GENERAAL IN DIE MOEILIKHEID

Deur: Genl-maj Chris Botha

ABSTRACT: A piece on Police Humour that took place at the SAP College Pretoria.

KEYWORDS: Maj-Gen Chris Botha; SAP College.

THREE MINUTE READ

'n Foto wat persoon, klere bevat

AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.

Die moeilikheid waarin die generaal homself daardie dag in bevind het, is nou eintlik waaroor hierdie storie gaan. Sò is dit meer as vyftig jaar gelede aan my vertel …

Een van die poste waarby studente in Polkol, die subkultuurnaam vir die Suid-Afrikaanse Polisiekollege in Pretoria-Wes, indertyd dienste moes verrig was die hoofhek van die kollegeterrein. Amptelik bekend as die Ooshek, was dit waardeur die meeste verkeer na en van die terrein beweeg het. Die enigste ander toegang tot Polkol was die Suidhek, heel aan die agterkant van die kollege. Hierdie hek het direkte maar baie beperkte toegang verleen tot die opleidingsgebied, die intieme binnnekant van die terrein. Behalwe vir toegang tot die opleidingsterrein (vanaf ‘n ander windrigting) het die Ooshek egter ook die woongebiede van personeellede, die rugbyvelde, kollege hospitaal (met die berugte hospitaalbult waar brigadier Buurman van Zyl sy rugbyspelers gemartel het), polisie-orkeskamers en die NG Kerkgebou bedien.

Die hek was ‘n imposante affêre, ‘n sterk konstruksie op pilare met ‘n hoë dak. Dwars oor die voorkant het die plek se naam in Afrikaans en Engels gestaan, met ‘n groot polisiewapen daarby. Die valhekke was vanaf die middelmannetjie beheer, en aan die een kant van die struktuur was ‘n kantoor en ‘n toilet ingebou.

Op ‘n Saterdagoggend in 1972 word twee studente by die Ooshek gepos. Hul diensbeurt by die hek was vanaf 06:00 tot 14:00, waarna die volgende skof sou oorneem. Hul taak was om die verkeer te bestuur wat die Kollege wou binnegaan en wou verlaat. Daarvoor het hulle ‘n paar blaffende opdragte van die sersant ontvang, en ‘n paar bladsye papier met kolomme op, vasgeklem op ‘n knipbord. Hulle moes hul eie penne gebruik vir die werk, en moes maar staat maak op hul lewensvernuf – die personeellede wat die plek binnekom en verlaat was immers ook van daardie spesie wat mens sersante sou noem…

Ten tye van hierdie voorval, net so oor die vyftig jaar gelede, het daar relatief min adjudant-offisiere en kommissie-offisiere in Polkol gewerk. Die piramiede, soos bestuurskundiges later jare daarna sou verwys, se breë basis het bestaan uit die sersante. Daarvan was daar twee soorte: die eerste soort sersant was bevorder na die rang nà die suksesvolle aflê van ‘n eksamen, of nadat ‘n merietebevordering aan ‘n verdienstelike konstabel (of onder-sersant, soos ons hieronder sal lees) toegeken is. Hierdie soort sersant het drie strepe in v-vorm onderaan ‘n kasteel op die regterarm gedra. Die tweede soort was die (meestal berugte) onder-sersant of ‘lansbom’ (na aanleiding van die Engelse ‘lance sergeant’). Hierdie spesie was tegnies in die rang van konstabel, maar is nà die suksesvolle voltooiing van hul instrukteurskursus met drie strepe in v-vorm op die regterarm beloon. Die motivering hiervoor was histories en gebaseer op redes wat met die afdwing van dissipline saamhang. (Terloops, daar was in sommige gevalle onder-sersante by polisiestasies ook. Dit was gewoonlik by kleiner stasies en teen die agtergrond van prosesregtelike vereistes van borgstelling deur die polisie wat ‘n ‘onder-offisier’ voorgeskryf het. In die afwesigheid van die sersant was die onder-sersant dan as die voorgeskrewe ‘onder-offisier’ beskou).

Indien die Polkol-sersante sou besluit om die wêreld moeilik te maak vir die arme student aan diens by die hek, sou dit nag wees vir die student.

So ‘n halfuur in hulle skof in, hier teen 06:30, lui die telefoon in die kantoor wat deel uitmaak van die hek se struktuur, en een van die studente hardloop om dit te beantwoord. Dis die sersant wat bel, vanuit die Dienskamer. Die Dienskamer was gewoon die sentrale beheerkantoor van alle wagdienste, die plek waarvandaan die sersant aan diens die kollege beheer. “Julle moet uitkyk”, verduidelik die sersant uit die Dienskamer uit, “die generaal is op pad. Ek wil geen moeilikheid by die hek hê nie! Ek skop julle twee reguit in volgende maand in as julle ‘n gemors aanvang!”

