Abstrak: Intelligensiewetenskap, Intelligensiedienste, Geskiedenis van Suid-Afrika se Intelligensiedienste, Henning van Aswegen
Geen vriende nie, net belange
Generaal Hendrik van den Bergh nooit die Britte vertrou nie – hy skryf in sy gedenkskrif dat geen land en geen intelligensiediens soveel skade in Suid-Afrika aangerig het as juis die Britte nie. Die Britse MI6, nou SIS, se hoofdoel in Suid-Afrika was om regeringsamptenare as wetende/bewuste bronne en agente te werf en dit het hulle by uitstek reggekry in die jare van die BSV se bestaan, en daarna. Van den Bergh skryf dit aan SIS se mandaat en taakopdrag toe: “To acquire intelligence by any means, particularly from hostile nations.” In die jare na Rhodesië se eensydige onafhankilheidsverkaring op 11 November 1965, was daar formele intelligensie-skakelverhoudinge en samewerking tussen Van den Bergh en die hoof van die CIA, Ken Flower, maar nooit noue vriendskapsbande nie. Van den Bergh het Flower eenvoudig nie vertrou nie, en veral nie die vriendskappe tussen lede van Ian Smith se kabinet en die hoof van SIS in Londen nie. In die intelligensiewêreld is daar geen vriende nie, net belange, en om hierdie rede het lande in Noord- en Wes-Afrika, en België, Italië, Griekeland en Israel, skakelverhoudinge met Suid-Afrika gehandhaaf.
In 1965 was die opkoms van die bevrydingsteologie (die teologie van geweld en revolusie) en die noue samewerking tussen die ANC/SAKP en kerklike instansies soos die SA Raad van Kerke, insamelingsprioriteite van RI. Gevolglik voer die Veiligheidspolisie ’n klopjag op die kantore van die Christelike Instituut (CI) in Johannesburg uit en ook op die huis van dr. Beyers Naudé, in Greenside, op soek na literatuur insake kommunisme en die ANC, maar ook dokumente wat uit die kantore van die Afrikaner-Broederbond (AB) in Johannesburg gesteel is. Die saak van die gesteelde AB-dokumente is deur kol. Hendrik van den Bergh ondersoek. Benewens ’n klopjag op 19 Oktober 1977 op die kantore van die Christelike Instituut in Mainstraat, Johannesburg, besoek Van den Bergh ook vir Naudé aan huis in Greenside. Naudé erken aan Van den Bergh dat hy van die gesteelde dokumente aan ’n vriend by die Randse Afrikaanse Universiteit gegee het om te kopieer. Naudé skryf later in sy boek, My Land van Hoop, die Lewe van Beyers Naudè, dat hy jongmense gehelp het om landuit te vlug. “Ek het gehelp om die ANC se literatuur hier te versprei, sodat mense moes weet waarom gaan dit vir die ANC, veral die Vryheidsmanifes van die ANC.”
