Kol Wynand Schoeman

Abstract

SWA and the Caprivi Zipfel was at one stage policed by the SA Police.

Keywords: Cultural factors, witchcraft, post mortems, tribal courts, rare juvenile crime

Tydens my tydperk in die Oos-Caprivi (nou die Zambezi provinsie, Namibië), het misdaad in dié gebied, sy eie unieke karakter gehad. Die voorkoms van misdaad was grootliks beïnvloed deur faktore soos ‘n doodse vrees vir die krag van die toordokter, kulturele faktore soos die status van die onderskeie stamme en hul afgebakende stamgebiede (waaroor hul erg en ononderhandelbaar was), die inherente rol van die hoofman wie se woord wet was en nie altyd vir die Westers-georiënteerde individu maklik verstaanbaar was nie en dan in mindere mate faktore soos armoede. Die inherente armoede faktor is natuurlik uitgebuit deur gewetenlose smokkelaars wat die plaaslike inwoners misbruik het om onder andere olifante te jag vir die ivoortande waarvoor hul ‘n appel en ‘n ui betaal het en dan elders met groot winste van die hand kon sit. In ‘n yl bewoonde gebied was die geleenthede vir onwettig jag legio. Die toordokter-faktor het veral tot geweldsmisdaad aanleiding gegee en het saam met onwettig jag bo ander misdade uitgetroon. Huisbraak en diefstal aan die ander kant soos die gewone polisieman dit ken, was onder aan die lys. Ten minste vir misdaad wat by die S.A. Polisie aangemeld is. Eiendomsmisdade was dun gesaai met slegs enkele gevalle nou en dan waar die westerling (die blanke) se betrokkenheid as klaer of verdagte die septer geswaai het. Wetgewing het die gesag van stamowerhede en stamhowe neergepen en gemagtig. Eiendomsmisdaad soos diefstal wat slegs plaaslike inwoners geraak het is deur die stamhowe hanteer, wat meegebring het dat hierdie sake nie by die S.A. Polisie aangemeld is nie.

Daar was natuurlik ook die gereelde voorvalle van strafbare manslag wat gespruit het uit noodlottige motorongelukke in dié gebied. Gladde paaie in die reënseisoen en oorlaaide voertuie (bakkies) met soveel as 17 passasiers op die laaibak met ‘n bykomende vrag van byvoorbeeld sakke meel, was ‘n resep vir ‘n ramp. Die polisie moes telkens liggame gaan bymekaar maak waar die bestuurder beheer oor sy voertuig verloor het met katastrofiese gevolge. Die Katima Mulilo-Ngoma-pad tot by die Botswanagrens was veral die roete wat gereeld sy slagoffers geëis het. In sulke gevalle het die hoofstaatspatoloog, professor Loubser van die staats-patologiese dienste in Pretoria feitlik maandeliks ‘n gereserveerde sitplek op die Flossie gehad om die lykskouings op Katima Mulilo te kom doen. Professor Loubser het met die Flossie na Mpacha gevlieg, waar adjudant-offisier Scotty Glen hom gewoonlik opgetel het en dan met spoed na die lykshuis by die plaaslik hospitaal in Ngwezi (die destydse swartwoonbuurt) geneem het waar hy die lykskouing gedoen het waarna hy onmiddellik en inderhaas na Mpacha geneem is om betyds die terugvlug na Pretoria te haal. Later in 1979 is patologiese dienste aan Suidwes-Afrika oorgedra en moes die patoloog voortaan vanaf Windhoek met ‘n privaat gehuurde vlug teen groot koste na Mpacha vlieg om die dienste te lewer.

Groot was my verbasing toe wyle adjudant-offisier Johann Bacher, wie in beheer was van die ondersoekpersoneel, my die middag meedeel dat daar ‘n inbraak by ‘n woonstelkompleks op die dorp was. Dit was ongehoord en het myself en die ondersoekpersoneel vir dae daarna laat kopkrap. Daar was nie ‘n sigbare teken dat ‘n deur of venster oop forseer is nie maar die woonstel van die klaer het oopgestaan en is die afleiding is gemaak dat toegang by wyse van ‘n duplikaatsleutel verkry is. Daar was egter geen hardewarewinkel op die dorp waar enige sleutel gekoop kon word nie, met Grootfontein in Namibië (seker so 770 kilometer weg) en Francistown in Botswana (so 620 kilometer weg) die enigste plekke waar sleutels moontlik bekom kon word. Kostuum-juwele soos halsnoere, hangertjies, armband en ringe van die klaer se eggenote is gesteel. Ander waardevolle items in die betrokke wooneenheid is nie gesteel nie alhoewel laaie en rakke deurmekaar gekrap is. Die “diefstal-spesialis” van die Caprivi (soos ek hom noem) was agter tralies en nog besig om ‘n vonnis vir ‘n ander misdaad uit te dien. Dit was dus nie hy nie. Die inbraak en diefstal was in die dag toe die klaer en sy eggenote by die werk was en hul dogter (so 9 -10 jaar oud) in die plaaslike laerskool op die dorp was. Ek het onmiddellik bykomende patrollies laat ry om te let op persone wat nie normaalweg in die woongebied hoort nie. Sonder sukses.

