Min spioene kan daarmee spog dat hulle die verloop van ʼn oorlog verander het, maar die Russiese spioen Richard Sorge kan. Sorge(uitgespreek Sor’j),was ʼn meesterspioen, waarskynlik die beste spioen van alle tye omdat sy spioenasiebedrywighede ʼn beduidende impak op wêreldgebeure en die verloop van die Tweede Wêreldoorlog gehad het. Die Tweede Wêreldoorlog het groot verdeeldheid tussen Engelse (baie van hulle pro-Brits) en Afrikaners (baie van hulle pro-Duits) in Suid-Afrika veroorsaak en bly tot vandag toe ʼn kontrovesiële onderwerp van bespreking. Sorge se spioenasiebedrywighede namens Rusland kan as uitsonderlik en lewensveranderend beskryf word, omdat sy aktiwiteite ewigheidswaarde het in die sin dat hy die gang van die Tweede Wêreldoorlog verander het.
Sorge, die seun van ʼn Duitse pa en Russiese ma, was ʼn uitgeslape agent van die NKVD, die Russiese intelligensiediens en voorganger van die KGB. Komitat Gosudarstvennoy Bezopasnosti. Die KGB se berugte ondervragings- en aanhoudingsentrum, Lubyanka, is op Moskou se sentrale Dzerzhinsky Square geleë. Voor die Russiese revolusie in 1917 en nasionalisering deur die Bolsheviste, het die Lubyanka-gebou aan die Rossiya versekeringsmaatskappy behoort. Die KGB is wêreldwyd meer bekend as enige ander Russiese staatsagentskap, maar die NKVD was ongetwyfeld meer berug as gevolg van die politieke moorde wat dié groep geharde Chekiste gepleeg het. Die NKVD- lede was almal veterane van Bolshevistiese rewolusie in Rusland en hul ongenaakbaarheid het hulle die bynaam ‘soloviki’ besorg, wat ‘ongenaakbare mane van geweld’ beteken.
Spioenmeester
Sorge was nie net ʼn spioen nie, maar ʼn spioenmeester wat twee spioenasienetwerke, die een in Shangai, Sjina en die ander een in Tokio, Japan geskep en bestuur het. Sy briljantheid as spioen is slegs oorskadu deur sy flambojante lewenswyse en voorliefde vir pragtige vroue en groot partytjies. Die aantreklike Sorge was ʼn haan onder die henne en van sy kollegas het vertel dat hulle nie eers die name van al sy meisies kon onthou nie. Hoewel Sorge ʼn doktorsgraad in staatkunde gehad het, kon hy soos ʼn vis drink en het hy dikwels gespog dat sy sukses as spioen te danke was aan sy sterk maag, nie sy sterk intellek nie. Sy geliefkoosde gesegde was dat hy vervelige mense haat.
Sorge se KGB-taakopdrag in Shanghai was om ʼn Russiese spioenasie-netwerk in Sjina te vestig. Terwyl hy in Sjina was, het hy twee Japanese agente vir sy netwerk gewerf en hulle sou later belangrike lede van sy Japanese netwerk word. Een van hierdie agente was OzakiHozumi, korrespondent van die Japanese koerant Asahi Shimbunin Sjina.
Sorge het ʼn natuurlike aanleg vir tale gehad en Duits, Russies, Engels, Frans en Japanees vlot gepraat. Sorge het van ʼn Amerikaanse kommunis, Agnes Smedleygebruik gemaak om agente vir hom te identifiseer wat hy kon werf. Smedley het in 1930 en in 1932 lang periodes in Rusland deurgebring en sy was ook die amptelike korrespondent van die Duitse koerant Frankfurter Zeitung in Sjina. Daar was gerugte dat Smedley self ʼn NKVD/KGB agent was, maar niemand kon dit ooit bewys nie. Sorge het Smedley se huis in Shangai, Sjina gebruik en sy het hom aan al haar vriende en kontakte voorgestel en kort voor lank het Sorge ʼn hele netwerk sub-agente in Sjinese stede soos Hangchow, Nanking, Canton, Hankow, Kaifeng, Hsian, Peiping en Hanchuria gehad wat inligting aan hom voorsien het.
