers laat les opsê. Ten einde hul gesag af te dwing, loods die Duitsers teen dagbreek op 12 April 1893 ’n verrassingsaanval op die Witboois se vesting by Hornkranz, waarin 150 Witboois gedood is. Baie van die weerbare Witboois het egter die slag oorleef en voortgegaan om oorheersing van die Duitsers teen te staan.