Abstract:
The turbulent 1960’s in Durban and Pondoland as viewed through the eyes of a policeman’s son.
KEYWORDS:
Brooks Nek, Cato Manor, Hoërskool Dirkie Uys; SAP Mobile Unit Transkei; SAP Mt Ayliff; SAP Saracens; SAP Somtsue Rd
BRIG HENNIE HEYMANS
Op 23 Januarie 1960 breek onluste uit in Cato Manor, Durban. ‘n Paar polisiemanne word vermoor en dit is groot nuus in die koerante. Later jare het ek saam met AO “Doppies” Baartman gewerk wat die aanval oorleef het. Die nuus het vir my as destyds ‘n 14-jarige kind laat besef dat polisiewerk gevaarlik is en dat daar vir ons werklike vrese en probleme voorlê. Ook het ek geweet dat my Vader[1] niks sou oorkom nie. In my kinderoë was hy vreesloos en onoorwinlik.
Baie keer – selfs as polisieman – het ek aan hierdie voorvalle gedink terwyl ek ook met ‘gevaarlike werk’ besig was, byvoorbeeld om saam met een ander wit polisiebeampte en ons handjievol swart lede die SJ Smith-hostel te deursoek, of om ‘n arrestasie in ‘n biersaal wat vol gedrinkte mense is, uit te voer. Maar ons was nooit bang nie! Dis hoe ons groot geword het! Die bewuswording van vrees het hom vroeg dus gemanifesteer, maar tog op positiewe manier, wat my voortbestaan verseker het.
In plein Afrikaans – alhoewel ek bang was vir die hordes het ek geweet dat my vader niks sou oorkom en dat ek eendag dieselfde pad sou moes loop. Baie kinderlike gebede, in opregte hart, is opgestuur. God het my beskerm in hierdie taak van polisieman wees.
Ek onthou dat my pa spesiale diens verrig het. Hy was lank weg van die huis. Saans kon mens die weermag – ek dink dit was die vloot – se soekligte sien. Die ligstrale het van Cato Manor soos lang vingers in die lugruim rond gespeel waar dit teen die koepel van die sterre rond geflikker het.
Eendag tydens die onluste het ek vir my pa gaan besoek by SAP Somtsueweg (snaaks, ek onthou vandag nog die telefoonnommer, 20873). Daar het ek vir hom en die stasiebevelvoerder, Oom Tassie van der Walt, en ander manne aangetref waar hulle op beddens in die stasie se motorhuis op bystanddiens gerus het. Ek onthou dat my pa gesê het hulle slaap lekker, al snork Oom Tas so hard, want beide kon vinnig aan die slaap raak. Daarom vra hy Oom Tas net voor hulle gaan lê, om die motorhuis se deur toe te maak. Terwyl Oom Tas dit doen, raak hy dan eerste aan die slaap sonder om na Oom Tas se snork te hoef luister.
Wat my opgeval het was dat die stasiebevelvoerder saam met sy manne in die motorhuis op bystand was – hy kon ewe maklik by die stasiebevelvoerder se huis wat op die perseel was, gebly het maar hy het verkies om by die manne te wees – ‘n navolgenswaardige voorbeeld.
Ek kon die koerante onthou, veral:
- majoor Jerry van der Merwe wat eenmaal op die voorblad verskyn met bloed wat van sy gesig afgeloop het tydens die onluste,
- polisie in Saracens,
- massas mense wat in die strate afloop en polisie wat op hulle wapens rig (een geval was in Bereaweg). Later in die Mag het ek nog baie stories gehoor.
Jare later te SAP King’s Rest het ek armbande in die kluis gesien met die letters “SAP” daarop. Ons het ‘n vlootbasis, SAS Bluff en die vloot te Salisburyeiland in ons polisiewyk gehad en wanneer die vloot ons destyds bygestaan het, het hulle die armbande aangesit en was hulle dan glo ‘spesiale konstabels’. Die gebruik het later in onbruik verval.
