Ontploffing op Johannesburg-stasie – 1964

In 1964 neem die ANC-SAKP se rewolusie geweldadige afmetings aan met ‘n gewetenlose aanval in Johannesburg op onskuldige lede van die algemene publiek. ’n Ondergrondse organisasie, bekend as die ARM, het intussen ook op die radar van die Veiligheidspolisie gekom na aanleiding van kontak tussen Bram Fischer en ’n boekhouer van Johannesburg, John Edward Mathews. Die ARM het meestal uit wit akademici, regslui en joernaliste bestaan en was betrokke by verskeie sabotasiedade in protes teen apartheid. Om die ARM se kleinerige rol in Suid-Afrika se gewelddadige geskiedenis in perspektief te verstaan, lui ’n raak opmerking van genl. Hendrik van den Bergh oor Bram Fischer ’n klokkie.

Van den Bergh sê in ’n onderhoud met Beeld se joernalis Koos van der Merwe dat Bram Fischer “sluwer was as enige ander kommunis, beter toegerus. Hy het ’n goeie verstand gehad, maar uiteindelik het hy te slim geraak. In sy ideologiese drif het hy van balans af geraak en die prys daarvoor betaal.” Fischer was nie alleen ondergrondse leier van die SAKP nie, maar ook finansier van ’n ANC/SAKP splintergroep met die naam Armed Resistance Movement (ARM), wat hoofsaaklik in Kaapstad en Johannesburg bedrywig was.

Na aanleiding van inligting wat Gerard Ludi oor Bram Fischer en Mathews ingesamel het, is ’n groot aantal ARM-lede in Julie 1964 in hegtenis geneem. Binne ’n maand vanaf Vrydag, 3 Julie 1964 het die veiligheidstak oor die hele land op bekende kommuniste, lede van die ARM en die COD (‘n blanke studente terreurorganisasie wat ook sabotasie gepleeg het), wat deur adv. Bram Fischer gefinansier is, toegeslaan deur verskeie arrestasies te maak. Hoewel die ARM gedurende sy sabotasieveldtog vanaf September 1963 tot Julie 1964 op onder meer die verwoesting van krag- en spoorlyne, paaie en brûe toegespits was, het dit geen lewensverliese tot gevolg gehad nie. In teenstelling met die SAKP, was die ARM ’n versameling idealistiese intellektueles en amateur-saboteurs. ’n Groep ondermyners, onder leiding van Adrian Leftwich, het in die Kaap opleiding en instruksie in bomvervaardiging ontvang van ’n verloopte Brit, Roland Watson. Lede van die groep was Leftwich se vriendin, Shirley (Lynette) van der Riet, Stephanie Kemp, Raymond Vignes, Eddie Daniels, Denis Higgs, Johannes Dladla en Roman Eistenstein. Die vreemde groepie idealiste bou fluks bomme en Molotov-cocktails, versamel plofstof en wapentuig wat hulle in motors tussen hul eie woonstelle en huise in Kaapstad rondskuif.

Benewens die ARM was Adrian Leftwich ook ’n lid van die skrywer Alan Paton se Liberale Party. Op 4 Julie 1964 voer die Veligheidspolisie ’n klopjag op Leftwich se woonstel in Kaapstad uit en ontdek benewens ANC- en SAKP-pamflette, ook naamlyste van al sy studentevriende en vriendinne.

RI volg die inligting oor Bram Fischer en John Mathews wat deur Gerard Ludi verskaf is op en plaas Mathews onder waarneming. Aan die einde van Junie 1964 bekom die Veiligheidstak ’n lasbrief vir deursoeking van Mathews se huis in Observatory, Johannesburg, en ontdek daarmee ’n bomfabriek in sy kelder. “Ons het die jackpot geslaan,” verduidelik RI-lid P.C. Swanepoel later, “al sy gereedskap en slagdoppies en dinamiet het sommer los bo-op die tafels gelê. Met ’n bietjie naspeurwerk het ons later vasgestel dat hulle van die plofstof en slagdoppies by ’n myn in Roodepoort gesteel het.” Mathews was agterlosig genoeg om ’n naamlys van al sy kontakte by te hou en daarop vind die Veiligheidstak die name van Adrian Leftwich, John Harris, Stephanie Kemp en Shirley van der Riet. As leier van die Kaapstad ARM-groep word Leftwich summier in hegtenis geneem. Kort daarna bied Leftwich aan om staatsgetuie teen sy mede-bomplanters in die Klein Rivonia-hofsaak te word.

