Piet du Toit, Nongqai Skrywers & Boeke
Van Bruce Lee en litte wat moet knak.
As ‘n ou man begin karate neem is die skrif aan die muur. Nie so seer vir die ou man wat begin karate neem nie, maar eerder vir die arme instrukteur wat die ou man in sy klas opgeneem het, of eintlik moet ek sê: Vir die Sensei wat in ‘n oomblik van onbesonnenheid ‘n vyf-en-sestigjarige beginner in sy dojo toelaat!
As jy dalk sou wonder wie dié kleingeestige aftreeling is wat op gevorderde leeftyd sy lyf Bruce Lee wil hou: Dit was Ekke, ’n jaar of tien gelede. Die nimlike alles-haarfyn-beplan, sukses-sit-in-die-detail, moenie-iets-begin-wat-jy-nie-kan-klaarmaak-nie Ekke. Was seker te lank in die son gewees!
Maar skoonma se broer het altyd gesê: “Waar jou kop in is moet jou agterkant deur gevoeter word!” Nou’s my kop in, maar bewaar die ou wat my agterkant wil voeter – onthou ek neem nou karate!
Eienaardige sport, die karate ding. Nie vir die ouens wat al ‘n tyd lank karate doen nie, maar vir ‘n ou wat hom begin, meen ek. Eienaardig, sê ek. As jy kyk wat die ander ouens doen lyk dit maklik, so half sissierig. Nie-soos-Bruce-Lee-nie-rig. Alles word so half rustig gedoen.
Ingebuigde knietjies en so. Net so reg aan die einde van ‘n stadige, rustige hou, dan kry die manne so’n rukkerigheid in hulle. So amper soos ‘n ou wat in ‘n doring trap, of ‘n skielike kramp kry op ‘n plek wat mens nie in ‘n geskrif skrywe nie. Dan gee hulle so’n baster blaf- gil. En dán moet jy oppas. Daai skielike rukkerigheid maak van ‘n stadige hou sommer ‘n meneer van ‘n hou!
En dan ook nog die blokkerasie. Elke hou wat gegee word, word voorafgegaan deur ‘n blok. Nie ‘n blok soos in ‘n stuk hout nie, nee gladnie! ‘n Blok by die karatemanne is so ‘n effe stadige, rustige veeg met die hand of die been wat jou ou powere nie-karate poging van ‘n houtjie sommer so sonder moeite in ‘n ander rigting stuur. Dan kom die manne met daai einste stadige hou wat op sy einde so’n kramp-skop in hom kry – en daar lê jy!
Klink lekker. Klink maklik.
Nee, boeta, maklik is dit nie. Jou voete en bene en arms is alewig op die verkeerde plek en jy is aljimmers besig om jouself op die een of ander plek uit lit uit te verwring. Veral as jy al so bietjie in jou jare is en van jou litte wil nie meer oral draai waar hulle voor gemaak is om te draai nie. En om al jou bene en voete en arms en hande en “veral jou heupe” op die regte tyd in die regte rigting na die regte plek op die regte manier te draai, sit nie in enige ou se broek nie. Seker die dat die karatemanne sulke losserige broeke dra. Spesiaal vir daai spesiale ouens wat dit in hulle broeke het om die karate “moves” so makllik te laat lyk.
Maar soos ek gesê het, my kop is daarin, so die res moet daardeur! Karate sal ek doen, al gaan dit sukkel-sukkel, en al loop die sweet sulke groot druppels net van konsentreer, nog voor jy die regte deel van jou lyf op die regte tyd op die regte plek kry! Nie maklik nie. Ook nie onmoontlik nie (as ek die manne wat weet kan glo)!
Maar probeer sal ek probeer! En as dit regkrybaar is sal ek hom regkry! Ek is darem al deur heelwat gruweliker situasies en oor heelwat hoër opdraandes en deur heelwat dieper waters as om dié ‘volksvreemde’ bewegings baas te raak!
- Rubriekskrywer Piet du Toit woon tans in die Strand in die huis waarin hy op 9 Oktober 1948 gebore is en waarin hy ook grootgeword het. Hy behaal sy matriek aan die Hoërskool Strand, waar hy en sy vrou Elize, in 1966 in die eerste matriekklas van die skool was. Na matriek studeer hy BA (Admissie) aan die Universiteit van Stellenbosch, en begin in 1971 werk as rekenaar operateur by die diamantmyn CDM in Oranjemund. Sy loopbaan in die rekenaarbedryf neem hom via verskeie stede tot sy “aftrede” in 2003 as projek- en programbestuurder te Old Mutual hoofkantoor in Pinelands, waarna hy as privaat besigheidskonsultant werk. Sy belangstelling in musiek begin reeds vroeg as sanger, en later as koorleier en -dirigent van kerkkore en onder andere die Tygerberg Mannekoor en die Strand Mannekoor. Hy skryf gereelde humoristiese essays (wat hy een-bladsy-skryfies noem) vir die Old Mutual Web Bladsy, en tans ook vir die aftree-oord Benadehof en Huis van Niekerk se maandblad.
*
Regstelling: Lesers se aandag word daarop gevestig dat die rubriek Tong in die Kies deur Piet du Toit geskryf word, en nie Henning van Aswegen nie.