ABSTRACT:  As part of a new series in Nongqai, the South African Forces History Magazine, entitled “The Men Speak”, its editor-in-chief, retired Police Brigadier Hennie Heymans, shares his personal insights into the period 1964 to 1993 within the South African Police Security Branch and the National Security Management System, where he served in positions that afforded him vantage points from where to live and observe key shaping events on South Africa’s evolution over the course of the Cold War, from the last racially-based colonial bastion to a non-racial democracy along free-market, Western liberal constitutional principles.

KEYWORDS: South African Police Security Branch; South Africa National Security Management System; Cold War.

AUTHOR:  Brigadier (Ret) H.B. (Hennie) Heymans

DIE WIND WAT STINK IS HIER! HOE EK VEILIGHEIDSINLIGTING IN DIE SAP-VT EN NVBS BELEEF HET

AGTERGROND

 

Soms moet jy na die klein dingetjies kyk om die groter prentjie te sien.

Wat ek hier neer-pen, is ‘n Voëlvlug oor die Bedryf van Inligting en Veiligheidsbeplanning in die Nasionale Veiligheidsopset. Ek gaan praat van dit wat ek dit self eerstehands leer ken het in die jare 1964 – 1993. Aangevul deur alles wat met my gedeel is, in my veertien jaar van die NONGQAI uitgee. Wat hier volg is dus my eie ooggetuie-ervaringe en insigte omtrent daardie era. Veral my insigte wat ek ontwikkel het oor die hoekoms en waaroms van wat in daardie kritieke jare gebeur het, is wesentlik verbreed en verdiep deur dokumente en mededelings gedurende daardie veertien jaar van die NONGQAI-tydskrif uitgee met my gedeel deur ander destydse deelnemers, sommiges op  baie hoë vlak. 

Wat u hier gaan lees is uiteraard my persoonlike persepsies oor wat destyds in die veld van nasionale veiligheidsinligting gebeur het. Dit is ‘n veld en era wat vandag steeds omhul is deur geheimenisse en verdoeselde destydse politieke “spin”. Les bes, is daar hedendaagse steeds ook polemiek daaromheen. Dikwels heftig, tussen voormalige bedrywers daarvan. Destydse kollegas binne die breër intelligensie-gemeenskap wat, op die oog af, steeds maar alte gereed is om die tussen-departementele gevegte en interpersoonlike botsings van daardie jare, met nyd en venyn van voor af oor te wil loop veg in vandag se koerant-kolomme – asof tyd en energie  daarop verkwis, in die hier en nou enige sin of waarde het! (Iets waartoe ek beslis nie bedoel om by te dra met hierdie artikel nie!).

Dis ook ‘n era en ‘n onderwerp vol van ‘n magdom moeilike vrae – vrae van groot belang in die verstaan van wat destyds werklik gebeur het (en veral waarom) gedurende die laaste dekades van ons Afrikaner-regeerde Republiek. Om nou weer daaroor te besin het nie belang in die sin dat mens vandag een enkele jota of tittel van daardie verloop nou sou kon verander nie – dis gegewe en gedaan. Maar daar kan (en moet) uit geleer word, vir die toekoms!

Vrae soos:

  • Was daar ooit werklik ‘n moontlikheid dat die opsie om te bly skiet, ‘n beter uitkoms sou kon bied as dié om te skik?
  • Was ‘n ander, vroeër, dalk “beter” skikking van Suid-Afrika se komplekse konstitusionele dilemma dalk moontlik? (As daar eerder geskik is, onder vorige Afrikaner-leiers wat ‘n ander strategiese visie had as die “totale aanslag” militarisme wat ons in die laat sewentigs en die tagtigs en geken het?);
  • Het ons regeringsleiers en veiligheidshoofde almal altyd die ware aard en wese van die stryd verstaan? (Dat dit ‘n politieke stryd was, veel-al gevoer met propaganda);
  • Het die Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel van die tagtigs werklik die binne-gevegte, silo-benaderings en “turf wars” binne die intelligensie-gemeenskap besweer, sodat strategiese inligting en beleidsopsies onbevange en oorwoë voortgebring is? (of was die stelsel gerig op bloot marsjeer-in-gelid en konformeer aan groepsdenke, met die onderlinge inter-departementele geskille oor interpretasie en visie wat fel bly voortwoed het, dikwels vererger deur interpersoonlike botsings);  
  • Hoeveel het ons in die veiligheidsmagte self bygedra daartoe dat die ANC/SAKP hierdie propagandistiese politieke stryd uiteindelik loshande gewen het? (Die voed van die propaganda-masjien deur byvoorbeeld “kragdadige” optredes lokaal sowel as in buurlande, plus ontstellende sterftes in aanhouding); en
  • Was ons politieke leiers, na die “verlore dekade” van die tagtigs, werklik toegerus om met deurdagte strategiese visie, bepalend vir ‘n Nuwe Suid-Afrika te kon onderhandel in die vroeg-negentigs? (Toe dit uiteindelik ondubbelsinnig duidelik geword het dat skik  en nie skiet nie – soos wat premier John Vorster en sy span vroeg reeds ingesien gehad het – altyd maar die enigste realistiese opsie was, veel beter was as om in president PW Botha se woorde dan maar “hardegat onder te gaan”?)

Hierdie is kwel-vrae wat bly draai in my eie kop, en ek vermoed ook in baie van u s’n! Vrae wat analise verdien, ter wille van verstaan en leer – nie om nou onder mekaar vinger te wys of (erger nog) ter wille van “jammer dat ek leef” boetedoening of gepoogde self-verontskuldiging nie. Wat gedoen is, is gedoen – onomkeerbaar. En ek bly trots op my persoonlike optrede destyds, en op wat ons as veiligheidsmagte definitief vermag het, deur ‘n Marxistiese “volksrepubliek” af te geweer het…

Dis om hierdie taai, tergende vrae te probeer belig, dat ons hier by NONGQAI die nuwe reeks “Die Manne Vertel” begin het. Nie as ‘n oefening in ‘hogere’ akademiese geskiedskrywing nie. Nee – hierdie is eng persoonlik, soortgelyk aan die orale tradisie van die geskiedenis oorvertel. Elke man na sy eie styl, in sy eie woorde! Soos wanneer mens om die kampvuur sit, tussen familie en vriende.  Dis elkeen se eie waarheid, soos wat hy of sy dinge destyds beleef het en nou – met die wysheid van die grysheid en die voordeel van terugkyk – daardie rigtinggewende gebeure duideliker in konteks kan sien en verstaan. Ons is die laaste generasie wat daar was en dit dus nou nog só kan doen! Gevolglik het een en elk van ons die plig om nóú ons kennis te deel, voer dit te dalk  te laat is. Ons kan nie dat slegs die ander kant ons geskiedenis opteken nie! Bydraes van ons wat daar was (soos wat ons met hierdie nuwe reeks wil ontlok) is in sigself net so waardevol vir die gebalanseerde verstaan van daardie geskiedenis as wetenskaplike analises. Want ons gee hiermee juis outentiek die boustene van dikwels verswygde of verdraaide feite en insigte, plus die adem van die tydsgees, kultuur en instinkte wat dit gedryf het. Alles noodsaaklik vir historici om die hoekoms en waaroms van wat destyds gedoen en vermag is, in konteks te kan verstaan…

Ek wil allermins voorgee dat ek alle wysheid en kennis in pag het! Waarvan ek u wel kan verseker, is dat ek baie hard, baie lank en krities-eerlik oor al hierdie temas nagedink het. Dis harde, soms ontstellende werk om in nabetragting die eie verlede objektief te probeer ontleed. Om onbevange daaroor te probeer dink en só insig rondom die waarheid te probeer verkry! Mens kan dit net sinvol doen met eerlike introspeksie. Altyd in nederige erkentlikheid van menslike feilbaarheid enersyds, ook op leiersvlak – maar andersyds tog ook met  erkenning van insigvolle briljantheid wat daar wel was, maar dikwels nie toe erken is nie – die ou gesegde van profete in hulle eie lande…

Deurentyd moet mens ook gedagtig wees aan die destydse konteks, wat een was van uiterste kompleksiteit. Van ‘n felle Koue Oorlog, plus die geërfde rassistiese koloniale bestel uit die Britse Ryk. Met veral dan ook ‘n vrees-gedrewe, baie reële bedreiging-persepsie wat onder mense soos ons bestaan het. Dis gevoed is deur die Afrikaner se eie traumatiese historiese belewenisse – deur Bloukrans, Weenen, Bloedrivier en die Vryheidsoorlog se konsentrasiekampe heen… Met boonop ‘n demografiese realiteit van alleen staan teen ‘n getalle-oormag, teen ‘n golf van historiese verandering. Plus die skokkende harde werklikhede wat mens sien afspeel het in Afrika se soms bloedige dekolonisasie en in die barbaarse kommunistiese onderwerping van nasies. Dit als was onontkenbare werklikhede, wat diepliggende instinkte van vrees vir selfbehoud ‘n wesentlike rol laat speel het. Ook in die uiteenlopende menings wat destyds onder ons leiers oor watter strategiese opsies vir ons aangewese was. In kort: skiet ons, of skik ons?

Voorts moet mens se besinning vandag, altyd gebalanseerd bly – nie net gedomineer deur die ongetwyfeld kommerwekkende huidige stand van landsake nie (wat sou wou dui op ‘n oorgang wat klaaglik misluk het). Daar moet ook erkenning wees vir dit wat ons wel positief vermag het: bowe-al dat die afdwing hier van ‘n Marxistiese “volksrepubliek” deur middel van ‘n rewolusie afgeweer is. Laat daar geen twyfel wees nie dat dít  baie definitief die ANC/SAKP se verklaarde oogmerk was, en dat die veiligheidsmagte onteenseglik dit gestuit het. Dit was óns sukses en óns nasionale intelligensie-insette wat die strydende partye oplaas laat besef het dat nie een met die geweer gaan wen nie! Ook was dit óns wat die noodsaaklike stabiliteit deur die onderhandelingsfase heen gehandhaaf het, onder die aller-moeilikste omstandighede en dikwels PTSD as nalatenskap – dit was óns opofferings wat ‘n skikking en demokratiese oorgang moontlik gemaak het!

Hierdie eerste bydrae in ons nuwe reeks kom uit my hart. Die kwel-vrae hierbo gelys sal u telkens in hierdie artikel na vore sien kom. U sal dit deur my persoonlike trajek heen sien opduik. Daardie trajek van jong seun af wat in ‘n polisie-familie grootgeword het, tot uiteindelik senior offisier in die Veiligheidstak (wat die kommissaris van Polisie vir etlike jare gedurende die onstuimige tagtigs binne die Nasionale Veiligheid-Bestuurstelsel verteenwoordig het). Daarna, drie jaar worstelend met Interne Stabiliteit. Belewenisse en insigte  wat ook help uitkristalliseer is in my eie denke, deur wat ons NONGQAI-bydraers oor veertien jaar met my gedeel het!

So: laat ons begin!  Kom sluit asseblief aan by my, hier om my figuurlike kampvuur. Loop in die gees saam, soos wat ek my lewenspad weer kortliks gaan oor-stap. En – by wyse  van spreke – “leen my u ore”!

HB Heymans - 1964 - Beredetroep in SAP-kollege

My eie lewenspad

Vroeg reeds in my lewe het  die arrestasie van kol Rudolf Abel van die KGB deur die FBI my grootliks beïnvloed. Ek het elke woord oor die storie gretig in die Reader’s Digest gelees. Ek was op ‘n maklik beïnvloedbare stadium van my lewe. Ook moet ek erken dat ek maklik opgesweep kon word. Hierdie tipe werk het vir my baie interessant voorgekom en vandag weet ek dat dit onkunde was wat my laat dink het, dis opwindend! Teenspioenasie  is glad nie glansryk nie. Dit is ure se roetine werk, waarneming en nogmaals waarneming! Sifting van inligting en ure van eensaamheid en eentonigheid. Glad nie soos ‘n James Bond fliek nie!

 

My broer, Nico, het vir my ‘n boek oor Sydney Riley, een van die mees suksesvolste Britse spioene, vir my verjaarsdag persent gegee. James Bond gespeel deur Sean Connery het ook baie gedoen om my te beïnvloed. Die waarde van James Bond was ook daarin geleë dat jy geleer is om nie so op te tree nie! Stadig het ‘n prentjie in my brein posgevat; ek wou ‘n spioen of iets dergeliks word!

In die algemene spreektaal en veral in generaal HJ “Lang Hendrik” van den Bergh se tyd is daar na die veiligheidspolisie verwys (asof iets apart). Daar was egter net een nasionale polisiemag in Suid-Afrika en dit was die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP). Die SAP is met oorspronklike jurisdiksie beklee. Daar was egter ook ‘n nasionale SA Spoorwegpolisie (SASP) (met ekstraterritoriale magte bv t.o.v. SAS-sake in Maseru, Lesotho), die SA Korps van Militêre Polisie, terwyl die oudste polisiemag in Suid-Afrika in der waarheid die ou Durbanse Stadspolisie is.

Die amptelike naam van die veiligheidspolisie was die veiligheidstak van die SA Polisie. In daardie dae was die veiligheidstak ‘n onderafdeling van die speurtak.

Daar was ook lede van die SASP se veiligheidstak tot die SAP se veiligheidstak toegevoeg want daar is gesamentlike ondersoeke geloods na sabotasie en ander misdaad op spoorwegpersele. Een so ‘n spoorweg-veiligheidsman was kapt H.A.T. Prins van Durban. Sy seun was saam met my op Dirkie Uys Hoërskool.

Meningvormers op my lewenspad

Wanneer mens oud word dink jy onwillekeurig aan die verlede en die mense wat jou gevorm het. Mense wat as rolmodelle gedien het en verantwoordelik was vir jou geestelike verruiming en groeiproses. Ek was baie gelukkig om die volgende mense baie goed te ken en met hulle sake van historiese belang te kon bespreek:

  • Minister Adriaan Vlok: Ek het verskeie onderhoude met hom gevoer en baie met hom gesels. Hy was ‘n eerbare man, ‘n Christen en ‘n politikus – hy was egter nie ‘n kenner van die stryd wat ons gevoer het nie. Ek het hom die eerste maal by die Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad (SSVR) ontmoet toe hy aangestel is adjunk-minister van verdediging en polisie. Op sy eerste dag by die SSVR het ek ‘n film vertoon waar ‘n dame beriggewer deur ‘n skare aangeval en vermoor word, sy is gebrand met petrol en op die end het iemand ‘n rots op haar kop laat val. Dit het hom vreeslik geskok. Hy was egter baie ondersteunend, veral toe ek distrikskommissaris te Welkom in die Vrystaat was. Hy het ook op grondvlak geopereer terwyl die kommissaris óf in die Kaap óf in Pretoria-Wachthuis op die 10de vloer was. Eintlik ‘n onuithoudbare situasie as jou minister op grondvlak aktief is. Hy is in die hof veroordeel juis omdat hy by ‘n koverte daad betrokke was. Ek het ook met hom gesels oor eerw. Frank Chikane se voete wat hy gewas het. Ek het die artikel in Servamus gepubliseer. 
  • Genl MCW ‘Mike’ Geldenhuys: Me Hanlie van Staden het my gehelp om ‘n boek oor die lewe van genl Mike Geldenhuys saam te stel. Ek het baie met hom gesels en veral oor die KGB-spioen Yuri Loginov. Ek het hom uitgevra oor die Republikeinse Intelligensie waarvan hy die stigter en hoof was en sekere feite bekom voor dit totaal verlore gegaan het. Oor baie sake was sy lippe verseël. Oor ander sake het hy vrylik gesels. 
  • Genl JV ‘Johan’ van der Merwe: Na beide van ons se aftrede het ons vriende geword en baie gesels. Ek het baie diep gesprekke met hom gevoer en vriendelik oor baie onderwerpe gedebatteer. Die generaal het absoluut eerlik op al my indringende vrae geantwoord. Oor baie insidente wat hy my meegedeel het, het ek aantekeninge gemaak. Die generaal was ook ‘n goeie mens en ‘n diep Christen. 
  • Genl JJ ‘Jannie’ Geldenhuys: Hy en ek het vriende geword nadat ek en hy mekaar verskeie kere in Rapport aangevat het oor “Operasie K” (Koevoet). Hy het my gebel en my uitgenooi om hom te besoek. Daarna het ek en die generaal baie gesels. Hy is die skerpste generaal wat ek ooit teëgekom het. Histories onder ons generaals, plaas ek hom tweede na genl JC Smuts. Genl Geldenhuys was die Chester Crocker van Suid-Afrika. Met respek: Genl Geldenhuys het strategie verstaan. 
  • Lt-genl HV Verster: Na hy afgetree het, het ek hom besoek en verskeie gesprekke met hom gevoer. Sy Vader, kol Frank Verster, was adjunk-kommissaris van polisie vir Transvaal en sy Vader was in bevel van die SAP-kontingent wat gedurende 1939 na Suidwes-Afrika ontplooi is om ‘n Duitse oorname in SWA te keer. Ook was kol Verster teenwoordig toe Robey Leibbrandt by Wierda-brug gearresteer was. Die generaal het sy fotoalbums en die van sy Vader, wat van onskatbare kultuur-historiese waarde is, met my gedeel. 
  • Lt-genl JJ “Johan’ Viktor: Gedurende 1974 werk ek onder sy bevel in Rhodesië. Hy was lief vir die “bos” en was teenwoordig by die Slag van Ongulambashe op 26 Augustus 1966. Hy was ‘n speurder en toe hy offisier word is hy deur genl HJ van den Bergh na die veiligheidspolisie getrek. Hy het saam met die “Rooi Rus” op die Teen-terroriste-eenheid (TTE) gedien. Hy het toonaangewende terroriste aangekeer en was verantwoordelik dat John Harris, die Johannesburgstasie-bomplanter, gearresteer is. Hy het baie kommuniste ondervra, onder meer Ruth First (getroud met Joe Slovo). Hy het in Rhodesië saam met die BSAP (SB) en Selous Scouts gewerk. Hy het Vlakplaas gestig en beslis ander idees gehad, nie soos dit uitgedraai het nie. Ek het baie met hom gesels en beskik oor sy hele lewensgeskiedenis en plakboeke. Ons het baie oor die toestand in die land gesels en hy het sy siening oor politici met my gedeel. 
  • Lt-genl H de V ‘Hein’ du Toit: Hy was op sy dag hoof van die Weermag se Afdeling Militêre Inligting (AMI) en later professor in Nasionale Strategiese Studies aan die Randse Afrikaanse Universiteit. Ek het onder sy leiding my BA (Hons), en my MA suksesvol voltooi – maar nooit die graad D. Litt et Phil na drie-vier jaar onder sy tutorskap voltooi nie. Hierdie was een van die beste en lekkerste studies wat ek ooit gedoen het. Ons het naby mekaar gewoon en ons het baie gesels oor SAP en die SAW se rol in inligting en oor die SAW se rol in die NVBS. Die studente saam met my was almal van die SAW (AMI) of NI. Ons het ook lesings van MI5 en die CIA ontvang. Hy was nie lief vir die polisie as departement nie en die polisie-generaals was ook nie lief vir hom nie. 
HB Heymans en lt-genl H de V du Toit

HB Heymans en lt-genl H de V du Toit

  • t-genl A van H Beukes: Ons het baie jare as kollegas saamgewerk op Seksie A. Hy het die veiligheidstak verteenwoordig tydens die samesprekings tussen die Nasionale Party en die SAKP-ANC-Alliansie. Ons het sy herinneringe oor die veelparty samesprekings neergepen en ek het ontsaglik baie by genl Beukes oor die veelparty samesprekings en die deelnemers daaraan, geleer. 
  • Brig C Davidson: Hy is een van die min veiligheidsmanne wat skryf. Hy het lig gewerp op die Boipatong-slagting en Operasie Vula. Sy werk is deeglik, eerlik en objektief. 
  • Brig Fanie Bouwer: Hy is een van ons gereelde NONGQAI polisie-geskiedskrywers en ek het baie van hom geleer hoe die manne op die grond die NVBS ervaar het. Hy is ‘n intelligente en deurwinterde offisier. 
  • Maj CM Williamson: Hierdie meester-spioen het baie bygedra tot my verstaan van die RS-program (die polisie se koverte insamelingsafdeling) en intelligensie-beriggewing. Ons het heelwat RS-agente gehad wie se identiteit nooit geopenbaar is nie. Hy kan beskou word as die “Vader” van die nuwe geslag polisie-spioene na genl Van den Bergh se pioniers in die Q-reeks soos bv Q018 – Gerhard Ludi. 
  • Hoofkonstabel Claude Balfour Sterley: Ek het uit sy mond uit baie stories gehoor van die Ossewabrandwag-era en die arrestasie van Robey Leibbrandt. Ons het ook met genl HV Verster sekere feite uitgeklaar. 
  • Mnr AP Stemmet: Hy het ‘n interessante loopbaan gehad en was eers ‘n amptenaar van die departement Justisie waar hy onder-sekretaris geword het. Hy het later by die departement van die eerste minister gewerk met veiligheidsbeplanning. Hy is een van die stigterslede van die sekretariaat van die staatsveiligheidsraad, hy was die hoof van die Tak: Strategiese Kommunikasie (TSK) en later was hy die voorlaaste sekretaris van die sekretariaat van die staatsveiligheidsraad. Hy was ‘n briljante staatsamptenaar en het ook as een van Justisie se parlementêre amptenare gedien. Hy en ek het oor die jare baie gesels en by hom het ek die ware feite oor baie gebeure bekom. 
  • Dr Willem Steenkamp: Hy is mede-redakteur en bedryfsbestuurder van NONGQAI – seun van generaal-majoor Frans Steenkamp (in lewe ‘n BO van die veiligheidstak) en self ‘n oud-lid van NI (hoof van Suidwes-lessenaar, en daarna KIK-sekretaris en sentrale redaksie), oud-ambassadeur, prokureur en akademikus wat sy doktorale proefskrif oor die intelligensie-funksie geskryf het. Hierdie skerpsinnige kollega het my ontsaglik gehelp om die destydse stryd en 1994-oorgang beter te verstaan. Soms weet ons nie wat ons weet nie. Hy en ek het geleer om alles krities te beskou. As geskiedkundiges het ons ‘n plig om slegs die waarheid te skryf, maar in al sy veelsydige en interessante dimensies – want daar is meesal verskillende eerlike gesigspunte daaromtrent. Neem ‘n eenvoudige botsing tussen twee voertuie in ‘n besige straat – soveel getuies, soveel insigte! Dis nie lekker om altyd krities-analities te wees nie, maar ons moet ook nie propaganda klakkeloos as geskiedenis aanbied nie. 
  • Die tydskrif: Nongqai: Oor die afgelope 14 jaar was ek redakteur van die Nongqai en het ons geskiedenis deur ooggetuies van die SAP, SAW en NI gepubliseer, maar ook van Rhodesië, Kenia, Israel en ander plekke. Alles dra by om kennis te versamel en persepsies van die ou dae te help vestig of weerlê. Ek het ook eersterangs met mense soos Klaas de Jonge, Ronnie Kasrils en ook met verskeie akademici geskakel. 
  • En in ‘n mindere mate dr Leon Wessels (My skoolvriend, troepleier en my adjunk-minister) en mnr Johan Mostert (die laaste sekretaris van die sekretariaat van die staatsveiligheidsraad.) 

Myns insiens was die groot probleem in die laaste dekades van die Blanke bewind in Suid-Afrika, ons eertydse minister van verdediging en latere uitvoerende staatspresident, mnr PW Botha – die “Groot Krokodil” soos my generaal hom ook genoem het. Mnr Botha, gerugsteun deur elemente binne die SA Weermag, het tussen die opsies van skik of skiet, laasgenoemde verkies. Daar was eintlik geen groot strategiese plan of oplossing nie. Geen doel om voor te strewe nie! 

Britse premier Harold Macmillan se “winde van verandering” (die onstuitbare wêreld-wye proses van de-kolonisasie en anti-rassisme), het ons gesink. Apartheid, tuislande, “konstellasie van state” en die driekamer-parlement was geen afdoende antwoord nie. Ons beleid was ook nie inherent konsistent en logies nie – ongeag die tuisland-beleid vir ons stamme wat Bantoe-tale praat, is daar nie staatkundig vir dié van ons wat Afrikaans praat ‘n eie geografiese bastion visualiseer binne die groter konteks van ‘n gedeelde Suid-Afrika nie. Daar ook nie voorsien vir hoe die “gedeelde” (stedelike) gebiede gesamentlik regeer behoort te word nie.  Die Iere, Skotte, Walliesers, Katalane en Vlaminge het elk eie grondgebied – al is dit deel van die Verenigde Koninkryk, Spanje of België (met in laasgenoemde se geval, Brussel as groot metropool, juis so ‘n “gedeelde” gebied). Mense soos prins Mangosuthu Buthelezi en genl Hendrik van den Berg het hierdie fundamentele  punte reeds gedurende die sewentigs begryp, en probeer werk na ‘n skikking gebaseer daarop (dus, vir ‘n Nuwe Suid-Afrika gefundeer  op konsosiasie en nie die unitêre Westminster-tipe bedeling wat ons vandag het nie). Premier Vorster het vroeg in die sewentigs al benadruk dat geskik sal moet word, “because the alternative is too ghastly to contemplate”. Die Vorster-span, met briljante figure soos Ministers Muller en Mulder, genl Van den Berg, dr Eschel Rhoodie en diesulkes, is egter in ‘n onderduimse paleis-rewolusie uitgewerk. Ten spyte van al die praatjies van totale oorlog en herhaalde invalle in Angola het mnr Botha niks konkreet bereik nie (behalwe om uiteindelik klink-klaar te demonstreer het – toe weer uit Angola en later ook SWA/N onttrek moes word – dat daar geen realistiese militêre oplossing moontlik was nie). Mnr De Klerk, met die min opsies destyds tot sy beskikking oor, het na die beste van sy vermoë geskik!

 Ek was by die SSVR toe NI ons destyds voorgelig het: Die ANC gaan ‘n legitieme regering vorm, hulle gaan verantwoordbaar en deursigtig wees! (Die suiker-pilletjie: “En ons kan dan met die hele wêreld rugby speel!”) 

