ABSTRACT: a series of articles on the development of an own Science of Intelligence in South Africa; in this edition – the history of the communist threat.
KEYWORDS: Communism in South Africa; Communist Party of South Africa; South African Communist Party; Bureau for State Security; Suppression of Communism Act
Intelligensie-opleiding
Intelligensiekunde se Latynse stamwoord is ’Intellegére’ – ons vermoë om te verstaan.
Henning van Aswegen
Gedurende die Eerste Wêreldoorlog, en daarna tot en met die Tweede Wêreldoorlog, het die Unie van Suid-Afrika vir intelligensie, en meer bepaald gevegs- en tegniese intelligensie, staatgemaak op die Britse Militêre Intelligensiediens (DI). DI, wat aan die Departement van Verdediging rapporteer en meesal uit Britse militêre attachés bestaan, moet nie verwar word met MI6 (later SIS), wat die benaming is vir Afdeling 6 van Military Intelligence (die “MI” in MI6), nie. MI6 se personeel rapporteer aan die Britse “Foreign Office,” en nie die Departement van Verdediging nie, en bedryf dekkingskantore in elke Britse ambassade.
Ietwat teen die verloop van spel sit die Britse regering in 1948 ná die verkiesing sy opleiding van lede van die ”Spesiale Tak” van die SAP in Londen voort. In die spreektaal en onder ander lede van die polisie is gepraat van die “War-time Special Branch” om aan te dui dat die groep polisiemanne as lojaal teenoor die Smutsregering sou gestaan het. Dit was egter nie die geval nie. Die “Special Branch-” manne was spesiaal uitgesoek en gekies op grond van hul vermoëns, kundigheid en vaardighede ‑ nie politieke lojaliteit nie. Dié uitgesoekte groep polisiemanne ontvang nie net opleiding van die Special Branch by Scotland Yard nie, maar ook van MI5, die Britse Binnelandse Intelligensiediens. Onder die uitgesoekte groepie was hoofkonstabel P.P. du P. Taylor, wat later ’n lid van die Buro sou word, en maj. H.J. du Plooy, later die Kommissaris van Polisie. Ook lt. T.J. Crous het later die eer te beurt geval om as Kommissaris van Polisie te dien.
Skaars ’n jaar na die 1948-verkiesing hou die ANC sy jaarlikse konferensie in Desember 1949, waartydens die gematigde dr. Alfred Bitini Xuma as president vervang word deur dr. James Moroka. Oliver Tambo en Nelson Mandela word as Jeugliga-verteenwoordigers lede van die ANC se uitvoerende komitee, wat verklaar dat hulle ten gunste van meer militante vorme van verset teen die NP-regering is. Moses Kotane, algemene sekretaris van die KPSA, word saam met die bekende kommuniste J.B. Marks en Dan Tloome as lede van die ANC se uitvoerende komitee verkies en kry daarmee beheer oor die voormalige swart politieke organisasie. Tydens die konferensie word die ANC-Vroueliga, wat een jaar tevore gestig is, as volwaardige deel van die ANC erken. Vanaf 1949 gebruik die KPSA die ANC as werktuig in die stryd om die regering van die land oor te neem.
Die ANC se jaarlikse konferensie in Desember 1949 aanvaar ’n “programme of action” wat hom aan openlike verset teen die wette van die land en die regering verbind. Die “Programme of Action” dring op die beëindiging van blanke oorheersing aan deur middel van “aktiewe boikotte, openbare stakings en burgerlike ongehoorsaamheid.” Aan die einde van die dekade was die politieke aspirasies, sosio-ekonomiese en maatskaplike behoeftes van Suid-Afrika se swartmense ooglopend die grootste probleem en uitdaging in die land vir die nuwe Malan-regering.