Terwyl die vloot ter sprake is, eenmaal tydens onluste het ‘n ou swart heer vir my gesê: “Nkosaan die mense is nie bang vir die ‘air force’ nie, nie bang vir die ‘Army’ nie, ook nie vir die polisie nie. Die mense is bang vir die ‘Navy’! Hy gaan voort en vertel hoe die vloot gedurende 1947 opgetree het, toe die Zulu’s en die Indiërs in stryd gewikkel was. Die vloot het glo ‘linte’ of ‘merkers’ uitgegooi na links en regs van hulle en dan alles tussen in afgemaai – tot die ambulanspersoneel was bang vir die vloot, vertel die ou heer. Of hierdie vlootpersoneel van die SA Vloot of Royal Navy was kon ek tot vandag nie vasstel nie. Daar was ‘n RN basis te Salisburyeiland en soos ek al voorheen gesê het, was hulle in Austerville gekaserneer.
Vir baie jare het ons ‘n fiets van ‘n swartman, Jimmy, in ons motorhuis bewaar. Hy het eenvoudig net verdwyn. My pa het die fiets na ‘n Indiër-fietswinkel geneem waar dit herstel is. Ek het toe die fiets van Somtsueweg polisiestasie tot by ons huis gery, ‘n afstand van ongeveer sewe, agt myl – en dit in stadsverkeer! (Somtsueweg is vernoem na Sir Theophilus Shepstone[2], sy Zulu bynaam was Somtsue[3]).
Na Dirkie Uys-skool op die Bluff en in standard 7 met klasonderwyser mnr Daan Jacobs.
Werk ‘n vakansie vir mnr Ostroff, die eienaar van Barclays Hardeware winkel. Die winkel was in Suidkuspad naby die hoek met Edwin Swales VC-rylaan.
Dirkie Uys was toe nog nie ‘n groot skool nie en ons was almal, hoërskool en laerskool leerlinge almal in een skool gebou gevestig. My ma het toe al as onderwyseres gekwalifiseer en sy en ek was toe in dieselfde skool. My ma het speeltye in die snoepie gewerk. Tog was ek speeltyd maar eensaam en het nie eintlik vriende daardie jaar aldaar gehad nie.
Die onderwysers was vriendelik en baie van hulle het by ons tuis kom kuier, soos byvoorbeeld menere Jacobs, Viljoen, Van Staden en mej. De Beer. Laasgenoemde het later selfmoord gepleeg.
Vandag (17 Mei 2004) het mnr Viljoen my na sy huis genooi. Op pad na woning dink ek toe aan die dag by die skool toe ou Braam van Aardt se ma na die skool gekom het en toe aan die klaskamer se deur geklop het en toe mnr Viljoen die deur oopmaak sê sy : “Goeie môre meneer Van Os!” Die klas het almal geproes soos hulle lag want “Os” was mnr Viljoen se bynaam.
Gedurende die wintervakansie gaan Dirkie Uys op toer. Die skool het ‘n ou “tuisgemaakte” bus gekoop en ons het daarmee gaan toer. Die toer het ek nie geniet nie, ek het eintlik baie eensaam gevoel. Om van skool te verander is eintlik ‘n vreeslik aanpassing vir ‘n kind! Ons het op Volksrust, Mountain View, Brits, Sundra, Witbank, en Waterval-Boven rugby gespeel. Ek kan Johan Harmse onthou en mnr Wiid, die houtwerk-onderwyser, wat die rugbytoer gereël het.
Ek het hase gekoop en my pa het mnr Bill Gorringe gekry om vir my yster haas hokke te bou, geskoei op die lees van die hoenders se batterye. Gou het ek baie hase gehad en hulle aan die patologie-afdeling van die Wentworth Hospitaal verkoop. Eenmaal het ek ‘n tjek vir R32.00 vir hase gekry.