Alhoewel die SAKP-ANC-alliansie goed weggespring het, het hulle weer geen werklike strategie gehad nie, die bevolking het ou geykte stellings en eise soos boikotaksies tov huur- en dienstegelde, “pass one, pass all” en onrealistiese salaris eise voortgesit. Onwerkbare ideologie  met sentrale beheer en korrupsie is vandag endemies – die polisie, die weermag, die spoorweë, Eskom, die poskantoor, Telkom, die SAUK en die lugdiens om ‘n paar te noem, is bankrot. Die ANC bou nie damme, of skole of universiteite of tronke of polisiestasie nie!! Die land is besig om te verrot! Wat werk in die land? Ek weet nie en die polisie het sy monopolie op die swaardmag (met ander woorde, die toepassing van geweld) verloor, deurdat dit nou alledaags krimineel aangewend word! Hy is lugtig vir die Zama-Zamas, die taxi-Mafia en ander. 

In werklikheid is een onwerkbare stelsel (apartheid) met ‘n ander onwerkbare, onrealistiese stelsel (neo-apartheid) vervang! Alles steeds binne die Westminster-model, waar die leidende faksie in die leidende party die hele uitvoerende gesag kaap. Is dit ‘n Afrika-model vir Afrika-uitdagings? 

Pleit

“Sorg dat jy wysheid bekom, en insig! Moenie my woorde vergeet en daarvan afwyk nie; maak die wysheid jou metgesel, dit sal jou beskerm; as jy dit liefhet, sal dit jou veilig bewaar.”

“Die wysheid kom eerste. Sorg dat jy wysheid bekom, gee alles wat jy het, om insig te kry! Slaan dit hoog aan, dan sal dit aan jou aansien gee. Dit sal jou ‘n man van betekenis maak as jy dit vasgryp.” Spreuke 4: 5 – 8.  

Dis harde werk om te dink! Dis pynlik om eerlik te wees. En ja, ek is korporatief skuldig aan “alles” wat “ons” ten laste gelê word, dis hoe die lewe verloop. “Alles” beteken dit wat ons gedoen het om wet en orde te handhaaf en die (politieke)  oorlog te bestry. Die politici moes die politieke oorlog geveg het – nie ons nie! Ook dink ek die politici het ons, die blanke stemvee, ook grootliks in die duister gehou.

Wie is die “ons”? Wel, ek was lid van die SA Polisie en het saam met die ganse staatsopset as polisiebeampte deelgeneem aan die Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel. Die rol van dié wat die ekonomie beheer in Suid-Afrika, en van die destydse meningvormende Afrikaner-elite (in kerk, akademie en media, wat groep-denkend op boodskap gehou is deur die Broederbond) moet ook nie buite rekening gelaat word nie!

As oud-polisieman probeer ek die verlede verstaan, terug te kyk en te beskryf; en verontskuldig myself dus geensins nie. So ‘n ondersoek het net waarde indien mens eerlik is. So ‘n stap maak jou ook ongewild in jou eie dampkring. 

Ek is van Nederlandse en Hugenote afkoms (Faure, Malan & Erasmus) – ons was Calvinistiese Protestante. My voorsate het as gevolg van hul geloof ’n eeu na Jan van Riebeeck aan wal gestap. My mense het huise van beton en steen gebou – die plaaslik inwoners het in grashuise gewoon, hulle het hul eie kultuur gehad. My mense het hier nes geskop en deur Nederlandse en Britse oorheersing het hier ‘n stelsel ontstaan waarop my voorsate voortgebou het. Die rol van die Kerk moet ook nie buite rekening gelaat word nie! U ken die geskiedenis en wat ek beskryf moet in daardie konteks gesien word. 

Die Wind wat Stink is hier!

Een oggend in die najaar van 1964 so teen 04:00 neem sers De Witt, ek en ‘n paar ander lede van die “Raiding Squad” stelling in, in die Umbumbulu-wyk in ‘n bos, naby ‘n riviertjie. Ons gaan mense vang wat gavine stook. Ons wil hulle op heterdaad betrap wanneer hulle onwettig drank stook. Met ons aankoms  het honde in die verte geblaf.

Met daglig het die vroue kom water haal by die riviertjie. Meteens toe skree ‘n vrou, dat die kranse antwoord gee: “Die wind wat stink (die polisie) is hier!” Ons teenwoordigheid is toe “geblaas”. Haar isiZulu idiomatiese uitdrukking het my al die jare by gebly.

En dit is die titel van my storie.  Ja, ons was vir wetsverbrekers soms die wind wat gestink het– soms was ander instansies weer die wind wat gestink het! 

DIE VORSTER EN BOTHA-ERA: DIE STAATSDIENS: INLIGTINGSROL EN BINNELANDSE VEILIGHEIDSOPSET

Die SA Polisie van (1913 – 1995) is die eerste linie van verdediging en het aanvanklik bestaan uit:

  • Die Uniformtak – Voet- en Beredepolisie, onderskeidelik bekend in die Mag as die “Magalle en Bosluise”.
  • Die Speurtak – in die swart gemeenskap bekend as die “Mafokkies”.
  • Alle Veiligheidswerk – het aanvanklik direk onder die kommissaris ressorteer. Die moderne veiligheidstak en Republikeinse Intelligensie (RI) is suksesvol deur genl HJ van den Bergh van stapel gestuur.

Die polisie (wat later as Nazi’s vergysel is), het ‘n polisiebrigade beskikbaar gestel om in die tweede wêreldoorlog teen Hitler en sy Nazi’s te veg. Hier het uitstaande SAP-offisiere later hul merk gemaak, ek verwys na mense soos brig CC von Keyserlingk, genl-maj PJ “Pat” Dillon en luit-genl HV Verster.

Wat die Unie Verdegingsmag (UVM) betref het, het almal wat aan daardie oorlog deelgeneem het, as vrywilligers gaan veg. Dit was hoofsaaklik lede van die Aktiewe Burgermag (ABM), die destydse seemag en lugmag wat gaan veg het. Na die oorlog het die  UVM baie gekrimp en het die UVM hoofsaaklik uit die ABM (Opleiding) en Skietverenigings (Huis-en-Haard beskerming) bestaan.

Na die oorlog het die SA Polisie begin meganiseer en stadig maar seker is speurtakke uitgebrei na meeste stasies. Die aanstelling van afdelings- en distrikspeuroffisiere landwyd het gevolg. Op die platteland het die uniformtak self alle kriminele sake ondersoek en booswigte vervolg.

Tydens die tweede wêreldoorlog, na Hitler se binne-val van die USSR, het die bekende handjievol destydse Suid-Afrikaanse kommuniste die oorlogspoging gesteun. Suid-Afrika was aan die kant van die geallieerde magte dus ook saam met die Sowjets teen die Spilmagte – Duitsland, Italië en Japan. Na die oorlog is die kommuniste in Suid-Afrika vasgevat, op grond van hulle ondermynende optrede in die SA Kommunistiese Party en in die SA Legioen. Soos ek maar al die jare die storie verstaan het: Aanvanklik, na die ontdekking van goud en die ontstaan van die mynbedryf, het die kommuniste blankes gewerf. ‘n Paar Afrikaners het kommuniste geword (Fisher en Roux) asook ‘n paar Engelssprekende mense en heelwat Joodse mense. Na die Anglo Boere-oorlog is baie Afrikaners verarm en verstedelik en is ook uitgebuit. Talle dames veral in Johannesburg het by die vakbondwese aangesluit. Die kommuniste het hard na hulle gevry. Veral die Afrikaner het egter in sy God geglo. Die kommuniste het vervolgens, na die 1922 “Red Revolt” aan die Rand (toe was hulle slagspreuk: “workers of the world unite to keep South Africa white”) in opdrag van Moskou hul visier na die swart bevolking verskuif en hulle begin opsweep om ‘n Marxisties “Volksrepubliek” te stig. Hierdie ondermyning is as die groot gevaar geïdentifiseer.  (Ons het ‘n spesiale Nongqai uitgegee oor die 1922 onluste.)

Die nuwe veiligheidstak is gedurende 1947 deur maj HJ du Plooy gestig. Hy het die “Afrika-eed” geneem gehad, maar was op die tuisfront tydens die tweede wêreldoorlog besig met veiligheids­aangeleenthede. Ek kon nooit uitvind wat daardie bedrywighede behels het nie. (Ons weet vandag wat sy hoof, kol JJ ‘Bul’ Coetzee, en offisiere soos kapt Jan Taillard, maj GE Diedericks en maj GC Visser alles destyds in landsbelang gedoen het.)

Dit is nodig om eers konteks te verskaf:

  • Ons destydse eerste minister, genl JC Smuts, ‘n Boere-generaal en ‘n Britse veldmaarskalk, het gedurende die oorlog leidend betrokke geraak by die stigting van die nuwe Verenigde Volke Organisasie (VVO), nou bekend as die Verenigde nasies (VN); dit was hy wat byvoorbeeld die aanhef tot die VVO-handves geskryf het. Smuts het die internasionale dimensie van nasionale veiligheid goed verstaan. Hy het geweldige nasionale en internasionale ervaring gehad, ook in skikking-samesprekings, want hy was ‘n sleutel-onderhandelaar van die Vrede van Vereeniging in 1902 en was ook teenwoordig by die Verdrag van Versailles na die Eerste Wêreld-oorlog (waar hy gewaarsku het teen die Britte en Franse brutale behandeling van Duitsland). Hy het ook ‘n groot rol gespeel in die moontlik maak van Israel se vestiging as onafhanklike land. 
  • Genl JC Smuts het gedurende 1946 ‘n “Victory Parade” te Gosforth Park. 
  • Gedurende 1947 het die Britse koningshuis die Unie van Suid-Afrika besoek. 
  • Talle bekende polisie-offisiere het ampshalwe sake teen lede van die Ossewabrandwag ondersoek – ook is ‘n saak teen die leier van die Ossewabrandwag, dr JFJ “Hans” van Rensburg ondersoek. Ondersoek is ook in die buiteland ingestel.  
  • Genl Smuts was op die kruin van gewildheid. Hy wou toe nie aan die kriminele sake aandag skenk nie en het vir die verkiesing gewag. 
  • Teen alle verwagting, kom die Herenigde Nasionale Party van dr DF Malan in 1948 aan die bewind (in der waarheid het al die oorlogtydse leiers oor die Gemenebes heen, selfs ook Churchill in die VK, in die verkiesings wat op die oorlog gevolg het verloor, as gevolg van wye frustrasie met die moeilike omstandighede wat vir lank na die oorlog bly voortduur het). In die finale analise het meer Suid-Afrikaners egter steeds vir die Smuts-regering gestem gehad as vir die Nasionale Party en die Afrikaner Party van NC ‘Klasie” Havenga – maar dis die ironie van die politiek en die geskiedenis, gebaseer op die destydse grondwet se kiesafdeling-belading, wat beteken het dat nie alle kiesafdelings uit ewe veel kiesers bestaan het nie. 
  • Voormalige lede van die Ossewabrandwag – soos adv BJ Vorster – het in daardie verkiesing via die Afrikaner Party in die Parlement gekom. (Op sy dag was die Ossewabrandwag teen ‘n parlementêre stelsel gekant). 
  • Met die Nasionale Party nou aan bewind kon hulle kwalik teen oud-lede van die Ossewabrandwag bly optree; die dossier byvoorbeeld teen dr Hans van Rensburg het “verdwyn” en mense soos die oorlogtydse Duitse agent Robey Leibbrandt is vrygelaat. Afrikaner nasionalisme brand hoog en die strewe na ‘n Afrikaner-republiek is in volle blom! 
  • Die “onreg van die verlede” word deur adv CR Swart – minister van justisie – uitgewis en benadeelde oud-polisiemanne, waaronder HJ van den Bergh, sluit weer by die SA Polisie aan. 
  • Maj du Plooy het met die veiligheidstak se bedrywighede voortgegaan na die Nasionale Party aan bewind gekom het. Ek beskou hom as ‘n navolgenswaardige voorbeeld van ‘n gesogte staatsamptenaar. Maj du Plooy was nie lid van die Afrikaner-Broederbond of die Vrymesselaars nie. Hy het slegs aan die polisie-rugbyklub en sy kerk behoort. Hy het onder Nasionale Party-bewind kommissaris van polisie geword. (Ons het onlangs ‘n volledige Spesiale Nongqai oor lt-genl HJ du Plooy gepubliseer).

Die Britse Ryk

Suid-Afrika, Kanada, Nieu Zeeland en Australië was vrygeweste in die Britse Ryk en ons het op dieselfde vlak as Westminster, ons parlement bedryf. MI5 was teenwoordig in Suid-Afrika en ons het inligting uitgeruil.

Ons het met MI5 via die kommissaris (persoonlik) geskakel. As van ons verdagtes na die Verenigde Koninkryk gereis het, het ons MI5 gevra om ‘n ogie oor dié te hou.

Ook is lede van die Mag deur Scotland Yard en MI5 opgelei.

Ons in Suid-Afrika was ook deel van die Britse Oorlogsboek gewees. Ons sou eers in die 1980’s ons eie oorlogsboek – Administrasie Totale Oorlog (ATO) – opstel en  elke staatsdepartement moes sy Departementele Administrasie Totale Oorlog (DATO) opstel. (Dato het my aan ‘n seep-waspoeier laat dink!)

Voorspel tot die Verwoerd-era

Gedurende die vyftigerjare kruip Afrikaner-nasionalisme stadig maar seker dieper in ons gemeenskapslewe in. Die kroon-embleem op verskillende kentekens is reeds gedurende 1957 verwyder, Suid-Afrika het die Britse Vlootbasis te Simonstad oorgeneem en die UVM het die SAW geword.

1958 – 1966: Die Verwoerd-era.

Ons  kyk nou deur die loep na die Verwoerd-era. Dr HF Verwoerd is ons eerste minister van 1958 tot en met sy sluipmoord gedurende 1966.

Sekerheid in die staatsopset is gereguleer deur skrywe EM 9/12, geteken deur die eerste minister en elke departement moes die sekerheidsvoorskrifte volg.

Enkele hoogtepunte tydens die Verwoerd-termyn wat as voorspel dien vir die Vorster en Botha-eras:

  • Op 24 Januarie 1960 word nege lede van die SA Polisie wat op ‘n drank-klopjag was, te Cato Manor deur gewone misdadigers vermoor. Hier is geen politiek betrokke nie. Die publiek is egter geskok. 
  • Die Mau-Mau opstand in Kenia (wat in 1952 begin het), kom gedurende 1960 tot ‘n einde, na die belofte van onafhanklikheid. Ek het ‘n redelike diep studie van die teen-insurgensie optrede gemaak en ook die boek “The Hunt for Kimati” stimulerend gevind. Die rol van die Kenya Police se Special Branch word noukeurig in die boek uitgebeeld.  In die veiligheidspolisie se lêers het ek al die inligting waaroor ons beskik het oor die Mau-Mau, gelees.  Ek onthou daar was onder andere ‘n polisie-foto van ‘n klein wit seuntjie (seker so vier jaar oud, die seun van ‘n lugmag-offisier) wat deur die Mau-Mau vermoor is. Die lykie het langs sy driewielfiets gelê. 
  • Op 3 Februarie 1960 spreek die destydse Britse premier, mnr Harold Macmillan, die Suid-Afrikaanse parlement toe. Hier lewer hy sy bekende “winde van verandering”-toespraak. (Ek dink nie dr Verwoerd het die situasie reg “gelees” nie. Lees gerus die boeke wat oor die onderwerp geskryf is.) 
  • 9 April 1960: David Pratt voer by die Randse Paasskou die eerste sluipmoord-poging op Verwoerd as premier uit. Dit is onsuksesvol. 
  • Op 30 Junie 1960 word die Belgiese Kongo onafhanklik en gru-tonele speel daar af. Gebeure daar, sowel as op Zanzibar en in Kenia, is vasgelê op film in die Italiaanse dokumentêr “Africa Addieu” wat wyd deur Blanke Suid-Afrikaners gesien is. 
  • Op 21 Maart 1961 vind die mees polities-kataklismiese voorval in ons geskiedenis plaas – die SA Polisie-kontingent by Sharpeville het ongelukkig 69 mense noodlottig verwond, toe in vrees vir ‘n herhaling van die Cato Manor slagting van polisiemanne kort tevore, ongedissiplineerd vir ‘n minuut lank sonder bevel geskiet is, nadat die skare die polisiestasie se omheining platgetrap het. (Ironies genoeg is die protes en opmars na die polisiekantoor deur die Pan Africanist Congress – die PAC – gereël en nie die ANC nie, wat in werklikheid dit destyds teengestaan het.) Vandag is dit ‘n nasionale vakansiedag en word dit wêreldwyd gedenk as die Internasionale Dag teen Rasse-diskriminasie; dit was ook die dag gekies om Namibië se onafhanklikheid te vier. Anders as byvoorbeeld die Bulhoek-slagting van 1921 wat geen internasionale opslae gemaak het nie en trouens destyds deur die plaaslike Engelstalige media geloof is (toe meer as dubbel soveel Swart protesteerders in koelen bloede doodgeskiet is deur ‘n regering wat toe as pro-Brits gesien is), is die onbedoelde tragedie by Sharpeville deur die plaaslike media, gevolg deur die internasionale media, aangegryp om in die aanloop tot Republiekwording dit wat as ‘n anti-Britse Afrikaner-regering gesien is, te kasty. 
  • Dr HF Verwoerd lei Suid-Afrika na republiek op 31 Mei 1961. Die nuwe Republiek van Suid-Afrika verlaat die Britse Gemenebes. (My mense hunker na ‘n vrye onafhanklike republiek veral na 1948. Ons is amper terug by die ou republieke van die Oranje Vrystaat en Transvaal. Die Afrikaner is weer “baas in sy eie land!”) 
  • Op 16 Desember 1961 (Geloftedag) stig die SA Kommunistiese Party (SAKP) en die African National Congress (ANC) die gewapende vleuel Mkonto we Sizwe (Spear of the Nation) bekend as MK. ‘n Rooi-vlag oomblik in ons nasionale veiligheidsgeskiedenis: Ons gaan veg en vuur met vuur beantwoord! Maar ons het nie gedink wat gaan gebeur as die Fox-terriër die rooi dubbeldekker bus voorkeer nie. 
  • 13 Januarie 1963 – genl (toe luit-kol) HJ van den Bergh word aangestel as bevelvoerder van die Veiligheidspolisie. Hy is ‘n dinamiese leier en hy het sy merk in Pondoland gemaak met die verskillende kriminele sake wat daar onder sy leiding ondersoek is. 
  • 11 Julie 1963 – die veiligheidspolisie slaan toe op Rivonia; die res is geskiedenis. 
  • Op 26 Augustus 1966 vind die Slag van Ongulambashe plaas – dr Verwoerd het opdrag gegee dat die terroriste gearresteer moet word. 
  • Op 6 September 1966 word dr Verwoerd in die Parlement vermoor deur ‘n bode met die naam van Dimitri Tsafendas.
Newspapers announcing the death of Dr HF Verwoerd

Die moord op dr HF Verwoerd word aangekondig (Krediet Facebook)

Die bekamping van die SAKP-ANC-Alliansie se aanslag, op kriminele-vlak, was in daardie jare deurentyd hof-gerig. Die regsoewereiniteit-reël het gegeld (wat beteken het dat die polisie net ondersoek en arresteer, en alleen maar die howe beslis, in ope verhore, volgens gewone Strafproses-reëls; daar was in Suid-Afrika geen spesiale veiligheidshowe nie). Op daardie stadium was daar geen algemene klagtes van aanranding deur die polisie op veiligheids­aangehoudenes nie. Hoofman Luthuli en Joe Slovo beskryf die ondervraers as ware here.

Met die stigting van MK het die toneel drasties verander. Die stryd is ondergronds gevoer en aan die eenkant moes die veiligheidstak by die stryd aanpas sodat ons kon oorleef en voortbestaan.

Twee ander faktore is (a) insurgensie en (b) binnelandse stabiliteit te midde van ‘n felle politieke oorlog wat binne- en buitelands teen ons op alle fronte, met inbegrip van ‘n sport en kulturele boikot, gevoer word.

Keurings: Na die Moord op dr Verwoerd

Na die moord op dr Verwoerd is enorm baie vorms na veiligheidshoofkantoor gestuur sodat die applikante daarin vermeld, gekeur kon word. Selfs die hofbevel waar ‘n persoon in die hof toegelaat is as prokureur, is na veiligheidshoofkantoor vir keuring verwys. Waar die persoon oor ‘n verdagte-lêer beskik het, is die vorm daar geliasseer. Ek sal later meer hieroor sê.

1966: Adv BJ Vorster neem oor: My self-indoktrinasie

Van 13 Januarie 1964 tot 4 Julie 1964 is ek in die SA Polisiekollege. Terwyl ons daar is vind die Rivonia-verhoor in die Paleis van Justisie plaas. Ek lees die koerante – veral die Engelse koerante – en die nuus is maar skrikwekkend. (Wat sou gebeur het indien ons nie die SAKP/ANC Alliansie by Rivonia gefnuik het nie?)

Ek was van Julie 1964 eers te SAP Wentworth. Hier kom ek een aand in opdrag aan diens met my bandelier met 50 patrone en .303 geweer. Ek en ‘n ongewapende swart konstabel moet agter die olieraffinadery patrolleer en twee ongewapende swart lede moes die raffinadery van voor dek. Ons het mekaar diagonaal op die teenoorgestelde hoeke ontmoet. Die nag stap ek met die swaar uitgediende .303 en wonder hoe gaan ek skiet, want ek kan die plek opblaas! Ons het getrou die heelnag patrolleer maar alles was die volgende oggend reg. Die veiligheidspolisie se inligting was seker verkeerd.

Ek was toe vir ses maande by die Wentworth polisie-motorhawe as klerk werksaam. Toe is ek na SAP King’s Rest waar ek baie lekker gewerk het!

Republikeinse Intelligensie (alias “Pretoria Agencies” in Durban)

Nou “stap ons Beat”, ry met die patrolliewa en merk “snaakse” mense op wat ‘n kantoor in Brightonweg beset. Later vind ek uit kaptein Johann Coetzee (later kommissaris) is in bevel, met luit Basie Smit, luit Duifie van der Heever en onder meer sers John Brooks ook daar werksaam. Ek leer genl Johann Coetzee goed ken by die SAP Motorhawe. Slegs hy het hul “geheime” voertuie na die polisiemotorhawe gebring. Baie middae het ons by Brightonstrand se swembad geswem. Hy het my beïndruk as ‘n vriendelike en intelligente persoon. Ons paaie sou later weer kruis nadat ek by die veiligheidstak aangesluit het.

Ook het ek ‘n “bron” gehad wat my baie vertel het van wat daar gebeur het.

Rivonia

Ek lees die boek: Rivonia: Die Masker af! Ek is beïndruk met die optrede van die veiligheidspolisie, veral met luit Willem “Rivonia” Van Wyk (jare later sou ek saam met maj Van Wyk werk, toe onderskeidelik gesekondeer was – hy na die Raad op Atoomkrag en ek by die Uraan-verrykingskorporasie. Eers was hy as “Biesiesvlei” van Wyk bekend maar na die klopjag op Rivonia het sy bynaam oornag verander. Sy assistent, wat die dokumentêre bewyse ingesamel het, was AO Dirker. (Toe ek gedurende 1970 op veiligheidskursus was het AO Dirker vir ons ‘n lesing aangebied oor dokumentêre getuienis).

Universiteit van Natal   

Intussen is ek ‘n student aan die Universiteit van Natal (1966 – 1969) waar ek ‘n BA-graad volg. Ek is daar saam met bekende Nusas-persoonlikhede – ek onthou hulle nog soos gister. Daar was mense soos Paula Ensor, Paul Pretorius en Steve Biko. Nusas was baie aktief op die politieke front. Om as Boerseun by ‘n liberale Engelse universiteit te studeer is ‘n belewenis! Maar almal was gaaf teenoor my.

University of Natal -Durban

Die universiteit van Natal - Durban-kampus

Meer oor SAP King’s Rest

Mnr Griffiths Mxenge word hier in 1965 te SAP King’s Rest aangehou en ek werk aanklagtekantoor. Tydens my uit passering was die kommissaris van polisie, lt-genl JM Keevy, teenwoordig op die parade en hy het ‘n baie goeie, positiewe, indruk op my gemaak! (My Vader, sersant AF Heymans, het my vertel dat genl Keevy op sy dag die distrikskommandant van die polisie in Durban was).

By SAP King’s Rest het ons ‘n brief met opdragte van die kommissaris persoonlik, deur hom onderteken, ontvang wat die aanhoudingsvoorwaardes van mnr Mxenge uitstippel. Ek was ‘n regte bleeksiel (‘n nerd!) en het die kommissaris se opdrag tot op die letter nagekom. Ek onthou toe ek “selle besoek” het ek vir Griffiths Mxenge ‘n ruk laat oefeninge doen – die kommissaris het gesê: “oefen” en toe moes Griffiths maar oefeninge doen! Hy het gedurende 1969 onder dawerende applous sy graad BA LLB ontvang – dieselfde aand toe ek my graad ontvang het. (Geen dawerende applous vir my nie!)

Die egpaar Mxenge word deur lede van Vlakplaas “uitgehaal”.

Die wiel draai. Jare later word sy seun, Mbasa Mxenge, die hoof van Polmed. Ek klim in my motor en ry eendag na Polmed en vra om meneer Mxenge te sien. Hy staan my te woord en ek vertel hom toe dat ek een van sy Vader se wagte was tydens sy aanhouding te King’s Rest en dat sy Vader en ek saam graad gevang het. Ek gee toe vir hom die program van die gradeplegtigheid. Hy staan op en kom omhels my en bedank my – hy vertel my toe dat hy “niks” van sy Vader het nie.

Senator Robert Kennedy, prokureur-generaal (minister van justisie) van die VSA,  word deur Nusas genooi om Suid-Afrika te besoek en ook met hoofman Albert Luthuli te gesels. Ek is een van drie uniform polisiemanne wat op 7 Junie 1966 aangewys is om hom op te pas. Hy spreek die universiteit van Natal toe en ons vergesel hom na die Edward Hotel waar hy tuis gaan. Hy kom en skud hand met ons. Hy is die broer van die bekende John F Kennedy, voormalige president van die VSA. Ons regering praat nie met hom nie; hy praat egter met ons opponente, die ANC, wat reeds met die gewapende stryd begin het. Hy bou hul beeld!

Ons is toe reeds in die Koue-oorlog betrokke.

