WO1 Paul Els blogost header

ABSTRACT: WARRANT OFFICER 1 OF SOUTH AFRICAN ARMY, PAUL ELS (RET) TELLS HIS LIFE STORY IN HIS OWN WORDS

KEYWORDS: SOUTH AFRICAN DEFENCE FORCE; SADF SPECIAL FORCES; WO1 PAUL ELS

SEE NONGQAI Special Edition Vol 14 No 10C October 2023 in Archive

SPESMAG-OPERATEUR WO1 PAUL ELS VERTEL

My Ouers

My Pa is in Zoeloeland gebore en het daar grootgeword. Met die uitbreek van die tweede wêreldoorlog  is hy met ‘n konvooi deur Rhodesië, Kenia en ander lande na die noorde. Hy het gedien as ‘n voertuigwerktuigkundige en het plekke soos die Dooie See en Italië gesien.

 Voor sy vertrek het hy vir Katirina Els ontmoet en deur die jare vir haar uit die noorde geskryf. Met sy terugkeer na SA in 1943 is hy die Donderdag na Pietermaritzburg waar hy vir Katirina gekontak het en gevra om hom in die kafee te ontmoet vir middagete. Daar het hulle besluit om die Saterdag te trou.

 My jeugjare

Ek is gebore in Empangeni, op 12 Junie 1944, in die rondawel wat by die ingang van die hospitaal was.

Na my geboorte is ons toe Kaapstad toe, aangesien Pa nog steeds in die leër diens moes doen en was toe gestasioneer in Wynberg. Daar het ons gebly vir ‘n jaar en is toe terug Durban toe waar my sussie Gesina gebore is wat ‘n jaar later gesterf het aan longontsteking. Ons het toe in ‘n militêre “bungalow” op die Bluff gebly. Rina is gebore in Durban.

Pa het toe die plaas verkoop wat hy gehad het op Hluhluwe en ons trek toe Swaziland toe, na die plaas langs die Van Zuydams. Torrels van Zuydams was getroud met my Pa se enigste suster. Daar het Pa katoen geplant en Ma het tot gehelp om die saad van die katoen in beesmis toe te draai. Pa het nie ‘n vervoermiddel gehad nie en ons moes kerk toe ry met die trekker en ons op die sleepwa. Op die plaas het ek geleer om fiets te ry. Eendag het ek saam met Adolf gery – hy het my ge-“lift” – en ons het in ‘n donga beland.

Ons het vandaar na ‘n regeringshuis getrek naby Hlatikhulu, op die rand van die Assegaairivier­vallei. Pa het vir die regering waterslote geploeg op die regeringplaas waar ons gewoon het. Soms het ons die Duiwelspas af na die Assegaairiviervallei gery en daar gaan visvang en vrugte kry. Die grootste nartjies wat ek ooit in my lewe gesien het, het daar gegroei. Ons het die bakkie so vol gelaai dat hy nie die Duiwelspas kon opkom nie, en dus moes die bakkie in trurat gaan.

Hier het ek eendag ‘n paar sandvlooie in my voet gekry dat ek na Hlatikhulu-hospitaal geneem moes word en hulle my met chloroform verdoof vir die operasie om die sandvlooie dood te kry.

Ons het toe Goedgegun toe getrek en ek is na die kosskool op Amsterdam geplaas. My eerste jaar skool vermoed ek was in Goedgegun en ek het tot Std 3 op Amsterdam gewees. Wat my Pa se werk was weet ek nie.

Toe trek ons na Lothair waar Pa die garage vir sy broer, Cassie, bestuur het. Ons het toe in ‘n ou spoorweghuis oorkant die straat gebly en in die winter het ons voor die kaggel in die kombuis gebad in ‘n sinkbad.

Vandaar is ons Glendale in Zoeloeland toe. Dis naby Stanger en Pa het in die suikermeule gewerk as meganiesewerktuigkundige. Ek is toe na Empangeni-kosskool vir my Std 4 jaar. Die einde van daardie jaar is ons Ashley toe naby Pinetown en ek het standerd 5 in die Ashley skool voltooi. In die middel van die jaar het ons na 76 Underwoodstraat in Pinetown getrek en ek moes met die fiets Ashley toe ry.