Pondoland
Onluste breek uit in Pondoland en my vader en ander Durban-lede van die Mag word tydelik daarheen verplaas. Hy vertrek van Durban per trein na Kokstad op 19 November 1960 Eers is hulle op Brooksnek waar hulle ‘n sg. “picket” beman.
Hier op Brooksnek is die plek waar hulle ‘n “picket” gehad het: Foto Transkei Facebook – via Francois Erasmus.
My Vader vertel: “Ons pligte het die patrollering van die polisiegebied van Mount Ayliff ingesluit. Ons het ook ‘n “picket” op Brooksnek op die nasionale pad gevestig, daar waar ‘n pad na Bizana afgedraai het. Ons het ‘n paar tente daar gehad en ons het alle voertuie by die aansluiting gestop. ’n Noodproklamasie is uitgereik wat vir die hele Transkei, met inbegrip van Pondoland, van toepassing was. Ons het alle voertuie wat die Transkei binnekom of verlaat ingevolge daardie regulasie deursoek. Ons het aanvanklik die gewone kakie polisiebroeke, hemp, das en pette gedra. Later het ons kakie ketelpakke, pette, kort kamaste en stewels gedra. Dit was baie beter aangesien dit moeilik was om ons uniforms in die veld skoon te hou. Ons was gewapen met rewolwers, ons .303s; en ek is met ‘n Sten-geweer uitgereik.
Mt Ayliff
Later word my Vader en sy groep na Mt Ayliff verplaas. Tydens die Desember-vakansie is my ma en ons kinders met die spoorweë se PMD van Durban na Kokstad. My pa het ons in Kokstad ontmoet en ons is toe na Mt Ayliff waar my pa ‘n huis gehuur het. My pa se SAP eenheid, die sogenaamde Mobiele-eenheid, het op die dorpsgrond langs die stadsaal in tente gebly. Van die lede daar was konstabels Ben Mouton en Manie Odendaal ook van Durban. Die speurder wat tot die groepie toegevoeg was, was s/sers Nortje.
Hier bou my Vader ‘n stort en toilet op die dorpsmeent voor die dorpsaal. Ben Mouton staan met sy rug na die kamera
Ben Mouton
Die Mt Ayliff-polisiestasie
Die stasiebevelvoerder van SAP Mt Ayliff was sers Marais dit was destyds ‘n volwaardige beredestasie.
My pa het ‘n stengeweer huis toe gebring en hy het my gewys hoe die wapen werk. Indien ons huis aangeval sou word wanneer hy afwesig en op diens was, moes ek huis en haard beskerm. Ek het my Pa op patrollies vergesel. Ons het al die krale besoek en hy het met almal gesels. My Pa was vreeslik geheg aan Ben Mouton. Gedurende 1971 word Ben Mouton en ek saam na die rang van luitenant bevorder. Manie Odendaal was ook daar en ons het later saam in Durban gewerk. Veel later in die 1990’s het ek saam met sy broer – ‘Oudee’ – ‘n speurder te Virginia – gewerk.
Behalwe al die verskillende tipe hoenders wat ek aangeskaf het, het ek die eienaar van ‘n wit boerbok geword. Soms was ek oortrek van die hoenderluise. Na ‘n bad is hulle weg en hulle het my nooit gebyt nie maar mens het ietwat kriewelrig gevoel as die luise so op mens rondgeskarrel het.
My Vader het twee tabaksakkies vol munte gehad. In die Transkei het ek begin munte bymekaar maak. Daar was baie Victoriaanse munte in omloop so het ek baie ½ pennies, pennies en self ’n goue 10-sjieling stuk in die hande gekry. Winkeliers het my toegelaat om in die geldlaaie te krap en ek het ‘nuwe’ geld omgeruil vir Victoriaanse en Edwardiaanse munte. Toe pak die waansin my en ek begin pennies van elke jaar bymekaar maak van so vroeg as moontlik tot 1961!
