Brig HB Heymans en kol Dana Kruger

Abstract

The life and times of the late Lt-Col JH “Manie” Odendaal, a Police Dog Handler from 1963 and later Commanding Officer of the Durban SA Police Flying Squad and Radio Station. He also trained dogs to combat drugs. He was famous as a crime buster.

Doodsberig

“Manie is oorlede!” Dit tref my soos ‘n weerligstraal, toe Dana Kruger my laat weet het! Dana en ek is albei “ou” Durban-manne wat vir Manie geken het. Ek was ‘n 14-jarige skoolseun toe ek Manie Odendaal in Mt Ayliff, in die Transkei, vir die eerste maal ontmoet het. Hy en Ben Mouton was Durban-konstabels wat daar diens gedoen het tydens die Pondolandse-opstand. Ek was met hulle bevriend en ek wou ook graag soos hulle wees!

Ek is ‘n baie onnoukeurige klerk maar gelukkig het ek ‘n storie wat deur Dana Kruger spesiaal oor Manie geskryf is, weer opgediep en aangepas:

Johannes Hermanus Odendaal

Hy is beter bekend as “Manie” soos afgelei uit sy naam Hermanus.

Manie is te Vrede gebore en het groot geword in die Memel-distrik. Sy ouers het in die Memel-distrik geboer. Toe Manie 8-jaar oud is, besluit sy pa om transportwerk vir die boere in die distrik te doen. Sy vader is vir 25 jaar die burgermeester van Memel. Elektrisiteit en water is onder sy beheer in die Memel distrik aangelê. Manie was tot standerd 8 op Memel op skool.

Op die 5de Februarie 1959 het Manie te Memel by die Suid-Afrikaanse Polisie aangesluit en dadelik na die polisiekollege in Pretoria vir sy opleiding as polisieman. In die kollege was hy in troep 83 met magsnommer 36510, later 36510B. Hy het ses maande opleiding ondergaan. Op die 2de Augustus 1959 is hy na sy polisie-opleiding na Cato Manor, Durban, verplaas. Dit was Manie se eerste standplaas en het onmiddellik diens op die opruimings-eenheid verrig. Die opruimings-eenheid het uit ongeveer 20 lede per aflossing bestaan.

Op 22 November 1959[1] het hy oggendskof gewerk en om 13:00 van diens rapporteer en die volgende aflossing by hulle oorgeneem het. Sy kamermaat ene konstabel Kunneke, was een van die afloslede wat daardie dag gaan werk het.

Manie en van die lede het by die Wentworth polisiekaserne gebly. Ander lede weer, het in die Mayville polisiestasie se kaserne gebly. Om ongeveer 14:45 het die opruimings-eenheid te Boothstraat in Cato Manor geopereer toe hulle deur oproeriges tussen die plakkershutte aangeval en vasgekeer was. Die opruimings-eenheid het net ‘n opruktrok en patrolliewa gehad en die bestuurders wat ten tye van die voorval in die voertuie was moes die gebied inderhaas verlaat toe daar totale chaos geheers het. Sou hulle daar gebly het was hulle ook slagoffers van die wrede aanvalle deur die oproeriges. Daar was 5 swart en 5 blanke lede te voet in die plakkerskamp toe hulle aangeval was. Ten tye van die aanval was al 5 die swart lede en 4 blanke lede wreed vermoor en die 5de blanke lid ene konstabel Smit, was ook ernstig beseer en vir dood agter gelaat. Die lede wat die dag gesterf het is:[2]

119702 2/ Sersant K Buhlalo

36446 Konstabel CPJS Rademan

35490 Konstabel GJ Joubert

36496 Konstabel LW Kunneke

34624 Konstabel CC Kriel

133633 Konstabel P Jeza

130543 Konstabel F Dhludhlu

134706 Konstabel M Nzuza

136349 Konstabel P Mtetwa

Manie onthou dat hulle alreeds afgelaai was by die kaserne toe hulle inderhaas opgeroep en na Cato Manor gebied terug vervoer is. Daar was egter niemand deur die polisie lede gedood nie maar heelwat van die oproeriges is egter deur die polisielede gewond wat vir hulle lewe geveg het alvorens hulle oorweldig en vermoor is. Vir enkele dae na die voorval was gewonde persone nog opgespoor. Daar is ongeveer 60000 inwoners in die Cato Manor gebied woonagtig gewees en die plakkershutte het polisiëring bemoeilik deurdat daar feitlik slegs te voet in die gebied beweeg kon word. Die omstandighede het oor die jare nie verbeter nie en groot dele van Cato Manor kan vandag nog net te voet gepolisieer word.

