Klaus von Lieres

Klaus von Lieres

ABSTRACT: Lawyer Klaus von Lieres was a senior Justice official and Civilian soldier when he was called up to do military service in Angola in late 1975. The author and Adv Von Lieres were given the task of mobilizing their regiment, the Orange River Regiment, in Cape Town. Applicants for exemption flocked to our headquarters and the reasons for not going to war were inventive and sometimes laughable. We were disappointed and spoke out after our return about the many Justice officials who applied for exemption from military service.
In this article the author also exposes Von Liers’ total disgust for injustice when members of the Civil Force were reqiered to return the allowances paid to them for serving in the Force.
KEYWORDS: Civil Force, Orange River Regiment, Klaus von Lieres, Magnus Malan, Angola, prosecutor,
 AUTHOR: Mr AP. Stemmet

Klaus von Lieres – my Vriend

Deel Een

Advokaat Klaus von Lieres se oorlye onlangs bring baie herinneringe terug. Ek het hom ontmoet toe ek en ‘n kollega in Pretoria onderhoude gevoer het met jong advokate wat pas afstudeer het. Hulle moes in voorkeur volgorde  aandui  in watter afdeling van die Departement van Justisie hulle geplaas wou word. Die jong Von Lieres was adamant: Net in die prokureur-generaal se afdeling, geen volgorde nie!   Hy is daar geplaas en ons  vriendskap het begin.

Laat 1975 word ek en Klaus, toe al beide relatiewe senior Justisie-amptenare maar ook Burgermag-soldate, opgeroep om militêre diens in die “operasionele gebied” te doen.  Waar dit was, was toe nog ‘n geheim. Vir ons twee ook. Ons benadering was dat ons land ons nodig het en ons sou gaan. Waar ook al.

Ek het die taak gekry om my regiment, die Regiment Oranjerivier, in Kaapstad te gaan mobiliseer. Omdat ons ‘n pantserkarregiment was, het ek besef dat iets groot aan die gang was. Pantser is bedoel en word aangewend in ‘n oorlog – ‘n  skietoorlog. Klaus was n kolonel in 7 Divisie. ‘n Divisie voer bevel oor brigades, bataljonne en regimente. Ons afleiding was dus: HIER KOM ‘n GROOT OORLOG. Nie ek of Klaus het getwyfel wat ons plig was nie.

Ek sou die volgende dag saam met my gesin met vakansie gaan. In plaas daarvan moes ek dadelik Kaapstad toe. Daar in die kasteel in my hoofkwartier tref ek een junior offisier en ‘n klerk aan. Ons drie sou ‘n groot regiment mobiliseer. ‘n Reuse taak. 

Aansoekers om vrystelling het na ons hoofkwartier gestroom. Onderhoude moes met elkeen gevoer word terwyl  drie  telefone   aanhoudend gelui het, Die redes om nie oorlog toe te gaan nie, was vindingryk en soms lagwekkend. Party was eg.  Ander was kansvatters.  Een goeie rede was dié van ‘n bruid: “Kaptein ons trou volgende Saterdag. Daar is al baie geld spandeer. Dit is die troue van die jaar op Carnarvon. Gaan maak jy  jou oorlog, los ons net uit!” Oplossing? “Gaan voort met die troue. Hy kan ‘n week later by ons aansluit”.  Ek sou laat weet waar.  ‘n Week later het hy getrou, in Windhoek, Namibië, by ons aangesluit waar ons regiment per trein Noord gereis het. Dit is lojaliteit!

Party aansoekers om vrystelling het gesoebat  ander het gevloek en  gedreig met sy parlementslid. Die wat goeie redes gehad het, het vrystelling gekry.   Die ander nie.

Die verskonings  en pogings om mense  te  laat  vrystel  het ingestroom. ‘n Paar landdroste bel en probeer my vertel hoe ‘n hof eintlik werk en  dat die staatsaanklaer baie noodsaaklik vir ‘n strafhof is om te funksioneer.  Hoe durf ek sy aanklaer oproep! As oud-afloslanddros en   staatsaanklaer het ek myself gate uit geniet. As jy dan vir hulle vertel dat kaptein Stemmet en Ondersekreraris  Stemmet  van Justisie  een en dieselfde persoon  is,  was die reaksie: “O my vader meneer, dan  het ek mos klaar verloor!”