Sorge word ʼn Nazi
Richard Sorge het Shanghai in 1932 verlaat en teruggekeer na Moskou toe vir verdere opleiding deur die KGB. Dit is hier waar Sorge met ʼn meesterplan vorendag gekom het wat uiteindelik van hom die mees suksesvolle spioen in die geskiedenis sou maak. Sorge het aan die KGB voorgestel dat hy na Duitsland terugkeer en dat hy by die Nazi Party van Adolf Hitler en Joseph Goebbels aansluit en daarna sou hy na Japan vetrek om as KGB agent vir die Russe op Japan te spioeneer. Almal in Japan sou dink dat Sorge ʼn vooraanstaande lid van die Nazi Party is en niemand sou vermoed dat hy lojaal teenoor Rusland was nie.
Sò belangrik was Sorge dat die Russiese leier Joseph Stalin, persoonlik oor die plan geraadpleeg is en toestemming gegee het dat Sorge op Mei 1933 na Duitsland kon terugkeer. Sorgese intelligensieverslae was sò belangrik dat die Hoof van die KGB, Lavrenti Beria, persoonlik elke verslag deurgelees het voordat hy dit aan die Algemene Sekretaris van die Sentrale Komitee van die Kommunistiese Party van die Sowjet-Unie, Joseph Stalin, oorhandig het.
Joseph Stalin (Iosif Vissarionovich Dzhugashvili) (1878 – 1953)
In Duitsland het Sorge min moeite ondervind om by die Nazi Party aan te sluit. Sy reputasie as staatkundige en joernalis het hom vooruitgeloop en die Nazi’s het min tyd spandeer om Sorge se agtergrond na te gaan – hy is summier as een van hulle aanvaar. Indien die Duitsers sou uitvind dat Sorge ʼn KGB spioen was, sou dit ongetwyfeld sy dood beteken het. Sorge se lidmaatskap van die Nazi Party is goedgekeur, sonder dat die Gestapo, wat veiligheidskeurings vir die Nazis gedoen het, agtergekom het dat Sorge lank gelede as jong student, ʼn lid van die Duitse Kommunistiese Party was.
Sorge is aangestel as lid van die redaksie van die Frankfurter Zeitung en gou-gou het hy begin partytjies bywoon en organiseer en so kontak gemaak met Heinrich Himmler, hoof van die Gestapo en Joseph Goebbels, Hitler se propagandahoof. Sorge se bravade, arrogansie en kansvattery het geen einde geken nie en hy het die redakteur van die Zeitung oortuig dat hy Japanees kon praat (ʼn leuen, hy het dit eers na sy aankoms in Japan aangeleer). Kort voor lank is hy as die koerant se korrespondent in Tokio aangestel. Om alles te kroon het die persklub van die Nazi Party in Berlyn vir Sorge ʼn deftige afskeidspartytjie gereël en daarvoor betaal.
Sorge se Tokyo netwerk
In Tokio het Sorge ʼn formidable netwerk van agente, sub-agente, informante, spioene, tussengangers, hanteerders en bronne op die been gebring wat uiteindelik uit 35 mense sou bestaan.
Sorge se getroue vorige handlanger in Shanghai, Ozaki Hozumi (kodenaam Otto), het intussen na Tokio teruggekeer en begin om in die geheim voorbereidings te tref om saam met Sorge ʼn Tokio spioenasie-netwerk op die been te bring.
Sorge se KGB-opdrag was om vas te stel wat Japan se voornemens en doelwitte tydens die Tweede Wereldoorlog sal wees. Die Kremlin was bang dat Japan, wat ʼn fascistiese regering soortgelyk aan Duitsland en Italië gehad het, aan die kant van Duitsland Rusland sou binneval. Rusland sou dan aan twee fronte moes baklei, in die Weste teen Duitsland en in die Ooste teen Japan. Sorgehet twee uiters geheime intelligensieverslae aan Beria en Stalin deurgestuur, waarin hy kategories aangedui het dat die Japanese weermag in die geheim besig was om hul swaar grofgeskut en panser-divisies Suidwaarts, en nie Weswaarts nie, te ontplooi. Die Japanese magte was dus besig om voor te berei vir ʼn aanval op die Westerse geallieërde magte, en nie op die Russiese weermag nie en dit het aan Stalin ʼn groen lig gegee om die volle Russiese weermag teen Hitler en Duitsland te gebruik.