Ná Van den Bergh se ontslag op 14 Desember 1944 uit Koffiefontein is hy onder huisarres geplaas in Vredefort, maar verkry toestemming om in Johannesburg as klerk by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Argitekte te werk. Van den Bergh werk vyf gelukkige jare by die Instituut, maar sy kop en hart neig die hele tyd terug polisie toe. Gedurende 1945 ontmoet die jong wewenaar Van den Bergh die aanvallige Kotie Pyper en hulle trou op 30 Mei 1946. Uit die huwelik word Johann, Marie-Louise, Sandra, Francois en Adele gebore, susters en broers vir Lorraine wat van jongs af met haar gesondheid sukkel.
In 1949 oorhandig Van den Bergh en ’n groep van sy mede-Koffiefontein-polisiekollegas ’n petisie aan die nuwe NP-regering en eis hul heraanstelling. ’n Kommissie van ondersoek word deur die minister van justisie, adv. C.R. Swart ingestel, wat die groep se eise nagaan en hul versoek om heraanstelling goedgekeur. Boonop word hul name in ere herstel en die Koffiefontein-lede se onderbreking van hul dienstermyn is opgehef. Van den Bergh was een van die gelukkiges wat toegelaat is om ná die suksesvolle voltooiing van ’n offisiers-eksamen in Maart 1950 tot luitenant bevorder te word.
Van den Bergh word ’n uitstekende speuroffisier en verskeie bevorderings en verplasings volg. In Woodstock en Bellville los Van den Bergh ’n aantal moordsake suksesvol op en hy word met bevordering as speuroffisier na die SAP-hoofkwartier in Pretoria oorgeplaas. Hy word as stafoffisier van die speurhoof, genl. Renier van den Bergh (nie familie nie), aangestel en doen so waardevolle ondervinding in die bestuursvlak van die polisie op.
Die nuwe Nasionale Party-regering se beleid van afsonderlike ontwikkeling was op die handhawing van individuele identiteite vir sy bevolkingsverskeidenheid gefokus en van meet af onderhewig aan felle buitelandse kritiek. Daarteenoor was Suid-Afrika se lidmaatskap van die VN, met inbegrip van sy kommissies en werkgroepe, asook internasionale liggame soos die Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds (IMF), op multilateralisme en globalisme ingestel.
Soos baie ander lande was Suid-Afrika in hierdie tydsgewrig vasgevang in die Koue Oorlog wat na die Tweede Wêreldoorlog tussen Westerse lande en die Sowjet-Unie ontstaan het. In die Weste het daar ’n heftige teenreaksie teenoor Sowjet-kommunisme posgevat en die NP-regering was tot ’n mate hierdeur geaffekteer en beïnvloed. Dr. D.F. Malan word nietemin die eerste minister wat op uitnodiging van die nuwe Joodse regering in 1948 Israel besoek en Suid-Afrika word daardeur die eerste land wat die soewereiniteit van die staat Israel amptelik erken.
In Maart 1950 organiseer die ANC/SAKP ’n Freedom of Speech Conference in Johannesburg en kondig aan dat 1 Mei 1950 (International Workers’ Day), ’n “freedom day” sal wees, waarop geen swart werker sal werk nie.
Die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme (1950)
Met die uitbreiding van die Veiligheidstak word die verkryging van inligting betreffende kommunistiese- en verwante ondermynende bedrywighede aansienlik versterk en meer doeltreffend gehandhaaf. Die omvang van die kommunistiese bedreiging teen die staat kon nou vir die eerste keer behoorlik bepaal word, en daarom vind ons dat die Kommunistiese Party (KPSA) in die RSA en Suidwes-Afrika by wyse van plaaslike wetgewing in die ban gedoen is.