Net soos die ANC binnelands, word die SAKP-kantoor in Londen die belangrikste intelligensieteiken van RI en sy nuutgevestigde kantoor op die vierde verdieping van die Suid-Afrikaanse Ambassade op Trafalgarplein. Benewens Yusuf Dadoo en Vella Pillay, sluit die hele First-gesin by die sekretariaat van die SAKP in London aan: Julius First, sy dogter Ruth First en haar eggenoot, Joe Slovo. Julius First het nie alleen sy geld aan die SAKP geskenk nie, maar ook gesorg dat sy flambojante dogter Ruth oor genoeg Franse parfuum, Italiaanse skoene en ’n luukse Citroënmotor beskik. Met die geld wat die Russiese Kommunistiese Party aan hulle betaal het, huur die SAKP ’n kantoor op die hoek van Rathbone- en Goodgestraat, Londen, wat deur die sekretariaat beman word. Die SAKP-kantoor is maklik bereikbaar via die Goodgestraat- of die Tottenham Court-metrostasie en RI-lede vind dit nie moeilik om foto’s van die persone wat daar werksaam is, te neem nie. Op Sondag, 18 April 1965, vind daar ’n geheime vergadering van uitgeweke SAKP- en ANC-lede, insluitende Oliver Tambo, in Slovo se huis in Londen plaas. By die vergadering was Yusuf Dadoo, Vella Pillay, Robert Resha, Alfred Kgokong, Moses Kotane, Joe Mathews, J.B. Marks, Govan Mbeki en Alan Brooks. Tydens hierdie vergadering word daar ’n SAKP “Security Unit”in die lewe geroep om te kyk na personeelsekerheid en of nuwe SAKP-lede nie dalk, soos Gerard Ludi, infiltrasie-agente van die Veiligheidspolisie is nie. Alhoewel hy nie formeel die party se voorsitter was nie, was Yusuf Dadoo in Londen die spilpunt waarom die party se organisasie en infrastruktuur gedraai het. Dadoo was lid van hierdie SAKP “Security Unit”wat die embrio van die ANC/SAKP se latere intelligensie-afdelingin Tanzanië en Zambië word.
Die SAKP se ysterklou op die ANC se rug word deur Dadoo se voorsitterskap van die SAKP en gelyktydige lidmaatskap van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) en die Revolusionêre Raad (RR) van die ANC geïllustreer. Die gelyste kommunis Joe Slovo was sekretaris-generaal van die SAKP en gelyklopend lid van die ANC-NUK en RR, ook hoof van die ANC-kantoor in Maputo. Dadoo en Slovo was die twee SAKP-lede wat aanhoudend na Moskou gereis het om geld vir die ANC en SAKP by die Sowjet-Komintern te bedel. Die ANC se hoofverteenwoordiger in Kuba, Alex la Guma, was terselfdertyd lid van die SAKP se hoofbestuur en die RR van die ANC. La Guma was grootliks daarvoor verantwoordelik dat Kuba aan die kant van die People’s Movement for the Liberation of Angola (MPLA) by die Angolese Oorlog teen Suid-Afrika betrokke geraak het. Die meerderheid lede van die ANC se NUK, wat eers uit 22 en later 32 lede bestaan het, was SAKP-lede, onder andere Alfred Nzo, Yusuf Mohammed Dadoo, Dan Tloome, Joe Slovo, Josiah Hele, Reginald September, Moses Mabhida, Stephen Dlamini, Hector Nkula, John Kgoana Nkadimeng, Mziwandile Piliso en Ronnie Kasrils. Oliver Tambo, die ANC-president en meesterbrein agter Operasie Vula, was lid van die Sowjet-frontorganisasie, die World Peace Council.
Dit het die RI nie lank geneem om uit die dokumentasie wat by Rivonia ontdek is, te bevestig dat die SAKP die ware dryf- en denkkrag agter MK was nie. Dit was ’n mismoedige lotjie kommuniste wat op 1 Mei 1965 (Internasionale Werkersdag) die jaarvergadering van die SAKP in Praag, Tjeggoslowakye, bywoon. Die SAKP se jaarvergadering word deur lede van die Russiese Kommunistiese Party, die Oos-Duitse Intelligensiediens (Stasi) en die Tjeggiese Intelligensiediens bygewoon. By hierdie vergadering het die Russiese Kommunistiese Party, deur Victor Shubin, meegedeel dat hy sy befondsing van die SAKP en ANC gaan vermeerder. Die geld sou direk aan die SAKP se