Ander lede van die Tokio netwerk was Max Klausen, ʼn Duitse kommunis wat deur die KGB opgelei is as radio-operateur (kodenaam Fritz), Branco de Voukelitch(kodenaam Gigolo), ʼn Tjeg wat die Japanese korrespondent van die Franse tydskrif La Vue was en Miyagi Yotoku (kodenaam Joe), ʼn Japanese kunstenaar wat as tussenganger gebruik is. Hoewel al vyf en dertig lede van Sorge se Tokio netwerk toegewyde kommuniste was, het hy hulle streng verbied om met enige Japanese kommuniste kontak te maak. Sorge self het van die kodenaam Ramsey gebruik gemaak en die meeste lede van sy eie netwerke was nie ware identiteit bewus nie.
Sorge het vinnig kontak gemaak met ʼn oud Duitse medesoldaat, luitenant-kolonel Eugene Ottwat intussen as die Duitse militêre attachè in Tokio aangestel is. Sorge en Ott se vriendskap was so heg dat Ott gereeld uiters geheime dokumente aan Sorge gegee het om te lees en te vertaal omdat Ottnie Japanees heeltemal magtig was nie. Al hierdie inligting is gereeld deur Sorge aan sy radio-operateur Max Klausen gegee, wat dit via ʼn radio-herleistasie in Vladivostok na Moskou versend het.
Die Kempeitai
Sorge het die spandabelrige leefstyl wat hy in Shanghai en Berlyn gehandhaaf het, vinnig hervat en kort voor lank was wilde deurnagpartytjies by sy huis, in die Azabu-ku voorstad van Tokio, aan die orde van die dag. Sorge kon nie genoeg kry van die asemrowend-mooi Japanese geisha-meisies nie en sy partytjies se gewildheid, veral onder Duitse Nazi offisiere en ambassadepersoneel, het met rasse skrede toegeneem. Maar daarmee het Sorge en sy Nazi trawante ook die aandag van die Japanese geheime polisie, die Kempeitai, getrek.
Die Kempeitai se belangstelling in Sorge en sy sosiale kring is verder versterk toe onverklaarbare radio-seine in die omgewing van Sorge se huis geregistreer is en die Japanese vergeefs probeer vasstel het waar dit vandaan kom.
Geluk en voorsienigheid was egter aan Sorge se kant. Sy vriend, die militêre attachè Eugene Ott, is bevorder en aangestel as Duitsland se ambassadeur in Japan. Sorge en Otthet amper elke oggend saam koffie gedrink en ontbyt geëet en lustig geheime dokumente wat van Berlyn afkomstig was, gelees. Sorge het elke detail daarvan via sy geheime radionetwerk, terugversend Moskou toe.
Sorge se netwerk informante het goeie inligting produseer, veral Sorge se getroue hoofagent Ozaki Hozumiwat teen hierdie tyd gevorder het tot die Japanese kabinet se hoofraadgewer oor Sjinese aangeleenthede. Die Japanese kabinet se hoofraadgewer oor sy grootse en magtigste nabygelëe vyand, Sjina, was dus ʼn KGB agent.
Die Sorge-netwerk se beste inligting het die verloop van die Tweede Wêreldoorlog direk beïnvloed. Ozaki Hozumihet ʼn hoogs geheime verslag oor Japan se ekonomiese en politieke planne in die hande gekry en die verslag gefotografeer. Uit die verslag was dit duidelik dat Japan geen planne gehad het om Rusland aan te val nie. Sorge het die Russe dienooreenkomstig ingelig en Stalin kon dus al sy magte teen Hitler se invalsmagte in die Weste aanwend, sonder om hom in die Ooste oor Japan te bekommer. So het die Russe Hitler se opmars na Moskou gestuit, die momentum van die oorlog verander en uiteindelik Hitler se magte terugverdryf en verslaan.