1966 - Robert Kennedy visit to Durban

1966 - Robert Kennedy besoek Durban - jong HB Heymans as lyfwag

Een van my  NI-kollegas het my vertel dat die rektor, dr EG Malherbe, na die tweede wêreldoorlog, verskeie oud-lede van die UVM se Militêre Inligting (MI) by die universiteit as dosente aangestel het. In my tyd was prof OPF Horwood – swaer van mnr Ian Smith – die rektor. Die universiteit het twee kampusse gehad – een in Durban en een in Pietermaritzburg. Ook was daar ‘n fakulteit geneeskunde waar nie-wit studente vir geneeshere geswot het en dis hier waar Steve Biko ingekom het.

Oom Pieter Swanepoel – oud-hoof van NI se navorsingafdeling – was ‘n polisieman in Durban. Hy het my vertel dat hoofman Albert Luthuli (Nobel-vredesprys-wenner) ‘n uitstekende mens was – hy was eerbiedwaardig en volgens Oom Pieter was hy iemand met wie die regering sou kon onderhandel! Hy was as mens bo-verdenking al het hy en die polisie en die staat verskil.

Ek het hoofman Luthuli se boek gelees en hy was baie objektief in sy kritiek oor die SA Polisie.

Skiet of Skik?

Ek weet dat, as mense wat daardie jare beleef het aan die toentertydse politiek terugdink, mens jou herinner aan allerlei ideologies-morele debatte. Oor “verlig” wees of “verkramp”. Oor “Nat” teen “SAP” teen “Prog”. Gekwalifiseerde stemreg of een man een stem. Wat ek vandag besef, is dat die werklike onderliggende verdelingslyn, veral onder die veiligheidsmagte, nie hierdie politieke vlieë-afvangery was nie (al die leidende veiligheid-figure was toe al per slot van sake ondersteuners van die Nasionale Party). Die fokus was op die voortbestaan van die Blanke – lees: Afrikaner – regering. Wat die intelligensie-gemeenskap wel verdeel het in terme van strategiese visie, is of daardie voortbestaan ten beste verseker sou kon word deur voor  te berei om te skik of te skiet.

Heel verstaanbaar (binne die konteks van die Koue Oorlog en die “Rooi gevaar”) was daar diegene binne die veiligheidsmagte wat dit as aksiomaties aanvaar het dat die stryd om mag in Suid-Afrika uiteindelik beslis sou word deur die geweer – dis tog wat die kommuniste self propageer het. Mao het duidelik geleer dat politieke mag kom uit die loop van die geweer. Dit was ook die verklaarde oogmerk van die SAKP/ANC-alliansie om nie kompromieë aan te gaan nie, maar om deur rewolusionêre geweld die bestaande orde geheel omvêr te werp, die totaliteit van mag só in te palm en ‘n een-party Marxistiese Volksrepubliek te vestig.

Binne die veiligheidsmagte was dit veral ‘n groep binne die SA Leër (die “bruinskoene”, soos in die wandel genoem), rondom genl Magnus Malan, wat hierdie geloof gehad het dat onvermydelik vir Blanke/Afrikaner voortbestaan militêr geveg sal moet word, sodat vuur met vuur beveg moes word. Daarom moes alles volgens hulle beskouing in stryd gewerp word om daardie militêre stryd te kan wen. Hierdie was in hulle oë ‘n tipe “realpolitik” siening;  hulle het  gemeen het hulle handel met die harde werklikhede en het hulle nie ‘n saak gehad nie met wollerige akademiese teorieë oor moontlike staatkundige modelle en skikking-opsies. Hulle het geglo dat mag ten ene male ondeelbaar is – óf jy het dit alles en jy dikteer dan, of jy het niks en dan word vir jou gedikteer. As die Afrikaner enigsins die totaliteit van mag uit sy hand sou laat gaan, sou die onafwendbare resultaat wees ‘n herhaling van die gruwel-tonele wat in die film “Africa Addieu” te sien was. Dis by hierdie denkgroep dat minister PW (“Piet Skiet”) Botha homself geskaar het.

Aan die ander kant was daar meer genuanseerde sienings, onder andere onder lede van die Vloot en Lugmag, Buitelandse Sake, die destydse Departement van Inligting, die BSV/NI en ook binne die geledere van die Polisie se veiligheidstak. Mense wat besef het dat die Afrikaner se eie geskiedenis bewys het,  dat die geweer opneem net maar ‘n middel tot ‘n doel is (ooreenkomstig Clausewitz se beroemde stelling dat oorlog altyd steeds maar politiek is en bly, net tydelik  gevoer met ander middele). Dat oorlog in sigself nie ‘n blywende oplossing kan wees nie, want dit word prakties altyd afgesluit – soos ook die Vryheidsoorloë – met skikkingsonderhandelinge.  Dat dit in werklikheid moontlik is om die militêre stryd te verloor en tog dan deur ‘n deurdagte skikking, die politieke stryd te wen (soos wat die Vrede van Vereeniging die Afrikaner kort voor lank politieke beheer gegee het oor veel meer as net nie eensmalige Boere-republieke – oor gans die Unie).

Hierdie groep binne veiligheidsgeledere, geskaar rondom genl Van den Bergh, het besef dat die werklike aard van die stryd bowe-al polities was en nie militêr nie, met die “armed struggle” in wese net gewapende propaganda. Dat die stryd op die politieke slagveld (internasionaal en lokaal) beslis sou word, en nie deur die geweer nie. Met dit wat uiteindelik die meeste sou saak maak, die publieke mening – oorsee sowel as plaaslik. As synde ‘n politieke stryd, was dit vir diegene met hierdie begrip van die konflik, logies dat uiteindelik geskik sou moes word en dat alles dus in stryd gewerp moes word om die terrein vroegtydig vir die mees voordelige skikking moontlik voor te berei.  Hierin het hulle natuurlik besef dat jou eie magsvermoë altyd ‘n baie wesentlike deel van jou hand van onderhandeling-kaarte sou wees (daarom dat die Vorster-span dus ook ‘n sterk binnelandse veiligheidspostuur ondersteun het, en ook die noodsaak vir die afskrikking van moontlike buitelandse aggressie – selfs tot die punt om ‘n eie kernwapen-program as afskrik-middel aan te gevoer het).

Ek besef vandag dat dit hierdie amper instinktiewe, “gut feel”  kloof tussen opponerende strategiese visies was wat die hele gang en mees saakmakende  beleidsbesluite van die Afrikaner-regerings van die sewentigs en tagtigs sou rig – veel meer so as ideologiese debatte  oor verlig of verkramp wees. Veral soos wat die druk op die Suid-Afrikaanse regering (as uiteindelik laaste oorblyfsel van rassisme/kolonialisme in die wêreld) verhoog het.

Wat ek ook vandag besef, is dat dit nie net nodig was om die aard van die stryd reg te verstaan het nie. Om uiteindelik reg te gekies het tussen skiet of skik nie. Dit was bowe-al ook gebiedend noodsaaklik om te verstaan het dat, omdat eventueel onderhandel / geskik sou móés word – gegewe  die realiteite – daar tydig vir die wie, wat en hoe van ‘n skikking voorberei moes gewees het.

Die grootste skade wat die “verlore dekade” (soos meegebring deur die  “totale aanslag” era se fokus op skiet eerder as skik) tot gevolg gehad het, was myns insiens dat – toe dit uiteindelik met Suid-Afrika se onttrekking uit Angola en vervolgens SWA/N vir almal duidelik geword het dat skiet ten ene male nie ‘n werkbare, blywende oplossing is of kan wees nie, en dit toe algemeen binne die intelligensie-gemeenskap geword het om te sê daar moet onderhandel / geskik word, daar geen voorbereiding of plan was vir waarvoor onderhandel moes word nie. Hoe moes so ‘n skikking lyk? Watter voorbereiding sou noodsaaklik wees?

In die Vorster-era byvoorbeeld, is tydig begin met skikkings-voorbereiding deur stappe soos:

  • Die uitreik na Swart Afrika as die deurwagters tot internasionale mening (die sg détente-inisiatief);
  • Die uitbou van noue bande met Israel (gelei deur dr Eschel Rhoodie) vir die voordeel van handels- en tegnologie-bande, maar veral as teenvoeter vir die propaganda wat Suid-Afrika as Nazi’s probeer voorhou het;
  • Die terrein voor te berei het in Suidwes – as rolmodel – met die vestig van ‘n werkbare anti-kommunistiese alliansie (DTA) en die kondisionering van die plaaslike Blankes vir die onafwendbaarheid van ‘n skikking wat na nie-rassige onafhanklikheid sou lei;
  • Die aanspreek van die realiteit van ‘n permanente stedelike Swart bevolking deur die inisieer van die arbeidshervormings na die Durban-stakings van 1973; en
  • Die versekering van binnelandse veiligheid en stabiliteit, deurdat die veiligheidsmagte onder genl Van den Berg se leiding vir jare kon verseker het dat geen terreur- of sabotasie-aanslae plaasgevind het nie en die ANC prakties binnelands tot ‘n nulliteit reduseer is.

(Al hierdie is ongedaan gemaak deur PW Botha se ongemagtigde avontuur in Angola met Operasie Savannah, wat ons “ballonetjie van onoorwinlikheid” geprik en direk-aanleidend was tot die spyker in die doodskis – die binnelandse opstand wat in Junie 1976 in Soweto begin het).

Dit is so dat die onderhandelinge die taak was van die politici. (As staatsamptenare, was dit na regte nie vir die intelligensie-gemeenskap betaamlik om politieke oplossings voor te probeer stoot nie). Maar die werklikheid van daardie tyd was dat, vir ‘n dekade, die “sekurokrate” met stelsels soos die NVBS besluitneming binne regeringskringe oorheers het, met die politici effektief as toeskouers onder die strenge oog van die “Groot Krokodil”. Dien gevolg, toe die onderhandelingsbal in 1990 deur president De Klerk se aankondiging van 2 Februarie aan die rol gesit is, was daar aan die kant van die politici geen werklike plan en ook nie gevormde vermoë nie – sodat dit uiteindelik die twee mees junior ministers was wat met die verantwoordelikheid opgesaal is.

Gegewe hierdie gebrek aan strategiese toekoms-visie en veral aan behoorlike terrein-voorbereiding gedurende die tagtigs, is die rondvallery wat gevolg het en uiteindelik tot die snelle dood van die eensmalig magtige regeringsparty gelei het, nie onverstaanbaar nie – dit het egter nie beteken dat skik as sodanig die verkeerde opsie was nie. Waarop dit wel dui, is dat die hoe, wie en wat van onderhandel vir ‘n skikking ernstige en planmatige voorbereiding geverg het.

In vergelyking met waar Vorster Suid-Afrika in 1975 voor Operasie Savannah geposisioneer gehad het (met kritiese komponente soos binnelands volkome in beheer, buitelands gesien as onoorwinlik, goeie bande reeds met Swart Afrika sodat helfte van die lidstate in die OAE ons ondersteun het, en die Weste nog in vrees vir ‘n stert-in-die-lug USSR na die Vietnam-fiasko) wat was daarenteen die erfenis wat PW Botha aan De Klerk gelaat het, as onderhandelingsmilieu?

  • Die binneland aan die brand (onder andere omdat verkeerde begrotingsprioriteite ten einde die Weermag te bevoordeel het, die Polisie aan die agterspeen en geheel onderbeman en onder-toegerus gelaat het, met ‘n PW-gekose leierskap nie van kritiese denkers nie, maar ja-broers en gatkruipers);
  • Na weer uit Angola onttrek moes word en vervolgens ook uit SWA/N, is ons hoegenaamd nie meer militêr as onoorwinlik gesien nie;
  • Internasionaal en veral in Afrika was ons heeltemal geïsoleerd;
  • Ekonomies was ons op die randjie;
  • Die gebeure post-Savannah was vir die ANC ‘n reddingsboei, sodat dit weer relevansie gekry het, met daarenteen die tradisionele leiers wat deur die “people’s war” se intimidasie gemarginaliseer is;
  • Die regering was binnelands geheel geïsoleer, sonder enige werkbare vennootskappe wat tot onderhandelings-alliansies uitgebou kon word; en
  • Die optimale moment vir onderhandelinge (in ander woorde, met Westerse steun aan die regering eerder as aan die SAKP/ANC-alliansie) was onherroeplik verlore met die val van die Berlynse muur, want toe het die Weste se vrees vir die USSR weggeval gehad en is hulle politiek jeens Suid-Afrika toenemend gerig deur hulle eie binnelandse nie-blanke kieser-korpse.

Hierdie stel werklikhede, wat die gevolg was van ‘n dekade van geen voorbereiding vir skik nie (waartydens dit “verraad” was om met die ANC te wou praat) verduidelik waarom die feit dat die SAKP/ANC die “gewapende stryd” loshande teen die veiligheidsmagte verloor het, maar desondanks tog die politieke stryd loshande gewen het, ‘n onafwendbaarheid geword het!

Daar is heelwat voorbeelde van hoe hierdie denke-kloof oor welke van “skiet” of “skik” die korrekte strategiese visie sou gewees het, in die praktyk binne die inligtingsgemeenskap manifesteer het: 

·        Dames-skietklubs

Die SAP begin om dames-skietklubs te vestig. Gedurende 1965/6 vaardig die distrikskommandant  my af of ‘n ou “Illovo Beach”-polisiekantoor vooraf-geboude kantoortjie te skuif en op die gronde van die SA Vloot op te rig. Dit het ek gedoen en ek het die SAW se stootskraper aangetree om vir ons ‘n hoë wal te bou. Die stigting van dames-skietklubs  is ‘n belangrike moment in ons geskiedenis en ons moet nie die SAW se kommando’s en nasionale sleutelpunte (NSP’s) vergeet nie.

·        Die SAP Reserviste

In die vroeë 1960’s maak polisiereserviste hul opwagting. Ek noem dit om aan te toon hoe ons gedink het. Ons het reggemaak “vir skiet”, ons het nie “aan skik” gedink nie. Ons is Boere en ons begin laer trek. Ons het gesien wat in die “noorde” van Afrika aangaan. Ek onthou toe die eerste terreuraanval in Angola gerapporteer is.

·        SAW: Nasionale Diensplig

Gedurende 1962 registreer ek en my maats as dienspligtiges. Ons word medies ondersoek by die SAW te Lords Grounds, Durban. Aanvanklik was daar ‘n loteling-stelsel. Ek is nie geloot nie maar sluit by die SAP aan. Eers het dienspligtiges nege maande diens gedoen en die termyn is later na twee jaar verleng. (Dink vir watter doel het ons militêre opleiding gekry?)

·        “Laer getrek”

Soos my ou voorsate het ons figuurlik ‘n laer om ons getrek om ons te beskerm teen die gevaar – die ‘rooi-gevaar’, die ‘swart-gevaar’, die ‘geel-gevaar’, ‘Roomse-gevaar’ en vele ander ‘gevare’. Ons was weer in ons koppe “Voortrekkers of Boere” van ouds wat werklike of gewaande gevare trotseer. Ons het in ons koppe van die hele Suid-Afrika onttrek – ons republiek of laer was hoofsaaklik vir die Afrikaners. (Ons het ander mense verstoot bv die Bruinmense.) Trek was weer die oplossing – hierdie keer egter nie fisies ons nie, maar wel nie-Blankes, agter op regering-Bedfords…

 

·        En as ons die “skiet” sou gewen het?

Ons het nou die hele wit samelewing gemilitariseer en almal is ‘skerp en op hul tone’. Nou kom dit tot veg! Die nuwe wêreld van na die tweede wêreldoorlog sou nie ‘n militêre oorwinning in ons guns aanvaar het nie, so ons sou weer terug gewees het by punt “A”. Suid-Afrika se nie-Blankes sou dit ook nie aanvaar het nie – so hoeveel keer sou ons opnuut weer moes veg, en hoe lank bly veg? Alles ter wille van ‘n rassebeleid wat na 1948 as staatkundige “oplossing” verabsoluteer is, ondanks sy morele problematiek, sy inherente inkoherensie en ekonomiese onhaalbaarheid – ‘n beleid wat nie deur die wêreld gedoog is nie en as ‘n misdaad teen die mensheid verklaar is. ‘n Beleid wat die Nasionale Intelligensiediens uiteindelik self uitgewys het as ‘n grondliggende oorsaak van die onrus en onveiligheid in die land, na NI hulle semantiese “paradigma-skuif” gemaak het van sê dat hulle taak nie staatsveiligheid is nie (m.a.w., die behoed van die regeringsbestel), maar wel om onbevange eerlik, alle bedreigings te identifiseer vir nasionale veiligheid (die behoud van vrede en veiligheid in en van die samelewing in die breë). 

Na mnr De Klerk die bewind oorgeneem het, het hy versoek dat die politieke oorlog aan die politici oorgelaat moet word. Mnr PW Botha het so lank gedraai dat daar feitlik geen kruit in mnr De Klerk se kruithoring was nie. Soos uitgewys, was De Klerk se politieke beweegruimte uiters beperk. Dis die “ou storie” van hoe langer jy neem om te skik, hoe slegter is die skikking vir die verloorder!

Onthou die SAP en die SAW het op ‘n kruitvat gesit en ons kon met moeite die deksel op die drukpot hou. ‘n Engelse “slim” veiligheidspolisieman en oud-spioen het vir my gesê: “Hennie we are riding a tiger. If we fall off, he will devour us!”

Na die “Winde van Verandering”-toespraak het dr Verwoerd as akademikus na my mening nie “prakties genoeg” gedink nie. Die Transkei het onafhanklik geword maar Verwoerd wou nie beleggings in Umtata hê nie, maar eerder grensnywerhede vestig. Ons het die tuislande en nasionale state gehad maar nie ‘n eie blanke tuisland nie. Miskien was ons te selfsugtig en wou alle grond in Suid-Afrika buite die tuislande vir onsself opeis? Sonder enige “gedeelde” gebied… Daarenteen het realiste van  die statuur van prins Buthelezi wel so ‘n “gedeelde” Suid-Afrika naas sy eie Zoeloe-hinterland visualiseer, binne ‘n oorhoofse federale struktuur baseer op konsosiasie (‘n visie gedeel deur onder andere genl Van den Berg, soos uit sy ongepubliseerde manuskrip “No boats in the harbour” blyk, met as quid pro quo daarnaas dan ook ‘n eie Afrikaner-gebied binne die groter Suid-Afrika, as sekuriteit-steunpunt vir ons mense – ‘n bastion-territorium, soos wat hy dit genoem het – ‘n bietjie soos Israel, vir die Jodedom?).

As slotsom, vra uself dit: as daar nie uiteindelik wel in die vroeg-negentigs geskik is nie (met die VSA en VK nog onder Reaganisme en Thatcherisme), hoe sou ons situasie gelyk het in die opvolgende jare, met die Arbeiders aan bewind in die VK en ‘n Clinton en later Obama aan bewind in die VSA?

Daarenteen – hoe sou ‘n skikking dalk gelyk het, sou dit in die sewentigs en/of vroeg-tagtigs onderhandel gewees het deur adv Vorster se ervare span, voorberei volgens ‘n deurdagte strategiese plan en geproefloop in SWA? Onderhandel toe die Weste se vrees vir die USSR en antipatie teen die SAKP/ANC op sy hoogste was (onthou, die CIA het mnr Mandela aan ons uitgelewer gehad, en hy is eers na hy president geword het van hulle terreur-swartlys verwyder). Toe ‘n groot getal Swart state toe positief gestaan het teenoor premier Vorster se bemiddeling in Rhodesië en SWA en ten gunste was van ‘n binnelandse skikking vir Suid-Afrika self, eerder as ‘n rewolusionêre Marxistiese oorname. Met alliansies met konsosiasie-gesinde tradisionele leiers wat toe wel deeglik moontlik was op die Turnhalle-model, in ‘n atmosfeer van binnelandse rus en stabiliteit, ekonomiese voorspoed en ‘n persepsie dat die Boere militêr onoorwinlik was? (alles natuurlik met die voorveronderstelling dat daar nie ‘n Ops Savannah en daaropvolgende Soweto-opstand was nie!).

Ek raak hartseer as ek dink wat kon gewees het, as dit nie was vir die “own goals” wat sekeres van ons teen onsself aangeteken het met Savannah, met die hanteer van die kinder-optog in Soweto en veral met die onderduimse staatsgreep teen Vorster nie!

Gedane sake het egter geen keer nie – so, terug na my lewensloop…

Ons Afrikaners se  bedreigingspersepsie van die 1960’s, deur my oë

Die wêreld wat my Vader geken het, het drasties na die tweede wêreldoorlog verander.  Na vredesluiting het die volgende dinge gebeur:

  • Die begin van die Koue-oorlog met die “Muur in Berlyn” wat ‘n werklikheid was.
  • Einde van kolonialisme in die ganse wêreld en ‘n afsku in rassisme
  • Ons STREWE na ‘n REPUBLIEK en om staatkundig AFSONDERLIK te kon leef

Ons is maar gewone mense met die pioniers-, Voortrekker- en Boere-gene in ons bloed; my mense was by Bloedrivier; ons is van Afrika en daarom praat ons Afrikaans.  Ek het in die destydse Nongqai gelees van ‘n afvaardiging van polisie-offisiere vanuit die Belgiese Kongo wat met die kommissaris samesprekings kom voer het. Die kommissaris van Polisie het met al die kommissarisse in Suider-Afrika vergader en geskakel. Ons polisie-offisiere het gedink soos Britse koloniale polisie-offisiere dink…

Die ANC het sy gewapende stryd op 16 Desember 1961 verklaar, volgens mnr Mandela om die Blankes te forseer om op die Swart bevolking se aansprake ag te gee (siende dat die regering subiet geweier gehad het om te luister of met hulle te praat).

Wat het ons gedoen? Ons het reaktief opgetree en wapens begin koop, die .303 is deur die FN vervang, ons rewolwers deur 9mm-pistole. In 1965-66 het die SAW die SAP opgelei in teen-insurgensie. Ek was daar! Ons was te Umbumbulu opgelei onder bevel van maj FLC Engels. Ons het 100% gefokus op “oorlog”. En moet nie vergeet nie ons wil (as weerwraak?) ‘n Afrikaner-republiek hê sonder dat ons aan die geostrategiese en polities-sielkundige implikasies dink.

Yuri Loginov

Gedurende 1969 op ‘n Saterdagaand is ek by die Lyric-teater waar ek ‘n Afrikaanse toneelopvoering bywoon. Dit kon “Siener in die Suburbs” of “Mattewis en Maraai” gewees het. Toe ons uitkom word die Sondag-koerante verkoop. Ek was mal oor koerantlees en koop die koerant en ek kon nie wag om tuis te kom nie: Suid-Afrika het sy eerste KGB-agent, Yuri Loginov, gearresteer. Weereens is ek baie beïndruk met genl Van den Bergh. Ek het baie boeke oor spioenasie gekoop en gelees. Ons leef destyds in die koue oorlog en James Bond is die konserwatiewe Weste se held.  Ek het meeste van die James Bond-flieks gekyk – uitstekende stratkom vir die Weste.

Ek werk skofte en studeer deeltyds, tog boer ek in die bioskope – ek kyk net oorlogflieks. Ek raak bewus van die Gestapo en die Neurenberg-verhore. Ek begin dink aan Suid-Afrika en wonder stilweg of ons Nazi’s en/of lede van die Gestapo is? Ek temper my optrede en fokus op universele misdaad. My stokperdjie op nagdiens was om inbrekers aan te keer.

Gedurende 1969 word ek na SAP Louis Botha-lughawe as stasiebevelvoerder verplaas. Dis ‘n baie stil stasie en aan die einde van jaar ‘vang ek graad’. Ek word toe na die veiligheidstak in Durban verplaas.

QO18

Toe ek ‘n jong man was, was een van my helde in die veiligheidsopset, AO Gerard Ludi – ook bekend as agent Q018. Die veiligheidstak en RI het die “Q-reeks” gebruik, terwyl die post-Van den Bergh veiligheidstak die RS-reeks gebruik het; so was Craig Williamson bekend as RS 167. Ludi was instrumenteel in die suksesvolle arrestasie van adv Bram Fischer. Ek het sy boek verslind en gedink hy is ‘n ware held! Steeds hou ek van die gedagte om lid van die veiligheidspolisie te word.

Buro vir Staatsveiligheid

Die Buro vir Staatsveiligheid (BSV) word in 1969 geskep en die polisie verloor baie van sy veiligheidsmanne en lede van Republikeinse Intelligensie (RI). Baie Durban-polisiemanne wat bekend is aan my word deur BSV gewerf. Die salaris is baie beter en ook die byvoordele was beter.

Veiligheidstak: Port Natal

Daar het seker iewers ‘n vakature in die veiligheidstak ontstaan. In Durban werk ek onder (later generaal en hoof van die veiligheidstak) lt-kol FMA Steenkamp. Ek kom uit die uniformtak waar daar by die DK se kantoor in gemarsjeer word en gesalueer word en waar jy op aandag voor die kolonel staan. Geen van daardie nonsens egter  voor kol Steenkamp nie! Hy nooi mens uit om te sit, en mens waardeer dit, maar wil tog ook nie “lekker” sit nie – mens het net te veel respek vir die hoof.

Genl Steenkamp het ‘n paar goeie reëls gehad: Alle personeellede drink soggens saam tee en dis ‘n werksessie. In daardie dae was daar nie “Google” of internet nie. Die “ou” deurwinterde manne het alles geweet! Hier kon ons jonges vrae stel i.v.m. navrae en die vrae is deur ervare lede beantwoord. In die polisie het almal byname – wel, die kolonel se bynaam was “Haile Selassie”  (terwyl sy eweknie in Pietermaritzburg bekend was as “Jassar Arafat” – Jassar Arafat se swart ampsmotor was bekend as die “Kameel”.)

In die veiligheidstak het ek geleer dat daar slegs drie bronne van inligting was: Overte-, koverte en tegniese bronne. Ek het my eerste jaar in veiligheid glad geniet nie. Ek was beperk tot kantoorwerk agter geslote deure in ‘n bedompige vertrek. Ek het baie “vry” in die uniformtak gevoel en die werk in ‘n beperkte ruimte het my nie aangestaan nie. Die kolonel belowe my dat ek ‘n jaar daar moes werk waarna hy my as veldwerker sou gebruik.