Die volgende jaar is ek na Pinetown Hoërskool wat tweetalig was. In die volgende jare het ons gemeente ‘n kerk gebou en ek het daar my kategese gedoen. Ons vriende was die Van Staden’s, Barnard’s en ‘n vriend van my was Chris le Roux. In standerd 7 het ek begin om vir die eerste span te speel en het daar vier jaar lank gespeel. Ek het standerd 7 gedop en moes dit oordoen. In standerd 9 (1962) het ek die Durban-distrikte rugby span gehaal en ons het teen Zoeloeland skole op Ginginhlovu gaan speel. My nauurse sport was Judo.

Pa het toe as boukontrakteur vir Oom Hans Badenhorst en Jamie Uys die Top Star-inryteater gaan bou in Johannesburg. Dit was 1960/1961. Ek het vakansies vir hom gaan werk en trekkers bestuur op die myn.

Einde 1962 het ons getrek na Amanzimtoti. Op die rivier so drie km vanaf Amanzimtoti het my Pa ‘n stuk grond gekoop. In 1963 is ek na Saamwerk Hoërskool in Rossburgh, waar ek matriek probeer skryf het. Ek het die skool se orkes gestig en was die trom-majoor, het eerste span gespeel, en die honderd treë hekkies rekord gebreek in daardie jaar. Einde 1963 het Pa die Karavana-karavaanpark begin en ek is toe Army toe, Januarie 1964.

 Army-jare

Op 5 Januarie 1964 ry ek per trein na Pretoria en word by die stasie afgehaal en na die Leër Hoofkantoor toe geneem. Ons het agter Dequaria in tente ingetrek. Die volgende dag het ‘n helse haelstorm Pretoria geslaan. Vandaar is ek na Tek-basis vir die insweer en toe na die Seinskool, in Voortrekkerhoogte.

Ons basies (Januarie 1964 tot Maart 1964) het begin en sers Jeff Imrie was een van die instrukteurs. Tydens basies is die ou WAAF-kamp oorgeneem en ons moes die plek skoonmaak

Die WAAF-kamp was gebruik deur staandemag mense wat in die ‘bungalows’ gebly het. Dit was ‘n groot werk gewees, want toe het die geboue al verval en gras was knie hoogte. Ons het elke dag van die seinskool gemarsjeer en gaan werk. Ons het toe ons intrek geneem en basies daar voltooi. Die dag van ons uitpassering is seinman Bosch deur ‘n MP dood gery, die Saterdagaand, voor die plek waar die brandweerstasie was. Die Maandag het ons begin inoefen vir die begrafnis en ek was een van die draers. RSM Frikkie Fourie het ‘n ou deur aangetree en ons het vir Olwagen op dit laat lê en ons moes hom so dra as die kis. Op ‘n kol skree Frikkie vir ons los en ons laat arme Olwagen met deur en al val.

Die begrafnis was in die NG Kerk en ons het vandaar af ge-“slow-march” tot by die begraafplaas.

Die volgende naweek het ons pas gehad en duimry huistoe met my nuwe uitstap-uniform aan. (Ek het ‘n foto in Durban laat neem).

Ek is toe na die seinskool om my ambag te begin. Drie weke later vra ek dat ek oorgesit word na die operateursvleuel, want die geleerdery van elektronika het my nie geval nie.

Ek het toe die Vak K1 kursus (4 April 1962 – 28 November 1963) gedoen en so het my loopbaan as audio-operateur begin. Dit sluit tik en Morsekode in.

 

Ladysmith

In Desember is ek verplaas na 5 SA Infanterie Bataljon in Ladysmith. Ek is die middag op die trein en arriveer so na twee die Saterdagoggend van die 2de Desember in Ladysmith. Daar het die diens­drywer my gekry en na die basis geneem.

Ek is na ‘n ‘bungalow’ geneem en die lig is aangesit en ‘n bed gewys. Ek sit my goed neer en trek uit en oppad om die lig af te sit sê ‘n stem – “Los, ek sal hom afsit” – en die volgende oomblik vlieg ‘n ‘army boot’ en daar trek die gloeilamp. “Hel”, wonder ek, “wat nou?!”

