Abstrak: Christian Sisters gesels oor handsakke, en barmhartigheid.
Christian Sisters Belinda van Aswegen en Ninon Fourie
Straat- en hawelose vroue is ‘n ernstige sosio-maatskaplike probleem in die Suid-Afrikaanse samelewing. ‘n Probleem wat ons as Christene dikwels dikwels meer as ‘n oogseer as iets waaraan ons iets kan doen, beskou.
Dit was juis hierdie hartseer wat Belinda van Aswegen en Ninon Fourie aangespoor het om in 2020 Christian Sisters te skep – ‘n barmhartigheidsidee wat soos ‘n veldbrand onder Christenvroue versprei het. “Ek glo eerlik dat die Heilige Gees die inspirasie vir die idee vir Christian Sisters is,” vertel Belinda. “Ons het agtergekom dat ‘n goeie idee baie magtiger is as enige swaard wat menselewens, en veral vroue probeer aftakel en verneder. Die idee is eenvoudig en minimalisties – barmhartigheid en naastiefde sonder enige voorbehoude, sonder reëls of vooroordeel. Ons deel eenvoudig handsakke vol klein verassingkies uit aan hawelose vroue, en vroue wat ons daagliks by verkeersligte sien bedel.”
“Elkeen van ons het ‘n ou of ongebruikte handsak onder in ‘n kas êrens, of ‘n handsak met ‘n los bandjie of gespe of waarvan die voering losgetrek het. Naderhand weet ons nie wat om ons ou handsakke te doen nie en hulle beland in die asdrom. Ons maak eenvoudig handsakke bymekaar en vul dit dan met lipstiffies, poeier- of onderlaaghouers, sneesdoekies, maskara en sanitêre gebruiksartikels soos tampons, oogskaduwee, salfbakkies en buisies, ensovoorts. As ons klein Bybels, of Christelike boeke en tydskrifte in die hande kry, plaas ons dit in die handsakke en deel dan uit.”
Vanaf 2020 het die idee heerlik oor dorps- en landsgrense versprei, en orals het vroue begin om dieselfde eenvoudige resep in hul eie gemeeskappe te gebruik. Christian Sisters hou nooit vergaderings nie, daar is ook nie ‘n sakeplan of begroting of bemarkingsplanne nie. “Die idee bemark homself en elkeen kan op sy eie manier handsakke en goedjies om binne-in te sit, bymekaarmaak en uitdeel. Dit is immers Jesus Christus se boodskap en bediening – barmhartigheid. Naasteliefde sonder brieke,” glimlag Belinda en Ninon.
In die afgelope vier jaar het Christian Sisters berigte en stories terugontvang van vroue van regoor Suid-Afrika wat fluks handsakke en skoonheidsmiddels insamel en uitdeel. Christen Vroue wat doodeenvoudig die idee van ongebonde barmhartigheid aangryp en dit hul eie maak deur handsakke in te samel, met allerlei klein persentjies te vul en dan weer uit te deel.
“Die reaksie van vroue aan wie ons die handsakke uitdeel, is pragtig en altyd positief. “Dit is heerlik om die dames se reaksies waar te neem en te geniet. Een dame in Gordonsbaai het aan ons gesê dit is die eerste keer in haar lewe dat iemand vir haar ‘n handsak persent gee. Sy het nog nooit vantevore ‘n handsak besit nie.”
Hebrews in Strand is betrokke by Christian Sisters deurdat hulle handsakke uitdeel aan dames vir Rehabilitasie gaan. Die idee is om hulle te seën en hulle te ondersteun op hul nuwe pad. “Die gratis handsakke maak hulle daarvan bewus dat nie almal in die samelewing van hulle vergeet het nie,” sê Ninon. “Een van ons Christian Sisters, Chistine in Sasolburg, het byvoorbeeld ‘wonderlike waslappies’ geskenk wat nie seep nodig het om te was nie, net water.”
Christian Sisters is ‘n Whatsapp-gebedsgroepie van jonk tot ouer dames wat saam bid, vir mekaar en hul families, en vir hulpbehoewende vroue. Die groepie bstaan uit meisies en dames van Suid-Afrika, maar ook dames in Holland, Australië en Nieu-Seeland wat saam bid en in hul eie gemeenskappe aan die handsakprojek deelneem.
Een keer ‘n maand kom ‘n paar Christian Sisters by Hebrews in Strand bymekaar vir ‘n koffiekuier om te gesels oor die Christelike boeke wat hulle lees, en ook die handsakke wat hulle versprei te bespreek. Om meer oor Christian Sisters te wete te kom, skakel (Т) 082-696-9028.