Die toenemende onrus en stakings het die regering genoodsaak om op 26 Junie 1950 wetgewing deur die parlement te voer om kommunisme te onderdruk, Wet 44 van 1950, wat in artikel 55 bepaal dat persone ingevolge die wet strafbaar is indien hulle “advocate, advise, defend or encourage the achievement in the Republic of any of the objects of communism.” Die wetsontwerp is deur die minister en later staatspresident C.R. Swart by die parlement ingedien en ’n meerderheid N.P. en VP-lede het daarvoor gestem. ” Hierdie wet het die KPSA verbied en aan die regering die mag gegee om enige ander organisasie wat kommunisme bevorder, te verbied. Die bevordering van kommunisme het dus ’n strafbare oortreding geword en kommunisme is in die vakbondwese verbied.
Dr. Yusuf Dadoo, lid van die sentrale komitee van die KPSA, reageer soos volg op die passering van die wet: “The purpose of the Suppression of Communism Act is to suppress the fundamental rights of the South African people to organise, to criticise, to express, by written or spoken word, their opposition to any aspect of Government policy which they consider repugnant and anti-democratic.” Die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme (Wet 44 van 1950) het die SAKP ondergronds gedryf en nie geneutraliseer as ’n bedreiging vir staatsveiligheid nie. Vir alle praktiese doeleindes was die rug van die SAKP gebreek en die organisasie sou van 1950 tot 1953 ’n onbeduidende rol in Suid-Afrika se geskiedenis speel. Lionel (Rusty) Bernstein, ’n lid van die KPSA, skryf later in sy outobiografie dat die Sentrale Komitee kort na die regeringsaankondiging ’n ongemaklike laaste vergadering gehou het, waartydens besluit is om die KPSA te ontbind. “We had come expecting a message of courage, hope, perhaps defiance or confrontation (from General Secretary of the Party Moses Kotane), but not cold surrender without a whimper.”
Baie van die lede van die KPSA het na sy ontbinding eenvoudig by KPSA-frontgroepe en organisasies soos die African National Congress (ANC), wat toe nog ’n wettige organisasie was, die South African Congress of Democrats (SACOD), die South African Indian Congres (SAIC), die Coloured Peoples’ Congress (CPC) en die South African Congress of Trade Unions (SACTU) aangesluit. Al hierdie organisasies het die woord ”congress” in gemeen gehad. Met uitsondering van die ANC, is elkeen van die ander frontgroepe deur kommuniste aangevoer, met inbegrip van SACTU wat deur die kommunis Leon Levy beheer is. Die RI-kontrakagent Gerard Ludi (Q018) stel dit onomwonde dat die ondergrondse Kommunistiese Party die “sement” was wat hierdie verskillende “kongresgroepe” aan die gang gehou het, aan mekaar verbind het en bestuur het.
Die Congress of Democrats het in 1962 begin om sy Marxistiese mondstuk, die New Age, te publiseer om die ou The Guardian, wat deur die regering verbied is, te vervang. Die geharde kommunis Ruth First, eggenote van Joe Slovo, is die eerste redakteur van die New Age en die redaksie bestaan uit Joe Nqgabi, Robert Resha, Gerard Ludi, Lionel Morrison en Eve Hall. Die Johannesburgse kommuniste het grappenderwys opgemerk dat hulle met die publikasie van die New Age net vir hul ou tydskrif The Guardian ’n “nuwe rok” aangetrek het. Ten spyte daarvan dat die Kommunistiese Party nou ’n verbode organisasie was, sit geharde lede soos Moses Kotane, J.B. Marks en die vakbondleier Bettie du Toit hul bedrywighede ondergronds voort. Alhoewel Du Toit se naam en van Afrikaans klink, was sy inderwaarheid Engelssprekend en het sy haar posisie as vakbondleier gebruik om betogings teen die regering te organiseer. Kotane, Marks en Du Toit is deur die Latviese kommunis, Ray Alexander Simons (eggenote van Jack Simons), opgelei om klandestiene vergaderings te hou deur teenagtervolgingsmetodes toe te pas.