Hier het ek die volgende mense ontmoet:
Basil Hoft – sy Oom het ‘n winkel gehad. Hier het ek al my pennies omgeruil vir ou Koningin Victoria pennies en ander munte wat daar in omloop was. Ek het ook ‘n goue tien sjieling munt gekry. Al die munte het ek tot vandag nog. Ons het lekker saam gespeel en vir ‘n ruk korrespondeer.
Die Erasmusse wat ook ‘n winkel gehad het – Ou Ben en ek het ons oë op Leonie Erasmus gehad. Was sy mooi! Daardie dae het mens maar net gekyk. Eintlik was daar die twee families, Erasmus, twee broers. Hulle het later na onafhanklikheid na die Natalse Suidkus uitgewyk en winkels op Port Edward bedryf. Later het een van die seuns in die SAP se vakansieoord te Port Edward as bestuurder gewerk.
Ou sersant Crack se huis op Mt Ayliff
Tannie Renè Crack en haar dogter, Joan, wat die sekretaresse van die Village Management Board (VMB) was. Tannie Crack se man was ‘n lid van die Cape Mounted Rifles (en seker ook van die SA Berede Skutters). Die berede skutters het die Transkei gepolisieer. In 1926 is ‘n groot deel van die skutters in die SAP geword. So het sy ‘n polisie-weduwee geword.
Sy was vir baie jare ‘n weduwee en my pa het met Oom Paul Roux, wat toe te polisiehoofkantoor gestasioneer was, gepraat wat toe gereël het dat sy ‘n maandelikse toekenning van die Weduwee- en Weesfonds ontvang het. Mev Crack se suster het ook by haar gewoon, Sy het gehakkel. Dit is die eerste keer dat ek iemand wat Engels praat hoor hakkel. Sy “was op die sentrale”.
Tydens die vakansie het ek meeste van die Crack’s se boeke gelees. Baie het oor die tweede wêreldoorlog gehandel bv oor een Douglas Bader (die RAF vlieënier wat sonder bene gevlieg het) en The Wooden Horse wat oor ontvlugtings uit die krygsgevangene kampe gehandel het. Ook het ek Laurens van der Post se boeke gelees.
Sy het vir my eenkeer ‘n brief geskryf wat ek bewaar het.
Die dokter op Mt Ayliff was dr HS (Hendrik) de Beer. Sy gade[4] was ook ‘n dokter. Hy het in fotografie belanggestel en die De Beer’s het later een vakansie vir ons in Durban kom kuier. Hy het vir my ma gesê dat indien ek ‘n polisieman wil word, moet ek een word.
Die een konstabel op Mt Ayliff was Oom “Porky” Rossouw, ‘n veteraan van die tweede wêreldoorlog. Hom kan ek baie goed onthou. Hy is later na Wentworth verplaas. Later sou ek sersant wees op King’s Rest en hy konstabel te Wentworth. Ons het saam buite gewerk het as daar net een voertuig vir die twee stasies beskikbaar was. Wanneer hy tydens nagdiens bestuur het, moes ek die flits skyn sodat hy die ratte van die Studebaker Lark, M61, kon verwissel. (Hy het seker nie nagdiens op Mt Ayliff gewerk nie!) Eendag was ons saam in Umlazi en hy het ‘n botsing bygewoon. Toe hy die toneel verlaat moes ek die besonderhede van die botsing in sy sakboekie nagaan en hom toe verseker dat hy alles reg gedoen het. Hy was ‘n dierbare, kinderlike mens – wat hy in die SAP gesoek weet nie.
Daar was ‘n staatsbosboustasie en die bosbouer was ene mnr Bouwer. Ek het die departement bosbou se kenteken by hom gekry en vandag pryk dit in die Fort Beaufort museum as deel van ‘Moose’ Janse van Rensburg se versameling. Ek wou vreeslik graag ‘n Knysna papegaai hê en deur mnr Bouwer se bemiddeling het ons toe een gekry. Hy het baie mak geword en kon heel goed praat. Hy het altyd gesê: “Koppie krap, koppie krap”.