My verbasing was nog groter toe adjudant-offisier Bacher my twee of drie dae later meedeel dat daar nog ‘n soortgelyke voorval in dieselfde kompleks was. Dus ‘n tweede voorval waar dieselfde modus operandi gevolg is. Toegang is deur die voordeur verkry en volgens aanduiding ook met ‘n duplikaatsleutel. Weereens is kostuum-juwele gesteel. Duidelik was die oortreder op hoogte met die betrokke perseel en het geweet wanneer sy (of haar) slagoffer nie tuis sou wees nie.

Die situasie verander drasties toe adjudant-offisier Bacher my meedeel dat daar ‘n derde soortgelyke voorval binne die bestek van sewe dae was. Hierdie keer egter nie in dieselfde kompleks nie maar ‘n woonhuis. Weereens dieselfde modus operandi met kostuum-juwele wat gesteel is. Ander waardevolle items is onaangeraak gelaat. Daar was ook ‘n “eienaardige stukkie inligting” in die huisbraakketting toe van die gesteelde kostuum-juwele wat in die eerste huisbraak gesteel is, in die vrieskas van die klaer in die 3de voorval gevind is. Ons krap kop oor dié eienaardigheid en begin fokus op die inwoners van die onmiddellike omgewing waar dit plaasgevind het.

Die ondersoek slaan ‘n ander rigting in met ‘n daaropvolgende deurbraak toe een van die onderwyseresse by die plaaslike laerskool adjudant-offisier Bacher kontak en meedeel dat sy opgemerk het dat van die meisie leerlinge in die skool kostuum-juwele onder mekaar uitdeel. Onder andere kinders van die klaers in die betrokke sake. Ek en adjudant-offisier Bacher bespreek die aangeleentheid en daar word besluit dat dit tyd is om vrae aan die kinders van die klaers te stel, gesien in die lig van die nuwe inligting wat die onderwyseres Johann Bacher meegedeel het. Die ouers van die kinders word individueel gekontak om adjudant-offisier Johann Bacher te kom spreek. Johann Bacher gesels baie omsigtig en versigtig individueel met die ouers sonder om vingers na hul kinders te wys en deel hul mee dat inligting bekom is dat hul kinders op die skoolterrein kostuum-juwele aan ander kinders gewys en uitgeruil het.

Daar word verder met Johann Bacher ooreengekom dat die ouers hul kinders na Johann Bacher by die polisiestasie sal bring sodat hy hul oor die juweel-diefstalle kan pols, natuurlik in die teenwoordigheid van die ouers en met hul toestemming bietjie druk op hul kan uitoefen. Die hele sitasie sou diskreet en omsigtig hanteer word.

Sommer met die intree slag met die eerste klaer se dogter kom sy met die hele patats na vore. ‘n Groep meisies het ‘n meisiebende gevorm en onderling besluit om by mekaar se wonings in te breek” en die kostuum-juwele te gaps. Dit is dié juwele wat op die skoolterrein rondgewys en uitgeruil is. Die onderskeie klaers se eie dogters was nie teenwoordig toe hul eie wonings “geplunder” is nie. Toegang is met duplikaatsleutels verkry wat deur die klaers se eie kinders voorsien is en onder mekaar uitgeruil is en hul het ook die inligting verstrek waar die juwele gebêre was. Dit was tyd om die onderskeie ouers van die meisies by die bende betrokke (waaronder die klaers) bymekaar te kry om die hele aangeleentheid te bespreek.

Dié gesprek vind een middag na gewone kantoorure by die polisiestasie plaas. Van die meisies wat betrokke was, se ouers was persone wat op hoëvlak binne die plaaslike gemeenskap gefunksioneer het. Die klaers is almal oorreed om hul onderskeie sake terug te trek en met mekaar hande te skud. Oor watter stappe hul teenoor hul eie kinders in die verband geneem het, kan ek my nie uitlaat nie.

Al die sake word as “teruggetrek” afgehandel en die dossiere geliasseer. Vir ‘n klein geslote gemeenskap soos Katima Mulilo wat op mekaar aangewese was, was dit belangrik om die aangeleentheid so gou as moontlik as afgehandel te beskou en nie verder daaroor te bespiegel nie. Dit was laerskoolkinders en selfs ek was verbaas dat kinders op daardie ouderdom (en dan nogal meisies), so-iets sou doen.

Jammer maar dis die laaste artikel in die Reeks!