sekretariaat in Londen uitbetaal word, wat dit dan na goeddunke onder SAKP-lede kon versprei. Geld vir die ANC, wat heelwat meer was as die begroting vir die SAKP, sou direk aan Oliver Tambo en die ANC se kantoor in Dar es Salaam betaal word en deur die tesourier, Moses Kotane, en Joe Mathews administreer word. Tydens die Praag-vergadering word J.B. Marks as voorsitter van die SAKP bevestig. Die Sentrale Komitee van die SAKP besluit ook dat die ANC sy gewapende stryd vanuit Dar es Salaam in Tanzanië sou voortsit en dat die SAKP vanuit Londen sou opereer. Opleiding van MK-lede sou by die Leninskool in Moskou en in Odessa voortgesit word. In Dar es Salaam het Oliver Tambo die titel vise-president van die ANC gebruik, omdat hoofman Albert Luthuli, ten spyte van sy huisarres in Natal, tegnies steeds president van die ANC was. Duma Nokwe word in Tanzanië as sekretaris-generaal van die ANC bevestig en hy open ’n nuwe kantoor vir die organisasie by Morogoro. In Morogoro skep Nokwe ’n seksie met die naam Military Intelligence Unit met die opdrag dat sy een lid, Bonnie Njamela, alias Eric Manzi, inligting insamel oor potensiële militêre teikens in Suid-Afrika. Nokwe werf die ANC-MK-lede Mendy (Maindy) Msimang en Sizakele Sigxashe as lede van die informele en ongestruktueerde Military Intelligence Unit– Sigxashe omdat hy ’n dokument geskryf het oor die geskiedenis van die ANC waarin hy melding gemaak het dat die ANC ’n inligting-insamelingseenheid nodig het.
Genl. Hendrik van den Bergh besoek die VSA in 1965 vir ’n derde keer en word deur die CIA uitgenooi om na Florida te reis waar hy op 30 Julie 1965 die lansering van ’n Saturn-vuurpyl dophou. Die vuurpyl, wat deur dr. Werner von Braun en ’n span Duitse wetenskaplikes ontwerp en ontwikkel is, word vanaf die John F. Kennedy-ruimtesentrum op Merrit-eiland, Cape Kennedy, afgevuur. Vier jaar later ontvang Van den Bergh onverwags ’n groot geskenk van die Amerikaners, ’n oorspronklike foto van die aarde uit die buitenste hemelruim wat deur die eerste man op die maan, Neil Armstrong, en Buzz Aldrin en Michael Collins onderteken is. Oudergewoonte vra Van den Bergh sy sekretaresse, Breggie de Jager, om ’n vorm op te stel waarin hy die geskenk van die CIA verklaar, onderteken en op sy eie Persoonslêer plaas.
In 1966, slegs twee maande voor sy ontydige dood, ontvang die eerste minister, dr. H.F. Verwoerd, ’n ernstige klagte van die DMI af wat dit stel dat DMI en genl. Van den Bergh in botsing met mekaar is (“we are at loggerheads with one another,” was die presiese bewoording), omdat RI kwansuis “SA Polisielede” onder dekking in die buiteland plaas. Van den Bergh het op die klagte gereageer deur die Eerste Minister mee te deel dat DMI “aanspraak maak op regte en magte waartoe hulle nie wettig in staat is nie”.
“Eendag lees ek weer ’n legger en binne in die legger is ’n Buro vir Staatsveiligheid-verslag wat van Londen afkomstig was en deur BSV by ontvangs in die RSA gestempel is,” vertel brig. Hennie Heymans. “Die probleem vir my was: Hoe kom ’n BSV-verslag in ’n veiligheidspolisie-legger? Ek stap toe na my hoof, majoor FG van Zyl. Hy vertel my toe die volgende storie: Hy was self van die veiligheidspolisie na die Buro gesekondeer. Daar het onmin tussen die weermag se afdeling militêre inligting (AMI) en die Buro wat by hulle ingetrek het, ontstaan. Die Buro en alle nie-SAW-personeel is een oggend toegang tot die kantore van AMI geweier. Een oudpolisieman, Piet van Wyk, het nie geskrik nie en die gevelde bajonet weggestamp en na sy kantoor gegaan. Die uiteinde is, die Buro het toe tydelik by die veiligheidspolisie by Wachthuis ingetrek, totdat hulle na Consillium-gebou in Skinner-straat verskuif het.”