Natuurlik is dit nie wat die sersant regtig gesê het nie. Sy taalgebruik sou egter nie sonder ernstige regsimplikasies vir hierdie outeur in hierdie storie gebruik kan word nie. Feit is dat onuitspreeklike swaarkry daardie twee studente sou tref indien die generaal se aankoms by die hek op enige ander manier as klopdisselboom sou verloop. “Reg sersant, ons maak so sersant, dankie sersant …”en so aan, antwoord die student oor die telefoon.

In Polkol, so het die studente ten minste vir die eerste paar maande van hul opleiding geglo, was die sersant die baas, die hele baas en niks anders nie as die baas nie. Die range van adjudant-offisier en luitenant was nog redelik bekend want hulle het kompanie-adjudante en – -luitenante gehad. Hulle sou geleer gewees het om alle luitenante, an almal verder aan boontoe met iets op die skouers, te salueer. Maar met diesulkes het die student maar min kontak gehad. Vir die student was die sersant die hoogste onder die gelykes.

So tussen die oop- en toemaak van die valhekke, en die kyk vir iemand om te salueer, en die aanspreek van enigeen en almal as ‘sersant’ het die twee studente die tyd om vir mekaar ‘n uiters belangrike vraag te vra.

“So”, vra die een vir die ander, “wat se ding is ‘n generaal?”. “Geen idee nie”, antwoord die ander. “Indien ons sersant hier verbykom, moet ons hom dalk vra”. “Gits nee, ek glo nie ons moet daardie kans vat nie. Netnou dink hy ons is moeilikheidmakers”. En so gaan die gesprek aan.

Die telefoon lui weer, en die sersant wil weer weet of die generaal al daar verby is. Na so vyftien minute weer, en toe nog ‘n keer. Elke keer moet die manne antwoord dat die generaal nog nie sy verskyning gemaak het nie. “Asof ons sou weet”, sug die een moedeloos. “Ai tog” kom dit beangs oor die ander een se lippe.

(Net soos met die sersant se oorspronklike gesprek met die manne vroeër, het hierdie outeur die twee studente se gesprek onder mekaar aangepas vir nakoming van die reëls van ordentlikheid – soos die angs opbou, het die twee studente ook heel sublimaal gedegenereer na die taalgebruik wat hulle daagliks onder die sersante, veral die ‘lansbom’- soort, gehoor het).

Iewers tydens hierdie moeilike moment in die bestaan van twee studente van Polkol, oorval deur ‘n angstigheid van buite-kerklike proporsies, ry ‘n swart Mercedes-Benz motor saggies die hek binne. Die bestuurder, ‘n sersant in uniform met sy drie strepe en kasteel duidelik sigbaar, wen die regterkantse voordeurruit geruisloos af. Die kyk in sy oë laat die studente se kroonhare regop staan, al is die hare onder ‘n polisiepet. In ‘n afgemete stem wat wemel van gesag en mag, verklaar die sersant-agter-die-stuurwiel dat die generaal aangekom het. Die studente se oë draai asof op ‘n bevel van hul drilsersant na die agtersitplek. Daar sit ‘n waardige grys man in ‘n langbroek safaripak, krawat netjies om die nek geknoop, koerant in die hand. Langs die man op die sitplek lê ‘n netjiese hoed met ‘n blou veer in die band. Die waardige kyk rustig na hulle. So asof hy wag vir iets om te gebeur. Dalk vir iemand om iets te sê.

Dis toe dat ons twee studente besef dat hulle angs alles verniet was. Geen verdere verwagtinge van groot probleme vir hulle nie. Hulle weet immers nou – die generaal het aangekom. En die een van hulle twee wat die meeste verlig is, blaker dit uit:

“Dankie tog oom het aangekom. Ek is jammer om vir oom te sê, maar oom is in f@##&n groot moeilikheid oom, die sersant soek oom al heeldag” …

OoO

*Baby Boomer – polisiemanne en -vroue sal die algemene trant en boodskap van hierdie storie wel ken. Dit is dus nie my skepping nie, maar in die een of ander vorm deel van die polisie in Suid-Afrika se Afrikaans-etniese beroepsomgewing. Om die waarheid te sê, baie van ons het al seker die storie iewers laatnag by die naloop van die een of ander braai vertel. Ek skryf dit net neer, en dan boonop soos ek dit gehoor het, meer as ‘n halfeeu gelede. My doel met die neerskryf daarvan is gewoon om te help verseker dat dit nie verlore sal gaan nie. Dalk bou mens daarmee aan ‘n genre vir histories-gebaseerde polisiestories.

En dalk maak die lees daarvan iewers ‘n Baby Boomer polisievrou of -man glimlag (en onthou hul dalk met heimwee waar en met wie hulle gekuier het toe dit vertel is …)