Tanya O’Connor
Om te teken met woorde
(en andersom)
‘n Nuwe sketsboek is altyd ‘n uitdaging en ‘n ongekende plesier. Die bladsye wag met net die beste wat papier kan bied.
Die vat aan die 210 gsm is pure genot.
Die blaaiery hou aan,
daar is oomblikke uit my dag, kleurvolle modesketse,
‘n boom langs die pad verewig met houtskool, wat groei op Clarence Drive.
Vetplante en beet,
koppies gestapel,
‘n malva in ‘n pot,
‘n vrou wie water deur haar hande laat val,
‘n vespa en ‘n ballerina wat net aanhou dans.
Teken is pure terapie vir ‘n angsaanval sommer so uit die nuut, vir ‘n wegloop na weg van hier af.
Potlood en papier is my drug of choice(gelukkig ‘n goeie een),
my hulp,
my goedheid,
my absolute go-to toe ek dit die nodigste gehad het in my lewe.
Ek is al vele kere gevra,
hoe begin ‘n prentjie?
En die antwoord is,
dis in my deurmekaar kop waar dit begin,
daar waar soveel boeke oopgeslaan is,
kiekies wat bly vir vele jare,
woorde wat bly sit,
wat spore trap,
deur die vel van die siel sny.
Daar is ook onthou wat sorg vir dagtes wat galop.
En ek verdryf die woorde “wat as”.
Want dit is regtig van geen nut,
net soos verbrande hout wat wegwaai met die Suid-Oes.
Dis onthou wat nie weer sal gebeur nie,
en dit neem wilskrag om die feit my eie te maak,
en te elimineer om nie my vorentoe te beinvloed nie.
Daar is ook woorde wat ek oor en oor herhaal,
hulle is so mooi, weer en weer spel ek hulle uit, my mond wat hulle praat sonder dat ‘n geluid uitkom. Hulle prentjies teken en teken ek.
Ek erken,
ek het nog nooit intens daaraan gedink aan wat my beweeg,
laat begin en ‘n prentjie.
‘n skets deurvoer.
Onlangs is daar ‘n vinnige skryfsessie by Sunset Books in die Strand, die kruks – skryf net, moenie se jy gaan skryf, besig om te skryf,
en daar is nie ‘n klaarmaak nie.
Die riglyne is,
wat maak jou gelukkig,
wat maak jou ongelukkig, en,
hoekom skryf jy en hoekom skryf jy nie.
Om die aspirant skrywers en skrywers aan die gang te kry is daar keuses vir oordra.
Skryf ‘n dagboekinskrywing,
‘n brief aan jouself,
‘n watsapp gesprek ensomeer.
Daar gebeur pure toordery,
en ek hoop van harte die skryfsels groei.
En toe die gedagtes,
die malende kolk van “wat van” en “has it been done”.
Die feit dat niks nuuts is onder die son soos die Groot Boek noem nie,
net hoe jy dit voorsit aan jou leesgaste!
My prentjie vir hierdie skrywe is ‘n vrou wat sit op ‘n spinnerak.
Die skets het begin met ‘n foto gestuur op watsapp en ek moes net my weergawe daarvan neersit op papier.
Dit was ‘n gedeelde oomblik, a shared moment soos ek skryf langs my naam op die skets.
As ek reg onthou was dit een Sondagoggend vroeg, ‘n “taljaanse” mater bederf my, well keeps me in coffee. Ons stuur kiekies oor en weer van ons koffie drinkery. Hy bly aan die anderkant van Tafelberg en deel ‘n foto van ‘n spinnerak.
Dis vir my magies mooi,
ek wil daar gaan sit,
my voete neersit op elke doudruppel wat vashou aan ‘n spinnerakdraad dunner as ‘n haar.
Die tyd moet asseblief stilstaan,
die oggend,
die doudruppels moet net so bly.
En nou en hier wil ek teruggaan na die oomblik, na die stille saligheid van die vroegoggend se oomblik vang en vashou daaraan.
Prentjies vertel soveel meer as die geskrewe woord,
vir elke waarnemer is daar ‘n iets anders wat gelees word met potlood op papier, sonder letters, woorde, sinne.
‘n Skets, ‘n onverwagte blik wat neerdaal op hierdie papier beteken ek was in die oomblik.
Ek het my mindfulness gevoed soos ek ‘n suurdeegplantjie voed, ek het in die pot vol stories geroer wat ek my grys stof noem.
Wat is jou eerste gedagte,
jou eerste woord wanneer jy hierna kyk?
Weet jy wat jy sien? (Jy kan inderdaad sien net wat jy wil, dit hoef nie ‘n spinnerak te wees nie, kan ook deurgaan vir miljarde geblaasde borrels wat vassit aan lyn.)
En dan is daar ook die verskil tussen kyk en waarlik sien.
Dit is ‘n avontuur om na prentjies te kyk en jou’se eie woorde, jou’se diepste gedagtes neer te sit, met ‘n skets of om met jou vingers te hardloop oor ‘n toetsbord.
*
Tanya O’Conner is die skrywer van die eerste Blogboek in Afrikaans, Hallo Lewe!