Kol Steenkamp, kapt Tewie Wessels, luit Herman Stadler, SAO Daan Wessels, SAO David van Zyl en T/SAO Kippie Geyser  was deurwinterde speurders – manne van integriteit en inbors. Party het gehoed en in donker pakke gewerk! (Lyk soos kerkmense!) As uniform-man het hulle my baie geleer van koverte ondersoek, waarneming en ondervraging. Hierdie was professionele en intelligente manne wat enige persoon kon ondervra sonder om fisiese dwang toe te pas – eenvoudig omdat hul “houding” reg was.

Die bywoon van motorbotsings, en klagtes oor inbrake, dronkbestuur, moord en roof  was voorheen my brood en botter en skielik, soos dag verander in nag, voer nasionale veiligheidsbelange die botoon.  Kol Steenkamp is ‘n beskaafde en intelligente polisieman – ‘n offisier wat respek afdwing en tuis is in enige intelligente of professionele geselskap. Sy insig in ons probleme was uniek en hy het strategies gedink.

Veldwerker

Gedurende 1971 word ek ‘n veldwerker, dit beteken ek ondersoek beuselagtige sakies en doen navrae van veiligheidsbelang. Ons gebruik die vorm SAP 67 – Veiligheidsverslag. As gegradueerde word ek ook aangestel as skakelbeampte met die administrasie van die Natal universiteit. Die kolonel bevorder my sommer plaaslik na “luitenant”. Ek werk ook met “blanke en blanke studente”-aangeleenthede. Ek is nie belas met die ondersoek van veiligheidsake nie. Ek neem verlof om aan die luitenant-eksamen deel te neem. Ek onthou die vreeslike eksamen na luitenant:  wettereg, gemenereg, strafproseswet, mag administrasie A en B, ondersoek van misdaad, Afrikaans en Engels. Ons moes byvoorbeeld die hele drankwet geken het (wat ‘n klomp twak!), en misdade wat ek net van gehoor het: Wet op onderdrukking van kommunisme, die bekamping van terrorisme en baie ander wette.  Alle AO’s skryf die selfde eksamen.

Emmerbomme

In groot sentra, ook in Durban, het die SAKP/ANC-alliansie plastiese emmers met plofstof in, en propaganda strooibiljette van ryspapier versprei deur ‘n ontploffing. Ek onthou nog die gekletter van die teleksmasjiene na die ontploffings. Ek en Ronnie Kasrils het eendag jare later hieroor gesels. Hy het my vertel dat hy “onbekende” mense in Europa gewerf het om die pamfletbomme te plant.

Veiligheidskursus

Ek gaan Junie/Julie-maand op veiligheidskursus – daar is lede van die SA Spoorwegpolisie ook saam met ons op kursus – in Pretoria waar ek majoor (later brigadier) Neelsie du Plooy ontmoet. Hy is die kursusleier en ‘n charismatiese spreker en belydende Christen. Hier het ek ‘n drie weke lange veiligheidskursus gedoen oor wat is kommunisme? ‘n Ander lesing was oor al die “-ismes” van veiligheidsbelang, dan het ons die Afrika-kontinent behandel, die LBS-buurlande en bufferstate soos Rhodesië, Angola en Mosambiek. Ons het geleer van agtervolging en waarneming, ons het lesings oor studente-bedrywighede en Nusas gekry – kaptein Kleyn het dit aangebied. Dan het ons die ANC en swartmag-organisasies bestudeer – ek onthou nog WEB du Bois. Ons bestudeer ook die rol van vakbonde in Suid-Afrika, beginnende by Tom Andrews uit die ou ZAR se dae op die goudvelde.

Die befaamde “Rooi Rus” – destyds lt-kol TJ Swanepoel – het vir ons ‘n lesing gegee oor ondersoek en ondervraging en na maj Du Plooy se bedanking en lofrede het ons die “Rooi Rus” ‘n staande ovasie gegee.

Ons het “kerke” ook behandel en verskillend organisasies soos bv die KGB. Ons het ook lesings oor grensposte, reisgeriewe, visums en al daardie klas van goed gekry.

Maj Du Plooy vra eendag in die klas wie die bevelvoerder is van die veiligheidstak? Ons gee verskillende antwoorde. Sy antwoord: “Generaal Jesus Christus” is die bevelvoerende offisier van die veiligheidstak. Preke soos “as Christus vir ons is, wie kan teen ons wees?” is talle kere gepropageer, ook deur kapelane. Ek kan nie hierdie misbruik van Christus se naam goedkeur nie.  Ek dink dit was ongewenste misbruik van die Godheid. Ek was maar 23 jaar oud.

Wat die kursus my NIE geleer het nie, was om krities te dink en nie alles met ‘n knippie sout te neem nie.

Met agterna-wysheid weet ek vandag ons het almal aan “groepdenke” gely! Niemand het krities gedink nie. Ons het almal die staat se beleid ondersteun – terloops, om positief gekeur te word, moes jy die staatsbeleid ondersteun! Dit was ‘n swakheid in die stelsel.  Ons moes mense in die veiligheidstak gehad het wat lojaal aan Suid-Afrika is maar tog krities kon dink. Ook voel ek dat ons sekere inligting – al was dit nie in ooreenstemming staatsbeleid nie – moes ons dit tog aan die regering voorgelê het en gesê het: So “dink” die kerke, dit wil die studente doen en so dink die leiers van die TVBC-state. Ons moes meer ongewilde inligting kon oordra. (Ons inligting moes eerder aan die kabinet voorgedra gewees het.)

Ek keer terug na Durban – ons het destyds nog per trein gereis. In Durban is ek nou ‘n opgeleide veldwerker en ek trap maar water, want van September 1971 tot begin Desember 1971 gaan ek op ‘n drie maande-lange offisierskursus. Weer “groepdink” – ek word as offisier nie geleer om krities te dink nie! Wat my verbaas het is die feit dat ek met Staande Orders in boekvorm uitgereik is, en daarin staan, en ek haal aan:  “Ek moet julle dus vermaan om nooit van die duidelike gedragslyn wat Staande Orders daarstel af te wyk nie, maar julle op die hart druk dat dit liewer in die gees as die onverbiddelike letter daarvan uitgevoer moet word”.                

Wat die insameling van inligting betref, het ons gedurende 1970 – 71 in Durban die veiligheidstak, “Seksie 4” (opvolgers van RI), die Buro vir Staatsveiligheid en “miskien” militêre inligting gehad.

Arrestasie van opgeleide mense en ons eerste Askari

Lt Nayager het deur die ekstensiewe netwerk van kontakte wat die veiligheidstak in Durban gekweek het inligting bekom dat ‘n persoon in die Wentworth-gemeenskap rond vertel van hoeveel lande hy onlangs besoek het. Die inligting is opgevolg en ‘n militêr opgeleide persoon (naam weerhou) is gearresteer. Só het Durban veiligheid met eersteklas-veiligheidswerk die eerste opgeleide terroris in Suid-Afrika gearresteer. Die persoon is voor die hof gedaag en het ‘n lang vonnis op Robben-eiland uitgedien. Ook het ek kennis gemaak met ons eerste Askari (later sersant) Leonard Nkosi. Hy is later deur die ANC “uitgevat” toe hy een aand in sy bed geslaap het.

Maj-Gen and Mrs FMA Steenkamp during their Durban days.

As part of a new series in Nongqai, the South African Forces History Magazine, entitled “The Men Speak”, its editor-in-chief, retired Police Brigadier Hennie Heymans, shares his personal insights into the period 1964 to 1993 within the South African Police Security Branch and the National Security Management System, where he served in positions that afforded him vantage points from where to live and observe key shaping events on South Africa’s evolution over the course of the Cold War, from the last racially-based colonial bastion to a non-racial democracy along free-market, Western liberal constitutional principles.

Meer oor Lt-kol FMA Steenkamp: Afdelingsbevelvoerder

Die bevelvoerder was ‘n man van integriteit en ‘n besondere begaafde speurder/ondersoeker. Daarby was hy ‘n persoon wat die aard van die stryd wat gevoer was, goed verstaan het – dat dit in wese ‘n politieke stryd was, en nie ‘n militêre een nie. Jammer, maar nie almal op die personeel het werklik verstaan wat aangaan nie. Hy het ons versoek om versigtig te bestuur en ons voertuie op te pas. Hy het gesê geld is skaars en hy slaap nie in die aand nie, soos hy dink aan die probleme wat vir die land voorlê. Op strategiese vlak was hy uitmuntend! Hy het ons jonges geleer en vermaan. Hy was ‘n yster!         

As afdelingsbevelvoerder het Kolonel Steenkamp in April 1977 vir sy personeel ‘n omvattende omsendskrywe opgestel oor ondervragingstegniek. Daarin het hy eerstens vir ons verduidelik waarom die aanslag gegaan het. Ek het oor al hierdie jare my kopie bewaar – ek haal enkele paragrawe aan, beginnende by paragraaf 1:

Gedurende die afgelope aantal jare word die Veiligheidstak stelselmatig afgebreek en gediskrediteer in ‘n doelgerigte en goed beplande veldtog gevoer oor ‘n wye veld. Dit vorm natuurlik ‘n baie belangrike deel van die algehele aanslag teen die Staat en die land in sy geheel. Hierdie sielkundige oorlogvoering moet nie onderskat word nie en is nie ondergeskik aan die ander terreine waarop die stryd teen ons gevoer word nie, soos byvoorbeeld die terroriste bedreiging, ekonomiese ondergrawing ens. nie. Teenoor hierdie ander terreine van die stryd, staan die sielkundige aftakeling van die veiligheidsdienste egter uit in die opsig dat dit uiters subtiel en professioneel gedoen word … die tyd het aangebreek waar ons hand in eie boesem moet steek en eerlik en objektief moet nagaan of ons nie in en deur ons optrede, direk in ons vyande se hande gewerk het nie en self grootliks verantwoordelik is vir ons nederlae nie. Die saak moet positief benader word en ons optrede moet deurgaans so wees dat brûe vooraf gebou word oor die slote en struikelblokke wat ons vyande voorberei het. Ons moet eenvoudig nou sorg, in al ons optrede, dat daar geen of so min as moontlik vatkans aan ons gekry kan word. Ons moet ons beeld herstel en uitbou in die volksoog. Indien ons nie daarin slaag nie sal ons self verantwoordelik wees vir oneindige en moontlik onherroeplike skade aan ons land.

Dit was profetiese woorde, soos illustreer deur die enorme negatiewe impak van Steve Biko se dood in Veiligheidspolisie-aanhouding net vyf maande daarna… Oor ondervraging was kol Steenkamp se riglyne duidelik en moreel (en, glo ek, in die praktyk ook meer effektief, om bruikbare inligting te bekom):

Slegs die ondersoeker/s belas met die ondersoek mag die verdagte ondervra… Vermy die sogenaamde “span-ondervraging” waar ondervraers afgelos word. Daar is meer nadele aan verbonde as voordele: geen rapport word tussen ondervraer en verdagte bewerkstellig nie, ondervraers weerspreek mekaar ens. Die langdurige ondervraging ondermyn die ondervraers en hul doelstellings meer as die verdagte; die kanse dat die skerpsinnige ondervraer sy intelligensie en vernuf teenoor die verdagte behoorlik benut, is minder…

Tree beskaafd maar ferm teenoor verdagte op, sodoende sal u sy respek bekom en behou…

Onthou deurgaans u is ‘n polisieman, nie ‘n politikus nie; u ondersoek ‘n strafsaak waar die land se wette verbreek is en dit is nie u taak of verantwoordelikheid om die reg of verkeerd van die wette te verdedig nie…

Dink, dink en beplan voortdurend. Ons vyande voer hierdie stryd teen ons met die kop en ons moet hulle op dieselfde wyse beveg. Dit is die veiligste, doeltreffende en mees blywende in sy langtermyn effek. ‘n Verstandelike, sielkundige oorwinning wek respek; ‘n fisiese, gewelddadige oorwinning bring ‘n blywende en groeiende haat, verset en begeerte tot vergelding, op enige manier moontlik mee. Dit geld veral en meer so waar van sodanige verdagte later gebruik gemaak moet word as getuie. Sy respek vir u gaan verlore en u respek vir uself word ewe-eens beskadig.

Veiligheidshoofkantoor ook bekend as Kompol x302

Op 1 Februarie 1972 begin ek by die veiligheidshoofkantoor na afloop van die offisierskursus. Ek rapporteer by die personeel-offisier, maj Alfie Heuer,  en word by brig Blignaut se Afdeling “A” geplaas – Seksie A2 – ek werk Nusas- en studente-aangeleenthede. Ek sit in ‘n saal met so ses lessenaars. My taak is om die Nusas-lêer en studente belhamels se memorandums op datum te kry. Ek dink aan die Durbanse see – hoe ek daar patrollie gery het en nou sit ek as ‘n klein vissie in ‘n groot dam hier op die vyfde vloer! Dis ‘n aaklige plek, ek was daar vir my veiligheidskursus.

Ek is eendag diensoffisier en besoek veiligheidshoofkantoor en besigtig die teleksberigte wat na-ure ingekom het. Een berig uit ‘n plattelandse omgewing: “Hier is pas ‘n Volkswagen kewer met vier langhare deur ons dorp”. Die registrasienommer word verstrek. Kommentaar deur die sersant: “Moontlik studente op pad na Johannesburg om by plaaslike belhamels aan te sluit en moeilikheid te maak”. Ek moes glimlag! 

Desmond Blignaut

Ek loop toe vir my troepmaat sers Desmond Blignaut by die voordeur raak. Hy vertel my hy was ‘n voltydse student op een of ander Afrikaanse kampus.

Later die oggend sluit luit Blignaut by ons aan. Hy vertel my dat hy nou aangestel is as luitenant en presies een jaar my senior is. Hy versoek my om uit die hoek te skuif, aangesien hy daar wil sit. Ek moet dit maar doen – bevele is bevele.

Memorandums

Ek het die saai werk, nl. memorandums opstel, verrig na die beste van my vermoë. Van die studente is ingeperk en daar was ‘n parlementêre kommissie van ondersoek. 

Suider-Afrika se Inligtingsmense

Op ‘n stadium in die vroeë 1970’s vergader die veiligheidstak se senior mense met die veiligheidsmense van Rhodesië, Mosambiek en ek dink ook Angola. Elke lessenaar moet ‘n kort oorsigtelike memorandum opstel  vir voorligting tydens die beraad.

Veiligheidshoofkantoor

Byna die eerste ding wat ek te veiligheidshoofkantoor gedoen het na my aankoms aldaar was om Loginov se lêer aan te vra. Volgens die leêrstoor was die lêer ‘uitgeboek’ na genl van den Bergh of mnr Geldenhuys van die Buro vir Staatsveiligheid (agtereenvolgens Departement van Nasionale Veiligheid en uiteindelik Nasionale Intelligensiediens). Nooit het ek insae in die lêer gekry nie. A/O Sakkie Loots was in daardie tyd in bevel van die veiligheidstak se leêr-stoor.

Slegs blankes het daar gewerk; my broer wat ook pas uitpasseer het, is ook daar geplaas. Kapt Dries Schoeman was oorhoofs in bevel van die ‘lêer-stoor’ en die ‘indeks’ gerief.

Verdagtes se name en die name van organisasies is daarheen gestuur en dan is die verdagte persone of organisasie ‘geïdentifiseer’ en van sy (veiligheidstak) lêerverwysingsnommer voorsien.

Eers as jy oor ‘n rekord, of te wel ‘n lêernommer beskik het, kon jy die ‘lêer op die onderwerp of verdagte persoon se persoonlike veiligheidslêer trek’. So bv onthou ek die Liberale Party van Suid-Afrika se lede was bv. Peter Brown en sy lêernommer was S1/1880 en Alan Paton was S1/1881, beide dus ‘volwaardige’ onderwerpe in eie reg van die onderskeie  lêers S1/1880 en S1/1881.

Indien ‘n wit persoon vir die eerste keer aandag vestig is ‘n lêer onder die S1/Alg reeks of die S1/V/Reeks geopen. Dit hang net af of hy eenmaal genoem sal word of meer as eenmaal. Indien die persoon meervoudige vermeldings sou kry is ‘n ‘verdagte’ leer geopen. Indien die persoon later ‘n volwaardige risiko geword het is ‘n S1/lêer op hom geopen.

Indiërs was onder die S2/reeks behandel; Kleurlinge onder S3/reeks; en Swartes onder die S4/reeks. Ek onthou dr Mangosuthu Buthelezi se  lêer verwysing was bv  S4/1004 (hy was bekend as ‘Gatsha’ toe sy moeder geleef het; na haar afsterwe mog die naam nie meer gebruik word nie).

Nusas was die onderwerp van lêer S12/59 en die AWB weer was die onderwerp van lêer 13/316  – eintlik moes die AWB onder die S12/reeks ressorteer want S13/reeks is vir gemengde organisasies.  

Die ANC was die onderwerp van lêer S9/126. So was daar verskillende lêers op mense en organisasies.

Die polisie het sy eie subkultuur gevorm! Let op die veiligheid se eie unieke vaktaal!

Ander departemente

Ek begin mense van ander departemente ken, bv mnr Pieter Swanepoel en mnr Anton Siepke van die Buro – later NI. Ook maak ek kennis met lede van  die weermag se direktoraat teen-inligting.

Seksie A3

Ek skuif  van A2 na A3 en werk saam met maj JCE Earle en kapt Johan Ehlers. Hier werk ek hoofsaaklik met blanke aangeleenthede. Ons ontvang honderde verslae – onderskeppings, veiligheidsverslae, keurings en dies meer. Ons hanteer alle reisgeriewe, paspoorte en visums van verdagtes – diegene wat die land wil verlaat en diegene – buitelanders en vreemdelinge – wat die land wil besoek. Ons is ook betrokke by die uitreiking van polisie-perskaarte aan joernaliste. Ons plaas ook ongewenste mense op die paspoort- of visum-voorbehoudslys.  

Dienspligontduikers en dienspligweieraars kom onder ons aandag en ons laat die SA Weermag (SAW) deur Afdeling Militêre Inligting (AMI) weet. Ons kry ook koerante en sekere tydskrifte om te lees en uit te merk. Ons het die koerante gelees en berigte oor ons verdagtes en ander belangrike items, byvoorbeeld simposiums, laat uitknip en dan het ons dit ook netjies geliasseer.

Ons het ‘n kwaai kolonel. ‘n Kaptein lees die amptelike koerant maar sy houding wat hy uitstraal is verkeerd – dit lyk of hy die koerant-lesery geniet. Die kolonel trap hom toe vreeslik uit. Ek het later vir die kaptein gewys hoe lees mens die koerant – aandagtig en peinsend – dit moet nie lyk of jy dit geniet nie! Dit moet lyk of jy werk.

Ek lees die SA Polisie se Staande Orders en daarin blyk dit duidelik dat die polisie, wanneer hul om ‘n goedkeuring vir ‘n lisensie genader word slegs moet sê (a) Die polisie is nie bereid om die aansoek aan te beveel nie, of (b) die SA Polisie het geen beswaar teen die uitreiking van ‘n permit of lisensie nie.

Wat Binnelandse Sake  betref moes ons elke geval oor reisgeriewe op ‘n langdradige manier die aansoek afkeur. Insgelyks i.p.v. om vir te sê, as “Piet Pompies” aansoek om ‘n visum doen, moet die aansoek vir ‘n visum eers na die SA Polisie verwys word.   Ons het baie tyd gemors met elle lang motiverings.

Die Sanhedrin

Brig JA du Preez vertel dat die naam vir die veiligheidspolisie se oggendvergadering, nl. die “Sanhedrin”, sy oorsprong gehad het by “ou” brigadier Fred van Niekerk – ‘n legende in sy eie tyd. Genl HV Verster het die storie aan my bevestig.

Die Sanhedrin is bygewoon deur:

  • Die bevelvoerder
  • Groepshoofde
  • Seksiehoofde
  • Sekere spesialis lessenaar-offisiere
  • Die SAP se Tin/Onlus-eenheid
  • Die SA Spoorwegpolisie – veiligheidsafdeling
  • NI se “meeter en greeter
  • SAW – AMI (destyds dikwels brig Thirion)
  • Soms die veiligheidsafdeling van die Gevangenisdiens – al ons kliënte was daar aangehou.
  • Soms het ‘n SAP-kapelaan met Skriflesing en gebed geopen en dan sommer gebly en na alles geluister.

Die SA Polisie is landswyd verteenwoordig deur sy polisiestasies, van Simonstad tot by Beitbrug en van Durban tot Hondeklipbaai. Destyds was die hele SWA ook verteenwoordig by die Sanhedrin.

Daar was ‘n Magsorder met die titel: Versekering van Landsveiligheid. Alles van veiligheidsbelang is daarkragtens van die plaaslike polisie na die plaaslike veiligheidstak deurgevoer en elke insident van onrus, klipgooi of staking is onder die aandag van die onluseenheid gebring. Insurgensie en landmynvoorvalle is deur die SAP-Tin en die plaaslike veiligheidstak gedek. So was daar die ANC-lessenaar wat vertel hoeveel mense uitgewyk het in die verslag-periode. SWA se “nuus” was ook baie interessant.

Net soos die speurders soggens vroeg – hier rondom 06:00 – elke stasie se misdaad-opgawe verkry het, het ons ook met die veiligheidstakke geskakel en die statistiek bekom.

Elke lessenaar het die belangrikste gebeure en verwikkelinge genoem, die SAP-Tin het statistiek verstrek, Onlusteëenheid het statistiek verstrek,  die spoorwegpolisie het vertel hoe die spoorweë, hawens, pyplyne of lugdiens “onder skoot” gekom het.

Die SAW en NI het sover ek kon onthou nooit iets van belang voorgedra nie. Die spoorwegpolisie het aktief deelgeneem en hulle het interessante gevalle voorgedra bv. waar limpetmyne op die spoorlyn geplaas was en die Trans-Natal dit afgetrap het sonder nadelige gevolge.

Een aangename aspek van veiligheidswerk was die feit dat ek dit uit hoofde van my amp verneem het voor dat ek dit in die koerante gelees het. Soms het dit vir my gevoel ek weet “alles” wat in die land aangaan.

1973: Die Kruitvat in Durban

‘n Oud NI-lid skakel my (2023-12-13) en ons gesels oor die “ou” dae in Durban; ek was gedurende 1973 op hoofkantoor en hy is in Durban in  die veld – die veld wat toe ‘n kruitvat was. Hy en lede van die veiligheidstak het brandpunte besoek en van die polisie aan diens het vir 48-uur geen slaap gehad nie.

Brig TM Bisschoff (afdelingskommissaris) en kol  Mouton was van die uniform-kant in bevel terwyl kol FMA Steenkamp van die veiligheidstak in bevel was van inligting. Dit  is baie duidelik gestel dat daar geen kommunistiese agitasie agter die arbeidsonrus was nie en die Vorster-regering het dit so aanvaar en dienooreenkomstig opgetree – premier Vorster het byvoorbeeld so ver gegaan om op aanbeveling ‘n openbare verklaring uit te reik, waarin hy werkgewers gemaan het om beloftes wat hulle teenoor hulle werkers gemaak het gestand te doen en om lewenswaardige lone te betaal. Vervolgens het adv Vorster die Wiehahn-kommissie aangestel om die arbeidsituasie in die land op nuwe voet te plaas – ‘n stap wat die permanensie van die stedelike swart bevolking implisiet erken het en wat Prof Nic Wiehahn self voor die WVK getuig het ten doel gehad het om Apartheid te begin afbreek.

Die leiding van polisie-kant was uitstekend, ook danksy kolonel Steenkamp se goeie kontak met prins Buthelezi en deur hom die Zoeloe-koningshuis, wat meegewerk het om die emosies te kalmeer sodat geen ernstige voorvalle plaas gevind het nie (kolonel Steenkamp het op Eshowe in Zoeloeland grootgeword en kon Zoeloe vlot praat).

‘n Uiters plofbare situasie – potensieel veel meer so as byvoorbeeld die latere Soweto-insident van 16 Junie 1976 – is met oordeelkundigheid en onderhandeling suksesvol ontlont. Dis nie die polisie se taak om werkers te verplig om hul werk te hervat, of nie-gewelddadige politieke opmarste te probeer blokkeer nie. Die polisie is slegs daar om lewens en eiendom te beskerm deur wet en orde te handhaaf, altyd met  respek vir basiese menseregte van byeenkom en vreedsaam protesteer – snaaks, mens dink onwillekeurig aan die nuwe SAPS se optrede by Marikana.

Ek en die NI-lid was albei studente aan die Natal Universiteit (Durban) en ons was goed bewus van die aktiwiteite op die kampusse. Ons het gesels oor die rol van sekere dosente en Nusas-studente  met hulle Wages Commission wat van 1960 tot die laat-tagtigs ongeregtighede en uitbuiting van werkers aan die kaak help stel het. Ons het gesels oor die “belhamels” agter hierdie projekte.  Mens wonder tog of hierdie lefties ooit erkenning vir hulle destydse rol as agente van verandering sal geniet? Die manne was dapper om teen die stelsel op te gestaan het.

Durban-polisie se strategies-sensitiewe optrede in 1973 gedurende die enorme opmarse deur Durban se hoofstrate en sake-kern staan in skrille kontras tot die 1975 SAW-inval in Angola en die SAP optrede tydens die 1976-onluste wat in Soweto begin het.  (Soos ek gesê het, ek was destyds die veiligheidstak se skakel met die Departement vir Inligting en mnr More het my op 16 Junie 1976 geskakel en gevra wat in Soweto aangaan? Ek het toe uitgevind dat die skoliere ‘n opmars gehou het, wat die plaaslike SAP toe probeer stop het  –  Afrikaans as onderrig-taal was een van die faktore wat tot ongelukkigheid gelei het. Strategies beskou was 1973 ‘n plus-punt maar 1975 en 1976 het negatiewe gevolge ingehou, veral wat ons skakeling met Afrika en die breë wêreld-mening betref.)

Verraaiers

Die  inligtingsgemeenskap het baie super-spioene gehad – baie spioene is geopenbaar en ander nie. Baie gaan steeds voort met hul lewens. Ons het nie baie verraaiers in die inligtingsgemeenskap gehad nie. ‘n Paar gevalle wat ek onthou is:

Die geval van Arthur McGiven (NI) het opslae verwek. Wyle Paul Celliers van NI het my die hele storie vertel. McGiven se oorlopery het tot gevolg gehad dat ons man in Genève haastig sy pos moes ontruim. Brig Johann Coetzee het na Switserland gegaan om ons man daar, RS 167, of te wel majoor Craig Williamson, veilig na die RSA terug te bring. Ek het brig Coetzee by Jan Smuts-lughawe afgehaal en hy het my vertel hoe hy ons kollega “uitgebring” het.