Op Vrydag 24 Julie 1964 het dit egter heeltemal verander. Om 16:18 namiddag op Vrydag 24 Julie 1964 ontvang die Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie in Johannesburg ’n oproep. Frederick John Harris se stem aan die ander kant is kalm, terwyl hy die doel van sy oproep verduidelik: “This is the African Resistance Movement. We have planted a bomb in a large brown suitcase twenty feet from the cubicle above platforms five and six on the concourse of the new Johannesburg Railway Station. On the handle of the suitcase is tied a label bearing the words ‘Back in Ten Minutes’. It is not our intention to harm anyone. This is a symbolic protest against inhumanity and the injustices of apartheid. The bomb is timed to explode at 4.33 p.m. Clear the concourse by using the public address system at once. Do not try to defuse the bomb as the suitcase is triggered to explode if it is opened.”

 Hierna bel Harris twee koerante, Rand Daily Mail en Die Transvaler,en soos hy gewaarsku het, ruk ’n ontploffing teen ongeveer 16:30 deur die Johannesburgse stasie. ’n Tas, waarin ’n tydbom geplant was, is deur ’n jong, wit man in ’n bruin pak naby ’n bankie op die platform neergesit, en toe die tyd afgeloop het, het die bom die binneplein van die stasie verwoes. Die dagblad Die Burger het die volgende dag soos volg oor dié ontploffing gerapporteer: “Algehele chaos het enkele oomblikke na die geweldige slag geheers. Bebloede slagoffers het verskrik hulp gesoek. Skreeuende mense het met brandende klere en hare deur die malende menigte gestorm. ‘Dit was ’n doelbewuste poging waarin menselewens geminag is,’ het genl. Van den Bergh na die voorval aan die media gesê.”

Die stasie-bomontploffing, waartydens Harris Cordtex-dinamiet en ’n twee-galon plastiese houer gevul met petrol gebruik het, het tot die dood van ’n bejaarde voetganger, die 77-jarige mev. Ethel Rhys, gelei. Sy het ernstige brandwonde opgedoen en is nagenoeg drie weke later op 19 Augustus oorlede. Minstens 24 ander persone is beseer, insluitend Rhys se 12-jarige kleindogter, Glynnis Burleigh, wat erg geskend is. Hugh Lewin en John Lloyd, twee lede van die ARM, is onmiddellik deur die Veiligheidspolisie by hul huise opgelaai en na die verwoestende toneel by die Johannesburgse Stasie geneem. Kapt. J.J. Viktor en Jan Furter het die aaklige toneel aan Lewin gewys en hom intensief ondervra, waarná hy met die naam Frederick John Harris vorendag gekom het. Minder as sewe ure ná die ontploffing het die Veiligheidspolisie aan die hand van Hennie Muller vir Frederick John Harris, met wie Ludi ook vroeër kontak gehad het, by sy huis in Florida in hegtenis geneem. Die 27-jarige Harris was ’n onderwyser, geesdriftige sportman en lid van die Liberale Party. Hy was voorsitter van die SAN-ROC, (waarby Ludi ook betrokke was) en lid van die ARM. Gegrond op die naamlys wat in John Mathews se huis ontdek is, beveel genl. Van den Bergh en die SAP se speurhoof, genl. Renier van den Bergh, dat John Harris onmiddellik in hegtenis geneem word. Die Veiligheidstak het nie juis moeite ondervind om Harris op te spoor nie – hy was gaaf genoeg om sy naam en adres in John Mathews se telefoonboek te verskaf. Kapt. J.J. Viktor het Harris ondervra en later aangevoer dat Harris binne vyf minute ’n skuldbekentenis afgelê het. Harris is aangekla van sabotasie, en nadat Rhys in Augustus oorlede is, is hy ook van moord aangekla. Hy is skuldig bevind, waarna regter Joe Ludorf hom op 6 November 1964 die doodstraf opgelê het. In die hof het Harris as deel van sy getuienis verweer dat hy iets skouspelagtig wou doen om aan die wêreld te toon dat die Armed Resistance Movement nog bestaan het, al het baie van sy lede die land uit gevlug. Harris is sowat vyf maande later, op 1 April 1965, om 05:30 in die Pretoriase tronk gehang. Harris se begrafnis word onder andere deur Peter Hain, later ’n Britse politikus, en sy gesin bygewoon. Ten spyte daarvan dat John Harris ’n beplande, gewetenlose en uiteindelik betekenislose moord gepleeg het, bevestig die International Defence and Aid Fund (IDAF) in ’n brief gedateer 19 Januarie 1965 aan die VN se Special Committee on the Policies of Apartheid of the Government of the Republic of South Africa (UNSCAA), dat hy vir Harris se regsverteenwoordiging tydens sy hofsaak betaal het.

