SAP KING’S REST: DISTRIK 75: DURBAN-SUID

Brig Hennie Heymans (SAP Afgetree)

'n Foto wat teks, buite, boom, gebou bevat

Beskrywing outomaties gegenereer

‘N KING’S REST-STEAK

(Facebook vra ewe ongepoets waaraan dink ek? Ek het vandag ‘n King’s Rest-steak gemaak.)

Lank gelede was ek op ‘n polisiestasie gestasioneer genaamd King’s Rest. Eers het ek gedink ou Oom Dick King het daar “gerus” nadat hy oor die baai gekom het, op pad na Grahamstad om die Britte te kom vra om te help met die Boerebeleg (Congella ens). Later vind ek uit luitenant James Saunders King van die Royal Navy is daar naby begrawe.

Maar laat dit wees soos dit wil, King’s Rest het baie geskiedenis. Ek het die stasie se stasie-geskiedenis in die SAP-argief nagegaan. King’s Rest was vir my ‘n idilliese plek en stasie uit die dae van die Natal Mounted Police en verskeie opvolgende polisiemagte soos die NP, SABS een toe die SAP en toe die SA Vlootpolisie en toe op my aandrang nogal (agteraf gekonkel met brig SJP du Toit – SK Natal) weer terug na die SAP en SAPS.

Soggens op oggendskof moes ons baie rondry – die manne by die kaserne gaan oplaai, ander weer gaan aflaai, prisoniers hof toe neem in Durban en dan die bandietwag by die Durban se tronk met sy spannetjie bandiete gaan oplaai.

(Wonder of die Durban se tronk nog bestaan? So aan die see se kant van die ou Durban spoorwegstasie. Ons het ons bevorderingseksamens in die Victor Verster-saal afgelê. Drie eksamens en baie sweet!)

Nou voor konstabel Nyawo inklim, met sy assegaai en bandiete, dan vra hy my om by “Bluff Butchery” stil te hou. Kom ek daar dan hou ek stil en gee ook my 20c of 25c. Dan koop hy goedkoop vleis. By die stasie aangekom word een bandiet gou “ingesweer as tydelike polisieman” om die patrolliewa te was. Die ou patrolliewa het elke week sy versiening moes kry by Wentworth polisiemotorhawe. Die wa se nommer was SAP 10881 – ‘n Studebaker Champion! (Ek het soms dubbelskof gewerk as daar nie bestuurder was nie – was ‘n lekker voertuig om te bestuur!)

Die ander bandiete maak die kantore, die “kamp” (ons het in die “ou dae” perde daar gehad) en die omgewing skoon. Om 12:00 skryf die SB in Engels in die VB: “Kampinspeksie: Kampinspeksie deur No 22504 AO W Marais. Kamp en omgewing skoon, asook geboue en selle”. Geteken W Marais en die lang storie van sy nommer en rang.

Intussen maak konstabel Nyawo ‘n vuur onder die skaduryke groot bome in die kamp se agterplaas. Die bandiete het kamboemmielies as rantsoen gekry. Dit word verhit. Intussen woon ek klagtes by en besoek die manne op “beats”. Dan braai konstabel Nyawo ons “goedkoop” vleis.

As ek dan by die stasie aankom is my vleisie gaar. So op die bruinpapier van die slaghuis – word ek bedien. Die vleis is op die Zulu-manier so in die vlamme geskroei – cheesa inyama – die vleisie is met growwe sout wat liggies oor die vleis en sy bloedsappe gesprinkel is, garneer! Die vleis word met sy O’kapi-mes in repe gesny – ek wonder hoeveel mense is met die mes gesteek, waarmee die vleis gesny is? Nou gril ek!

Nog nooit weer so lekker gebraaide vleis geëet nie. Ek het al chuck, dikrib, kortrib en brisket gebraai. Niks so lekker soos ‘n King’s Rest-steak nie.

(Ek het chuck gekoop en beide kante met vurk gekrap en dan sout, peper en Louisiana Cajun speserye besmeer en dan ingesmeer met olyfolie en dan weer omgedraai en die anderkant gedoen MAAR dit smaak nog glad nie soos konstabel Nyawo se vleis nie.)

Soms het die Zulu-konstabels gevra ek moet vir hulle walvisvleis by die walvisstasie gaan haal. (Ek dink 5 Recce’s het nou die plek) – maar die voorbereiding van walvisvleis is ‘n storie vir ‘n ander dag!

'n Foto wat buite, grond, lugvaartuig, persoon bevat

AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Hoe mis ek die idilliese dae – ek was lank wyksersant by King’s Rest: Die lewe was mooi, ongekompliseerd en vol opwinding – dit was voor die dae van grensdiens! Ons het slegs eenkeer per maand onlustedril gedoen en so nou en dan gaan dagga uitroei met die Mobiele-eenheid.

Later het die dae gekom waarin ons polisiemanne nie veel behae ingehad het nie!