Die geval van kaptein Dirk Coetzee is ontsettend interessant. Ek het vir Dirk geken en ek het met brig Goosen gaan praat en vir die brigadier gesê dat ons hom nie moet aankla nie en dat hy eerder vir Dirk Coetzee na my seksie moet stuur en nie na die uniformtak nie. My woorde was: “Iemand wat in die hart van die hoer opereer moet by ons bly”. Dirk Coetzee is verplaas en deur die hooflanddros van Pretoria verhoor. Hier is ‘n uitstekende voorbeeld van hoe dinge reg gedoen is, i.p.v. dat die “regte ding” (in terme van beste uitkoms) gedoen is.

In die geskiedenis van die SA Polisie het niemand ons meer skade berokken juis as kapt Dirk Coetzee nie! Ons het die saak verkeerd benader. Ons moes met wysheid opgetree het. Nie die ANC of die PAC het ons soveel skade berokken nie – maar die generaal was wetties reg!

Daar was wel ‘n paar ander minder bekende gevalle in ons geledere maar ons laat dit daar.

·        Nog ‘n geval van: “Hell, hath no fury like a Security Policeman scorned!”

Nog ‘n lid het teen ons gedraai en baie van ons geheime in die oortreffende trap uitgelap het, so  reg in die kraal van ons voormalige opponente. Hy was ‘n goeie veiligheidspolisieman totdat hy en ‘n senior offisier vasgesit het, toe draai hy teen ons agv die offisier se optrede teenoor hom. Alhoewel die offisier “reg” was, was sy optrede onwys en ons het die groot oorlog verloor. Ek is genooi om in twee TV-onderhoude deel te neem om “ons kant” van die storie te vertel (oor John Vorsterplein en Winnie Mandela en die rol van Stratkom in haar lewe).

Die Stryd tussen Plig en Gewete

Ons moet ingedagte hou dat premier Vorster  se broer, ds Koot Vorster, die moderator van die NG Kerk was. Op ‘n stadium is die hoofkapelaan ‘n luitenant-generaal in die polisie! In daardie dae kon ‘n kapelaan slegs vorder tot genl-majoor.

Elke Christen-polisieman het soms ‘n worstelstryd – ook ‘n stryd tussen plig en gewete. Almal van ons gaan eendag geoordeel word!  Wat is eties en wat is nie eties nie? Ek is egter ‘n sensitiewe persoon met ‘n sterk gewete. Om die Skrif te buig, om ons optrede te regverdig was teen my beginsels. ‘n Saak is net reg of verkeerd. God het ons – die polisie – beklee met die Swaardmag van die Staat en die SA Polisie is die primêre gesagsorgaan van die staat en as sulks moet ons altyd regverdig, billik en eerlik optree. 

Ek ontmoet my Engelssprekende kleinneef, nou woonagtig in die VSA. Hy is geskok toe hy hoor ek was in die veiligheidspolisie. Na sy militêre opleiding het hy ‘n jaar gratis vir die SA Raad van Kerke gewerk – om soort van boetedoening te doen. So verskil ons waardes!

Ek onthou een beriggewer – sy Vader was ‘n speuroffisier – het gebieg dat hy ‘n “spioen op die kampus” was, maar die storm het gou oorgewaai. Duidelik was hy nie in die wieg gelê om ‘n waarnemer, ‘n bron of ‘n beriggewer te wees nie. Ek het simpatie met die voorval gehad. 

Inperkings: Bybelse gronde

Eendag by die Sanhedrin bring ‘n offisier die volgende onder ons aandag. Ten eerste verwys ek u na die Bybel – ek gebruik die nuwe lewende vertaling (NLV):

  • Salomo reken af met Simeï

36 Daarna het die koning Simeï laat kom en vir hom gesê: “Bou vir jou ’n huis hier in Jerusalem en kom woon hier. Maar jy mag nie uit die stad weggaan om enigiets elders te doen nie.   37 Die dag as jy oor die Kidronspruit gaan, sal jy sekerlik doodgemaak word. Daarvoor sal jy net jouself moet blameer.”

 38 Simeï het geantwoord: “Ek aanvaar u uitspraak. Ek sal doen soos die koning my beveel.” Simeï het toe ’n geruime tyd lank net in Jerusalem gebly.

 39 Ongeveer drie jaar later het twee van Simeï se slawe weggeloop na koning Akis seun van Maäka, koning van Gat. Toe Simeï dit hoor, 40 het hy sy donkie opgesaal en na Gat toe gegaan om hulle te gaan soek. Toe hy hulle kry, het hy hulle na Jerusalem toe teruggebring.

 41 Salomo het verneem dat Simeï uit Jerusalem na Gat toe gegaan en teruggekom het. 42 Hy laat roep toe vir Simeï en vra: “Ek het jou tog voor die Here ’n eed laat aflê dat jy nêrens sou gaan nie, want dan sal jy sekerlik sterf. En jy het toe geantwoord: ‘Ek aanvaar die uitspraak. Ek sal maak soos u sê.’ 43 Hoekom was jy dan nie getrou aan jou eed voor die Here nie? Hoekom het jy nie my bevel gehoorsaam nie?”

44 Die koning het verder vir Simeï gesê: “Jy onthou sekerlik al die slegte dinge wat jy teenoor my pa, koning Dawid, gedoen het. Mag die Here jou daarvoor straf. 45 Maar mag ek die ryke seëninge van die Here ontvang, en mag daar altyd een van Dawid se afstammelinge op hierdie troon sit.” 46 Op bevel van die koning het Benaja seun van Jojada toe vir Simeï buitentoe geneem en hom doodgemaak.

47 Nou het Salomo ten volle beheer oor die koninkryk gehad. 

  • Dié is as voorbeeld voorgehou van die eerste inperking wat nogal in die Bybel voorgekom het.

1976 – Soweto Onluste

Na jare van relatiewe vrede en kalmte breek die Soweto-onluste uit. Dit is nog ‘n spyker in die doodkis van Suid-Afrika se détente-pogings. Dit is veroorsaak deur die onoordeelkundige optrede van die plaaslike polisie op 16 Junie 1976 – vandag ‘n vakansiedag. Die polisie het die skoolkinders se optog probeer stop, eerder as om hulle bloot net te laat marsjeer het (soos wat wel in Durban gedoen is). Die polisie-kontingent was te klein om die menigte vreedsaam te kon blokkeer, sodat die konfrontasie van die kinders probeer blokkeer, uitgeloop het daarop dat op hulle geskiet is. Hector Pietersen, ‘n blote kind, is gedood deur ‘n polisie-koeël en word ‘n internasionale ikoon.   Dis jammer die polisie het nie beheersd opgetree soos in Durban gedurende 1973 nie. Na alles gesê en gedaan, was dit maar net skoolkinders wat in Soweto in die strate gemarsjeer het omrede hulle ontevrede was dat sekere vakke in Afrikaans aangebied is.

Ek vra myself af wat sou gebeur het indien ons die kinders bloot net toegelaat het om hulle optog te voltooi? Kom ek vra: watse skade sou landsveiligheid gelei het as ons net die optog gemonitor het?

Die eindresultaat was landswye onrus! Voorblad-nuus die wêreld oor (juis presies toe premier Vorster in Duitsland met Dr Kissinger van die VSA in belangrike beraad was, om détente te probeer red).

Mnr Ronnie Kasrils het my vertel dat die Soweto-onrus weer impetus aan die bevrydingstryd gegee het.

1977: Steve Biko

Gedurende 1977 sterf Steve Biko in polisie-aanhouding. (Hy was jare gelede ook op Natal Universiteit). Hy was ‘n aanhanger van die swartmag-ideologie en ek het by myself gedink dit pas eintlik mooi in by die land se beleid.

Ek het enkele opmerkings:

(1) As ‘n jong kaptein besoek ek die VSA en wanneer mense hoor ek is van Suid-Afrika dan wil hulle weet waarom ons Biko doodgemaak het. Dis ‘n moeilike saak om te verdedig.

(2) In Pretoria is die HF Verwoerd-hospitaal vernoem na die Steve Biko-hospitaal. Wanneer mens van noord na suid in Steve Biko-staat ry en mens gaan oor die bult dan lê Wonderboom-Suid voor mens en dan sien mens in groot letters Steve Biko-hospitaal.  Voortrekkers-weg  is herdoop tot Steve Biko-straat. Ons het loshande die politieke oorlog verloor.

(3) Het ons veiligheidspolisie-kollegas in die Oos-Kaap met oogklappe deur die lewe gegaan? Want deur Steve Biko te laat sterf, het ons ‘n internasionale martelaar of te wel ‘n wêreldbekende ikoon geskep. Het ons nie in die hande van ons opponente gespeel nie? Was ons almal onsensitief vir die toekoms van die land en dit wat ons vir ons kinders nalaat?

(4) Het ons destydse generaals ooit beleid geskep wat marteling in aanhouding verbied het (soos wat kol Steenkamp in Durban gedoen het?)  Wat van ons politici wat beleid moes bepaal? Ek dink ons almal was in ons laer en het ernstig aan groepdenke gely. 

Getalsterkte Veiligheidstak

Ek skat die getalsterkte van die Veiligheidstak op ongeveer 3,000 lede, na aanleiding van ‘n gesprek met brig Johann Coetzee toe hy veiligheidshoof was. Die rang van die bevelvoerder het gewissel van brigadier (adjunk-kommissaris) tot luit-genl. Die SA Polisie was opgedeel in ‘n hoofkantoor met 19 Afdelings met inbegrip van die hele RSA en SWA. Die polisie het ‘n koverte afdeling gehad en daar was ook “Z”-wagte wat die kus gepatrolleer het en die veiligheidstak het ook grensposte beman. Ons het mense op “Operasie K” gehad. Daar was ook talle beriggewers landswyd gewees met inbegrip van joernaliste. 

Skakeloffisier met Mosambiekse Polisie

Daar is ‘n groot boksgeveg te Sun City en talle lede van die veiligheidstak was by die veiligheidsreëlings betrokke. Uit die bloute kry ek opdrag om na ‘n Mosambiekse polisie- en justisie- afvaardiging om te sien. Die BO gee my ‘n aansienlike bedrag geld en versoek my om die mense te trakteer en oral te vergesel. Ook moet ek skoene en klere vir hulle koop. So het ek met my baie geld aanvanklik vriendskap “gekoop” maar soos die tyd aangestap het, het ek en die Mosambiekers vriende geword – daar was wedersydse respek en ons het mekaar oor en weer besoek. As oud-Durbaniet het ek die seekos geniet en hulle weer die skaapvleis wat ek saam gebring het.

Hier het ek eerstehands die gevolge gesien as die SAW oorgrens optree en ek het ook gesien hoe lyk ‘n land onder kommunisme!!! Ek het ook hul veiligheidsminister ontmoet.

Photo in Maputo with Samora Machel banner

Straat toneel in Maputo met Samora Machel op banier

My Mozambique Police Liaison Officers

1908 - My Mosambiekse Polisie Kollegas van SNASP

1978 – 1984: Mnr PW Botha word eerste minister

Toe mnr PW Botha aan bewind gekom het, het ‘n lojale kollega (kommandant in AMI-DTI) vir my vertel dat PW Botha aangekondig het dat die polisie se vlerke geknip gaan word. Die polisie sou dan net handwapens dra. “Hennie as PW ‘n staatsgreep trek, sal jy die eerste polisieman wees wat daarvan sal hoor!” het die kollega my telefonies meegedeel. Geen formele staatsgreep is “getrek” nie (wel ‘n verraderlike paleis-rewolusie) maar met die SAW aan sy sy, en met die NVBS stewig in hand, het PW in elke opsig beheer oor die land gehad. Gesonde debatvoering het nie in die land plaas gevind nie.

1984–89: Mnr PW Botha is uitvoerende president

·        Dr LD Barnard oor ‘n gesprek met PW Botha (gebruik as inleiding tot sy outobiografie)

‘Dinge ruk handuit’ sê hy (president Botha). ‘Louis le Grange sê die Polisie het alles onder beheer, maar ons weet almal dit is nie die geval nie. Ons is in die moeilikheid. Ek weet nie wat ons moet doen nie.”

Hy sit ‘n hele ruk voor hom en uitkyk.

’Doktor, weet jy wat? Ek dink ons moet hardegat wees. As ons ondergaan, gaan ons hardegat onder.”

Maar dit was nie nodig nie. Daar was ‘n ander, veel beter, opsie.

·        “Oor my dooie liggaam”

Luit Paul Fouche skenk aan my ‘n klomp dokumente wat ek ongelukkig later vernietig het. Op een dokument vra minister Louis la Grange dat die polisie sy eie lugvleuel moet kry want die SAP sukkel om sy mense op die grense te kry. Die polisie wil vliegtuie vir die doel aankoop. Mnr Botha het in sy eie handskrif op die dokument geskryf: “Oor my dooie liggaam – daar sal net een lugmag wees en dit sal die SALM wees!”

Ons het gesukkel met lugvervoer. Eendag moes die hele veiligheidshoofkantoor onder die bevel van brig MCW Geldenhuys van Jan Smutslughawe na Kaapstad en terug vlieg. Dit was om spesiale diens  te verrig tydens die inhuldiging van ‘n staatspresident. Die SALM kon nie help nie en ons het ‘n SA Lugdiens vliegtuig vir die dag gehuur vir die retoervlug Kaap toe en terug.

Die polisie het twee vastevlerk en ongeveer vyf helikopter gehad wat die SALM gevlieg en onderhou het. Genl Steenkamp het later die eerste helikopter vir die SAP (V) aangekoop.

·        “Ek gaan daardie katnes skoonmaak!” – PW Botha

Op ‘n dag ontvang ek ‘n teleksberig gerig aan die plaaslike afdelingskommissaris, die kommissaris en veiligheidshoofkantoor. Mense het ‘vals nuus’ aan mnr Botha oorgedra as sou die plaaslike polisie in George dislojaal aan hom gewees het. Ek het lekker gelag toe ek die verslag lees. Die SP is woedend uit die Kaap na George om soos hy dit gestel het “die katnes skoon te maak”. Die informasie het daarop gedui dat die polisie glo ‘n ander party ondersteun. Na sy eie ondersoek ter plaatse is gevind dat die informasie wat aan hom oorgedra was, vals was. Die polisie het nooit ‘n verskoning ontvang nie. (Ek wens ek het die verslag gebêre.)

1982 Aanval op die ANC se kantoor in Londen

‘n Geval waaroor ek baie gepeins het, is my kollegas se bomaanval op die ANC se kantoor in Londen.

Die voormalige Nasionale Party-regering het die bomaanval op die ANC se kantore in Londen gedurende 1982 gelas om die ANC se 1981-vuurpylaanval op Voortrekkerhoogte, in die hart van Suid-Afrika se militêre hoofkwartier, te wreek, het generaal Johann Coetzee aan die WVK se amnestiekomitee gesê. Die bomaanval, ‘n “simboliese aanval”, was ook bedoel om die SA regering se “ontnugtering” met Britse gasvryheid teenoor die ANC en die SA Kommunistiese Party, en met die beweerde betrokkenheid van Britse burgers by die aanval op Voortrekkerhoogte, aan die Britse regering oor te dra, volgens Coetzee.

Nege polisiemanne is met medaljes vereer MAAR het vir die daad amnestie gekry.

‘n “Opdrag” (op die wink-wink manier, nooit formeel) is deur die politici aan die kommissaris gegee om die bomaanval op die ANC-kantore in Londen te loods. Wat het die politici gedink? Het hulle gedink die SAP is die gewapende vleuel van die Nasionale Party? (En ek weet nou nog nie wat illumineer werklik beteken nie!) 

Ek het in beginsel geen beswaar dat ANC-kantore opgeblaas word as dit bewys sou kon word dat dit ons landsbelang sou dien – MAAR dis nie polisiewerk nie. Ons werk is om wet en orde te handhaaf, om te beskerm en te dien. So ‘n daad – hoe glansryk ook al – pas nie in die polisie-etos in nie.

En die taktiese voordeel van dit doen (of die kortstondige emosionele satisfaksie van weerwraak), moes opgeweeg gewees het teen die enorme strategiese nadele wat dit meegebring het:

  • Eerstens was daardie kantore lank reeds volledig uitgerus met NI met afluister-apparaat, wat baie goeie inligting ingebring het – wat toe daarmee heen is;
  • Tweedens was dit die einde van ons voorheen hartlike samewerking met die Britse dienste;
  • Derdens en strategies die saakmakendste, is dat dit ons belangrikste buitelandse bondgenoot en beskerm-engel, Mev Margaret Thatcher, verstaanbaar hoogs die duiwel in gemaak het.

Feit is, die bom-aanval het vir die ANC geensins benadeel nie – inteendeel! Vir ons het dit daarenteen geen voordeel meegebring nie – net ernstige en blywende skade (wat vermy kon word, as daar nie dadelik gespring is om ‘n politikus te probeer behaag, eerder as om so ‘n stap se voor- en nadele eers met Buitelandse Sake en NI uit te geklaar het nie).

Genl Johan van der Merwe en ek het meer as eenkeer hieroor gesels – ons het immers ‘n boek oor die SAP se Gloriejare geskryf en hy het ook sy outobiografie geskryf. Ek het aan hom gesê die weermag se spesmagte of Nasionale Intelligensie moes eerder die daad uitgevoer het as die polisie.

Ons almal het te min gedink. Ons was baie takties ingestel en ek dink die politici het nie ‘n helder uitgewerkte plan gehad nie. (Die polisie het sy wetopgelegde taak gehad – alles was in plek by die polisie en onder normale omstandighede sou dit nie saak gemaak het wie die land regeer het nie – die polisie was daar om sy werk te doen.) Ons het 100de terreur voorvalle opgelos – maar “so what?” Het dit enige verskil gemaak? Wat het ons gedink? (Jy WEN die fisiese oorlog teen die SAKP-ANC-Alliansie maar jy verloor inderwaarheid die vrede – lees: politieke oorlog!)

Maar die destydse regering se beleid was ‘n ernstige probleem – die hele wêreld was daarteen gekant – ons  almal het ons emosies gevolg. As jong konstabel kan ek onthou hoe ons byvoorbeeld die dames (privaat mense) geleer het hoe om te skiet. Ons in die polisie was opgelei om te skiet. Met skiet bedoel ek verdedig. Ons het vir almal tuislande gegee – die Skotte, die Iere, die Belge en die Franse het hul plek MAAR waar was ons eie Afrikaanse grondgebied?

Ons denke

As lid van die veiligheidstak – ‘n persoon wat positief gekeur is – hoe kan jy die land se beleid kritiseer en sê: “Die land se beleid werk nie!” Ons het almal aan “Group-think” gely! Daar was nie plek vir gesonde kritiese denke nie. Een van ons negatiewe faktore was ook die rol van die kerk en die kapelane tydens die stryd, selfs hulle het ons met sekere Bybel-tekste wat buite konteks aangehaal is, gemotiveer. Maak geen fout, ons het wel teen die anti-Christus geveg en onthou ook die Koue Oorlog was ‘n wrede werklikheid. Die kerk het nie werklike en gewaande onreg in ons samelewing  uitgewys nie – weereens het ons nie krities gedink nie – ander het vir ons die dinkwerk gedoen.  

Plaas dat ons gekyk het wat doen die linker- en die regter-vleuels reg, plaas dat ons met ons vyande gesels en ons huis in orde kry, het ons op tydmors sessies gefokus.

Dit was eers in die laat-tagtigs, toe NI gekom het met sy sogenaamde paradigma-skuif deur te sê ons moet weg kom van die begrip van “staatsveiligheid” en dat daar objektief analiseer moet word wat die nasionale veiligheid (die nasie se vrede en voorspoed) bedreig, dat pront-uit vir die destydse regering gesê is dat dit juis ook hulle rasse-beleid is wat grootliks bydrae tot die konflik in die land…

Kommunisme in Amerika

Ek gesels met ‘n CIA-lid. Kommunisme was nie in die VSA verbied nie. Die CIA-man sê Amerika is so kapitalisties dat slegs ‘n idioot sal probeer om ‘n kommunis in Amerika te wees. 

Ondervraging en marteling

Hierdie voorbeeld is aan ons vertel tydens ons opleiding by veiligheidshoofkantoor. ’n Gelyste kommunis – ‘n dame – word aangehou en tydens ondervraging word sy herhaaldelik gevra waar adv Bram Fischer skuil. Sy sê aanmekaar net: “I can’t tell you!” Toe neem ‘n spoorwegpolisieman ‘n pen en stuk papier en gee dit vir haar met die woorde: “If you can’t say it, then write it down”. Sy het toe die adres neergeskryf.

Ek het goed in my loopbaan verkeerd gedoen maar nooit iemand in aanhouding aangerand of gemartel nie! Dit was net nie my styl nie! Ek dink die baie oorlogflieks wat ek gekyk het, die invloed van my meerderes (genl Steenkamp en my Durban-kollegas) en my baie lees oor die Gestapo en hul metodes het my so beïnvloed dat ek nooit mense aangerand het nie. Dis tog ook wetenskaplik bewese dat “inligting” wat met gewelddadige metodes bekom is, geensins betroubaar is nie!

Aan die ander kant, het ek ook nie veel ervaring van ondervraging en ondersoek van misdaad gehad nie.

Rekords

Die polisie beskik oor miljoene vingerafdrukke, kriminele rekords, foto’s van veroordeelde mense, deportasie besonderhede, en vuurwapen besonderhede. Die polisie het voltyds ook ‘n man by Binnelandse Sake geplaas om persoonlike besonderhede of reisgeriewe van verdagte persone te bekom.

“SPY vs. SPY”

Een van die spesiale take as diensoffisier te veiligheidshoofkantoor was om die amptelike pos in die verskillende possakke op die SALM-vliegtuie te Waterkloof lugmagbasis persoonlik op die vliegtuig te laai. Die SAW het die veiligheidstak se pos, na bewering, onderskep en ons moes seker maak dat die sakke op die vliegtuig gelaai word en ook laat middag moes ons weer op die lughawe wees om die sakke in ontvangs te neem. Die situasie het my aan die bekende Amerikaanse tydskrif  Mad Magazine se Spy vs Spy laat dink!

Neem nou maar “Operasie Daisy” waar die veiligheidstak en NI in die buiteland saam gewerk het en al Craig Williamson se verslae wat in die diplomatieke sak gepos is, is deur die SAW onderskep is voor dit Pretoria bereik het – inderdaad Spy vs Spy in die ergste graad. Ons het later uitgevind wie die Suid-Afrikaanse soldaat met diplomatieke immuniteit was, wat ons pos onderskep het.

Nog ‘n geval is die heimlike “oopmaak” een nag van genl HJ van den Bergh se amptelike kluis deur die militêre inligting, wat toe vir mnr PW Botha ingelig het dat die Buro vir Staatsveiligheid ‘n lêer op hom het.

Deur my loopbaan het ek gevind dat NI ook meeluistering gedoen het op senior-lede van die Polisiemag. Natuurlik kon ek dit begryp toe dit aan my meegedeel is. Die land was besig met verandering en senior mense van die polisie en weermag kon ‘n stok in die speke steek.

So ver ek weet het die polisie nooit op die weermag of NI gespioeneer nie. Genl Van den Bergh het wel ‘n lêer op mnr PW Botha in sy kluis gehad (hierdie was ‘n algemene praktyk onder intelligensie-hoofde soos J. Edgar Hoover van die FBI, juis om te sorg dat sensitiewe inligting oor BBP’s wat onder die intelligensie-instelling se aandag gekom het, nie in die algemene lêer-stoor gehou word waar dit dalk deur laer range te siene gekry kon word nie). Genl van den Bergh het aanvanklik die ou Militêre Inligting kantoor (en kluis) ge-erf gehad, sodat die Weermag dit een nag klandestien kon oopmaak, die lêer gefotografeer en aan PW Botha gewys het – wat toe woedend by premier Vorster aangedring het op genl Van den Berg se ontslag.

Genl van der Merwe se kommentaar:

Hallo Hennie

NI het beslis op MI gespioeneer soos dit ook baie duidelik tydens die uittrede van sekere generaals en ander lede van die Weermag op die lappe gekom het.

Trouens tydens ons ondersoek, wat onder leiding van Klaus van Lierus gestaan het, is dit bevestig.    Hulle het egter so ‘n gemors daarvan gemaak dat die hele ondersoek weinig opgelewer het.   Die Steynverslag sal dit ook bevestig.

Ek is nie bewus daarvan dat die Veiligheidstak ooit by enige spioenasie op MI betrokke was nie.   Dit was beslis nooit op bestuursvlak bespreek of goedgekeur nie.

Ek het ook nooit eniger verslag in die verband gesien nie.

Groete

Johan v d Merwe (circa 2008)

·        Minister Pik Botha se doen-en-late…

‘n Persoon wat ook goed aan die veiligheidstak en NI bekend was omrede sy riskante persoonlike indiskresies was minister Pik Botha – veral omrede dit feitlik seker was dat ander lande se dienste ook van hierdie “na-uurse aktiwiteite” bewus sou wees en dat sy optrede dus ‘n sekerheidsrisiko kon inhou, gegewe die risiko vir afpersing. Volgens wat genl Johan van der Merwe my meegedeel het, het dinge die punt bereik dat ‘n anonieme brief persoonlik aan mnr Botha op ‘n vliegtuig oorhandig het met die waarskuwing dat sy “avonture” bekend is en dat dit gerade is dat hy bedank. Met sy gewone bravade het die agbare minister toe dadelik die kommissaris van polisie uit die vliegtuig gebel om te kla hy word afgepers! Die polisie het toe maklik vasgestel dat dit ‘n NI-beampte was wat die brief aan Botha oorhandig het (verder weet ek nie wat die agtergrond was, en of NI dalk op aandrang van hoër gesag gehandel het nie).