Dit was ou prefab-geboue wat as huise tydens WO 2 gedien het, het kamers gehad. Die senior manne het in die kamers gebly. Charlie van Antwerpen, seiner-korporaal het in die spens gedeelte gebly.

Samajoor Calmeyer was ons RSM.

Ek moes inpas by die roetine van die infanteriste en het die kommunikasie sentrum behartig. Dis die stuur en ontvang van berigte vanaf Durban en Pretoria.  So het ek ook gewerk in die radiokamer en opleiding gegee.

In die middel van 1966 het die hele eenheid op maneuvers vertrek na Richardsbaai. Daar was oor die 600 troepe wat in konvooi gery het. Ek bestuur die Landrover en ‘Recless’ van der Merwe sit ‘n LMG deur die voorste venster wat oop kon maak, met patrone. Sodra hy lokale mense sien langs die pad dan vuur hy ‘n paar skote af en mens sien net hoe hardloop hulle ‘n pad oop deur ‘n suikerriet plantasie. Of val hulself disnis vanaf hul fietse.

In 2010 het ek agtergekom die hoofrede vir die magsvertoning in Richardsbaai.

Tydens die tydperk by 5 SAI het ek al my kursusse gedoen in Pretoria. (Korporaal-kursus 14/Junie – 6/Augustus 1966). (Vak K4 18/4/1966 – 25/11/1966).

 Aan die einde van 1967 is ek verplaas na die seinerskool as instrukteur.

In die jaar het ek die voertuigbestuurderstoetserkursus gedoen in Bloemfontein.

 Caprivi: Die begin van “Operasie Brush”

Ons vlieg toe die 17de Januarie 1968 na die Caprivi in twee C130 vragvliegtuie as ‘n SAUK-ondersoekspan om ‘n nuwe radiostasie daar te gaan oprig. Ons is met twee C130’s en land toe op die lughawe by Katima Mulilo. Toe ek uitklim groet Eric Dreyer, ‘n vlieënier in polisieuniform, my en vra wat ek hier doen? Daar is ons dekstorie al klaar in sy peetjie. Ek en Eric was saam in Pinetown Hoërskool. Hy is toe as ‘n Kuduvliegtuigvlieënier afgedeel na die Polisie.

Ons het die meeluisteringstasie toe opgerig en in tente gebly.

Ek kry toe malaria en is na die lokale hospitaal geneem. Vandaar is ek terug huistoe, nadat kapt. Witkop Badenhorst se plek deur kapt Gerrit Ockerse oorgeneem is. (Gerrit was my Oom.)

Ek het toe bietjie ‘bos-verlof’ gehad en besluit toe om vroeër van die huis na die seinskool toe te gaan. Ek het die Donderdagaand daar gekom en die Vrydagmiddag net na ete word ek na die bevelvoerder se kantoor toe geroep. Hy vra my reguit of ek Gough-eiland toe wil gaan vir ‘n jaar. Ek het nie eers geweet van die bestaan van so ‘n eiland nie. Ek moes daar besluit en hy skakel my ouers en ek sê vir hulle dat ek vir ‘n jaar na die eiland gaan as radio operateur. Al my goed sal afgestuur word na hulle.

Die middag moes ek nog my paspoort kry en nog in die Kaap wees voor sesuur wanneer die skip vertrek. Ek moet nog in die tyd ook klere kry. Die skip is toe vertraag en ek vlieg toe Kaapstad toe die Saterdagoggend 20 April 1968 en arriveer die middag toe ek die aankondiging teen ‘n gebou sien dat daar ‘n Boeing in Windhoek geval het. In vlug SAL 228 het vyf mense oorleef terwyl 123 gesterf het. 

Ek het by die res van die span aangesluit en is ingelig dat ek die seiner wat siek is, gaan vervang. Nadat ons al my klere en my nuwe paspoort ontvang het, het ons laat Maandagmiddag met die ysbreker MV RSA vertrek vir ons lang reis na hierdie onbekende eiland.

 

Tyd op die eiland

Dit het ons in die ‘brullende veertigers’ geneem, stormsterk-winde wat in ‘n kloksgewys rigting om Antarktika waai; ons was regtig nie matrose nie! Sewe dae later het ons by Gough-eiland aangekom en die op- en aflaai het begin. Nadat ons twee dae saam met die ou span deurgebring het, vertrek die MV RSA op sy terugreis na Suid-Afrika.