Daar was die Holder-familie wat vir die departement van landbou gewerk het.
Ander mense in Mt Ayliff was die Bosmans wat ook ‘n winkel gehad het.
Onlus
Die Pondo’s het die draad reg rondom die Mt Ayliff dorp afgebreek en hul beeste in die meent gejaag. My pa het my as “town ranger” in diens laat neem en die polisie het “my vergesel” en ons het al die beeste geskut wat onwettig in die meent gewei het. Die ou dorpie het baie geld gemaak. Na die vakansie het ek ‘n paar pond verdien.
Die groot berg by Mt Ayliff
So het dit voor ons huur-huis gelyk
Op ‘n dag voel ek siek, ek het in dorings getrap, seker bloedvergifting gehad. Ek het in die bed gelê. My pa en die manne is die berg in – ek moet sê daar was polisieperde en Mt Ayliff was ‘n sogenaamde berede-stasie. My pa het op ‘n pragtige wit polisieperd, “Ice Cream”, gery. Met eens word hulle deur ‘n groep Pondo’s gewapen met assegaaie aangeval. Toe een Pondo kryger my pa met ‘n assegaai wou steek het hy die kryger met ‘n Sten geskiet. Ander lede het ook gevuur en die aanval is afgeweer. Een Pondo is deur my vaer noodlottig verwond.
Maj NG Loxton (foto bo) was die distrikskommandant op Kokstad. Hy is van die gebeure verwittig en hy het na Mt Ayliff gekom en my pa aanvanklik uitgetrap en maar later bedaar toe hy al die feite gekry het. Mev Loxton was ‘n onderwyseres te Port Natal Laerskool, was ek ‘n skolier was, voordat haar man na Kokstad verplaas is.
So met die patrollies het ek vir my hoenders gekoop. Alle kleure en geure. Sommige het kuifkoppe gehad en ander weer baard. Party was familie van ‘koekoeke’, ander het kort bene, ander weer lang bene of kaalnekke. Ek het die hoenders van Kokstad na Wentworth, naby Durban per trein gestuur. Ek moes die kas sukkel-sukkel dra van die stasie tot by die huis.
Eendag het ‘n SALM-helikopter met SAW-offisier op Mt Ayliff geland. Die een man het rooi band om die pet gehad. Hulle het drank by drankwinkel gekoop en toe verder gevlieg. Ek het nooit die rooi band vergeet nie. As ek ‘n rooi band om ‘n pet sien, dink ek altyd aan die helikopter wat daar geland het en die manne wat drank gekoop het. Vandag weet ek hoekom hulle drank gekoop het, toe ek kind was het ek my daaraan verwonder. Daar is ook iets met my waardesisteem verkeerd gewees – maar ek het gedink dis belangrik om so rond te vlieg en uit te klim. My Pa was êrens heen en toe ek hom vertel van die manne met die rooi bande om die pet het ek in sy oë gesien hy het geskrik! Ander range was maar altyd ‘bang’ of versigtig vir offisiere, want offisiere beteken net moeilikheid soos ek self later sou uitvind.
Ons is terug Durban toe. Ek weet nie hoe my ma en suster terug is nie, maar ek en my broer is per geleentheid terug. Ons het by die blokkade op Brooksnek gestaan en die SAP het vir ons ‘n geleentheid terug gereël. Elke mooi perd wat ons langs die pad gedien het, was volgens my broer ‘n polisieperd!
Volgens genl-maj TI ‘Tom’ Erasmus[5], ook iemand wat strategie bestudeer het, is die onderdrukking van die onluste in Pondoland een van die min suksesse is teen rewolusionêre optrede. Ek kan onthou dat my pa gesê het dat Ronnie Kasrills betrokke was.