Die ANC het in 1953, na sy inbandoening, ’n geheime vergadering in Pietermaritzburg gehou wat deur heelwat wit kommuniste bygewoon is, ten spyte van hul inperkings deur die regering. Die Congress of Democrats, onder leiding van Bram Fischer en Ben Turok, open in 1962 ’n kantoor in Artisan House, Foxstraat, Johannesburg, wat met geld van die Russiese Kommunistiese Party gehuur word. Die geld word deur vier kommuniste, naamlik Eli Weinberg, Ivan Schermbrucker, Rusty Bernstein en Jack Hodgson in hul bagasie na Suid-Afrika gesmokkel. Die vier ”koeriers” besoek Moscow gereeld en reis met East African Airways na Duitsland en per voet oor die grens om waarneming en agtervolging te vermy. Onder kommuniste in Johannesburg het hierdie geld van Rusland af om die SAKP in Suid-Afrika te finansier, as ”Moscow Gold” bekend gestaan.
Weinberg, Schermbrucker, Bernstein en Hodgson het die geld wat hulle na Suid-Afrika gesmokkel het, tydens borselontmoetings in die Johannesburg Sentraal-poskantoor aan ander kommuniste versprei. ’n Borselontmoeting vind plaas wanneer twee bewuste agente inligting of geld omruil, sonder dat die een die ander se teenwoordigheid erken. Die deelnemers is rolspelers in ’n klandestiene kommunikasiesisteem en die omruiling vind ongesiens plaas, in geval van waarneming deur ’n aktiewe opposisie. Die Veiligheidspolisie het na “verbyskuifontmoetings” verwys, wat aandui dat die twee rolspelers net vlugtig of lukrake kontak met mekaar het, byvoorbeeld wanneer een person van ’n bus afklim en die ander een opklim.
Borselontmoetings kan in telefoonhokkies plaasvind, waar die een rolspeler voorgee dat hy skakel en dan ’n tydskrif, gevul met geld of mikrofilm, agterlaat en sy kameraad die agtergeblewe tydskrif dan optel. Of ’n aktetas kan by ’n bushalte gelos word, terwyl die rolspeler op die bus klim, en ’n ander persoon neem dan op ’n latere stadium die tas. Volgens Carl (ibid.) is “brush contacts tradecraft jargon for an ostensibly accidental bumping between two couriers, a courier and an agent, a principal agent and an agent, or a case officer and a principal agent or agent for the purpose of exchanging espionage materials. The Soviet KGB particularly prefers this method of exchange when there is a possibility that a net(work) may have been exposed by a defector; (2) “A discreet momentary contact usually prearranged between intelligence personnel, during which material or oral in formation is passed.”
Die tesourier van die KPSA, Piet Beyleveldt, het tydens die Bram Fischer-hofsaak getuig dat die Russiese Kommunistiese Party KGB-koeriers aangewend het om geld na die Kommunistiese Party van Suid-Afrika te smokkel. Beyleveldt het in daardie hofsaak getuig dat hy op ’n keer ’n aktetas met R 50 000 daarin van so ’n KGB-koerier in Johannesburg ontvang het.
Nie alle parlementslede was gelukkig met die aanvaarding van die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme in 1950 nie en die eerste minister, D.F. Malan word genoodsaak om twee jaar later ’n Gekose Komitee oor Ondersoek ingevolge die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme aan te stel. Dié komitee publiseer in 1953 sy geheime verslag en bevind (a) dat die regering geregverdig was om so ’n wet deur die parlement te voer en (b) dat die wetgewing korrek deur die staatsdepartemente en wetstoepassingsorganisasies toegepas word.