Die Sorge-netwerk was so akkuraat dat hy die presiese datums van Duitsland se inval in Pole (1 September 1939) en Rusland (22 September 1941), korrek voorspel het.
Sorge se liefdeslewe
Sorge het tegelyk verlief geraak op twee pragtige Japanese meisies en dit sou ook sy ondergang beteken. Die eerste was Miyake Hanako, ʼn beeldskone, dog rebelse en linksgesinde Japanese sangeres wat gereeld by Sorge se partytjies opgemerk is. Hoewel Miyake by Sorge ingetrek het, het sy partytjies, drinkery en flankeerdery met ander vrouens nie opgehou nie.
Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 was Sorge al skerper in die Kempeitai se visier wat begin vermoed het dat hy ʼn spioen is. Hulle het besluit om sy swakheid vir mooi vroue uit te buit deur ʼn pragtige Geisha, wat terselfdertyd ook ʼn opgeleide Japanese agent was, onder sy aandag te bring en hom uit te lok. Soos ʼn mot het Sorge al hoe nader aan die pragtie kers beweeg en uiteindelik tot oor sy ore verlief geraak op die mooie meisie, genaamd Kiyomi. Benewens die feit dat sy ʼn Japanese polisie-informant was, het Kiyomi ook ʼn eksotiese rysdanseres in Tokio se beroemde Fuji Klub opgetree.
Min wetende dat Kiyomi vir die Kempeitai werk, het Sorge haar sy minnares gemaak. Sy het saamgespeel totdat sy een aand gesien het hoe Sorge ʼn geheime boodskap, wat deur een van sy sub-agente tydens ʼn aandete aan hom oorgedra is, probeer verbrand en dit nie reggekry het nie. Uit frustrasie het Sorge die boodskap later by sy motor se venster uitgegooi en gehoop dit waai weg. Die mooie Kiyomihet vinnig gedink en vir Sorge gesê dat sy haar ouers wil bel om te sê dat sy nie die aand huistoe kom nie. Kiyomi het haar kontak by die Kempeitai gebel en gesê waar om die geheime boodskap op te tel.
Sorge se doppie was geklink en daarmee saam sy hele netwerk.
Sorge word gearresteer en gehang
Op 18 Oktober 1941 is Sorge deur Inspekteur Osashi van die Kempeitai in sy huis gearresteer en die res van die 35 lede van sy netwerk in die daaropvolgende dae. Die Duitse ambassade in Tokio wou eers nie die Kempeitai se weergawe van Sorge se spioenasie-bedrywighede glo nie en die Ambassadeur Ott het by die Japanese aangedring dat hulle Sorge vrylaat.
Die Japanese was egter onverbiddellik en beide Sorge en Ozumiis na drie jaar in die gevangenis op 7 November 1944 opgehang.
Baie gerugte het nà Sorge se dood ontstaan dat die Japanese en Russe ʼn geheime ooreenkoms bereik het om Sorge uit te lewer. Sorge, wat toe 49 jaar oud was, het wel ʼn laaste desperate poging aangewend om die Russiese Ambassade in Tokio te kontak, maar die Russe het hom ignoreer, waarskynlik om nie te erken dat hulle op so ʼn groot skaal teen die Japanese gespioneer het nie. Die Japanese het Sorge summier opgehang en anoniem in ʼn begrafplaas laat begrawe.
Die mooie Miyake Hanakohet egter tot aan die einde aan Sorge getrou en lojaal gebly en uiteindelik sy lyk in ʼn eenvoudige graf in die Zoshigaya begrafplaas in Tokio opgespoor. Miyake het Sorge herbegrawe, die goud uit Sorgese tande laat verwyder en ʼn ring daarmee laat maak wat sy tot haar dood in 1994 gedra het.
*