 Gough-eiland is ‘n vulkaniese eiland, geleë 2 700 kilometer van Kaapstad in die Atlantiese Oseaan en 400 kilometer suidoos van die ander eilande in die Tristan da Cunha-groep. Dit is per ongeluk ontdek deur ‘n Portugese navigator wat van koers af gewaai het terwyl hy probeer het om om die Kaap die Goeie Hoop te vaar, en is later vernoem na kapt. Gough wat dit in 1732 herontdek het. ‘n Klein eiland van net veertig vierkante kilometer, dit het ‘n byna konstante gemiddelde temperatuur, maar omdat dit steil ruwe kranse het wat op plekke tot 900 meter bo seespieël styg en min veilige ankerplekke het, het dit nie menslike nedersetting aangemoedig nie.

Alhoewel Gough onbewoon is, is dit ‘n Britse besitting wat aan Suid-Afrika verhuur word as ‘n weerstasie deur ‘n “peperkorrel-huur”. Die stasie is gebou en word onderhou deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Program. Wettiglik word die stasie as deel van die landdrosdistrik van Pretoria behandel.

Ons span, nommer 13, het bestaan uit drie weermaglede: Johan Bothma (radiotegnikus), Dennis Briedenhan (medikus) en ekself (radio-operateur). Spanne bestaan gewoonlik uit weerkundiges, ‘n radio-operateur, ‘n radiotegnikus / werktuigkundige en dan wetenskaplikes, afhangende van navorsingsprojekte. Nadat ons oorgeneem het, het ons rustig geraak en huishoudelike take soos kosmaak is deur die spanleier Chris Hattingh, geskeduleer. Daaglikse kommunikasie met Suid-Afrika en die weerberig besonderhede was in morsekode. Ek het die eerste drie maande gesukkel, maar toe het dinge verbeter namate my Morsekode-spoed al hoe beter geword het.

 Die weerstasie op Gough word as deel van die netwerk van die Suid-Afrikaanse Weerdiens bedryf. Aangesien kouefronte Suid-Afrika vanuit die suidweste nader, is Gough veral belangrik in die voorspelling van winterweer. Suid-Afrika bedryf die weerstasie daar sedert 1956. Die stasie en woonkwartiere is op die suidwestelike laaglande van die eiland geleë. In seisoen was kreef vrylik beskikbaar en ons het ‘n paar baie grotes van die kus af gevang. Die eiland is een van die mins-ontwrigte ekosisteme van sy soort en is een van die laaste skuilings vir ‘nessende’ seevoëls in die Atlantiese Oseaan. Dit is die tuiste van unieke en bedreigde voëls soos die albatros (dwaal en sooi), die Atlantiese-stormvoël en die Gough-eiland-hoenhoen (Engels: moorhen). Duisende van hulle.

Die span was die enigste menslike inwoners van die eiland; maar dan was daar die muise, muise en nog muise, wat saam met die skepe gekom het en mettertyd per ongeluk met voorrade afgelaai is. Omdat hulle geen natuurlike vyande gehad het nie, het hulle in hul duisende geteel. Hoenders het onder die huis rondgebly, maar hulle word deur muise gebyt wanneer hulle op hul neste gesit het veral as dit reën en die hoenders nat is onder. “Kallie” die haan was natuurlik die hoof-haan op die eiland. Hy sou enige nuwe hane wat op die eiland aangekom het saam met die nuwe span uitsorteer. Hierdie hoenders het die span se dieet met vars vleis aangevul. Natuurlik was daar baie pikkewyne, see-olifante en robbe. Tydens ons verblyf het ons ‘n albino-albatros en suidelike (moord) walvisse gesien wat pikkewyne jaag.

Die enigste besering wat tydens ons verblyf plaasgevind het, was toe Chris Hattingh op ‘n nat klip gegly en sy enkel gebreek het. Daar was nog ‘n ongeluk toe ons ‘n vlot uit brandstof-dromme gebou, het om die kuslyn te verken: dit kon nie die swaar golwe vat nie en het op sy nooiensvaart gesink.