Na afloop van die dramatiese gebeure by Rivonia en die stasiebomontploffing, besluit die SAKP om ’n nuwe Sentrale Party vir die Party te kies. Van die lede van die ou komitee was óf in aanhouding, óf het uit die land uit gevlug; daarom was die herstrukturering van die bestuur nodig. Bram Fischer word in Yusuf Dadoo se plek amptelik tot die nuwe algemene sekretaris van die party verkies, met Hilda Watts Bernstein, Ivan Schermbrȕcker, Wilton Bri Bri Makwayi, Piet Beyleveld, Barthlomew Hlapane en Mac Maharaj as bestuurlede. Die res van die voetsoldate van die abortiewe kommunistiese revolusie het by ander organisasies aangesluit, maar hul politieke ideale lewendig gehou deur massa-optrede teen die regering te probeer organiseer. Die de facto-leier van die ANC, Oliver Tambo, en MK se hoof van staf, die Lithuanies-gebore Joe Slovo, het na London uitgewyk om die revolusie van daar af te bestuur en om ’n internasionale teenwoordigheid vir die ANC/SAKP daar te vestig.

Abram Fischer

Gerard Ludi was vanaf 1962 deel van die binnekring van die SAKP en die inligting wat hy verskaf het, het direk tot adv. Bram Fischer se tweede inhegtenisname in November 1965 gelei. Fischer, leier van die verdediging se span advokate in die Rivonia-saak, was teen dié tyd “die mees senior kommunis wat in die land op vrye voet was”. Na bykans tien maande se agtervolging het lt. Kalfie Broodryk en adjudant-offisier Natie van Rensburg op 23 September 1964 adv. Bram Fischer, erkende leier van die kommuniste in Suid-Afrika, in sy regspraktyk by Innes Chambers, regoor die Randse Hooggeregshof, gearresteer en ingevolge die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme daarvan aangekla dat hy die doelstellings van die Kommunistiese Party bevorder. Fischer is saam met die gelyste kommunis Eli Weinberg (pa van Sheila Weinberg) gearresteer en hierdie keer nie ingevolge die 90-dae wet aangehou nie, maar ingevolge die Wet op Onderdrukking van Kommunisme aangekla. Saam met hom is nog 13 persone aangekla, alhoewel Fischer die hoofaangeklaagde was – Beskuldigde Nr. 1. Die ander gearresteerdes was Paul Trewhela, Jean Middleton, Esther en Hymie Barsel, Ann Nicholson, Florence Duncan, Fred Carneson, Norman Levy, Sylvia Neame, dr. Costa Gazides en Pixie Benjamin. Carneson was die SAKP-selleier in Kaapstad en tydens sy verhoor het hy erken dat die SAKP planne gehad het om hul stryd teen die regering “ondergronds” voort te sit. Een van die geheime getuies teen Carneson was ’n ongeïdentifiseerde lid van die Veiligheidspolisie wat getuig het dat hy militêre opleiding in Dar es Salaam, Tanzanië, ontvang het en dat meer as 100 SAKP- en ANC-lede op daardie presiese oomblik besig is met militêre opleiding in Odessa in Rusland.

