Nongqai Blog Durban water police photo album header

ABSTRACT: Photo Album Durban Harbour Water Police from yesteryear, spiced up with a self-depreciating story told by former Ntal AG, adv Cecil Rees.

FOCUS KEYWORD: Photo album Durban Harbour Water Police

KEYWORDS: Durban Harbour Water Police; South African Railways Police; Natal attorney general Cecil Rees

AUTHOR: Dr Willem Steenkamp

Nongqai Blog Darban Harbour Water Police historic photo

FOTO-ALBUM VAN DIE WATERPOLISIE-TAK VAN DIE S.A. SPOORWEGPOLISIE, DURBAN HAWE.

Ai, lanklaas het ‘n stel foto’s wat oor my lessenaar gekom het vir hierdie Durban-boytjie soveel mooi jeug-herinneringe teruggebring as juis hierdie oor die Waterpolisie-tak van die S.A. Spoorwegpolisie, destyds daar in my geboortestad…

Ek was altoos ‘n ywerige visserman. Soos my pa, wat voorsitter was van die plaaslike S.A. Polisie Hengelklub. Baie nagte omgesit daar in die hawe, saam met hom en sy groot vriend, die plaaslike hoof van die Spoorwegpolisie se veiligheidstak daar, kolonel Hennie Prins. Bedags ook, as ons nie na skool met rugby of krieket doenig was nie, saam met my maats op ons fietse gespring en dan af dokke toe met ons visstokke.

So het ek die Waterpolisie goed leer ken. Netjiese manne, altyd vriendelik maar ferm, wat deurentyd aan die patrolleer was. Die groter, nuwe vaartuie was in Afrikaans vernoem na voëlsoorte. Ek kan die “Loerie” en die “Vink” nou nog onthou.  Van die ouer, kleiner vaartuie is na vis-soorte vernoem, soos die “Shad”.

Ons hier by Nongqai beskik ongelukkig nie oor onderskrifte vir die foto’s nie, en ook nie name van persone wat daarop verskyn nie. As daar lesers is wat kan help identifiseer, stuur asb aan – met Akademia wat ons hele argief tans behoorlik  katalogiseer, sal al daardie kosbare data bewaar bly vir die nageslag.

Hier volg dus die foto’s, in geen besondere volgorde  nie. Ek sal afsluit met ‘n verwante staaltjie wat u lagspiere behoort te prikkel. ‘n Ware verhaal oor hierdie gedugte manne wat nie “nonsens gevat het van kabouters nie” (soos die spreekwoord sê). Sonder aansiens des persoons – soos dit hoort. Vertel uit die perd se bek…

Nongqai Blog Durban harbour Water Police 1949

Water Police, Durban Harboiur, 1949.

Nongqai Blog Durban harbour Water Police
Nongqai Blog Durban Harbour Water Police
Nongqai Blog Durban Harbour Water Police
Nongqai Blog Durban Harbour Water Police
Nongqai Blog Durban Harbour Water Police
Nongqai Blog Durban Harbour Water Police
Nongqai Blog Durban Harbour Water Police
Nongqai Blog Durban Harbour Water Police
Nongqai Blog Durban Harbour Water Police
Nongqai Blog Durban Harbour Water Police

Nou vir die staaltjie wat ek beloof het. Dis met groot smaak en respek vertel deur advokaat Cecil Rees, later prokureur-generaal van Natal. Ten koste  van homself en sy goeie vriend, destydse waarnemende regter-president, regter Kennedy.

Mnr Rees het naamlik een aand aan huis by ons kom eet, en daar is lekker saam gekuier. Want groot raconteur was hy beslis. En hy het ook my en my pa se liefde vir visvang gedeel.  Op hierdie foto van hom, kan mens sommer sien hoe ‘n ondeund-glimlaggende tipe mens hy was.

Nongqai Blog adv Cecil Rees Natal AG

Adv Cecil Rees, PG van Natal (foto: Natal Witness)

Ewentwel, regter-president Kennedy was net so lief vir visvang as Rees self. Die twee van hulle het toe op die plan gekom om bietjie oor middag-etes te gaan lyn natmaak in die hawe, daar op die Esplanade – want die pragtige ou koloniale gebou wat die Durban en Kus afdeling van die Hooggeregshof huisves, sit mos reg daar.

Soos die vorige dag afgespreek tussen hulle, bring hulle toe hulle visstokke saam.  Maar hulle het nie hengel-lisensies nie. En natuurlik, skaars het hulle hul hoeke in die water gehad, toe kom die Vink ewe flink nader gevaar. Met ‘n rysige blonde boerseun stewig wydsbeen geplant voor in die boeg.

Die Waterpolisie se praktyk was om hul patrollieboot so op 90 grade met sy boeg te laat aan-beur teen die trekker-buitebande wat die beton-kaaie aan die waterkant beskerm het (of eerder, die groot skepe se rompe teen wrywing met die harde beton beskerm het). Die kêrel voor in die boeg kon dan met die persone op die kaai praat en hulle dokumentasie onder oë neem.

Volgens advokaat Rees se vertelling, bring die Vink se knap stuurman toe ook die groot seun voor in die boeg, tot hier reg by hulle. Oog tot oog.

Laaisens!” hoor hulle toe, gebiedend, so op Vrystaatse aksent. Met die jong man wat hulle fronsend-ondersoekend aankyk, sy regterhand uitgestrek om die bewys van wetmatigheid te ontvang, en sy linker-vuis in sy sy geplant.

Ons twee deurlugtiges daar op die kaai, besef toe natuurlik hier’s moeilikheid (dit sal mos nou nie deug as die provinsie se twee hoogste regslui ontbloot word as minagters van die wetlike verpligting om liksens te hê alvorens mens daar in die hawe lyn natmaak nie).

Rees het in Pretoria grootgeword, so hy was nie regtig so pukka Ingels soos baie gebore en getoë Natallers nie. Nietemin, as die spraaksame een kies hy toe as strategie om in sy hoogste Brits die polisieman te probeer beïndruk met wie en wat hulle twee darem nou eintlik is. Iets in die lyn van: “My dear sir, please permit me the pleasure of introducing my learned calleague,  the honoura…”

Maar dis net daar wat die jong polisieman hom toe summier kort knip – glad nie lus vir ‘n lang betoog in sulke hoge Rooitaal nie.

“Lis-seeen!” kom dit driftig – so met PW vinger, en met die laaste lettergreep uitgerek.

“I doesn’t care who you two  is, OK!

You just vat your fish sticks – NOW! – en f@k off my kaai!”

Wat die twee waarde here toe ook dadelik ewe bedees gedoen het – vol van die lag vir hulself, en gevul met respek vir die jong man en sy vermoë tot ondubbelsinnig-heldere kommunikasie, ook in die taal van Shakespeare…

‘n Storie wat Rees met regtige smaak en waardering ten koste van homself oorvertel het, en wat ek (as toe ‘n jongeling daar aan die etenstafel) tot vandag toe met groot plesier onthou. Want daardie Waterpolisie het my ook altyd net soveel beïndruk as vir Rees en sy hogere hengelgenoot.