Nongqai Article memorabilia header image

ABSTRACT: The Nongqai team believes that our dream may soon be realised of having a properly managed permanent repository, at a suitably prestigious heritage venue, of MEMORABILIA associated with the history of Intelligence Services in South Africa. However, in the negotiations to promote this, it is important for us to be able to submit an indication of the kind and likely volume of such material that intelligence veterans would consider donating. Therefore, please contact our intelligence sub-editor, Henning van Aswegen, at: subintel@nongqai.org for further information and/or to send us your informal “inventory” (with photos please) of memorabilia you may be willing to donate.

KEYWORDS: Intelligence memorabilia permanent repository;  South African intelligence heritage.

AUTHOR: Dr Willem Steenkamp          (Read Time: 1min 30sec)

GOEIE VOORUITSIG VIR BEWAAR VAN INTELLIGENSIE-MEMORABILIA

Een van die groot punte van kommer binne die Nongqai-vriendekring was altoos: wat word van ons waardevolle argief wanneer die huidige span nie meer daar is nie? ‘n Verstaanbare kommer, soos wat die jare aanstap en ons nie jonger  word nie!

Vriende, ons is dus verheug om te kan konstateer dat ‘n paar groot suksesse hierdie afgelope jaar, sal verseker dat die argief bewaar sal bly – en meer as dit, dat dit deur top-kundiges katalogiseer en bestuur staan te word, vir maklik en blywende toegang deur die publiek en navorsers.

Meer sal hieromtrent bekend gemaak word gedurende internasionale biblioteek-week, in die eerste kwartaal van 2024.

Benewens hierdie kosbare samewerking op universiteitsvlak, was ons ook gelukkig om die bekwame en daadkragtige hulp te ontvang van Jan de Klerk, self ‘n voormalige polisie-offisier en dosent in Polisiekunde met ook kennis van rekenaars. Jan het reeds veel gedoen om ons argief oor te dra na ons eie nuwe web-blad ( www.nongqai.org ).

In sigself was die behoorlike vestiging van ons eie webblad hierdie jaar ook  ‘n groot stap vorentoe, saam met die feit dat Microsoft onlangs vir Nongqai aangeneem het as ‘n “entiteit in publieke belang” (PBO in Engels) en dien gevolg vir ons as “non-profit” die gebruik van hulle premium besigheid-sagteware gratis geskenk het – die webblad en hierdie kragtige sagteware maak dit nie net makliker moontlik om ons Blog uit te gee nie, maar ook om die argief só op te stel dat dit gemaklik met ons universiteit-vennote sinchroniseer, wat versoenbare Microsoft-tegnologie gebruik.

U as ons lesers, en veral u wat gereeld vir ons bydraes stuur, kan dus nou gerus wees dat dit alles vir die nageslag bewaar sal bly, voortaan ook nou in ‘n optimaal-toeganklike, behoorlik geïndekseerde formaat.

Maar, vra u: wat van die fisiese memorabilia waarmee baie van ons tuis sit?

Die goeie nuus is dat ook op hierdie front (benewens dus die reeds-bedingde bewaring van die digitale argief) daar ook baie positiewe aanduidings is. Ons glo dat dit aanstons moontlik mag word om ‘n permanente bewarings- en uitstallingspunt vir intelligensie-memorabilia te vestig. Dit sal hopelik by ‘n befaamde erfenis-instelling fisies gehuisves word. Met die akademiese rugsteuning van ‘n top Afrikaanse universiteit se biblioteek-kundiges om dit na behore te katalogiseer en bestuur.

Wat ons by Nongqai nou benodig om hierdie saak verder te kan bevorder, is ‘n aanduiding van die aard en volume van sulke fisiese memorabilia wat intelligensie-veterane bereid mag wees om aan so ‘n versameling te skenk (ons moet uiteraard so ‘n breë bestek-raming insluit in ons finale voorlegging, ter wille van die bepaal van die spasie-behoefte en ter aanduiding van die kwaliteit en bewaringswaarde van dit waaruit die uitstalling mag bestaan).

Stuur asseblief aan Henning van Aswegen (die bekende historikus en skrywer, ex NI-Akademie en Nongqai se subredakteur vir intelligensie) ‘n aanduiding – met foto’s asseblief – van wat u moontlik mag wil skenk. Sy e-pos adres is: subintel@nongqai.org .

 Dankie by voorbaat vir u hulp hiermee!