Ten tye van die eerste verskyning in die Johannesburgse Streekhof aan die einde van 1964 het Fischer soveel selfvertroue aan die dag gelê dat hy aansoek om borgtog gedoen het. Sowel die aanklaer, adv. J.H. Liebenberg, en lt. Kalfie Broodryk, wat die ondersoekbeampte in die saak was, het die aansoek teengestaan. Fischer het as redes vir sy aansoek om borgtog aangevoer dat hy voor die Geheime Raad in Londen in ’n saak van patentregte moet verskyn. Een van Fischer se regskollegas, die prokureur Peter Rissik, het die hof hartstogtelik versoek om borgtog aan Fischer toe te staan omdat hy die kleinseun van ’n toenmalige Vrystaatse premier was en die seun van ’n regterpresident. Selfs die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika verloor sy diplomatieke kop en vra per brief dat Fischer se “vryheid en sy paspoort” aan hom toegestaan word. Op grond van hierdie vertoë en Fischer se onderneming dat hy na Suid-Afrika sal terugkeer, is borgtog van R10 000 aan hom toegestaan.

Van den Bergh, Geldenhuys en hul kollega Stan Schutte van RI laat nie op hulle wag nie en loods in Fischer se afwesigheid ’n berekende teen-offensief teen die SAKP. Hulle vertel aan gearresteerde SAKP-lede dat hul samewerking, inligting en verklarings nie meer nodig is nie, omdat Fischer met ’n volle skulderkenning vorendag gekom het en met die Veillgheidspolisie saamwerk. Nie al die gearresteerde kommuniste het Van den Bergh en Geldenhuys geglo nie, maar twee van hulle het, en het met volledige naamlyste van hul SAKP-sellede vorendag gekom.

Teen alle verwagting in het Fischer, nadat hy sy saak in Londen gewen het, na die Republiek teruggekeer om verhoor te word. Die saak het op 16 November 1964 voor streeklanddros C.S. Allen ’n aanvang geneem. Die staatsaanklaers was Otto Maree, Willie Theron en Jan Liebenberg, terwyl Fischer deur een van sy mede-kommuniste, adv. Vernon Berrangé, verdedig is. Dit was ’n skynbaar triomfantlike Fischer wat sy plek as beskuldigde nommer een in die hofsaal ingeneem het. Sy bravade was egter van korte duur, omdat hy gou besef het dat die staat oor verdoemende getuienis teen hom beskik. Die eerste getuie teen hom en sy medebeskuldigdes was ’n selferkende kommunis, Petrus Beyleveld, wat vir jare sitting saam met Fischer op die Sentrale Komitee van die Kommunistiese Party van Suid-Afrika gehad het. Beyleveld was ’n deurwinterde kommunis en een van die opstellers van die Freedom Charter tien jaar vroeër in Kliptown – sy getuienis teen Fischer was dus geloofwaardig en gewigtig. Beyleveld het getuig dat Fischer die leier en finansier was van die SAKP en dat geld wat die Party vanuit die buiteland ontvang het, deur Fischer na ander kommuniste gekanaliseer is. ’n Tweede getuie, Doreen Tucker, het ná Beyleveld getuig dat sy as koerier vir die SAKP opgetree het en dat Bram Fischer haar gebruik het om tasse met geld by sy SAKP-kamerade (“comrades”) af te lewer.