Teen dié tyd het die ANC en die SAKP een doel van oë gehad – om tot gewelddadige verset teen apartheid oor te gaan. In die konteks van swart politiek in die 1950’s kon daar twee breë filosofieë onderskei word: die Charteriste, waarvan die ANC en SAKP die belangrikste groepe was en die swart bewussynsorganisasies, waarvan die PAC die belangrikste was. Hoewel die ANC en SAKP verbode organisasies was, het hulle deur middel van koverte netwerke, gemeenskapsorganisasies, affiliasies en alliansies aan die politieke gesprekvoering deelgeneem. Geharde kommuniste soos Brian en Sonia Bunting, Ivan Schermbrucker, Y.M. Naidoo, A.M. Kathrada en G.M. Naicker het eenvoudig organisasies soos die SAIC, vakbonde en die ANC gerysmier en op hul besture gedien.
Onder leiding van die KPSA organiseer die ANC en die SAIC ’n openbare versetveldtog (“Defiance Campaign”), om deur massa-aksie en oortreding van wette openbare wanorde en opstande te laat ontstaan. Die Defiance Campaign van die KPSA, ANC en SAIC was toegewys op burgerlike ongehoorsaamheid en die openlike, openbare skending van wet en orde. Twee datums word vir die aanvang van die Defiance Campaign voorgestel: 6 April, die dag waarop Jan van Riebeeck se landing aan die Kaap herdenk word (simbolies dus die dag waarop Suid-Afrika gekolonialiseer is) en 26 Junie om die eerste versetpogings teen die regering in 1912 te herdenk.
In die dae, weke en maande ná 26 Junie 1952 het massa-optrede deur versetbewegings, insluitende die opsetlike verbreking van wette, gepaard gegaan met die sing van vryheidsliedere en skree van slagspreuke. Die leiers van die Defiance Campaign is Oliver Tambo, wat in 1952 algemene sekretaris van die ANC geword het en Albert Luthuli, wat vanaf 1953 president en dus leier van die organisasie was. Die optogte het gepaard gegaan met openbare saakbeskadiging, klipgooiery, moord, petrolbomaanslae en brandstigting. Die SAP reageer deur ongeveer sestig kommuniste, almal lede van die KPSA, ANC, SAIC, Congress of Democrats en die South African Coloured People’s Congres (SACPC), in hegtenis te neem op aanklagte onder die wet op die Onderdrukking van Kommunisme. Nelson Mandela, Walter Sisulu, Yusuf Cachalia en Raymond Mahlaba word tydens hierdie veldtog vir ’n eerste keer gearresteer en Yusuf Dadoo, Moses Kotane en J.B. Marks as ingeperkte persone verklaar.
Die regering verbied verdere publikasie van die kommunistiese tydskrif, The Guardian en passeer die Wet op Openbare Veiligheid (Wet 3 van 1953) en die Strafregwysigingswet wat die regering magtig om soortgelyke versetveldtogte te onderdruk en ’n noodtoestand met ingeslote noodregulasies uit te roep. Hierdie regeringsoptrede het heftige internasionale kritiek uitgelok en tot gevolg gehad dat Suid-Afrika se beleid van afsonderlike ontwikkeling ’n vaste punt van bespreking op die agendas van beide die Veiligheidsraad en Algemene Vergadering van die VVO geword het.
Tog woon drie lede van die SAP in 1952 ’n hoogs geheime spesiale veiligheidskursus wat deur die Britse Special Branch aangebied word, in Londen by. Die SAP-offisiere Cromhout (bekende vingerafdrukdeskundige), H.J. du Plessis en Van Heerden ontvang saam met Kanadese, Indiërs en Australiërs onderrig van die Special Branch, asook offisiere Winterbourne en Shaw wat die doel van die kursus stel as maniere en tegnieke om ondergrondse bewegings in die Britse Gemenebes teen te werk. Cromhout was verbonde aan die SA Kriminele Buro en vertel: “Die kursus was vir veiligheidsdoeleindes en veral gemik teen ondergrondse bewegings, om spioene en geheime agente wat in die land te gunste van ’n vyand of waarskynlike vyand van die land werk, op te spoor, veral deur die kanale en middele wat hulle gebruik om inligting die land uit te stuur.”