Met die aankoms van addisionele polisie en weermag lede was die skare nog steeds in die gebied maar het daar nie verdere voorvalle tussen die polisie en inwoners plaasgevind nie. Daar was ondermeer twee Saracens te Cato Manor op die toneel ontplooi. Die polisielede het in groot getalle in die gebied beweeg om na die 10 lede wat aangeval was, te soek. Die groep polisielede wat aangeval was, was egter opgebreek en die lyke was op verskeie gebiede opgespoor … ‘n aanduiding dat hulle moes gevlug het nadat hulle, hulle nie meer met hul vuurwapens kon beskerm nie.

Manie vertel dat hy op ‘n lyk afgekom het wat so wreed vermink was, dat hy die lyk nie kon uitken nie. Daar was nie ‘n plek op sy liggaam waar daar nie ‘n steekwond was nie … die oproeriges het toe ‘n groot klip geneem en dit op die kop van die oorledene gegooi wat sy skedel verbrysel het en identifikasie bemoeilik het. Manie vertel verder dat hy die oorledene se hempsak deurgegaan het vir sy aanstellingsertifikaat en selfs die kaart, het ‘n aantal steek wonde deur gehad. Hier het hy met skok vasgestel dat die erg verminkte lyk die van sy kamermaat, konstabel Kunneke was.

Die wreedheid van die aanval op Manie se kollegas die dag het ‘n groot impak op die jong Manie gehad. Die weermag se taak was om ‘n kordon om die hele Cato Manor gebied te gooi, terwyl die polisie met hul ondersoek besig was. Die lyke is eers later verwyder.

Die tiende lid – konstabel Smit was lewendig, maar erg beseer opgespoor en was die enigste lid wat die aanval oorleef het. Konstabel Smit was sodanig beseer dat hy medies uit die polisie ontslaan is. Hy kon nie eers getuienis in die hof gee nie omrede hy na die aanval feitlik nie meer logies kon reflekteer oor die insident die betrokke dag nie.

Om ongeveer 20:00, na die dag se gebeure, is Manie weer terug geneem na die kaserne te Wentworth. Die Saracens was met groot soekligte op, om die Cato Manor gebied ontplooi, wat in die aande die hele gebied met die soekligte verken het deur dit oor die gebied te skyn om die gebied te fynkam vir moontlike aanvalle op die polisie/weermag. Daar het vir dae nog sporadiese aanvalle op die polisie in die gebied plaasgevind. Dit het gelei dat daar opdrag gegee was dat die inwoners van die gebied verwyder en elders verskuif moes word en is alle plakkershutte afgebreek en verwyder. Inwoners was ondermeer na Inanda en Kwamashu verskuif.

Verdere opdragte was van SA Polisie hoofkantoor uitgereik dat alle polisiebeamptes onder die ouderdom van 21 jaar van Cato Manor verplaas moes word en is die jong Manie vroeg in 1960 na Overport polisiestasie verplaas en het ook toe daar in die kaserne gebly. Hier het hy hoofsaaklik voetpatrollie dienste verrig. Hy is toe in 1961 na Umbilo polisiestasie oorgeplaas. Hier het hy ondermeer aanklagtekantoor dienste verrig asook patrolliewabestuurder en voetpatrollie dienste verrig. Ten tye van sy dienste aldaar was hy weer na die Wentworth polisiekaserne oorgeplaas. Later die jaar (1961) was hy na die radiobeheerstasie te Ridgeweg verplaas en het hier diens as bemanning en bestuurder verrig.

Terwyl Manie by radiobeheer gestasioneer is, is sy bevelvoerder hoofkonstabel Diedericks na die Berea polisiestasie verplaas as luitenant en het hy versoek dat Manie en van sy goeie werkers te Radio oorgeplaas word na Berea. Hierdie optrede sou luitenant Diedericks baie help want hy wou toesien dat sy suksesse by Berea goed daarna sal uitsien. Maar die jong Manie het egter aansoek gedoen om ‘n ruilverplasing en was sy aansoek alreeds goedgekeur na Heilbron. Die verplasing sou egter nooit uitgevoer word nie omrede die bevelvoerder van die Durban honde-eenheid, sers. Piet van Rooyen[3], Manie genader het met die versoek om na die honde-eenheid oorgeplaas te word, vanweë sy suksesse. Manie het egter nooit aansoek gedoen nie en is net verplaas. Hy het sy opleiding as hondegeleider in die hondeskool gedurende Pretoria deurloop in 1963.

Na sy opleiding as patrolliehondgeleier is hy terug verplaas na die Durban-radiobeheer en is die polisiehonde by die Overport-polisiestasie gehuisves.

In 1967 word Manie bevorder na sersant en verskuif die honde-eenheid na Cato Manor polisiestasie.