Pik het die Transvaalse leierskap van die NP in die oog gehad, maar daarvoor moes van dr Mulder ontslae geraak word, wat  toe die Transvaalse leier was. Pik het ook sy mes in gehad vir premier (later president) Vorster. Ek het in-diepte gesprek gehad met die BBP-beskermer van die veiligheidstak wat toegewys was aan regter Erasmus, wat deur premier PW Botha aangestel is om die sg. Inligtingskandaal te ondersoek. Hierdie kollega was een van die jongste Broederbond-lede, toevallig woonagtig in Pik Botha se destydse kiesafdeling Wonderboom en dus bekend aan hom. Hy is op ‘n dag gevra om regter Erasmus per motor te neem na die woning van minister Botha in Pretoria, waar hulle kort voor middagete aangekom het. Kennelik op sterkte van sy Broederbond-lidmaatskap, is die kollega genooi om saam te eet terwyl Pik Botha vir Erasmus in detail voorgelig het hoe hy wat Erasmus is, vir Vorster en Mulder moet sink. Die kollega het dadelik besef dat hierdie geen bona fide regterlike ondersoek was nie. Dit was ‘n skaamtelose gekonkel vir politieke voordeel, met  ‘n vooraf-bepaalde uitkoms. Hy was so onthuts daaroor dat hy later uit die Broederbond bedank het (in dieselfde trant, sal dit onthou word dat al die klagtes teen dr Eschel Rhoodie later deur die appèlhof uitgegooi is).

Andere is beter geplaas om te skryf oor min Pik Botha se insig (of gebrek daarvan) ten opsigte van die bepaling van Suid-Afrika se destydse buitelandse beleid.

Slotsom: as mens beoordeel wat alles verkeerd geloop het, moet die rol van naakte persoonlike ambisie en wedersydse ondergrawing onder leidende Afrikaner-politici, nie uit berekening gelaat word nie.

Beriggewers

In die professie van die bedryf van inligting het die polisie altyd eerbaar en met professionaliteit opgetree. Ons het duisende mense “aan die anderkant” gewerf en vir hulle die verskering gegee dat ons hulle nooit sou “blaas” nie – of meer korrek gestel: Ons sou nooit hul identiteit openbaar nie. Tot vandag het ons woord gestand gehou! Ons weet die Russe het een van hul top-spioene met  ‘n posseël vereer. In Suid-Afrika egter, is die gebruik om strate te vernoem na helde van die stryd – wat egter oud-beriggewers van ons was! Steeds sê ons maar niks!

Eie-denke versus groep-denke

EXODUS 23

Verskillende ander wette.

  1. Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. En jy mag in ‘n regsaak geen getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie.

Aan die anderkant: Die Here gebruik minderhede en swak mense om oorwinnings te behaal in Sy naam.

  • Die hakkelende Moses het sy volk uit Egipte gelei.
  • Die seun Dawid het vir Goliat verslaan.
  • Die Gideonsbende van 300 man het die oormag van Moabiete verslaan.
  • Paulus, met die doring in die vlees het God magtig gebruik.

Ek het reeds op skool wyd gelees en baie oor sake gedink. In die polisie het ek gevind dat groep-denke die bo-toon voer. By genl Steenkamp egter – toe hy nog in Durban was – het ek geleer dat elke mens, selfs die jongste konstabel, se opinie gehoor moet word.

Om aanvaar te word moet jy soos al die ander wees: Is jy ‘n “denker” en ‘n man met jou eie idees word jy gou geïsoleer, die groep stoot jou eenkant – jy pas nie in die groep (trop?) nie. Soms word jy verdra omdat jy bv ‘n harde werker is.

Kom ek gee twee voorbeelde:

·        Apartheid: “Separate but Equal?”

Ek het sosiale antropologie as een hoofvak gehad. Ons het bv die Zulu-kultuur bestudeer en ek het daar agter gekom watter geweldige rol “tradisionele bier” in die sosiale en maatskaplike lewe speel. Nou kom ‘n man na die stad en hy stuur die eerste paar maande geld na sy vrou in die tuisland. Later raak hy “weg”. Sy vrou kom stad toe om hom te soek. Sy het twee keuses om aan die lewe te bly: Brou bier en verkoop dit of verkoop haar liggaam. Nou kom ons en arresteer haar vir die brou van bier – want die (liberale) stadsraad het vir eie wins ‘n monopolie op die brou en verkoop van bier. Die winste word vir opheffingswerk gebruik. Nou verstaan my swart-kollega nie waarom ons gekant is teen kommunisme, maar aan die anderkant nie sy mense toelaat om handel te dryf nie.

Ons het net twee stelle selle: Selle vir witmense en selle vir die res. Nou word ‘n ryk Suid-Afrikaanse Indiër, ‘n maatskappy-direkteur, gearresteer en word hy in die “selle van die res” aangehou.

Ons het net twee soorte toilette gehad: “Eerste klas en geen klas”. ‘n Indiër-dame is ‘n professor aan die universiteit van Durban-Westville. Waar dink u moes sy die toilet gebruik? In vooraanstaande winkel mag sy nie die toilet gebruik nie! Moet sy die vuil toilet gebruik by die taxi-staanplek?

Bus-ry aan diens. In Durban ry die SAP verniet op die munisipale busse. Nou werk ons ondersoek en navrae, ek en ‘n swart lid. Daar is rooi busse vir blankes en groen busse vir ander rasse. Ons haal saam ‘n groen bus. Ons neem ons verklarings en toe ons die rooi bus wou haal, weier die busbestuurder om my kollega aan boord toe te laat. “No …… not on my bus!!, sê die busbestuurder. Ek sê hy is ‘n polisieman en werk saam met my op ‘n saak en ons is aan diens. Ons moes maar af klim en vir die groen bus wag.

‘n Kollega oortree die ontugwet en na arrestasie sny hy sy polse. Was die bepalings van die ontugwet wat geslagtelike verkeer oor die kleurskeidslyn heen verbied het enigsins regverdig? En daar wás lede van die Mag (ook plaasboere en predikante) wat die ontugwet oortree het. Ek bestuur die patrolliewa op nagdiens en my swart bemanning en ek is geheg aanmekaar. Hy het my baie vertel dat ek nooit bevrees moet wees nie, hy sal my rug beskerm. Ons ry en dis nag en nou begin ons gesels. Waaroor kan mens gesels? Net dit wat gemeenskaplik is tussen ons. Hy vertel my van lede van die Mag wat ontug gepleeg het.

Ons “Group Think” het gedink apartheid is gaaf. Dit gaan ons redding wees. Nou dink ons: Die wat nie saam met ons stem nie is dislojaal. Hulle is dislojaal en liberale denkers en speel  boetie-boetie met die massas. Die instituut vir rasseverhoudings en die swart serp-beweging wys die ongeregtigheid uit. Ons dink hulle is dislojaal.

  • Het die polisie nie ‘n regsplig gehad om die regering voor te lig oor ongeregtighede nie? Dink maar aan die verskuiwing van mense en water is nie dadelik beskikbaar nie.
  • Behalwe ‘n klompie Smuts-Afrikaners en ‘n paar lofwaardige maar destyds gehate uitsonderings onder Afrikaner-akademici (veral leidende teoloë soos drs Beyers Naudé, Ben Marais en Albert Geyser) het almal vir die Nasionale Party gestem terwyl die stille meerderheid ons haat! Ek het ‘n paar keer met prof Willem Kleynhans van Unisa gesels. Ons het ‘n gemeenskaplike vriend gehad. Hy wou weet waarom die veiligheidspolisie in hom belanggestel het? Ek het hom verduidelik dat ons ‘n “inligtingsorganisasie” was.
  • Desondanks het ons nie ons eie tuisland gehad nie, maar aan “wit” gekleef. Wie of wat praat “wit”? Wat is “wit” se kultuur, of kerk? Ek praat Afrikaans, is net so trots op my taal en kultuur as die Zoeloe of Xhosa of welke ander, maar strategies het ons nooit vir hierdie werklikheid staatkundig voorsiening probeer maak nie – ons “etnies-gebaseerde” beleid was dus nie konsekwent nie, en daarom maklik af te maak as blote rassisme.

Inkatha se beoogde mars na Shell House

Inleiding

Gedurende die vroeë 1990’s is ek te Welkom gestasioneer. Die plaaslike leier (naam weerhou) van Inkatha kom my spreek. Hulle wil deur Thabong  marsjeer, verby “D”-hostel na die stadion. Ons bespreek die saak. Ek ken die Zulu-kultuur en tradisies.

(Net as ‘n voorbeeld: Twee swart speurders vra my om ‘n verkragter vir hulle te arresteer. Die man is in ‘n biersaal langs Suidkus-pad. Toe ons voor die biersaal stilhou vra die een swart speurder my om my pet en rewolwerlyfband af te haal, wat ek toe baie teensinnig doen. Sy verduideliking was: “Die mense sal dink ek kom baklei”. In die biersaal word ek hartlik gegroet en word ek gevra wat die doel van my besoek is. Ek verduidelik dat ek die twee speurders vergesel en dat ons hier is om ‘n verkragter te arresteer. Die drinkebroers gee hul goedkeuring dat ons die verdagte arresteer en hulle stap almal saam na die patrolliewa. Les geleer: Moet nie aantrek vir baklei nie. Daar is ‘n maklike manier en ‘n moeilike manier!)

Ek deel die Inkatha-man mee dat ons hulle sal ontwapen by die eerste versamelpunt. Hulle sal hul wapens op ‘n platbak-polisievragmotor laai – hulle sal dan ongewapen deur Thabong marsjeer en voor D-hostel verby gaan op pad na die stadion. Hy huil – van teleurstelling, van magteloosheid en woede! Hy sê ek wil hulle ontman!

Hulle  doen toe so – ek stap saam met Inkatha deur Thabong. Ek stap by ‘n winkel in om ‘n koeldrank te koop. Die winkelier weier om ‘n koeldrank aan my, ‘n wit polisieman in uniform, te verkoop! So was die mense teen ons! En wie se skuld was dit?

Die Beoogde opmars na Shell House

Hier gedurende 1993 wil Inkatha na Shell House marsjeer aldus my bevelvoerder. Ek sê vir die generaal: “Laat Inkatha toe om te marsjeer maar ontwapen hulle voor die tyd”. Die generaal het my voorstel met minagting verwerp en daarna heeltemal afsydig teenoor my geword. Hy het ook geskimp dat hy kommissaris van polisie gaan word. Ek het begin wonder watse toekoms ek in die Mag het? Die generaal het my totaal geïgnoreer. Gelukkig het ek baie siek geword en die Mag weens mediese redes as ‘n brigadier op 47 jarige ouderdom verlaat. Ek het eers later agtergekom ek lei aan erge PTSS. O ja, en die Prins het toe nie Koning geword nie!

Inkatha se mars na Shell House

Hier is Wikipedia se weergawe van die Inkatha opmars na Shell-huis en die gevolg was ‘n slagting waarin 19 mense gedood is:

Shell House massacre

The Shell House massacre was a 1994 shooting incident that took place at Shell House, the headquarters of the African National Congress (ANC), in central Johannesburg, South Africa in the lead up to the 1994 elections.

Description

Shell House (not to be confused with Luthuli House, where the ANC later relocated) at 51 Plein Street, Johannesburg, South Africa was the headquarters of the ANC after the organisation was unbanned until 1997.

On 28 March 1994, about 20,000 Inkatha Freedom Party (IFP) supporters marched to Shell House in protest against the 1994 elections that the IFP was intending to boycott.

The ANC people opened fire, killing nineteen people.[3] At the time, guards claimed that the IFP supporters were storming the building or that a tip-off had been received of that being planned.

The Nugent Commission of Inquiry into the killings rejected that explanation. The commission’s conclusion was that the shooting by ANC guards was unjustified.[citation needed]

The incident reflected the rising tensions between the ANC and IFP, which had begun in the 1980s in KwaZulu-Natal and had then spread to other provinces in the 1990s. The IFP claimed that the ANC was intent on undermining traditional authorities and the power of Zulu chiefs; the ANC saw a power struggle as the demise of apartheid was finalised.[citation needed]

 Aftermath  

The incident triggered a state of emergency across eleven magisterial districts in the East Rand, as well as the whole of the KwaZulu and Natal province.[4][2][5]

In June 1995, ANC and then President Nelson Mandela admitted that he had given the order to defend Shell House, even if it should require killing people.[6] In 1995 Willem Ratte laid a complaint of murder against president Nelson Mandela at the police headquarters in Pretoria[7] for the Shell House massacre.

The Truth and Reconciliation Commission granted amnesty to 11 people concerning the massacre.[1]

Ek dink met ‘n bietjie gesonde verstand kon die hele slagting vermy gewees het! Die ANC het ook die SAP gefnuik om ‘n behoorlike ondersoek te doen.

WAT SÊ EN DINK EK OOR ALLES? WAT IS MY OPINIE OOR SAKE VAN POLISIEBELANG?

·        SAP

As daar een organisasie is wat volgens die letter van die wet moet optree is dit die polisie.

Een van die probleme (of voordele) van die SAP is die feit dat die SAP 24 X 7 X 365 aan diens is. Misdaad is nie ‘n “Maandag tot Vrydag – 07:30 tot 16:00”-taak nie. Misdadigers word nie tydens kantoorure aangekeer nie, maar hoofsaaklik in die nag, derhalwe moes ons baie vrywillige oortyd werk.

Ons het nie die tyd om baie opleiding te doen nie, ons het nie tyd vir fancy planne en strategieë nie. Daarteenoor het die weermag baie tyd om planne te beraam, na-betragting te hou, en sy mense volledig op te lei.  En dis ‘n land se nasionale (burgerlike) Intelligensiediens se taak by uitstek om die deeglike analises te doen wat nasionale strategieë van die nodige feitelike onderbou voorsien.

Die SAP het omvattende Staande Orders, Magsorders en feitlik daagliks instruksies van hoofkantoor ontvang. Ons het ook die strafproseswet, regspraak en statute waarvolgens ons moet optree. Ek het gedink dis oorbodig om vir die SAP departementele strategieë op te stel. Die leitmotiv moet wees: Wanneer iemand die wet breek of die reg oortree dan moet die polisie die saak volledig en behoorlik ondersoek en aan die vervolgingsgesag voorlê.

Soos die bevolking, is die polisie onderworpe aan die reg en nie bo die reg verhewe nie. In die SAP-kollege het kol Solomon vir ons geleer: “The Police are subject to the Law like any other citizen.”

Ek is ook van mening dat die polisie nie ‘n “evil mind” moet hê nie. Die polisie moet ALTYD ook met “skoon hande” na die hof kom.

·        Kommentaar oor polisie-inligting

Die polisie stel primêr in die bedrywighede van mense en in hul doen en late belang – sekondêr in die bedrywighede van organisasies. Ons stel hoofsaaklik belang in onwettige bedrywighede van mense, dink bv aan die polisie se “drank, dobbel en ontug-afdeling”, onwettige goud en diamant verkope, handel in bedreigde spesies, en mensehandel. Daarom beskik die polisie oor kriminele sowel as veiligheidsinligting m.b.t. die doen en late van mense. Baie inligting was beskikbaar gewees oor verdagte persone van alle kategorieë.

Die polisie het oor baie inligting beskik, bv. oor die toestand in terreur-opleidingskampe oor die aardbol heen waar ons mense opleiding gekry het. Ons het selfs inligting en vingerafdrukke van die pre-Unie se dae. Die “Diamond Detective Branch” wat in Kimberley gestig was, was ook ‘n baie ou eenheid wat later in die Goud en Diamant-eenheid van die SAP opgeneem is.

·        Hoe beter jy jou onderwerp ken, hoe groter is sy voete van klei.

Ek het baie mense en selfs eenhede bewonder en baie in die bres vir lede, offisiere en eenhede getree. Maar hoe dieper en dieper jy jou onderwerp ondersoek hoe meer vind jy die mens is feilbaar, jy vind hulle het voete van klei. Ek kan voorbeelde gee, maar verkies om slegs by my stelling te bly.

·        Prostitusie

Ek het baie prostitute gearresteer op en rondom skepe aan die Bluff se kant van Durban-hawe. Solank daar ‘n mark bestaan en daar “gewillige kopers en verkopers” is, sal mens nie prostitusie uitroei nie. Ons het almal gesien hoe die Nederlanders bv die probleem in Amsterdam aanspreek. Ek sou wou sien dat ons die bedryf reguleer en die praktisyns beskerm en vir hul ‘n veilige milieu skep waarin hulle, hul bedryf kan beoefen sonder inmenging van “pimps”.  Selfs vandag is so iets noodsaaklik.

·        Sensorskap

Ons het die publiek in watte toegedraai en beskerm teen kommunistiese lektuur en sekere ongewenste publikasies. Ons sou ‘n meer volwasse samelewing gehad het as mense kon lees wat hulle wou. Hoe weet die publiek hul moet kommunisme verwerp maar hulle mag nie die lektuur lees nie!

·        Die konsep van die staat se swaard-mag in drie funksies verdeel

Die polisie moet die gemeenskap dien en beskerm, ooreenkomstig die landswette en onder gesag van die regering-van-die-dag. Die polisie moet a-polities wees want soos sir Robert Peel in 1829 gesê het: “Die polisie is die publiek en die publiek is die polisie”. Die polisie hoort nie in die partypolitieke arena nie, en ook nie in situasies wat polities-gelade is nie. Die polisie (in blou uniforms of as speurders) moet die gehele publiek teen misdaad beskerm, misdaad ondersoek en getuienis vir strafregtelike vervolging aan die vervolgingsgesag voorlê. Die Weermag daarenteen, moet die land en sy burgers teen buitelandse aggressie beskerm. Deesdae erken baie lande dat daar ‘n derde “ge-uniformde” funksie is, wat tussen dié van ‘n polisie-diens en ‘n weermag lê: die handhawing van binnelandse orde en veiligheid.

Daar moet eintlik ‘n gendarmerie wees wat die openbare orde handhaaf deur optogte en proteste te monitor, en terreur effektief met taakmag-tipe spesialiste kan teengaan wanneer dit kop uitsteek.

Baie lande skep ook aparte burgerlike eenhede vir die inwin van binnelandse veiligheidsinlingting, soos die Amerikaanse FBI en die Britse Security Service (MI5).  Die veiligheidstak soos van ouds gekonstitueer, moes bes moontlik ook nie onder die destydse SAP geressorteer het nie – want ‘n polisiemag se assosiasie met instellings of komponente wat in die politieke spervuur kan kom, affekteer geloofwaardigheid en aanvaarding wat die gewone polisietaak erg kan benadeel.

·        Spoorwegpolisie

Twee dinge gebeur, (ek is steeds verbonde aan die SSVR):

(1) Op 15 Oktober 1985 skiet die spoorwegpolisie in Kaapstad op mense tydens die bekende en opspraakwekkende Trojaanse-perd episode. Die mense skrik toe hulle besef dis die spoorwegpolisie! Wat sou gebeur as ons vliegtuie en skepe dien gevolg ge-boikot sou word?

(2) Intussen plant iemand die gedagte in die SP se kop dat wetstoepassings­agentskappe in Suid-Afrika gerasionaliseer moet word. Alles moet onder die SAP kom, selfs die  SAUK-radio-lisensie inspekteurs, aldus my hoof.

Die gedagte ontstaan toe  dat die SA Spoorwegpolisie by die SA Polisie ingelyf moet word. Ironies genoeg het ek die brief van die SSVR na die twee kommissarisse gestuur dat die onderskeie magte moet amalgameer.

Kommentaar: Die SAP het geen spesifieke kliënte nie! Ons dien die mense van Suid-Afrika ons het geen spesifieke kliënte nie. Die spoorwegpolisie dien die spoorwegadministrasie en sien om na die belange van die spoorweë (met inbegrip van lugdiens, padvervoer, hawens, en pyplyne), Die spoorwegpolisie is die private polisie en sekerheidsorgaan van die spoorwegadministrasie, hul sien ook om na reisigers en goedere wat vervoer word.

Dit was ‘n futlose oefening om die SASP by die SAP in te lyf! Die tak: vervoerpolisiëring het later in die niet verdwyn.

Dit sou ver beter gewees het as hulle ‘n aparte nasionale Verkeerspolisie (Transport) Polisie ingestel het wat alle vervoer – met inbegrip van padverkeer en taxi’s – gepolisieer het.

·        Dirty Tricks

Is “dirty tricks” nie ‘n koverte organisasie se taak nie?

Die NVBS-stelsel en sy “group-think” het die SAP in ‘n drukgang gedruk en hier moes ons sekere take uitvoer wat nie by die polisie tuishoort nie. Neem bv die geval waar die veiligheidstak op ‘n wapenstapelpunt  afkom en ‘n “sting”-operasie reël wat die handgranate se “timers” verwyder, sodat plaaslike onopgeleide kaders wat polisiemanne se huise wil aanval hulself in die proses opblaas.  Hoort so iets by die polisie?

·        Ds (dr) CF Beyers Naude

Hy is ‘n Boerseun wat uit die spreekwoordelike laer uitgebreek het en selfstandig begin dink het. Vandag is daar nou verskeie strate in Suid-Afrika vernoem na die wêreldbekende dr Beyers Naude – voormalige NG Kerk-predikant en Afrikaner Broederbond-leier. Hy het ‘n katarsis beleef en die onreg van apartheid raak gesien. Hy het teen die heersende bestel gedraai en so wêreldbekend geword en hy het geen tekort aan fondse gehad nie. Hy het met die ANC saamgewerk – maar was geen kommunis nie!

Ek en ‘n kollega het hom eendag gesien met ‘n mede-ingeperkte gesels. Ek het dadelik my hoof geskakel, maar hy was nie beskikbaar nie. Ek het toe met die BO van die veiligheidstak, genl Frans Steenkamp, gesels en hy het tot my verligting nie toestemming gegee dat ons hom arresteer en aankla nie. Enige mens met verstand kan die wysheid van daardie stap insien. Die generaal het insig gehad. [Maar onthou ek was ‘n polisieman en die “bekamping” is steeds hofgerig en hy pleeg ‘n misdryf, maar omdat beleid ter sprake is moet sulke ”opspraakwekkende”  arrestasies met hoofkantoor uitgeklaar word.]

Ek het hom in video-opnames gesien – hy was ‘n wonderlike, eerbare mens en tog ons opponent. Dit gaan my verstand te bowe dat ons hom as “vyand” beskou het en dat die politici nie eerder met hom gesels het nie en die situasie in ‘n wen-wen probeer omskep het. Deur dom, onhandige en lomp optrede het ons soveel mense van ons vervreem, maar onthou: ons was in ons “laers” saamgetrek en wie wil met ‘n volksverraaier gesels?

·        Mev Winnie Mandela

Enkele opmerkings oor wyle mev Winnie Mandela – die “Moeder van die Nasie” – William Nicol-hoofweg se naam is verander en na haar vernoem. Sy was op die politieke terrein baie aktief en ‘n doring in die veiligheidstak se vlees. Ons moet onthou dat haar “steun” groter as ons “steun” was. Hoe meer ons met haar te doen gekry het, hoe groter het haar aansien geword.

Sy was aanvanklik met pres Nelson Mandela getrou en toe het hulle geskei. Ek het nie met die ANC gewerk nie en wil net noem dat ons haar eerder moes ignoreer het. Ek het jare gelede reeds so gedink.

Ons het haar verban na Brandfort – dit het niks aan haar gedoen nie – sy het doodeenvoudig net haar bedrywighede voortgesit en haar wit vriende het weer onder die aandag van my lessenaar gekom. Ons het met ons optrede teen haar, en stratkom op haar gemik, het net haar beeld gebou. Ons moet altyd onthou ons is in ‘n politieke oorlog gewikkel en ons het nie mooi gedink wanneer ons teen haar opgetree het nie. En indien ons opgetree het, het ons nie die negatiewe implikasies verreken nie. Ons optrede was ook sodanig dat sy net simpatie ontvang het en elke dag net haar statuur uitgebou het.

·        Politieke oorlog: “Koppetel”

In die loop van my diens het talle vriende en kollegas gaande geraak oor ons suksesse op die grond. “Kan jy glo ons het 43 terroriste die week dood geskiet!” Ek weet net ons het 86 mense bedroef gelaat – 43 Vaders en 43 Moeders, dus nog 86 mense wat teen ons bestel gekant is!

Kom ons neem Rhodesië se bosoorlog-statistiek as voorbeeld: Daar is 100de terroriste doodgeskiet en,,,,? Rhodesië het op die ou end Zimbabwe geword. Jy wen dalk die oorlog maar verloor die vrede.

Die Britse Magte het die Boere uitgeroei en verslaan maar 59-jaar later het die Boere hul republiek gekry. Om suksesvol te wees moet jy die politieke oorlog wen!  Jy moet die steun van die meeste mense verkry. Soos reeds uitgewys die wêreld het na die tweede wêreldoorlog verander! Daar is GEEN kans dat ‘n minderheid oor ‘n meerderheid sal regeer nie.

·        Sluipmoord

Natuurlik het ek deur die jare aan sluipmoord gedink. Ek het wyd oor die onderwerp gelees. Eendag bespreek ek die onderwerp met ‘n vriend, kaptein GC Wolhuter – hy het ‘n brigadier geword en is reeds oorlede. Sy bevinding was dat die toepassing van sluipmoord nie ‘n politieke oplossing bied nie en sy rede was in die vorm van ‘n vraag: “As die Franse veiligheidsdiens vir Jean Jacques Rosseau vermoor het sou dit die Frans rewolusie gekeer het?”

Sluipmoord is ‘n futlose oefening: Jy bereik niks daarmee – nie die rewolusie gaan voort. Neem die geval van dr HF Verwoerd, eers het mnr David Pratt probeer om hom te vermoor en toe slaag mnr Tsafendas daarin om dr Verwoerd om die lewe te bring MAAR die beleid van apartheid het nog vir jare voortgeduur. Voorsprong-operasies is natuurlik ‘n perd van ‘n ander kleur! Staan mense gereed om jou aan te val, dan tel dit in jou guns om hulle vinnig en klinies uit te vat.

·        Operasie “K”

Genl Mike Geldenhuys het in ‘n onderhoud te Nigel hom soos volg uitgelaat oor die stigting van Koevoet:

Generaal Magnus Malan het my eendag op kantoor kom spreek. Die Suid-Afrikaanse Weermag wou ‘n operasie genaamd “Operasie Koevoet” loods die lang en die kort van die operasie was, die Suid-Afrikaanse Polisie se Veiligheidstak moes weereens in die Operasionele Gebied by ‘n spesiale gesamentlike operasie betrokke raak wat taktiese inligting in samewerking met die Verkennings Regiment moes insamel waarop die SA Weermag se gevegsmagte dan kon reageer.