Dr Chris Barnard het daardie jaar die eerste hartoorplanting gedoen en natuurlik het die Bokke teen Frankryk gespeel. Dit was ‘n hartseer dag toe die aflosspan opgedaag het en na ‘n paar dae het ons hulle op hul eie gelos. Die tweede laaste nag op Gough het ‘n baie digte mis die eiland bedek. Dit het veroorsaak dat die nagvoëls in die beligte toe vensters en ander lampe buite ingevlieg en hulself uitgeslaan het.

Met ons vertrek het ons na Tristan da Cunha gevaar waar sommige plaaslike inwoners gestrand was op die nabygeleë klein eilande bekend as Inaccessible en Nightingale Islands. Ons het hulle opgetel en by Tristan afgelaai waar ons die geleentheid gehad het om op die vulkaniese eiland rond te stap en kreef te geniet saam met die enigste Suid-Afrikaner daar (die kreeffabriek-bestuurder). Toe vertrek ons met die ysbreker MV RSA na Suid-Afrika.

 Die see was kalm en ons het in ‘n rekordtyd terug gekom in die Kaap.

 Die oggend vroeg toe ons Kaapstad sien, was ons maar nie te opgewonde gewees nie maar die res van ‘PWD’-manne was. Dit het ons harte gebreek om weg te breek van die eiland. In Kaapstad het ons besluit om hare te sny. Tom het eerste ingegaan en ons het gevolg. Toe ek uitkom stel ek myself aan Tom voor en hy het my nie herken nie. Die haarkapper het gedink ons is van daardie Rock-and-Roll-groepe wat toe begin mode raak.

Ek is terug huistoe en het weer in die seinskool gewerk as instrukteur.

Geheime sending

In Desember nader genl. Loots my en ek word na sy huis in Sinoville geneem. Daar word ek gevra of ek bereid is om ‘n ontplooiing te doen. Ek het toe ‘n sielkundige toets by MMI gaan doen.

In die tweede week van Desember is ek met ‘n vervalste paspoort – ‘n Franse een – na Parys met ‘n radio in my handbagasie. In Parys is ek ontmoet deur ‘n lid van die ambassade en na ‘n hotel geneem naby die Arc de Triomphe. Daar het ek twee dae gespandeer en is toe na Brazzaville, waar ek by Jan Breytenbach se groep in ‘n villa aangesluit het. Daar was lede van die Franse-legioen en Hanry was die een met die kaalkop. Ek het myself tuisgemaak en ons het daar vir ‘n week gebly.

Eendag daag daar Biafraanse offisiere op en vergader met Breytenbach. Ek moes hulle bedien, want ek het die veldrang van 2de luitenant gedra. Hulle het kom vra vir batterye vir hulle radio’s in Biafra.

In die tyd was dit Kersfees en ons het by ‘n opelug-restaurant geëet. In die laaste week het Jan Breytenbach en Trevor Floyd uit Biafra gevlug en ons is toe onttrek, terug Frankryk toe en toe Suid-Afrika toe. Ons is na die ou 1 Militêre Hospitaal (saal 29) onder observasie vir een dag gehou en ek is terug na my eenheid. Ek het besluit om vir Pa te gaan werk. Ek bedank en net voor dit kry ek ‘n malaria-aanval en land in die hospitaal.

Ek wou in 1969 die Mag verlaat het, maar is ná die operasie met die voorwaardes dat Theuns, my swaar, vir Pa op die suiker plaas gaan werk.

Ek is toe op 9 Januarie 1970 uit en gaan werk vir Pa in die karavaanpark. Die dinge tussen my en Pa het nie mooi gewerk nie en ek sluit weer aan by die SAW in 1972. In die begin van 1972 is ek en Danie Momberg met my Peugot na Rhodesië vir ‘n toer. Ons het by Bulawayo by die Van Helsdingen’s gekuier en daar vir die eerste keer ‘n TV gesien. Toe is ons Enkeldoorn toe en terug Durban toe.

Gedurende die jaar van 1972 het ek vir die SAW-reserwespan Pretoria gespeel en het gereeld saam met bekende Springbokke soos Frik du Preez, Thys Lourens, Piston van Wyk gespeel. Ander bekende Noord-Transvaal spelers in die span was Kleintjie Grobbelaar en ander wie se name ek vergeet het.

