Genl. Johan van der Merwe
Ek het op 17 Maart 1994 die volgende brief aan regter Goldstone geskryf:
Geagte regter Goldstone
INSAKE U ONDERSOEK NA DIE BEWEERDE BETROKKENHEID VAN SEKERE GENERAALS BY OPENBARE GEWELD EN INTIMIDASIE
1. Na aanleiding van die gesprek wat ek en die minister op 15 Maart 1994 met u en lede van u kommissie gehad het en die reëlings wat daarna getref is met lede van die Mag om op 16 Maart voor die kommissie te verskyn, wil ek graag die volgende aspekte onder u aandag bring:
1.1 Tydens die gesprek het u aan my sekere besonderhede omtrent die ondersoek waarmee u en die kommissie besig is, verstrek.
1.2 Volgens die besonderhede wat u en ander lede van die kommissie verstrek het, het die beweringe teen die lede van die SAP hoofsaaklik op hoorsê-getuienis berus en met uitsondering van die geval waar lt.genl. Smit na bewering met die ondersoek van ʼn saak sou ingemeng het, was daar geen feite wat op direkte getuienis berus, beskikbaar nie. Tydens die verdere gesprek het u ingewillig om eers die lede aan te hoor alvorens u enige verslag oor die ondersoek sou uitbring, maar u het die voorbehoud gestel dat dit sonder regsverteenwoordiging moet geskied.
2. Ek het met die drie generaals gesprek gevoer na aanleiding van getuienis wat hulle op 16 Maart voor die kommissie afgelê het. Ek is meegedeel dat die ondersoek een van formele aard was in die sin dat die lede onder eed moes getuig het en deur die advokate wat die kommissie bystaan, ondervra is. Die verrigtinge is dan ook behoorlik op band opgeneem.
3. Op geen stadium voor of tydens die ondervraging van die generaals is hulle behoorlik ingelig omtrent die beweringe wat teen hulle ondersoek word nie. Die feite waarop sodanige beweringe gegrond is, is ook nie volledig aan hulle geopenbaar nie. Die betrokke generaals is dus nie ʼn behoorlike geleentheid gegun om sinvol op inligting waaroor die kommissie mag beskik met betrekking tot beweringe dat hulle by geweldpleging of wapensmokkelary betrokke was, te antwoord nie. Hulle dra ook nie kennis van die getuienis wat deur ander getuies in dié verband voor u geplaas is nie.
4. Die kommissie het al by herhaling in vorige verslae te kenne gegee dat ondersoeke van die onderhawige aard verkieslik in die openbaar moet plaasvind en dat getuienis behoorlik deur middel van kruisondervraging deur regsverteenwoordigers wat die onderskeie belanghebbendes se belange verteenwoordig, getoets behoort te word. Ek is bewus van die bepalings van artikel 9(4)(a) van die wet [die Wet op die Voorkoming van Openbare Geweld en Intimidasie, Wet 139 van 1991] waarkragtens dit aan die diskresie van die kommissie oorgelaat word om regsverteenwoordiging toe te laat al dan nie. Dit is egter nie net die loopbane van die betrokke drie generaals wat deur die ondersoek van die kommissie in gedrang kom nie, maar ook die aansien en geloofwaardigheid van die Suid-Afrikaanse Polisie. Aangesien die bevinding van die kommissie in dié geval van die allergrootste belang vir Polisie-gemeenskapsverhoudinge is, en enige bevinding wat nie op behoorlike feite gegrond is nie, onherstelbare skade kan aanrig, is dit van die allergrootste belang dat slegs die waarheid in hierdie geval moet seëvier. Die noodsaaklikheid, veral in die huidige politieke klimaat, van ʼn polisiemag wat die vertroue van die hele gemeenskap behoort te geniet, hoef sekerlik nie deur my beklemtoon te word nie. Die kommissie het trouens in vorige verslae die noodsaaklikheid van so ʼn toedrag van sake beklemtoon. Hierdie is na my oordeel dus by uitnemendheid ʼn geval waar die betrokke lede en die SAP as sodanig behoorlik ingelig behoort te word met betrekking tot alle beweringe teen hulle en die getuienis waarop sodanige beweringe berus. Daarmee saam behoort hulle ook ʼn geleentheid gegun te word om sodanige getuienis behoorlik te toets en getuienis ter weerlegging daarvan aan te bied.
5. U het teenoor my gemeld dat die getuie “Q” [kyk slotparagraaf] vir sy lewe vrees en dat sy identiteit om dié rede nie geopenbaar word nie. Die kommissie beskik oor die bevoegdheid om beskerming aan sodanige getuies te verleen en ek bied hiermee die volle samewerking van die Suid-Afrikaanse Polisie aan om die getuie en enige ander moontlike getuies te beskerm indien dit verlang sou word.
6. Ek wil dit graag beklemtoon dat, volgens die feite tot my beskikking, generaals Smit, Le Roux en Engelbrecht bereid was om onvoorbereid, sonder regsverteenwoordiging en sonder dat hulle die vaagste benul gehad het van die inhoud van die beweringe teen hulle, openhartig voor die kommissie te getuig. Hierdie aspek moet sonder twyfel swaar weeg. Daarom is dit des te meer belangrik dat hierdie aangeleentheid volgens die basiese beginsels van ons reg bereg moet word waar die geloofwaardigheid en motiewe van getuies wat by hierdie aangeleentheid betrokke is, behoorlik ondersoek en deur middel van kruisverhoor getoets kan word.