Generaal Malan is ingelig dat ek die saak in beginsel steun en die gedagte heel hartig ondersteun. Na sy vertrek het ek die destydse veiligheidshoof, generaal Johann Coetzee gevra om my te kom sien sodat ons die saak kan bespreek. Ek het dadelik aan ‘Sterk-Hans” gedink: “Hy was die regte man vir diè taak!

As oudveiligheidshoof het ek “Sterk-Hans” reeds van sy dae in die Veiligheidstak van Natal goed geken. Hy het ‘n gedugte reputasie opgebou as iemand wat die terroriste probleem kragdadig en suksesvol benader het. Tydens my onderhoud met Johann Coetzee het ek voorgestel dat kolonel JG ‘Sterk-Hans’ Dreyer – alom bekend as “Sterk-Hans” vir die taak gesekondeer moer word. Genl Johann Coetzee het met my saamgestem. Ons het juis vir “Sterk-Hans” van Natal na die Oostelike-Provinsie verplaas om die toestand daar te stabiliseer. Ek weet ook dat “Hans” as lid van die Veiligheidstak ook in Rhodesië met onderskeiding gedien het.

Genl Coetzee het met my saamgestem en ons het toe vir “Sterk-Hans” aangestel as die hoof van die  Suid-Afrikaanse Polisie se betrokkenheid by die gesamentlike SAW-SAP “Operasie Koevoet.” Na al die jare onthou ek nog dat Hans byna oornag na die Operasionele gebied vertrek het. Ek het vir “Sterk-Hans”  belowe hy kon sy eie span manne kies en dat  ek hom logisties sou ondersteun met voertuie.

As kommissaris van polisie het ek volle vertroue in “Sterk-Hans” gehad omdat, wanneer dit by die opsporing en bekamping van terroriste kom  hy ‘n bewese en naspeurbare rekord opgebou het! Juis omdat “Sterk-Hans” so suksesvol in Natal was, is hy na die Oostelike Provinsie verplaas om sy bewese tegnieke daar toe te pas,

Beide die veiligheidshoof en ek het volle vertroue in “Sterk-Hans” gehad en ons het geweet dat hy ‘n sukses van die taak sou maak.

As kommissaris is dit een van my take om ons manne op die “grens” en in die “bos” te besoek. Ek het ook my gade, Annatjie, saamgeneem om met die vrouens van ons bosvegters te gesels. Ek wou nie dat die gedagte by ons mense op die grense laat posvat dat hulle nie vir ons belangrik is nie. Ek het hoë waardering gehad vir die taak wat hulle so in afsondering, soms onder gevaarlike omstandighede, vervul het. Dit alles sonder al die moderne geriewe van die stedelike polisie nie. Annatjie het dan die geleentheid waargeneem op met ons “grens-vrouens” te gesels. Annatjie, as toerleidster,  het ook by verskeie geleenthede vroue-groepe van die RSA na die grens in SWA vergesel. Een so groep het uit die egas van parlementariërs bestaan. Hierdie polisiemanne se vroue en die polisievroue op die grens was na aan ons harte. Ons was bewus van die ontberings wat hul moes deurmaak onder, soms, gevaarlike omstandighede wanneer hulle woongebiede onder aanval gekom het. “Dan was dit loopgrawe toe!”

Annatjie en ek  het ook die Koevoet-manne en hul gesinne in die operasionele gebied besoek – die lede en hul gesinne moes nooit onder die indruk verkeer het dat ons hulle afgeskryf het of van hulle vergeet het nie.

“Sterk-Hans” het ‘n sterk persoonlikheid gehad. Ek ken hom as ‘n daadkragtige persoonlikheid – net die regte man vir die taak! Hy was resultaat gedrewe.

·        Casspir

Die man wat agter die konsep van die Casspir (CSIR + SAP) was, is genl AP van Dyk toe hy by die Springstof-afdeling van die veiligheidstak werksaam was. Vir die gedagte is hy met ‘n SOE-dekorasie vereer. Die proto-tipe is later verder deur genl-maj Piet Kruger en dr Vernon Joynt uitgebou. Die hele storie is reeds vertel in die Nongqai vertel.

·        Vlakplaas

Die plasie Vlakplaas, in besit van die Stewart-broers, is deur (later kol) Gawie Richter gevind. (Later generaal) JJ Viktor het die plaas goedgekeur en die plaas is deur die staat vir gebruik deur die veiligheidstak aangekoop. Die gedagte was om getuies, MK-drosters en gevange terroriste “mak te maak” en as polisiemanne op te lei. Dis beter om hierdie mense op ‘n plaas aan te hou as in ‘n tronksel. Die boerdery aktiwiteite aktiveer en motiveer hulle in ‘n landelike omgewing

Die plaas is later deur kapt Dirk Coetzee en sy span polisiemanne en askari’s as basis gebruik.

·        Vlakplaas: Kol Gawie Richter vertel

Op 11 Februarie 2010 gesels ek met kol Gawie Richter: Hy vertel in ‘n persoonlike onderhoud dat hierdie opgeleide terroriste eers by lede se huise in die bediende kwartiere gebly het. Lede van die V-Tak se vrouens was maar onrustig oor hierdie tydelike reëling. So het die behoefte vir ‘n veilige plek ontstaan.

Die behoefte aan  ‘n veilige hawe, ‘n sogenaamde “safe house’, het ontstaan toe ANC-militêre opgeleide terroriste gedurende Desember 1968 saam met lede van die Rhodesiese ZANLA-terroriste ‘n wit boer en sy vrou op ‘n plaas in Matebeleland vermoor het. Dit het uitgeloop op gevegte met die Rhodesiese Veiligheidsmagte, waartydens ANC-terroriste gedood en gearresteer is. Hierna het lede van die SA Polisiemag in Rhodesië gaan diens doen. Tydens ondervraging van hierdie ANC-opgeleides het dit aan die lig gekom dat verskeie van hulle kamerade vanuit opleidingskampe en basisse gedros en na die RSA onderweg is. Van hierdie uitgewekenes was glo gemartel, uit vrees dat hulle RSA-spioene is.

Uit vrees vir vergelding en weerwraak wou hulle om die dood nie na hulle huise of waar hulle bekend was gesien wees nie. Met die gevolg dat van hierdie mense vir hulle lewe en veiligheid deur sekere lede van ons eenheid heimlik versteek is.

‘n Gesindheidsverandering sou plaasgevind het, indien hierdie mense in tronke of gevangenisse opgesluit sou word. Gevolglik is hulle vir die opspoor en uitkenning van militêr opgeleides wat sou insypel, aangewend. Staatsgetuies in politieke sake het ook ‘n probleem geword, omdat hulle gedreig met die dood gedreig was, indien hulle sou getuig. Tydens en met die eerste demokratiese verkiesing is dit dmv die ‘necklace-moorde’ gemanifesteer.

Gevolglik was dit staatsgetuies asook ondersoekbeamptes en geheime agente wat beskerm moes word, waarvoor huisvesting nodig was. Hoewel hierdie behoefte voortgeduur het, het ek eers op (na maand op ‘n onbekende datum) die opdrag ontvang om ‘n plaas so na as moontlik aan Pretoria te identifiseer wat vir die betrokke doel geskik sou wees.

Na besigtiging het die keuse op Vlakplaas, tussen die Schurweberge en Erasmia, geval. Die groot en gerieflike plaashuis het aan meneer Gert Stewart behoort. Hy het op die Rand gewerk en oor naweke groente verbou. Dit sou enige latere suspisies voorkom.

Aanvanklik is Vlakplaas vir boerdery aangewend, terwyl staatsgetuies en drosters vanaf die terroriste opleidingskampe uit Afrika daar geakkommodeer is.

·        Lekker gelag

Vir die begin het ek twee boerbokke op Hammanskraal gekoop. Dit was twee yslike groot ramme en moes R1 000 stuk vir teeldoeleindes betaal. Een oggend bel die Konstabel  wat die plek moes oppas en vertel dat die een bok se pens vreeslik opgeblaas is. In daardie omgewing is ‘n tiepe “pol” of blaargif wat die diere laat opblaas en dan vrek!! Ek stuur toe vir hom medisyne vanaf Leeuwbrug (Pokon) wat per bottel op ‘n pyp by sy bek ingegee moes word. (Maar Hennie ek sê vir jou ‘n bom as die gemors by die bek uitgeblaas word!) Ek sê vir die Mannetjie om mooi op sy hurke regvoor die bok moet staan en die bottel met Pokon in die keel af te gooi.

Na ‘n rukkie bel hy my terug en vloek  – jy weet mos hoe stink pensmis – daarna het hy geweet om bokke te behandel – ‘n stink les!

·        Daisy Plaas

Daisy plaas is aangekoop met fondse wat heimlik van ‘n organisasie verkry is. Ons RS-agente is hier opgelei. (Ek was ook hier as ‘n RS-agent opgelei.)

·        Algemene amnestie vir Lede van Veiligheidsmagte

My kollegas het aan my genoem dat die SAKP-ANC-Alliansie wou gehad het dat die lei aan albei kante skoongevee moes word. Minister Kobie Coetzee het die voorstel afgeskiet en sy gedagte was om die ANC daardeur swart te smeer. Vandag sit ons met die gebakte pere en word bykans ‘n 100-lede aangekla – sommige het in 2023 voor die hof verskyn en verhore sal na verwagting in 2024 voortgesit word.

·        Waarheid- en versoening-kommissie (WVK)

Ek het voorheen geskryf: “Die polisie moet nie ‘n bose ingesteldheid (“evil mind”) hê nie. Ons moet volgens die letter van die wet optree. Ons is nie bo die reg verhewe nie. Het ons in noodweer opgetree? Ons taak was immers duidelik in wet 7/1958 (die Polisiewet) uitgestippel en sover dit ons betref het moes  die bekamping hof-gerig gewees het. Om koverte misdade te pleeg het gelei na die waarheid- en versoening-kommissie (WVK). Daar moes ons, oor ons kriminele dade bieg. Daar het baie Boere-“bashing” plaasgevind – mens kan dit verstaan want die WVK moet wys hoe dapper en onafhanklik hy is!  Ons regter was aartsbiskop Desmond Tutu en mense wat hoofsaaklik nie ons vriende was nie.

Die vraagstuk wat my kwel is: “Group-think” het ons laat optree soos ons opgetree het. Het ons nooit aan die rol van die Gestapo en die Neurenberg-verhore gedink nie. Beleid word deur die politiek bepaal en stel die doel wat die amptenaar moet bereik! Het ons politici nie onafhanklik gedink nie. Waar was die dinkskrum van ons mense?

·        Klaas de Jonge

As amateur-historikus het die voorreg gehad om in Nederland met Klaas de Jonge te gesels en gedagtes te wissel. Ons het op ‘n bedaarde beskaafde manier met mekaar gesels. Hy was ‘n opgeleide antropoloog wat vir sy dade deur die ANC-regering vereer is. Ek het hom die foto’s gegee van die Kerkstraat-bomaanval en hom vertel van die pyn wat die aanval veroorsaak het. In my opinie was die aanval ‘n wrede voorval waarin onskuldige mense gedood en beseer was. Die bomontploffing – net soos sluipmoord – het nie gehelp om die situasie te in Suid-Afrika te verander nie! Inteendeel dit het sake net vertraag.

Die SAKP-ANC-Alliansie het van mense wat onbekend aan die inligtingsgemeenskap was, gewerf om hierdie verfoeilike dade van terreur uit te voer. Het hulle maar die SAW of SAP aangeval, maar om onskuldig lede van die publiek in Kerkstraat te beseer was ‘n onsinnige daad. Ek het aan Klaas verduidelik dat  die Lugmaghoofkwartier deur klerke beman word en nie deur soldate nie.

Ek het gedink hy en sy kollegas wat Suid-Afrika binnegeval het en hier dade van terreur gepleeg het eintlik dapper was. Ons was ‘n gedugte mag om mee rekening te hou en ons oplossingssyfer vir hierdie tipe dade was baie goed – ons het van sy blanke kollegas ook gearresteer (name weerhou.) Ons het ‘n spesiale Nongqai uitgegee wat my besoek aan Klaas de Jonge gedek het.

·        Aanspreeklikheid 

Wat ek nie kan verstaan nie is die begrip aanspreeklikheid. As jy aanspreeklik is, is jy mos verantwoordelik! Waarom het die staatspresident, die kabinet en die generalestaf van die SAW en SAP nie verantwoordelikheid aanvaar vir die dade van die verlede nie en die saak tydens onderhandelinge geskik nie. Nou na 30-jaar word slegs lede van die voormalige veiligheidstak aangekla. Dit steek my dwars in die krop.

·        Hardhandige optrede deur Owerheid

Daar is net drie maniere waarop enige polisie-instansie iemand se samewerking kan wen. Al drie hierdie maniere is egter afhanklik van een voorvereiste: RESPEK. Hierdie drie maniere is: met beloning lok, met rede oortuig en vrees-gedrewe dwang (Hierdie is nie wederyds-uitsluitend nie en word dikwels in kombinasie gebruik – die ou “stok en wortel” benadering).  Daar moet onderskei word tussen hardhandigheid ter wille van dwang, en ferm maar korrekte optrede. Ferm, korrekte optrede skep respek. Sonder respek, is lok, oorreed en selfs dwang veel minder effektief. Ons het, met terugskoue, te veel van “kragdadige” dwang gebruik gemaak – “vir hulle wys wie is baas”, soos sommiges gesê het – wat ‘n wedersydse spiraal van eskalasie en geweld gevoed het.

Ons was hardhandig omdat ons onsself in ‘n oorlewingstryd gevoel het, midde-in dit wat die ander kant self tog verklaar gehad het as hulle “armed struggle” en/of “people’s war”, waarin ons (die S.A. Polisie) hulle hoof-teikens was. Die selfbeeld wat ons dus toenemend begin koester het, was van onsself as gedugte vegters – nie meer onpartydige, a-politiese dienaars van die gehele gemeenskap en objektiewe handhawers van orde en reg nie.

Ek het in die praktyk geleer dat die publiek se optrede, die houding, gesindheid en optrede van die polisie begin bepaal het (net soos wat die omgekeerde ook  waar was!). Dit was sekerlik net menslik – veral in  die konteks van die “totale aanslag”  wat voortdurend by ons ingeprent is. Kragdadige optrede deur die veiligheidsmagte was egter uitermate teen-produktief, deurdat dit lynreg in die hande van die “vyand” se propaganda-gedrewe politieke stryd gespeel het.

Was ons genoegsaam ingestel op die behoud van die respek van die bevolking? Kan enige polisie-instansie toelaat dat sy houding en optrede bepaal word deur dié van die publiek, eerder as deur die etiek en regmatigheid wat die funksionering van ‘n professionele polisie-instansie te alle tye behoort te rig – ongeag provokasie? Moes die polisie gekoöpteer gewees het as aktiewe deel van die politieke stryd (aan ‘n bepaalde kant), of behoort die polisie in beginsel altyd verhewe te wees by politieke geskille, gesteld enkel op die regmatige, ferm, maar beheersde handhawing van wet en orde ter wille onder andere van die behoud van respek (met ander woorde, onderskei tussen die ideologiese dimensie enersyds, en andersyds natuurlik enige duidelike onwettigheid soos terreur bekamp – mens besef dis uiteraard baie makliker te sê as te doen).

Hoeveel keer het ons nie van ons kant verseker nie dat ons land op die voorblaaie beland het!? (Sharpeville, Soweto, Biko, Trojaanse perd, Bisho…) Dit, omdat te veel van ons politici en bevelvoerders nie die ware aard en wese van die stryd (synde “armed propaganda”) na behore verstaan het nie. Moes ons nie meer dikwels van “nader lok” en van “oorreding” gebruik gemaak het nie? Moes ons nie meer (soos in Durban, 1973) die universele mensereg tot vreedsame protes respekteer het en die mense laat marsjeer en betoog het totdat hulle self naderhand moeg was daarvoor – en ook sodat die regering-van-die-dag self kon kennis neem van  die  mense se ontevredenheid en beleidsaanpassings kon maak (ook weer soos wat Durban 1973 tot die nuwe arbeidsbedeling gelei het). Ons het onteenseglik die fisieke mag gehad om baie dinge te kon doen – ‘n bom in Londen plant, protesteerders uit mekaar dryf, aangehoudenes in ons mag hou – maar het ons altyd strategies gedink en reg gekies, tussen wat ons fisies in staat was om te kon doen, en dit wat ons met daardie mag behoort te gedoen het – gegewe die strategiese gevolge, in die konteks van die ware aard van die stryd?

·        Polisie-eksamens

Sekere polisie-eksamens was ‘n groot mors van tyd want mens moet alles soos ‘n papegaai leer! Die polisie moes ons eerder leer om analities en krities te dink en ons lees om sake met insig te beoordeel. Ons moes ook baie meer psigologiese toetse afgelê het groter klem moes op navorsing gelê gewees het..

Die eksamen konstabel tot sersant was baie waardevol want hier begin jy die koring van die kaf te skei. Maar die eksamen kon baie eerder ‘n eerste jaar BA(Pol) of SAP-diploma eksamen gewees het. Alle bevorderings eksamens kon eerder meer akademies gewees het om polisiebeamptes te ontwikkel!

In my geval moes ek ‘n eksamen van AO tot luitenant bykans ses weke verlof neem en ek moes ‘n klomp twak leer, bv die hele Drankwet!!!

Plaas dat ons vir die eksamen AO tot luitenant afgelê  het, dat ons take gekry het om uit te werk bv:

  • Doen ondersoek na die gebeure by Sharpeville, of
  • Wat is kommunisme en watter gevaar hou dit in?

Na die suksesvolle afhandeling van voorgeskrewe take kon mens dan op jou eksamen skryf en met bykomende ekstra navorsing ‘n BA (Pol) graad of Diploma verwerf.

·        Die Speurdiens

Ek het die speurdiens baie jammer gekry, hulle het hard gewerk – gesukkel met vervoer en fondse vir beriggewers.  Hulle moes baie oortyd werk – sonder enige vergoeding. Die speurders moes ‘n heel te maal ander bedelings gehad het.  ‘n Eie salaris en bevorderingsbedeling met gesubsieërde vervoer. Ek salueer die manne van die ou KOD (CID).

 

1989 - Congratulatory letter from Minister Vlok on Promotion

Brief van gelukwense vanaf minister Vlok met bevordering na kolonel - een van 100de sulke briewe wat hy uitgestuur het. Hy het alles veil vir die SAP gehad. Anders as in die SAP (waar mens geen gelukwense of kerskaarte gekry het nie) het ek, toe ek na NI gesekondeer is, gereeld kerskaarte en verjaardagkaarte van die NI-DG ontvang.

DIE WEERMAG

Ek was baie trots op die SAW. Die SAW, die SAP en die SAS was ons nasionale prestasie simbole! Die weermag het uit vier afdelings bestaan: die leër, lugmag, vloot en geneeskundige dienste! Mens moet ook nie die geweldige groot militêre-industriële-kompleks vergeet nie. Die weermag het groot inligtingsbehoeftes en goeie teenspioenasie vermoëns nodig gehad.

1975 – Inval in Angola

In 1975 val die SAW Angola binne – glo op versoek van die Amerikaners. Is ons nou huursoldate? Wat ons strategies of takties wou bewys met die inval was duister. Ons was goed op hoogte met die SAW se vordering – ook het ek gereeld die SAW se Insam gelees.

Hierdie avontuur het groot druk op ons skakeling met Afrika geplaas. Kuba, met Russiese steun, het tot die stryd toegetree en hulle kon met hul Mig’s die lugruim beheer. Hulle artillerie het ook veel verder kon reik as ons s’n. Uiteindelik moes die SAW terug trek oor die Kunene-rivier, sodat hierdie ekspedisie (van twyfelagtige wins-potensiaal) ons sterkman-beeld oneindig skade aangedoen het.

SAW: Hoof van Staf: Inligting (HSI) en Direktoraat Teen-inligting  (DTI)

Daar was soms hartlike samewerking tussen die veiligheidspolisie en militêre inligting. Ons het saam inligting uitgeruil en ook wat teen-inligting betref het ons saam gewerk. Ek persoonlik het baie lekker met die “SAW en Seuns” saamgewerk.

Daar moet in gedagte gehou word dat op nasionale vlak was daar militêre inligting en teen-inligting, maar dat die SA Leër, SA Lugmag, SA Vloot en SA Geneeskundige Dienste elk hul eie inligtings- komponente en sielkundige oorlogvoerings-komponente gehad het.  Dan het elke kommandement ‘n inligtingskomponent gehad en elke Groep en elke plaaslike Kommando het inligting ingesamel.

Op Groep- en distriks-vlak het riemtelegramme, gerugte en skinderstories gereeld die rondte gedoen. Hier het ons begin om die kaf van die koring te skei – wat inligting betref.

Militêre Attachés van die SAW het in die buiteland hoofsaaklik overte inligting ingesamel en met eweknieë geskakel.

Dit was vir my duidelik dat die Nasionale Sleutelpunte (NSP’s) wat deur die SAW bestuur was, ook van inligting voorsien was. Die militêre industriële kompleks (Krygkor, Denel, PMP et al) het ook sy eie inligting en teen-inligtingsmense gehad.

Ten spyte van die Simonstad-ooreenkoms wat die werkverdeling tussen NI, SAP(V) en die SAW georden het, het die SAW doodeenvoudig net gedoen wat hulle wou. Ek persoonlik het ‘n kommandant van HSI op ‘n kampus teëgekom en ons het gesels. Hy het een van bronne kom spreek.

Die SAW het ook meeluistering gedoen en bv so is Operasie “K” se kantore ook gedek. Om bron te beskerm verstrek ek nie ‘n bron nie. Koevoet het juis sy ontstaan te danke aan die SAW gehad en operasie “K” is op hul versoek van stapel gestuur.

Die rang van die bevelvoerder van HSI was luitenant-generaal en as ek kon skat sou ek sê dat hier ongeveer 3 000 lede betrokke was by die insameling en verwerking van inligting. Dis ‘n rowwe skatting. Hierby ingereken die mense wat betrokke is in die Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel (NVBS) – dit sluit in die Gesamentlike Veiligheidstaf (GVS), die Nasionale Gesamentlike Inligting Sentrum (NasGis) en die inligtings komponente van die Gesamentlike Bestuur Sentra (GBS).

Die inligtingsproduk wat die weermag versprei het was genaamd “Insam” – ek het dit gereeld gelees en ek het dit interessant gevind. 

Die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB)

Ons in die polisie het gou agter gekom hier is nog ‘n paar eende wat in die plaasdam saam swem. Inteendeel is van hulle gou deur die SAP aangekeer. Ek persoonlik dink nie so iets hoort by die SAW tuis nie. Die rede vir die stigting is ook nie in die openbare belang nie.

Swak skakeling en/of gebrek aan Koördinasie

Met al die geweldige hoeveelheid inligting tot ons beskikking maak ons nog foute. Soms het die linkerhand nie geweet wat die regterhand doen nie. So maak die BSB ‘n MI-agent, wat onder vals vlag werk, dood. Is dit hoegenaamd die SA Weermag se funksie om sy eie mense uit te roei?

SPOORWEGPOLISIE – VEILIGHEIDSAFDELING

Mense vir wie ek my hoed afhaal is vir die lede van die SA Spoorwegpolisie wat ook nasionaal ontplooi was. Hulle werk was uiteenlopend: Van ontfutseling tot sabotasie en dan het hulle ook die veiligheid van vliegtuigpassasiers en goud wat op vliegtuie en treine  op vliegtuie verseker. Hulle het ook ‘n veiligheidsafdeling gehad wat saam met die SA Veiligheidspolisie gewerk het.

BURO VIR INLIGTING

Mnr Charles  More (Direkteur Sekerheid: Spesiale Projekte)

‘n Amptenaar van die Buro vir Inligting, mnr Charles More, het gereeld die brigadier, ons groepshoof, besoek.

Mr Charles More: Department of Information - South Africa

Mnr Charles More - in lewe Direkteur: Sekerheidsprojekte van die Departement van Inligting ("n Puik Mens en Staatsamptenaar.)

Mnr More en ek het bevriend geraak. Later het hy my ook op kantoor besoek aangesien ek met hom stadig maar seker begin ‘erf’ het. Hy het verskeie boeke wat die departement van Inligting versprei het, ook aan my geskenk.

Later het hy vertel dat hy direk met dr Eschel Rhoodie werk. Die skakeling het deur die jare voortgeduur. Ons het hom van brokkies inligting voorsien. Veral ten opsigte van mense die media. Mnr More was ‘n deskundige op die Anglo-Boere Oorlog (ABO). Hy het ook oor buitelandse kontakte beskik wat kundig was op die ABO.

Eendag vertel hy my dat as hy ‘n polisie-uniform sou aantrek, sou dit ‘n brigadiers-uniform wees. Nee! het ek hom laat verstaan, as hy by die SA Polisie sou aansluit sou dit as gewone konstabel wees, nie as brigadier nie! (In daardie dae het almal onder in die SAP begin!) Hy was sekerlik ‘n direkteur verbonde aan die Buro vir Inligting. Hy het ook met die Weermag en Buro vir Staatsveiligheid geskakel.

Hierdie Afrikaner van Skotse afkoms was ‘n man van eerlikheid, inbors en prinsiep.

Hy het direk vir dr Eschel Rhoodie gewerk. Vir my was dit geen geheim dat dr Eschel Rhoodie en genl Van den Bergh hartlik saamgewerk het.  Hy het gereeld die veiligheidspolisie, die BSV en die militêre-mense besoek. By ons wou hy weet wat ons op lêer het oor sekere mense hoofsaaklik joernaliste en meningvormers.  Ek het hom alles gewys waaroor ons beskik. Hy het my aangespoor om verder te studeer.

Ook het hy my ingelig van buitelandse meningvormers wat as gate van die regering die RSA besoek.

Mnr More sterf op 31 Mei 1978 toe hy skaars 51-jaar oud is. Ek en kapt Joubert was draers op sy begrafnis saam met twee lede van NI en twee van die SAW.

DIE STAATSVEILIGHEIDSRAAD (SVR)

Die SVR het sy ontstaan te danke aan Wet 64 van 1972. Die SVR het elke twee weke na die Werkkomitee (WK) van die Staatsveiligheidsraad (SVR) onder voorsitterskap van die staatspresident vergader. Die lede was die ministers van verdediging, wet en orde, buitelandse sake en ander gekoöpteerde ministers, die hoof van die SAW, die kommissaris van polisie, die DG van nasionale Intelligensie en gekoöpteerde DG’s.

