Johan Mostert & Jan-Jan Joubert
Een van die grondleggers van die Suid-Afrikaanse demokrasie en moderne intelligensiedienste, Niël Barnard, is Maandagoggend in die ouderdom van 75 jaar oorlede. Jan-Jan Joubert en Johan Mostert neem bestek op van sy bydrae tot ‘n onderhandelde skikking in 1994 in Suid-Afrika. Foto: Niël Barnard was een van die eerste Westerse intelligensiehoofde wat na die val van die Berlynse Muur in 1989, direkte en uiters geheime skakelverhoudinge met die Komitét Gosudarstvennoy Bezopasnosti (KGB), aangeknoop het.
Dr. Lukas Daniël Barnard was ’n onwaarskynlike held, want hy het graag ’n beeld van stugge konserwatisme en behoudendheid voorgehou. Dit was egter juis hierdie onbuigsaam-eerlike gedrongenheid deur logika en feite wat hom daartoe gebring het om as voorste hervormer die onderhandelings vir ’n vreedsame oorgang na grondwetlike demokrasie te laat begin.
Niël Barnard is op 14 Junie 1949 in Otjiwarongo in die hedendaagse Namibië gebore. Hy het as student aan die Vrystaatse Universiteit in Bloemfontein akademies uitgeblink en het professor geword in Politieke Wetenskap (destyds Staatsleer genoem).
Dis vandaar dat hy gevra is om op die jeugdige ouderdom van 31 jaar Direkteur-Generaal van die Nasionale Intelligensie te word.
By bestekopname van Barnard se bydrae tot en deur die intellignsieraamwerke was daar veral twee aspekte wat opval:
• Sy bydrae in die totstandbrenging van ‘n demokratiese Suid-Afrika en in die verband dien Mandela se inskripsie in die kopie van Long Walk to Freedom wat hy aan Barnard gegee het as ‘n bewysstuk: “Best wishes to one of those patriotic South Africans who strived tirelessly & without publicity to help lay the foundations of the new South Africa”.
• Sy insig en onvermoeide ywer om die Nasionale Intelligensiediens (NI) uit te bou tot ‘n ware nasionale intelligensiediens wat ‘n saakmakende rol gespeel het in kritieke besluitneming op nasionale vlak en internasionaal respek afgedwing het.
Volgens sy eie interpretasie was Barnard sterk konserwatief toe hy by NI aangekom het. Sy siening van die bedreiging wat Suid-Afrika in die gesig gestaar het, het grootliks gestrook met die algemeen gangbare opvatting in owerheidsgeledere. Hy was egter ‘n goeie luisteraar met ‘n oop gemoed.
In NI het hy kennis geneem van ‘n alternatiewe siening wat op daardie stadium nie openlik na buite uitgespreek is nie. Volgens hierdie siening was die kernoorsaak van die aanslag teen Suid-Afrika nie in die eerste plek die werk van kommuniste en kwaadwillige agitators nie, maar was die werklike oorsaak geleë in die beleid van apartheid. Die harde realiteit wat deur NI geskilder is, het hom oortuig dat dit ‘n geldige gevolgtrekking op grond van die feite was.
Dit was egter nie ‘n gewilde vertolking nie. Om hierdie boodskap tuis te bring, moes met groot omsigtigheid te werk gegaan word. NI kon as verraaier gebrandmerk word omdat dit vertolk kon word as kritiek op en selfs dislojaliteit teenoor die regering.
Barnard het egter in die stilligheid voortgegaan om die boodskap oor te dra dat politieke verandering onvermydelik is en dat die ANC reeds as so ‘n groot magsfaktor ontwikkel het, dat dit nie in ‘n toekomstige bedeling geïgnoreer kan word nie. Hy het hierdie boodskap onomwonde, maar diplomaties aan die aanvanklike Eerste Minister en latere President PW Botha persoonlik oorgedra.
Teen daardie stadium was Botha so tevrede met die kwaliteit van NI se intelligensie, dat hy geluister het en NI toegelaat het om kontak te maak met die ANC om meer van die organisasie se standpunte te wete te kom. Barnard was toe reeds vir ‘n geruime tyd in gesprek met Mandela in die gevangenis en een van sy uitdagings was om die delikate balans tussen Mandela en die uitgeweke ANC te handhaaf.
Hy moes aan die een kant poog om ‘n verstandhouding met Mandela te bewerkstellig en aan die ander kant sorg dra dat die uitgeweke ANC Mandela nie as uitverkoper beskou nie. Barnard het twee baie belangrike boeke van hoogstaande gehalte oor hierdie fase van die Suid-Afrikaanse geskiedenis geskryf.
Uitbouing van NI
Barnard het baie bygedra tot die ontwikkeling van NI tot een van die top intelligensiedienste in die wêreld. Hy het NI, soos sommige dit gestel het, op sy kop omgekeer.