- In konteks van die tyd word 1953 die jaar waarin Edmund Hillary en sjerpa Tensing Norgay die eerste mense word om Chomolungma (Everest – die Godinmoeder van die Aarde), uit te klim.
In 1953 is drie politieke partye gestig wat elkeen die regering teenstaan en almal ’n mindere of meerdere invloed op Suid-Afrika se geskiedenis sou hê, te wete die Liberale Party, die Coloured People’s Organisation (later die Coloured People’s Congress) en die Congress of Democrats (COD). Alhoewel dit in 1950 tot verbode organisasie verklaar is, het die KPSA nooit ontbind nie en verander hy sy naam op 30 Julie 1953 na die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP). Die SAKP sit sy ondergrondse bedrywighede in die persoon van die Congress of Democrats voort en die meeste blanke SAKP-lede, soos Ben Turok, Rusty en Hilda Bernstein, Ismail Meer, Fred Carneson, Ahmed Kathrada, Joe Mathews, Ray Alexander, Jack Simons en Brian Bunting sluit by die COD aan. Bram Fischer se eggenote Molly Fischer, ’n lid van SACOD, reis in 1954 saam met Walter Sisulu na Beijing, om as amptelike verteenwoordigers van die SAKP die vyfde viering van die Sjinese rewolusie by te woon. Fischer verteenwoordig terselfdertyd die nuutgestigte, nierassige Federasie van Suid-Afrikaanse Vroue (FSAW), wat in 1954 ’n “Handves vir Vroueregte” aanvaar, wat gekant is teen “die onregverdighede van apartheid.” Die ANC, SACOD, SAIC en SACPC beplan hierna om op 26 Junie 1955 ’n volkskongres in Soweto te hou met die doel om ’n gesamentlike dokument op te stel, waarin hulle ’n alternatiewe grondwet vir die land sou uitspel.
Die Liberale Party was eweneens ’n doring in die vlees van die regering en die Veiligheidspolisie, vanweë die politiek van die lede daarvan. Die Liberale Party is deur die skrywer Alan Stewart Paton en Raymond Vigne gestig, met die oortuiging dat die NPP deur middel van parlementêre opposisie teengestaan moet word. Die Liberale Party was ’n veelrassige party en het selfs ANC-lede soos Selby Msimang en Jordan Ngubane gehad, hoofsaaklik as gevolg hul teenstand teen die KPSA en COD se oorheersing en invloed oor die ANC. Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het in 1954 en 1955 regeringsreaksie op sy naamsverandering heeltemal onderskat en nie daarmee rekening gehou dat die staatsveiligheidsmagte noukeurig deurlopende aandag aan sy voortgesette ondergrondse bedrywighede gee nie. Die SAKP-lid verwoord die KPSA en SAKP se sekerheidsnaïwiteit as volg: “No overall strategic intelligence capacity existed in the state which might have envisaged the re-establishment of the Party. The intelligence capacity on domestic affairs then was in any case limited to the initially inept efforts of the Special Branch of the South African Police.”
* In DIE BURO, wat deur Imprimatur Uitgewers gepubliseer word, is daar ware Suid-Afrikaanse spioenasieverhale wat die waarde van agente en spioene illustreer, en ook die enorme skade wat hulle somtyds aanrig, onder die soeklig plaas. Die enigste werklike meetinstrument van die sukses van ’n spioenasiediens is die mate waarop hy of sy die geskiedenis beïnvloed het, of nie. Die Buro vir Staatsveiligheid het ’n invloed op die Suid-Afrikaanse geskiedenis gehad en verdien om onthou te word. Indien enige van ons lesers oor relevante inligting oor die ontwikkeling van spioenasie in Suid-Afrika, beskik, word u hartlik uitgenooi om enige inligting en foto’s aan henningvanaswegen55@gmail.com., te stuur.
Word in die volgende Nongqai vervolg: Koverte en Bedekte Insameling van Inligting.