 

My tweede lewe: Getroud

Ek en Annelie het toe mekaar al seker vir agt jaar geken waar sy woonagtig was in Winklespruit waar haar Pa werksaam was by die Illovo-suikermeule. My Pa het die karavaanpark Karavana in Winkelspruit besit en hy het ‘n klein kafee bedryf waar ek soms uitgehelp het.

In Augustus 1972 is ek op Winklespruit en gaan kuier by Annelie.

Die September is ons verloof en trou toe in Desember, ‘n dubbele troue met Albert Richter en Janet (suster van Annelie).

Ons trek in by ‘n enkelwoonstel in Sunnyside. Die April van 1973 se Paas-langnaweek kom ons terug vanaf Durban en ‘n swartman ry met sy fiets voor my Fairmont in en is op slag dood. Ons moes die kar daar los, maar Albert reël iemand om ons te kom haal op Heidelberg.

Ek verlaat die Weermag in Mei 1973 en gaan werk weer vir Pa. Was skaars daar toe Pa die karavaanpark verkoop en ons trek toe Ramsgate toe en ek huur ‘n woonstelletjie op ‘n plot. Aan die einde van 1973 trek ons terug Doonside toe en ek begin werk by die bode van die hof Johan is in Scottburgh gebore 4 Januarie 1974 en ek werk tot Junie by die bode van die hof en gaan werk toe vir Buffalo Salt Works as versendingsklerk.

 

“Operasie Savannah”

Dit het my nie gepas nie en ek sluit weer by die SAW aan en word gepos by kommandement Natal se sein-eenheid. Ek was besig met een van my kursusse by Heidelberg toe ek verplaas word na die Gimnasium in Heidelberg.

Op 1 Desember 1975 terwyl nog op die kursus word ek aangesê om dadelik na Rundu te vertrek. Ek arriveer daar die op 2 Desember en vlieg die oggend van die derde saam met brig. Potgieter, ‘n sjef en die vlieënier van ‘n Kudu-vliegtuig na Silva Porto. Toe ons opstyg vra die brigadier vir die vlieënier of hy al in Angola gevlieg het. Sy antwoord was “nee” en dit was sy eerste vlug die land in. Ons het direk op Silva Porto gekom en daar geland. Op die lughawe sê die brigadier vir my om te wag en ‘n halfuur later arriveer ‘n Lear-Jet en Savimbi klim uit en ek word aan hom voorgestel.

Ek is daarna na sy hoofkantoor geneem en trek in die kamer langs sy kantoor in. Ek sien ‘n gat teen die muur waar ‘n AK-patroon getref het en die gat veroorsaak het. Dit was vermoedelik deur Blommetjie, die vorige seiner gedoen – vir wie ek kom aflos het. Ek en kolonel Schalkwyk het bietjie in Silva Porto gery en hy het my in ‘n huis geneem, waar die pragtigste meubels was en die kinderspeelgoed nog net so rond lê – die dag toe die Portugese daar uit gevlug het vir hul lewe en alles net so gelos. Ek het daar twee dae gebly en is toe na die klooster verplaas om te help met die kriptowerk. Ek het my intrek in ‘n priester se kamer geneem en ons het daar gebly tot na nuwe jaar. Die kriptovoertuig is vir ons gebring en ons het die radiokamer in die kelder van die klooster gemaak.

Iewers in Maart is ek en een troep met die voertuig gestuur om by die hoof-taakmag aan te sluit. Daar was ‘n Landrover ook saam met twee manne in. Dit was nogal ‘n hele entjie en ek was maar bang gewees. Ons is deur Robert Willem en ek kon sien hoe die oorlog sy tol geneem het aan die geboue. Hier en daar het swart manne met wit meisies op balkonne gestaan en ons aangestaar toe ons daar deur ry.

So 15 km buite die dorp het ek by die taakmag aangesluit en dit is waar ek eindelik my deelname aan die “Savannah” gestaak het. Ons het rondgesit en gewag vir die onttrekking terug SWA toe. Brig Ben De Wet Roos was toe in bevel.

Dis tydens die tyd wat Annelie vrou-alleen getrek het vanaf Durban na Heidelberg en haar intrek in ‘n woonstel geneem het in Christoville. Sy was toe verwagtend met Nelie.