7. Ek is van oordeel dat dit in die belang van die belanghebbendes, insluitende die breë publiek, is dat ʼn ondersoek van hierdie aard in die openbaar behoort te geskied en dat behoorlike regsverteenwoordiging, met al die implikasies daaraan verbonde, toegelaat behoort te word. Ek versoek u dus hiermee formeel om die ondersoek waarmee u tans besig is, te omskep in ʼn volwaardige openbare ondersoek soos hierbo voorgestel.
Gedagtig aan die onbesonne manier waarop mnr. De Klerk en sy kollegas voorheen soortgelyke beweringe teen generaals en Weermaglede gehanteer het, het ek op 17 Maart 1994 ʼn dringende memorandum deur tussenkoms van die minister aan mnr. De Klerk gerig waarin ek sy aandag vestig op die inhoud van my skrywe aan regter Goldstone. Ek het dit beklemtoon dat die Polisie oor voldoende feite beskik om die beweringe teen die drie generaals te weerlê as die nodige besonderhede, indien daar is, aan ons bekend gemaak word. Ek het ʼn dringende beroep op mnr. De Klerk gedoen om die kommissie te vra om ʼn openbare ondersoek te hou waar getuienis voorgelê en deur kruisverhoor getoets kan word voordat die kommissie enige verslag publiseer. Dit is trouens wat van enige geregtelike kommissie verwag word.
Op 18 Maart 1994 is ek na die Uniegebou ontbied, waar ʼn vergadering om 2 nm. onder voorsitterskap van mnr. De Klerk gehou is. Mnr. Hernus Kriel, mnr. Kobie Coetsee, mnr. Jan Wagener van die staatsprokureur se kantoor en regter Goldstone was ook teenwoordig. Regter Goldstone het kortliks die beweringe in sy verslag herhaal en dit duidelik gestel dat hy verlang dat generaals Smit, Le Roux en Engelbrecht aan diens onttrek moet word. Ek was baie ontsteld dat in weerwil van al die stappe wat ons gedoen het, die inligting wat ons verskaf en die gebreke wat ons uitgewys het, nog niks verander het nie. Ek het skerp gereageer en weer eens daarop gewys dat die beweringe op hoorsê berus, vaag is en uit ʼn bewysregtelike oogpunt van nul en gener waarde is. Mnr. Wagener het my standpunt gesteun en beklemtoon dat daar beswaarlik uit ’n regsoogpunt op grond van die getuienis gehandel kon word. Regter Goldstone het egter voet by stuk gehou. Ek het gesê ek is beslis nie bereid om op grond van die beweringe in die verslag enige stappe te doen nie.
Mnr. De Klerk het soos altyd die hele saak kalm en bedaard gehanteer en daarop gewys dat die verslag ernstige beweringe bevat wat optrede vereis tot tyd en wyl die ondersoek afgehandel is. Hy het ook gemeen die drie lede moet verplig word om verlof te neem. Ek het nadruklik aan mnr. De Klerk gesê dat ek nie saamstem nie en dat ek nie bereid is om deel te hê aan so ʼn onreg nie. As ek dan ʼn verleentheid vir die Regering is, is ek bereid om te bedank. Mnr. De Klerk se reaksie was: “Generaal, ons het jou nodig, jy kan nie nou bedank nie.” Ek het daarop aangebied om my standpunt te heroorweeg as die verslag aan adv. Klaus von Lieres und Wilkau, prokureur-generaal van die Witwatersrandse afdeling van die Hooggeregshof, voorgelê word en hy sou aanbeveel dat ek op grond daarvan die lede aan diens behoort te onttrek. Adv. Von Lieres was alombekend vir sy integriteit en die feit dat hy hom glad nie deur politici laat beïnvloed het nie. Regter Goldstone het met groot verontwaardiging gereageer en gesê dat hy ʼn ervare regter is wat hom beslis nie aan die mening van ʼn prokureur-generaal gaan onderwerp nie.
Die vergadering het daarop verdaag en mnr. De Klerk het om 6 nm. op dieselfde dag ʼn perskonferensie gehou, waar die Goldstone-verslag bekend gemaak is. Die konferensie is onder andere deur mnr. Kriel en regter Goldstone bygewoon. Ek was nie daar nie, hoewel mnr. De Klerk in sy outobiografie beweer dat ek daar was. Dit is beslis ʼn misgissing. Die volgende dag het die media wye dekking aan die Goldstone- verslag – wat dieselfde as die konsepverslag was – en mnr. De Klerk se aankondigings gegee. Mnr. De Klerk het aangekondig dat ʼn spesiale ondersoekspan onder leiding van dr. Jan d’Oliveira, prokureur-generaal van Transvaal, aangestel sal word om die beweringe in die Goldstone-verslag te ondersoek. Die drie generaals word intussen op verpligte verlof geplaas.
Ek is nie vooraf oor hierdie besluit ingelig nie en het dit deur die media verneem. Dit was vir my ’n skok omdat ek mnr. De Klerk nog kort tevore nadruklik daarop gewys het dat daar nie op regsgronde teen die generaals opgetree kon word nie.