My pa vra eendag die offisier of hulle “die naweek ’n bietjie see toe kan gaan.” Die offisier gee toe sy toestemming en my pa en ‘n paar Durban manne neem toe die Landrover Durban toe. Hulle het die odometer ontkoppel en eie brandstof ingegooi. Ek was so bly om hom weer te sien.
Hy het vir my ‘n paar assegaaie gebring en ek het hulle lank bewaar. Een assegaai is na Amerika, ‘n ander een na Nederland en drie is nog in my besit. Ook het hy ‘n eerste dag uitgawe van sekere nuwe SA Seels op 31 Mei 1961 in Kentani vir my gekoop.
Bekamping was van die aanslag was hofgerig. ‘n Speurder het elke groepie vergesel. Maj HJ van den Bergh (toe die speuroffisier) het van Welkom afgekom en na Lusikisiki gereis. Hy en ‘n span speurders het al die kriminele sake ondersoek. My Vader het soos volg geskryf: “ It was a difficult time as many of the local tribesmen were influenced by people like Durban attorney, Rowley Israel Arenstein. Other well-known communists were also seen in the Transkei during those times. Once an area was made ungovernable it is difficult to stabilise; however, this mini-revolt in Pondoland was successfully subdued by the SAP and the SADF.
It was here that “Langhendrik” van den Bergh earned his spurs and won fame in the police. [Two years later he was appointed to the head the Security Branch of the South African Police.] It took the police four months to break the back of the revolt. The Attorney General of the Eastern Cape, Adv Rein, reported to the Minister of Justice that this had indeed been a unique operation. Between August and October 1961, 30 Pondo’s were sentenced to death for their participation in the revolt, of which 23 were hanged.”
My pa het in totaal nege maande in die Transkei afgedeelde diens verrig.
- No 18742 sers AF Heymans ↑
- Hy het met lede van die Natal Polisie die ZAR binnegeval en die ‘Union Jack’ is toe Rider Haggard gehys. Port Shepstone is na hom vernoem. ↑
- ”Shepstone, Theophilus (gebore te Westbury-on-Trym, naby Bristol, Engeland op 8.1.1817 en oorlede te Pietermaritzburg op 23.6.1893), staatsamptenaar en Bantoe-administrateur, hy was die oudste seun van eerw. (John) William Shepstone en sy Kwakervrou, Elizabeth Brooks. Shepstone se eerste tuiste in Suid-Afrika is ‘n ruwe skuiling naby Bathurst en ‘n klein huisie op Theopolis, waar sy vader toesig hou oor die oprigting van geboue vir die Londen Sendinggenootskap (LSG) In 1823 gaan die gesin saam met Shaw om Wesleyville oorkant die Keiskammarivier te stig. Die sendinglewe met sy vyf broers en susters op verskeie stasies oorkant die grens lewer ‘n bydrae van onskatbare betekenis tot Shepstone se opvoeding en opvattings; voorts leer hy Xhosa vlot praat (later word hy net so bedrewe in Zoeloe, wat hy volgens oorlewering met ‘n Xhosa-aksent … …. Onmiddellik na sy huwelik vergesel Shepstone (vir) maj. Samuel Charters op sy ekspedisie na Natal, tree as tolk en klerk op en bring uiteindelik die waens oor land na die Kaapkolonie terug. Sy dagboek van hierdie avontuur bring die interessante feit aan die lig dat sy bynaam ‘Somtseu’ reeds in 1838 bekend en gebruik is. Hierdie tweeslagtige woord met ‘n verskeidenheid betekenisse is oral gebruik en het min of meer tot ‘n strydvraag ontwikkel, maar Shepstone self deel lord Carnarvon later mee dat dit ‘die Groot Vader’ of ‘die Wit Vader’ beteken.” [SABW Deel 1 p 746 – 747] ↑
- Ek dik haar naam was Mavis ↑
- Tom Erasmus was saam met my by die SSVR en later was hy my streekkommissaris in die OVS. Ons het nogal baie goed oor die weg gekom. ↑