Piet Beyleveld en Abram Fischer

Die rede waarom Petrus (Piet) Beyleveld so geredelik in die hof teen sy boesemvriend en medekommunis Abram Fischer getuig het, is nou, ná jare se bespiegeling, vir die eerste keer duidelik. Beyleveld het ’n gehuurde woonstel in Braamfontein gebruik vir persoonlike sake, terwyl sy vrou en kinders elders in Johannesburg gewoon het. Omdat Beyleveld as bekende en aktiewe kommunis op RI se waarneming- en agtervolgingslys was, het ’n vernuftige veiligheidspolisieman, speurder-konstabel Klaus Schroeder (Q043), van Beyleveld se woonstel uitgevind en binne ’n japtrap die woonstel langsaan gehuur. Tamaties (meeluisterapparaat) is met redelike gemak in Beyleveld se woonstel geplaas en sy naggeluide noukeurig op band en kamera vasgelê. Beyleveld was van niks bewus nie en dié storie het vir maande aangehou, totdat dit vir Bram Fischer nodig geword het om in die hof te verskyn. Klaus Schroeder het Beyleveld netjies aan sy kraag nadergetrek en aan hom presies verduidelik waar Dawid die wortels gegrawe het. Vreesbevange dat sy vrou en kinders van sy woonstel in Braamfontein sou uitvind, het Piet Beyleveld vriendelik ingestem om ’n samewerkende getuie in die hof teen Fischer te word. RI het hul woord gehou en Beyleveld na die hofsaak uitgelos sodat hy in vrede kon voortgaan met sy besoeke aan sy Braamfonteinse woonstel.

Gerard Ludi het tydens die hofsaak op 16 November 1964 in Johannesburg op ’n verrassende wyse teen Fischer getuig, ’n meesterlike skuif wat, volgens een waarnemer, Fischer se gelaatstrekke permanent van grys na strakwit verander het. Die waarnemer was sers. Kleintjie Kleingeld, wat een van die SAP-VT manne was wat die groep ANC/SAKP-lede by Rivonia in hegtenis geneem het. Sers. Kleingeld het later jare in die BSV en NI se SAKP-ondersoekseksie in Johannesburg ’n swart boekie bygehou waarin hy die besonderhede van elke gelyste kommunis in die land opgeteken het. Hierdie swart boekie het die basis gevorm waarop veldwerkers in die SAKP-ondersoekseksie inligting ingesamel het oor kommunistiese selle en bedrywighede in Johannesburg. Die inligting is verwerk in ’n handwerkboek oor kommunisme wat deur die veldwerkers van die Buro, die Departement van Nasionale Veiligheid (DNV) en NI die “kommunistiese bybel” genoem is. RI en die BSV het die naam en adres van elke gelyste kommunis in Johannesburg gehad en daar is van operasionele lede verwag om die name uit hul koppe te ken. Lede wat nie geweet wie elke kommunis was nie, waar hulle bly nie of wat die vinnigste, maklikste roete na hul huise toe was nie, se kierangs is vinning deur hul RI en Buro-hoofde gebraai.Vir Abram Fischer was ao. Gerard Ludi (Geheime Agent Q 018) die “tweede verdomde verraaier!” Ludi was ’n gereelde gas in die Fischer woning. Fischer het Ludi goed geken as een van die lede van sy geheime kommunistiese sel, waarvan Eve Hall, Rebecca en Jack Bunting, Pixie Benjamen, Violet en Eli Weinbergh, Hilda en Rusty Bernstein en hul dogter Toni, Sholto Cross, Paul Trewhala, Esther en Hymie Barsel en Esther Levitan lede was. Benewens Fischer was joernaliste van die Johannesburgse middagblad The Star ook hoogsverbaas om Gerard Ludi in die getuiebank te sien, omdat Ludi die afgelope twee jaar as medejoernalis daagliks The Star se nuuskantoor met hulle gedeel het. Adv. Liebenberg het aan Ludi gevra wat sy beroep is en Ludi het geantwoord dat hy as ’n verslaggewer aan die Rand Daily Mail en The Star verbonde is. Daarop het die aanklaer gevra wat Ludi se ware beroep is. Die getuie het geantwoord dat hy ’n adjudant-offisier in die Suid-Afrikaanse Polisie is. In werklikheid was Ludi verbonde aan die Veiligheidspolisie en RI. Ludi het getuig dat hy lid was van Bram Fischer se ondergrondse kommunistiese sel en dat die SAKP hom na Moskou gestuur het vir opleiding. “When Ludi appeared at Bram Fischer’s trial as chief witness for the state, Bram estreated his bail and disappeared. He knew the game was up. Die “derde verdomde veraaier” was Patrick Mthembo, wat deur die Veiligheidstak in hegtenis geneem is en onmiddellik aangebied het om in die hof teen sy mede-SAKP-lede te getuig.

*