Van al die bydraes wat hy gelewer het, is daar een wat uitstaan uitstaan en bepalend was vir NI se sukses: sy bevordering van ‘n etos van uitnemendheid, meriete, harde werk, opoffering en integriteit. Hy het dit nie net verkondig nie, maar ook self die voorbeeld gestel en daarmee die organisasie met hom saamgeneem.
Toe Barnard in 1980 as Direkteur-Generaal diens by NI aanvaar, was die organisasie steeds in ‘n verouderde paradigma vasgevang. Die insameling van inligting (spioenasie) en teenspioenasie het voorrang geniet. Die derde been van intelligensie, naamlik vertolking, was die weeskind.
Dit is een van Barnard se groot verdienstes dat hy vertolking tot sy reg laat kom het. Daardeur is insigte ontwikkel wat hom in staat gestel het om die ware feite van die bedreiging tot op die hoogste vlak onder aandag te bring. Een van die insigte wat deur die navorsers (vertolkers) ontwikkel is, was die volgende:
Om die dringendheid van die veiligheidsituasie te illustreer, het die navorsers ‘n prent van ‘n driebeenpot waaronder ‘n vuurtjie brand met pap wat begin oorkook, aan die Staatsveiligheidsraad vertoon. Die boodskap was, dit gaan nie help om langer pogings aan te wend om met geweld die pot se deksel te probeer vasdruk om te voorkom dat dit oorkook nie. Die vuur is besig om groter te word en daar is nie voldoende vermoë om die deksel styf toe te bly hou sodat die pot nie oorkook nie. Die enigste oplossing is om die vuur te verwyder.
Dit was NI se bydrae om aan die regering te sê, dit gaan nie help om die manifestasie van die aanslag aan te spreek nie, die grondoorsaak moet verwyder word. Van die ministers wat teenwoordig was, het hierdie beeld daarna gereeld opgehaal. Onder Barnard se leiding is die navorsingskomponent uitgebou tot een van die voorste sosiaal-wetenskaplike instellings in die land.
Om die bestuur van die organisasie meer doeltreffend te maak, het Barnard drastiese veranderinge aan die bestuurstyl van die organisasie aangebring. Daarmee het hy verseker dat hy elke dag op hoogte bly van wat in die organisasie gebeur. Wat die bestuurslede in die besonder waardeer het, was sy vermoë om sterk leiding te gee en sy bereidwilligheid om besluite te neem. In die bestuursvergaderings het navorsers groter as ooit tevore tot hulle reg gekom, wat ook die insamelaars gebaat het.
Hy het ook ‘n aktiewe belangstelling in opleiding in die algemeen gehad en opdrag gegee dat die opleidingsafdeling en die biblioteek drasties uitgebou word. Op sy aandrang is daar ‘n uiters moderne opleidingsfasiliteit buite Pretoria opgerig.
Hoewel hy nie onnodig ingemeng het in die werksaamhede van die hoofdirektorate nie, het hy nogtans sterk oorhoofse leiding en motivering gegee. Hy was aktief in sommige van die inisiatiewe van die insamelaars en het saam met hulle goeie verhoudinge met talle lande opgebou. Ook wat tegniese insameling betref, het hy ‘n sterk ondersteunende rol gespeel.
Nadat die demokratiese bedeling sy beslag gekry het, is Barnard in 1994 aangestel as eerste Direkteur-
Generaal van die Wes-Kaap. Hier het hy die streng fokus op korrekte navolging van regulasies en die klem op skoon regering gevestig wat vandag nog die provinsie kenmerk en onderskei – ’n bydrae tot uitnemendheid wat voortleef en waarvoor hy meer erkenning verdien.
Niël Barnard was vertroueling van staatsmanne en spioene, maar hy was eerstens gesinsman – eggenoot vir sy vrou Engela, pa vir hul drie seuns waarvan hy een voortydig moes begrawe, en oupa vir sy vyf kleinkinders. Hy was hartstogtelik lief vir Afrikaans, waarin hy ’n woordkunstenaar was. En as hy jou verby gelaat het by daardie stugge beeld waaragter hy sy ware lewe gelei het, was hy ’n vriend duisend, ’n braaier en wynkenner vir die boeke, ’n sprankelende verteller, emosioneel toegewy aan sy familie, geneig om sy eie foute in te sien en daaroor te lag, ’n raadsman en min kere gelukkiger as wanneer hy voluit kon lostrek teen diegene in die media wat hy as woke beskou het.
Suid-Afrika verloor een van sy groot seuns wat, soos ’n ander wat in Bloemfontein vorming ondervind het, deur die digter gehuldig kan word:
“Maak hom ’n graf op die grond wat sy liefde gewy en geseën het;
dis skoon vir ’n held om te rus aan die voete van wie hy beween het.” *