DIE WERKKOMITEE VAN DIE STAATSVEILIGHEIDSRAAD

Die WK het twee weke voor die SVR sitting gehad het vergader. Al die dokumente en strategieë wat ons opgestel het, het voor die WK van die SVR gedien. Hier is die dokumente uitgeklaar, verander of verbeter en dan deur gestuur na die SVR.

DIE SEKRETARIAAT VAN DIE STAATSVEILIGHEIDSRAAD (SSVR)

Vir begrotingsdoeleindes het die SSVR onder Nasionale Intelligensie geressorteer. Die personeel wat aan die SSVR verbonde was, was gesekondeerde personeel – hoofsaaklik van die SAW. Daar was, onthou ek, lede van die spoorwegpolisie, buitelandse sake, polisie, NI en gevangenisdiens. Miskien onderwys en opleiding – hulle het swart skole hanteer.

Die Tak Nasionale Vertolking (TNV)

Wat inligting en intelligensie betref: Die TNV het onder president PW Botha die mandaat gehad om nasionale inligting te vertolk (by wet was dit in werklikheid NI se funksie, maar pres Botha wou dit op hierdie wyse in die praktyk onder SAW-beheer bring) en hulle het onder meer die volgende diens verskaf:

Vir elke strategie wat die Tak Strategie (TS) moes opstel het die TNV die strategiese situasie feitlik uitstippel.

Die staatspresident (SP) se daaglikse voorligting wat gewoonlik 11:00 reg moes wees, is hier uitgeklaar en na die SP se situasiekamer gestuur.

Vir die Tak: Strategiese Kommunikasie (TSK) het die TNV die inligting dokumente opgestel.

Die Nasionale Inligtingswaardering (NIW) is hier opgestel.

Ek het ‘n hoë dunk van die TNV en sy personeel gehad. Ek het ‘n paar van hul besprekings-sessies bygewoon.

Die Tak Strategie (TS)

Hier is verskillende strategieë opgestel en aan die Werkkomitee (WK) van die Staatsveiligheidsraad (SVR) voorgelê. Die hoofde van die veiligheids- en inligtingsdepartemente was hier verteenwoordig onder voorsitterskap van die Sekretaris van die SSVR. Wanneer hulle tevrede met ‘n strategie was, is dit aan die SVR onder voorsitterskap van die SP goedgekeur vir implementering.

In my tyd het ons die Hartland-strategie, die Walvisbaai-strategie, die Teen-revolusionêre—strategie en een wat gemik was op die verbode ANC.

Daar was ‘n stuk of 12 /13 interdepartementele komitees met ‘n brigadier van die SAW as voorsitter. Die uitsondering was die GVS – gesamentlike veiligheidstaf – hier was op ‘n roterende basis ‘n luit-genl van die SAP of die SAW. Enkele voorbeelde: Burgerlike Beskerming (Burg B), GVS, Sekerheidskomitee, komitee vir wetenskap en tegnologie….

Die ATO is hier geskryf en die administrasie is gedoen sodat elke departement ‘n DATO moes opstel.

Die Gesamentlike Bestuursentra (GBS’e) is ook van hier bestuur.

Die Tak Strategiese Kommunikasie (TSK)

Onder die omstandighede (bv noodtoestande en voorsprong operasies) het die TSK uitstaande diens gelewer. Hulle moes soms ‘n on-bemarkbare produk bemark. (Onthou die wêreld het na 1945 drasties verander.) Die TSK was verantwoordelik vir Stratkom – strategiese kommunikasie of sielkundige oorlogvoering. Die TSK het nie ‘n uitvoeringsfunksie gehad nie – eerder ‘n koördineringsfunksie – wie doen wat? Die TSK het die inligting wat hy nodig gehad het, by die TNV bekom. (Dit is jammer dat die Buro vir Inligting “vernietig” was.)

Moniteringsverslae

Voor elke sitting van die WK van die SSVR is monitorverslae deur die TS en TSK opgestel en vir goedkeuring voorgelê vir later deursending na die SVR onder voorsitterskap van die SP.

Die WK was op DG-vlak en hier kon die DG of kommissaris sien hoe sy departement skitter of nie. Alle inligting deur die TNV vertolk is ook deur departemente goedgekeur. ‘n Minister en ‘n DG moes sy vakgebied geken het.

Die SP was ‘n “kwaai man” en hy het selfs by ‘n geleentheid die kommissaris van polisie, soos ‘n stout skoolseuntjie, laat regopstaan en hom goed die Leviete voorgelees! (Naam van bron weerhou.)  Departementele verteenwoordigers moes dus “alles” by hul moeder-departemente uitklaar om te voorkom dat die minister of kommissaris nie in die verleentheid gebring word nie..

Na die Sanhedrin het sekere gesekondeerde personeel na die SSVR teruggekeer – ook is alles wat in die SP se voorligting was, departementeel uitgeklaar.

 

KOMMENTAAR

·        Kommentaar oor die NVBS

Die SAW het die SSVR en die NVBS oorheers. As stelsel het dit op die oog af goed gefunksioneer. Almal het oënskynlik in gelid marsjeer – maar waarheen? Wat dit nie gedoen het nie, was om die wesentlike, onderliggende klowing in strategiese visie tussen departemente te oorkom nie – dis onderdruk, maar het steeds voortbestaan. “Turf wars” en silo-bedrywe het voortgeduur. Die ander departemente was nie hart en niere “in” met die NVBS nie en het, wat ingesteldheid betref, in werklikheid net lippediens bewys sodat werklike koördinasie in kritieke gevalle bly ontbreek het. Dink maar aan insidente soos die polisie se Kersdag oorgrens-optrede in Lesotho.

Mnr FW de Klerk het die NVBS afgeskaf (dit het nooit ‘n wetlike basis gehad nie) en teruggekeer na die wetlik-geordende stelsel, met mnr Johan Mostert aan die hoof (lesers sal onthou dat mnr Mostert in ons reeks oor die NVBS benadruk het dat die vervangende stelsel toe net so effektief, indien nie meer so nie, gewerk het, omdat dit weer ‘n behoorlike regsbasis gehad het, die departemente nie gevoel het hulle word deur die SAW in ‘n blik gedruk nie, en die breë kabinet weer gevoel het daar is nou weer kollegiale kabinetsregering.

Die NVBS het dus wel die skyn geskep dat dit goed werk, omdat almal (noodgedwonge) saam gestem het. Dit het egter groep-denke verabsoluteer, sodat kritiese intelligensie-analise onderdruk is. Ook is die wetlik-daargestelde KIK (onder NI) en die NVBS nooit na behore geharmonieer nie. Dit alles het ons die verlore dekade gekos – ons het weliswaar almal baie mooi netjies in gelid marsjeer, maar reguit afgrond toe. Uiteindelik is dit net oorkom toe NI uit desperaatheid direk met die ANC gesprek aangeknoop het, “gemagtig” kragtens wat in werklikheid ‘n slenter was wat op president FW de Klerk se 1e SVR-vergadering sonder raaksien deurgevoer is.

Die NVBS het ook nooit kon ontkom aan die gebrek dat die PW Botha-regering vir eie faksionele politieke belang, die staat (onder premier Vorster) se hoof-instrument om propaganda-oorlog mee te veg – die destydse Departement van Inligting – ontbind het nie. Ons het die gevegte op die slagvelde  van die “armed struggle” almal gewen, maar die SAKP/ANC-alliansie het die propaganda-stryd, en daarmee die politieke oorlog, los-hande gewen! Die Departement van Inligting het oor groot kundigheid en oor die nodige kontakte beskik – teen-propaganda was nie die SSVR en ander staatsdepartemente se oorspronklike lynfunksie nie. Voorts is dit onmiskenbaar so dat die destydse “brand” van die ou Departement van Inligting se koverte buitelandse kontakte vir eng faksionele politieke gewin in die NP se binne-gevegte, blywend skade gedoen het aan ‘n waardevolle nasionale bate, wat ander potensiële kontakte daarna uiters lugtig gemaak het om met ons saam te werk.

Die NVBS en die SSVR het dus wel gesorg vir ‘n oppervlakkig-doeltreffende matriks vir landsbestuur – aan die eenkant was daar die departementele staflyn van “bo na onder” en van “onder na bo”. Terselfdertyd kon daar ook dwars-liggend met staatsdepartemente vinnig geskakel word. Maar dit het in werklikheid funksioneer op basis van vrees vir die “Groot Krokodil”, vir wie dit sy persoonlike moniteringstelsel was van alles en almal.

Een nadelige punt: Die SP as voorsitter van die SVR is direk by die stryd betrokke – hy is subjektief en kan sake dus nie objektief van buite beskou nie!

Daar was natuurlik probleme as die SAP nie saamgewerk het nie. So kan ek onthou toe ek die SVR-notule deur gelees het dat ‘n SAP-afdelingskommissaris verplaas moes word omdat hy en die SAW nie mooi oor die weg gekom het nie. Ook was ek eenmaal deel van ‘n SSVR-afvaardiging toe ‘n afdelingskommissaris (brigadier) en ‘n kommandementsbevelvoerder (genl-maj) wat in twee verskillende dorpe was ook mekaar verkeerd opgevryf het.

Dit was my indruk dat die SAP nie van die stelsel gehou het nie – op veiligheidshoofkantoor het die senior offisiere gedink die SSVR is lastig met al sy vrae en versoeke.

Slot: Die wind wat stink is hier

Ons was goeie, kerkmense – Calviniste – gerugsteun deur ons kapelane. Ons het egter baie goeie bedoelings gehad, ons is deur ‘n onsigbare mag, waar die beleid bepaal was, gerig en gestuur. Daar  was probleme op uitvoeringsvlak –  nie altyd goeie staatsamptenare of goeie regering (governance) nie – ek dink net, ons het sommige opponente “ontmens” soos hulle vandag ons plaasboere na hartelus ontmens en  vermoor.

Ja, hulle het vandag kraai  geen (staats)-haan oor plaasmoorde nie!

Ja, 60-jaar gelede het die vrou dit uitbasuin dat die wind wat stink (die polisie) in die omgewing was. Hulle het seker vroegoggend die honde hoor blaf. In ons witwoongebied op nagdiens het ek dikwels die patrolliewa verskuil en geluister waar die honde blaf – dan trippel ons af waar die honde blaf en soms was ons gelukkig om inbrekers te vang. Nou wanneer ons in swart gebiede gekom het, het hulle honde weer vir ons geblaf.

Op die Bluff het ons ‘n walvisstasie gehad en soms as hulle die vleis bewerk was daar ‘n groot stank oor die Bluff gewaai. (Dit was nie ons nie!)

Ja, dit is nogal poëties dat die manne wat die regering op grondvlak verteenwoordig beskryf word as “die wind wat stink” – ja, ons teenwoordigheid het soms niks goed vir kriminele ingehou nie!

Enkele gedagtes:

  • Agv die land se destydse beleid het ons ‘n baie goeie polisiemag gehad. Na die tweede wêreldoorlog het die wêreld baie verander. Daar was moeilike wette gewees om toe te pas. Vandag is die polisie baie swak en is hy nie meer die swaardmag van die staat nie!
  • Die veiligheidsmagte het die geleentheid en klimaat vir onderhandeling geskep – onthou ons het op die drukpot gesit – in die proses is koverte aksies uitgevoer en vandag (2024) is daar nog manne wat moet pa staan vir hul dade. NI het ‘n reuse, delikate, taak suksesvol uitgevoer. Dit is jammer dat die lei nie tydens die onderhandelinge skoongevee is nie.
  • Ons polisie se departementele inligting was baie goed! Ons het meeste sake met inbegrip van terreur sake opgelos. Ons het baie “politieke” inligting aan NI oorgedra.
  • Met respek, ek dink nie ons politici, die staatsdienskommissie en SAP-generaals het werklik die stryd verstaan nie. (Ek dink nie iemand in die topbestuur het bv. ooit “Bunch of Five”, generaal sir Frank Kitson se militêre outobiografie gelees nie. [Daarin beskryf hierdie kenner van teenopstand sy ervarings in Kenia 1953-55, Maleia 1957, Muskat en Oman 1958, sowel as sy vredes­bewaringsaktiwiteite tydens twee besoeke in Ciprus, 1963-64 en 1967-68. Hy wou ook oor Noord-Ierland skryf, maar ten tyde van die eerste publikasie was dit te sensitief. In plaas daarvan, in ooreenstemming met die titel, het hy ‘n vyfde deel geskryf wat sy gevolgtrekkings opsom in al die gebiede waarin hy geveg het. Hierdie vyfde deel is lank op sy eie deur die Amerikaanse weermag gebruik.] In wese word ‘n teenopstand deur die polisie bestry en daarvoor is honderde polisiemanne op die grond nodig. Goeie inligting en goeie staatsamptenare (wat die stryd verstaan) is ook nodig. Dis nie ‘n militêre stryd nie – dis ‘n politieke stryd!
  • Ons polisie inligting was egter baie meer takties as strategies, want ons bekamping was deur die howe. Ons het wel strategiese inligting ingewin en dit is op die regte forums ingedra. Ons het jammerlik nooit van die vyand se bedreiging gebruik gemaak om ons begroting groter te maak nie.
  • Nasionale Sleutelpunte (NSP’s) behoort onder die polisie te ressorteer.
  • Die metamorfose wat die Buro vir Staatsveiligheid onder dr Barnard ondergaan het, het NI in ‘n puik departement omskep. Soos die ou Departement van Inligting vernietig was, was dit ook die bedoeling dat NI moes sneuwel. Dit het nie gebeur nie.
  • Met my werk by die SSVR het Buitelandse Sake en SA Gevangenisdiens hulself as uitstaande departemente onderskei.
  • Die SAW het baie goeie bedoelings gehad maar die linkerhand het nie geweet wat die regterhand doen nie. Lees mens die boek “Days of the Generals” kom mens agter dat die SAW-generaals nie te lief vir die SAP (en minister Pik Botha) was nie. Hulle het ook Rambo-flieks uitgeneem en gekyk hoe en waar hulle die tema in die praktyk kan toepas. Ek weet die weermag het ‘n allemintige taak, maar hul moes nie op die binnelandse terrein opgetree het nie. Die SAW het bv ook op die SAP (onderskeppings en meeluistering) en die Buro vir Staatsveiligheid gespioeneer (genl Van den Bergh se brandkas oopgemaak).
  • Ja, ten spyte van al die koördinasie ons het tog in “silo’s” gewerk en onderlinge “turf wars” gehad. Sekere departemente het sekere feite/operasies verberg en nie alles blootgelê nie.

Dit is vanselfsprekend só dat ek, as oud-polisieman, in hierdie terugskouende besinning merendeels oor die destydse polisie geskryf het. Soms krities, want dis tog die hele doel – dat ‘n nuwe geslag uit die foute van die verlede kan leer. Hierdie feit dat ek, omdat ek as ‘n Christen eerlikheid voorop  stel en dus bereid is om te erken dat ons as polisie wel foute gemaak het – veral denk-foute rondom die werklike aard van die stryd – moet egter nie verkeerd interpreteer word asof die blaam vir wat in veral vanaf die middel van die jare tagtig verkeerd geloop het, in hoofsaak voor ons deur gelê kan word nie!

Op balans, was dit tog óns wat die nodige stabiliteit in stand gehou het om die onderhandelinge en die uiteindelike oorgang moontlik te maak! Dit was veral die intelligensie-gemeenskap (met die uitsondering van elemente in die Leër wat hulle geskaar gehad het by die PW Botha/Magnus Malan siening) wat toenemend vir die regering-van-die-dag die boodskap op die hart gedruk het dat daar onderhandel sal moet word vir ‘n skikking, en dat die rassebeleid aan die wortel van die onstabiliteit (en sankies) is – dat nie skiet nie, maar wel skik, die korrekte strategiese opsie was. Dit was óns, die  veiligheidsmagte, wat met ons suksesse dit eweseer vir die SAKP/ANC-alliansie, en by uitstek menere Nelson Mandela en Thabo Mbeki, duidelik gemaak het dat hulle ten ene male nie toegelaat sal word om ‘n Marxistiese volksrepubliek deur rewolusie te probeer afdwing nie, sodat dit ook in húlle belang was om skiet as opsie te laat vaar, en eerder te onderhandel vir ‘n skikking.

In die sewentigs het ons land voor ‘n strategiese keuse gestaan, gedrewe deur twee opponerende werklikheidspersepsies oor die ware aard van die uitdaging.

Enersyds was daar diegene (rondom premier Vorster) wat die aard van die konflik korrek verstaan het as polities, as ‘n stryd om menings, gedrewe deur propaganda. Hulle het planmatig ‘n kapasiteit uitgebou om veral vyf dinge te kon doen wat die regte milieu sou skep vir die uiteindelike deurdagte onderhandel van ’n optimale politieke skikking in Suid-Afrika:

  • ‘n gesofistikeerde vermoë om ‘n effektiewe teen-propaganda stryd te kon voer (die uitbou van die Dept. van Inligting onder dr Eschel Rhoodie);
  • die prioritisering van binnelandse veiligheid en stabiliteit (soos wat in feite wel verwesenlik is onder leiding van genl Van den Berg) deur die daarstel van die BSV as ‘n professionele, siviele, sentrale intelligensie-interpreteerder en -koördineerder en deur aan die polisie die nodige middele te voorsien;
  • deur regionaal en internasionaal ‘n beeld uit te bou van tegelykertyd beide onaantasbaar wees, maar tog ook samewerkend en verbind tot nodige verandering, deur middel van die détente-politiek en die versterking van die Weermag, onder andere deur opgradering van die Lugmag en die ontwikkel van ‘n eie kern-program as afskrikking;
  • die onwerkbaarheid te erken van die Verwoerdiaanse beleid van totale skeiding te midde van ‘n realiteit van ekonomiese integrasie (veral stedelik) en dien gevolg te begin het om beleid aan te pas by die werklikheid, soos met die Wiehahn-kommissie oor arbeid-verhoudinge en die aftakel van kwetsende sogenaamde “Klein Apartheid”; en
  • die dispuut rondom Suidwes-Afrika te neutraliseer as regsgronde vir internasionale aksie teen Suid-Afrika en terselfdertyd dit te gebruik vir die beproef van ‘n onderhandelingsmodel gebou op vooruit-beplanning, op die kweek van alliansies soos die DTA, met wel ‘n nie-rassige grondwet maar gebaseer op konsosiatiewe samewerking tussen die groepe – ‘n onderhandelingsmodel wat sou demonstreer aan die bevolking (daar, en ook as voorbeeld vir Suid-Afrika) wat die noodsaak en voordele van so ‘n nuwe bedeling sou wees.

Aan die ander kant was daar diegene wat vas geglo het dat Suid-Afrika se uitdagings vroeër of later onvermydelik met die geweer besleg sou moes word, en wat dus gerig was op voorberei vir skiet, en nie vir polities skik nie. Vir hierdie groep moes (Blank) Suid-Afrika ten alle koste op militêre gereedheidsgrondslag geplaas word teen die “totale aanslag”, in terme van begrotingsprioritisering, die verkryging van gevegservaring (“combat experience” vir ons troepe) en die daarstel van ‘n bestuurstyl en organisasie wat sou sorg dat die gehele staatsmasjien en bevolking in gelid sou marsjeer.

Dis hierdie groep onder PW Botha wat in 1975 Operasie Savannah in Angola geloods het, waarkragtens ‘n beperkte gemagtigde verlening van opleiding en swartmark kommunistiese wapens aan Unita, ongemagtigd onskep is in ‘n opmars (in SAW-uniform) na Luanda, met die gevolge wat ons ken.

Dis hierdie groep wat, met ‘n onderhandse paleisrewolusie aangestook deur die verklap van geklassifiseerde inligting oor die aanwending van geheime fondse wat in die verdedigingsbegroting “geparkeer” was (omdat die parlement toe nog nie die nodige wetgewing passeer gehad het nie vir die Departement van Inligting se eie geheime fondse), doelbewus die Vorster-regering tot ‘n val gebring het en die strategie van voorberei vir skik, vervang het met een vir skiet. Die gevolge hiervan was:

  • die verloor van ons sterkmansbeeld met die gedwonge terugtrek oor die Kunene na Savannah;
  • die dood van détente;
  • die ontbinding van die Departement van Inligting en die ontgogeling van sy netwerk van invloedskontakte oorsee;
  • die internasionale isolasie van Suid-Afrika;
  • die spandeer van die leeue-aandeel van die landsbegroting op oorlog voer buite ons grense, veel-al in Angola (wat duisende kilometer weg lê van die hartland, anderkant twee ander state en ‘n yslike woestyn, terwyl Angola se ideologiese tweeling, Mosambiek, slegs 300 km weg van ons hartland lê maar tog deur onderhandeling / die Nkomati-akkoord binne orde gehou kon word;
  • die snelle agteruitgang van die binnelandse veiligheidsituasie (wat nie los gestaan het nie van die feit dat aan die polisie net 15% van die begrotingsfondse toegeken is, in vergelyking met dit wat na die Weermag gegaan het); en, les bes
  • Geen voorbereiding vir onderhandelinge nie, want dit was gesien as verraad om enigsins met die SAKP/ANC te praat.

Die eindresultaat was dat die regering-politici, toe onderhandel en skik teen 1990 onvermydelik noodsaaklik geword het, geheel onvoorbereid was daarvoor. Die regeringsparty is geïsoleer, sonder eie alliansie-vennote. ‘n Oorgangsmodel gebaseer op ‘n nasionale eenheidsregering is toe weliswaar by Kemptonpark beding (wat aandui wat die moontlikhede was!) maar toe loop onttrek daardie einste politici aan die eenheidsregering want hulle was bang dat hulle gekontamineer sou staan deur ANC-beleid en by die stembus gestraf sou word daarvoor – ‘n vrees wat nie kans gekry het om reg of verkeerd bewys te word nie, want sonder alliansie-vennote en sonder ‘n plan, het die eens magtige regeringsparty sy relevansie en dus bestaansreg verloor en is toe aanstons ontbind!

(Ek bespreek hierdie politieke realiteite – soos ek dit vandag terugskouend sien – net ter wille van balans, sodat u kan weet dat ons as die polisie in my opinie wel foute mag gemaak het, maar dat die groot, kritieke foute deur die politici gemaak is,  nie deur óns nie – vir dié onder u wat hierdie lees en wat wil blaam lê: kyk dus asseblief ook daar, waar die werklike mag gesetel was, en nie net na die polisie en die veiligheidstak nie).

Die oorgrote meerderheid van ons was goeie kerkmense – Calviniste – gelei en gerugsteun deur kapelane.  Ons het baie goeie bedoelings gehad. Statisties lyk ons syfers van byvoorbeeld sterftes in aanhouding amper onbeduidend, wanneer vergelyk op internasionale skaal! Ons suksesse is ook onbetwisbaar – ons het die potensiële ramp van ‘n Marxistiese volksrepubliek afgeweer, en toe die skikkingsproses van sy broodnodige stabiliteit voorsien! Ons het gestaan onder die uitvoerende gesag van politieke maghebbers wat nou  onsigbaar is. Dis hulle wat die beleid bepaal het en die wette passeer het – beleid en wette wat ek nou kan insien ander mense in wese “ont-mens” het. Dis daardie politici wat, toe skiet baie sigbaar nie gaan of kan werk nie, hoegenaamd nie voorbereid was vir hoe om te onderhandel vir skik nie!

Mens kan net maar wonder: as détente nie ondermyn is in Angola nie, as Soweto se kinders bloot net toegelaat is om te marsjeer, en as premier Vorster se span nie ge-“staatsgreep” is nie en destyds wel voorbereid kon onderhandel vir ‘n skikking in SWA/N en vervolgens Suid-Afrika self, in die baie meer gunstige klimaat van die laat sewentigs en vroeg tagtigs – hoe sou ons grondwetlike skikking dan gelyk het?

Die harde werklikheid is en bly egter: gedane sake het geen keer! Mog ons tog darem net daaruit leer!

NB – Dis harde werk om objektief te dink en dit verg ook moed om eerlik te wees aangesien mens deur die  geskiedenis beoordeel sal word!

Die polisie was maar ‘n weerspieëling van die Suid-Afrikaanse publiek. Ons het goeie en minder goeie polisiemanne gehad! Goeie en minder goeie  speurders gehad! Baie uitstekende polisiemanne het die mag weens swak salarisse verlaat! Ek het baie keer gewens ons kon ‘n staatsdienskommissie hê wat die polisie meer simpatiek gesind was. Polisiewerk is unieke werk!

My dank aan ons reserviste en lede van die kommando’s wat ons getrou bygestaan het. Sonder hulle sou ons ook nie die mas opgekom het nie!

Al was ek hier krities, dis met goeie en eerlike bedoelinge gedoen – ons was nie perfek nie! Ons was mense – kapokhaantjies op ons eie mishopies!

Ek sluit af: Ons het in interessante tye geleef opwindende dae belewe!Al was die SAP se begroting te klein en al het ons het maar karige toerusting gehad (ek het bv ‘n krammasjien by die Departement van Buitelandse Sake persent gekry – ons het spelde en skuifspelde gebruik!) Ons het met vervoer, uitrusting, toerusting en mannekrag probleme gesit. Ons moes veg om die gereedskap te kry om ons werk te doen!  Op King’s Rest was ons maar twee blankes per aflossing. (Ons het rondom 1000 RAA’s (register van aangifte aangeneem) gehad – m.a.w. 1000 mense per maand aangekla). Volgens AO W Marias, my voormalige stasiebevelvoerder, was King’s Rest besiger as Witbank en Middelburg te same! Hy was later DK-klerk te Middelburg Transvaal).

Soli Dei Gloria

Die polisie het my ‘n uitstaande loopbaan gebied en ek was, soos baie ander lede, gelukkig om baie te reis en in die buiteland te dien.

God het my deurentyd beskerm en daarvoor is ek vandag baie dankbaar. Ek sal ook nooit kapelaan Vorster (van die Kaap) se preek in Rhodesië (1974) vergeet nie – Volgens hom het God ons na Afrika gestuur om Ligdraers te wees en vandag is dit al wat ons kan wees! “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.” (Joh 1 verse 4 & 5.) Daar wag vir ons as Christene (en ligdraers) in hierdie land ‘n groot taak!