Ek en Klaus het ons plig gaan doen in Angola.  Ons was teleurgesteld  en  na ons tuiskoms uitgesproke oor  die baie  Justisie –amptenare wat aansoek om vrystelling van militêre  diens gedoen het. Ons en ander het hartlik gesing: “Ons sal antwoord op jou roepstem  ons sal offer wat jy vra  ” ens ens. Ander was na ons mening lafhartig en dislojaal. Die wat nie ons sentimente gedeel het nie, is reg of verkeerd, summier as lafaards  verdoem. ‘n Moeë soldaat het nie geduld of genade nie. Vir party was ons helde, ander het ons twee verpes.

‘n Spotprenttekenaar wat die storie gehoor het, steek toe die draak met ons. In ‘n  tydskrif verskyn toe die spotprent van my en Klaus wat  as Romeinse soldate ‘n ontduiker in die leeukuil gooi – presies soos ons gevoel het.

 

Deel Twee:

Baie sal nog gesê en geskryf word oor die reus Klaus von Lieres. Reuse regsgeleerde en vreeslose soldaat.  Hier is nog ‘n persoonlike ervaring.

Na ons terugkeer uit Angola  vroeg in 1976 waar ek en Klaus von Lieres as Burgermag-soldate diens gedoen het, word ek deur my departement se hoofrekenmeester ingelig dat die Staatsdienskommissie opdrag gegee het dat geld wat staatsamptenare  as soldate in die oorlog van die S A Weermag ontvang het van ons salarisse afgetrek   moes word. Dit het natuurlik verwys na ‘n gevaartoelaag van ongeveer R5 per dag wat ons in die veld ontvang het.

Ek stel toe vas dat daar tussen die weermag en die Staatsdienskommissie so ooreengekom is. Dit het groot ontevredenheid veroorsaak.  Soldate wat in ‘n oorlog was, was moeg en het beledig gevoel  dat die owerhede namens wie hulle  in ‘n oorlog was hulle so kon behandel.  Druk is op my en kollega-offisiere  geplaas om iets aan die saak te doen.

Terwyl ek nog gewonder het hoe ek die aangeleentheid moes hanteer, storm ‘n woedende Klaus von Lieres by my kantoor by Justisie-hoofkantoor  in en wou  weet wat ons kon  doen om hierdie onreg ter syde te laat stel.  Baie soldate wat saam met ons diens gedoen het, kon dit doodeenvoudig nie bekostig om die geld terug te betaal nie.

Ons maak toe n plan:  Ek vertel hom toe dat die meeste offisiere in die Burgermag vir die staat of vir semi-staatsdiensinstansies gewerk het.  As hulle almal uit die Burgermag sou bedank …… Divisies, brigades en regimente sou ernstig geknou word. Sekere dele van die weermag sou lamgelê word.  Klaus gryp toe die gedagte:  Ons moes die weermag  oortuig van ‘n ondeurdagte besluit.

Maar hoe dra ‘n mens so iets aan die outoriteite oor sonder om dreigend op te tree? Dreigemente sou na insubordinasie klink  en ons twee kon ernstige probleme kry. Iets moes egter gedoen word.

 Ek het nog gewonder  oor wat om te doen,  maar  Klaus  wat geen diplomaat  was nie en  boonop vreesloos was , het hom nie laat keer nie en het klaar besluit.  Hy sê toe hy gaan  direk met die hoof van die SA Leër praat. Ek wou nog keer want ‘n soldaat bel nie sommer ‘n generaal en dreig hom nog  boonop nie.  Dit sou moeilikheid soek wees. Klaus was van mening dat ‘n onreg gepleeg word wat reggestel moes word.  Hy bel toe die hoof van die Leër se kantoor en dring toe daarop aan om direk met generaal Magnus Malan te praat.  Toe hy dit regkry, deel hy hom mee oor wat aan die gebeur is en hoe ongelukkig duisende soldate was. Hy dreig dat ons sou reël dat vrywilligers sou bedank en so die Burgermag sou sink “as julle nie die nonsens stop nie”.  Hy sê toe dat hy  dadelik oppad was na die generaal  en antwoorde wou hê.

Later bel Klaus my en lag stout dat ons die weermag groot laat skrik het. Generaal Malan het hom glo meegedeel dat hy nie van die probleme bewus was nie   en sou sorg dat alles  stopgesit word. Dit het gebeur.

Dit was Klaus von Lieres. Hy het onreg gehaat en was altyd braaf genoeg om iets daaraan te doen. Al was dit drasties. Niks en niemand moes dan in sy pad staan nie. Dan het niks hom gekeer nie. Lojaal aan sy makkers en nie bang om vir hulle in te tree nie. Dit was Klaus!

Miskien het die regspleging vandag ‘n paar van sy kaliber baie nodig. Dit lyk hoeka of die Nasionale Vervolgingsgesag sukkel.

Mag my vriend,  kollega en makker in vrede rus. Ons het die goeie stryd gestry.