1962: ONS SAP-KAPELANE: DIE BEGIN: EK ONTHOU

Brig Hennie Heymans (SAP – Afgetree)

Hier is ‘n berig geneem uit die Justitia 1962-02 bladsy 43:

Ek is in Durban gebore. My Vader was ‘n polisieman en ons het in Durban in die voorstad Grosvenor op die Bluff gewoon. Ons was lede van die NG Kerk Durban-Suid. Ons het baie SAP-lede in ons gemeente gehad omdat die SAP-kaserne en -wooneenhede in ons gemeente se wyk was. Daar was verskeie offisiere en lede van die mag op die kerkraad en ons predikant was ds AJN van Heerden. (Dit was in die 1950’s).

My Vader het die Justitia (opvolger van die Nongqai) huistoe gebring en ek het toe gesien dat ds Van Heerden nou ‘n SAP-kapelaan was. Gedurende 1964 sluit ek by die Mag aan en ontmoet weer die dominee in die SAP-kollege waar hy kapelaan was.

In Durban het ek weer maj (ds) JC Jansen ontmoet. Hy het ‘n dinamiese persoonlikheid gehad en hy was Kapelaan vir Natal, Port Natal en die Transkei. Hy het periodiek ‘n boekie uitgegee met opskrif: “Wapenrusting”. Hy het altyd die ligte kakie-uniform gedra. (Die ligte kakie-uniform was bekend as “somerdrag-offisiere” en is in 1970 geskrap.)

Voor ons kapelane gehad het was ds Harper Martins die SAP se enigste kapelaan en hy het landswyd in burgerdrag gewerk. Hy is die Vader van mev Marie Geldenhuys – gade van genl JJ “Jannie” Geldenhuys destyds hoof van die SAW.

As seuntjie het ek een of twee “Polisie-Sondag”-dienste in Durban se stadsaal bygewoon. Lang rye voet-polisiemanne in swart/blou uniforms en beredemanne in ligte dreb/kakie geklee, het netjies die stadsaal in marsjeer. Die Spoorwegpolisie het ook bygewoon en ds Martins was die predikant.

Later het die kapelansdienste uitgebrei en lt-genl (ds) C Colyn was hoof-kapelaan met heelwat kapelane onder sy bevel. Hy was ook moderator van die NG Kerk hier in Pretoria.

'n Foto wat lyn, skermskoot bevat

AI-gegenereerde inhoud kan dalk verkeerd wees.