Marita Burger – Oor Misterie en Mitologoie
ABSTRAK: Gedigte deur Marita Burger, Soos die Manatoka, Vervreemd/Vergeefs, Gedigte deur Marita Van Zyl Burger, Oor Misterie en Mitologie
Waaroor sal jy nou skryf as jy gevra word om ‘n bydrae tot die tydskrif, NongQai?
“Miskien” word dit aan jou gestel, “een van jou gedigte”?
Henning gee altyd erkenning vir hierdie modus waardeur ek belewenisse in my lewe in woorde oorgedra het. Al is dig nou nie my forté nie, verskaf dit my tog wel ‘n mate van plesier. Ek doen dan so.
Oor Misterie en Mitologie
Marita Burger
Sedert die oertye, het mense stories, mites opgemaak – die Griekse mitologie wat die kern van die Griekse klassieke godsdiens gevorm het, is later deur die Romeine oorgeneem. Elke beskawing en elke tydperk het verhale wat verklaar hoe dinge rondom hulle ontstaan het en wat die oorsprong is van allerhande verskynsels – die kosmos, die goed, die kwaad, die dood, sosiale en kulturele praktyke, ensovoorts.
Mites kon op werklike gebeurtenisse gebaseer wees maar ook op fantasie en is in daardie tye met groot erns bejeën. Ek het baie gelees oor hierdie gode, godinne en heldefigure wat gewoonlik die magtige natuur oorwin het en gehelp het om die beskawings in daardie tyd ‘n plekkie in die wêreld met sy vele bedreigings te gee – ook oor liefde, woede en passie. Kon ook mymer oor legendes, sprokies en in ons eietydse letterkunde oor gedigte – alles mos maar produkte van die verbeelding.
In vandag se meta-moderne tyd het die mistieke ietwat in onguns verval en word alles wetenskaplik, feitelik verklaar. Daarom is dit interessant dat heelwat digbundels oor modern mitologie onlangs verkyn het (byvoorbeeld Meadowlands deur Louise Glück, The Great Fires deur Jack Gilbert, en vir my die beste Autobiography of Red deur Anne Carson) wat die ou mites herskryf – moontlik ervaar kreatiewe skrywers die moderne tye nie as ‘n goeie bron van inspirasie nie. Dit kan dalk ook feministiese herskrywings wees omdat destydse mites meestal deur mans geskryf is (dink byvoorbeeld aan die arme Pandora!), en vroue nie altyd ‘goed’ uitgebeeld is nie.
Hoe dit ook al sy, hier in Suid-Afrika ken meeste van ons die legende van Duiwelspiek, oor die fenomeen van die ‘tafelkleed’ oor Tafelberg as die suidoostewind waai. Volgens oorvertellings word dit veroorsaak deur die rookwedstryd tussen Jan van Hunks en die duiwel. En dalk ken baie ook die mite van Adamastor, god van wind en storms.
Adamastor is ‘n mitologiese karakter wat in 1572 geskep is deur die Portugese digter, Luis V de Camões. Adamastor was ‘n Titaanse reus wat teen Zeus en ander gode gerebelleer het. Hy het verlief geraak op ‘n seenimf maar is in ‘n lokval gelei en toe hy haar wil omhels en soen, verander hy in ‘n rots, dit is Tafelberg, sy baard die fynbos vlakte. Hy maak toe die stormwind om hom te wreek op die seevaarders (soos Vasco da Gama) wat om die Kaap vaar. Sy standbeeld is te sien by die Santa-Catarina-uitkykpunt in Lissabon, Portugal en simboliseer ook die verhouding tussen Europa en Afrika.
Ek deel graag met jul my gedig uit Soos die Manatoka (2021) oor hierdie mite.
Adamastor van die Kaapse see
Toe die gewronge reus, deur woeste liefdesdrang gedryf,
die seegodin Thetis, naak en blank, daar op die strand omhels,
het dié fatale liefdeskus, slu deur gode gemanipuleer,
vir ons gelaat die knoetsig‘ rotse van die Kaapse berge, ru;
die Kaapse vlakte, wydgestrek; en stormsee omheen
waar hy met swart suid-oostewinde skepe tormenteer en beheer
om steeds sy Titaanse woede hier in Afrika te laat triomfeer.
© Marita van Zyl Burger
Vervolgens ’n gedig wat ek tydens ‘n ernstige siekte skryf oor my soeke na moontlike afkoms van die Vikings omdat ek graag ‘n Valkyrie wou wees. Ek wou die superkrag van ’n Valkyrie hê; ek wou op ‘n wit strydros die hemel invaar!
’n Valkyrie
Sal die Noorse mites se gegewe my steeds bind,
die eenoog koning Odin en ’n oerstamboom uit Skandinawië
steeds weerklank in ‘n ontheemde skepsel vind?
Weerspieël my driftige passies en werk se drang
in lae verdroogte jaarringe oor tyd
steeds my Viking gene in ’n aardse dag se gang?
As ek in eie reg ’n profetes, die nou kon besweer,
sou daar dalk nooit ’n bloedige swaard
my sneeuwit borsharnas met strepe rooi skakeer?
Sou ek gebaai in die helder Noorderlig,
die lot van ’n gevalle liefde wreed bepaal
en hom geen plek en statig rus in Valhalla toe wou dig?
Nee, met ’n swaan se vlerke wat my omvou,
vlieg ek oos van die son en wes van die maan
met soepele krag en die wysheid van onthou.
Nee, ek is nie ’n raaf wat my op ’n dooie banier begeef
maar sal steeds die Valkyries se oorwinningslied sing
en onsterflik ‒ vry geïnkarneerd voort wou leef.
©Marita Van Zyl Burger
Om aan te sluit by Sheila Cussons, die proses om te dig bly vir my ’n misterie – die skepping of bevryding van ’n woord of gedagte wat in my kop kom nes skop. Dankie dat ek twee gedigte met julle kon deel.
Ons digter: Marita Van Zyl Burger
Marita van Zyl Burger is ’n akademiese skrywer en navorser. In 2007, tydens bykans twee jaar lange chemoterapie-behandeling, begin sy om gedagtes, drome en vrese neer te skryf as selfterapie. Sy is ’n welbelese, kreatiewe denker wat graag skryf – ook ’n aktivis vir vroue- en maatskaplike regte, met empatie vir diversiteit.
————————————————————————————————————–