Ons is toe per konvooi terug na Grootfontein en dit het maar stadig gegaan op die natgereënde paaie. Die Eland-pantserkarre het vele kere voertuie uit die modder getrek.

Ons arriveer in Grootfontein en ek kuier by die seinkantoor daar. Een aand is ek, Shorty de Beer en Salie Smit agter in ‘n seinvoertuig na Grootfontein, want die MP’s deursoek nie seinvoertuie nie en ons kuier lekker in die hotel daar. Ons verpas die voertuig en Shorty maak die eerste beskikbare kamerdeur oop en slaap sommer op die bed. Vroeg die volgende oggend is ons skelmpies terug basis toe en dis toe PW  Botha met die manne in die “hangar” gepraat het. Ons is toe terug ‘States’ toe per Flossie.

Ons het vir drie maande in die woonstel gebly en toe ‘n huis gekry en Nelie is gebore. Annelie se Ma sterf in die jaar.

Ek word die instrukteur vir ‘C Kompanie’ met drie korporaals: Van der Merwe, De Nobriga en Keesman. Kan jy glo: ‘n boerseun; ‘n Portugees en ‘n Nederlander? Ons word toe beskou as die beste kompanie en ek is ingeroep voor maj. Wim Burger deur lt. Verster om my geluk te wens.

In die middel van 1977 word ek afgedeel om met die Recce’s te ontplooi in Rhodesië as die seiner vir 5 Verkenningskommando. Ek en staf-sers Taljaard vlieg na Salisbury en ons is toe na ‘Valley of the Ants’, te Mabalahota. Daar neem ek en Taljaard die radio’s oor en hou verbinding met spanne wat ontplooi en ook met Salisbury. Ek het ‘n drie maande “trip” gedoen en is toe terug na Heidelberg. Taljaard het nie lank gehou nie want die Recce’s het uitgevind hy is bang vir spinnekoppe. Die volgende jaar is ek weer toegevoeg en ontplooi daar. Ek neem my intrek met Oupatjie van Dyk en Mac van der Merwe se tent. Connie van Wyk was die groep bevelvoerder.

Met hul ontplooiing word Mac doodgeskiet.

Ek word toe na 5 Verkenningskommando verplaas en ons trek vanaf Heidelberg na Durban en trek in ‘n simpleks in die Bluff, die Desember van 1978.

Vroeg die volgende jaar skuif die hele eenheid na Mtubatuba. Ons trek toe in ‘n splinternuwe huis – een van ses wat gebou is.  

Die hoofkantoor is die ou plaashuis in Dukuduku en ek rig ‘n radio- en kriptokantoor in. In September 1980 op die ouderdom van 36 doen ek my valskermkursus. Ek was ook die sein-instrukteur vir alle lede van die eenheid. (Valskerm  2/9/1980 – 26/9/1980).

My seun, Johan, gaan vir die eerste keer skool toe en Elsie Loots (vrou van ‘n Recce) is sy onderwyseres en Nelie gaan na die kleuterskool by die rugbyveld. Dis daar waar sy kennis maak met ballet.

Hier het Annelie die geleentheid gehad om te help om die swart dames wat basies uit die bosse gekom het, te leer naaldwerk, etiket, ensovoorts op te lei.

Tydens my ontplooiings het sy haar bestuurderslisensie bekom en het gereeld Amanzimtoti toe gery om vir haar susters en Pa te kuier. Sy het selfs Empangeni toe gery om aankope te doen.

Ons was vir twee jaar in Dukuduku.

Groot trek na Schiettocht

Intussen is Rhodesië aan die nuwe verkose swart regering oorhandig en die lede van die SAS en Selous Scouts trek Suid-Afrika toe. Vir die Selous Scouts is ‘n basis gebou in Phalaborwa en die SAS sluit aan by 1 Verkenningskommando in Durban. Die Weermag besluit dat 5 Verkenningskommando na Phalaborwa moet trek en met die Selous Scouts saamsmelt. So word die eenheid as geheel verplaas na Phalaborwa Januarie 1981.