In 1972 word hy tot die rang van adjudant-offisier bevorder. Hy het toe in opdrag van luit. Hennie Meyer wat toe die bevelvoerder was opdrag gegee om ‘n dwelmhond, D9 Chris, vir ‘n tydperk van drie maande onder sy bekwame hand te neem en moes toe aan die destydse bevelvoerder van SANAB (kapt Basie Smit) bewys dat die dwelmhond ‘n rol het om te speel in die opsporing van dagga. Hulle het gereken dat vanweë Manie se goeie suksesse hy in staat sou wees om te bewys dat die dwelmhond wel ‘n rol het om te speel by die opsporing van dwelms. Manie het ingestem, maar het egter versoek om nog steeds sy patrolliehond te behou. Hy het ook gesê dat sy eerste verantwoordelikheid sou wees om sy patrolliehond aan te wend, die daggahond sou egter sy tweede verantwoordelikheid wees. Hy het geag dat dit slegs vir 3 maande sou wees, maar het met die hond vir bykans 4 jaar gewerk toe die hond gekeur word vanweë sy ouderdom.

Sy patrolliehond, A121 Prince, waarmee hy uitpasseer het in die hondeskool en Manie het egter gou ‘n gedugte span gevorm en so getuig die aantal koerant uitknipsels. Verskeie ernstige misdadigers is deur die twee aangekeer. Die paar verwerf die Eric Gordon-wisseltrofee vir eerste bylae arrestasies agt keer. In 1966 verwerf Manie en sy hond, A121 Prince, ‘n medalje en word die medalje op ‘n parade te Kingspark rugbystadion aan die polisiehond oorhandig. Die voorval was die eerste voorval waar ‘n polisiehond ‘n medalje ontvang het.

Na die dood van Prince vanweë hoë ouderdom lei hy vir Jungle op as patrolliehond. Jungle het een aand vier verdiepings van ‘n gebou se dak gespring het toe hulle ‘n misdaadtoneel besoek het. Die hond het egter die insident oorleef maar is toe later deur ‘n veearts uitgesit vanweë sy beserings wat hy ten tye van die voorval opgedoen het.

Manie was ook ten tye van die voorval met nog dwelmhond, D9 Chris, uitgereik toe die ook gekeur word vanweë sy ouderdom. Manie is toe na die Hondeskool om dwelmhond Amor te gaan haal om mee te werk.

Met sy aankoms te Durban was die hond van hom weggeneem a.g.v. die feit dat hy toe alreeds as luitenant bevorder is. Hy het toe as diensoffisier te radiobeheer gewerk. Hy het toe in 1979 ‘n patrolliehond Duke gekry en is hy die Newcastle honde-eenheid verplaas as bevelvoerder. Hier het hy vir drie jaar diens verrig as bevelvoerende offisier en het in die kaserne gebly. Sy gesin het in Durban agter gebly en was nie begerig om na Newcastle te verhuis nie. Daarna is hy terug verplaas na Durban honde-eenheid maar het toe nog steeds as diensoffisier met sy hond te radiobeheer gewerk. Later was sy hond Duke onttrek.

Hier word hy toe bevorder as kaptein en aangestel as die bevelvoerder van radiobeheer Durban. Later word hy weer oorgeplaas na distrik 46 Durban Sentraal oorgeplaas na die tugverhoor en siviele sake afdeling.

Met sy bevordering na majoor word hy terug verplaas na die radiobeheer Durban as bevelvoerder. Hier is hy later as luit.-kol. bevorder en tot en met sy mediese ontslag op 1 April 1993 in die hoedanigheid as bevelvoerder van radiobeheer.

Manie Odendaal is op 12 Desember 1964 met Lorna Humpfries getroud en het geen kinders nie. Hy het wel ‘n stiefseun Edward Magic. Beide Manie en sy vrou Lorna het hulle self in Hillcrest gaan vestig waar hulle nog gelukkig saam hul ou dag geniet…

Die onderhoud is deur Dana Kruger gevoer op 2010-08-14

Manie Odendaal, ons SALUEER jou nagedagtenis. Jy was ‘n ROLMODEL van hoe ‘n polisieman die gemeenskap moet dien. Vele misdadigers is deur jou en jou polisiehonde aangekeer en uit die samelewing verwyder. Jy het die leuse van die SUID–AFRIKAANSE POLISIE gestand gedoen – naamlik ONS BESKERM EN ONS DIEN. Ons was almal trots op jou!

Fotoalbum

  1. Dippenaar, 1988 p 237 verstrek 23 Jan 1960; Barnard (1967:77) verstrek 24 Jan 1960 as die datum.
  2. Amptelike verslag: mev Marlene Swanepoel, SAP Museum, en hier word die datum as 24 Jan 1960 aangegee.
  3. Hy was in die omgang as “Peter” bekend, hy het ‘n groot swart hond gehad – HH