Skrywers & Boeke, Nongqai, Kinder- en Jeugboeke, C. Louis Leipoldt, Slampamperliedjies
Uit Slampamperliedjies – C. Louis Leipoldt
SING, vinkie, sing!
Dit is lekker vir jou om te sing
As die son sy sonskryn bring
Om die pad met goud te saai
Waar die wilgertakke swaai
As die koel veldwindjie waai
Sing, vinkie, sing!
Ek wens maar ek kon fluit
Soos jy, dag in, dag uit
Oor die water, oor die vlei
Waar die wit aandblompies sprei
‘n Blomtuin wit vir my
Sing, vinkie, sing
Hier waar jou nessie swaai
Met vinkertjies belaai!
Leer hul algar ook te sing
Vrolik en vlot as die sonskyn bring
Goud vir die more en die middag
Sing, vinkie, sing!
*
C. Louis Leipoldt is een van die Afrikaanse kultuurgeskiedenis se veelsydigste kunstenaars, digters en skrywers. Sy eerste digbundel ‘Oom Gert vertel en ander gedigte’ verskyn reeds in 1911 en vertel aangrypende verhale van die leed en smart van die Afrikaners tydens die Tweede Vryheidsoorlog. In sy digbundels lewer Leipoldt dikwels aangrypende aleensprake, en deur sy natuurverse ontdek Afrikaanssprekendes as’t ware die Afrika-natuurskoon in al sy prag en praal. Ek is een van C. Louis Leipoldt se bewonderaars – omdat hy die eerste digter was om die gewone Afrikaanse spreek- en omgangstaal in sy digkuns en ‘rymelary (soos hy dit genoem het), aan te wend. Die talentvolle C. Louis Leipoldt is op 28 Desember 1880 op Worcester gebore, en bekwaam hom hom nie alleen as skrywer en digter nie, maar ook as mediese dokter en kinderarts, as joernalis, rubriekskrywer en koerantredakteur. – Henning van Aswegen.
*