Ons neem ons intrek in ‘n huisie wat gebou is vir swart soldate wat bra klein was en ons het elk twee gekry om te gebruik. Ek het gevra vir ‘n derde een wat oorkant die pad gestaan het om oortollige goed in te stoor. Dit was baie warm en ons vind dat ons tot soms 22:00 die nag in ons klein swembaddens gaan afkoel het. Die kinders het lekker gespeel in die strate wat veilig was behalwe vir slange en dorings.

Ek word saam met ‘n span ontplooi in Mosambiek (“Ops Altaar”: Augustus – Oktober 1981) en dit was my enigste operasionele nagsprong. Ons kit op by Waterkloof so 19:00 uur en ons spring in so 01:00. Die landingsarea was skuins en ek en Tom Cummings verstuit ons enkels. Tydens die tydperk moes ons ook ons basis verskuif weg van die hoofbasis van Renamo. Daar het ek ‘n jong, seker 14-jarige swart dogter sien ‘n TR-15 radio op haar kop dra na die nuwe area so drie kilometer ver.

Tydens my ontplooiings het Annelie op haar eie Bethal toe gery om vir familie daar te kuier.

Met my terugkeer is ek ingelig dat ek terug verplaas is na die seinkorps, maar my pos is die RSM pos by Madimbo.

Ek en Annelie besluit om te gaan kyk en het net so ver as Messina en Chris Scholtz gekom toe hy ons inlig dat dit nie ‘n wyse skuif is nie. Ons het daar die naweek gekuier en Maandag my verklaring ingesit dat ek nie die pos kan aanvaar nie. (Ook maar goed want die basis is ‘n paar maande later gesluit.)

Doen Vak R27: 11/1/82 – 26/2/82.

Ek vra toe dat ek onmiddellik verplaas word na Pretoria Julie 1982 want ek kon toe dadelik vir ons blyplek kry in die woonstelle in Voortrekkerhoogte. Ek was werksaam by spesmagte hoofkantoor tot September en toe by direkteur sein Oktober 1982 aangemeld en was daar tot Julie 1984. Ons koop huis in Augustus 1983 in Valhalla.

In 1984 word ek verplaas na Lohatla maar ek versoek dat die verplasing gekanselleer word, deurdat ek net ‘n huis bekom het en die kinders in hul nuwe skole is.

Ek word toe die pos van RSM van Noord-Transvaal seineenheid aangebied en beklee die pos vanaf 12 Julie 1984 tot 30 Augustus 1988. 

Tydens die tydperk was ek betrokke met die stigting van die Adjudant Offisier- en RSM-Klubs in Voortrekkerhoogte.

Ek doen my laaste valskermsprong met uitrusting te Kromdraai op 9 April 1988.

 Ek is genader om deel te word van die Spesiale Magte se geheime afdeling die BSB. Ek was daarby getrokke tot Maart 1991. Die word nog as “geheim” geklassifiseer.

Vanaf April 1991 tot Jul 1991 betree ek die eiendomsmark, maar dit werk toe nie vir my nie. Ek sluit weer aan by SAW Maart 1992 – as ‘n SA Inligtingskorpslid en werk by Stam-hoofkantoor tot Augustus 1995. Ek doen die Waarneming OO’e 3 Augustus – 28 Augustus kursus te Potchefstroom.

Aan die einde van 1995 word ek verplaas na D Kryg in Bank of Lisbon tot Oktober 1996 vir aankope van leërinligting se uitrusting. Neem pakket.

 

Medaljes

10 Jaar diens     no.                    9/10/89

20 Jaar diens     no.  80111         21/08/89  050/89

30 Jaar Diens medalje no. …       datum.

Algemene diens no.  95198

Suider Afrika     no.  1995            17/01/92  005/92

Pro Patria           no. 28184         4/11/77

Cunene gespe                             27/10/77  215/77

Unita                  no.  65974

 

Kursusse

Basies                    Jan 1964 tot Maart 1964

Vak K1                   4/5/64-28/11/64

KPL kursus             14/6/65-6/8/65

Vak K1                   18/4/66 – 25/11/66

Valskerm                2/9/80-26/9/80

Vak R27                 11/1/82-26/2/82

Fotografie               31/8/89-2/11/89

Radio amateur        9/6/89

Waarneming OO’e   3/8/92-28/8/92

PVO 2015 Pretoria Canopy

Savannah Bond

Spesmagte Bond     1996 -2002

Stigterslid van die PPM 2022