Abstrak: Henning van Aswegen. Suid-Afrika se Vrouespioene. Intelligensiekunde. Spioenasie.
In Januarie 1981 het die Johannesburg-streekkantoor van die Nasionale Intelligensiediens (NI) ’n agent in die hartjie van ’n groep linksgesinde prokureurs en advokate, wat aktief by die verdediging van terroriste betrokke was, gewerf. In die vroeë 1980’s het verskeie verhore en hofsake van terroriste in Suid-Afrika plaasgevind waarin sekere lede van die African National Congress (ANC), die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en die Pan Africanist Congress (PAC) van subversiewe dade en sabotasie aangekla is. Linksgesinde prokureurs en advokate, van wie sommige self lede van verbode organisasies was, het hierdie beskuldigdes voor die hof verdedig, dikwels sonder om vergoeding daarvoor te eis óf om betaling hiervoor uit die buiteland te aanvaar. In die nuusmedia was dit algemene kennis dat die kostes van die meeste terroristesake in Suid-Afrika deur godsdienstige- en kerkgdroepe soos die International Defence and Aid Fund (IDAF), gefinansier is.
Terroriste Hofsake
Vir die NI was dié hofsake van groot belang omdat daar dikwels name van ANC-, SAKP- en Umkhonto we Sizwe (MK)-lede openbaar gemaak en ondergrondse netwerke blootgelê is.
Die taak om die prokureursfirmas wat terroriste in hofsake verdedig, te ondersoek, is aan die teenkommunisme-afdeling van die NI se Johannesburg-kantoor opgelê. Twee vooraanstaande firmas is geïdentifiseer en opdrag om ’n agent in een van die twee firmas te werf, is aan ’n jong veldwerker in dié NI-kantoor opgedra. Hierdie veldwerker (ook ’n agenthanteerder genoem) het sy taak en ’n kans om ’n agent in ’n prioriteit-intelligensieteiken te werf, met entoesiasme aangepak.
Werwingsmetodiek
Hy het besluit om nie een van die prokureurs of advokate te probeer werf nie, maar om eerder ’n personeellid, sekretaresse of bode te teiken. So ‘n werwingsmetode sou minder aandag trek, maar terselfdertyd direkte toegang tot die kantore en kluise van die teiken verleen. Hierdie werwingsbenadering is minder opsigtelik en die gevolge, sou die werwingspoging misluk, makliker hanteerbaar omdat die veldwerker onder ’n valsvlag gewerk het. In só ’n geval sou die NI dus enige verbintenis met die gebeure kon ontken.
Die veldwerker het besluit om alle telefoonoproepe in die prokureursfirma te onderskep en so waardevolle inligting bekom oor al die personeellede wat daar werk. Een van die sekretaresses het dadelik ’n teiken vir werwing geword omdat sy dikwels en reguit haar afkeer van kommunisme uitgespreek het in lang telefoonoproepe wat sy daagliks met haar vriendinne gevoer het. Dit was vir die meeluisteraars duidelik dat die sekretaresse finansieel in die knyp was en dat sy geld aan verskeie winkels, onder meer ’n bekende kruidenierswinkel in Hillbrow, geskuld het.
Die middeljarige sekretaresse was ’n geskeide vrou en het in ’n klein woonstel saam met haar drie jong kinders gewoon. Sy het haar vriende daagliks oor elke detail van haar lewe op hoogte gehou en vrylik inligting insake haar familie, verhoudings, kinders, troeteldiere, politieke sienings én geldsake oor die firma se telefoonlyn gedeel. Klagtes oor haar kollegas het ook dikwels in dié gesprekke opgeduik.
In een van haar gesprekke het die sekretaresse genoem dat sy R250 aan ’n kruidenierswinkel skuld en dit nie kan betaal nie. Dié winkel het gedreig om regstappe te doen indien sy nie die rekening vóór ’n vasgestelde datum sou vereffen nie. Sy was radeloos en het naarstiglik na ’n uitkoms vir haar geldelike probleme gesoek. Dit was die geleentheid waarop die jong veldwerker gewag het.
Die NI-werwer het die volgende dag aan haar deur geklop, hom as John Schönveldt (’n skuilnaam) voorgestel en die sekretaresse meegedeel dat hy ’n regeringsamptenaar in diens van die staat se Onafhanklike Interdepartementele Administrasie (OIA) is. Sy is ingelig dat die OIA inligting oor kommuniste in Suid-Afrika benodig en haar dienste – in ruil vir betaling – hoog op prys sou stel . Hoewel die OIA as ’n indrukwekkende departement uitgebeeld is, was dit slegs ’n frontorganisasie. Schönveldt het R500 (dubbel die bedrag wat sy aan die kruidenierswinkel verskuldig was) op die koffietafel voor die verbaasde sekretaresse neergesit.
‘n Klomp Kommunistiese Prokureurs
Sy het emosioneel geraak en aan Schönveldt gebieg dat sy eintlik gebid het dat iemand van die regering haar sou kom sien. Sy was ongelukkig oor haar werk in diens van kommunistiese prokureurs en haar verligting om daaroor te kon praat was groot. In die daaropvolgende drie ure het sy Schönveldt van ’n magdom inligting oor terroristesake in Suid-Afrika voorsien. Die kodenaam Janet is aan die sekretaresse toegeken, en vir die volgende vyf jaar het sy verskeie sensitiewe dokumente uit die firma se kluis verwyder en aan haar hanteerder oorhandig om te fotostateer. Sy was in besit van die firma se kantoor- én kluis-sleutels en het elke Vrydagaand gemaklik toegang tot die dokumente verkry. Deur die loop van die naweek het die NI fotostate gemaak en die oorspronklike dokumente weer elke Sondag aan Janet terugbesorg. Sy het dit dan vóór die daaropvolgende Maandag-oggend weer in die kluis toegesluit. Hierdie proses het vir jare na haar werwing as agent voortgeduur en sy het oor die jare meer as vier ton se dokumentasie aan die Nasionale Intelligensiediens voorsien.
Janet se kollegas was onbewus
Ten spyte daarvan Janet as een van die suksesvolste spioene beskou word wat ooit deur die NI gewerf is, was haar kollegas in die firma nooit bewus van haar geheime aktiwiteite nie. Haar bydrae om die veiligheid van die staat in daardie jare te help verseker, was van onskatbare waarde. Vandag woon Janet in die suidelike voorstede van Johannesburg, waar sy haar welverdiende aftrede geniet en tyd saam met haar drie kleinkinders spandeer.
*